Preekopname: https://tinyurl.com/4f9j2ned
In hierdie verse stuur Paulus groete aan 'n stuk of twee dosyn broers en susters. In die meeste gevalle voeg hy ook 'n waarderende opmerking by. Kennelik het hy sy broers en susters in die Here lief. Duidelik is hy ook deeglik bewus van die verskeidenheid gawes en persoonlikhede in die gemeente. En les bes weet hy dat niemand meer- of minderwaardig is in die liggaam van Christus nie. Hulle waardigheid is volledig in Christus.
Hierdie eenheid, ten spyte van enige verskeidenheid, beleef mens op 'n merkwaardige wyse in elke ware gemeente van Christus. Maak nie saak waar of wanneer nie, ware gelowiges raak eenvoudig gou-gou verknog aan mekaar.
Maar dit geld nie net in die plaaslike gemeente nie. Anders as hierdie wêreld se groot godsdienste, wat almal tot 'n mate kultuur- en streekgebonde is, bestaan die kerk van die Here uit mense van elke nasie, stam, volk en taal – en geslag. Tog ervaar jy 'n onmiskenbare eenheidsband as jy kontak maak met Christene van ander kulture.
Verskeidenheid in die kerk in Rome
Rasseverskeidenheid
# In hierdie gemeente het Jood en nie-Jood saam aanbid. Ons weet dat Akwila, en dalk ook Priscilla, Joodse Christene was (3). Dan praat Paulus ook van Andronikus en Junias as stamgenote (7), asook van Herodion (11). En na alle waarskynlikheid was meer as een van die res ook Jode.
Uiteraard was die meerderheid in die gemeente sekerlik Romeine, of Grieke, of mense uit ander nasies.
Watter taal het hulle gepraat? Gewis het die Jode soms Aramees met mekaar gepraat. En daar is seker dikwels Latyn gepraat. Maar die lingua franca van die Romeinse Ryk was Grieks – die taal waarin Paulus hier skryf. Almal het dit tot 'n mindere of meerdere mate verstaan.
Op die dag van die Here moes dit daar seker soos die toring van Babel geklink het!
Statusverskeidenheid
# Ampliatus (8), Urbanus (9), Hermes (14), Filologus en Julias (15) was algemene name in die slawegemeenskap. Bes moontlik was, in elk geval party van hulle slawe.
# In v.10b en 11b word die groete gekoppel aan twee name. Die Grieks lees in beide gevalle bloot: "Groet hulle van die van Aristobulus" (10); of "van die van Narsissus" (11). Dit sou een van minstens drie moontlikhede beteken (destyds was die twee uiteraard bekend).
Óf groete word gestuur aan die slawe in die twee mans se huishoudings. Aristobulus was dalk die vooraanstaande kleinseun van Herodus en 'n vriend van Keiser Claudius (41-54 nC). En Narsissus was dalk die bekende, ryk en invloedryke man wat baie inspraak in dieselfde keiser se lewe gehad het.
Óf dit sou kon beteken dat groete gestuur word aan twee huisgemeentes waarvan die twee manne die voorgangers was.
Óf dit sou bloot na twee huishoudings of gesinne kon verwys.
# Miskien moet ons hier ook die interessante geval van Rufus (13) noem. Dalk was hy die seun van Simon van Sirene, die man wat die Here Jesus se kruis help dra het na Golgota toe (Mark 15:21).
Markus, wie se evangelie of ín, of vír Rome geskryf is, is die enigste evangelis wat noem dat Simon twee seuns gehad het, Aleksander en Rufus. Hy doen dit só dat dit duidelik is dat hierdie twee seuns bekend was onder die Christene. Markus praat nie soseer van Símon se seuns nie, maar hy bied Simon aan as niemand minder nie as spesifiek húlle pa.
Paulus het hierdie gesin duidelik goed geken. Hy noem Rufus se ma ook sý ma.
Geslagsverskeidenheid
# Wat sommige van die name betref, is dit onseker of dit dié van mans of vrouens was.
Bes moontlik was minstens agt van die vier-en-twintig mense wat Paulus in v.5-16 noem, vrouens. Kennelik het die apostel 'n hoë dunk van al hierdie susters gehad.
Vier van hulle word uitgesonder as harde werkers vir die Here – Maria (7), Trifena, Trifosa en Persis (12). Elke keer gebruik hy 'n sterk werkwoord (Gr. kopiaō) wat dui op moeilike, inspannende arbeid. Presies wat die aard van hulle dienswerk was, weet ons nie.
Kennelik was Paulus nie die manlike chauvinis waarvoor hy soms uitgekryt word nie!
# Andronikus en Junias (7) was waarskynlik 'n egpaar. Oor hulle sê Paulus 4 dinge.
Een, hulle was volksgenote, dus Jode.
Twee, hulle was op 'n stadium saam met hom in die tronk, en het kennelik geweet wat dit beteken om vir jou geloof te ly. Mens kan dink hoe dit die drie saamgebind het.
Drie, hulle het al voor hom Christene geword.
Vier, hulle was hoog aangeskrewe by die apostels. Dit kan ook vertaal word: "wat in aansien is onder die apostels".
Óf dit kan beteken dat hulle hoog geag is deur die apostels.
Óf dit kan beteken dat hulle van die mees gerespekteerde sendelinge was. Die betrokke woord (Gr. apostolos), wat meestal in die Nuwe Testament die tegniese betekenis het van 'n Apostel van die Here Jesus, kan gewoon ook dui op iemand wat as sendeling uitgestuur is om die evangelie aan die onbereiktes te gaan verkondig (of om 'n ander taak te verrig). So was Epafroditus 'n apostolos van die gemeente in Filippi (Fil 2:25).
Die eenheid van die kerk in Rome
# In hierdie verse is daar verskeie aanduidings dat die Christene in Rome se eenheid bo hulle verskeidenheid uitgestyg het. In hierdie kosmopolitiese hoofstad van die Romeinse Ryk was Paulus se uitspraak in Gal 3:28 waarskynlik meer van toepassing as op baie ander plekke: "Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één."
# In v.1-16 beskryf Paulus sy vriende 4 maal as "in Christus" (3,7,9,10; OAV); en 5 keer as "in die Here" (8,11,12,12,13; OAV). Hierdie uitdrukking het vir die apostel in die hart gelê van wat dit beteken om gered te wees. As sodanig kan hy geen sterker woorde gebruik om aan te toon dat hy die Christene in Rome as medegelowiges aanvaar nie.
Daarbenewens het ons hier die fundamentele beginsel van Christelike eenheid. Die ononderhandelbare voorvereiste daarvoor is dat die betrokke mense deur 'n ware geloof met Christus verenig sal wees. As mense nie in Christus is nie, kan hulle oor baie dinge roerend eens wees – maar dis nie Christelike eenheid nie. Maar as hulle waarlik in Christus is, sal hulle, verskille ten spyt, 'n onmiskenbare aangetrokkenheid tot mekaar ervaar.
+ Twee keer gebruik Paulus die intieme gesinstaal van "broer" en "suster" (1,14). Dis 'n belydenis dat God hulle almal se Vader is, en dat daar dus geen statusverskil tussen hulle is nie.
Voorts val dit op dat hy nie skaam is nie om die Christene in Rome "geliefdes" te noem (5,8,9,12; OAV). Dis 'n beskrywing van intimiteit, van verknogtheid, en van toewyding.
Twee keer noem hy van hulle sy "medewerkers" (3,9).
Twee keer verwys hy na diegene wat saam met hom gely het (4,7).
As daar twee dinge is wat mense se harte saambind, dan is dit hierdie twee dinge – om saam te werk, en om saam te ly, veral as dit vir die Here is.
+ Van Epenetus word gesê dat hy "die eerste bekeerling vir Christus in Asië" was (5).
Heel moontlik is hy deur Paulus self na die Here gelei. Paulus sê hy is die "eersteling" (OAV) (Gr. aparche). Dis 'n begrip vanuit die Ou Testament en dui op die eerstelinggerf van die oes wat aan die Here geoffer is.
Paulus het sy bekeerlinge as offers vir die Here gesien; nie as trofeë vir hom wat Paulus was nie. Nee! Vir die apostel was God se eer altyd voorop.
# Hoe het die eenheid van die ryklik-geskakeerde kerk in Rome prakties tot uitdrukking gekom? Ons weet uiteraard nie presies nie. Dit lyk beslis dat hulle in huisgemeentes bymekaar gekom het – in elk geval soms (5). Dit was immers die dae voor kerkgeboue.
Miskien was sommige groepe meer Joods as ander, en omgekeerd.
En dalk het sommige meer vooraanstaande lede gehad as ander, afhangende van die buurt waar hulle gewoon het.
Sulke huisgemeentes was sekerlik regoor die stad versprei – waar hulle ook al gewoon het, en waar daar plek was om bymekaar te kom. Elke huisgemeente sou gewis op sy eie tyd en manier vergader het. Elke gemeentetjie sou spontaan soos 'n kudde hulle eie herders gevolg het. Tog was daar duidelik onderlinge kontak en gemeenskap. Dis waarom Paulus net een brief stuur. Enige gemeente wat dit eerste sou kry, sou dit sekerlik weer aangestuur het na 'n volgende een toe.
En hoogs waarskynlik het hulle ook periodiek almal saam vergader – bes moontlik elke dag van die Here, maar in elk geval beslis wanneer hulle apostoliese besoek gekry het.
Die heilige soen
"Groet mekaar met 'n heilige kus" (OAV), is Paulus se slotwoorde (16).
Van die stuk of drie dosyn "mekaar"-tekste in die Nuwe Testament, is hierdie die mees algemene een (Rom 16:16; 2Kor 13:12; 1Thess 5:26; 1Pet 5:14).
Ons vind dit ook by die kerkvaders. Justinus die Martelaar skryf: "As ons klaar gebid het, groet ons mekaar met 'n heilige kus." Tertulianus noem dit "die soen van vrede".
Wat was dit? Dit was waarskynlik 'n soen op die wang of voorkop – ook tussen mense van die dieselfde geslag.
Sekerlik hoef ons dit nie slaafs na te volg nie. Dis sekerlik kultuur-bepaald. Waarom dit gaan, is 'n sigbare en tasbare uitdrukking van wedersydse waardering en liefde. En dit wissel van tydvak tot tydvak, en kultuur tot kultuur. Laat ons dus met vrymoedigheid mekaar soen, maar 'n handdruk, of 'n druk om die skouers sou ewe goed wees.
Wat sê dit vir ons?
1. Onthou mens dat Paulus, as hy hierdie brief skryf, nog nooit in Rome was nie, is dit verstommend dat hy die mense so geken het. Terwyl ons betrokkenheid uiteraard eerstens by ons eie gemeentes sal en moet wees, sit hierin vir ons 'n kosbare les: Laat ons steeds die vergesigte van die universele kerk voor oë hou, en toegewyd in ons gebede onthou.
2. Die Woord van God bevat dosyne opdragte vir ons as gemeentes, maar wat hier in Rom 16 na vore kom, moet ons altyd as van die grootste belang ag.
Die Here word wonderlik verheerlik deur ons verskeidenheid. Wys my enige groepering in die wêreld wat daarmee kan vergelyk. Dwarsdeur die ongelowige samelewing geld die beginsel: soort soek soort. Maar in die gemeente het ryk en arm, oud en jonk, geleerd en ongeleerd, wit en swart mekaar lief. En ons is grootliks onbewus van ons verskille – want dit maak nie saak nie. Immers is Jesus Christus in die middelpunt van ons aandag. Waarlik, net die Here kan so 'n eenheid ten spyte van verskeidenheid bewerkstellig!
3. Laat die geleerdes onder ons dus soos kinders wees in die geloof, en die ongeleerdes verstandig in die waarheid van die Here.
Laat die rykes nie te veel hê nie – omdat hulle uitnemend ryk is in uitdeling. En laat die armes gevolglik nie te min hê nie.
Laat diegene wat ryp is in die weë van die Here verstaan dat godsvrug uitnemend tot uitdrukking kom in diensbaarheid, in voetewas. En laat die onervare dissipels weet dat selfs húlle die gedagtes van die Here ken (1Kor 2:16).
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev