Bybelskoollesings:[1] 1. https://tinyurl.com/2dsftj99
2. https://tinyurl.com/yafeb5vz
Eks 20:4-6 (NAV)
"Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en My gebooie gehoorsaam"
Formeel
# As die Eerste Gebod handel oor die Wie van ons aanbidding, handel die Tweede oor die hoe van ons aanbidding.
# Alle aanbidding van, én deur middel van alle beelde en afbeeldings word verbied.
+ Dit gaan nie oor afbeeldings sonder meer nie, maar om die gebruik daarvan in aanbidding. Vers 5 kwalifiseer vers 4. Wat meer is, nie lank hierna nie sou God self opdrag gee vir die maak van die koperslang ensomeer.
+ Let op dat die formulering geen uitsondering toelaat nie. Géén beeld (OAV) of énige afbeelding is toelaatbaar nie. En dit geld vir alle voorwerpe, ongeag of hulle in die hemel, op aarde, of in die see is.
# Die rede vir hierdie verbod word gegee: "want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My." Letterlik staan daar: "want Ek Jahweh jou Elohim is 'n jaloerse El ..."
+ In hierdie motivering vind ons 'n besondere opstapeling van die Godsnaam. Daar moet dus geen misverstand wees oor Sy identiteit nie, en ewe min oor Sy gesag om so 'n verbod te gee. Hy is die Almagtige wat as Skeppergod én as Verbondsgod soewereine seggenskap in Sy volk se lewens het.
+ Die begrip "jaloers" dui nie op iets kleinliks nie. Die begrip praat van intense emosies – in die Ou Testament beperk tot God se afsku van afgodery. 'n Nou verwante woord beskryf 'n man se emosies wanneer hy ontdek sy vrou is ontrou. Die begrip onderstreep dus dat God onverdeelde trou van Sy volk vereis.
# Die laaste gedeelte van v.5 beklemtoon dat die straf vir ongehoorsaamheid so wyd soos drie, selfs vier geslagte kan uitkring. Hoe moet ons hierdie dreigement verstaan? Dui dit nie op onregverdigheid in God nie?
+ Ten minste beklemtoon die Tweede Gebod dat kinders inderdaad deur hulle ouers se sonde geaffekteer word. Daar is 'n onvermydelike kontinuïteit tussen opeenvolgende geslagte.
In die lig van die res van die Skrifopenbaring kan egter met stelligheid gesê word dat daar geen meganiese noodwendigheid in sit nie. Soiets sou lynreg strydig wees met ondermeer Eseg 18 – die Ou Testamentiese locus classicus oor elke individu se persoonlike verantwoordelikheid voor sy Skepper (vgl. ook Deut 24:16; Jer 31:29-34).
+ Ons durf egter nie die Tweede Gebod se waarskuwing ligtelik opneem nie. Ouers se sonde kring op ten minste twee maniere na hulle kinders uit.
= Meer individueel benader, is dit so dat ouers modelle vir hulle kinders is. Kinders leer by hulle en doen soortgelyk. Sonde 'steek dus aan'; trouens, dit het die neiging om te vererger soos dit voortplant. Dis dus niks snaaks as ouers se minagting vir God se ordes etlike geslagte later nog steeds sy tol eis nie.
= Meer korporatief benader, is dit so dat een geslag die 'wêreld' skep waarin volgende geslagte gaan leef. As ons vandag God se Woord, Sy norme en die evangelie geweld aandoen, moet ons nie verwag dat ons kinders en kleinkinders die Here sal dien nie.
= Die Tweede Gebod wil dus nie suggereer dat volgende geslagte gestraf sal word, ten spyte daarvan dat hulle onskuldig is nie. Hulle sal gestraf word omdat hulle óók skuldig is.
= Ongeag die erns van 'n samelewing se morele en waarheidsneusduik, kan enige individu egter enige tyd die tuimelgang ontkom deur hom of haar hartgrondig tot die Here en Sy Woord te bekeer.
# Die tweede Gebod sluit af met 'n heerlike belofte en beklemtoning van God se goedheid. Hoewel Hy 'n gestrenge God is, is Hy nog veel meer 'n God van barmhartigheid.
+ Die NAV vat die idee hier beter vas as die OAV. Waarskynlik gaan dit nie oor duisende mense nie, maar oor 'n duisend geslagte. Die belofte wil dus sê: God se toorn kring weliswaar tot vier geslagte uit, maar Sy liefdesguns tot 'n duisend!
Negatief : Wat die tweede gebod verbied
# Is oortreding van hierdie gebod nog vir óns 'n gevaar, ons as ontwikkelde en gesofistikeerde mense? Wie van ons sal hoegenaamd daaraan dink om 'n beeld te aanbid?
+ Waarom word beelde aanbid? 'n Beeld is 'n fisiese voorstelling van – 'n punt van kontak met die onsigbare, ontasbare en onhoorbare God. Dit probeer dus die frustrasie van menslike aandrang op sintuiglike waarneming uitskakel. Dit probeer die noodsaak van geloof – die enigste manier om die onsienlike te 'sien' uitskakel. Dis waaroor dit in beelde-aanbidding gaan. Sekerlik was selfs antieke mense nie so dom dat hulle gedink het 'n gekerfde boomstomp is die skepper van hemel en aarde nie.
+ Waarom is oortreding van die Tweede Gebod 'n gruwel? God is gees! Hy is nie 'n skepsel met 'n liggaam wat tot ons dimensies van tyd en ruimte beperk is nie. Nee! Hy is "die Hoë en Verhewene (dus bo ruimte) wat in die ewigheid woon (dus bo tyd), Heilig is sy Naam (Hy is dus die afgeskeie Een – die Gansandere)." (Jes 57:15, OAV).
Oortreding van die Tweede Gebod is dus om een van die wesenstrekke van wie en wat God is – Sy transendensie – geweld aan te doen. Dis om Hom te degradeer tot die vlak van 'n skepsel; om te maak asof Hy beperk is tot ons dimensies van tyd en ruimte.
# In die loop van hulle geskiedenis het die Israeliete die Tweede Gebod talle kere oortree.
+ Die mees bekende voorbeeld is die geval van die goue kalf (Eks 32). Uit die teks is dit duidelik dat dit nie vir Aäron of die volk oor die beeld as sulks gegaan het nie. Nadat die beeld gemaak, sê die mense: "Hier is jou God (Elohim) wat jou uit Egipte bevry het, Israel!" (v.4). En net daarna roep Aäron uit: "Môre is daar fees vir die Here" (Jahweh)! (v.5).
Hulle het dus nooit gedink dat die beeld op sigself God was nie; die beeld het God vir hulle verteenwoordig.
= Hier aanbid die volk dus nie die verkeerde god nie (oortreding van die Eerste Gebod); hulle aanbid die ware God op die verkeerde manier.
= In die res van die hoofstuk (v.7vv) stel God se oordele die erns van hierdie sonde bo alle twyfel.
+ Jerobeam was die eerste koning van die noordelike tienstamme-ryk. Hy wou verhoed dat sy mense na Jerusalem toe gaan (en dus na die suidelike Juda toe) om daar te aanbid. Hy het dus kalwerbeelde in Bet-El en Dan opgerig, sodat die volk daar in sy gebied kon aanbid. "Toe sê hy: 'Julle het lank genoeg Jerusalem toe gegaan, Israel; hier is nou die beelde van julle God (Elohim) wat julle uit Egipte laat wegtrek het.'" (1Kon 12:28).
Weereens is dit duidelik. Hierdie beelde was nie veronderstel om nuwe gode te wees nie. Die doel daarvan was om mense wat die Verbondsgod wou aanbid in Israel te hou. Dit gaan dus steeds om die ware God, maar is 'n verkeerde en sondige manier om Hom te probeer aanbid. En dat dit 'n gruwel voor Jahweh was, staan vas as mens die konteks lees.
+ Nadat Agab en Isebel Israel tot Baäl-afgodery verlei, neem Jehu die regering oor en roei die Baälpriesters en Baäldiens uit (2Kon 10:27-28). Maar die goue kalwers in Bet-El en Dan is steeds vereer (v.29). Oortreding van die Eerste Gebod is dus reggestel, maar die Tweede Gebod is steeds oortree (vgl. v.30-31).
+ Meer subtiele gevalle van die Tweede Gebod se oortreding het ook meermale voorgekom.
= In 1Sam 4 kry Israel op die slagveld swaar teen die Filistyne. Dan stel die leiers voor: "Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe dat dit by ons kan wees om ons te red ..." (v.3). Kennelik het hulle gedink hierdie simbool van God se verbondsteenwoordigheid by Sy volk sou hulle bemoedig en versterk. Maar vir baie jare hierna sou hulle hiervoor onder God se oordele gebuk gaan.
= In Jer 3 lees ons weer van 'n verkeerde, vleeslike ingesteldheid teenoor die sintuiglik-waarneembare verbondsark (v.14-16; 19).
= Ook die tempel was soms die voorwerp van sulke onheilige aanbidding. Die oor-en-oor herhaling van die frase, "die Here se tempel" ('chanting') word in Jer 7:4 veroordeel.
= Baie insiggewend is 2Kon 18:4-5. Hiskia laat die koperslang vernietig wat geslagte vantevore volgens God se opdrag gemaak is (Num 21:4-9), maar nou deur die volk vereer is.
# Oortreding van die Tweede Gebod is dus om die regte God op die verkeerde manier te aanbid. En in die besonder gebeur dit as sintuiglik-waarneembare dinge tussen ons en Hom ingeskuif word; dinge waarmee die mens in sy tyd-ruimtelike gebondenheid makliker mee kan identifiseer; dinge wat die noodsaak van geloof ophef; dinge waarmee die ongeredde mens homself mee kan bluf dat hy die ware God waarlik aanbid.
# Is die gebruik van afbeeldings en ander sintuiglik-waarneembare voorwerpe in aanbidding régtig so erg? Help dit ons nie juis in ons aanbidding nie?
Dit was nog altyd mense se argument – tot vandag toe.
+ Beide Pous Gregorius die Grote (540-604) en 'n sekere Johannes van Damaskus (675-749) het die gebruik van beelde in aanbidding verdedig – op grond daarvan dat dit 'boeke vir die ongeletterdes' sou wees.
Laasgenoemdes het dit só gestel: "Wat 'n boek vir 'n geletterde is, is 'n beeld vir die ongeletterde. Soos woorde tot die ore spreek, so spreek afbeeldings tot die oë: dit bring begrip." [2]
+ Ook in ons dag en land het hierdie saak op ons drumpel kom staan.
Uittreksels uit 'n artikel in 'n bekende Afrikaanse tydskrif bevestig dit: "Sondagoggend, agtuur. Gewyde musiek skep die atmosfeer terwyl 'n groepie vroeg-opstaners die kerk binnegaan. Voor by 'n tafel brand kerse, daar is ikone teen die mure ... 'n nuwe soort geestelikheid, met ruimte vir emosionele en estetiese ervaring, musiek en stiltes. Kortom, met simbole en gebruike wat herinner aan dié van die Anglikaanse en Rooms-Katolieke Kerke. ... Die Woord is nog belangrik, maar ook in sy gedaantes as simbole, estetika, musiek, ens. ..." [3]
# Waarom sluit die Tweede Gebod sulke aanbidding uit? Waarom neem God soveel aanstoot daaraan? Daar is basies twee antwoorde: Een, afbeeldings onteer God. Twee, afbeeldings mislei mense.[4]
+ Afbeeldings onteer God.
Niks in die ganse kosmos kan ooit 'n afbeelding van God wees nie. Dit beteken dat selfs die mooiste en aangrypendste afbeelding, God se heerlike majesteit verdof – dit kommunikeer iets minders as wat Hy is.
Nog meer: die probleem is nie net dat afbeeldings Hom voorstel soos Hy nié is nie; dit lê tot 'n groot mate ook in wat dit nié kommunikeer nie – wat dit verswyg oor die persoon en karakter van God.
Twee voorbeelde illustreer dit:
= Die goue kalf van Eks 32 was volgens die oorspronklike Hebreeus eintlik 'n bul. Waarskynlik was die bedoeling om God se almag uit te beeld. Maar wat van die res van Sy wese en karakter? Wat het so 'n afbeelding oorgedra van Sy geregtigheid, goedheid, geduld, liefde, alwetenheid, alomteenwoordigheid en ewigheid?
'n Beeld van die gekruisigde Christus sê iets van Sy menslike swakheid, maar swyg totaal oor Sy goddelike krag. Dit praat oor Sy pyn, dog is stil oor Sy oorwinning. Ergste van alles, dit verswyg Sy opstanding.
= Dís waarom God sê dat oortreding van hierdie gebod Sy jaloesie verwek – dis 'n aantasting van Sy heerlikheid, majesteit en eer.
+ Afbeeldings mislei mense.
= Omdat afbeeldings eensydige en valse idees oor God kommunikeer, verdraai dit mense se denke oor Hom – oor Sy wese en karakter. En dit sal mettertyd in bedenklike praktyke uitmasel. Ons oortuigings beheers immers ons optrede. Dis onvermydelik: my idees oor God bepaal my lewe en aanbidding.
= Dit word duidelik geïllustreer in die geskiedenis van die goue kalf. Verkeerde aanbidding het gou-gou omgesit in onwaardige aanbidding, want die volk het "wellustig te kere gegaan." (Eks 32:6). Hulle aanbidding het 'n orgie geword!
= Dis 'n sielkundige noodwendigheid: as ek sogenaamd deur 'n afbeelding tot God nader, is dit net 'n kwessie van tyd voordat ek dink God is soos die afbeelding. En weldra aanbid ek effektief die afbeelding.
En so lei oortreding van die Tweede Gebod spoedig tot oortreding van die Eerste Gebod.
= So bereik afbeeldings uiteindelik presies die teenoorgestelde van wat dit kwansuis ten doel hetl, naamlik om hulpmiddels te wees in mense se aanbidding. Hoewel dit allerlei emosies en belewinge mag bewerkstellig, ondermyn dit ware aanbidding. Want tot die mate wat dit nie volle waarheid oor God kommunikeer nie, tot daardie mate lei dit weg van aanbidding in waarheid.
Oortreding van die Tweede Gebod
is om God te aanbid op maniere wat Sy Naam onteer
Sy waarheid verwring
en mense gevolglik mislei
en hulle aanbidding ondermyn.
# Die verbondsark is tydens die uittog uit Egipte gemaak. Dit is in opdrag van God in die allerheiligste van die tabernakel geplaas – as simbool van God se heilige teenwoordigheid in die midde van Sy volk.
+ Tydens die regeringstyd van die rigters staan dit in Silo. In die tyd van Eli en Samuel is daar 'n oorlog teen die Filistyne. Die ark word bygelowig na die slagveld toe geneem om hopelik in die stryd te help. Maar dit word dan deur die Filistyne gebuit. Húlle kry egter baie teëspoed, en stuur die ark na sewe maande terug. Onderweg staan dit vir sewe of agt dekades in Kirjat-Jearim in die huis van Abinadab.
+ As Dawid uiteindelik koning word van die verenigde ryk, is hy diep bewus van sy afhanklikheid van God. Hy verlang na Sy teenwoordigheid – en besluit om die ark te gaan haal sodat dit in Jerusalem in die midde van die volk kan staan – waar dit hoort (2Sam 6; 1Kron 13).
+ Daar is 'n groot optog (30 000, waaronder baie musikante). 'n Nuwe wa (soos die Filistyne) word gebruik om die ark te vervoer. Abinadab se twee kleinseuns, Ussa en Agjo, dryf die wa. Daar is uitbundige musiek en dans. Máár by die dorsvloer van Nagon slaan 'n verskriklike tragedie skielik toe: die osse struikel, Ussa keer met sy hande dat die ark nie van die wa aftuimel nie – en onmiddelik tref die toorn van die Here hom sodat hy op die plek sterf.
Dawid is geweldig ontsteld. En hy is bang. Hoe durf hy waag om die ark in Jerusalem in te bring?
+ Die ark word dan in Obed-Edom se huis geberg. En dadelik raak dit duidelik dat die Here se seën op die inwoners daarvan rus. As Dawid dit verneem, dwing dit hom sekerlik om diep na te dink. In sy soeke na klarigheid, gaan daar vir hom lig op uit 1Kron 15:1-3; 11-15; 26-29: Die ark is tot nou toe nie volgens God se voorskrifte in Eks 25:12-15 en Nun 4:15 vervoer nie!
+ As die ark dan vir 'n tweede keer gehaal word – die keer stiptelik volgens die Here se voorskrifte – is dit 'n vreugdevolle en feestelike stuk aanbidding.
+ Ussa het gesterf – presies soos God gewaarsku het – omdat nie aan God se voorskrifte gehou is nie. Die feit dat hy nie geweet het nie, en dit vir seker goed bedoel het, het kennelik geen verskil gemaak nie.
In die diens van God – veral in die publieke aanbiddingsdiens – speel mens met vuur as jy dit nie doen soos God dit voorskryf nie.
+ Hierdie beginsel word ook elders in die Ou Testament bevestig.
= Deuteronomium 12 handel oor die volk se publieke aanbidding. Die hoofstuk is vol voorskrifte. Vir ons tema is v.4-5, asook v.29-32, veral belangrik: Net soos die Here voorskryf, presies daarvolgens, moet hulle hom aanbid en dien.
# Ook Lev 10:1-6 is vol betekenis. Aäron se seuns, Nadab en Abihu, sterf onder God se toorn omdat hulle (die OAV is letterlik korrek) "vreemde vuur" offer – "wat Hy hulle nie beveel het nie." (v.1).
Let op dat hulle nie iets doen wat Hy verbied het nie; hulle neem bloot eie inisiatief en doen wat Hy nie beveel het nie.
Oortreding van die Tweede Gebod
is om God te aanbid op maniere wat strydig is met Sy voorskrifte
meer nog, op maniere wat Hy nie voorgeskryf het nie.
Positief : Wat die Tweede Gebod gebied
# As die Tweede Gebod alle aanbidding verbied wat God se Naam onteer, en Sy waarheid verwring; as dit alle eiewillige godsdiens veroordeel – dan wil dit, positief, in ons gemoedere ingrafeer dat God die Allerhoogste en Gansandere is, geheimenisvol en onpeilbaar. Dit wil ons herinner dat Hy vér verhewe is bo menslike verbeelding, spekulasies en filosofieë, en dat ons onsself moet verneder deur kinderlik-gelowig te luister na Sy openbaring oor wie Hy is, en hoe Hy gedien moet word. Vgl. Jes 55:8-9.
+ Ons kan God nie ken tensy Hy Homself aan ons openbaar nie; en ons ken Hom ook net tot daardie mate. Hierdie openbaring hét plaasgevind, en die neerslag daarvan vind ons in die Heilige Skrif. So lei die Tweede Gebod ons keer op keer weer terug na die Woord toe – wie is God, wat is Sy wil, hoe moet ons Hom aanbid?
+ In hierdie verband is Deut 4 baie sprekend – die hoofstuk wat Deuteronomium se weergawe van die Tien Gebooie voorafgaan.
= Weereens is die diepste begronding vir God se opdragte die feit Hy die verbondsvolk vir Homself uit Egipte gered het. Hierdie opdragte het dus alles te doen met die dankbaarheidsrespons wat van hulle verwag word, gepaardgaande met hulle verantwoordelikheid om die Here onder die nasies te verheerlik (v.20).
= "Moenie iets byvoeg by wat Ek julle beveel het nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie ..." (v.2).
= Let op dat die volk gewaarsku word dat die lewe vir hulle op die spel is (v.15; 25-29). Dit herinner Moses dat hyself nie Israel sal ingaan nie – omdat hy hom nie aan die detail van God se opdrag gehou het nie (Deut 4:21-22; Num 20:1-13; Dt 1:37).
= Vir die huidige ontwikkeling van ons argument is Deut 4:12 en 15 baie betekenisvol. Let op hoe sterk dit beklemtoon word dat die volk tydens die gee van die Tien Gebooie niks gesien het nie, maar net 'n stem, net woorde gehoor het. Dit word dan aangevoer as rede waarom hulle nie 'n afbeelding van enigiets mag maak nie (v.16-19).
Ware aanbidding geskied in die geloof
op grond van God se Woord
en daarop alleen.
# God se besondere openbaring kulmineer in Christus en die Nuwe Verbond. Ons kan dus verwag om meerdere lig in die Nuwe Testament te kry as ons vra na die ware aard van daardie aanbidding wat vir God aanvaarbaar is.
Johannes 4 is die Nuwe Testamentiese locus classicus in hierdie verband.
+ Die gebeure speel af in Samaria. Die Samaritane het ontstaan toe die Jode wat ná die Assiriese ballingskap agtergebly het met die nuwe heidense intrekkers verbaster het. Hulle godsdiens was 'n vermenging van vroeë Ou Testamentiese openbaring, en allerlei heidense idees. Ondermeer was twee aspekte daarvan belangrik vir begrip van hierdie gedeelte.
= Berg Geresim was hulle aanbiddingsplek ("hierdie berg" in v.20-21).
= Hulle 'Bybel' was beperk tot 'n eie weergawe van die Pentateug (die eerste vyf boeke van die Ou Testament – die sg. Samaritaanse Pentateug).
+ Wáár, vra die vrou, moet God aanbid word? Op Geresim, of in Jerusalem en sy tempel? Op daardie oomblik is die Jode nog reg, sê Jesus – maar spoedig sal dit 'n kwessie wees wat tot die geskiedenis behoort (v.23a).
+ Die koms van Christus sou dramatiese veranderings in die lewe en godsdiens van die verbondsvolk bring. In die besonder sou hulle verander word in mense wat God aanbid presies soos Hy wil! Hierdie ware aanbidders sou Hom "in gees en waarheid" aanbid! (twee maal in v.23-24).
Wat beteken dit?
= Die begrip "gees" in v.23 (die OAV is korrek deur nie 'n hoofletter te gebruik nie; vgl. ook die NIV, NASB, NKJV ens.) koppel met v.21. Nie die waar nie (Geresim of Jerusalem), maar die hoe is belangrik. Ware aanbidding geskied vanuit die menslike gees, vanuit die hart – dus in opregtheid.
= Die begrip "waarheid" in v.23 koppel met v.22. Die Samaritane het 'n totaal ontoereikende Godsbeskouinge en insig in Sy wil. Nie die waar is belangrik nie, maar die waarheid.
"Waarheid" verwys duidelik hier na God se Woord – die Godsopenbaring, aangesien v.22 daaroor gaan.
Maar hier sit méér in. Die Here Jesus se kwalifikasie, "want die verlossing kom uit die Jode", verraai dit. In die besonder is hierdie waarheid die evangeliewaarheid!
# Wat is die implikasie? God moet volgens Sy Woord aanbid word – in die besonder volgens Sy evangeliewoord. Met ander woorde, nie die borstrok van Ou Testamentiese seremonies nie, maar die vryheid en volheid van Nuwe Testamentiese openbaring is wat God in die aanbidding van Sy volk soek.
+ Waarom is dit so belangrik dat God in gees en waarheid aanbid word, en nie volgens allerlei uiterlike seremonies nie? "God is gees"! (v.24). En presies dít is van die begin af die penwortel van die Tweede Gebod.
Ware aanbidding geskied in gelowige hartsopregtheid
en is altyd boordevol gevul met Nuwe Testamentiese openbaring
dus met evangeliewaarheid oor Jesus Christus.
Enkele praktiese implikasies
# Die implikasies van die Tweede Gebod het sekerlik betrekking op die gelowige se ganse lewe, want dis hoe omvangryk aanbidding is. Maar in die eerste instansie het dit te doen met ons direkte gemeenskap met God – en veral met die gemeente se publieke godsdiensbeoefening. Dit spreek in 'n baie besondere mate dinge aan soos ons gebede, ons sang, en ons prediking.
# Ware aanbidding is 'n saak van die hart sowel as van die hoof; van emosies, of dan gevoel, sowel as van denke.
Beide is nodig. Hulle is afhanklik van mekaar. Hulle is in jukstaposisie – hulle stut mekaar, hou mekaar vas, pas mekaar op. Los enigeen, en die ander raak korrup.
+ Aanbidding in waarheid, sonder gees (hoof, sonder hart; denke, sonder emosies) is vormgodsdiens, dooie ortodoksie, leë formalisme, koue intellektualisme. Dis 'n kunsmatige vertoon. Dit maak van die kerk 'n lykshuis!
= Dis waarvan die Here Jesus in Matt 15:8 praat: "Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af."
Maak nie saak hóé Bybels-korrek aanbidding is nie – sonder opregtheid en ontroering is dit tevergeefs.
= Wat meer is, opregtheid het eweveel te doen met my lewe sewe dae per week, as met my hartsgesteldheid tydens aanbidding. Iemand wat van Maandag tot Saterdag wêreldgelykvormig leef, kan per definisie nie Sondag in egtheid aanbid nie, ongeag watter intense ontroeringe hy ook al mag beleef.
Presies net hier lê die ondergang van dié soort liturgiese aanbidding wat meganies volgens die letter van die (teologies baie korrekte) handboek geskied.
+ Aanbidding in gees, sonder waarhei' (hart, sonder hoof; emosie, sonder denke) is leë koorsagtigheid, emosionalisme, histerie. Dis 'n oppervlakkige gevoelsbeheptheid. Dit maak van die kerk 'n sirkus!
= Dit was heel waarskynlik een van die gemeente in Korinte se probleme.
Dis die probleem as as 'n gemeente ervaringsbehep raak. Dis die probleem met prediking wat net op die emosies gerig is, en vergeet dat die mens 'n denkende wese is. Dis die probleem met pragmatiese 'aanbidding', wat enige ding gebruik solank dit net opswepend werk – druppende sentimentaliteit, showbiz, sensasie, wilde musiek, simplistiese koortjies wat tot satwordens herhaal word om atmosfeer te skep en emosies op te wek.
Dis waarom die vermaaklikheidskultuur wat in soveel kerke posgevat het onderskeidende Christene laat sidder.
Kan mens die Tweede Gebod op so 'n wyse geweld aandoen en daarmee wegkom?
= Presies net hier lê die ondergang van dié soort liturgiese aanbidding wat mense se emosies met kruise, kerse en ikone wil stimuleer. Sulke aanbidding is meer as net 'n mislukking; dis afgodery in terme van die Tweede Gebod.
# Ware aanbidding is altyd gevul met openbaringswaarheid en sal – soos die Bybel – steeds maar weer Christus en die evangelie as middelpunt hê.
+ Terwyl ons die waarde van die Psalmboek in die kanon nooit kan oorskat nie, skort daar tog iets ernstigs as aanbidding nie grootliks Nuwe Testamenties is nie.
= Sal die Heilige Gees aanbidding seën waarin die geheimenisse en erfenisse van die Nuwe Verbond nie tot hulle reg kom nie – kruis, opstanding, pinkster, God se vaderskap, ons eenheid met Christus en ons duiselingwekkende erfenis in Hom? Eer dit die afgehandelde werk van Christus soos dit moet?
= Kan sulke aanbidding uitdrukking gee aan gelowiges se kosbaarste belewinge – omdat hulle hul verlustig in God se oopgeblomde openbaring, en die realiteite, waarvan dit spreek, proefondervindelik ken?
# Mense wat deur 'n ware geloof met Christus verenig is – erfgename van die Nuwe Verbond – moet hulle daarin oefen om hulle aanbiddingsvoorregte na behore te verstaan, te begryp, en te beleef.
+ Ja, daar was inderdaad 'n sterk seremoniële komponent in Ou Testamentiese Israel se aanbidding. Dis omdat hulle nog soos kinders was. En die seremoniële wet moes hulle soos 'n kinderoppasser bewaar (Gal 3:24-25).
+ Hoewel God dit voorgeskryf het, het Ou Testamentiese seremoniële aanbidding Hom nooit regtig behaag nie (Ps 50:13-15; Jes 1:11, 14; Hos 6:6; Amos 5:21).
Die profete openbaar reeds Sy verlange na die bedeling wanneer Sy geliefde volk Hom in gees en waarheid sou aanbid (Jes 43:19-21; Jer 3:14-19; Hos 2:13-19).
+ Dis die Heilige Gees wat die Here se volk uitlig bó die vlakke van Ou Testamentiese onvolwassenheid. Dis Hý wat hulle toerus om in seremonielose eenvoud in gees en waarheid te aanbid. Dis Hý wat hulle "Abba, Vader" laat roep – in vervulling van Jer 3:19 (Gal 4:1-7).
+ As die voorhangsel in die tempel skeur tydens Christus se kruisiging, is dit niks minder nie as die Vader se vreugdeshandeling (Matt 27:51). Volmaakte versoening is gedoen! Nou het God se kinders vrye toegang tot Sy genadetroon! Uiteindelik kan hulle Hom in vryheid, egtheid en waarheid aanbid – elkeen van hulle, dag en nag, weer en weer!
+ Dis die Hebreërskrywer se punt. As ons wat deel het aan die Nuwe Verbond dan vrye toegang het tot God se genadetroon – om in vrymoedigheid, egtheid en waarheid te aanbid – hoe op aarde kan sy lesers dit oorweeg om terug te draai na Ou Testamentiese seremonies toe? Dit sou opperste dwaasheid wees!
Nee, sê hy as hy uiteindelik in Hebreërs 10:19vv tot 'n slotsom kom: Terwyl ons nou deur die bloed van Christus vrye toegang het tot die heiligdom, laat ons deur die voorhangsel heen tot God nader met 'n opregte hart (dus in gees) en in volle geloofsekerheid (dus in waarheid)!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt – Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Hierdie klanklesings is heelwat meer omvangryk as die geskrewe teks. Ek meen om ook daarna te luister mag meer betekenisvol en verhelderend wees, as om nét hierdie kernagtige notas te lees.
[2] Peter Barnes, Seeing Jesus, Banner of Truth Trust, 1990. Hy haal aan uit N. Baynes, Idolatory in the Early Church, in Byzantine Studies and Other Essays, Greenwood Press, Connecticut, 1955, p.136.
[3] Grietjie Odendaal, Kerse, kruise terug in die NG Kerk, Insig, Maart 1993, p.16.
[4] Heelwat van onderstaande perspektiewe is ontleen aan J.I. Packer, Knowing God, h.4.