Preekopnames: 1. https://tinyurl.com/44xksvd3 2. https://tinyurl.com/uxfz6jr9
3. https://tinyurl.com/ypfmbcn5
Die feit en oorsprong van sonde
# sonde is 'n universele feit. Elke mens ervaar dit – dwarsoor die wêreld en deur alle eeue. Daar is geen uitsondering nie. Die Skrif leer dit. En ervaring en waarneming bevestig dit. Daarom sterf mense, "want die loon van die sonde is die dood ..." (Rom 6:23). [Bybels is "die dood" natuurlik méér as fisiese dood].
Hoe moet ons dit verklaar? Waar kom dit vandaan? Die rede lê opgesluit in wat die teologie "Die Erfsonde" (Original Sin) noem. Erfsonde is die effek van Adam se sonde op elkeen van sy nakomelinge (dus alle mense), ongeag van en voorafgaande aan enige optrede of versuim aan húlle kant. Dit sluit sowel die erfskuld as die erfsmet in.
# Talle Skrifgedeeltes bevestig hierdie leerstuk. Miskien is Rom 3:9-20 en 5:12-19 die duidelikste. Maar vergelyk ook Gen 6:5-6,11; 8:21; 1Kon 8:46; Ps14; Ps 51:7; Ps 53; Ps 143:2; Pred 7:20; Jer 17:9; Mark 7:21; 1Kor 15:21-22; Gal 3:22 (NAV; NIV); Ef 2:1-3; 1Joh 5:19.
Eerstens, die erfskuld
# Dit gaan hier oor die mens se skuld (Eng. guilt) voor God – en dus oor sy strafwaardigheid. Dit volg uit sy organiese verbintenis met Adam.
Een manier om die verband tussen Adam se sonde en sy nageslag se skuld te verduidelik, is om aan hulle te dink as synde in sy lendene toe hy gesondig het.
Miskien is dit nog makliker – en beter – as onthou word dat Adam as verbondshoof die mensheid voor God verteenwoordig het. Hy het dus een en elkeen van ons verteenwoordig.
Al Adam se nakomelinge is gevolglik saam met hom verantwoordelik vir die sondeval – hulle is ewe skuldig en net so strafbaar.
# Miskien kan twee illustrasies help – weliswaar skiet alle illustrasie tekort, soos alle vergelykings.
+ Hitler se optrede in die vorige eeu het die Duitse volk in ellende gedompel. Ouers kan veroorsaak dat hulle kinders HIV-positief gebore word.
+ Dit is eenvoudig 'n alledaagse feit van die lewe dat mense in ellende ingebore kan word, sonder dat hulle direk by die oorsaak daarvan betrokke was.
# Netso word elke mens in 'n verskriklike toestand ingebore – as deel van 'n mensheid onder God se verwerping en toorn (Ef 2:3).
Niemand hou hiervan nie, baie probeer dit ontken, ignoreer, wegredeneer, neem aanstoot daaraan – maar presies dít is wat die Bybel leer, sonder blik of bloos!
Adam se skuld word aan alle mense toegereken, "gedebiteer" (Eng: imputed).
Dis 'n juridiese of wetlike probleem.
# Elkeen wat deur bg. geaffronteer word, moet twee maal dink, omdat God se hele reddingsplan op die beginsel van toerekening berus:
Adam se sonde word aan my toegereken.
My sonde word aan Christus toegereken.
Christus se geregtigheid word aan my toegereken.
Tweedens, die erfsmet
# Dit gaan hier oor die mens se verdorwenheid (Eng. corruption).
Elke nakomeling van Adam word met 'n verwronge morele natuur gebore.
Hy het dus 'n ingebore geneigdheid tot sonde, tot oortreding van God se Wet en wil. Dit maak hom 'n rebel voor God. Maar meer: hy het nie die vermoë om aan God se wil en standaarde te voldoen nie. Dit maak van hom 'n mislukking voor God.
# Hierdie is 'n onomstootlike lewensfeit. Dit geld universeel deur alle eeue. Sien ons dit nie in élke babatjie nie? "Myne!" "Nee!" "Gee!" "Sal nie!"
Dis soos 'n negatiewe eienskap wat geneties van geslag tot geslag oorgedra word. Jy word eenvoudig en onontkombaar daarmee gebore.
Die verdorwenheid a.g.v. Adam se sonde word aan sy nasate toebedeel, (Eng. imparted). Hierdie is 'n morele probleem.
Persoonlike Sondes
# Van kleins af is persoonlike sondes die onvermydelike uitvloeisel van die erfsmet, die verdorwe natuur (Ps 58:4).
Naas die erfskuld en die erfsmet, is daar dus ook steeds toenemende persoonlike sondeskuld.
Hierdie persoonlike sondes manifesteer oor die volle spektrum van 'n mens se persoonlikheid en lewe: in gedagtes, spraak en dade; in emosies, motiewe en gesindhede; in dade en nalatings.
Radikale Verdorwenheid
# Vanweë die erfsonde kan mens twee dinge oor die natuurlike mens sê:
+ Die mens is radikaal verdorwe (Eng. totally depraved). Etimologies kom die woord "radikaal" van die Latynse woord, "radix", wat "wortel" beteken. Die mens se sonde is dus in sy diepste aard gewortel.
Daarmee word níé bedoel dat hy is so verdorwe as wat hy kán wees nie, maar wel dat geen area van sy persoon en lewe uitgesluit is van die effékte van die sondeval nie.
Die beeld van God is nie totaal vernietig nie (Gen 9:6b), maar dis van hoek tot kant gekraak en verwring – weliswaar in sommige meer as in ander. Dis soos 'n spieël wat geval en gekraak het. Jy kan jouself nog sien, maar jy lyk heeltemal verwring.
+ Die natuurlike mens is geestelik dood (Ef 2:1). Dit het 'n dubbele effek.
= Die natuurlike mens het nie die begeerte om God en sy wet te gehoorsaam nie.
Hy mag vanuit sy opvoeding so gekondisioneer wees, en op die oog af 'n baie morele lewe lei. Maar uit sy hart en oortuigings kom dit nie. Dis nie "aanbidding in gees en waarheid", in die sin waarvan die Here Jesus in Joh 20:20-24 gepraat het nie.
Hy is geestelik doof en blind. Hy hoor en sien nie die dinge van die Here nie (1Kor 2:14). Hy het geen behoefte daaraan nie, maar ervaar veel eerder 'n weersin daarin.
= Sonder 'n genadewerk van die Heilige Gees het die natuurlike mens ook nie egte sondebesef nie (Joh 16:8-11). Daarom kom hy eenvoudig nooit tot ware geloof in Christus nie (Hand 16:14).
# Is Rom 3:9-20 nie té meedoënloos in sy beoordeling van die mens nie? (L.W. "niemand"; "selfs nie een nie"; "almal"). Ja, niemand is volmaak nie, maar sit daar nie selfs in die slegstes 'n stuk goed nie? En wat van al die wonderlik-goeie mense wat nie Christene is nie?
Die mens vind die Bybel se lae dunk van hom afstootlik. Daarom sê Luther van hom: "Sy finale sonde is onwilligheid om te erken hy is 'n sondaar."
Daarom is dit nodig om te verstaan waarom God se Woord die mens so vernietigend beoordeel.
+ Wat is die grootste sonde? Diefstal, moord, egbreuk, afgodery, laster, ongeloof?
Wel, wat is die grootste gebod? Die samevatting van die Tien Gebooie stel dit duidelik: Jy moet God liefhê met jou hele hart, siel, verstand en krag; en jou naaste soos jouself (Deut 6:4-5; Mark 12:28-31).
Dit is voor die hand liggend dat oortreding van die grootste gebod meteen die grootste sonde moet wees.
+ Wat is dus die grootste oortreding? Om God nié met jou alles en jou naaste soos jouself lief te hê nie. En hierin slaag niemand nie. Nooit nie!
Hierdie onvermoë het uiteraard 'n duisend uitvloeisels of gevolge.
+ Maar kom ons benader die die saak só:
Vir enige goeie werk om volkome voor God te wees, moet dit uit 'n hart vloei wat oorloop van dankbaarheid en liefde en aanbidding vir die Here. Voeg daarby dat ons die naaste moet liefhê soos jouself (1Kor 13:1-3). Wie slaag hoegenaamd die toets?
En die probleem is gewortel in die gesteldheid van die hart.
Dit is wat Rom 3 baie goed verstaan en wil tuisbring!
Omdat niemand ooit 'n volkome hart het nie,
doen niemand ooit 'n volkome daad nie.
# Dit beteken nie dat 'n mens God nie kan behaag nie. Die gelowige kán inderdaad – wanneer iets vanuit 'n egte geloof gedoen word, volgens Bybelse voorskrifte, en met die doel om Hom te verheerlik.
+ Só verstaan Christene dit dwarsdeur die eeue.
Luister na die Heidelbergse Kategismus (Sondag 33)
Vraag 91:
Wat is goeie werke?
Antwoord:
Slegs die wat uit 'n ware geloof
volgens die Wet van God
tot sy eer gedoen word
en nie die wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie
# Uiteindelik moet ons verstaan: Om God te behaag (en vanuit bg. is dit duidelik dat net iemand in Christus dit kan doen) is één saak; om volmáák te wees iets anders.
God, wat volmaak is, se slaagsyfer is 100%. En wie nie slaag nie, dop!
Enkele opmerkings en implikasies
1. J.I. Packer is in die kol
"The subject of sin is vital knowledge. To say that our first need in life is to learn about sin may sound strange, but in the sense intended it is profoundly true. If you have not learned about sin, you cannot understand yourself, or your fellow-men, or the world you live in, or the Christian faith. And you will not be able to make head or tail of the Bible. For the Bible is an exposition of God's answer to the problem of human sin ...." ("God's Words", p.71).
2. Wie die erfsonde nie verstaan nie, kan nie werklik die evangelie begryp nie
# Die middelaarswerk van Jesus Christus, en dit alleen, is die antwoord op hierdie onontkombare en noodlottige ellende van die mens. Presies dít maak van die evangelie die beste nuus op aarde.
Wie nie die wurggreep van hierdie universele morele kanker herken en erken
en daarmee worstel nie
se hart sal nooit gloei van dankbaarheid oor God se liefde nie
Alléén teen die pikswart dekor van die natuurlike mens se radikale verdorwenheid
en volslae onvermoë om aan God se standaarde te voldoen
kan die noodsaak en wonder
van Sy soewereine genade vir sondaars na waarde geskat word
Sonder twyfel is ons hier by een van die worteloorsake van die kontemporêre kerk se lusteloosheid – oppervlakkige sondebegrip en -besef. Per slot van rekening, Wie baie vergewe is, het baie lief; wie min vergewe is, het min lief (Luk 7:47).
# Een van die kosbaarste woorde in die ganse Skrif, is "maar". Om hierdie woordjie skarnier die ganse heilsgeskiedenis! Verskeie kere, as die Apostel Paulus die grootse genade van God omskryf, word dit hierdeur ingelei. Dit druk kontras uit: die heerlike genade van God in die lewe van herskepte mense teenoor die hopelose en skrikwekkende verdorwenheid van die natuurlike mens.
+ Rom 3:9-20: Die natuurlike mens verkeer in 'n ellendige situasie. Maar: Rom 3:21-31!
+ Ef 2:1-3: Die natuurlike mens is geestelik dood (v.1); hy is 'n slaaf van die wêreld, die duiwel en die vlees (v.2-3a); hy is onder die toorn van God (v.3b). Maar: Ef 2:4-10!
+ Kol 1:21: Die natuurlike mens is in vyandskap met God. Maar: Kol 1:22!
+ Tit 3:3: Die natuurlike mens is magteloos in 'n morsige moeras van sonde. Maar: Tit 3:4-7!
3. Min dinge onderstreep die waarheid van die Bybel meer as die universaliteit van sonde
# Waar anders is 'n bevredigende verduideliking vir hierdie tragiese lewensrealiteit te vinde?
Tog is die leerstuk van erfsonde en die radikale verdorwenheid van die natuurlike mens 'n verleentheid, selfs 'n aanstoot vir baie wat hulleself Christene noem. Dit bly helaas 'n tipiese neiging van die sondige mens om God minder te wil maak as wat Hy is, en van homself meer as wat hy is.
Maar miskenning of verwaarlosing van hierdie leerstuk lê aan die wortel van 'n duisend dwalinge.
# Een van die mees God-onterende en noodlottige gevolge van die miskenning van die mens se radikale verdorwenheid masel uit in die wyse waarop vandag so dikwels geëvangeliseer word. Omdat, strydig met die Bybel, aanvaar word dat die gevalle mens in homself die vermoë het om vir of teen Christus te besluit, word allerlei tegnieke gebruik om sondaars tog nét sover te kry om 'n hoed-in-die-hand-here aan te neem.
Dis soos 'n verkoopsman wat enigiets sal doen om sy klant te oorreed. Wat meer is, daardie aspekte van die evangelie wat aanstoot gee, word verswyg, terwyl die blink kant daarvan beklemtoon word.
So word die "struikelblok van die kruis" (Gal 5:11) uitgerangeer en 'n goedkoop evangelie saamgeflans wat die kerk vul met wêreldlinge wat net entoesiasties bly op 'n dieet van gospel show-biz.
+ Natuurlik moet ons ernstig by sondaars aandring om hulle te bekeer en Christus aan te neem; natuurlik mag hulle verantwoordelikheid hierin nooit onderspeel word nie; natuurlik moet 'n appél ook op hulle wil gemaak word.
Maar dit moet altyd geskied in die wete dat nét die Heilige Gees hulle deur die evangelie daartoe kan bring. Alleen dán kan die slaggat van 'n versuikerde evangelie vermy word. Trouens, nou kan die evangelie onverwaterd en radikaal verkondig word, want, in die finale analise geld: "almal wat vir die ewige lewe bestem is, sal gelowig word" (Hand 13:48).
# 'n Ander baie onrusbarende en wêreldwye tendens die afgelope paar dekades, is om die Bybelse evangelie subtiel te vervang met 'n gekerstende sielkunde wat die oorsprong van persoonlikheids- en gedragsprobleme op 'n simplistiese wyse terugvoer na – baie dikwels – traumatiese ervaringe, gewoonlik in die kinderjare. Die gevolg is dat vir 'n sondaar gesê word, nie dat hy hom moet bekeer nie, maar dat hy 'n slagoffer van omstandighede en in die besonder ander se wanoptrede teen hom is.
Hierdie onvanpaste simpatie suggereer dan dat sy optrede verstaanbaar en dus in orde is; trouens, dat dit eintlik onvermydelik is. In plaas van die Bybelse aksent op sonde, word daar dus gefokus op wonde. En die resultaat? Geen sondebesef, geen bekering, geen dankbaarheid, geen gehoorsaamheid – geen redding!
4. Vanweë die ervaringsrealiteit van sonde, wonder die mens noodwendig oor die kuur daarvoor
Hierdie soeke lê aan die wortel van die universele verskynsels van menslike moraliteit en religie.
Eiegemaakte godsdiens kom tipies tot uitdrukking in menslike pogings om bo hulle morele verdorwenheid uit te styg deur religieuse moets en moenies. In die proses hoop die mens dan om sy skepper tevrede te stel en om uiteindelik die ewige lewe te beërf.
Dit het deur die eeue gelei
tot die verskriklike gebondenheid van biljoene
wat in kerkers van vrees vir die hiernamaals,
hulle lewenslank afsloof op trapmeulens van godsdienstige verdienste
Maar die gevalle mensheid het net eenvoudig nie die vermoë in homself om sy sonde-gebrokenheid te ontworstel nie. Hy kan homself nie aan sy eie skoenveters optel nie.
Alleen die Evangelie dra die ware boodskap van bevryding: Die antwoord op die mens se verskriklike dilemma lê nie daarin dat hy na God toe moet opklim nie.
Mensgemaakte godsdiens is 'n leer wat nêrens heen lei nie. Nee, daar is maar één hoop – dat God na die mens toe afbuig. En presies dit het Hy gedoen – in Christus Jesus, Sy eie Seun!
Hier, net hier, lê die diepste en wesentlike verskil tussen die ware evangelie en die godsdienste van die wêreld – insluitende churchianity (wat deur Christelike moralisme die saligheid wil beërf).
Hierdie onderskeid mag subtiel lyk, maar dit maak ál die verskil in die wêreld – en in die hemel!
5. Die waarheid van die erfsonde is dus glashelder
Daar is geen finale hoop in vredespogings, demokrasie, ekonomiese hervormings, opvoeding en navorsing nie. Terwyl hierdie dinge op sigself goed en nodig mag wees, sal dit op sigself nooit die Utopia bring waarna die mensheid sedert die sondeval soek nie.
Christus voorsien geen morele wesensontwikkeling deur die geskiedenis nie, want, sê Hy, wanneer Hy terugkom sal dit maar nog net so gaan soos in die dae van Noag en Lot (Luk 17:26-30).
6. Sonder die Woord van God kan ons sonde nóóit ken vir wat dit werklik is nie.
Sonde word deur die Skepper gedefinieer, en nie deur die skepsel nie.
+ Sonde is status en aard, voordat dit handeling of versuim is. Dit gaan dus om iets veel diepers as die probleem van geweld of misdaad of dwelmmisbruik.
Allereers is sonde 'n status voor ons Skepper
Die mens, nee ék, is voor my eerste asemteug skuldig voor 'n heilige God
Dan is sonde 'n aard.
Dis 'n natuurlike geneigdheid
'n aangebore onvermoë
'n onontkombare genetiese hartdefek
oorgedra van geslag tot geslag.
Eers dán word dit óf 'n daad óf 'n versuim soos God vereis.
Die mens doen dus sonde omdat hy 'n sondaar is
hy is nie 'n sondaar omdat hy sonde doen nie
7. Sonde sit allereers in mense; eers daarna in strukture
# Ek, ja ék, is 'n groter probleem in hierdie wêreld as enige samelewingsiekte, ekonomiese beleid, of politieke stelsel. Samelewingstrukture bestaan immers uit mense. En die aard daarvan word deur daardie mense bepaal – deur individueë en/of gesamentlik.
As mense nie verander nie, is enige verandering aan die struktuur beswaarlik meer as kosmeties.
# En mense? Hoe verander hulle?
Daar is net één manier: Hulle hárte moet verander!
Tragies daarom, onuitspreeklik, dat die kerk (uitsonderings daar gelaat) die heerlikste van alle roepings verruil het vir 'n pot lensiesop – verkondiging van die Evangelie vir psigologiese en sosiologiese struktuurtakelary.
Nét die Evangelie verander mense – een vir een, kop vir kop (Rom 1:16-17; 1Kor 1:21; 2Tess 2:14; Jak 1:18; 1Pet 1:23). Struktuurtakelary kan nie genees nie, dit vervorm net want dit verander nie menseharte nie
8. Omdat die apostels hierdie waarhede verstaan het, het hulle beswaarlik tyd gevind vir die goeie; hulle het hulle álles gegee vir die uitnemende.
Presies dít is waarom hulle die evangelie verkondig het.
En presies dít is waarom hulle net één boodskap gehad het: Jesus Christus, die Gekruisigde! (1Kor 1:23; 2:2).
En dis waarom die apostel Paulus iets soos 1Kor 7:29-31 kon sê. En onthou, hy is in die proses geïnspireer deur die Heilige Gees om God se wil vir sy kinders gesagvol neer te skryf:
"Wat ek bedoel, broers,
is dat die tyd kort geword het.
Wie 'n vrou het, moet van nou af so wees asof hulle nie 'n vrou het nie;
wie huil, asof hulle nie huil nie;
wie bly is, asof hulle nie bly is nie;
wie koop, asof hulle nie besit nie;
en wie betrokke is by die dinge van die wêreld, asof hulle nie betrokke is nie
want
hierdie wêreld in sy huidige vorm is aan die verbygaan."
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev