Bybelskoollesings: 1. https://tinyurl.com/4jdzr8yj 2. https://tinyurl.com/mrxcruyz
Eks 20:12; Deut 5:16
(Byvoegings in Deuteronomium in kursief)
"Behandel jou vader en jou moeder met eerbied
(soos die Here jou God jou beveel het),
sodat jy lank kan leef
(en sodat dit met jou goed kan gaan)
op die grond wat die Here jou God vir jou gaan gee."
(2020)
Formeel
# Hierdie gebod is positief geformuleer en plaas die gesin sentraal in die sosiale ordening van die samelewing.
Voorts word dit in algemene terme geformuleer, wat impliseer dat dit deur die bank geld. Mens ontgroei dus nooit die verantwoordelikheid wat hierdie gebod op elke individu plaas nie.
# Die Hebreeuse woord wat met "behandel met eerbied" (2020; OAV: om te eer) vertaal word, se wortelbetekenis is gewig. Om 'n persoon dus te eer, is om hom of haar as iemand van gewig te behandel. Die begrip is algemeen in die Ou Testament. Dit wys altyd op die eer wat 'n persoon van besondere persoonlike waardigheid toekom.
Die teenoorgestelde begrip – om te minag – sou gevolglik inhou om iemand as 'n liggewig, as 'n nikswerd te behandel – as minderwaardig. Meermale word kinders in die Ou Testament gewaarsku om nie hulle ouers te vloek nie (Eks 21:17; Lev 20:9; Spr 20:20; 30:11). Die woord wat met "vloek" vertaal word, impliseer basies dat iemand behandel word asof hy of sy onbehoorlik, afstootlik en veragtelik is.
+ Sonder twyfel het dit ook onderwerping ingehou aan die gesag van die persoon wat geëer word. Die vader was die hoof van 'n huishouding, en die moeder sy gevolmagtigde oor die kinders. Kinders wat dus nie aan hulle gesag onderdanig was nie, was in rebellie. En die erns daarvan word onmiskenbaar in Eks 21:15, 17 en Deut 21:18-21 onderstreep, waar dit strafbaar met die dood gemaak word.
+ Let op dat hierdie straf nie oor 'n jong kind uitgemeet word nie, maar oor een wat al tot sy verstand gekom het. In Deut 21:20 word immers gepraat van iemand wat "roekeloos en 'n drinker" is.
+ Dieselfde woord word gebruik om die respek wat ons as mense vir God moet hê uit te druk. Mal 1:6 is insiggewend in hierdie verband: "'n Seun eer die vader, en 'n kneg sy heer. As Ek dan 'n Vader is, waar is my eer? En as Ek 'n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die Here van die leërskare ..." (OAV).
Die respek wat die Vyfde Gebod van kinders vir hulle ouers verg, is dus van dieselfde aard as dié wat mens vir God moet hê.
+ Die parallelle gebruik van die woord, "vrees", in Lev 19:3: "Elkeen moet sy moeder en sy vader vrees, en My sabbatte hou. Ek is die Here julle God", maak dit duidelik dat hierdie gebod van gewigtige respek praat, van 'n ontsag vir die ouers.
# Bogenoemde laat die besliste indruk dat die Vyfde Gebod nie bloot mens-gerigte – of horisontale – implikasies het nie, maar dat dit ook God-gerig is. Ouers is God se verteenwoordigers, en daarom kom ons ontsag vir God ook tot uitdrukking in ons respek vir ons ouers – en alles wat dit inhou.
Omgekeerd, iemand wat sy ouers gering ag, bedrieg homself as hy dink hy eer God soos hy moet.
Hier lê die ware begronding vir die skrikwekkende gestrengheid waarmee oortreding van die Vyfde Gebod in ou Israel beantwoord moes word.
Dis ten diepste 'n minagting van God!
# Verskeie gedeeltes in Spreuke onderstreep die respek wat ouers toekom. Byvoorbeeld: "Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind; en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie" (24:22). En: "Die oë van 'n man wat met sy vader spot en vir wie dit benede hom is om sy moeder te gehoorsaam, sal uitgepik word deur die kraaie, opgevreet word deur die roofvoëls" (30:17).
Let op dat vader en moeder beide kere in dieselfde asem genoem word. In Spr 23:22 word spesifiek veragting van die moeder in haar ouderdom verbied.
# Die Vyfde Gebod het nie nét ten doel om gesinsverhoudinge en -waardes reg te hou nie; dit het ook gegaan oor die oordra van verbondswaarheid en -geloof. 'n Israelietiese kind is immers in 'n gesin en gemeenskap ingebore, wat deel was van die verbondsvolk.
Die gesin was die primêre opvoedingskring. Gevolglik het ouers – sowel vader as moeder – 'n groot verantwoordelikheid gehad om hulle kinders te leer en om verantwoordelike burgers van die teokratiese verbondsvolk te wees.
# Dit was veral die pa se taak om die meer opgeskote seuns te hanteer, terwyl die ma meer betrokke was in die dogters se lewens. Die pa was egter nie sonder 'n rol wat die meisiekinders betref nie; en die ma nie onbetrokke by die seuns nie.
In elk geval het die vader – as hoof van die huis – die primêre verantwoordelikheid gedra vir al die kinders. Sowel die kinders as hulle ma moes hom aanspreek as "Ba'al" – wat meester of besitter beteken.
# Die opvoeding van kinders is deur die ouers in ou Israel ook deels aan andere toevertrou. So onderrig die wyse van die Spreukeboek die jongmense in praktiese lewenswysheid. Hy noem homself "vader" en spreek sy leerling as "seun" aan (Spr 1:8, 10; 2:1; 3:1-2; 4:1-4,10 ens.).
# Terwyl 'n hegte gesinsband binne die ordes van God gewis die beste manier is om goeie waardes van een geslag na 'n ander oor te dra, sit daar geen vanselfsprekende waarborg in nie.
Soos vandag het talle godvrugtige gesinne destyds hulle swartskape opgelewer. Dawid het sy Absalom gehad, Eli die niksnutse Hofni en Pinehas (1Sam 2:12, 22-26; 3:11-18), en Samuel sy Joël en Abia (1Sam 8:15).
En, soos vandag, het talle mense ook tóé vanuit haglike huislike omstandighede die Here leer ken en dien. Die bekendste geval is dalk die heidensgebore Rut – wat besondere respek teenoor haar skoonma betoon het: "... waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê 'n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei." (Rut 1:16-17).
# Die Vyfde Gebod sluit af met 'n belofte: "... dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee."
+ In die oorspronklike taal kan hierdie ook as 'n redegewende sin vertolk word: met die doel, of sodat jy lank sal woon in die land. Die apostel Paulus sien dit egter as 'n belofte (Ef 6:2), en so sal ons dit hanteer.
+ Die belofte is selfs meer uitgebreid in Deut 5:16: Jy sal 'n lang lewe hê en dit sal met jou goed gaan in die land wat die Here gee. Dis dus 'n dubbele belofte: sowel 'n lang lewe, as voorspoed.
In Ef 6:2 haal Paulus beide hierdie dele van die belofte aan.
+ Sonder twyfel was die strekking van die belofte in sy oorspronklike konteks dat die verbondsvolk se verblyf in die beloofde land en hulle voorspoed daar, grootliks sou afhang van hulle gehoorsaamheid aan die Vyfde Gebod.
Indien die gesinslewe – die hoeksteen van hulle maatskaplike lewe – volgens die ordes van die Here sou funksioneer, en as elke geslag die vorige sou bly eer, sou hulle van krag tot krag vorder. Maar indien dit nie gebeur nie, sou hulle volkslewe, asook hulle welvaart in die land van melk en heuning, spoedig verkrummel. Dan sou die heidenvolkere rondom Israel kort voor lank die land beset en die volk in slawerny en ellende dompel.
+ Hoe moet die belofte van 'n lang lewe vertolk word?
= Hierdie belofte moet primêr korporatief verstaan word. 'n Samelewing wat volgens God se ordes leef, sal 'n hoër gemiddelde ouderdom hê. Waarom? Die Here se seën – en die gepaardgaande voorspoed – skep eenvoudig gunstige lewensomstandighede.
Nog meer, destyds se lae lewensverwagting het deels te doen gehad met die talle oorloë en die baie mense wat veral aan die verloorkant uitgemoor is.
Uiteraard, hoe beter dit met 'n volk gegaan het, hoe minder het dit gebeur.
= Wat die individuele toepassing betref, hou hierdie belofte inderdaad betekenis in, hoewel dit nie absoluut verstaan moet word nie.
Weliswaar is 'n lang lewe in ou Israel vertolk as 'n teken van God se seën. Salomo het byvoorbeeld die belofte gekry dat hy lank sou lewe indien hy volgens God se voorskrifte leef (1Kon 3:14). Maar dit beteken gewis nie dat elkeen wat die Here behaag het, lank geleef het nie. En ewemin beteken dit dat 'n vroeë dood gedui het op God se toorn.
Abia, byvoorbeeld, was die enigste van Jerobeam se seuns in wie die Here iets goeds gevind het – en tog het hy jonk gesterf (1Kon 14:13 en konteks).
Die vroom koning, Josia, het relatief jonk gesterf, sodat hy nie al die komende onheil oor die volk sou beleef nie (2Kon 22:20. Vgl. ook Pred 4:1-2).
Ons het eenvoudig nie al die antwoorde op al die vrae van die lewe nie. Alreeds Job het geworstel met die vraag waarom goddeloses dikwels in welvaart oud word (Job 21:7, 13). Ook die Psalmdigter (Ps 73:1-12; 92:8).
+ Maar tog moet ons hierdie belofte nie geringskat nie. Aanvaarding van ouers se advies en uitlewing van ouer mense se wysheid, hou onberekenbare waarde in. Die wysheid gee immers "met die een hand 'n lang lewe en met die ander rykdom en eer" (Spr 3:16). Die Spreukeboek praat baie oor dié tema. Dit waarsku oor en oor teen die gevare eie aan hierdie lewe, teen die dinge wat 'n jongmens maklik sy lewe kan kos (2:22; 5:22-23; 6:12-14; 11:21). Dit maan teen vriendskap met geweldenaars (1:10-16) en teen verleidelike, immorele vrouens (en omgekeerd per implikasie, mans) (2:16-18; 7:26-27), omdat dit mens kort voor lank in allerlei intriges intrek wat jou jou lewe kan kos.
Daarenteen, sê Spreuke, is insig 'n bron van lewe (16:22), en gehoorsaamheid 'n pad na die lewe (12:28). Geregtigheid red inderdaad van die dood (10:2; 11:4).
Daar is dus 'n sekere verband tussen respekvolle aanvaarding van ouers se wysheid, en lewensduurß. Dis waarom ouers vandag hulle kinders leer om weg te bly van miergif en besige strate en dwelms en perversiteit.
# Soos in die geval van die ander gebooie – en volledig in pas met die proloog – het handhawing van die Vyfde Gebod met vryheid te doen.
Dit word goed geïllustreer in Deut 6, waar dit juis gaan oor ouers se oordrag van wysheid en kennis na hulle kinders. Veral moes die kinders op die hart gedruk word dat ál die Here se gebooie onderhou moes word. Dit sou dan lei tot vrae by die kinders: "Wat beteken die verordeninge en die voorskrifte en die bepalings wat die Here ons God vir u gegee het?" (6:20). Die antwoord op hierdie vrae moes dan altyd begin met 'n vertelling oor die Here se groot verlossingsdade (6:21-23). En dan moes die slotsom wees: "Die Here het ons beveel om volgens al hierdie voorskrifte te lewe en om die Here ons God te dien, sodat dit altyd goed kan gaan met ons en sodat ons kan bly lewe soos dit nou die geval is" (6:24).
Voorop was dus die evangelie van verlossing en vryheid; daarna die geheim om die vryheid en seën te behou.
Sonder twyfel het die verbondsvolk se welsyn ten nouste saamgehang met hulle gehoorsaamheid aan die gebooie deur die geslagte. Israel het sy vryheid en voorspoed behou solank die kinders hulle ouers se raad gevolg het!
# Die Vyfde Gebod strek wyer as die huisgesin. Daar was ook andere in ou Israel wat gerespekteer moes word.
+ Volgens Lev 19:32 (OAV) moes Israeliete (alle) ouer mense respekteer en opstaan in die teenwoordigheid van (alle) bejaardes.
+ Hulle het ook besondere respek betoon aan wyse leraars – en moes hulle dikwels "vader" noem.
As Elisa sy leermeester, Elia na die hemel sien opvaar, roep hy uit: "My vader, my vader ..." (2Kon 2:12). As Elisa later self op sy sterfbed lê, besoek Koning Joas hom, en sê al huilende "My vader, my vader ..." (2Kon 13:14).
Vergelyk ook Jes 22:21 en konteks.
+ Konings en ander gesagsdraers moes geëer word. 'n Goeie voorbeeld is die van Dawid, wat Saul deurgaans as "die gesalfde van die Here" gerespekteer het – selfs toe dié hom totaal onverdiend soos 'n dier in die woestyn gejag het.
En toe Saul sterf, het Dawid die "dogters" van Israel laat kom om oor hom te huil (2Sam 1:24).
Nuwe Testamentiese bevestiging van die vyfde gebod
# Natuurlik is die Vyfde Gebod ingesluit in die Here Jesus se endossering van die Dekaloog. Maar Hy het dit ook spesifiek vermeld en uitgeleef.
Jesus en die res van die Nuwe Testament se voorbeelde en leringe
# As die ryk jongman vir Jesus vra hoe om die ewige lewe te verkry, lei die Here hom heel eerste na die Tien Gebooie toe – gewis met die doel om hom van aangesig tot aangesig met sy eie verdorwenheid te plaas. In die proses haal Hy ondermeer die Vyfde Gebod aan (Matt 19:18-19; Mark 10:19; Luk 18:20).
# By 'n ander geleentheid word Jesus beskuldig dat Hy Sy dissipels toelaat om met ongewaste hande te eet – strydig met die tradisies (Matt 15:1-2). Die Here wys hulle dan daarop dat die tradisies ondergeskik is aan God se wet. Maar húlle keer die orde om en doen die wet in die proses geweld aan.
So, byvoorbeeld, oortree hulle die Vyfde Gebod as hulle hul materiële verpligtinge teenoor hulle ouers systap deur dit as offergawe vir God te gee (Matt 15:3-9; Mark 7:9-13).
Natuurlik wil die Here Jesus nie hier sê dat mens nie vir God hoef te gee as jy vir jou ouers gee nie. Nee, die Jode se dwaling was dat hulle nie vir beide – én God én hulle ouers, wou gee nie.
+ Hier lê die Here onontkombaar in terme van die Vyfde Gebod die verantwoordelikheid op ons om vir ons bejaarde ouers te sorg soos dit mag nodig wees – nie nét finansiëel nie, maar gewis óók finansiëel (soos nodig).
In talle kulture word dit as vanselfsprekend aanvaar, maar al hoe minder in die individualistiese wêreld waarin ons leef. Christene mag hulle egter nie deur die gees van die tyd laat meesleur nie.
# By meer as een geleentheid het die Here Jesus – terwyl Hy die Vyfde Gebod kompromieloos gehandhaaf het – gewaarsku teen 'n eensydige oorbeklemtoning daarvan.
In Matt 10:37 sê Hy: "Hy wat sy pa of ma liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie ...". En in Luk 14:26 sê Hy: "As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder ...".[1]
+ Met die eerste oogopslag lyk dit asof hierdie uitsprake bots met die voriges waarna ons gekyk het. Dis egter nie so nie. Ons dissipelskap kom júís tot uitdrukking in ons gehoorsaamheid aan God se wet ondermeer aan die Vyfde Gebod. Dis immers hoe ons ons getrouheid aan die Here uitleef. Nee, Jesus wil hier 'n tipiese verskynsel aanspreek – die neiging om die roeping tot radikale gehoorsaamheid aan Hom te probeer ontduik deur agter allerlei verpligtinge in die familiekring te skuil.
+ Twee voorbeelde hiervan in Luk 9:57-62 is besonder insiggewend.
= As Jesus die een man roep om Hom te volg, wil dié eers sy pa begrawe (v.59). Dit gaan nie hier oor 'n begrafnis wat gou daardie middag afgehandel moes word nie. Nee, die man se pa is waarskynlik al taamlik bejaard en wat hy sê is dat hy eers eendag ná sy pa se afsterwe kans sal kry om aan Christus se eise aandag te gee.
= 'n Ander man sê hy wil Jesus volg, maar eers moet hy sy huismense gaan groet. Weereens gaan dit nie hier oor 'n baie redelike versoek nie. Nee, in die wêreld van destyds (trouens, vandag nog in dele van die Midde-Ooste) sou geen man, ongeag sy ouderdom, selfstandig 'n belangrike besluit geneem het sonder sy pa se goedkeuring nie. As hierdie man dus sê hy wil gaan groet, is dit sy manier om te sê hy wil gaan toestemming vra om Christus te volg.
= Jesus se antwoord in beide gevalle wil 'n belangrike beginsel deurgee:
Christus se aanspraak op mense se lewens
is baie belangriker
as die aansprake van selfs hulle ouers of ander huisgenote
As daar 'n botsing van pligte ontstaan, moet die Here se roeping elke keer voorrang geniet. So 'n botsing behoort egter 'n uitsondering te wees, aangesien Christus se roeping juis ook inhou dat ons béter kinders vir ons ouers sal word – meer onderdanig, meer sorgsaam, meer gehoorsaam.
+ Die sonde wat die Here hier aanspreek is dus presies die teenoorgestelde as die van Matt 15 en Mark 7: Dáár wil mense godsdiens gebruik om die verantwoordelikheid teenoor ouers te ontduik.
In Luk 9 weer wil die twee mans verantwoordelikhede teenoor hulle ouers voorhou om die eise van dissipelskap te ontkom.
Maar ons mag nie dinge wat God saamgevoeg het, skei nie; ons mag nie in vals teenstellings verval nie. Beide is nodig: Ons moet die Here dien; én ons moet ons ouers eer.
Ons moet dus sowel die eerste tafel van die wet hou, as die tweede. Ons moet beide God én mense liefhê. Die een impliseer die ander (vgl. 1Joh 4:20-21; 5:2).
Dis net wanneer daar 'n botsing ontstaan tussen my horisontale en vertikale lojaliteite – en 'n keuse gevolglik op my afgedwing word – dat my direkte verantwoordelikhede teenoor die Here voorrang moet geniet.
+ Die Bybel het meer as een voorbeeld van hoe so 'n botsing van pligte op 'n godvrugtige wyse gehanteer word.
= Jonatan, Saul se seun, het sy pa gerespekteer, en uiteindelik 'n lojale dood saam met hom op die slagveld gesterf. Máár vir jare het hy geweet dat sy pa sondig en dat Dawid eintlik die man is op wie God se seën en guns rus. Omdat sy primêre toewyding by die Here God gelê het, en by die uitwerk van Sy raadsplan, het Jonatan dan ook vir Dawid ondersteun sover hy kon. Hy het die ware gesalfde gehelp, maar sover moontlik getrou aan sy pa gebly.
= Ook Jakobus en Johannes het in so 'n botsing van pligte beland. As Jesus hulle roep, is hulle getrou besig om vir hulle pa, Sebedeus, te werk. Maar dan staan hulle "dadelik" op en begin die Messias volg (Matt 4:21-22).
# Soos te wagte het die Here Jesus Sy eie lering puntenerig-getrou uitgeleef. Hy was onderdanig aan Sy ouers (Luk 2:51). En hoewel die Skrif nie eintlik iets daaroor sê nie, kan ons aanvaar dat Hy sy volle gewig ingegooi het by die huishouding, asook getrou in Sy pa se skrynwerkerswinkel gewerk het as groter-wordende seun en jong man.
Selfs ná die aanvang van Sy publieke bediening was daar gereeld kontak tussen Hom en Maria – toe oënskynlik al 'n weduwee.
+ 'n Uitstaande gebeurtenis in hierdie verband het tydens die kruisiging plaasgevind. Ten spyte van Sy onuitspreeklike lyding en smarte, dink die Here nog aan Sy moeder se oudag-versorging en vertrou haar aan Johannes toe (Joh 19:26-27).
# In sowel Ef 6:1-3 as Kol 3:20 herhaal Paulus die Vyfde Gebod se verpligting – as deel van sy huistafels.
In eersgenoemde geval voeg hy by: "... dit is wat die wet van God vereis."; en in laasgenoemde: "dit is die Here welbehaaglik." (OAV).
+ Efesiërs se huistafels word deur Ef 5:17 (OAV), asook 5:18-21[2] beheers. Dit impliseer dat ook onderdanigheid aan ouers "die wil van die Here is", en dat dit 'n manifestasie van Geesvervuldheid is.
= 'n Vergelyking tussen die ooreenstemmende gedeeltes in Efesiërs en Kolossense is baie insiggewend. Sonder twyfel loop Paulus se gedagtes in dieselfde bane as dit oor die huistafels gaan. En die ooreenkoms tussen Ef 5:18-21 en Kol 3:16 is onontkombaar.
Daar is egter één baie sprekende verskil. In Efesiërs gaan dit oor die inwoning van die Heilige Gees; in Kolossense oor die inwoning van die "woord van Christus" (OAV; DAV).
Natuurlik is die Gees en die Woord nie dieselfde nie, maar hoewel hulle onderskei moet word, mag hulle nóóit geskei word nie!
Die Gees werk déúr die Woord!
# Die wyer toepassing van die Vyfde Gebod, naamlik dat eer nie net aan biologiese vaders verskuldig is nie, maar ook aan ander "vaders", word deur die apostels vanuit die Ou Testament oorgeneem.
+ Timoteus word beveel om in respek met bejaardes om te gaan – en om hulle, sou dit nodig wees, soos vaders en moeders te vermaan (1Tim 5:1-2).
+ Diegene wat die evangelie verkondig en die gemeente van die Here onderrig, is "geestelike vaders", en moet as sodanig geëer word (1Kor 4:15. Vgl ook 1Tim 5:17).
Paulus noem Timoteus en sy ander jong medewerkers – manne wat hy in die weë van die Here ingelei het – sy kinders in die geloof (1Kor 4:17;1Tim 1:2; Titus 1:3; Fil 10).
+ Hoewel hulle nie die woord "vader" gebruik nie, kan ons sonder twyfel aanvaar dat die apostels húlle opdragte oor onderwerping aan die burgerlike owerhede aan die Vyfde Gebod gekoppel het (Rom 13:1-7; 1Pet 2:13-17).
Die algemene beginsel wat hierbo behandel is, naamlik dat ons aan God méér gehoorsaam moet wees as aan mense, geld natuurlik ook in ons verhouding met wêreldse owerhede. Ideaal gesproke behoort gelowiges baie selde in konflik met selfs totaal ongelowige regerings te kom, maar ons leef in 'n gevalle wêreld, en deur die eeue het dit inderdaad al male sonder tal gebeur (Hand 4:18-21; 5:28-29, 40-42).
Ooreenstemmende ouerlike plig
# Hoewel die Vyfde Gebod dit nie uitdruklik aansny nie, het die hele saak van gesonde ouer-kindverhoudings 'n tweede kant – die gesindheid, gedrag en verantwoordelikheid van ouers teenoor kinders.
As Paulus in die huistafels oor kinders se gesindheid en gedrag teenoor hulle ouers praat, gaan hy in sowel Efesiërs as Kolossense direk oor na ouers se verantwoordelikheid teenoor hulle kinders: "En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil" (Ef 6:4); en "Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek sodat hulle moedeloos word nie." (Kol 3:21).
+ Ouers se opvoeding moet dus van so 'n aard wees dat hulle kinders nie anders kán as om hulle te respekteer nie.
+ Vir 'n godvrugtige opvoeding gee die Bybel twee grense waarbinne gebly moet word – en 'n groot deel van ons probleme met ons kinders het te doen met 'n oorsteek van een of beide van hierdie grense.
= Kinders moet in gestrengheid en konsekwent gedissiplineer word wanneer dit nodig is. En dit sluit ook lyfstraf in wanneer nodig (Spr 13:24; 22:6,15; 23:13-14; 29:15-17; Ef 6:4).
= Kinders moenie oor-opgevoed word nie – sodat hulle moedeloos en opstandig word (Ef 6:4; Kol 3:21).
Die woord wat in Ef 6:4 (OAV) met "vertoorn" vertaal word, dra die idee van oordonder en verwilder – sodat dit tot verslaentheid en rebellie lei.
Phillips parafraseer dit met "over-correct".
Kinders is net kinders, en hulle moet toegelaat word om kinders te wees.
Praktiese uitlewing van die Vyfde Gebod in ons dagß[3]
Wat beteken dit vandag in praktiese terme om jou ouers te eer?
1. Dit beteken om hulle voorbeeld en opvoeding te eer.
# Ten minste twee kwalifiserende opmerkings is egter dadelik nodig.
+ Een, kinders se ouderdom speel 'n rol. Hoe groter 'n kind word, hoe meer vryheid sal wyse ouers vir hom of haar gee.
Voorts, veel meer puntenerige gehoorsaamheid word geverg van kinders wat nog in die huis is, as van volwasse kinders.
Les bes moet getroude kinders toegelaat word om grootliks hulle eie gang te gaan. Tog behoort ook volwasse kinders altyd erns te maak met dit wat hulle by hulle ouers geleer het. En selde sal hulle fout maak as hulle hul ouers se raad vra.
Tradisie hou sy gevare in
maar
om in oorreaksie alles oorboord te gooi
is noodlottig
+ Twee, kinders wat níé 'n opvoeding in die vrese en waarheid van die Here gekry het nie, móét eenvoudig, wanneer hulle tot bekering kom, in fundamentele opsigte wegbreek van dit wat hulle by hul ouers gekry het.
Dit is hier waar die Here Jesus se uitsprake in Matt 10:37 en Luk 14:26 ter sprake kom. Sulke mense het geen ander keuse nie as om God meer te gehoorsaam as mense.
# Kinders se erns met die Vyfde Gebod kom onder meer tot uitdrukking in die wyse waarop hulle hul ouers en grootmense in die algemeen aanspreek, asook in die goeie maniere wat hulle teenoor hul betoon.
+ Ragel het haar pa as "My heer" aangespreek (Gen 31:35, OAV). En Salomo het vanaf sy troon opgestaan en voor sy ma gebuig (1Kon 2:19). Sekerlik doen ons dit nie meer vandag só nie, maar dit illustreer die beginsel.
= Alle tale verander algaande – Afrikaans vinniger as die meeste. En een van die veranderings is dat 'n hoflikheidsvoornaamwoord soos "u" baie vinnig besig is om plek te maak vir "jy" en "jou". Hierdie gelykmakingsproses is onkeerbaar en het feitlik reeds sy volle loop geneem (soos in Engels), maar ons as Christene sal nooit 'n fout maak as ons aan die konserwatiewe kant van 'n bepaalde kultuurspektrum bly nie – ook wat betref die aanspreekvorme wat ons vir ons kinders leer.
# Uitlewing van hierdie gebod kom onder meer tot uitdrukking in die wyse waarop ons respek betoon in dáárdie verhoudinge waarin 'n mindere of meerdere mate van reserwe noodsaaklik is. Dit is een rem wat ons verhoed om net aan onsself te dink.
Etiket is nie altyd so verspot as wat baie mense dink nie! En as kinders nie van kleins af goeie maniere in hulle ouerhuise leer nie, sal hulle dit nêrens leer nie. En veral moet hulle leer om dit aan hulle ouers te betoon, asook aan alle grootmense.
Eerbied en respek is natuurlik ten diepste 'n hartsgesteldheid, maar dit wys! Dit kom tot uitdrukking in hoe kinders praat, in hulle lyftaal, in hulle gedrag. Hulle moet geleer word om te praat, maar – ewe belangrik om stil te bly. Hulle moet geleer word om "asseblief" en "dankie" te sê; om te groet; om op te staan wanneer nodig.
Ons hoflikheid teenoor diegene wat eer toekom (eintlik alle medemense!) spreek boekdele oor ons ouers se erns met die Vyfde Gebod.
En die respek waarop ons ons voor ons ouers gedra, sê alles oor ons agting vir hierdie gebod van God en die Gewer van die gebod.
# Ons eer ons ouers as ons in liefde na hulle omsien – soos dit mag nodig wees. Dit kom veral ter sprake in hulle grysheid. Min dinge is so aftakelend soos ouderdom. Juis dán het ouers hulle kinders se respek meer nodig as ooit.
Daarbenewens is daar dinge soos eensaamheid, fisieke afhanklikheid, finansiële nood, ensomeer, wat kinders móét aanspreek – "want dit is goed en aangenaam voor God" (1Tim 5:4).
# Ons gehoorsaam die Vyfde Gebod as ons ouers wat reeds heengegaan het se nagedagtenis eer. Só was dit in Ou Testamentiese tye, so is dit steeds.
Dit hou ondermeer in dat ons by ons kinders en kleinkinders 'n waardering vir historiese kontinuïteit inprent. En dit hou in dat ons begraafplase as veel meer as blote stortingsterreine sal aanslaan. Dis waarom vroeërdae se Christene kérkhowe gehad het. Hulle het geweet dat dit saadbeddings van die opstanding is!
2. Soos reeds gesê, is die verantwoordelikheid om ons kinders te dissiplineer 'n onontkombare verantwoordelikheid in terme van die Vyfde Gebod.
# Ons het reeds gesien hoe Moses beveel dat "'n opstandige en ongehoorsame seun", 'n vraat en 'n suiplap" (OAV), aan die leiers oorhandig moet word met die oog op steniging.
Nog 'n uitspraak wat mens as ouer laat sidder, is in Deut 13:6-11. As jou broer, of jou beste vriend, of jou vrou, of jou eie seun of dogter jou tot afgodery probeer verlei, mag jy hom of haar nie oorsien nie, maar die inisiatief neem in sy of haar teregstelling. Trouens, jy moet die eerste klippe gooi! Tot watter mate hierdie dinge destyds toegepas is, en presies hoe ons as Nuwe Testamentiese gelowiges dit moet vertolk, mag debateerbaar wees – maar dít staan vas: Ons moet iets van God se toorn teen sonde beleef, selfs in ons eie kinders, en dit in gestrengheid dissiplineer.
# Iemand wat terugdeins vir hierdie gewigtige verantwoordelikheid, laat sy kind op 'n noodlottige wyse in die steek. Tugtiging is om sy lewe te red (Spr 23:13-14). Om dit na te laat, is liefdeloos (Spr 13:24). En dis onnodig om bang te wees vir permanente skade – hy sal nie sterf nie (Spr 23:13).
Laat ons Eli nie vergeet nie (1Sam 2:22-25; 3:13).
# Dissipline is nie 'n geleentheid om stoom af te blaas nie. Dit moet altyd beheersd toegepas word – in wysheid en waardigheid (1Tim 3:4).
Soos 'n ou geloofsvader lank gelede gesê het: "Tugtiging is 'n bitter pil om te sluk; as dit daarom nie met wysheid versuiker word en in liefde gegee word nie, sal dit uitgespoeg word!"
# Kinders moet geleer word om na hulle ouers te luister – om m.a.w. op die gesproke woord te reageer. Te veel kinders steur hulle eers aan hulle ouers as op hulle geskreeu word. En sommige ignoreer selfs dit. Só mag dit nooit in 'n Christen se huis nie!
Nee, die ideaal is eerste-maal-gehoorsaamheid. As hy en sy dít kan leer, sal dit hulle die res van die lewe baat. En tot hierdie doel is die roede die middel. Slae wat oordeelkundig op die sitvlak aangewend word, lê die beginsel in die gemoed vas.
# 'n Kind moet van jongs af geleer word; trouens, hoe gouer, hoe beter. Hy of sy is 'n boompie wat opgelei moet word. Die vormingstyd is in 'n oogwink verby.
# Tugtiging moet konsekwent wees. 'n Dreigement móét stiptelik uitgevoer word as die kind daarvoor soek. Anders kan jy verseker wees dat hy of sy jou lamsakkigheid sal uitbuit.
Grense moet dus weldeurdag afgebaken word. En dit vereis dat pa en ma daaroor moet saamstem – wat uiteraard dikwels vooraf-samespraak vereis. Male sonder tal sien mens die bedenklike gevolge van 'n verwaarlosing van hierdie riglyn – sê maar, 'n pa wat streng is en 'n ma wat bederf, of omgekeerd.
# Net 'n dwaas laat sy kinders toe om besluite te neem wat vir hulle te groot is.
In elk geval neem alle ouers voortdurend en onvermydelik besluite wat hulle kinders se lewens ingrypend raak – sonder om die kinders te raadpleeg.
Sommige naïewe ouers sê hulle kinders moet sélf oor godsdiens besluit – maar as jy hulle nie van kleins af die waarheidsevangelie leer nie, het jy rééds 'n besluit geneem wat heel waarskynlik noodlottige implikasies vir hulle sal inhou – en baie smarte uiteindelik vir jou.
Trouens, hierdie versuim loop as 'n reël geslagte ver.
# Natuurlik ís daar keuses wat nét die kind self kan maak. In die besonder geld dit die bekeringsbesluit. Geen ouer kan sy kind se hart verander nie; geloof is 'n gawe van God.
Máár as die Here se medewerkers kan en moet ons hulle leer, vir hulle 'n voorbeeld stel, vir hulle bid – enduit, selfs ná hulle bekering, lewenslank!
Laat ons getrou vir ál ons komende geslagte bid!
'n Slotgedagte
Die morele verval van, en die anargie in ons samelewing, het nie niks te doen met 'n reeds jarelange verwaarlosing van die Vyfde Gebod nie.
Bybelgetroue kinderopvoeding dra geslagte lank godverheerlikende vrug!
As gehoorsaamheid aan die Vyfde Gebod
regtig die status sou geniet het wat die Woord van God daaraan toeken,
hoe ánders sou baie van ons eie lewens nie verloop het nie,
hoeveel krom en skewe groei sou nie in ons kinders verhoed kon word nie,
hoe ánders sou ons samelewing nie gelyk het nie!
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E:
[1] Letterlik staan daar in Luk 14:26 dat dit 'n voorvereiste is om jou dierbares te "haat" as jy 'n dissipel van Jesus wil wees (vgl. OAV). Hierdie is 'n idiomatiese en hiperboliese uitdrukking wat bloot wil beklemtoon dat ons toewyding aan Christus baie sterker moet wees as enige daarmee strydende aansprake van huisgenote se kant. Só groot moet ons liefde vir die Here wees, dat ons liefde vir ons dierbares – wat onbetwisbaar óók 'n Bybelse vereiste is – in vergelyking daarmee soos "haat" is.
[2] In die oorspronklike taal is v.18-21 een sin – met 'n negatiewe en 'n positiewe bevelswerkwoord in v.18 (moenie dronk word nie; word voortdurend vervul), gevolg deur 5 teenwoordige deelwoorde in v.19-21 (sprekende, singende, psalmsingende, dankende, wesende onderdanig). Dit impliseer dat dit tipiese wyses is waarop Geesvervuldheid tot uitdrukking kom. V.22 het nie 'n eie werkwoord nie en veronderstel v.21 s'n. Dit impliseer dat v.22 (en, trouens die res van die huistafels) 'n tipiese beskrywing is van hoe Geesvervulde mense hulleself onder ander plaas (die basiese betekenis van onderdanigheid), oftewel andere hoër ag as hulleself.
[3] Hier sou talle temas aan die orde kon kom. Ons kyk slegs na twee van die mees aktueles.