PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/59rup7ux  (preek begin 11:00)

Die Griekse woord in v.14 wat die 2020 vertaal met "unieke Seun" (2020) – die NAV met "enigste Seun" – het vir baie drama in die geskiedenis gesorg.

            Vroeg in die 4de eeu was 'n sekere Alexander (oorl. 326) die baie gerespekteerde en invloedryke biskop (of voorganger-oudeling) van Alexandria, die leidende gemeente in Egipte. Op 'n keer was hy besig met 'n lesing oor die leerstuk van die Drie-eenheid. Skielik is hy in die rede geval deur een van die jong ouderlinge, Arius. Hy het die ouer man daarvan beskuldig dat hy die onderskeid tussen die drie Persone van die Godheid onderspeel, en voer toe aan dat die Seun deur die Vader geskep is – weliswaar voor die begin van die tyd. Maar ewig is Hy nie. Arius was heeltemal bereid om toe te gee dat die Seun ver verhewe bo die mens is, maar hy het daarop aangedring dat Hy van 'n mindere orde as die Vader is.

            Arius het onmiddellik sy standpunt begin versprei, en spoedig het hy 'n sterk gevolg gehad.

Die Eniggeborene?

#          Sentraal in Arius se beskouing was die begrip waarna ons kyk, die Griekse woord "monogenes".

            In baie Bybels, tot vandag toe, word dit vertaal met "Eniggeborene" (OAV), of "Only Begotten" (KJV; NKJ; NASB; Ampl ens.). Dis 'n goeie voorbeeld van hoe mens verkeerd kan loop as jy jou primêr deur 'n woord se etimologie laat lei, en nie deur die gebruik daarvan in die res van die Bybel nie.

            "Mono" beteken, heeltemal korrek, "enig". Maar die probleem het ingesluip by die res van die woord. Dis aangeneem dat dit teruggevoer moet word na "gennaō" (voortbring of verwek) – vandaar "eniggeborene".

            Maar in werklikheid het dit ontwikkel uit "genos" (tipe of soort). Johannes wil dus sê dat Jesus absoluut enig is – en nie dat Hy deur die Vader verwek is nie.

#          Gaan kyk mens hoe die begrip elders in die Skrif gebruik word, bevestig dit bg. verstaan daarvan.

            +          Die woord word 4 keer vir gewone mense gebruik. En kyk ons daarna, werp lig op die Here Jesus se unieke seunskap. Elke keer word dit gebruik om die innige liefdesverhouding tussen 'n ouer en 'n enigste kind te beklemtoon (of 'n oogappel-kind – wat dalk die primêre betekenis van die woord is).

            Die weduwee van Nain is op pad om haar enigste seun te gaan begrawe as Jesus hom opwek (Luk 7:12).

            Jesus maak Jaïrus se enigste dogtertjie lewend uit die dood (Luk 8:42).

            'n Man pleit by Jesus om sy enigste seun van 'n demoon te bevry (Luk 9:38). Les bes, Abraham moes sy enigste offer (Heb 11:17).

            Laasgenoemde gebruik is betekenisvol. So 'n kind is nie noodwendig 'n enigste kind nie, aangesien Abraham nóg 'n seun gehad het, nl. Ismael. Maar Ísak was die appel van sy oog.

 

                        =          Dit laat mens dink aan Gen 22:2 waar Abraham beveel word om sy seun, "sy enigste" te gaan offer (vgl. v.12). Die Hebreeuse woord, yachid, dra die idee van innige vertedering en gehegtheid (vgl. Spr 4:3; Jer 6:26; Amos 8:10; Sag 12:10). Dis kennelik die Hebreeuse ekwiwalent van monogenes.

            +          Die woord word 5 keer vir die Here Jesus gebruik, elke keer deur Johannes (Joh 1:14,18; 3:16,18; 1Joh 4:9). Veral in Joh 3:16 en 1Joh 4:9, waar gepraat word oor God se liefde vir sondaars, maak bg. verstaan van die woord 'n wonderlike nuwe perspektief oop: Só lief het God sondaars, só belangrik is hulle redding vir Hom, dat Hy bereid was om Sy monogenes – die innig-geliefde appel van Sy oog – vir hulle as losprys op te offer.

#          Hierdie woord beklemtoon dus Christus se unieke en geliefde seunskap.

            Baie ander mag ook kinders van God word, maar Jesus se seunskap is wesentlik anders. Daar is 'n unieke liefdesverhouding tussen die Vader en die Seun nie. Maar meer nog, die Seun, hoewel waarlik mens, bly ook waarlik God. Hy bly Skepper en die res van God se kinders skepsele.

            Dis net híér waar Arius die bal misgeslaan het.

God se man vir die oomblik

Algaande het die Arianisme soveel onrus in die kerk veroorsaak – en gedreig om dit uitmekaar te ruk, dat Keiser Konstantyn in 325 'n sinode in Nicea (naby Konstantinopel) byeengeroep het om eens en vir altyd klarigheid oor die kwessie te kry.

            Genoemde Alexander  het 'n briljante jong diaken, Atanasius as sekretaris saamgeneem. Hierdie jongman sou Alexander opvolg, en 'n reus in die kerkgeskiedenis word. Hoewel sonder spreekreg op die sinode, was hy eintlik die denker agter sy biskop se kragtige vertoë.

            Uiteindelik is 'n sterk besluit teen Arius se beskouing geneem. In hierdie eerste formulering van die belydenis van Nicea word die godheid van Christus sterk beklemtoon.

         Later sou die Sinode van Konstantinopel die belydenis finaliseer (in 381).

'n Enkele strepie

'n Sleutelbeklemtoning in die belydenis is dat die Seun "van dieselfde wese" as die Vader is.

      Agter dit sit 'n hele stuk intrige. Die stryd met Arius het gegaan oor 2 Griekse woorde wat beroemd geraak het in die dogmageskiedenis: homōousios (van dieselfde natuur) en homoiousios (van 'n soortgelyke natuur). Die verskil sit in die twee voorvoegsels: homo- (dieselfde), en homoi- (soortgelyk). Al verskil tussen die twee woorde is die klein Griekse lettertjie, iota, oftewel 'n enkele vertikale strepie – die kleinste lettertjie in die Griekse alfabet.

            Arius was heeltemal bereid om te sê dat die Seun homoiousios aan die Vader is, maar nie dat Hy homōousios is nie. Maar die sinode het begryp hoe belangrik die verskil tussen die twee standpunte is. As Christus nie presies van dieselfde natuur as die Vader is nie, is Hy nie waarlik God nie.

            Homōousios is gevolglik aanvaar – van dieselfde natuur.

'n Meedoënlose stryd

Dit was helaas nie die einde van Arianisme nie.

            Drie jaar na die Sinode van Nicea, word Atanasius in 328 die nuwe biskop van Alexandrië – en so word hy die speerpunt in die felle stryd teen die Arianisme. Trouens, dit sou sy lewe grootliks oorheers.  Die stryd van die volgende amper 5 dekades lees soos 'n riller. Verskeie kere lyk dit asof Arianisme die oorhand kry. Maar steeds stry Atanasius onvermoeid vir die waarheid. Daarvoor betaal hy 'n duur prys. Hy is etlike kere in ballingskap, en een keer moet hy vir 5 jaar in die woestyn voor die keiser se soldate vlug. Maar steeds verkondig hy die ware evangelie tydig en ontydig.

            Uiteindelik, 8 jaar na Atanasius se dood in 373, word Arianisme finaal die nek ingeslaan deur die Sinode van Konstantinopel in 381. Daarin het niemand 'n groter rol gespeel as die Biskop van Alexandrië nie. Trouens, dit word algemeen aanvaar dat Arianisme die botoon sou gevoer het as dit nie vir hom was nie.

Lewensbelangrik

Waarom is hierdie so 'n belangrike saak? Waarom gee Atanasius sy alles om 'n enkele strepie te verdedig, wat in elk geval vir ons 'n geheimenis is? Hy het verstaan wat op die spel was – die suiwerheid van die evangelie en die realiteit van ons redding!

            Presies wie en wat Christus is, is lewensbelangrik. Slegs iemand wat waarlik en in die volste sin van die woord én God, én mens is, kan 'n Verlosser van sondaars wees! Arius se Christus is nie waarlik God nie, maar 'n skepsel. As sodanig kan Hy nie ons sondeskuld dra sonder om self onder te gaan nie.

            Dwarsdeur sy lewe het dit vir Atanasius oor één saak gegaan: Die eer en die heerlikheid van Christus. En hy het geweet dat die goddelikheid van Jesus Christus allesbepalend is vir die suiwerheid van die evangelie, die behoud van die ware kerk, en die redding van sondaars.

Toepassing

1.         'n Suiwer en eksakte formulering van waarheid is belangrik

Té dikwels het mense die standpunt dat jy 'n volwasse Christen kan wees sonder doktrine.

            Maar as 'n organisasie of kerk vir my sê dat hulle hul nie besig hou met doktrine nie, sê hulle vir my dat hulle nie 'n benul het waaroor dit régtig gaan nie.

            Geloof het inhoud, en ware geloof het waarheid as inhoud. En soms kan 'n klein vertikale strepie die verskil tussen lewe en dood beteken. Dan is dit nie onheilig om hand en tand vir die waarheid te veg nie; inteendeel. Nicea het gegaan oor die ware leer van die Drie-eenheid – teenoor 'n sielsvernietigende verwatering. Atanasius het dit verstaan. Dis oor dinge soos hierdie dat die Nuwe Testament so oor en oor teen dwaalleraars waarsku.

2.         As ons teks leer dat Christus God se hoogste openbaring aan ons is, het ons nie 'n dowwe openbaring in Hom nie

Die Woord wat mens geword het, was in die volste sin die ewige Seun van God, sélf God. Wat ons in Hom sien, is presies hoe God is. Weliswaar het Hy nie alles aan ons geopenbaar nie, maar wat Hy wél geopenbaar het, is absoluut suiwer en betroubaar – en noodsaaklik.

            Dink vir 'n oomblik na oor hoe die Bybel Christus vir ons teken. Wie sien jy? Was daar ooit iemand so aangenaam, so bekoorlik, so beminlik? Was daar ooit 'n liefde soos Syne? Wie was ooit so volmaak?

            Dit is hoe God is – presies só tot in ewigheid!

3.         Duidelik sien ons in die Here Jesus se lewe die liefdesverhouding tussen Hom en die Vader!

Mens kan nie die Evangelies lees nie, veral Johannes, sonder om onder die indruk te kom dat niks in Jesus se lewe 'n groter rol gespeel het as Sy verhouding met Sy Vader nie.

            Die Vader praat twee keer uit die hemel met Sy Seun. En elke keer is dit 'n liefdesverklaring. As Jesus gedoop word, kom 'n stem uit die hemel: "Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My" (Mark 1:11; Matt 3:17; Luk 3:22).

            Hierdie liefde tussen Vader en Seun is 'n ewige en onbeskryflik intieme liefde. Die slotvers van Johannes se proloog sê dat die Seun "teen die bors van die Vader is" (Joh 1:18; 2020).

#          Ten slotte, in die Vader se liefdesverklaring op die berg van verheerliking, sê Hy uitdruklik vir ons wat ons moet doen om Hóm te behaag: "Dit is my geliefde Seun, oor wie Ek My verheug. Luister na Hom" (Matt 17:5; Mark 9:7; Luk 9:35).

            Ons moet die appel van die Vader se oog gehoorsaam!

Dis hoe ware liefde is:

Dit soek altyd weer die eer van die een wat jy liefhet.

Selfs die Vader beleef Sy liefde so

Niks bevredig Hom méér nie

as dat Sy Seun voortdurend die middelpunt van ons lewens is

Laat ons weer en weer vir só 'n liefde bid!

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev