PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/5686ty95  (preek begin 16:30)

 

Vandag kyk ons na nóg 'n frase in Joh 1:14 – dat die vleesgeworde Woord "vol genade en waarheid" was (en natuurliksteeds is).

 

#          Jesus Christus het gekom as die Adam van God se nuwe skepping – die "die laaste Adam" en verbondshoof daarvan. As sodanig was, en is Hy God se finale en volmaakte Profeet, Priester en Koning. Dis die hartstema van die Bybel, sowel Ou as Nuwe Testament.

            Wat sien ons as ons na die Seun kyk? Miskien is sy profeetskap primêr hier op die voorgrond, want Johannes praat oor wat ons in Hom "aanskou" – m.a.w. wat voorop is in sy openbaring aan ons. Ons sien dat Hy vol "genade en waarheid" is.

            Daarom kan ons met absolute sekerheid weet dat ook die Vader vol genade en waarheid is; trouens, dat dit wesenstrekke is van wie en wat Hy is.

            Dis sekerlik nie sonder rede nie dat Johannes, van die talle karaktertrekke van God wat hy sou kon gebruik, híérdie twee uitkies om vir ons uit te lig. Dit is in 'n besondere sin, by uitnemenheid wat God wil hê ons van Hom moet weet.

#          Hierdie deel van v.14 moet ons nie los van v.16-17 verklaar nie. Beide hierdie twee verse begin in die Grieks met die redegewende voegwoord, "want", wat uiteraard met die voorafgaande koppel.

            Vers 16 sê dat óns uit Christus se volheid "genade op genade" ontvang het (kennelik Sý volheid van genade waarvan v.14 praat). Let ook op die verlede tyd wat gebruik word. Dit het reeds plaasgevind.

            En v.17 herhaal dat hierdie "genade en waarheid" deur Hom gekom het.

#          Hierdie twee begrippe, "genade" en "waarheid", moet ons nie los van mekaar probeer verklaar nie. Kennelik loop hulle hand-om-die-lyf, en dra hulle saam-saam één boodskap.

Ou Testamentiese wortels

#          Moses begeer ná die tragedie van die goue kalf om God beter te leer ken (Eks 33:13). In die besonder wil hy God se heerlikheid sien (Eks 33:18).

            Uiteindelik lei dit dan daartoe dat die Here selfopenbarend op Sinaï na Moses toe afkom, en oor Homself uitroep: "Die Here, die Here, 'n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, (chesed en emet), wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld oortreding en sonde vergewe, maar wat beslis niks ongestraf laat nie, wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet, ook die derde en vierde geslag" (Eks 34:6-7).

#          Hoewel die Here ook oor Sy toorn teen sonde praat, is dit sy "troue liefde en waarheid" wat voorop is.

            Hier is ons by twee begrippe wat saam-saam weer en weer in die Ou Testament gebruik word (Heb. chesed en emet).

            Vergelyk mens nou hierdie twee Hebreeuse begrippe met die twee woorde in ons teks ‒ "genade" en "waarheid" ‒ sien jy dat ons vir alle praktiese doeleindes sinonieme het.

            Dit word dan ook deur talle Skrifverklaarders aanvaar dat Johannes in 1:14 op Eks 34:6 sinspeel.

            Ons kyk nou eers na die eerste woord (chesed)

 

God se "troue liefde" (OT), of "genade" (NT); (Heb: chēsed, Gr: charis)

Die Ou Testament

#          God se troue liefde (Heb. chesed) is een van die skitter-begrippe in die woordeskat van die Ou Testament (240x). Dit word as 'n eienskap van menslike godsvrug genoem, maar veral is dit een van God se uitstaande karaktertrekke.

            Ps 136, wat as sentrale tema het dat daar aan Jahweh se liefde geen einde is nie, sê in elkeen van sy 26 verse dat die Here se chesed tot in ewigheid is.

           

            +          Let op dat ons hier na 'n baie bepaalde soort liefde kyk. Dis is nie maar 'n onpersoonlike soort liefde nie ‒ liefde op 'n afstand nie. Dis verhoudingsliefde. En dit word ten nouste geassosiëer met die idee van verbond. In die geval van God is dit dus Sy verbondsliefde. En les bes is dit 'n onverdiende liefde: dis genadeliefde.

            Die begrip impliseer persoonlike betrokkenheid en toewyding wat bo die eise van plig, konvensie of wet uitstyg. Dis 'n liefde wat volhard – ongeag watter struikelblokke ook al.

Chesed/Troue liefde dui op God se

onwankelbare en vasbeslote liefdeslojaliteit en -toewyding

aan mense wat dit nie verdien nie

máár met wie Hy in 'n verbondsverhouding is

Die Nuwe Testament

#          Ruimte laat ons nie naastenby toe om op hierdie wonderlike en ryk begrip in die Nuwe Testament – genade (Gr. charis) – in te sak nie. Ons volstaan dus met 'n kort definisie.

Genade/Charis dui op God se vrye en ongedwonge liefdesguns aan mense

wat dit nie alleen nié verdien nie

maar wat presies die teenoorgestelde daarvan verdien

naamlik die ewige oordeel

 

God is "waarheid" (OT & NT); (Heb: emet; Gr. alētheia)

#          In die Griekse denke was waarheid 'n intellektuele kwaliteit wat dui op werklikheid en egtheid teenoor valsheid, onrealiteit of blote skyn.

            Sowel die Ou as die Nuwe Testamentiese idees van waarheid, is egter baie ryker.

            +          Sekerlik sluit dit die idee van die feitelike in. In die regspleging van Israel was dit byvoorbeeld kardinaal belangrik om seker te maak van die waarheid (die emet) voordat 'n oordeel gefel is (byv. Deut 13:14; 22:20).

            +          Maar meestal dra die begrippe 'n morele betekenis – die van betroubaarheid, en egtheid, en lojaliteit. So is dit byvoorbeeld gebruik vir 'n vriend, 'n slaaf, 'n eggenoot.

            In die Ou Testament is iemand wat met "emet" optree, iemand wat vertrou kan word – hy is eerlik en lojaal; hy het integriteit; jy kan op hom staat maak (Gen 24:49; 42:16; Jos 2:14). Op 'n emeth-getuie kan jy peil trek (Spreuke 14:25).

            As die Bybel dus oor en oor van God sê dat Hy waarheid is, wil dit tuisbring dat Hy vertrou kan word. Sy optrede is nie onvoorspelbaar nie. Hy handel altyd in ooreenstemming met Sy karakter en beloftes. Mens weet presies waar jy met Hom staan. Sy ondernemings is vaster as die berge!

God se

"emet" en "alētheia"

praat van sy absolute verbondsintegriteit en -betroubaarheid!

#          Nou kan ons verstaan waarom Johannes die begrip "waarheid" so oor en oor gebruik. Sy Hoofkarakter is Jesus Christus – en hoe kan hy oor Hom praat sonder om aanmekaar te wys op die waarheid wat in Hom te vinde is.

            Nie alleen is Hyself eg en algeheel betroubaar nie – in wat Hy was; in wat Hy gedoen het; in wat Hy gesê het; in wat Hy belowe het.

            Méér: Hy openbaar Gód – wat nie kan lieg nie. Hy bewys God se betroubaarheid. Want Hyself was en is steeds die vervulling van die Vader se beloftes deur die eeue.

            +          Luister na hoe Johannes die Here Jesus noem: Hy is "die ware lig" (1:9) ‒ wat mens in Hom sien, wat Hy openbaar, stem absoluut ooreen met die werklikheid en onderstreep God se onkreukbare betroubaarheid. Hy is "die ware brood uit die hemel" (6:32) ‒ wie Hom "eet", wie Hom vertrou en in Hom skuil, kan sonder twyfel daarop peil trek dat al God se beloftes in Hom ja en amen is.

            En luister na die Here Jesus self: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe" (14:6). "Ek is die ware wingerdstok" (15:1).

Wat sê die feit van God se genade en waarheid vir ons?

1.         Niks is méér eie aan God se karakter as om genade in waarheid te betoon nie

Van alles wat wáár is oor God, kies Hy twee karaktertrekke om by uitnemendheid oor Homself aan ons te openbaar: Sy ontfermingsgenade en Sy algehele betroubaarheid.

            Hierin sit die wonderlikste troos en aanmoediging vir ons, Sy kinders. Hierin moet ek en jy onsself weer en weer verbly.

2.         God het vreugde in die bewaring van diegene aan wie Hy liefdesgenade betoon, asook in die waarmaking van Sy beloftes in hulle lewens

 

Om die Here aan te roep, sowel in tye van voorspoed as in tye van nood, is nie om lastig en opdringerig te wees nie. Dis om Sy selfopenbaring aan ons ernstig op te neem. Té dikwels is ons bang om Hom te vertrou, omdat ons voel ons verdien nie sy goedheid nie. Té maklik dink ons ons pla Hom met nietighede.

            Maar as die Here se verbondstrou van óns verdienste moes afhang, sou nie een van ons ooit iets van Hom ontvang het nie – behalwe die teenoorgestelde daarvan.

            Nee, goedheid en getrouheid en betroubaarheid vloei spontaan uit Hom uit. Ons is immers Sy geliefde kinders (uiteraard, indien inderdaad wel). En dis nie óns wat onsself aan Hom opgedring het nie; dis Hý wat die genade-inisiatief in hierdie aanneming geneem het.

            Wat sê Jesus vir Sy dissipels? "Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee" (Luk 12:32).

3.         Ons wandel met die Here moet deurweek wees met hierdie waarhede

Laat ons nie tevrede wees met 'n afgewaterde en derderangse Christenskap nie, maar die Here in gebed bly vasgryp, sodat Sy verbondsliefde elke dag soos branders oor ons rol.

            Ons hemelse Vader het vreugde daarin as ons op grond van Sy Seun se verdienste onsself met die grootste vrymoedigheid weer en weer knuppeldik drink uit Sy fonteine van heil. Niks verheerlik Hom méér nie. Niks versier die evangelie méér nie. Niks maak die kerk méér aantreklik nie.

            Mag die trapmeul van godsdienstige verdienste nóóit in ons harte en lewens 'n staanplek kry nie. Nee, laat dit buite staan en roes; laat dit stof vergader. Moet onder geen omstandighede daarop gaan klim nie! Bly af! Bly af – ter wille van jou ewige verlossing!

4.       As jy dan inderdaad weet dat jy met Christus verenig is, is vrees vir die toekoms, benoudheid oor jou versorging, en angs vir die dood, ten diepste mosies van wantroue in jou hemelse Vader – dis in werklikheid ongeloof

Dis om Sy selfopenbaring in Christus te bevraagteken. Dis ten minste kleingeloof, en baie dikwels rou ongeloof. Waarlik, almal van ons het rede om ons hieroor voor die Here te verootmoedig.

            Nee, nee! Skuil elke dag in Hom. Sit nie 'n voet oor die drumpel na buite nie. Bly binne! Doen dit met die grootste vrymoedigheid. Verlustig jou daarin. Loof Hom daarvoor. Dit behaag Hom.

5.         Nooit en nêrens kom God se genade en waarheid tot hoër uitdrukking as in die stuur van Sy Seun na hierdie wêreld toe nie.

Elkeen van ons het 'n eie aard wat ons eenvoudig móét bevredig en tot uitdrukking bring. Skrywers skryf; vrouens druk babatjies; seuntjies klim boom.

            Só het God ook 'n wesensaard wat eie aan Hom is, en wat Hy tot uitdrukking móét bring. Hy móét eenvoudig in genade en waarheid optree teenoor sy gunsgenote. Niks is meer eie aan Sy wese en karakter nie. Niks gee Hom groter vreugde en vervulling nie.

            Nooit kom hierdie wesensaard van God heerliker tot uitdrukking as in Christus se sending en versoeningswerk nie. En die uitwerk van die implikasies daarvan – deur die eeue, en tot in ewigheid – is 'n voortsetting daarvan.

            Hierop kan elkeen van ons wat in die geloof in Hom skuil, dag in en dag uit, staatmaak.

6.         Laat ons in tye van swaarkry soos drenkelinge aan God se genadeguns en waarheidsbetroubaarheid bly vashou.

Laat ons in tye van krisis nie paniekerig van hierdie wesenstrekke van die Here vergeet nie. Hy sal ons deurdra. Male sonder tal het Hy dit reeds gedoen; Hy sal dit weer en weer doen.

            Selfs as ons hande dan tog gly, sal Hy ons nie in die steek laat nie. Want die Here se wese, en die uitlewing daarvan is nie afhanklik van mý getrouheid nie. Dis van niks afhanklik nie! Hy het belowe, en daarby staan Hy. As ek inderdaad in Christus is, kan mý ontrou kan Hom nie van hierdie wesenskaraktertrek beroof nie.

            Daarom kan Paulus vir Timoteus verseker: "as ons ontrou is ‒ Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie" (2Tim 2:13).

7.         Aan die hart van my gehoorsaamheidstoewyding is mý betoning van chesed-genade aan my naaste.

Hoewel in die eerste instansie karaktertrekke van God, beteken dit nie dat liefdesontferming en verbondstrou tot Hom beperk is nie. Op óns, oor wie Sy troue guns soos branders spoel, rus daar 'n onontkombare verantwoordelikheid om dit deurgaans aan ándere te betoon.

            Ook mý trou moenie afhang van andere se prestasie nie. Hoe sal ek dit regkry? Die Here se chesed-genade sal my deur sy Gees daarvoor toerus. Vertrou Hom daarvoor!

            Maar op grond van die hele Skrifopenbaring moet ons egter óók baie goed verstaan dat sy genadeguns, ja, inderdaad gratis is – egter nooit goedkoop nie!

Sý liefdestrou teenoor my, en mý gehoorsaamheidstoewyding teenoor Hom

is dwarsdeur die Skrif onlosmaaklik verbonde aan mekaar

 

8.         Hoeveel aanmoediging sit daar nie in God se karakter vir sondaars nie.

#          Laat ons baie goed verstaan dat die Here Jesus Christus nie nét as God se groot Profeet gekom het om God se genade en waarheid aan ons te openbaar nie.

            Sy taak het twee verdere verantwoordelikhede behels.

            +          Hy het óók as God se groot Priester gekom om Homself te offer vir sondaars. Weet verseker dat Hy vreugde daarin het om mislukkings voor Hom, en rebelle teen Hom te red – ongeag wie en wat hulle is.

            +          En Hy het óók as God se groot Koning gekom om te heers – in 'n besondere sin oor hulle wat in die geloof Hom as Profeet en Priester omhels het.

            +          Verstaan, hierdie drie ampte van Hom onlosmaaklik vervleg is. Waak daarteen om net een, of selfs twee daarvan in jou lewe te beklemtoon. Nee! as al drie nie in balans is nie, dui dit dikwels daarop dat nie één daarvan 'n werklikheid in jou lewe is nie.

#          Daarom kan mens met volle Skrifmandaat elke sondaar só oproep om hom of haar, op grond van die Here se verbondsbeloftes, op Jesus Christus te werp: "Erken dat jy 'n sondaar is wat die ewige verdoemenis verdien. Neem standpunt in teen jou sonde – bely dit teenoor die Here; pleit by Hom om jou op grond van Christus se middelaarswerk te vergewe; en om jou te verlos van die krag en gevolge daarvan!"

            Niks gee Hom méér vreugde nie, en niks verheerlik Hom méér nie, as om die vuilste sondaars te red! Laat sondaars dus weer en weer die boodskap hoor: "Kom na Hom toe, en weet vir seker: Sy chesed-genade sal jou omhels – net soos die pa sy verlore seun wat teruggekeer het huis toe."

 

As jý so 'n verlore seun is

en vandag iets begin sien van "die Woord" se genade en waarheid

wil ek nou in alle erns by jou daarop aandring

omhels sy wonderlike openbaring as God se groot Profeet

vlug in Hom in as God se groot Priester

wy jouself toe aan Hom as God se groot Koning

 

            +          Jy sê jy is onwaardig. Jy is bang Hy sal jou wegwys. Natúúrlik is jy onwaardig. Wie kan ooit kwalifiseer vir so 'n groot genade?

            Maar luister na die Here se Woord: Esegiël 18 sê in die allerduidelikste taal: "Hy het geen vreugde in die dood van goddeloses nie. Hy wil hê dat hulle hul moet bekeer, wegdraai van hulle oortredings af, en hulle bekeer – sodat hulle kan lééf" (v. 23, 30-32).

            +          Ek wil jou verseker – gegee dat jy dit van harte opreg en in alle erns doen – dat jy nooit, maar nóóit spyt sal wees nie. Nie in hierdie lewe nie; en soveel te minder in die ewigheid hierna.

            +          Ek los dit nou by jóú!

            Jy, en jý alleen moet immers die saak sélf in jou gemoed, en voor die Here uitmaak. Jy, en jý alleen sal eendag op die oordeelsdag voor die Here se regterstoel verantwoording moet doen. Selfs die "Seun van die Mens" – lyk dit my – sal nie daar wees om jou saak te verdedig nie. Hý sal immers op "sy glansryke troon" sit om "die skape en die bokke" te skei (Matt 25:31-33).

            Maak seker dat jy dan die woorde hoor: "Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal Ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde" (Matt 25:21,23).

 

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev