PDF WEERGAWE

Video-opname:          https://tinyurl.com/3undtnfn

 

 

Nog ter sake? [1]

 

Is die Tien Gebooie nog werklik van groot belang vir 'n Nuwe Testamentiese Christen? Is dit nog werklik relevant vir ons? [2]

            Miljoene Christene sal sonder om te huiwer "Nee" antwoord – miskien  nuttig, ja, maar nie absoluut nie.

            Net so baie ander het nog nooit daaroor gedink nie, en die vraag sal hulle onverhoeds betrap.

            En dan is daar natuurlik ook baie wat met sekerheid "Ja" sal antwoord.

            Daar is rede vir hierdie verwarring. Hoewel waarskynlik baie min van die betrokke mense dit sal besef – en daarom behoorlik kan begrond en motiveer – het dit te doen met hoe mens die Bybel in sy geheel lees, verstaan en vertolk. En in 'n baie besondere sin het dit te doen met die verhouding tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament.

#          Vir die meeste Christene van ons dag het die vraag na die Tien Gebooie se relevansie maar min te doen met hulle Christenskap. Die hogere teologie, redeneer hulle, is nie vir hulle van belang nie. Solank mens net gered is! Mens hoef net kinderlik te glo!

            Maar hulle maak 'n fout. Suiwer en regsinnige Bybelwaarheid, het alles te doen met ewige redding – en selfs indien nie, het dit alles te doen met die Drie-enige God se eer en verheerliking.

            En dít is volgens die Woord waaroor alles, van A tot by Z, uiteindelik gaan.

            Sonder twyfel is hierdie saak – die relevansie van die Tien Gebooie – vir elke Christen wat ernstig is oor sy Christenskap en lewensroeping van die allergrootste belang. En daaroor moet ons nou besin.

#          Ook in die tyd van ons Here Jesus hier op aarde was hierdie kwessie 'n brandende aangeleentheid. Dit het aan die hart gelê van die verskil tussen Hom en die Joodse leiers.

            Die Skrifgedeelte hierbo, dink ek, is die Nuwe Testamentiese locus classicus wat hierdie kwessie betref.[3]

Die plasing en struktuur van Matt 5:17-20

#          Hierdie verse is deel van die bekende Bergrede.

            Ons sou kon sê dat die Bergrede aan die hart lê van die Here Jesus se lering oor hoe 'n begenadigde moet lewe in hierdie wêreld. Dít is hoe 'n Christen se waardes, geloof en oortuiginge uitgeleef moet word.

            Hier het ons die hart van Christelike etiek.

#          Die plasing van hierdie verse is betekenisvol.

            In die voorafgaande lering laat die Here die soeklig op 'n Christen se karakter val (v.3-12), en dan die uitlewing daarvan op die wêreld om ons (v.13-16).

            In v.20 vat Hy hierdie lewenswyse saam in 'n enkele woord: "geregtigheid" (vgl. ook v.6, 10). En hier verduidelik Hy dan dat dit niks anders is nie as 'n uitlewing van die morele wet (die Tien Gebooie). Uiteraard sluit dit die verdere uitbreidings en implikasie daarvan in, soos dwarsdeur die Ou en Nuwe Testamente ontwikkel.

            Dit blyk o.m. uit Sy gebruik van die uitdrukking "die Wet en die Profete" in v.17.

            Dat die Here inderdaad die morele wet in gedagte het, blyk onmiskenbaar duidelik uit sy toepassings in v.21-48.

#          In die voorafgaande verse het Hy eers in die derde persoon gepraat (Gelukkig is díégene wat ...). Toe het hy sy dissipels in die tweede persoon aangespreek (Júlle is ...). Maar nóú skakel Hy oor na die gewigtige en gesagvolle, "Amen, Ék sê vir julle ...". [4]

            Daarmee sê Hy vir sy hoorders, luister goed, dis gesagvol en lewensbelangrik – dit het ewigheidsimplikasies!

#          Onontkombaar duidelik bevestig die Here Jesus met sy hele gesag hier die voortgaande geldigheid van die Tien Gebooie!

Hier slaan die Hy reg aan die begin van sy bediening

'n fundamentele hoekpen in.

Geen Christen durf dit miskyk nie!

#          Verse v.17-20 verdeel in twee gedeeltes: Verse 17-18 – Christus en die Wet. En verse 19-20 – die Christen en die Wet.

 

Verse 17-18: Christus en die Wet

#          Aan die begin van sy prediking het die Here Jesus verrassende en vars nuwe klanke laat hoor. Sekerlik sou die mense vra, stel Hy Homself nou téénoor dit wat die Ou Testament hulle tot nou toe geleer het? Bring Hy 'n nuwe moraliteit – 'n nuwe orde? Wil Hy hulle leerdat hulle godsdienstig tot nou toe dit mis gehad het?

            Daar was inderdaad destyds mense wat so gedink het. Het Jesus nie reg van die begin af met die Fariseërs en skrifgeleerdes gebots nie – hulle, die volk se godsdiensleiers en -leraars, wat daarin geroem het dat hulle puntenerige onderhouers van die Wet is.

            Voeg daarby dat Jesus allerlei vryhede vir sy dissipels toegelaat het op die Sabbat, soos om koring te pluk vir eet. En self het Hy siekes op die hierdie heilige dag genees.

            Daarom is dit geen wonder nie dat mense gedink het Hy stel sy gesag teenoor díé van Moses – dat Hy die Wet wou afskaf. Daarom die vraag, wie het nou die hoogste gesag, Moses of Jesus?

            Maar die Here help hulle dadelik reg: "Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie" Nee, nee! Hy het gekom om dit te "vervul" (v.17).

#          Die apostel Paulus het presies dieselfde geleer.

            'n Uitsopraak van hom wat dikwels verkeerd verstaan word, is Rom 10:4. Die OAV stel dit só: "Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo."

            Dit beteken níé dat die Wet nou nie meer geldig is nie – dit kán tog nie – en dat Christene vry is daarvan. Nee, die teendeel word bedoel (Rom 8:4).

            Die apostel wil sê dat gebodsonderhouding nie die basis vir aanvaarding deur God is nie, soos so baie (reeds in die Ou Testament) dink nie, maar dat die verdienste van Christus en geloof in Hom die sleutel tot redding is. Die Wet en die Profete self getuig dit immers (Rom 3:21). Christus het die Wet volmaak vervul, en só die geregtigheid daargestel wat toegereken (gekrediteer) word aan elkeen wat slegs en algeheel deur die geloof in Hom skuil.

#          Kan die Here Jesus bogenoemde vertolking duideliker stel as in v.18?: "Amen" (dus gewis en seker!), solank daar 'n hemel en 'n aarde is, "sal daar beslis geen jota of tittel van die Wet tot niet gaan nie, totdat alles vervul is."

 

Verse 19-20: Die Christen en die Wet

#          Die "dus" in v.19 wil sê dat die Here nou voortgaan om die implikasies van dit wat Hy pas gesê het, uit te spel: "Wie dus een van die geringste van hierdie gebooie afskaf en die mense so leer, sal die geringste in die koninkryk van die hemele genoem word. Maar wie dit onderhou en ander daarin onderrig, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele."

Grootheid en geringheid in die koninkryk van die hemele sal bepaal word

deur 'n mens se oortuigings, lering en handhawing van die Wet

in sy fynste besonderhede, omvang en implikasies.

Let op, dit gaan nie nét oor jóú standpunt nie; ook wat jy ándere leer – wat gewis jou kinders insluit. Hierdie is 'n skrikwekkende uitspraak van die Here Jesus!

Grootheid in die koninkryk word bepaal

deur gehoorsaamheid en getrouheid aan

én onderwysing in die morele wet van God

— al die beginsels en implikasies daarvan.

 

#          Maar die Here Jesus gaan verder. Nie nét gaan dit oor status in die koninkryk nie, dit gaan inderdaad oor ingang in die koninkryk (v.20)!

            En, let op, die geregtigheid waarvan Jesus praat, moet "aansienlik meer" (v.20) wees as díé van die skrifgeleerdes en Fariseërs (die 2020 vat die Grieks korrek vas).

            Waarom? God se koninkryk is 'n koninkryk van geregtigheid!

#          Hoe op aarde kán dit? Wie kán dan gered word?

            Die Joodse godsdienstiges was immers by uitnemendheid bekend vir hulle puntenerige geregtigheid. Dink net, só toegewyd het hulle met die wet omgegaan, dat hulle bereken het dat dit 248 gebooie behels het, en 365 verbiedinge ("verbooie!). En met die mees denkbare toewyding het hulle gepoog om dit te handhaaf.

#          Maar die Here Jesus verstaan Christelike geregtigheid anders as die Joodse godsdienstiges van sy dag.

Dit gaan oor die aard van die geregtigheid; nie bloot oor die graad daarvan nie!

Christelike geregtigheid is nie méér nie; dis díéper;

dis innerlik; nie net uiterlik en formeel nie;

dis nie bloot seremoniëel en liturgies nie;

dis 'n geregtigheid van gesindheid, oortuiging, motief, begeerte en uitlewing.

Dis 'n hartsgesteldheid,

'n oriëntasie, 'n gerigtheid, 'n opregtheid, 'n verlustiging, 'n hartstog.

#          Hier presies het ons een van die redes waarom dit noodsááklik is om herskep te word voordat jy die koninkryk kan ingaan. Mens moet 'n tweede keer, wéér 'n keer – dus opnuut – gebore word (Joh 3:3, 5).

Die res van Matteus 5

#          Nou gee die Here 'n hele klomp voorbeelde van hóé hierdie dieper geregtigheid tot uitdrukking kom. In die proses spreek Hy enkele gebooie van God se Wet aan.

            Elke paragraaf begin só: "Julle het gehoor ... dat gesê is ... Máár Ek sê vir julle ...".

            +          Verse 21-26 – die Sesde Gebod.

            +          Verse 27-30 – die Sewende Gebod

            +          Verse 31-32 – die Sewende Gebod.

            +          Verse 33-37 – die Derde en Negende Gebooie.

            +          Verse 38-42 – die Tweede Tafel van die Tien Gebooie

            +          Verse 43-48 – die Tweede Tafel van die Tien Gebooie.

#          Duidelik stel die Here homself en sy lering teenoor díé van die Joodse leiers.

Hy spreek Homself nie uit teen die Wet nie,

maar teen verdraaiings en blote veruiterlikings daarvan.

Néé! beswaarlik kan Hy die Wet stérker beklemtoon en onderskryf.

Máár dan móét dit rég vertolk en toegepas word!

'n Paar verdere perspektiewe om raak te sien

1.         Die Here Jesus se verhouding met die Wet was radikaal anders as die van die Jode.

Hy het gekom om dit te "vervul" (5:17); die Jode wou dit gehoorsaam. Hý het volkome daarin geslaag; die Jode het keer op keer misluk.

            Hoe moet ons sy vervulling verstaan?

            Hý was in elke opsig volmaak gehoorsaam aan die Vader. En hierdie gehoorsaamheid, oftewel geregtigheid, het sodoende beskikbaar geword om toegereken te word aan almal wat deur 'n ware geloof met Hom verenig is. As Verbondshoof het Hy nie net namens Homself voor die Vader geleef nie, maar óók namens almal wat met Hom deur die geloof verenig is – ware gelowiges in die Ou Testament, asook almal wat in die eeue wat sou volg in Hom sou glo.

            Die Joodse leiers het helaas geweier om in Hom te glo, en was dus op hulleself aangewese om geregtigheid voor die Vader te probeer bereik. Helaas tevergeefs!

2.         Die Joodse verdraaings van die Gebooie was dikwels baie subtiel.

As die Here die Jode se godsdienstige voorskrifte aanhaal, klink dit met die eerste aanhoor of elkeen van sy ses voorbeelde akkuraat uit die Mosaīese wetgewing kom.

            Kom mens egter by die sesde een, besef jy daar is 'n slang in die gras: "Julle het gehoor dat gesê is, 'Jy moet jou naaste liefhê,' en 'Jou vyand moet jy haat'. ..." (v.43).

            Die eerste helfte is akkuraat (Lev 19:18). Maar die tweede helfte staan nêrens geskryf nie. Dis 'n verdraaing; trouens dis die teendeel van ons opdrag om selfs ons vyande lief te hê.

            Kyk mens nou versigtig na die ander vyf teenstellings wat Jesus aansny, sien jy dat soortgelyke verdraaiings of vervlakkings ten minste geïmpliseer word.

            Dis hierdie verdraaiings en vervlakkings wat die Here verwerp, nie die Wet self nie.

3.         Die Jode het hulle voorskrifte gebasseer op menslike uitsprake en tradisies; nie op God se geïnspireerde en gesagvolle Woord nie.

Hierdie mistasting sien mens duideliker as jy die Griekse teks lees.

            Die Here begin, elke keer as Hy verwys na die Jode se voorskrifte, min of meer só, "Julle het gehoor dat gesê is ...". Hy gebruik dan 'n bepaalde Griekse woord ("errethē"): dit is gesê. En die werkwoordstyd is 'n gewone verlede tyd – dit het eens gebeur (Gr. Aoristus).

            As Hy egter die Skrif aanhaal, is sowel die woord, as die vorm wat Hy gebruik anders. Hy gebruik die woord, "gegraptai": dit is geskryf (Gr. Perfektum). Die Griekse werkwoordstyd beklemtoon dat weliswaar in die verlede plaasgevind het, maar dat dit steeds geldig bly. Dit staan steeds geskryf.

            Dit is nie bloot deur mense gesê nie, dis gesagvol deur God self as blywend gesagvol neergeskryf – permanent op kliptafels, lees ons in die Ou Testament.

            Teenoor menslike tradisie (komende van die "voorouers"), stel die Here Jesus dus God self se onuitwisbare en gesagvolle Woord.

4.         Anders as die Joodse geleerdes wie se morele leringe grootliks formalisties was, het die Here Jesus die Tien Gebooie uitgeleef.

In net die vorige hoofstuk lees ons hoe Jesus deur Satan versoek is. Dan is dit betekenisvol dat Hy elke keer die duiwel antwoord met 'n gepaste aanhaling uit die Ou Testament: "Daar staan geskryf ..." (Gr. "gegraptai", soos hierbo). Daar was en is steeds nie te redeneer oor nie!

            Hierdie nederige onderwerping aan die gesag van die geskrewe Woord (die Ou Testament, reg vertolk), het deurgaans, konsekwent en lewenslank die mensgeworde Woord se lewe gekenmerk. Dit het nie net vir sy lewenswyse gegeld nie, ook sy vir sy prediking en sending.

5.         Anders as die Jode, wat die Wet se eise ingeperk het en die toelatings uitgebrei het, het die Here die volle implikasies daarvan reggestel.

So byvoorbeeld het die Jode die Sesde en Sewende gebooie beperk tot moord en egbreek.

Maar die Here brei dit uit na woede, verwensinge, beledigings, en die wellustige kyk; ens.

Calvyn was reg

Jesus was nie 'n nuwe wetgewer nie

Hy was bloot ons betroubare vertolker van die Wet

Slot

Soos só dikwels die geval in die Christelike geloof, loop ons in ons gehoorsaamheid aan die Wet op 'n spankoord. Mens kan na weerskante toe aftuimel – noodlottig.

            +          Aan die een kant is daar wetteloosheid, wat redeneer dat, aangesien Christus alles gedoen het, 'n heilige lewe nie meer noodsaaklik is nie en kan mens gevolglik moreel maar slordig, selfs roekeloos lewe.

            Maar, die Woord sê, "Streef na ... die heilgmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie" (Heb 12:14).

            +          Aan die ander kant is daar wettisisme, wat allerlei vorms van menslike gedrag of onthouding bý die verdienste van Christus wil voeg as noodsaaklik vir redding.

            Vir die Galasiërs – wat onder invloed van Judaïste die besnydenis as 'n noodsaaklike vereiste vir redding wou byvoeg – skryf die apostel: "As julle julle laat besny, sal Christus vir julle waardeloos wees ....julle is van Christus afgesny – julle het die genade verbeur" (Gal 5:2-6; 1:6-10; Hand 15:1 en volgende).

Tensý die Skrif iets uitdruklik of per duidelike implikasie beveel of verbied,

geniet 'n gelowige vryheid.

Máár

laat ons bogenoemde twee noodlottige afgronde ten alle koste vermy.

Sonder heiligmaking sal niemand die Here sien nie!

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           Ek begin hierdie reeks doelbewus met hierdie uitspraak van die Here Jesus ten einde dit reg aan die begin vas te maak dat die 10 Gebooie inderdaad ook vir Christene van kardinale belang is.

[2]           Ons praat spesifiek van die Morele Wet, nie die Seremoniële of die Burgerlike Wette nie.

[3]           Vir die skryf van hierdie studie het ek baie geput uit John Stott: The Message of the Sermon on the Mount; IVP, 1978.

[4]           Ek werk met die 2020 Vertaling. Sou ek uit 'n ander vertaling aanhaal, sal dit gespesifiseer word.