Bybelskoollesings:[1] 1. https://tinyurl.com/4j26eu72
2. https://tinyurl.com/y2bb3xcw
Eks 20:3
"Jy mag naas My nie ander gode hê nie."
Hierdie eerste van die tien gebooie handel oor die Wié van ons aanbidding. Dis inderdaad die fondament van alle godsdiens en godsvrug. Gehoorsaamheid daaraan bepaal mens se hele lewe. As hierdie gebod jou sentrale hartserns is, sal elkeen van die volgende nege gebooie ook vir jou van die allergrootste belang wees. Omgekeerd, tot die mate wat hierdie gebod 'n mindere rol in jou lewe speel, tot daardie mate sal jy traak-my-nie-agtig wees oor die ander.
Enkele eksegetiese opmerkings
# Letterlik staan daar: "Daar sal nie vir jou ander gode voor My gesig wees nie."
+ Hierdie antropomorfisme – "voor My gesig" – is 'n menslike manier om oor God te praat. Sulke segswyses kom dikwels in die Ou Testament voor. Hierdie spesifieke uitdrukking dui op God se teenwoordigheid (nie bloot Sy alwetenheid nie). En aangesien Hy alomteenwoordig is, geld hierdie gebod oral en altyd, sonder uitsondering.
+ Hierdie uitdrukking wil ons dus herinner dat 'n groot deel van die gruwel van sonde daarin lê dat dit altyd in God se teenwoordigheid gepleeg word. So beskou, sit daar dus altyd in sonde iets arrogants, iets uitdagends, iets beledigends.
+ "Jy" is manlik enkelvoud (soos ook in die ander 9 gebooie). Dit word dus gerig tot elke individu, wat uiteraard ook vrouens insluit.
+ Vers 3 begin met die Hebreeuse woordjie, "lo", wat die verbod sterk beklemtoon. Daar is geen ruimte hoegenaamd vir ongehoorsaamheid nie. Daar kan geen twyfel wees nie: God dring kompromieloos aan op enkelhartige verering, oral en altyd.
Negatief: Wat die eerste gebod verbied
# Die antwoord kan in 'n enkele woord saamgevat word: Afgodery!
As gevra word hoe die Bybel afgodery beskou, ontstaan 'n probleem onmiddellik.
+ Die Bybel praat van baie gode.
Daar is die Egiptiese afgode waarvandaan die Israeliete kom; daar is die Baäls van Kanaan waarheen hulle op pad is (Rig 2:11; 3:7; 8:33). En as Salomo eeue later in afgodery verval, dien hy Astarte, godin van die Sidoniërs en Milkom van die Ammoniete, Kemos van die Moabiete en Molek van die Ammoniete (1Kon 11:4-8).
Die Eerste Gebod verbied verering van hierdie, en alle ander gode.
+ Beteken dit Bybelse erkenning dat sulke gode wel bestaan? Hoewel God verklaar dat die hele aarde aan Hom behoort (Eks 19:5), sou dit impliseer dat Hy nie in volle beheer is nie, aangesien sekere areas deur hierdie gode geregeer word?
Dit kan tog nie!
Die Bybel ontken kategories die bestaan van ander gode naas God.
Hoewel mense hulle gode noem, is hulle in werklikheid net mensgemaak. Hulle is van hout en klip; hulle kan nie sien, hoor, eet of ruik nie (Deut 4:28). Elia en Jesaja spot met hierdie afgode (1Kon 18:27; Jes 40:18-20; 45:20). Hulle beteken niks nie, en is spoedig iets van die verlede (Jes 2:8, 18, 20).
Beteken dit dus dat die Eerste Gebod teen 'n denkbeeldige gevaar waarsku? Allermins! Die Skrif is vol waarskuwings teen afgodery. Selfs 'n Nuwe Testamentiese brief word afgesluit met 'n finale vermaning teen afgodery (1Joh 5:21).
+ Hoe kry mens die kloutjie by die oor? Waarom waarsku die Skrif teen iets wat nie werklik bestaan nie – teen dinge wat nie regtig gode is nie; net sógenaamde gode (1Kor 8:4-7)?
Die antwoord lê in die feit dat mense nog altyd geneig was om te máák asof goed binne die skepping gode is. Omdat hy die ware God nie ken nie, maak die mens gode van dit wat hy kan waarneem – in die besonder van kragte buite sy beheer of groter as hy self.
Mense maak afgode van omtrent enigiets, en dit kom op talle maniere tot uitdrukking: aanbidding van sintuiglik waarneembare voorwerpe; 'n beheptheid met die erotiese, of plesier; 'n sug na mag en besittings; 'n verering van die natuur, of menslike rede; of tradisie; of 'n verabsolutering van die volk – en 'n duisend ander dinge.
+ Die merkwaardige is dat hierdie afgode, hoewel in 'n sin denkbeeldig, 'n verbysterende houvas op mense kan hê. Waarin lê dit? Dit lê in 2 waarhede:
= Dit lê in iets in die mens self – sy vrees vir sy afgod, of sy verknogtheid daaraan, of sy gewaande afhanklikheid daarvan.
= Dit lê in die realiteit van Satan en sy gevalle engele wat hierdie kragte misbruik om God te probeer onteer, en om mense te vernietig (Dan 10:20—21; 1Kor 10:21).
# Omdat God alle lojaliteit, toewyding en vertroue opeis, is alle godsdienstige vermenging vir Hom verwerplik.
= Matt 6:24: "Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie."
+ Is daar dus ander gode naas God? Die antwoord is ja en nee.
Baäl, Astarte, Kemos en Molek bestaan weliswaar nie meer nie. Zeus, Neptunus, Osiris en Isis is iets van die verlede. Maar die groot wêreldgodsdienste is so springlewendig soos altyd.
En iets nader aan lyf, almal van ons moet, selfs as Christen-gelowiges aanmekaar stoei met selfvertroue, hebsug, brassery en soortgelyke dinge.
Dis een ding om soos Elia en Jesaja met afgode te spot;
dis iets anders om afgodery ligtelik op te neem!
En hulle beide het dit geweet (1Kon 16:33;17:1; Jes 66:3-4).
# Opgesom: Die Eerste Gebod verbied ons om – selfs net gedeeltelik – op enige persoon of ding daardie hartslojaliteit, liefdesverering en afhanklikheid te plaas wat die ware en lewende God alleen toekom.
+ Die Heidelbergse Kategismus omskryf afgodery só: "Afgodery is om in die plek van die enige ware God wat Hom in Sy Woord geopenbaar het, of naas Hom, iets anders te versin of te hê waarop die mens sy vertroue stel." (Ef 5:5; 1Kron 16:26; Fil 3:19; Gal 4:8; Ef 2:12; 1Joh 2:23; 2Joh 9; Joh 5:23).
# Oortredinge teen die Eerste Gebod manifesteer in ons dag op talle wyses.
+ Ateïsme.
Dit kan tweërlei tot uitdrukking kom.
Teoretiese ateïsme in 'n verskeidenheid filosofiese strominge. Die mees bekende hiervan is waarskynlik Darwinistiese Ewolusionisme.
Praktiese ateïsme, wat tot uitdrukking kom in die ignorering of verwerping van God en Sy Woord, om watter rede ook al.
+ Valse godsdienste en sinkretisme (godsdiensvermenging).
+ Okkultiese praktyke.
Dit kom van die vroegste tye af voor, en word weer en weer skerp in die Bybel veroordeel (vgl. ondermeer Deut 18:9-14).
Hierdie praktyke kan in 3 groot kategorieë verdeel word:
Spiritisme (pogings om met afgestorwenes kontak te maak).
Fortuinvertellery of waarsêery (pogings om die toekoms te voorspel);
Heksery of towery (pogings om allerlei bonatuurlike effekte te bewerkstellig).
Deurgaans is hierdie oortredinge op die gebied van God se soewereine prerogatiewe en as sodanig buite perke vir die mens. Die waarsêer gee voor dat hy iets van God se alwetenheid het; en die towenaar dat hy iets van God se almag het.
+ Bygelowigheid.
Dit veronderstel en verwag bonatuurlike kragte van natuurlike dinge.
+ Wêreldgelykvormigheid.
Dit vind plaas wanneer die ontsag, vertroue, toewyding en lojaliteit wat God alleen toekom, tot 'n mindere of meerdere mate ook op die binne-wêreldse gerig word.
Voorbeelde hiervan kan vermenigvuldig word.
Mensverheerliking. Sport, film, pop en politieke helde sou tipies wees. En as dít 'n gruwel voor die Here is, is dit des te erger om toe te laat dat mense jóú so vereer (vgl. Hand 12:22).
Plesier- en hebsug. Dit neem verskeie vorms aan:
Vleeslikheid en materialisme (Kol 3:5: "Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is"; vergelyk ook Job 31:24).
'n Opgaan in genot en vermaak (2Tim 3:4) en sinlikheid en brassery (Fil 3:19: "Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind.").
In sy boek, I want to be a Christian, praat J.I. Packer van "Sex, Shekels and the Stomach", van "Pleasure, Possessions and Position", van "Football, the Firm, Freemasonry and the Family" (p. 204).
+ Selfgesentreerdheid (in enkelinge en groepe).
Dit is iets alledaags in die wêreld van ons dag. Dink maar aan selfsug. Dit kom onder meer tot uitdrukking in selfbevrediging, in selfbevoordeling en selfverheffing. Dit verdring God uit die lojaliteitsmiddelpunt.
Selfvertroue is 'n onafhanklike gesindheid wat weier om uit, en onder God se hand te leef (Hab 1:11: "Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god.").
Vroeë Skrifverklaarders het die wêreldgelykvormigheid waarteen Johannes waarsku 'n drie-koppige monster genoem: die begeerlikheid van die vlees; die begeerlikheid van die oë; die grootsheid van die lewe (1Joh 2:16, OAV). Praat Johannes dalk hier van die gevalle wêreld se suigkragte om die lus na sinlike te bevredig; en van 'n beheptheid met die estetiese; en van die sug na mag?
+ "Christelik-godsdienstige" afgodery.
Rooms-Katolisme bid tot Maria. Pous Pius XII het haar "die koningin van die hemel" verklaar (ten spyte van Jer 7:18). Daarbenewens glo hulle dat die pous mag het om sondes te vergewe.
Leringe wat Satan as méér as net 'n skepsel voorhou en hom op dieselfde vlak as 'n onafhanklike opponent en anti-god teenoor God stel.
En is Pelagianisme en Arminianisme dalk 'n eerste tree na afgodery, omdat dit die soewereiniteit van God misken en die mens as 'n soewerein naas God stel.
Positief: Wat die eerste gebod gebied
# Omdat God is wie en wat Hy is – naamlik Skepper (en dus soewereine Heerser) en Herskepper (genadige Verlosser vanuit die verskrikking van die ewige dood), dring Hy aan op onverdeelde trou, gehoorsaamheid en verering.
Omdat Hy die somtotaal van skoonheid, goedheid en etiese volmaaktheid is, dring Hy aan op onverdeelde liefde – sterker, dieper, hoër en groter as enigiets anders. Niks is meer logies en sinvol as hierdie aansprake van Hom nie. Daarom duld Hy geen gewaande mededingers nie. En daarom is dit die uiterste waansinnigheid om jou teen die Eerste Gebod te verset.
# Wat is ons dus aan God verskuldig in terme van die Eerste Gebod? Ons moet Hom aanbid! En wat behels dit?
+ Ons moet dit najaag om Hom te ken – Sy karakter en Sy wil en Sy weë – soos Hy Homself in Woord en werke aan ons openbaar.
+ Ons moet Hom liefhê – deur te dors na Sy gemeenskap, deur vreugde en vergenoegdheid in Hom te vind, deur ons te beywer om Hom te behaag en te verheerlik
+ Ons moet Hom vrees – dus ontsag hê vir Sy majesteit en gesag.
+ Ons moet Hom gehoorsaam, deur volgens Sy geopenbaarde wil te leef. (Liefde is die dryfveer van gehoorsaamheid; vrees is die weerhouding van ongehoorsaamheid).
+ Ons moet Hom vertrou deur oor die volle spektrum van die lewe afhanklik van Hom te leef.
# Jos 24:14-15 is insiggewend in hierdie verband.
+ Die volk is gevestig in die beloofde land. Dis kort voor Josua se dood. Hy het verteenwoordigers van al die stamme by Sigem byeengeroep. Hy herinner hulle dan weer noukeurig hoe die Here hulle uit Egipte verlos het, en sluit dan af met 'n gewigtige oproep: "Vrees dan nou die Here en dien Hom in opregtheid en waarheid (OAV) ... kies dan vandag wie julle wil dien ... Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien." (lees ook die konteks ten einde onderstaande opmerkings te verstaan).
+ Josua baseer vanuit die konteks duidelik hierdie oproep op God se groot verlossingswerk.
+ Die keuse vír die Here is 'n radikale keuse. Hy deel Sy volk se toewyding met niks of niemand anders nie – allermins met die afgode van die heidene.
+ Verbondsvernuwing is maar weer en weer nodig. By Sinai (4 dekades vantevore) het die volk seremoniëel belowe om God volgens Sy Woord te dien (Eks 24:3). Tog het dit nie die einde van afgodery meegebring nie (Num 25:2). Hoewel die volk uit Egipte bevry is, dra hulle nog hulle sondegeneigdheid in hulle saam.
Daarom word hulle gereeld weer met 'n oproep gekonfronteer, soos hier in Josua, om die Here alleen lief te hê.
# Die Shema van Deut 6:4-5 moes daagliks in die volk se godsdiensoefening gelees word: "Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag."
# As die Here Jesus later gevra word na die grootste gebod, antwoord Hy deur die Shema aan te haal – die gebod om die Here met alles in jou lief te hê (Mattt 22:34-40). Hierdie is die Groot Profeet se neutedopkommentaar op die Eerste Gebod! En dis duidelik waarom. Om bloot te glo dat daar slegs één God is, is op sigself nie genoeg nie – die duiwels glo dit ook (Jak 2:19).
+ Wat beteken dit om die Here lief te hê?
= Sekerlik het ons liefde vir God 'n emosionele kant. Daaroor is die Skrif boordevol. Die Psalmboek is waarskynlik die beste voorbeeld.
Daarbenewens is ons liefde vir God 'n respons op Sy liefde vir ons. En hieroor praat die Bybel ook in roerende terme (vgl. ondermeer Ps 68:6; 103:13; Jes 49:15; 66:13; Hos 11:3 ens.).
= Maar liefde vir God is méér as emosie en gevoel. Liefde vir God is ook prakties, 'n manier van lewe, en dus 'n keuse – deur dik en dun. Liefde is om eenvoudig te volhard in jou toewyding aan Hom.
Bybelse liefde, Christelike liefde, word altyd in 'n verbondskonteks beoefen – of dit nou goed voel of nie.
En, daarvan kan ons seker wees, liefde word altyd tot breekpunt toe getoets.
Dis die rede waarom dit 'n bevel kan wees om lief te hê. En daarom kan ek selfs my vyande liefhê.
Liefde wys! As demonstrasie afwesig is, is jou liefde ernstig onder verdenking.
= Dis waarom die Shema vir ons kan sê: "Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet ..." (Deut 6:6).
Om God lief te hê beteken om Sy gebooie te gehoorsaam. En die Shema veronderstel dat dit oor die volle spektrum van ons lewens moet geskied – in ons huise en op pad, of jy gaan slaap en of jy opstaan.
Hierdie aspek van liefde word oor en oor in die Nuwe Testament beklemtoon (vgl. bv. Joh 14:21, 23; 1Joh 5:2—3).
= 'n Verdere, en uiters belangrike aspek van liefde vir God, is om die Here jou God lief te hê met jou hele hart, jou hele siel en al jou krag (vgl. OAV). Dit sluit alle liefdeskompromie uit. En dit impliseer betrokkenheid van die hele mens.
Van Noag word in Gen 6:9 gesê dat hy onberispelik was in sy toewyding aan God. Sommige Engelse Bybels vertaal dit met "perfect". In die Hebreeus dui die begrip op heelheid. Noag se hart was dus onverdeeld op God gerig.
In 1Kon 9:4 getuig die Here van Dawid dat hy Hom met 'n volkome hart gedien het (OAV). Hoewel hy meermale tragies misluk het, was sy hart onverdeeld op God gerig. En dis waarom hy 'n man na God se hart was.
# 'n Laaste perspektief is onmisbaar. Sommige sê dis onmoontlik om God lief te hê, aangesien jy Hom nie kan sien nie.
Maar ons kán Hom sien en verstaan – en met Hom identifiseer. Dit is een van die groot redes waarom Christus mens geword het. Dis onder meer waarom Hy ons groot en finale Profeet was. In Hom het die Godsopenbaring aan die mens gekulmineer.
Johannes skryf: "Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekendgemaak" (Joh 1:18). Dis waarom Hy kon sê: "Wie My sien, sien die Vader" (Joh 14:9). Vgl. ook Kol 1:15; Heb 1:3.
Vervulling van die Eerste Gebod is gevolglik om die drie-enige God lief te hê met jou hele hart, in die besonder dan ook die Here Jesus Christus.
Sy oproepe tot dissipelskap, aan die een kant alles-insluitend, én aan die ander kant alles-uitsluitend, is dus niks anders nie as oproepe om die Eerste Gebod te gehoorsaam.
Slot
# Hoe kan ons iemand liefhê as ons hom nie kan sien nie? Ja, God het sigbaar geword in die Seun wat mens geword het. Maar Hy is nie meer hier nie.
Jesus los die probleem op in Joh 20:29 as Hy vir die eens kleingelowige Thomas sê: "Glo jy omdat jy My gesien het? Gelukkig is hulle wat nie gesien het nie, en tog tot geloof gekom het."
'n Christen sien God wat in die Seun mens geword het – in die geloof!
# En hulle wat nie glo nie; hoe sal húlle Hom sien? 1 Johannes 4:12 gee die antwoord: "Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons tot vervulling gekom".
'n Nie-Christen sien God – in óns onderlinge liefde.
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Hierdie klanklesings is heelwat meer omvangryk as hierdie teks. Ek meen om daarna te luister mag meer betekenisvol en verhelderend wees, as om nét hierdie kernagtige notas te lees.