PDF WEERGAWE

Preekopnames:      1.   https://tinyurl.com/36znecby   2.   https://tinyurl.com/2ctnme9b

                                    3.   https://tinyurl.com/3tyhuxr4

 

Nota:   Die die onderstaande is eers geskryf nádat bostaande klankopnames gepreek is. Die gevolg is dat die inhoud nie presies ooreenstem nie – ook nie die volgorde nie.

            Dit is dus beter om eers te luister en dan te lees (dan is dit logies beter georden).

'n Paar Skrifperspektiewe

 

Soms, as 'n televisieprogram of fliek begin, word kykers gewaarsku dat dit wat vertoon gaan word tot aanstoot sal wees vir sommige. Net so moet 'n mens diegene wat met erns en eerlikheid na die Bybelse openbaring oor die uitverkiesing wil kyk, daarop bedag maak dat hulle wil inbeweeg in 'n veld waar mensgesentreerde bleeksiele en sentimentele wintermuskiete dit nie maak nie.
            Male sonder tal hoor mens die beswaar dat die uitverkiesingsleer te moeilik is om te verstaan. Dis nie waar nie. Mense sukkel daarmee, omdat hulle sekere basiese Skrifwaarhede nie onder die knie het nie. Óf hulle verstaan hierdie waarhede nie. Óf hulle wíl dit nie verstaan nie. Want om dit te verteer, verg absolute onderwerping aan die Woord van God, en aan die God van die Woord. As jy daarom eenmaal jou kop ingelig het, jou nek gebuig het, jou hart oopgestel het, en jou hartstogte gerig het op die eer van God, hou hierdie geopenbaarde geheimenis op om moeilik te wees – trouens, dan word dit een van die kosbaarste waarhede in die ganse Woord.
            Dis nie 'n waarheid waarmee jy leedvermakerig loop en spog nie, allermins, allermins!

            Maar dis 'n waarheid wat jou weer en weer in geborgde verwondering en dankbaarheid voor die allerhoogste God van hemel en aarde laat kom. Dis 'n waarheid waarin mense, wat weet dat hulle reeds voor die grondlegging van die aarde deur 'n sowereine God gemerk is vir die ewige lewe, hulle weer en weer met onuitspreeklike blydskap verheug. Dis 'n Skrifgeheimenis waarvan hulle nooit genoeg kry nie.

Ons aanslag

#          Die tema wat ons aanpak, is omvangryk. Daarom is hierdie nie die enigste studie wat ons aan hierdie tema sal wy nie. En vir seker sal selfs dit nie naasteby die laaste woord wees om daaroor te sê nie.

#          Eers word enkele Skrifbeginsels kortliks aansny. Dan gaan ons meer in diepte na twee Skrifgedeeltes kyk (daar is uiteraard baie ander waarna ons ook sou kon kyk). En uiteindelik sal ons volstaan met 'n aantal konkluderende stellings.

Bybelse grondwaarhede waarsonder die uitverkiesing nie verstaan kan word nie

1.         God se Woord alleen moet jou norm wees.


Sola Scriptura (die Skrif alleen) moet kompromieloos veranker wees in jou gemoed. Geen vooropgestelde idees, vleeslike logika, emosionele blokkasies, sentimentele vooroordele en allerlei mensgemaakte slimmighede mag jou beoordeling stuur nie.

2.         Jy moet dit vierkantig in die oë kyk dat die Skrif weer en weer van God se uitverkiesende genade praat.


Sonder twyfel het ons nie hier te doen met iets wat mense uit die duim suig nie. Ongeag hoe jy dit verstaan, moet jy toegee dat dit iets is waarvan God se Woord baie maak. Verskillende begrippe word weliswaar gebruik, maar die saak kom gereeld aan die orde. Neem byvoorbeeld (om maar by die Nuwe Testament te bly): Joh 6:35-40; Joh 10:27-30; Joh 17:2, 6, 9, 24; Hand 13:48; Rom 8:28-30; 9:6-29; Ef 1:3-6; 1:11-14; 1Thess 5:9; 2Thess 2:13-14; 2Tim 1:8-9; 1Pet 1:2; Op 13:8; 17:8.

3.         Solank jy God geringer ag, en die mens meer verhewe, as wat die Skrif doen, sal jy probleme hê met die uitverkiesing.


Selfs in talle kerkmense se agterkoppe sit die idee dat God eintlik daar is ter wille van die mens; dat óns belange die primêre is waarmee Hy Homself besig hou.
            'n Duisend maal, nee! Die teenoorgestelde is waar. Ons is daar ter wille van Hom!

            +          Die drie-enige God is oneindig groter en heerliker as die mens.

            Hy leef in dimensies waarvan ons nie die vaagste benul het nie.
            In die besonder moet mens vrede maak met God se onbetwisbare en algehele soewereiniteit. Hy is die Pottebakker en ons die klei (Rom 9:21 en konteks) – wat beteken dat Hy algehele vrymag het wat ons lewens en ewige bestemming betref.
            Nee, God doen alles ter wille van Sy eie verheerliking (Ef 1:6, 12, 14; OAV).

            +          Tweedens moet jy onthou dat die Bybel – in geen onduidelike taal nie – leer dat die natuurlike mens radikaal verdorwe is. Vir ons doel het dit minstens twee implikasies.

                        =          Die gevalle mens dood in sy sonde (Ef 2:1). Geloof in Christus vereis gevolglik 'n voorafgaande genadewerk van die Heilige Gees (Joh 1:12-13; 3:3-8).

                        =          Geen mens verdien enige genade van God nie; inteendeel. Hieroor draai Rom 1:18-3:20 geen doekies om nie.

4.         Jy moet rekening hou met die mens se verantwoordelikheid.


Die Bybel plaas 'n onmiskenbare aksent op die mens se verantwoordelikheid om die evangelie te glo, hom te bekeer, gehoorsaam aan God te leef, en enduit te volhard. Party mense omhels God se soewereiniteit egter só simplistiese en eensydige dat hulle verval in 'n Godonterende en sielsvernietigende fatalisme – ook genoem hipercalvinisme.[1]
            Terwyl God vrymagtig soewerein is in ons redding en lewens, maak Hy nooit van ons outomate of robots nie. Ons bly bewustelik betrokke en aanspreeklik. Hoe hierdie twee kante van ons verhouding met God logies saamhang, sal ons nooit dié kant van die graf in diepte verstaan nie – maar beide waarhede word deur die Skrif beklemtoon.


            +          'n Beeld wat ek dikwels gebruik om te illustreer hoe God en mens beide 100% betrokke is in die reddingsproses – dus nie 50-50 nie – is die van 'n windpomp.[2]

            Ondergrondse water word opgepomp tot in 'n sementdam. Daarvoor is die windpomp – soos ek – eenhonderd persent verantwoordelik. Elke milliliter vloei deur sy silinder en pype. Máár sonder die wind kan dit ook nie. Trouens, die wind – soos die Heilige Gees – verskaf eenhonderd persent van die energie vir die styging van elke druppel water. Let dus op: Die windpomp speel 'n 100% rol. Wie wind speel 'n 100% rol.[3]

5.         Onthou dat God in Sy handele – veral ook in Sy reddende werk – baie dikwels middellik werk.


God gebruik instrumente. Romeine sê: "En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?" (10:14). In diegene wie se oomblik van redding gekom het, werk die Here se herskeppende krag deur die evangelie wat op een of ander manier aan hulle verkondig is, of word (Joh 17:17, 20; Rom 10:17; 1Kor 1:21; 2Thess 2:14; Jak 1:18; 1Pet 1:23).

6.         Hou steeds in gedagte dat die Skrif die feit van die uitverkiesing deurgaans aanbied as goeie nuus en innige vertroosting vir God se kinders.

Die Bybel slinger hierdie waarheid nóóit verwytend teen die koppe van ongelowiges nie. Ewemin wil dit ons kniehalter in ons verkondiging van die evangelie.

            Nee, God se Woord fluister die feit van Sy ewige en uitverkiesende liefde in die ore van húlle wat reeds deur 'n ware geloof met Sy Seun verenig is.


Handelinge 13:48

Dis tydens die eerste sendingreis. Paulus preek in Antiogië in Pisidië (Hand 13:14vv).

#          Inleiding: Ou Testamentiese voorbereiding (Hand 13:16-25).
            Paulus beklemtoon God se genade-inisiatiewe deur die eeue. Hý is die onderwerp van feitlik al die werkwoorde. Dis Hý wat die Joodse voorvaders uitgekies het (17). Dis Hý wat hulle in die woestyn verdra het (18). Dis Hý die Beloofde Land vir hulle gegee het (19). Dis Hý wat vir hulle rigters en koning Saul gegee het – en uiteindelik Dawid (20-22).
            Dan spring Paulus na Christus toe (23).

#          Preekfokus: Jesus se dood en opstanding (Hand 13:26-37).

            Nou vertel Paulus die verhaal van die Here Jesus. Die Jode en heidene het Hom tereggestel, soos reeds vantevore oor Hom geskryf is. Maar Hy het as vervulling van die beloftes opgestaan. Só konsentreer die apostel op die twee fokuspunte van Christus se verlossingswerk: kruis en opstanding.

#          Konklusie: die keuse tussen lewe en dood (Hand 13:38-41).

            As hy dan getoon het hoe die Ou Testamentiese profesieë in Christus se kruisiging en opstanding vervul is, maak Paulus 'n appél op sy hoorders. Die keuse wat hy voor die Jode stel, is vlymskerp.

            Aan die een kant is daar die belofte van sondevergiffenis en regverdiging (38-39).

           Aan die ander kant is daar die verskrikking van God se oordele soos reeds deur die profete beskryf (40-41).

#          Reaksie (Hand 13:42-52).

            Die meeste mense reageer verstommend goed op die prediking – prediking wat sowel God se soewereiniteit as die mens se verantwoordelikheid beklemtoon.

            Dit vervul die Joodse leiers met afguns.

            Paulus-hulle draai nie doekies om nie: die Woord móét eers aan die Jode verkondig word. Maar aangesien hulle dit verwerp, sal die apostels van nou af na die heidene gaan met die evangelie (46). Christus het immers gekom as 'n lig vir die nasies (47).
            As die heidene dit hoor, is hulle verheug. En van hulle word dan gelowig – die wat vir die ewige lewe bestem was, almal wat as sodanig verordineer was (48, OAV en NAV).

#          Die werkwoord (NAV: "bestem"; OAV: "verordineer"), is baie betekenisvol.
           
Die woord beteken om iets te orden, te rangskik, in posisie te plaas, aan te wys. 'n Paar voorbeelde sal dit duidelik maak:


            +          Matteus 28:16: Die dissipels moet vir Christus se hemelvaart na die berg toe gaan "waar Jesus hulle bestel het" (OAV).


            +          Lukas 7:8: Die hoofman van Kapernaum is self 'n man wat onder gesag gestel is.

            +          Hand 22:10: Paulus moet Damaskus toe te gaan waar vir hom gesê sal word wat God vir hom bepaal het.
            Duidelik praat die begrip dus van iets wat vooraf gesagvol en soewerein besluit, vasgelê en vasgemaak is.
            In buite-Bybelse Grieks is daar gevalle waar die woord gebruik word vir die optekening van 'n gewigtige besluit in 'n amptelike boek. Bes moontlik sinspeel Lukas dus op die optekening van sekere mense se name in die boek van die lewe, waarvan ons meermale in die Bybel lees (Eks 32:32-33; Ps 69:29; Jes 4:3; Dan 12:1; Luk 10:20; Fil 4:3; Op 13:8; 20:12-15; 21:27).

            Die gerespekteerde teoloog, F.F. Bruce, stel dit só: "many of them believed the gospel – all, in fact, who had been enrolled for eternal life in the records of heaven ...". [4]

#          Die werkwoord is in 'n baie betekenisvolle vorm gegiet.

            Die perfektum passief partisipium suggereer minstens twee dinge:

            +          Die passief sê dat hierdie verordinering nie iets is wat die betrokke mense aan of vir hulleself gedoen het nie. Nee, hulle was passief in die hele proses – uiteraard, want dit gebeur volgens ander Skrifuitsprake voor hulle skepping. Die handeling is dus aan of vir hulle gedoen.

            +          Die perfektum verwys na 'n handeling in die verlede waarvan die gevolge voortgaande is en dus steeds geld. Die mense is destyds in God se boeke opgeteken vir hierdie besondere voorreg, en steeds staan dit vas.

#          Die mense is vir 'n wonderlike voorreg bestem: die "ewige lewe".
            Dit gaan dus om redding in Christus en alles wat daarmee saamhang.

#          "Almal" wat vir die ewige lewe bestem is, het tot geloof gekom.
            Duidelik word nie bedoel dat geeneen van die ander later tot bekering sal kan kom nie. Lukas wil sê dat nie een van die wat tot geloof gekom het, iets anders as uitverkies was nie. Daar is 'n onlosmaaklike verband tussen uitverkiesing en geloof. Nét uitverkorenes kom tot ware geloof.

Romeine 9:6-29

#          In Rom 8, veral vanaf v.28, gee die apostel Paulus die versekering dat die volharding en uiteindelike redding van God se uitverkorenes gewaarborg is, omdat dit in God se ewige raadsplan gewortel is.

            Die vraag kom nou asof vanself – en dis die problematiek wat Paulus in Rom 9-11 aanspreek: Wat dan van die Jode? Was hulle nie God se uitverkore verbondsvolk nie? Kyk net na die voorregte wat hulle onder die Ou Verbond geniet het. Tog het hulle Christus verwerp, en is hulle gevolglik onder God se toorn (v.4-5).

#          In Rom 9:1-29 toon die apostel dat die verwerping van die Jode nie 'n mislukking van God se verbondstrou was nie.

            Die beloftes aan Abraham met betrekking tot sy nageslag het nie vir alle biologiese kinders sonder meer gegeld nie; dit het net betrekking gehad op diegene wat uitverkies is in God se genade. Die Here was besig om hierdie uitverkore Jode saam met die uitverkore heidene tot die lewe te roep – net soos Hy belowe en die profete voorspel het.

#          Kom ons kyk nader na Paulus se argument.

            +          Die mislukking van die Jode beteken nie dat God se verlossingsplan verydel is nie. Hoe so? Nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie! (v.6).

            Daar is dus 'n ware en ewige Israel binne die uiterlike en tydelike Israel (nasionale Israel). En die beloftes waarvan Rom 8 praat, is net van toepassing op hierdie ware Israel – dus op die uitverkorenes binne die Joodse volk.


            +          In Rom 9:7-13 word hierdie stelling in v.6 dan verduidelik. Paulus gebruik twee voorbeelde: in v.7-9 die van Ismael en Isak, Abraham se kinders; en in v.10-13 die van Esau en Jakob, Isak en Rebekka se kinders.

                        =          Verse 7-9: Die Jode het op 'n simplistiese wyse aanvaar hulle nageslag word voor die voet gered. Maar, sê Paulus, daar is so iets soos 'n nageslag én 'n nageslag; kinders én kinders. En daar is die wêreld se verskil tussen die twee. Daar is 'n nageslag in die natuurlike sin; maar dan is daar 'n nageslag deur wie God se verbond voortgedra word. Daar is die kinders van die vlees; en daar is die kinders van die belofte – God se uitverkorenes. So was Isak dan God se uitverkorene, nie Ismael nie.

                        =          Verse10-13: Paulus antisipeer 'n beswaar. Ja, maar Ismael en Isak het twee verskillende ma's gehad. En in Ismael se geval het Abraham in ongeloof opgetree.
            Goed, sê Paulus, kom ons kyk na Esau en Jakob. Hulle het immers dieselfde pa en ma gehad; trouens, hulle was 'n tweeling. Tog, toe hulle nog in die moederskoot was, het God reeds 'n keuse uitgeoefen! Jakob sou Syne wees, nie Esau nie.

                        =          Verse11-12 is glashelder: Op geen wyse is hier sprake van enige vooruitgesiene verdienste as grond vir verkiesing nie. Dit berus volledig by God, en by Hom alleen. Verse 15-16 sê dieselfde ding nog meer eksplisiet: God is barmhartig oor wie Hy wil en as sodanig hang dit nie van die mens se wil of inspanning af nie.

            +          In Rom 9:14,19 opper Paulus twee vrae wat al in miljoene harte gespook het. Trouens, as iemand nog nie daarmee gestoei het nie, het hy waarskynlik nog nooit behoorlike oorweging aan God se openbaring oor Sy soewereine genade geskenk nie. En die prediker van God se soewereine uitverkiesing wie se luisteraars nie soms in verontwaardiging beswaar maak nie, preek waarskynlik nie so Bybels soos hy moet nie.

                        =          Vers14: Is God nie onregverdig nie? Paulus se reaksie op so 'n suggestie is vurig en verontwaardig. Beslis nie!
            Hy is God en sal barmhartig wees oor wie Hy barmhartig wil wees. Dít het Hy al vir Moses gesê (Eks 33:19). Dit hang dus nie af van die mens se pogings en inisiatiewe nie, maar van God se genadige ingrype (15-16, 18).
            Trouens, gaan Paulus verder, God gebruik ook soms Sy soewereine prerogatief om sondaars nog meer te verhard as wat hulle reeds is – soos in die geval van Farao (17-18).

                        =          Vers 19: Waarom verwyt God sondaars dan? Hoe kan Hy hulle hoegenaamd aanspreeklik hou? Wie kan enigsins teen Sy wil ingaan? Mens is eenvoudig uitgelewer aan Hom.


            +          Op v.19 se vraag, gee Paulus weereens 'n tweeledige antwoord in v.20-23.


                        =          Een, dit is totaal onvanpas en lasterlik dat 'n skepsel sy Skepper bevraagteken. Dis omdat mense in hulle arrogansie dink dat God onder verpligting staan om genade aan hulle te betoon. Maar die teendeel is waar. Hy is aan niemand enigiets verskuldig nie. Álmal is sondaars en het álle aanspraak op God se guns totaal verbeur.      Gevolglik is dit Sy prerogatief om een persoon te spaar, en net die volgende een níé. Hy, as die soewereine Skepper, en dus Eienaar, het dieselfde reg as 'n pottebakker om uit een bol klei verskillende voorwerpe te maak – die een goed en die ander sleg; die een mooi en die ander lelik; die een nuttig en die ander onbruikbaar.

            Nee, God is nie skuldig aan onreg as Hy één sondaar uit vrye genade red, terwyl Hy 'n ánder gewoon in sy sonde los om te kry wat hy nog altyd verdien het nie.


                        =          Twee, as God sommige van Sy sondige skepsele straf, en ander vergewe, doen Hy niks onredeliks nie. Waarom nie? In beide gevalle dien dit 'n verhewe doel – om sy heerlikheid te demonstreer.

            Die straf van sondaars toon Sy heilige en regverdige toorn teen sonde, soveel te meer as dit geskied nadat Hy hulle hóé lank geduldig verdra het (sien ook v.17).

            En, natuurlik, niks vertoon die rykdomme van Sy heerlikheid en barmhartigheid méér uitnemend as die genadige redding van Sy uitverkorenes nie.

#          Sommige voer aan dat hierdie hoofstuk niks wil sê oor die verkiesing van individue nie, maar handel oor die lotgevalle van nasies in God se raadsplan – die Israeliete (afstammelinge van Jakob), en die Edomiete (afstammelinge van Esau).
            In 'n sin is dit natuurlik waar. Maar bestaan volkere nie uit individue nie? Was Jakob en Esau nie enkelinge nie? Trouens, Paulus spreek júis die probleem hier aan dat Israel nie gesamentlik as volk uitverkies is nie. Want sommige glo, en ander nie – individue.

'n Aantal opsommende stellings

1.         Dit is God self wat gekies het

 

Markus 13:20; 1Thess 1:4; 2Thess 2:13: Sy uitverkiesende barmhartigheid lê volledig in Sy eie soewereine wil. Hoewel my wil en besluitneming volledig betrokke was toe ek 'n Christen geword het, het ek geensins inisiatief daarin geneem nie (Eks 33:19; Deut 7:6-7; Matt 20:15; Rom 9:10-24; 11:4-6; 11:33-36; Ef 1:5; Fil 2:13).

2.         Hierdie keuse is gemaak voordat die aarde geskep is

 

Efesiërs 1:4; 2Tim 1:9; Op 13:8; 17:8.

3.         God het bepaalde individue tot die ewige saligheid verkies

Ons het dit reeds gesien in onder meer die gedeeltes waarna ons gekyk het.

 

4.         God se keuse was totaal onafhanklik van, en voorafgaande aan enige moontlike geloof, verdienste of goeie werke in diegene wat verkies is

Handelinge 13:48; 18:27; Rom 9:11-13; 9:16; 10:20; 1Kor 1:27-29; Fil 1:29; 2:12-13; 1Tess 1:4-5; 2Tess 2:13-14; 2Tim 1:9; Jak 2:5.
            Sy keuse was dus nie gebaseer op enige vooruitgesiene geloof in diegene wat verkies is nie. Nee, Hy het Sy hart op sekere sondaars gesit, en hulle vir Homself uitgekies.
            Baie mense het die idee, op grond van Bybelse uitsprake dat God Sy uitverkorenes vooraf geken het [5] – dat Hy by wyse van spreke in die gange van die tyd afgekyk het, en gesien het wie gaan glo. Diesulkes sou Hy dan uitverkies en hulle name gevolglik in die boek van die lewe opgeskryf het.
            Besin vir 'n oomblik oor hierdie argument waarmee mense poog om die verlossingsinisiatief uit God se hand te wring. As so 'n persoon gebore word, is sy naam mos reeds in die boek van die lewe, nie waar nie. Hy gáán immers glo. God het dit dan gesien. Maar onmiddellik ontstaan die vraag: het só 'n uitverkorene dan nog die vrye keuse waaroor die aanhangers van hierdie teorie so sterk voel – sy naam is dan klaar opgeskryf?
            Nee, hierdie is 'n naïewe wolhaarstorie.

5.         Geloof, goeie werke en 'n heilige lewe – waarby ek eenhonderd persent betrokke is – is die uitvloeisel en bewys van uitverkiesing

 

Efesiërs 1:4; 2:10; 2Pet 1:10-11.
            Niemand kan uitverkiesing aanvoer as verskoning om geloof, bekering en gehoorsaamheid te verwaarloos nie.

6.         Uitverkiesing is 'n verkiesing tot redding, en nooit die oorsaak dat iemand verlore gaan nie

Sonder uitverkiesing sou niemand gered geword het nie.
            God kon besluit het om álle mense te red. Hy het die krag en gesag om dit te doen. Of Hy kon besluit het om níémand te red nie, want Hy is onder geen verpligting om enigeen te red nie. Tog het Hy nie op een van hierdie twee opsies besluit nie. Hy red sommige en los ander in hulle sonde.
            Onregverdig? Dink só daaraan: Kan jy God verwyt omdat Hy geen demoon red nie? Nee! Net so was Hy onder geen verpligting om enige mens te red nie. En as Hy, die soewereine Skepper en Eienaar, dan wél sommige uit genade red, en die ander laat kry wat hulle verdien?
            Uitverkiesing verontreg dus niemand nie. Dit werp geen skadukol op God se geregtigheid nie – maar belig sy liefdevolle genade meer as enigiets anders!
            Die gelykenis van die groot maaltyd in Luk 14:15-24 is insiggewend. 'n Groot fees is gereedgemaak en mense is genooi. "Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak" (v.18). Dan word die slaaf na die paaie en lanings uitgestuur om die armes, kreupeles, blindes en verlamdes te dwing (OAV) om in te kom.
            Sonder Christus was daar nie 'n fees nie; sonder die Heilige Gees was daar nie gaste nie!
            Uitverkiesing gaan nie oor vooruitgesiene geloof nie; dit gaan oor vooruitgesiene ongeloof. As die Here niks gedoen het nie, was ons almal hopeloos verlore – soos die demone.
            Dit verg nie 'n spesiale besluit van God voordat iemand verlore gaan nie. Daar is nie 'n spesiale uitverkiesing tot die ewige verdoemenis nie. Waarom nie? Omdat alle mense in elk geval van nature verlore is. Só is hulle gebore. Mense word nie neutraal gebore nie, maar verdorwe – en in Adam.

            Vir redding sorteer God nie die mensheid arbitrêr uit nie – een dié kant toe, een dáárdie kant toe nie. Nee, nee, nee!

7.         Uitverkiesing staan nooit in die pad van iemand wat opreg begeer om gered te word nie

So 'n begeerte is immers die gevolg van die Gees se oortuigingswerk – en só werk Hy net in die uitverkorenes.

8.         Laat ons nederig en kinderlik-gelowig voor God se selfopenbaring buig

Al verstaan ons nie goed hoe God se soewereine reddingsinisiatiewe, en die mens se verantwoordelikheid saamhang nie, moet ons aanvaar dat beide ewe wáár is. Vol is die Bybel oor die een; vol is die Bybel oor die ander.
            Kom, laat God Gód wees in ons denke en oortuigings. En laat ons nederig voor Hom wees in ons algehele afhanklikheid.

Ten slotte: 'n sprokie

Eendag, lank, lank gelede, ry 'n prins se goue koets die mees afgeleë en agterlike gehuggie van sy pa se koninkryk binne. Hy hou stil en klim uit. 'n Swetterjoel vuil kinders in vodde loer om krot-hoeke. Dan stap hy reguit na een van die meisiekinders toe – vuilste en lelikste van die klomp – vat haar sagkens aan die hand en fluister in haar oor: "Ek het jou as my bruid gekies!"
            Het die prins immoreel opgetree? En wat het die meisiekind beslis nié gesê nie? "Dis
onregverdig! Wat van Truia en Sophie en Nonnie? Hulle is baie mooier as ek!"

Uitverkiesing en die mens se wil

Hoeveel maal hoor 'n mens nie allerlei murmureringe teen die Bybelse leer oor die uitverkiesing nie. Daar is beswaarlik 'n aspek van die historiese Christelike geloof wat tot meer aanstoot vir ongelowiges is. Selfs talle wat hulleself sonder skroom Bybelse Christene noem, doen alles in hulle vermoë om God se soewereiniteit in sondaars se redding te onderbeklemtoon. Solank die mens net in beheer bly van sy eie heil, glo hulle, sal God se eer nie geweld aangedoen word nie.

            "Die mens het tog 'n wil", sê hulle, "en die Bybel is boordevol daaroor. Maar die uitverkiesingsleer maak van die mens 'n willose outomaat. Afgesien daarvan dat dit nie naastenby ooreenstem met ons ervaring en waarneming nie, onteer dit God se Naam op 'n skreiende manier!"

            As die uitverkiesing inderdaad 'n Bybelse openbaring is – soos hierbo aangevoer is, is hierdie 'n ernstige aanklag waaraan ons deeglike aandag moet gee. Wat maak ons dan van die mens se wil?

Die gevalle mens se onvermoë om sy lot te verander

#          Die waarheid van menslike onvermoë word oor en oor deur die Bybel geleer. So min as wat 'n mens homself aan sy eie skoenveters kan optel, so min kan hy sy eie hart verander of strydig daarmee besluit of optree. Jer 13:23 stel dit so: "Kan 'n Kussiet (Etiopiër) sy vel verander of 'n luiperd sy vlekke? Sou julle kon doen wat goed is, julle wat so gewoond is aan die kwaad?"

#          'n Uitspraak van die Jesus in Matt 12:33-37 is baie insiggewend:

            "As julle sê 'n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. 'n Boom word tog aan sy vrugte geken. Julle slange! Hoe kan julle wat sleg is, iets goeds sê? Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart. Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word." (Vgl. ook Matt 7:16-20 en Luk 6:43-45).

            +          Woorde en dade is die vrug van 'n persoon se natuur. Dit openbaar sy ware aard – wie hy werklik in sy hart is. Soos goeie bome goeie vrugte dra, so sal 'n goeie hart goeie woorde voortbring. En omgekeerd, in die geval van die slegte.

            Let op hoe sowel "goeie" as "slegte" drie maal in Matt 12:35 herhaal word.

            +          Soos 'n slegte boom nie goeie vrugte kan dra nie, so kán 'n slegte hart nie die goeie voortbring nie (Matt 7:18; 12:34). Maar let op, hierdie onvermoë, hierdie gebondenheid, is te wyte aan 'n mens se eie hart. So 'n persoon word dus gebind deur wat hy self is en wil hê; hy is onder geen eksterne dwang nie.

            Slegte mense is totaal vry om te doen wat hulle wil – maar nie om te doen wat hulle móét nie, naamlik God se wil.

            +          Omdat die mens se keuses in sy eie hart ontspring, word sy verantwoordelikheid voor God nie in die minste opgehef nie. Omdat my woorde 'n weerspieëling is van my hartsgesteldheid, sal 'n beoordeling van my woorde meteen 'n beoordeling van my hart, en dus my ware natuur wees (Matt 12:36-37).

            +          In Matt 12:35 gebruik die Here Jesus 'n ander beeld om dieselfde waarheid tuis te bring. Iemand wat sy hand in 'n skatkis insteek, kan net daaruit haal wat reeds daarin is – of dit nou goud, en of dit gruis is, maak nie saak nie. Net so kom goeie werke uit goeie harte voort, en slegtes uit slegte harte.

#          Ook Joh 6:44,45,65 is hoogs betekenisvol:

            "Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. By een van die profete staan daar geskrywe: 'En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.' Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe."

            "Verder het Hy gesê: 'Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie."

            Jesus praat hier van 'n koms na Hom toe. Dis die handeling van daardie geloof wat redding bring – 'n redding waarvan opstanding uit die dood die vervolmaking is (37-40). Bogemelde verse praat dus sonder twyfel van reddende geloof.

            +          Om in Jesus Christus te glo, is nie net God se heel eerste opdrag aan elke sondaar nie; dit is ook die sleutel tot gehoorsaamheid aan alle ander opdragte van God. Maar selfs hierdie eerste opdrag is onmoontlik vir die mens. "Kan" in sowel v.44 as v.65 dui op vermoë, nie op toestemming nie.

            +          Net een ding kan die mens in staat stel om te gehoorsaam, om te glo, om gered te word: Die Vader moet hom trek. Die Vader moet dit vir hom gee.

            Wat beteken "trek"? Dis 'n baie sterker begrip as lok. Dit beteken om 'n voorwerp van punt A na punt B te verskuif. Daarom word dit dikwels met "sleep" vertaal (vgl. ook Joh 12:32; 18:10; 21:6,11; Hand 16:19; 21:30; Jak 2:6. Dis al die plekke waar dit in die NT voorkom).

            En let op dat dit sonder uitsondering geld. "Niemand" kom sonder die Vader se ingrype nie.

#          Waarin lê die natuurlike mens se onvermoë?

            +          Negatief: Waarin lê dit nié?

                        =          Dit lê nie in die mens se natuur soos hy oorspronklik geskape is nie. Voor die sondeval was hy volledig in staat om God te gehoorsaam. As dit nie so was nie, sou dit beteken het dat God se skepping gebrekkig was en dat Hy inderdaad die outeur van sonde was.

                        =          Dit lê nie in sy geskapenheid as sodanig nie. Dit gaan dus nie om iets soos 'n fisieke onvermoë nie.

                        =          Dit lê nie in verlies aan die vermoë om keuses uit te oefen nie. Dít doen hy immers 'n duisend keer elke dag. Van vanmôre af as hy moet besluit watter skoen om eerste aan te trek, tot vanaand toe as hy moet besluit wanneer hy gaan slaap.

                        =          Dit lê nie in 'n onvermoë tot natuurlike en maatskaplike deug nie. Daarvan sien mens tog baie. Van die mooiste, ordentlikste en vriendelikste mense wat jy ken, is dikwels nie Christene nie.

            +          Positief: Waarin kom dit wel tot uitdrukking? Wat is hierdie onvermoë?

            Dit is  'n onvermoë om die dinge wat God behaag en vereis te onderskei, lief te hê, te kies en te doen. Só diepliggend en bepalend is hierdie ellendige toestand dat die Skrif die gevalle mens as "geestelik dood" beskryf (Ef 2:1).

                        =          Die gevalle mens het nie insig in die dinge van die Here nie – hy is geestelik blind (Matt 11:25-27; Joh 3:3,5; Rom 1:21-22; 1Kor 2:14; 2Kor 4:3,4,6).

                        =          Die gevalle mens het geen liefde vir die Here en Sy dinge nie. Hy is ten diepste vyandiggesind teen God (Rom 8:7-8), sonder enige ywer vir Sy eer. Aan selfbevrediging, selfhandhawing en selfverheffing is hy egter verknog (1Joh 2:16).

                        =          Die gevalle mens is nie in staat om die Here en Sy wil te kies nie (Matt 23:37).

                        =          Die gevalle mens is vanweë sy sondige natuur ook nie in staat om gehoorsaam aan die Here te leef nie.

            +          Al vier bogenoemde onvermoëns van die gevalle mens word deur God se genade in Christus, en deur die werk van die Heilige Gees aangespreek (Fil 2:13).

            +          Meeste evangeliese Christene het geen probleme om drie van bogenoemde te verstaan nie, maar baie sukkel met die derde – die mens se wil en keuses. Hierna moet ons nou vinnig kyk.

Die vryheid en gebondenheid van die wil

#          Baie dik en ingewikkelde boeke is al oor hierdie fassinerende onderwerp geskryf. Miskien is die bekendste, Luther se Die Gebondenheid van die Wil, asook Jonathan Edwards se werke.

            Om enigsins te verstaan, moet  mens twee waarhede behoorlik onder die knie hê.

Die mens, ook die gevalle mens, is vry om te besluit, en te doen net wat hy wil

#          Die gevalle mens het natuurlike vryheid; hy is 'n vrye agent.

            +          Dit bring mee dat elke mens aanspreeklik is vir sy keuses en dade. Vryheid bring immers verantwoordelikheid mee. Dit geld in die algemeen, maar vir ons doel is dit belangrik om te beklemtoon dat dit die basis is van elke mens se toerekeningsvatbaarheid voor God.

#          As mens sondig, is sulke aanspreeklikheid uiteraard iets wat jy baie graag wil ontken en ontkom. Die Bybel laat jou egter nie so maklik wegkom nie.

            +          As jy onkunde pleit, toon die Skrif dat God Homself aan alle mense openbaar – ten minste sodanig dat elkeen toerekeningsvatbaar is.

            In die skepping betoon Hy Homself as die Almagtige (Rom 1:19-20; Hand 14:15). En in Sy algemene genade betoon Hy Homself as die Algoeie Versorger (Hand 14:17; Matt 5:45; Luk 6:35).

            En om wegkomkans heeltemal uit te skakel, onderstreep die Bybel ook nog, aan die hand van die universele verskynsel van die gewete, dat die eise van God se morele wet in die harte van alle mense geskryf is (Rom 2:14-15).

            +          Die ander tipiese manier om skuld te probeer ontduik, is natuurlik om die blaam op iets of iemand anders te plaas. Maar as ek aanvoer dat ek verlei is, antwoord die Bybel met Jak 1:13-15: "Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: 'Ek word deur God versoek' nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood."

#          'n Ander manier om jou skuld te ontkom, is as jy kan sê: Ek het dit teen my wil gedoen.

            Daarmee kom niemand egter weg nie. Want eintlik doen niemand ooit iets teen sy wil nie; inteendeel, elke mens doen altyd wat hy wil, en nét wat hy wil.

            Nooit is 'n mens se dade los te maak van sy wil nie. Sy dade is dus nie outonoom, onafhanklik of selfstandig nie. Nee, dit vloei voort uit sy wil en besluite. Hy mag iets doen wat hy haat, maar as hy dit doen, is dit omdat hy dit gewil en gekies het. Mens doen slegs wat jy wil. Twee illustrasies behoort dit duidelik te maak.

                        =          'n Rower spring in jou bakkie en druk 'n rewolwer teen jou borskas. Jy kan die banksak met loongeld nie vinnig genoeg in sy hande druk nie. Was dit nie teen jou wil nie? Nee, jy het volledig volgens jou wil en besluit opgetree – jy wóú lewe!

                        =          'n Bord vol afval word voor jou neergesit. Jy kan afval nie verdra nie. Tog eet jy dit – teen jou wil? Nee, jy wil jou gasheer nie aanstoot gee nie. Was dit egter dodelike sampioene, sou niks jou sover kon kry om dit te eet nie. Waarom nie? Omdat jy dit nie wíl eet nie. Waarom nie? Omdat jy wil lewe!

            Daar is natuurlik wél 'n manier om die giftige sampioene in jou liggaam te kry: Dit word in jou keel afgedruk terwyl jy vasgedruk word. Maar dan is dit uiteraard nie jý wat dit eet nie. Waarom nie? Omdat jy nie wil nie![6]

            +          "My voete loop na Wellington, maar ek wil Worcester toe", mag vir 'n liedjie deug. Maar eintlik, in absolute terme, is dit 'n onsinnige stelling.

#          Die mens, ook die wedergebore mens, se wil is nie vry nie; dis gebonde aan en deur sy eie hart.

            +          Dis 'n algemene persepsie dat die wil vry is – dat dit volledig outonoom, selfstandig, onafhanklik is. Dis nie waar nie.

            Sonder uitsondering word die wil beheer en voorgeskryf deur iets meer diepliggend in die mens – deur die kompleks van begeertes, motiewe, natuurlike geneigdhede en oortuiginge wat die Bybel "die hart" van die mens noem.

            +          'n Wil wat onafhanklik van die hart funksioneer sou 'n monster wees. In 'n restaurant sou dit vir jou kos kon bestel wat jy gladnie kan hanteer nie. Dit sou vir jou vriende kon kies wat jy verag. 'n Wil wat strydig met jou diepste begeertes, motiewe, geneigdhede en oortuigings kon besluit, sou jou psigiatries sertifiseerbaar maak.

            +          Na aanleiding van Matt 12:35 kan dus gesê word dat die wil bloot die arm is wat in die kis van die hart inreik – en dit wat daarin is te voorskyn bring. Net soos die hand geensins die vermoë het om die inhoud van die kis te bepaal nie, net so min kan die wil die inhoud van die hart bepaal. Al wat dit kan doen, is om die hart se inhoud te openbaar – en dit doen dit inderdaad onfeilbaar getrou.

Omdat mense verskillende harte met verskillende inhoude het

neem hulle verskillende besluite

#          Om op te som:

            +          Daar is 'n onlosmaaklike band tussen die mens se hart en sy wil. Sy wil is gebonde aan en deur sy hart. Wat hy in sy hart is, sal hy wil, en kies, en wees – onontkombaar, sonder uitsondering.

            +          Daar is 'n onlosmaaklike band tussen die mens se wil en sy dade. Nie alleen kán hy kies, en dus doen of nalaat net wat hy wil nie – hy sál altyd, onontkombaar, presies kies, en dus doen of nalaat wat hy wil.

            Presies dit maak hom toerekeningsvatbaar!

            +          Gevolglik is sy dade 'n onfeilbare barometer van wat in sy hart aangaan. Presies dit is die waarheid waarmee die Bybel so sterk werk – en illustreer met die beeld van die boom en sy vrug.

Hier lê die gevalle mens se verskriklike dilemma:

Sy hart is verdorwe

Hy kán dus nie anders as om sonde te kies nie

en gevolglik in sonde te leef nie

Hy is verslaaf daaraan

(Rom 6:20; Ef 2:1-3)

#          Omdat geen mens in staat is om sy eie hart, sy diepste aard te verander nie, is geen sondegevalle mens sélf in staat om God se wil te wil nie – of om God se Seun te kies nie. Sélf kan hy nooit sy lot onder God se toorn verander nie.[7]

Presies hier, net hier, lê die gevalle mens se nood aan genade

verkiesende, soekende, roepende, herskeppende genade!

 

En nét hier lê die noodsaak van uitverkiesing tot redding

van die wedergeboorte tot 'n nuwe hart

van die vrymaking van die wil

"om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae"

(Fl 2:12-13, OAV)

Uitverkiesing en menslike verantwoordelikheid

Die twee vriende van Joh 6

C.H. Spurgeon is eenmaal gevra om die twee gedeeltes van Joh 6:37 met mekaar te versoen: "Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom" en "Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie."

Kennelik kon die vraestellers nie God se soewereine inisiatiefneming in die redding van mense, wat in die eerste deel van die sin beklemtoon word, en die verantwoordelikheid van mense om hulle verlossing in Christus te soek, waarop die tweede deel van die vers sinspeel, met mekaar gerym kry nie.

Spurgeon se antwoord was eenvoudig, maar diepsinnig: "Ek verstaan nie julle probleem nie. Dis mos nie nodig om vriende met mekaar te versoen nie!"

#          Die Here Jesus het baie goed geweet wat Hy sê. Want Hy gaan voort om Sy dubbele, en oënskynlik teenstrydige stelling in die volgende drie verse uit te bou.

            +          In v.38-39 verduidelik Jesus v.37a. Die Vader het voor Sy menswording bepaalde mense aan Hom toevertrou om alles te kom doen wat vir hulle redding nodig sou wees. En hierdie redding sou uiteindelik tot afronding kom in elkeen van dié mense se opstanding in heerlikheid. God se soewereine inisiatiefneming in die redding van sondaars kan beswaarlik duideliker onderstreep word.

            +          In v.40 lewer Jesus kommentaar op v.37b. Hy gee die versekering dat enigeen, wie ook al, wat in geloofsvertroue sy of haar oë op die Seun vasnael, die ewige lewe sal hê en uiteindelik op die laaste dag sal opstaan.

Reeds in v.37b word hierdie versekering sterk beklemtoon. Die Grieks het 'n dubbele negativering wat mens dalk vry só in Afrikaans kan vertaal: Ek sal hom wat na My toe kom nooit, maar nooit verwerp nie.

+          Die Here Jesus wil dit kennelik by Sy luisteraars tuisbring dat ook Hý God se soewereiniteit en die mens se verantwoordelikheid as vriende beskou. Hy doen dit deur v.38-39 en v.40 op twee maniere onlosmaaklik saam te bind.

            Eerstens sê Hy in beide gedeeltes dat dit oor die wil van die Vader gaan.

Tweedens beklemtoon Hy in elke stelling dat sowel die Vader se uitverkiesing as die mens se geloofshandeling in die opstanding uit die dood sal uitmond.

#          Lees mens die hele hoofstuk, word dit vir die ware gelowige onuitspreeklik kosbaar. Joh 6:35-71  bevat ten minste 5 onmoontlikhede.

+          Dis onmoontlik vir diegene wat die Vader aan Sy Seun gegee het, om nié na Hom toe te kom nie (v.37a).

+          Dis onmoontlik vir diegene wat opreg kom, om verwerp te word (v.37b).

+          Dis onmoontlik om na die Seun toe te kom as die Vader jou nie trek nie (v.44, 65).[8]

+          Dis onmoontlik vir diegene wat die Vader aan Sy Seun gegee het  -  húlle wat deur die Vader getrek is en dus opreg na Christus toe gekom het  -  om in die graf vergeet te word (v.39, 40, 44, 54).

+          Dis onmoontlik dat diegene wat huigelagtig kom, enduit by Christus sal bly (v.60-71).

Hoe op aarde kry mens die kloutjie by die oor?

#          Johannes 6, trouens, die hele Bybel, leer dus in die allerduidelikste taal twee waarhede: God is soewerein en die mens is verantwoordelik.

#          Mense sukkel om vrede te maak met hierdie oënskynlike teenstrydigheid. Hulle worstel met allerlei vrae. As God dan volkome soewerein is, wat sê dit oor die mens se verantwoordelikheid? Impliseer dit nie fatalisme nie? Hoe kan God mense nog verkwalik as hulle in sonde bly volhard? Maak dit nie gebed en evangelisering onnodig, selfs futiel nie? Wat van al die oproepe, bevele en waarskuwings in die Skrif? Dit lyk of die Bybel homself weerspreek!

#          Om intelligent oor bogenoemde vrae te besin, moet mens drie begrippe verreken.[9]

+          Teenstrydigheid. Daar is sekere mededelings in die Bybel wat op die oog af vir ons na teenstrydighede lyk. Veral sukkel ons met die drie-enigheid van God, die twee nature van Christus, en ons tema – die samehang van God se soewereiniteit, en die mens se verantwoordelikheid in die redding van sondaars.                           

            'n Teenstrydigheid is egter om te sê dat iets in dieselfde sin wáár is, en terselfdertyd ook nié waar is nie (Eng.: contradiction; Latyn: contra: teen + dico: praat). Dis om byvoorbeeld te praat van 'n vierkantige sirkel. Dis absolute onsin. Dit doen die wette van die logika geweld aan.

In die Bybel is daar geen teenstrydighede nie. En om God daarvan te beskuldig, is lasterlik.

Wat God se drie-enigheid, byvoorbeeld, betref, is Hy in een opsig één (in Sy wese), maar in 'n ander opsig drié (Hy is drie persone). Wesensmatig is God enkelvoudig; persoonsmatig is Hy drievoudig (Latyn, una substantia tres personae.) Wat ons hier moet raaksien, is dat, hoewel dit vir ons onbegryplik is, daar geen logiese teenstrydigheid in die drie-enigheid van God sit nie – want Hy is in verskillende opsigte terselfdertyd een én drie.

As ek sou sê dat een en dieselfde deurgesnyde waatlemoen in sy snit óf sirkelvormig óf ovaalvormig kan wees, is dit geen teenstrydigheid nie. As ek hom op sy langs-as sny, is die snit ovaalvormig; as ek hom dwars op sy langs-as sny, is die snit sirkelvormig. In verskillende opsigte kan hy dus meteen ovaal- én sirkelvormig wees. Maar as ek sou sê dat 'n deurgesnyde waatlemoen in 'n bepaalde snit sowel sirkelvormig as ovaalvormig is, is dit 'n teenstrydige stelling.

God se soewereiniteit en die mens se verantwoordelikheid is nié logies teenstrydig nie – want die mens se verantwoordelikheid lê op 'n mindere vlak as God se soewereiniteit. Laasgenoemde omvat eersgenoemde; eersgenoemde is ondergeskik aan laasgenoemde.

+          Paradoks (Grieks, para, om langsaan iets te wees + dokeo, om te skyn, om na iets te lyk). 'n Paradoks lýk dus met die eerste oogopslag na 'n teenstrydigheid – maar dis net skynbaar so. Gegee die nodige begrip, is die aanvanklike raaisel oplosbaar.

+          Misterie of geheimenis (Grieks, musterion). Dis 'n verskynsel of 'n waarheid wat té diepsinnig is om self te ontrafel. Dis nie 'n illusie nie, maar 'n realiteit wat jou verstand te bowe gaan.

'n Geheimenis hoef nie 'n misterie te bly nie. As jy jou eerste rekenaar koop, is die werkinge daarvan vir jou 'n geheimenis. Maar gegee die nodige opleiding en ervaring (én gesukkel), is jy gou-gou gekonfyt.

Die Griekse woord, musterion (OAV, "verborgenheid"; NAV, "geheimenis"; 2020: "misterie"), is 'n baie belangrike tegniese begrip in die Nuwe Testament. Konsekwent dui dit op waarheid wat in Ou Testamentiese tye 'n misterie was, maar wat in Nuwe Testamentiese tye in Christus verduidelik, oftewel geopenbaar is.

Romeine 16:25-26 bring dit mooi na vore: "God is magtig om julle te laat vasstaan ooreenkomstig die evangelie van Jesus Christus wat ek verkondig, en ooreenkomstig die openbaring van die geheimenis. Eeue lank het dit geheim gebly, maar nou is dit geopenbaar."

Die samehang van God se soewereiniteit en die mens se verantwoordelikheid is nie 'n teenstrydigheid nie. Dis egter wel 'n geheimenis. Ons sou dit nooit self kon uitdink nie. Maar God hét dit aan ons geopenbaar.

Onkundiges dink die uitverkiesing is 'n teenstrydigheid. Maar dis vir hulle net 'n paradoks – totdat die nodige Bybellering die geheimenis vir hulle opklaar.

God werk middellik – Hy gebruik instrumente

#          As God verordineer het dat ek moet leef, sê ek nie dis daarom onsinnig om asem te haal nie. As 'n boer glo dat God bepaal het dat hy 'n oes sal inbring, sê hy nie dis onnodig om te ploeg, te saai en te besproei nie.

Hierdie is 'n beginsel wat ons behoorlik moet vasvat. Die Here betrek Sy kinders as medewerkers in die inbring van die uitverkorenes wie se oomblik van redding aangebreek het. Verstommend soos dit mag wees, het die almagtige God besluit om ons stamelende, strompelende en struikelende stukkies gehoorsaamheid te gebruik in die insameling van Sy oes.

Hoe betrek Hy ons? Daar is veral drie maniere.

#          Die Here gebruik sy kinders se godvrugtige lewens en goeie werke om 'n appèl op mense te maak. Dis waarom die Here Jesus in Matt 5:16 sê: "Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik."

#          Die Here gebruik sy kinders se gebede in die uitwerk van Sy raadsplan in die algemeen, en Sy verlossingsplan in die besonder. Vandaar die belofte in 1Joh 5:14-17: "En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra ... As iemand sy broer sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid en God sal die broer die ewige lewe gee."

Calvyn het gesê:  "Gebed is om die skatte op te grawe wat God lank tevore reeds vir ons voorberei het."

#          Die Here gebruik by uitnemendheid Sy kinders se evangelieverkondiging om Sy uitverkorenes in die kudde van die Here Jesus in te bring. Dis presies waarvan Paulus in Rom 10 praat: "... hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? ... Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor ..." (13-17). Vergelyk ook: Joh 17:17,20; 1Kor 1:21; 2Thess 2:14; Jak 1:18; 1Pet 1:23.

#          In Hand 18:9-10 lees ons hoe die Here in 'n gesig aan Paulus verskyn om hom te versterk en te bemoedig om voort te gaan met sy moeilike taak in Korinte: "Een nag het die Here in 'n gesig vir Paulus gesê: 'Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie, want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.'"

As die apostel verneem dat daar tog wel baie uitverkorenes in die stad is wat nog tot bekering moet en sal kom, vra hy nie hulle name en adresse nie. Dit sou immers baie tyd en moeite gespaar het as hy hulle een na die ander kon byloop om hulle na Christus toe te lei. Ook pak hy nie sy goed, verlig dat hulle sónder hom tot geloof gaan kom nie.

Nee! Hy gaan met nuwe ywer voort om te preek. Want hy verstaan dat sy verkondiging – soos ook sy lewe en sy gebede – ingeweef is in die uitwerk van God se verlossingsplan. Hy bly uiteindelik agtien maande daar, met 'n gemeente tot gevolg.

#          Niks is 'n groter aansporing tot evangelistiese ywer as die wete dat bekering-sukses uiteindelik 'n noodwendigheid is nie. En die waarheid van uitverkiesing alleen bring hierdie versekering.

J.I. Packer stel dit so: "So far from making evangelism pointless, the sovereignty of God in grace is the one thing that prevents evangelism from being pointless.... Were it not for the sovereign grace of God, evangelism would be the most futile and useless enterprise that the world has ever seen ..."

Sonder God se uitverkiesing en almagtige genade sou ons prediking en evangelisering tevergeefs gewees het – net so futiel soos om in 'n lykshuis vir 'n lyk te skreeu, "Staan op en leef!"

As dit nie vir God se soewereine en uitverkiesende genade was nie, sou niemand ooit tot bekering gekom het nie. Maar omdat Hy wel ontelbaar baie uitverkies het, sál bekerings aan die orde van die dag wees totdat die Here terugkom. En as ek volhardend en getrou die suiwer evangelie verkondig, sal ook ék die vreugde van evangeliseringsvrug smaak.

Mens kan aan enige kant van 'n perd afval

#          Dit is kardinaal belangrik om die fyn en sensitiewe balans of ekwilibrium tussen God se soewereiniteit en die mens se verantwoordelik in die reddingsproses vas te hou. Mislukking wat dit betref, na enige kant toe, lei tot teologiese en praktiese skeeftrekking – met allerlei ellendes tot gevolg.

            +         Aan die een kant dwaal diegene wat 'n eensydige klem op die mens se verantwoordelikheid plaas. Daar is derduisende onkundige en mensgesentreerde Christene wat voet by stuk hou dat die finale inisiatief vir sy redding, al dan nie, by die mens self berus. Ja, ja, sê hulle, natuurlik is God by magte om enigeen teen sy wil die saligheid binne te sleep. Maar dít sal Hy nooit doen nie! Hy het gekies om Hom by die mens se wil en besluitneming te berus. Dis hoekom mens soms die lasterlike uitspraak hoor: "Hy kan vir jou niks doen as jy Hom nie kies en toelaat nie."

Daar is niks wat God nié kan doen nie! En nog nooit het die Here geabdikeer nie. Les bes is dit allermins wat die Skrif leer – soos ons by herhaling in hierdie studie gesien het.

Soos dit met alle skeeftrekkings van Bybelse waarheid gaan, lewer ook hierdie dwaling sy kwota bitter en Godonterende vrug op.

            +         Aan die ander kant dwaal diegene wat die mens se verantwoordelikheid verwaarloos, en 'n eensydige klem op God se soewereiniteit laat val. Ons praat hier van die dodelike siekte van Hiper-Calvinisme.[10]

            Baie het deur die geskiedenis in hierdie fatale slaggat getrap. Hulle redeneer só: As God dan sekeres uitverkies, en die ander in hulle sonde los – en die Skrif leer dit onmiskenbaar – hoe kan ons die evangelie as 'n oop uitnodiging aan álle mense rig, terwyl ons weet dat talle van hulle nie uitverkies is nie? Dit kan tog nie in integriteit gebeur nie! Hoe kan ons mense wat nie uitverkies is nie, sonder meer verseker dat die water van die lewe verniet is, en daar is vir enigeen om te drink? (Op 22:17)

            Die gevolg is dat diegene wat so redeneer spoedig geïnhibeer word om die evangelie aan alle mense, voor die voet te verkondig. En veral sal hulle nie 'n oop evangelie-uitnodiging rig nie – in elk geval nie voordat hulle seker is dat die Gees in betrokke mense aan 't werk is nie. Hulle redeneer voorts só: Aangesien reddende geloof 'n gawe van God is, kan dit mos nie as 'n plig aan sondaars voorgehou word nie. Mense moet eenvoudig wag totdat hulle die gawe ontvang. Uiters kan evangeliserende prediking ontdekkend wees – sodat diegene in wie die Here werk, dit kan herken. Aan húlle kan die uitnodiging dan gerig word. Anders preek jy pligpleging – duty-faith.

            So 'n benadering maak die kerk dood. Dit versmoor evangelisering. En dit veroorsaak tragiese pastorale ellendes. Mense sit jarelank in gemeentes sonder geloofsekerheid. Hulle wag vir iets om met hulle te gebeur. En gevolglik raak hulle sieklik introspektief. Die probleem is dat jy nie gedurig na binne kan kyk, sonder om oorweldig te raak deur die feit van jou eie verdorwenheid nie. Dit vererger natuurlik net die probleem. Sulke mense sit dan jarelank getrou in die kerk, in die hoop dat die wederbarende evangelie tog ook eendag húlle harte sal deurboor.

Hiper-calvinisme is dus 'n passiewe stuk fatalisme; 'n stuk dwase en onbybelse miskenning van menslike verantwoordelikheid.

            Kerke wat prooi word van hierdie dwaling, kwyn en sterf mettertyd – soos die laaste begenadigdes heengaan.[11]

#          Wat is die antwoord op bg. probleem? Mense moet na die balanse van die Skrif terugkeer en hul verantwoordelikheid in terme van God se Woord opneem en nakom! As hulle dan nie geloofsekerheid het nie, moet hulle eenvoudig die water van die lewe in die geloof begin drink. Dis vrylik beskikbaar en dis verniet!

+          Daar is 4 redes waarom ons ten alle koste aan 'n oop evangelie-aanbod moet vashou, waarom ons sondaars daarvan kan verseker dat God se heilsuitnodiging en genade-aanbod eerlik en opreg en ernstig is – en waarom ons skuldig staan as ons nie die evangelie aan alle mense verkondig nie.

            =          Eerstens, die Skrif leer duidelik die verantwoordelikheid en aanspreeklikheid van elke mens voor God – ook wat bekering betref.

            =          Tweedens, die Skrif rig talle oop uitnodigings aan sondaars – en beveel die kerk om voort te gaan daarmee.

            =          Derdens, die reg tot geloofsbeoefening, geloofsbelydenis en geloofsekerheid is gesetel in die verbondsbeloftes van God – en nie in my belewinge daarvan nie.

            =          Vierdens, die Bybel leer God se opregte liefde vir sondaars, asook Sy behae daarin dat hulle na Hom toe sal kom vir redding (vgl. Eseg 18:23; 30-32, OAV).

Dubbele uitverkiesing?

#          As daar dan so iets soos uitverkiesing is, en as dit nie alle mense insluit nie, kan ons eenvoudig nie die implikasie ontkom dat voorverordinering of predestinasie twee kante het nie (vgl. Rom 9:22; 1Pet 2:8). Ons durf nie nét van Jakob praat nie. Wat van Esau?

Daarbenewens moet ons nadere aandag gee aan die hele kwessie van verharding – soos in die geval van Farao (Rom 9:17-18).

#          Daar is sommige wat simmetries oor die vraag dink. Hulle sien dit dan só: Net soos God in die lewens van sommige ingryp en geloof in hulle skep, netso skep Hy ongeloof in die harte van diegene wat verlore gaan.

            Hierdie dwaling is nie net totaal onbybels nie, dis ook lasterlik, aangesien dit God die outeur van die verloregaandes se sonde maak. Dit is nié 'n Bybelse beskouing nie!

            Dit is kardinaal belangrik om te verstaan dat sommige van God se raadsbesluite positief of aktief is, en andere weer negatief of passief.

            Wat die uitverkiesing betref, werk God aktief in die uitverkorenes, sodat hulle kan sien en glo en kies en gehoorsaam.

Wat die verloregaandes betref, het God besluit om passief by hulle verby te gaan, en hulle in hul sonde te los. Hy skep dus nie ongeloof in hulle harte nie – dis reeds daar. Sedert die sondeval is die natuurlike mens immers radikaal verdorwe en in Adam verlore (Rom 5:12-21). God dwing mense nie om te sondig nie, hulle besluit self om te sondig – na "hartelus".

#          Hoe moet ons nou die Bybelse uitsprake verstaan dat God onder meer vir Farao verhard het? (Eks 4:21; 7:3; 9:12,16; 10:1-2; 11:9-10; 14:4; 1Sam 6:6).

Hoe het God sy hart verhard? Daar is net 2 maniere waarop Hy dit kon doen: aktief of passief.

+          In eersgenoemde geval sou dit daarop neerkom dat God doelbewus in Farao se hart gewerk het om 'n verdere boosheid daar te skep. Sekerlik sou God op hierdie manier Sy doel bereik het, maar dit sou Hom meteen die Oßuteur van Farao se sonde gemaak het.

+          Passiewe verharding is radikaal anders.  Al wat nodig is vir die verharding van 'n sondaar se hart, is om hom aan sy eie sondegeneigdheid oor te laat. Hierdie oordeelshandeling van God kom weer en weer in die Skrif voor.

Om dit te verstaan, moet ons die konsep van God se algemene genade in gedagte hou. Dit is Sy liefdesguns oor álle mense, wat op talle maniere tot uitdrukking kom. So laat Hy byvoorbeeld reën oor regverdig en onregverdig. Hy sorg vir almal en gee ook aan ongelowiges verhewe gawes.

Nog 'n kardinaal belangrike aspek van algemene genade is God se weerhouding van hierdie gevalle wêreld om in die volle diepte van sy eie verdorwenheid in te sink.

Wat ons nou moet raaksien, is dat hierdie genade van God ál is wat mense daarvan weerhou om net so sleg en boos soos demone te word. Tot die mate dus wat God 'n man of vrou, of selfs 'n samelewing, se leisels laat skiet, tot daardie mate sal so 'n persoon of groep versleg. Om nog 'n spreekwoord te gebruik: elkeen wat genoeg tou kry, sal homself ophang – op aandrang van sy eie verdorwe hart. Wee hom wat aan homself oorgelaat word!

God het Farao se wil dus geen geweld aangedoen nie. Hy het hom bloot meer vryheid gegee. En vir sy optrede was die Egiptenaar volledig self verantwoordelik. Die Here was nie aandadig aan sy sonde nie.

+          God gee dus genade aan Sy uitverkorenes deur aan hulle nuwe harte te gee, met alles wat daaruit voortvloei. Daarenteen gee Hy reg en geregtigheid aan die res deur hulle in hulle eie sonde te los. Eersgenoemde groep ontvang Sy liefdesguns, die ander sy reg. Niemand is die prooi van onreg nie, niemand kan God van ongeregtigheid beskuldig nie.

Die effekte van 'n God-gesentreerde teologie in mense se lewens

1.         Hierdie effekte is nie akademies of denkbeeldig nie; dis ingrypend en lewensveranderend. Die gelowige wat die waarhede van God se soewereiniteit en uitverkiesende genade omhels en hom voorneem om die implikasies daarvan uit te leef, sal nooit weer dieselfde wees nie. Die gemeente waarvan dit wáár is, verander totaal en wonderlik ten goede.[12]

2.         Dit bring 'n diep dankbaarheid en blydskap in die Here. Anders as wat baie meen, gaan diep emosies met hierdie waarhede gepaard. Maar dis nie emosies sondermeer nie; dis veranker in die waarheid, en het gevolglik inhoud. Baie, as hulle aan Fil 4:4 dink, dink bloot aan blydskap sonder meer – maar dis blydskap "in die Here".

3.         Dit bring 'n diep nederigheid voor die Here. Paulus se woorde in 1Kor 4:7 is 'n deurleefde werklikheid: "Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?"

 

4.         Dit bring 'n diep geloofsekerheid en vrymoedigheid voor die Here. Dis gewortel in verse soos Luk 12:32: "Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee." As in gebed tot die genadetroon gegaan word, leef Joh 10:27-30, Rom 8:28-39 en talle ander beloftes diep in die hart.

5.         Dit bring 'n lewenstabiliteit, 'n innerlike gevestigdheid, en 'n oortuigingsvastigheid wat kosbaarder is as al die goud in die wêreld. Mense in wie se harte hierdie waarhede leef, verstaan die wêreld om hulle, en kan een en elkeen vierkantig in die oë kyk. Hulle weet wat hulle glo, hulle is veranker, hulle word nie sommer omgestoot nie, hulle word nie deur elke golf van lering geskud nie – en hulle maak uitstekende martelare!

6.         Dit bring 'n besondere gespierdheid in die stryd teen sonde. 1Korintiërs 6:17-20 is 'n toenemende realiteit: "Maar wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom ... Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik."

 

7.         Dit bied kosbare troos tydens beproewinge. Rom 8:28, Heb 12:4-12; 13:5b en talle ander Skrifgedeeltes stut 'n Godgesentreerde gelowige steeds onwankelbaar nadat alle menslike hulpmiddels daarmee heen is. Sal die Almagtige, wat Sy lewe vir my neergelê het, my nou laat los? 1Korintiërs 10:13 staan immers swart op wit geskryf: "Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan."

8.         Dit bring ywer, koersvastheid, vasberadenheid en volharding in dienswerk mee. 1Korintiërs 15:58 word 'n werklikheid: "Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie."

9.         Dit alles bewerkstellig 'n waardigheid, 'n nugterheid, 'n volwassenheid, 'n betroubaarheid en 'n stabiliteit wat respek in die samelewing afdwing, en sodoende die Here se naam verheerlik, Sy evangelie versier, en agting vir Sy gemeente vestig.

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt – Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           Ware Calvinisme verwaarloos nie menslike verantwoordelikheid nie; inteendeel. Baie onkundige mense, in hulle weerstand teen Bybelse uitverkiesing, baklei teen 'n karikatuur van Calvinisme, oftewel die strooipop van hiper-Calvinisme.
            Hoewel hierdie studie nie enige "isme" wil verdedig nie, het ek min twyfel dat Calvyn (en natuurlik tallose mense voor en na hom) hartlik eens sou wees met die inhoud hiervan.

[2]           Geen illustrasie gee ooit 'n volledige verduideliking nie. Moet dus nie te veel hierin lees nie.

[3]           Die woord wat ons in sowel die Ou Testament as die Nuwe Testament vertaal met "Gees" (Hb. ruach; Gr. pneuma), beteken oorspronklik wind of asem.

[4]           F.F. Bruce, Commentary on the Book of the Acts, New London Commentaries, Marshall, Morgan & Scott, 1977, p.283.

[5]           "Om te ken" dui in die Bybel ten diepste op liefhê, eerder as op verstandelike kennis. [Gen 4:1: "die mens het sy vrou, Eva, bekén"]. Ander gedeeltes waarin dit duidelik blyk, is o.m. Eks 2:25; Amos 3:2; Jer 1:5; Matt 7:22-23 (Jesus sê nie Hy het nie van hulle geweet nie; Hy het juis te veel van hulle geweet!); 1Kor 8:3; 2Tim 2:19. Vgl. Joh 17:3.
            Die bepaalde begrip, "vooraf ken", word op vyf plekke in die Nuwe Testament met God as subjek gebruik: Hand 2:23 en 1Pet 1:20 (Christus as objek); Rom 11:2 (Jode as objek); Rom 8:29; 1Pet 1:2 (uitverkorenes as objek). Duidelik beteken dit meer as om bloot vooraf van iets of iemand kennis te dra; dit dui op vooraf liefhê – op verkiesing.

[6]        Sou iets met iemand gebeur wat strydig is met sy wil, omdat hy 'n slagoffer is van kragte wat groter is as hyself, is hy uiteraard nie aanspreeklik nie.

[7]        Die omgekeerde waarheid geld natuurlik ook: 'n Wedergebore mens se lewe móét deur geregtigheid gekenmerk word; hy kán nie in sonde volhard nie (1Joh 2:29; 3:9, OAV). 'n Nuwe lewensbeginsel, 'God se saad', is in hom ingeplant. Hy het 'n nuwe hart ontvang - met God se wet daarop gegraveer (Jer 31:33; Eseg 36:26).

[8]        Wat beteken "trek"? Dis 'n baie sterker begrip as lok. Dit beteken om 'n voorwerp van punt A na punt B te verskuif. Daarom word dit dikwels met "sleep" vertaal (vgl. Jh 12:32; 18:10; 21:6,11; Hd 16:19; 21:30; Jk 2:6. Dis ál die plekke waar dit in die Nuwe Testament voorkom).

[9]        Soos die begrippe hier gedefinieer word, mag dit verskil van hedendaagse woordeboeke. Dis omdat woordeboeke begrippe omskryf volgens omgangstaal. Hier word dit egter in die klassieke en tegniese sin gebruik.

[10]       Nie te verwar met gesonde en Bybelse "Calvinisme" nie.

[11]       Onlangs het 'n goed-ingeligte Britse vriend my meegedeel dat talle sulke hiper-calvinistiese gemeentetjies in Engeland minder as 10 lidmate oor het.

[12]       Ek kan persoonlik hiervan getuig. En die gemeente waarvan ek deel is, sê male sonder tal vir mekaar dat hulle die Here ewig dankbaar is dat Hy hierdie waarhede op die tafels van hulle harte geskryf het.