Bybelskoollesings:[1] (1) https://tinyurl.com/4un4ddeh (2) https://tinyurl.com/284madpb
Die Derde Gebod
"Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie,
want die Here sal hulle wat Sy Naam misbruik,
nie ongestraf laat nie."
(2020)
Die fokus van die Eerste Gebod is dat daar slegs één God is en dat Hy alléén aanbid moet word.
Die Tweede Gebod leer dat Hy op die regte manier aanbid moet word.
En in die Derde Gebod gaan dit oor die eerbiedige en versigtige omgang met Sy naam en Sy faam.
Die gebod self verduidelik nie presies hoe die Naam van God misbruik kan word nie. Daarvoor is ons van die res van die Godsopenbaring afhanklik.
# Die betekenis van die betrokke Hebreeuse woord wat met "misbruik" vertaal word is vaag. Dit sinspeel daarop dat daar nie van of met God gepraat sal word asof Hy minderwaardig of sonder betekenis is nie – asof Hy sonder 'n moeite-werd bestaansreg is.
# Dis opvallend dat die Derde Gebod in die derde persoon geformuleer is ("die Here"), en nie soos die eerste twee in die eerste persoon nie ("Ek"). Die rede daarvoor is kennelik om die aandag op die Naam self te vestig, en spesifiek op die Naam Jahweh.
# Die dreigement vir oortreding van die Derde Gebod onderstreep dat ons nie hier met 'n sekondêre saak te doen het nie. Dit sal nie "ongestraf" bly nie; oftewel, dit sal gewis gestraf word.
Die aard van die straf word nie genoem nie. Ewe min word daar gesê dat daar nie vergiffenis vir die sonde is nie.[2] Wat dit wil tuisbring is dat God nie die misbruik van Sy Naam sal oorsien nie; of positief gestel, dat Hy kompromieloos daarop staan dat Sy Naam geëersal word.
+ Lev 24:10-23 bevestig die erns van hierdie saak as dit beskryf hoe 'n jongman wat die Godsnaam gelaster het, gestenig is.
+ In hulle vrees om die Derde Gebod te oortree, om hulle respek vir die Naam te toon, en om te verhoed dat die omliggende heidene die Naam hoor en onteer, het die Ou Testamentiese Jode hulle daarvan weerhou om die naam Jahweh volledig uit te spreek.
As die wet of ander Skrifgedeelte in die publiek gelees moes word, is die klinkers van die ere-aanspreekvorm, Adonai, by die vier konsonante van Jahweh gevoeg. Of as die Verbondsnaam geskryf is, is net die konsonante gebruik. Vandaar dat ons tot vandag toe nie eenhonderd persent seker is oor die uitspraak van die Naam nie.
+ Ongeag hoe die Joodse gebruik beoordeel word, dít moet baie duidelik verstaan word: Die Derde Gebod gaan oor veel meer as die misbruik van 'n woord met vier konsonante; dit gaan oor die aantasting van alles waarvoor die woord staan.
# Die Nuwe Testament endosseer die Derde Gebod in geen onduidelike terme nie.
+ Die Here Jesus het kennelik baie groot waarde geheg aan die Godsnaam en steeds die hoogste eer daaraan betoon. Die verhoging van die Naam was sentraal in Sy sending, en Hy het ernstig gebid dat dit verheerlik moet word: "Vader, verheerlik u Naam!" (Joh 12:28).
= Jesus was God se verteenwoordiger op aarde. Hy het dus geen geheim daarvan gemaak dat Hy namens God optree nie – in die Naam van Sy Vader in die hemel. Uitdruklik sê Hy: "Ek het in die Naam van My Vader gekom ..." (Joh 5:43). En Sy wonders doen Hy in die Naam van die Vader (Joh 10:25).
= Die hoëpriesterlike gebed van Joh 17 is besonder betekenisvol in hierdie verband. Tweemaal vermeld Jesus dat Hy die Vader se Naam bekend gemaak het aan die mense wat aan Hom toevertrou is (v.6, 26). Hy bid ook dat hulle in hierdie Naam bewaar moet word (v.11). En Hy verklaar dat Hy, terwyl Hy by hulle was, hulle in die Vader se Naam bewaar het (v.12).
= In die modelgebed blyk Jesus se hoë agting vir Sy Vader se Naam reeds in die eerste bede: "... laat u Naam geheilig word ..." (Luk 11:2). Dit gaan hier daaroor dat die Godsnaam geëer sal word, apart sal bly van ander name as die enigste wat die lewende God waardig is, en nie onteer sal word in hierdie wêreld nie.
+ Ook die apostels het die Godsnaam net so gerespekteer. Deurgaans in hulle briewe blyk hulle heilige ontsag vir die Derde Gebod.
= Paulus bely in Hand 26:11 dat hy voor Sy bekering ander gedwing het om te laster. Later egter pleit hy dat gelowiges só sal leef dat "niemand sal kwaad praat van die Naam van God" nie (1Tim 6:1).
= Jakobus waarsku teen 'n ophef van rykes in die gemeente – omdat baie van hulle "... die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort ..." (Jak2:7).
# Daar is geen twyfel nie dat die Nuwe Testament die reikwydte van die Derde Gebod uitbrei om ook die name van Jesus Christus en die Heilige Gees in te sluit.
+ In Joh 14:9 sê die Here Jesus: "Wie My sien, sien die Vader." In Christus staan die Vader dus in 'n sin voor ons. Ons kan dus nie oor die Naam van die Here praat nie – en dus oor die Derde Gebod – sonder om die Naam van Jesus Christus in ag te neem. Hy en die Vader is een (Joh 10:30, 38). En daarom moet Hy alle heerlikheid en eer kry (Joh 1:14; 5:23; 16:5; 1Kor 2:8; Op 5:12-14).
= Josef en Maria word deur 'n engel beveel om die Kind Jesus te noem. Dit is 'n Griekse vorm van die Hebreeuse naam Josua, wat beteken: Jahweh is verlosser. Die engel gaan dan voort: "Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word ... aan Sy koningskap sal daar geen einde wees nie." (Luk 1:31-33).
In Matteus se weergawe word die engel se opdrag onmiddelik gekoppel aan die Messiaanse profesie van Jes 7:14: Hy is Immanuel – God met ons! (Matt 1:23).
= Die wyse waarop die Here Jesus keer op keer oor Sy eie Naam praat, onderstreep dat Hy dit as sinoniem met die Godsnaam beskou. Sy dissipels sal ter wille van Sy Naam gehaat word (Matt 10:22). Hy verwag egter van hulle om alles ter wille van Sy Naam agter te laat (Matt 19:29). En waar hulle in Sy Naam saam is, daar sal Hy saam met hulle wees (Matt 18:20).
Onmiskenbaar is Sy Naam 'n fokuspunt van Sy dissipels se toewyding.
= 'n Raps meer as 2 eeue voor die koms van Christus is die Ou Testament in Grieks vertaal – die sogenaamde Septuaginta. Die woord wat as 'n reël gebruik is om die Godsnaam, Jahweh, te vertaal, is die Griekse woord, Kurios. Vir diegene met 'n Griekse Ou Testament was Jahweh dus die Kurios. Hierby sluit die apostels aan as hulle buite Palestina preek, en as hulle die Nuwe Testament in Grieks skryf.
Petrus se pinksterwoorde moes skokkend op Joodse ore geval het: "Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here (Kurios) en Christus gemaak!" (Hand 2:36).
= Vir ons doel is dit voorts belangrik om raak te sien dat die apostels ook meermale sekere Ou Testamentiese profesieë wat oor Jahweh handel op Jesus Christus van toepassing maak.
So, byvoorbeeld, maak Paulus Jes 45:22-24, wat op Jahweh slaan, direk van toepassing op Jesus Christus in Fil 2:9-11: "Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: 'Jesus Christus is Here (Kurios)!' tot eer van God die Vader."
In Rom 14:11 maak Paulus nogeens Jes 45 op Christus van toepassing.
Die Nuwe Testamentiese openbaring is duidelik dat die Naam Jahweh regtens ook aan Jesus Christus behoort! Die Derde Gebod se verbod het dus ook op die Naam van die Here Jesus Christus betrekking.
+ Dat die Heilige Gees 'n persoon is, en spesifiek die derde Persoon van die Goddelike Drie-eenheid, word eers werklik in die Nuwe Testament geopenbaar. Dit kan op talle maniere aangetoon word, maar veral is die sg. trinitariese formules betekenisvol.
= In die Groot Opdrag (Matt 28:18-20) beveel die Here Jesus dat bekeerlinge gedoop moet word in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Daar is dus drie Persone, maar net één Naam (in enkelvoud hierbo).
Sekerlik dui dit daarop dat al drie Persone van die Godheid (dus ook die Heilige Gees) die Naam Jahweh dra – die hoogste en heiligste Naam van die lewende God. Vgl. ook 1Kor 12:4-6; 2Kor 13:13; Jud 20-21.
= Dit is dus geen verrassing as die Here Jesus waarsku dat die Heilige Gees gelaster kan word (Matt 12:31-32; Mark 3:28-29) – en dat dit 'n verskriklike sonde is.
Die Nuwe Testamentiese openbaring is duidelik dat die Naam Jahweh regtens ook aan die Heilige Gees behoort en dat die Derde Gebod se verbod ook op Hom van toepassing is.
Negatief : Wat die Derde Gebod verbied
# In die antieke wêreld het name baie meer gewig gedra as vandag. Dit wou altyd iets sê oor iemand se afkoms, geboorte of karakter. 'n Persoon se naam het hom of haar verteenwoordig. Iets daarvan het tot in ons dag oorgebly, aangesien ons steeds van iemand se goeie naam praat. En steeds kry mens dit dikwels in 'n bynaam.
+ Dawid se talle militêre oorwinnings het meegebring dat "Sy naam hooggeërd was" (1Sam 18:30, OAV).
Volgens 1Kon 4:31 het Salomo se "naam" bekend geraak onder al die nasies vanweë Sy wysheid. Die NIV praat van Sy "fame".
'n Belangrike persoon se naam het gedui op Sy faam, Sy reputasie.
+ Wat beteken die Naam van die Here dus? Sy Naam word geopenbaar in Sy werke, in die besonder Sy duiselingwekkende skepping en Sy grootse verlossingsdade.
= In Ps 8 word God se skepping besing. En tweemaal word gesê: "Here, ons Here, hoe wonderbaar is U Naam oor die hele aarde ..." (v.2, 10).
= Maar Sy faam het selfs nog meer te doen met Sy genadige verlossing van sondaars. Op Sinaï het die Here in 'n wolk afgekom, by Moses kom staan – en "Hy het die Naam van die Here uitgeroep: 'Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie ...' " (Eks 34:5-7, OAV).
= Om die Here se Naam ydellik te gebruik is om op 'n wyse te praat wat Sy majesteit onwaardig is.
= Om die Here se Naam te misbruik, is om dit op 'n wyse aan te wend wat strydig met Sy heiligheid is.
Om die Derde Gebod te oortree
is om afbreuk aan Sy faam te doen, om Sy reputasie te skaad.
# Besit van die Here se Naam was aan die hart van die volk se verbondserfenis.
In Deut 28:10 sê Moses vir die volk: "Al die volke op die aarde sal weet dat die Naam van die Here oor jou uitgeroep is ...".
Jesaja treur: "Ons het geword soos dié oor wie U nie van ouds af geregeer het nie, oor wie U Naam nie uitgeroep is nie." (63:19).
Maar in 43:7 word geprofeteer dat elkeen wat na die Here se Naam genoem word in die laaste dae vanuit die uithoeke van die aarde geroep sal word.
God se uitverkorenes word dus met Sy Naam gemerk. Hy assosieer Homself skaamteloos met diegene op wie Hy beslag lê ter wille van Homself en Sy eer.
+ Die Israeliete was duidelik hiervan bewus. Daarom was hulle ook baie lief om op 'n manier dele van die Godsnaam in hulle kinders se name in te vleg. Byvoorbeeld beteken Elia "My God is Jah", Jeremia "Jah is hoog", en Jesaja "Jah is my helper."
+ Betekenisvol vir ons doel is die feit dat daar nie 'n enkele Skrifuitspraak teen hierdie praktyk is nie. Sonder twyfel is dit omdat Israel in 'n verbondsverhouding met Jahweh was – húlle durf dit gedoen het; niemand anders nie.
+ Hierdie waarheid neem ons nog 'n tree verder in ons soeke na wat oortreding van die Derde Gebod alles behels. Die volgende Skrifuitsprake is betekenisvol:
= Dawid het deur Sy sonde met Batseba en Sy moord op Urija "die vyande van die Here aanleiding gegee ... om Hom te laster." (2Sam 12:14).
= En die volk se volhardende sonde wat uiteindelik tot die ballingskap gelei het, het meegebring dat die Here se Naam onder die heidene gelaster is. Hulle het gesê: "Maar dit is mos die volk van die Here hierdie ..." (Eseg 36:20-23).
= Na aanleiding van Israel se skandelike sondes sê die Here deur Amos dat die volk Sy heilige Naam oneer aandoen (2:7).
# Oor en oor in Deuteronomium druk Moses dit op die volk se hart dat hulle op die plek wat die Here sal aanwys 'n plek moet oprig waar Sy Naam kan woon (Deut 12:5, 11, 21; 14:23, 24; 16:2, 6, 11; 26:2).
+ Hierdie uitdrukking dui op die Here se heerlike teenwoordigheid. Waar Sy Naam is, daar is Hy.
+ Wat meer is, dís die plek waar die Ou Testamentiese volk moes aanbid. Dis waar hulle die Here moes aanroep (Joël 2:32). Trouens, tot só 'n mate identifiseer die Here Homself met Sy Naam, dat dit – die Naam – as 't ware die voorwerp van aanbidding word. Luister na Ps 148:13: "Laat hulle die Naam van die Here prys, want sý Naam alleen is hoog verhewe, Sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel." (vgl. ook Ps 29:2; 111:9).
Enige onwaardige ligsinnigheid of ongehoorsame eiewilligheid in die gebruik van die Here se Naam tydens aanbidding is 'n flagrante oortreding van die Derde Gebod. Dis 'n direkte belediging op heilige grond.
Positief : Wat die derde gebod gebied
# Eerstens is dit duidelik dat ons die Naam van die Here in alle omstandighede met die grootste omsigtigheid en ontsag moet bejeen en gebruik. Maar dit strek ook wyer as net die Godsnaam. Dit geld ook Sy persoon, en dit wat Syne is – Sy Woord, waarheid en gemeente.
# Die Woord leer voorts dat God Sy volk red ter wille van Sy Naam, Sy faam – Sy eer dus.
Ps 106 sê dit in soveel woorde: die Here het die slawevolk in Egipte "gered ter wille van die eer van Sy Naam en om Sy mag bekend te maak." (v.7-8).
Eseg 36 onderstreep dit selfs nog duideliker: verlossing uit die ballingskap, asook die universele verlossing van die Nuwe Verbond, het ten diepste ten doel die verheerliking van God se Naam (v.22-32). Let veral op die beklemtoning: "Dit is nie ter wille van julle dat Ek optree nie, Israel, maar ter wille van my heilige Naam ... Ek sal die heiligheid van my groot Naam laat blyk wat onder die nasies in oneer gekom het." (v.22-23).
+ Gehoorsaamheid aan die Derde Gebod is dan ook om Sy Naam te verkondig en te vereer – om Sy roem te bevorder.
Hierop dring verskeie Psalms aan: "Prys die Here om die eer van Sy Naam!" (29:2). "Sing tot roem van Sy Naam, gee Hom die eer wat Hom toekom!" (66:2). Vgl. ook Ps 96:8.
+ Die woord wat in Ps 66:2 met "eer" vertaal word, se wortelbetekenis is gewig. Die Here se Naam is gewigtig! Om Sy Naam dus te eer, is om respek daarvoor te betoon – respek wat pas by die gewigtigheid en majesteit daarvan.
Gehoorsaamheid aan die Derde Gebod is
om met puntenerigheid só te leef dat die Here se Naam nie in oneer kom nie
en dat andere nie te wyte aan ons optrede of versuim verlei word om Hom te minag nie.
Enkele spesifieke toepassings
# Die Derde Gebod het wyd-uitkringende implikasies. Meestal word dit op die volgende wyses oortree: vloekery; vals eed-afleggings; toordery; vals geloofsbelydenisse, onwaardige aanbidding en vals profesie – en, uiteraard, wanneer mense onder die vlag van Christus vaar, maar met hulle lewens duidelik wys dat hulle eintlik rowerskepe is.
Ons kan nader na enkele van hierdie sake kyk.
1. Vloekery en laster
# Hoewel dit deur alle eeue 'n probleem was, neem die misbruik van die Godsnaam (in bykans al Sy vorme) as 'n vloek- of kragwoord in die moderne Westerse wêreld epidemiese afmetings aan. Luister maar hoe vandag se mense praat; luister na die dialoog in moderne films of televisieprogramme; lees maar 'n paar bladsye in soveel kontemporêre romans.
+ In 'n sin verskil vandag se vloekery van dit wat 'n mens in die Bybel aantref. Destyds was dit 'n bewustelike lastering van God – deur meestal die heidene, die vyande van Israel (soos Goliat, volgens 1Sam 17:45).
Vandag is dit hoofsaaklik 'n onnadenkende gebruik van die Godsnaam as uitroep, kragwoord of 'n tussenwerpsel. Mens kan beswaarlik besluit wat die ergste is, aangesien die Here in vandag se vloekery gedegradeer word tot die vlak van 'n leë uitdrukking. Dis inderdaad presies wat die begrip "misbruik" in die Gebod beteken – om te maak of die Godsnaam sonder betekenis of waarde is.
= Moderne vloekery is simptomaties van 'n dieper siekte. In Bybelse tye het dit 'n godsdienstige konnotasie gehad. Maar vandag is dit gesekulariseerd. Mense gebruik die Godsnaam sonder enige bedoeling of inhoud. Wat hulle betref is Hy 'n fabel en dus dood.
As ons as Christene dus daarop reageer, moet ons eerder op die siekte as op die simptoom konsentreer (wat uiteraard nie beteken ons moet die simptoom goedpraat of ignoreer nie).
Op die langtermyn is die heel beste kuur vir hierdie soort sonde die suiwer verkondiging van die evangelie en 'n konsekwente uitlewing van godsvrug. En wanneer ons die simptoom wel aanspreek, moet dit in nederige wysheid geskied.
+ Ook Christene moet waak teen 'n ydellike en onnadenkende gebruik van die Here se Naam – ook per implikasie: "die Here seën!"; "Liewe Vader!"; "Behoede my!"; "Die hemele hoor my!" – en talle meer. Ook in Engels is daar hóéveel van hierdie uitdrukkings: "Heaven knows!"; "Good gracious!"; "Goodness knows!"; ensomeer.
Nee, ons moet God se Naam met versigtigheid en ontsag gebruik – by wyse van spreke, sonder skoene. Soos mens 'n baie duur kledingstuk net by spesiale geleenthede dra, so sal die man of vrou wat die Here vrees Sy Naam nie links en regs gebruik nie.
+ Elke gelowige wat uiteraard erns maak met hierdie gebod sal sogenaamde hemelgrappies totaal vermy, asook 'n gesmousery met die Here se Naam.
2. Eedswering
# Die Ou Testament aanvaar die praktyk en noodsaak – in sommige gevalle – van eedswering.
Deut 6:13 sê: "Jy moet die Here jou God eer en dien en net in Sy Naam 'n eed aflê." Absolute eerlikheid hierin was egter 'n noodsaaklikheid: "Julle mag nie 'n vals eed aflê in my Naam en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here." (Lev 19:12).
Vergelyk ook Num 30:2; Deut 10:20; 23:21-23; Jer 4:2.
+ Voorskrifte soos hierdie maak eedswering noodwendig 'n baie gewigtige saak. Meineed was (en is steeds) 'n ernstige sonde.
# Die latere Jode in die tyd van die Here Jesus het ook verstaan dat meineed 'n flagrante oortreding van die Derde Gebod is. Maar soos dit gewoonte geword het, het hulle die Woord van die Here verdraai om hulle vleeslike behoeftes te pas. Hulle kunsgreep het bloot hierop neergekom: Vermy die Godsnaam en dan val die gevaar van sonde in die geval van oneerlikheid sommer ook weg! So het hulle dan kamtig by die hemel, by die aarde, by Jerusalem, ensovoorts gesweer. Hulle het selfs hulle koppe op die spel geplaas.
Dis waarskynlik híérdie dwaling wat die Here Jesus in Matt 5:33-37 aanspreek (Hy korrigeer immers in paragraaf na paragraaf die oorleweringe van die ou mense (v.21, 27, 31, 33, 38, 43).
As Hy dus sê dat mens gladnie 'n eed moet aflê nie, en dat jou "ja" eenvoudig "ja" moet wees, en jou "nee", "nee", verbied Hy die ligtelike gebruik van ede in die omgang van elke dag – en natuurlik veral ede waarop niemand kan peil trek nie.
Nee, Sy dissipels moet mense van integriteit en hulle woord wees.
+ Jakobus herhaal in sy brief hierdie verbod in die Bergrede (5:12).
# Ons moet daarom aanvaar dat die Here Jesus nie in Matt 5 die ernstige gebruik van 'n eed in uitsonderlike en gewigtige situasies verbied nie.
+ In Matt 26:63-64 aanvaar Hy sonder protes dat Hy onder eed geplaas word; trouens, vir die eerste maal in Sy verhoor praat Hy dan.
+ By meer as een geleentheid bevestig Paulus van Sy stellinge of oproepe met 'n eed. Neem byvoorbeeld 2Kor 1:23: "Ek roep God tot getuie en staan met my lewe daarvoor in ...". Vergelyk ook Rom 9:1; Gal 1:20; 2Kor 11:31.
+ Enige geordende samelewing het steeds die praktyk van eedswering nodig.
# Wat is 'n eed? Dis 'n manier om te bevestig dat 'n stelling wáár is, óf dat 'n voorneme om iets te doen werklik opreg is. Om dan in die Naam van die Here te sweer, is om 'n beroep op Sy alwetenheid te doen om die waarheid of die opregtheid te beoordeel; en om, indien valsheid teenwoordig is, dit in Sy heiligheid te straf.
# Daar is twee soorte ede: Ede van bevestiging. Ede van belofte.
Eersgenoemde word veral in die regswese gebruik om te verseker dat verklarings en getuienisse betroubaar is.
Laasgenoemde word gebruik wanneer 'n persoon in 'n baie verantwoordelike amp bevestig word. Vergelyk die Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 101, wat van "trou" en "waarheid" praat.
3. Oppervlakkige en ligsinnige aanbidding
# Die Prediker skryf: "Wees baie versigtig as jy na die huis van God toe gaan. Dit is beter om nader te kom en te luister as om jou offer te bring soos 'n dwaas dit sou doen." (4:17; NAV).
Die OAV gaan dan in die volgende vers aan: "Wees nie haastig met jou mond nie, en laat jou hart nie gou 'n woord uitbring voor die aangesig van God nie; want God is in die hemel, en jy op die aarde. Daarom moet jou woorde min wees."
+ Laat ons gebede dus eerder korter wees, maar versigtig gevul met woorde wat deurdink is en gewig dra, as lang, breedsprakerige stukke retoriek – die aanmekaar ryg van leë gebedscliches soos krale aan 'n string.
Is dit nie presies wat die Here Jesus in Matt 6:7 veroordeel nie?
+ Laat ons ook versigtig wees om die Here se Naam nie oor en oor in ons gebede te gebruik nie – amper in elke sin soos 'n stopwoord. Vir hoorders wat God vrees, is die praktyk soos 'n visgraat wat dwars draai in die keel (in die oor!).
+ Dit geld ook die afgerammelde slotwoorde wat die "Amen" amper soos 'n magiese stertjie voorafgaan: "In die Naam van Jesus Christus."
Feitlik epidemies is die vinnige, binnemondse "Amens" wat mens oor en oor hoor, selfs van kansels af, en wat effektief niks anders is as 'n stopwoordjie nie. Dit skep die indruk dat die bidder verlig is om uiteindelik klaar te wees. En dat hy of sy vir hoorders sê dat hulle nou maar hulle oë kan oopmaak.
Nee, "Amen" is 'n gewigtige geloofsverklaring: Die aanbidding wat ek vir U gebring het, is wáár en my absolute oortuiging. Die versoeke wat ek tot U gerig het, is my gewigtige erns. Ek vertrou met my hele hart dat U, my Vader, my gehoor het en sal verhoor, aangesien ek gebid het in die Naam van, op grond van, en in harmonie met die volkome middelaarswerk van Jesus Christus.
= Só stel die Heidelbergste Kategismus v&a 129 dit: Vraag: Wat beteken die woord Amen? Antwoord: Amen wil sê: Dit is waar en seker. Want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer (2 Kor 1:20; 2 Tim 2:13).
= Waarskynlik word die Derde Gebod nêrens méér dikwels oortree as in onnadenkende tafelgebede nie. Veel eerder moet ons swyg as om etlike kere per dag 'n rympie (dikwels nog in Hollands ook!) af te rammel. As dit dan ook nog deur 'n volwassene in naïewe kinderlike taal geskied, is dit des te meer onaanvaarbaar.
# Wat sal mens sê van ons kerklike sang? Dikwels loop oortreding van die Tweede en die Derde Gebooie hier hand-aan-hand.
+ Hoe maklik sing ons nie 'n lied van lof of aanbidding nie, terwyl ons gedagtes 'n duisend kilometer weg is – by gistermiddag se rugbywedstryd, of soiets.
Christene vertel nie maklik leuens nie, maar hulle sing dit so dikwels!
Wat van die klakkelose oor-en-oor herhaling van amper-niksseggende koortjies en die naam "Jesus"? Dit gee waarskynlik male sonder tal aanleiding tot misbruik van die Here se Naam.
+ Die platvloerse familiariteit wat so tipies geraak het van baie kontemporêre "worship" is nog 'n voorbeeld van hierdie gebod se oortreding. Die manier waarop dikwels met God gepraat word in sulke kringe, skrei ten hemele.
# Een van die skokkendste maniere waarop die Derde Gebod geweld aangedoen word, kry mens wanneer leuens "in die Naam van die Here" vertel word.
+ 'n Tipiese voorbeeld hiervan word in 1Kon 13 aangetref. 'n Jong profeet word Jerusalem toe gestuur met 'n waarskuwing van die Here aan Koning Jerobeam. Die jongman se opdrag is dan om nie daarná iewers te vertoef nie, maar om dadelik langs 'n ander pad terug te keer huis toe. 'n Ou profeet – seker uitgehonger vir geselskap (en sensasie?), en gewis nuuskierig – hoor van hom, sit hom agterna en nooi hom om te kom oorbly. As die jong profeet weier, sê die ou man vir hom: "Ek is ook 'n profeet net soos jy, en 'n engel het op bevel van die Here vir my gesê: 'Bring hom terug na jou huis toe en laat hy iets eet en Sy dors les!' " (v.18). Dan gaan die Woord voort: "Maar die óú profeet het vir hom gelieg." Die res van die verhaal maak duidelik dat hierdie leuen meegebring het dat die jong profeet hom "teen die Here verset het", en gevolglik God se toorn ontlok het.
+ Ook Jakob oortree die Derde Gebod. As Sy Pa verbaas is dat hy so vinnig 'n bok kon jag en voorberei, antwoord hy: "Die Here u God het my dit laat raakloop" (Gen 27:20) – terwyl hy 'n mak bokkie uit die kudde gevang het. Dit was om die Here God by te trek by sy bedrog.
+ Die praktyk van sogenaamde "profesie" is oral aan die orde van die dag. In talle en talle kerke word mense – selfs kinders – aangemoedig om "op die Here te wag vir 'n woord".
Aan die vraag of sulke praktyke hoegenaand 'n plek in die kerk het, kan ons nie nou aandag gee nie [3]. Maar dít kan sonder vrees vir teëspraak gesê word: iemand wat 'n woord in die Naam van die Here deurgee – as 'n direkte openbaring van Hom – terwyl dit nié die geval is nie, misbruik sonder twyfel die Naam van die Here en pleeg 'n ernstige sonde.
Vals profesie was van die vroegste tye af 'n probleem. Om eie obskure doelwitte met behulp van die Here se Naam na te streef, was nog altyd 'n versoeking waarvoor talle geswig het.
In Jer 14:14 word dit só gestel: "Die profete gee voor dat hulle in my Naam optree, maar Ek het hulle nie gestuur of beveel nie, Ek het nie eens met hulle gepraat nie. Dit is gesigte wat nie bestaan nie, nuttelose waarsêery, dit is bedrog wat hulle versin wat hulle vir julle aanbied as woorde van profete." Die daaropvolgende verse van oordeel onderstreep wat God van soiets dink.
Meeste sogenaamde "profesieë in die Naam van die Here" wat vandag so algemeen voorkom, indien nie almal nie, is presies waarvan Jeremia hierbo praat!
Vergelyk ook Jer 23:33-40 en Eseg 13. Let in laasgenoemde hoofstuk veral op die uitdrukking, "uit hulle eie verbeelding" (v.2, 17), asook op God se heilige verontwaardiging oor die vals profete se bedrog.
Dat sóveel kerke ongeërgd is oor die Derde Gebod se waarskuwing – dat oortreding daarvan nie deur God ongestraf gelaat sal word nie – gaan mens se verstand te bowe. Per slot van rekening was daar in die Ou Testament net één straf vir vals profesie: die dood!
Om gedurig te sê, "die Here het gesê, die Here het gesê", is om met vuur te speel!
Laat ons onthou
ons leef nie meer in Ou Testamentiese tye nie
en ook nie in die tyd van die Nuwe Testament
vóórdat God se Woord – die kanon – afgesluit is nie.
Die Bybel – Ou en Nuwe Testament – wat ons vandag het
is nie nét geïnspireerd nie
dis óók genoegsaam.
'n Slotwoord
# Terwyl die Derde Gebod ook vir ons as gelowiges waarsku om nie met die Here se Naam te smous nie, maar om met die grootste erns en verantwoordelikheid daarmee om te gaan, wil dit ons óók herinner aan ons grootse erfenis in Christus. Aan die hart hiervan lê die feit dat ook óns die Naam van die Here ontvang het – in die besonder die Naam van Jesus Christus.
+ Dit is die Naam – die enigste – waardeur sondaars soos ons gered word (Hand 4:12). Ter wille van Sy Naam en Sy faam – alles wat Hy as persoon gedoen het en steeds doen – word ons sondes vergewe (1Joh 2:12).
+ Ons is met Sy Naam – dus met Homself – verenig. Hy identifiseer Homself dus ten volle met diegene wat met Hom verenig is. Dit kom veral ook in die doopfomule tot uitdrukking (Matt 28:19; Hand 2:38; 8:16).
+ In Sy Naam – op grond van Sy verdienste – het ons die Heilige Gees ontvang (Joh 14:26).
+ In Sy Naam – dus op Sy gesag en op grond van Sy versoeningswerk – kan ons in vrymoedigheid voor die genadetroon van ons Hemelse Vader verskyn (Matt 18:20; Joh 14:13-14; 15:16; 16:23-24; Ef 5:20; Jak 5:14).
+ In Sy Naam het ons volle mandaad om die Woord van God te verkondig (Hand 9:27, 29).
+ In Sy Naam – as Sy verteenwoordigers – kan ons liefdeswerke in hierdie wêreld doen (Matt 18:5; Kol 3:17).
+ Alle gesag wat ons in hierdie gevalle wêreld mag hê is in Sy Naam – en deur Sy krag (Mark 16:17; Hand 3:6; 4:10; 16:18).
+ In Sy Naam – in ons eenheid met Hom – het ons ook die eer om saam met Hom in hierdie gevalle wêreld te ly (Matt 10:22; 24:9; Mark 13:13; Luk 21:17; Joh 15:21; 1Pet 4:14; Op 2:3).
# Die Heidelbergse Kategismus vat die derde gebod kernagtig só saam (Sondag 36):
+ Vraag 99: Wat eis die derde gebod? Antwoord: Ons mag die Naam van God nie laster of misbruik deur te vloek (a), deur 'n valse eed (b) of deur onnodig te sweer nie (c). Verder mag ons nie deur stil te bly of dit toe te laat ons aan sulke verskriklike sondes skuldig maak nie (d). Kortom, ons mag die heilige Naam van God nie anders as met vrees en eerbied gebruik nie (e), sodat Hy deur ons reg bely (f), aangeroep (g) en in al ons woorde en werke geprys word (h). (a) Lev 24:15, 16. (b) Lev 19:12. (c) Matt 5:37; Jak 5:12. (d) Lev 5:1; Spr 29:24. (e) Jer 4:2; Jes 45:23. (f) Matt 10:32; Rom 10:9, 10. (g) Ps 50:15; 1 Tim 2:8. (h) Kol 3:17; Rom 2:24;1 Tim 6:1.
+ Vraag 100: Is dit dan so 'n groot sonde om die Naam van God te laster deur te sweer en te vloek dat God Hom ook oor elkeen vertoorn wat hierdie sonde nie sover moontlik teëgaan en verbied nie? Antwoord: Ja, seker (a), want geen sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering van sy Naam nie. Daarom het Hy ook beveel om dit met die dood te straf (b). (a) Spr 29:24; Lev 5:1. (b) Lev 24:16.
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Hierdie klanklesings is heelwat meer omvangryk as hierdie teks. Ek meen om daarna te luister mag meer betekenisvol en verhelderend wees, as om nét hierdie kernagtige notas te lees.
[2] Ten diepste bly géén sonde ongestraf nie (Eks 34:7, OAV) – nooit word dit eenvoudig oorgesien nie. Óf dit word aan Jesus Christus gestraf, óf aan die sondaar self.
[3] Dis wel wáár dat feitlik alle regsinnige kerke tot 'n geslag gelede al sulke praktyke sondermeer verwerp het – as strydig met die waarheid en leerstuk van die genoegsaamheid van die Woord.