Bybelskoollesings: 1. https://tinyurl.com/2td76ns2
2. https://tinyurl.com/4y3n263f
Die Vierde Gebod
"Gedenk die Sabbatdag deur dit heilig te hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is 'n Sabbat ter ere van die Here jou God. Jy mag geen werk doen nie, nie jy en jou seun en jou dogter, jou slaaf en jou slavin, jou diere en jou vreemdeling wat by jou is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde en die see gemaak, en alles wat daarin is, maar op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en dit geheilig."
Eks 20:8-11 (2020)
Anders as die ander nege gebooie het die Vierde Gebod sowel 'n vertikale (God-gerigte) aksent as 'n horisontale (mens-gerigte) aksent. Dit vorm dus 'n oorgang tussen die eerste drie gebooie (wat vertikaal gerig is), en die laaste ses gebooie (wat horisontaal gerig is).
Die Vierde Gebod het drie bevele – twee positief en een negatief – asook 'n begronding vir die bevele.
Daar is, positief, 'n bevel om die Sabbatdag "te gedenk" ("onderhou") en "te heilig".
# Die Hebreeuse woord vir "om te gedenk" in Eks 20:8 (Heb: zakar) beteken om iets doelbewus te bedink, terwyl Deutr 5:12 se woord "om te hou" (Heb: shamar) beteken om ag te slaan op iets.
Die volk moes dus doelbewus en toegewyd erns maak met hierdie opdrag.
# Die Sabbat moes "geheilig" word (om eenkant of apart te sit). Dit moes dus duidelik onderskei word van ander dae. Dit was dus 'n spesiale dag.
# Die Hebreeuse woord, "shabbath", dui gewoonlik op 'n dag of periode van rus. 'n Nou-verwante woord, shabath, beteken om te weerhou, op te hou, 'n einde te maak aan. Dit laat dus die indruk dat dit hier gaan oor die onderbreking van 'n roetine – om 'n tydperk, ofreeks aktiwiteite, of tydsiklus tot 'n einde te bring, of te onderbreek.
Waarskynlik was dit 'n algemene ding in die antieke wêreld om sikliese rusdae te onderhou. So het die Babiloniërs byvoorbeeld hulle shabbatu of shappatu gehad.
Maar in ou Israel het dit in opdrag van God 'n unieke karakter gehad. Dit was die sewende dag van elke week, en spesifiek aan hulle Verbondsgod gewy.
Volgens Lev 23:3 het dit veral twee fokuspunte gehad: Dit moes 'n dag van rus wees, sonder enige werk. Dit was 'n dag van gewyde byeenkomste. Dit was dus nie 'n dag van onaktiwiteit sondermeer nie.
Op talle plekke praat Jahweh oor Sý Sabbat (Eks 31:13; Lev 19:3, 30; Jes 56:4; Eseg 20:12). Die dag moes gevul word met lof vir die Here (Ps 92). En ekstra offers moes gebring word (Num 28:9-10). En onderhouding van die Sabbat het ingehou eerbied vir die heiligdom (Lev 19:30; 26:2).
# Die Ou Testament gee bykans geen aanduiding van die presiese aard van hierdie gewyde byeenkomste nie.
Volgens 2Kon 4:23 was dit in Elisa se tyd oënskynlik die gebruik dat mense op die Sabbat na sy huis toe gegaan het – waarskynlik vir lering.
As Jesaja die volk bestraf oor hulle huigelagtige aanbidding, is dit duidelik dat offers en gebede – uiteraard verpak in die voorskrifte van die seremoniële wet – ook tipies was op die Sabbat (Jes 1:12-17).
# Daar was ook ander "Sabbatte" in Israel se kalender – godsdienstige feesdae wat vir rus en aanbidding opsygesit is (Eks 12:14-20; Lev 23:4-44). Hierdie dae was meestal nie die sewende dag nie. Maar as dit vir die Here afgesonder was, is dit as 'n Sabbat beskou.
# Deur op een dag per week beslag te lê, wou die Here dit by Sy volk tuisbring dat al hulle dae en tye aan Hom behoort, dat hulle bloot rentmeesters daarvan was, en dat hulle dit in Sy diens en tot Sy eer moes aanwend.
As sodanig sou hulle aan Hom verantwoordelik daarvoor wees.
+ Die tiende-instelling was iets soortgelyks. Deur een tiende van hulle besittings en opbrengs op te eis, het God onderstreep dat Hy regtens die eienaar van alles is.
Daar is, negatief, 'n sterk beklemtoonde verbod op "enige werk" tydens die Sabbat.
# Elkeen was nie net vir homself verantwoordelik nie; hy mag ook niemand binne sy gesagsfeer laat werk het nie – selfs nie sy diere nie.
# Volgens ander Ou Testamentiese uitsprake was hierdie geen ligtelike saak nie. Die volk is selfs nie eers toegelaat om manna op te tel nie (Eks 16:5; 22-30). 'n Man wat gevang is dat hy hout bymekaar maak op die Sabbat is op bevel van die Here gestenig (Num 15:32-36). Dit was presies in lyn met die waarskuwing in Eks 35:1-3.
Hierdie man se doodstraf was deel van die regspleging in terme van die burgerlike wette, en is as sodanig nie meer op ons van toepassing nie.
Dit beteken egter nie dat dit niks meer vir ons te sê het nie. In hierdie tragiese gebeure sien ons iets van God se verontwaardiging oor sonde. Al is die straf vir oortreding van Sy wet in ons tyd nie meer so radikaal en onmiddelik nie, het Sy toorn teen sonde nie afgeneem nie.
# Ook later in die openbaringsgeskiedenis is daar steeds 'n sterk premie op werksonthouding op die Sabbat.
In Jer 17:21-22 word karweiwerk – waarskynlik vir handelsdoeleindes – ten sterkste afgewys. Die verbondsvernuwing in Esra se tyd het ondermeer ingehou dat geen handel op die Sabbat sou plaasvind nie (Neh 10:31; 13:15-21).
# Van die profete maak dit egter duidelik dat die volk baie dikwels nie by die Vierde Gebod se voorskrifte gehou het nie (Hos 2:11; Jes 58:13-15). Nie dat hulle eintlik gewerk het nie; hulle het meer die dag vir plesier en ginnegaap gebruik.
# Hierdie verbod op werk kon nie omseil word deur andere in jou plek aan te stel en só steeds jou winste te maak nie. Selfs diere is uitgesluit.
Enersyds gaan dit dus om 'n hartsgesteldheid wat op die Sabbat volkome op God gerig moes wees.
Andersyds impliseer dit die Here se besorgdheid oor die armes (selfs oor diere!). Ook hulle het 'n fundamentele reg om een dag per sewe te rus. Dit het selfs in die drukste tye gegeld – ploegtyd en oestyd (Eks 34:21).
# In die verbod op Sabbatsarbeid sien ons iets van God se barmhartigheid – aangesien Hy ook op hierdie wyse die vloek van die sondeval (Gen 3:17-19) gedeeltelik verlig.
Het die Here Jesus nie gesê dat die Sabbat vir die mens gemaak is, en nie andersom nie? (Mark 2:27).
Daar is, positief, 'n bevel om alle werk in ses van 'n week se sewe dae te doen.
# Hierdie opdrag veronderstel die arbeidsverordening van Gen 1:26-28; 2:15-16.
Dis belangrik om te onthou dat hierdie verordening dateer uit die tyd vóór die sondeval. Die mens is geskape – ook om te werk. Dit is deel van sy wesensaard. En, aangesien dit 'n skeppingsverordening is, was dit vóór die sondeval 'n voorreg en 'n vervullende plesier.
Die swáárkry wat dikwels aan arbeid verbonde is, is deur die sondeval veroorsaak (Gen 3:17-19).
+ Die implikasie is onontkombaar: As een dag dan afgesonder moet word vir rus en aanbidding, en as dit onderstreep dat díé dag aan die Here behoort, beteken dit dat die ánder ses dae ook in Sy diens aangewend moet word – vir eerbare werk.
As werk op die sewende dag sonde is
is ledigheid tydens die ander ses dae eweneens sondig.
Onderhouding van die Vierde Gebod het nie net met een dag van die week te doen nie; dit is ook voorskriftelik vir die ander ses dae. Dit praat nie net oor rus nie; dit spreek ook ons arbeidsverantwoordelikheid aan. Aanbidding is nie net beperk tot een dag van die week nie; ook ons arbeid moet aanbidding wees – deur dit van harte te doen soos vir die Here.
+ Die weergawes van Eksodus en Deuteronomium gee drie verskillende begrondings vir die Vierde Gebod. Uiteindelik kan mens sê dat die Woord van God drie begrondings vir die Sabbatsgebod aanbied:
= Eerstens, is dit 'n skeppingsverordening.
Eksodus 20 wortel dit in die wyse waarop God Sy skeppingswerk gedoen het.Hý het alles in ses dae gedoen, en op die sewende dag gerus. Hy het die sewende dag onmiddelik ná die skepping geseën en geheilig (Gen 2:1-3).
= Tweedens, is dit 'n verlossingsverordening.
Deutr 5 wortel dit in die feit dat God Sy volk uit Egipte verlos het. Soos met die res van die Dekaloog is gehoorsaamheid aan die Vierde Gebod niks anders nie as dankbaarheidsrespons op die Here se redding. Daarbenewens is een van die Sabbat se hooffunksies om die volk weer en weer te herinner aan hulle grootse verlossing en uitnemende voorregte deur God se genade. Sonder twyfel moes dit een van die dag se hooftemas wees.
= Derdens, is dit 'n verbondsverordening.
Afgesien daarvan dat die Tien Gebooie aan die hart van die Sinaïetiese verbond lê (asook van die verbondsvernuwing in Deuteronomium), word die Vierde Gebod spesifiek weer in Eks 31:12-18 in 'n verbondskonteks geplaas – as 'n ewige verbondsverpligting vir die nageslagte (v.13, 16-17).
Ook Sabbatsonderhouding sou die verbondsvolk dus van die heidennasies onderskei.
# Die Vierde Gebod is as verbondsinstelling veral ook belangrik tydens die ballingskap. Die volk het geen tempel nie, en dis onmoontlik om Jerusalem toe te gaan vir die gereelde aanbiddingsfeeste. Al wat oorbly is onderhouding van die Sabbat daar waar hulle is. Die Here spoor die volk dan ook hierin aan deur die ballingskapsprofeet, Esegiël: "Ek het ook my sabatte aan hulle gegee om vir hulle 'n teken te wees van die verhouding tussen hulle en My, en sodat hulle sou weet dat Ek, die Here, hulle geheilig het" (Eseg 20:12).
Die Here Jesus en die Sabbat
# Dikwels het die Here Jesus ernstig met die Fariseërs en skrifgeleerdes gebots oor die vertolking van die Sabbatsgebod.
Hierin moet sekerlik vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges 'n uiters belangrike boodskap sit – in ons poging om te verstaan wat die Vierde Gebod se implikasies vir óns is. Dit is noodsaaklik dat ons kyk na Sy lewenswyse ten opsigte van die Vierde Gebod, sowel as luister na Sy uitdruklike lering daaroor.
# Wat die Here Jesus se lewenswyse betref, kan mens positief en negatief daarna kyk:
+ Positief was dit Sy gewoonte om op die Sabbatdag na die sinagoge te gaan (Luk 4:16). En soos die geleentheid hom voorgedoen het, het Hy ook daar lering gegee – ten minste in Nasaret (Mark 6:2; Luk 4:16-30) en Kapernaum (Mark 1:21-29; Luk 4:31-38;vgl.lyk Luk 6:6; 13:10).
Die sinagoge het waarskynlik tydens die ballingskap as plek van aanbidding ontstaan, en Luk 4:16 en Hand 13:14-41 gee mens 'n idee oor wat daar gebeur het tydens so 'n byeenkoms.
'n Gedeelte is uit die Wet en die Profete gelees, waarna 'n oop geleentheid gegee is om uit die vuis daaroor te preek. Van hierdie kans het die Here dikwels gebruik gemaak (en natuurlik ook die apostels ná Hom).
Wanneer Hy in Jerusalem was, het Hy ook gereeld die tempel besoek; trouens, "dag vir dag" daar lering gegee (Matt 26:55; Mark 14:49; Luk 19:47; Joh 18:20).
+ Negatief het Jesus die Fariseërs en skrifgeleerdes se wettiese vertolking van die Sabbatsgebod gereeld geïgnoreer en selfs doelbewus oortree, asook Sy dissipels toegelaat om dit te doen (Mark 2:24).
= Die Joodse Sabbatsvoorskrifte in Nuwe Testamentiese tye was iets wat mens vandag beswaarlik kan glo.
Die Mishnah was 'n opsomming van alle mondelinge tradisies en oorleweringe sedert die ballingskap. Hierin het die rabbi's gepoog om die praktiese implikasies van die wet tot in sy fynste besonderhede uit te spel. In die proses is die grens tussen die vergesogte en die belaglike dikwels oorgesteek.
Wat die Sabbat betref, word nie minder nie as 39 soorte werk verbied. So, byvoorbeeld, is twee naaldwerksteke en die skryf van twee letters as buite perke beskou (terwyl één in elke geval as in orde beskou is). Ook die dra van 'n voorwerp, en die aansteek of blus van 'n vuur, is as oortreding van die gebod beskou.
= Hierteenoor laat Jesus Sy dissipels – strydig met die voorskrifte van die Mishnah – toe om op die Sabbat graan te pluk as hulle honger is (Matt 12:1-8).
Voorts genees Hy talle mense op die Sabbat – tot ontsteltenis van die Jode: 'n man met 'n gebreklike hand (Mark 3:2-5); 'n inmekaargetrekte vrou wat agtien jaar lank siek was (Luk 13:11-17); 'n man met water (Luk 14:2-4); 'n man wat agt-en-derig jaar lank siek was (Joh 5:5-9); 'n blind-geborene (Joh 9:1-41).
As die Jode Jesus veroordeel, beskuldig Hy hulle van huigelagtigheid. Hulle sou immers nie huiwer om 'n bees of 'n donkie op die Sabbat los te maak en te laat drink nie – maar as Hy 'n dogter van Abraham bevry van Satansbande, verkwalik hulle Hom dit! (Luk 13:15-16). Hulle sou ook sonder om 'n oog te knip 'n dier wat in 'n put geval het op die heilige dag bevry – maar as Hy iets doen aan die lot van 'n mens wat in 'n veel meer bedenklike toestand verkeer, neem hulle aanstoot! (Matt 12:11-12; Luk 14:5). En as iemand op 'n Sabbat besny kan word omdat dit kwansuis die Sabbatdag is, kan 'n sieke mos ook gesond gemaak word (Joh 7:23). Les bes, as hulle groot held, Koning Dawid, sy honger met offerbrood kon stil, en as priesters op die Sabbat in die tempel kon werk, wat kan daarmee verkeerd wees as Sy dissipels so in die loop koringare afpluk om te eet? (Matt 12:1-8).
Die vierde gebod en die Nuwe Testament
# Wat die Here Jesus se lering betref, noem Hy nooit die Vierde Gebod by name nie, maar aan die tema gee Hy baie aandag.
+ Die Here het indirekte lering oor die Vierde Gebod gegee.
= Hy endosseer die voortgaande geldigheid en relevansie van die Dekaloog in die allerduidelikste terme. Die bergrede word grootliks beheers deur Matt 5:17-20, waarin Hy ondermeer sê dat nie een letter of letterstrepie van die wet ooit sal wegval nie. En die res van die hoofstuk maak dit onteenseglik duidelik dat Hy oor die Tien Gebooie praat. Uiteraard moet hierdie uitspraak per implikasie ook die Vierde Gebod dek. Dit sou flagrante inkonsekwentheid wees om te huldig dat dit uitgesluit is. Die Dekaloog is 'n eenheid en bestaan uit tien gebooie, nie uit nege nie.
= As 'n skrifgeleerde Jesus vra na die "heel grootste gebod" (Mark 12:28-34), antwoord Hy deur die Shema aan te haal (Deut 6:4-5) as die "eerste" groot gebod, en Lev 19:18 as die "tweede" groot gebod. Die Shema is 'n neutedop-samevatting van die sg. eerste tafel van die Tien Gebooie – die gebooie wat God-gerig is, en gevolglik die Vierde Gebod insluit. Die Vierde Gebod is dus ook vir ons doel van die eerste en heel grootste gebod.
+ Jesus se direkte en eksplisiete lering oor die Sabbat is ewe insiggewend. Veral drie van Sy uitsprake oor die Sabbat is vir ons doel van groot belang.
= In Matt 12:8 sê Jesus dat Hy Here oor die Sabbat is (vgl. ook Mark 2:28; Luk6:6). Hy het dus soewereine heerskappy daaroor – en het gevolglik volle mandaat om vir en deur sy dissipels te toon wat die essensiële beginsels en doel daarvan is. Hy het volle reg om – soos Hy dit mag nodig ag – enige Rabbynse, en selfs Ou Testamentiese voorskrifte daaroor, aan te pas.
Soos wat later sal blyk, is daar, benewens die kontinuïteit, ook 'n beduidende diskontinuïteit tussen die Ou Testamentiese Sabbat en die Nuwe Testamentiese "Dag van die Here".
= In Mark 2:27 sê Jesus dat die Sabbatdag vir die mens gemaak is en nie die mens vir die Sabbatdag nie. Dit is dus 'n Goddelike instelling tot voordeel van die mens. Nooit was die gedagte dat die Sabbat gehou moes word ter wille van die Sabbat self nie. Die Jode se wettiese voorskrifte het egter daarvan 'n mensonderdrukkende tiran gemaak.
Die Here se uitspraak is volkome in pas met die Ou Testamentiese idee van die Sabbat. Van die begin af was dit 'n dag van verkwikking vir die mens – 'n dag van asem-skep (Eks 23:12) – nie net vir base nie, maar ook vir die geringstes in die samelewing. En hierin moes die volk hulle God navolg (Eks 31 :17, OAV). Daarbenewens was dit 'n dag van feesviering oor God se groot verlossingsdade. Beswaarlik moes die dag dus 'n onderdrukkende karakter hê.
Nee, die Here wil hê die Sabbat moet 'n verlustiging en vreugde vir Sy kinders wees (Jes 58:13). En die uitbundigheid daarvan word in Ps 92 beskryf: "'n Lied vir die Sabbatdag."
= In Matt 12:12 sê Jesus dat mens op die Sabbatdag mag goed doen (vgl. ook Mark 3:4; Luk 6:9). En in Matt 12:7 sê Hy in die konteks van 'n gesprek oor wat op die Sabbat toelaatbaar is al dan nie, dat God barmhartigheid verwag, en nie offers nie. By uitnemendheid word hierdie beginsel natuurlik tuisgebring deur Sy talle genesings op hierdie dag.
# Uit bogemelde is dit duidelik – soos uiteraard te wagte – dat die Here Jesus se optrede en lering oor die Sabbat in volkome harmonie is met Ou Testamentiese openbaring. Dit is nuttig om die kernpunte daarvan op hierdie stadium op te som:
+ Die Sabbat is 'n genadegawe van God tot heil van Sy volk.
Dit is 'n dag van feestelike dankbaarheid oor God se groot verlossingsdade. En dis 'n dag van rus vir almal – om die swaar las van die arbeidsvloek ná die sondeval ietwat te verlig. Dis 'n dag van verfrissing, 'n blaaskans-dag. Inderdaad is dit 'n dag vir die mens!
Dis dan ook waarom Jesus so radikaal standpunt ingeneem het teen die wettisisme van die Fariseërs en skrifgeleerdes, wat van die dag iets versmorends en onderdrukkends gemaak het.
+ Die Sabbat is 'n dag van aanbidding.
Onteenseglik het Christus in Sy volmaakte gehoorsaamheid aan Sy Vader die dag só gebruik – presies in lyn met die Ou Testamentiese voorskrifte in hierdie verband.
+ Die Sabbat is 'n dag vir goeie werke.
Nadat Hy die man by die bad van Betesda op 'n Sabbat genees het, en die Jode Hom daaroor kwalik geneem het, sê Jesus in Joh 5:17: "My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook." Nooit het Hy die rusdag as 'n dag van onaktiwiteit beskou nie.
+ Jesus Christus is Here van die Sabbat, en as sodanig het Hy soewereine gesag om in terme van die Nuwe Verbond die verstellings aan die Vierde Gebod aan te bring wat Hy mag nodig ag.
Die Nuwe Testament stroop die Vierde Gebod dan ook van al sy seremoniële komponente – soos dit ook gebeur het met sekere van die ander gebooie. 'n Verandering wat uitstaan m.b.t. hierdie gebod, is die verskuiwing daarvan vanaf die sewende dag na die eerste dag van die week (waaraan ons weldra aandag gee).
Al hierdie veranderinge, wat al die gebooie betref, het te doen met die feit
dat die verlossingsplan van God
en Sy besondere openbaring aan die mens in Jesus Christus
tot vervolmaking gekom het
en dat Sy werk die heerlikhede van die Nuwe Verbond laat oopblom het.
Van Sabbat tot Sondag
# As dit gaan oor die Nuwe Testamentiese toepassing, is daar oor geeneen van die tien gebooie soveel kontrovers as oor die Vierde Gebod nie. Tyd laat ons nie toe om na alles te kyk nie, nie naastenby nie. Maar voordat ons tot 'n slotsom kom, moet ons minstens na twee sake kyk.
+ Enersyds is daar 'n stuk of drie Nuwe Testamentiese uitsprake wat volgens sommige daarop wys dat die Vierde Gebod geen relevansie meer vir ons het nie.
+ Andersyds is daar die vraag waarom die vroeë kerk op die eerste dag van die week begin bymekaarkom het, in plaas van die sewende dag.
# Wat eersgenoemde kwessie hierbo betref: nêrens in die Nuwe Testament word uitdruklik gesê dat die Vierde Gebod steeds op Christene van toepassing is nie. Trouens, drie van Paulus se uitsprake gee aan sommige die indruk dat hy hom sterk daartéén uitgespreek het.
+ Die eerste uitspraak is Rom 14:5: "Vir die een is een dag belangriker as die ander dae; vir 'n ander is alle dae ewe belangrik." Sommige sê dit gaan hier oor die Sabbat soos ons dit in die Vierde Gebod ken.
In die konteks (14:1-4) gaan dit oor eet of nie eet nie – en waarskynlik oor die vraag of spesifieke dae opsygesit moet word daarvoor. Paulus sê dan dat dit hoegenaamd nie saak maak nie; die een benadering is so goed soos die ander. Daarom moet gelowiges nie mekaar se standpunte en praktyke afskiet nie.
Dit gaan hier dus oor die seremoniële verbond; allermins oor die Vierde Gebod.
+ In Gal 4:10 verwyt Paulus die Galasiërs dat hulle aanhou om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Hier is sy trant baie skerper as teenoor die Romeine in die vorige vers waarna ons gekyk het. En as mens begryp waarom dit hier gaan, begryp jy die rede.
Die Galasiërs is onder invloed van die Judaïste se dwaling – naamlik dat onderhouding van Ou Testamentiese seremonies saam met die verdienste van Christus noodsaaklik is vir redding. As mens dan na Gal 4:10 kyk, besef jy dat "dae" sekerlik verwys na spesiale Joodse Sabbatte (en dalk ook na die weeklikse Sabbat, Ou Testamenties gevier); dat "maande" en "feesgeleenthede" slaan op sekere Ou Testamentiese feeste, soos die Nuwemaansfees (Num 10:10, OAV; 28:11-13), die Paasfees, die Pinksterfees ensovoorts; en dat "jare" betrekking het op die Sabbats- en jubeljaar.
Die apostel spreek hom dus hier uit teen 'n terugkeer na Ou Testamentiese praktyke – praktyke wat in Christus vervul is, of 'n nuwe betekenis gekry het. En hy praat met al die erns waaroor hy beskik, aangesien die suiwerheid van die evangelie en die redding van sy lesers op die spel is.
Weereens geen uitspraak oor die handhandhawing van die morele aspekte van die Vierde Gebod nie.
+ In Kol 2:16-17 waarsku Paulus die gemeente om hulle nie te laat intrek onder 'n Ou Testamentiese juk nie. Hulle moet wegbly van Joodse seremonies wat net skaduwees was van die werklikheid wat in Christus sou kom. Spesifiek noem hy dinge soos diëetwette, godsdiensfeeste en Joodse Sabbatsonderhouding – met sy menigte rabbynse voorskrifte.
In Kolosse was die situasie ietwat anders as in Galasië. Belangrik vir ons doel is om te verstaan dat ook hierdie dwaling die Kolossense wil beroof van hulle vryheid in Christus en dreig om die evangelie te verwring. In elk geval gaan dit ook nie hier oor die handhandhawing van die morele aspekte van die Vierde Gebod nie.
# Wat laasgenoemde kwessie hierbo betref: daar is geen uitdruklike Nuwe Testamentiese bevel om spesifiek Sondag – die eerste dag van die week – in terme van die Vierde Gebod te vier nie. Maar ons het wel die voorbeeld van die apostels – Christus, die Here van die Sabbat, se gevolmagtiges. Die Christelike kerk het nog altyd aanvaar dat apostoliese praktyke (in die Nuwe Testament beskryf) net sonormatief is soos apostoliese bevele.
+ Die Here Jesus het op die eerste dag van die week opgestaan uit die dood (Matt 28:1; Mark 16:2, 9; Luk 24:1; Joh 20:1). Daardie aand verskyn Hy die eerste maal aan Sy dissipels – en weer agt dae later, nógeens dus op die eerste dag van die week (Joh 20:19-25; 26-29).
+ Voorts val Pinkster, die dag na die Pasga-Sabbat (Lev 23:15-16), weereens op die eerste dag van die week.
# Dis dus glad nie verrassend dat hierdie dag vir die vroeë kerk gestaan het vir versoening, verlossing in Christus en Sy stuur van die Heilige Gees nie. Spoedig het hulle dan ook – diep onder die indruk van die volheid van die Nuwe Verbond in Christus, asook van die onoorbrugbare kloof tussen die Nuwe Testamentiese gemeente, enersyds en die ongelowige Jode en hulle seremonies, andersyds – hierdie eerste dag, die opstandingsdag, begin vier as die een in sewe om aan die Here hulle God te wy.
+ Daarom lees ons dat die dissipels, in die latere ontwikkeling van die vroeë gemeente, op 'n Sondag bymekaargekom het vir die viering van die nagmaal (Hand 20:7). Ook 1Kor 16:2 suggereer dat hulle elke Sondag bymekaargekom het. Uiteindelik vind ons die apostel Johannes op Patmos in aanbidding op "die dag van die Here" (Op 1:10) – sonder twyfel die eerste dag van die week.
# Waarom het hulle dit "die dag van die Here" genoem?
+ Dit was die dag van Christus se opstanding – by uitnemendheid die dag van Sy triomf.
= Vroeg reeds in die tweede eeu kom talle uitsprake in die kerk se geskrifte voor dat die gemeente op die eerste dag van die week bymekaargekom het.
+ Die opgestane Here het self (as Here van die Sabbat) die inisiatief hierin geneem deur meer as eenkeer op die eerste dag van die week aan Sy dissipels te verskyn, en deur Sy Heilige Gees op hierdie dag uit te stort.
+ Die apostels (as die Here se gevolmatiges) het die praktyk in die vroeë kerk gevestig. Sekerlik het hulle 'n paar beweegredes gehad.
Terwyl hulle niks wou inboet wat hulle essensiële Ou Testamentiese en Joodse wortels betref nie, het hulle toenemend onder die indruk gekom van die noodsaak om hulle af te skei van Joodse wettisisme wat die verlossing en vryheid in Christus misken het en dit, trouens, wou versmoor.
+ Die apostels het baie goed begryp dat, terwyl die sewende dag gestaan het vir dit wat verouder en vervul was, die eerste dag wonderlik laat reg geskied aan die sentrale waarhede van die Nuwe Verbond.
Dis die opstandingsdag – die dag wat Christus se kruisverdienste finaal verseël het.
Dis die dag van die Vader se publieke proklamering dat Hy die Seun se offer aanvaar het.
Dis die dag waarop die groot verlossingswerk onomkeerbaar bewerkstellig is.
Dis die dag waarop die tweede mens, die laaste Adam Sy verskyning gemaak om te toon dat die nuwe skepping in Hom tot vervolmaking gekom het.
As die Sabbat dan teruggewys het na die daarstelling van die skepping
staan die dag van die Here vir vir die daarstelling van die nuwe skepping.
En, les bes, moes die apostels sekerlik verstaan het dat die Vierde Gebod gaan oor een dag in sewe, en dat die verskuiwing van die dag die gebod nie wesentlik sou aantas nie.
# In Jes 58:13 word na die Sabbat as "die heilige dag van die Here" verwys. Waarskynlik het die dissipels ook hierdie konneksie gemaak, om daarmee te onderstreep dat hulle hoegenaamd nie wegbeweeg het van die Vierde Gebod se essensie nie.
Kontinuïteit en diskontinuïteit
# Hoewel die Nuwe Testamentiese viering van die dag van die Here ingrypend wegbeweeg van Ou Testamentiese Sabbatsonderhouding, is daar tog ook genoeg ooreenkomste om te sê dat dat die Nuwe Testamentiese gemeente steeds die Vierde Gebod gehandhaaf het. Wesentlik is niks daarvan afgewyk nie.
Terwyl daar dus onmiskenbare diskontinuïteite tussen die twee is, is die kontinuïteite steeds sterk genoeg om ons te vrywaar van die aanklag dat ons net nege van die tien gebooie huldig.
+ Beide dae het 'n baie spesiale karakter – 'n feestelike karakter.
Die Sabbat het die Ou Testamentiese verbondsvolk herinner aan God se skeppingswerk, sowel as aan Sy grootse verlossingsdade.
Die dag van die Here herinner die Nuwe Testamentiese gemeente aan Sy herskeppingswerk, sowel as aan Sy heerlike verlossing deur 'n opgestane Middelaar.
+ Beide dae word gekenmerk deur dieselfde fokuspunte: rus, aanbidding en goeie werke.
Sondagsheiliging en -ontheiliging
# Hier moet ons waak teen dieselfde twee dwalinge wat ons in die Bybel aantref – en wat dwarsdeur die kerkgeskiedenis weer en weer kop uitgesteek het.
+ Die versoeking is altyd daar om die dag te gebruik in eiebelang ("om vragte handelsware deur die stadspoorte te dra") of vir selfbevrediging (om in plaas van sinvolle en opbouende rus, te verval in leeglêery en plesierjagtery).
+ Enigeen wat erns maak met die Vierde Gebod loop gevaar om – soos die Jode – voorskriftelik te raak oor moets en moenies. Sulke wettisisme versmoor die feestelike karakter van die gebod.
# Ons moet doelbewus en planmatig die dag van die Here vul met dit waarvoor dit bedoel is – presies in lyn met wat ons reeds gesien het.
+ Dis 'n rusdag.
As ons waarlik die ander komponent van die Vierde Gebod nakom – naamlik om vir ses dae met ywer en toewyding te werk, van harte soos vir die Here – sal hierdie geleentheid om jou batterye te herlaai, week na week ervaar word as 'n wonderlike genadegawe uit die hand van ons Hemelse Vader. Dit gaan dus nie oor leeglê en "slegwees" nie; dit gaan oor konstruktiewe heropbou. Die rus wat die Here vir ons gun en van ons eis – ook die van ons werkers – is nie 'n doel op sigself nie; dit is 'n middel tot 'n doel. Daar is nie net 'n uitputtende week agter my nie, daar lê ook 'n veeleisende week van roepingsvervulling voor my.
+ Dis 'n aanbiddingsdag.
Hoe goed is die Here nie vir ons om 'n dag vir ons af te sonder waarop ons, vry van die week se gedruis, rustig met Hom in ons binnekamers te kan verkeer nie.
Nog meer, vir elke ware gelowige is die voorreg om weer saam met sy broers en susters "in die heiligdom in te gaan", 'n hoogtepunt in sy weeklikse skedule.
Hier is dus beide 'n individuele én 'n korporatiewe komponent.
+ Dis 'n dag vir goeie werke.
Meeste Christene is frustrerend besig van Maandae tot Saterdae. Tyd vir uitreiking na diegene in nood is skraps. Goeie werke is immers vir geen Christen opsioneel nie.
# Elkeen wat werklik sy of haar Sondag vul met dié dinge waarvoor dit bedoel is, sal beswaarlik tyd hê vir enigiets anders. Afgesien dat moets en moenies benede ons waardigheid as Christene is, sal allerlei "Sondagkwessies" uiters van akademiese belang vir ons wees.
Nee, die dag van die Here is so 'n stuk kosbaarheid uit die hand van ons Hemelse Vader, dat ons dit soos 'n kosbare kleinood bewaar teen die aandrange van die sondige vlees en die God-vyandiggesinde wêreld.
Ons koop die tyd uit
Ons werk terwyl dit dag is
Ons versamel loon vir die ewige lewe
Ons belê in die hemel
En allermins mors ons die dag van die Here op dit wat minderwaardig is!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev