PDF WEERGAWE

Bybelskoolopnames:        1.  https://tinyurl.com/mr84ym28

                                                2.  https://tinyurl.com/5n6j4yb9

"Jy mag nie moord pleeg nie."

Eks 20:13; Deut 5:17

Die Ou Testament

#          Op die oog af lyk die Sesde Gebod na die maklikste van die gebooie om te verstaan. Die betekenis, sou mens sê, is voor die hand liggend. En beste van alles, is jy geneig om te dink, is die feit dat hierdie die één gebod is wat min mense oortree. Maar so eenvoudig is dit nie. Soos elkeen van die ander gebooie het ook hierdie een wyd-uitkringende implikasies.

#          Die Hebreeuse woord wat met "moord pleeg" vertaal word (Hb: ratsach), kom nie baie dikwels in die Ou Testament voor nie. Dit word slegs gebruik wanneer 'n menselewe verlore gaan – wat beteken dat diere uitgesluit is. Verder word dit nooit anders gebruik as vir die dood van 'n mede-Israeliet nie.

            +          In sommige gevalle word dit gebruik vir doelbewuste moord.

            +          In enkele gevalle word dit gebruik vir die doodmaak van 'n ander sonder voorbedagte rade.

            +          Dit is betekenisvol dat die woord bykans sonder uitsondering slegs gebruik word waar die inisiatief uitgaan van 'n enkeling, en nie van die gemeenskap nie.

                        =          Nooit word dit gebruik vir formele, juridiese en ordelike teregstelling nie.

                        =          Nooit word dit gebruik vir die doodmaak van mense tydens 'n oorlog nie.

                        =          Die een moontlike uitsondering (die vertolking is alles behalwe seker), is die wraak van 'n bloedverwant op iemand wat sy familielid onopsetlik doodgemaak het – voordat die ongelukkige vlugteling een van die ses asielstede kon bereik, of dit daarbuite waag (Num 35:9-29; Deut 4:41-43; 19:1-12).

            Bes moontlik het so 'n "bloedwreker" (OAV) namens die familie of gemeenskap opgetree. Dan sou dit natuurlik iets van 'n korporatiewe, selfs amptelike karakter gehad het.

       Maar dalk slaan dit gewoon op die wraak van 'n woedende familielid – wat die gebruik van die woord in lyn sou plaas met die gebruik daarvan in die res van die Ou Testament.

            +          Dis moeilik om 'n enkele Afrikaanse woord te vind wat reg laat geskied aan die Hebreeuse begrip.

            Gebruik mens "doodmaak" of "doodslaan" (OAV), is die begrip te ruim en skep dit die indruk dat die verbod wyer strek as wat dit wil – omdat dit dan per implikasie ook die doodstraf, en selfs die doodmaak van diere sou verbied.

            Gebruik mens "moord pleeg" (2020; NIV), is die begrip weer te eng, omdat dit dan per implikasie nie betrekking het op die onopsetlike doodmaak van mense nie. Maar die Hebreeuse woord word wel in die Ou Testament daarvoor gebruik.

Om saam te vat:

Die Sesde Gebod adem 'n diep respek vir die menselewe

Dit staan lynreg teenoor enige voortydige beëindiging daarvan

            +          Eerstens word doelbewuste moord verbied – 'n handeling met voorbedagte rade. Dit kan op twee maniere tot uitdrukking kom.

                        =          Dis intensioneel en oor 'n tydperk vooraf bedink en beplan. Voorafgaande haat vir en vyandskap teenoor die vermoorde was 'n baie sterk aanduiding hiervan – en as sodanig verswarende getuienis (Num 35:20-21; vgl. Deut 19:4).

                        =          Dis intensioneel, maar nie vooraf beplan nie. 'n Voorbeeld hiervan sou wees wanneer 'n persoon in 'n oomblik van woede 'n ander slaan of skop – met die doel om dood te maak (vgl. Eks 21:18-19). Dit gebeur ook soms as 'n man sy vrou in ontrou betrap – of omgekeerd.

            +          Tweedens kon iemand hierdie gebod selfs sonder voorbedagte rade, maar te wyte van nalatigheid oortree. Daar is dus nóg enige intensie, nóg enige beplanning (ons kan dink aan wat ons vandag manslag noem).

            Dit kon uiteraard op baie verskillende maniere gebeur.

                        =          Iemand sterf te wyte aan 'n ander se roekeloosheid. Soos in ou Israel gebeur dit nog steeds gereeld – soos byvoorbeeld wanneer iemand oor 'n rooi verkeerslig jaag en 'n ongeluk veroorsaak waarin 'n ander sterf.

                        =          Iemand sterf as gevolg van 'n ander se nalatigheid. Dit kan byvoorbeeld gebeur as 'n verpleegster 'n doktersvoorskrif verkeerd lees en 'n pasiënt 'n noodlottige pil ingee. (As mens na dokters se handskrifte kyk, besef jy dat húlle vir die helfte van sulke afsterwes verantwoordelik is!!).

                        =          'n Interessant voorbeeld word in Eks 21 gevind: 'n Boer se bees maak iemand dood – terwyl die eienaar geweet het die bees is "stoterig" (v.29).

            Nog 'n voorbeeld kry mens in Deut 19:5: Iemand swaai 'n byl, en te wyte aan die houtkapper se nalating om te sorg dat die yster behoorlik aan die steel vas is, glip die yster van die steel af – en iemand word noodlottig getref.

            Bogenoemde het uiteraard net gegeld as nalatigheid vas gestaan het.

                        =          Om hierdie soort oortreding van die Sesde Gebod sover moontlik te voorkom, was daar allerlei voorskrifte. So, byvoorbeeld, moes 'n huis gebou word met 'n reling rondom die dakstoep om te verhoed dat mense daar afval (Deut 22:8).

#          Die erns van elke oortreding wel deur die Ou Testament in ag geneem wanneer dit strawwe daarvoor uitmeet.

            +          Op mense wat skuldig bevind is aan doelbewuste moord het 'n verpligte doodsvonnis gerus (Eks 21:12, 14). So is Joab – lojale, maar wrede veggeneraal onder Dawid – deur Salomo tereggestel vir die moorde wat hy sonder Dawid se medewete gepleeg het.

            Betekenisvol is Salomo se vertroue dat sulke regspleging die Here se vrede op die Dawidshuis sou meebring (1Kon 2:28-35).

            +          Die feit dat die onopsetlike doodmaak van 'n ander – sonder voorbedagte rade  – óók as 'n oortreding vandie Sesde Gebod beskou word, dui op die hoë premie wat God op 'n menselewe plaas. Dit beklemtoon ons besondere verantwoordelikheid om alles in ons vermoë te doen om te voorkom dat 'n medemens sy lewe verloor.

#          Wel het die Here voorsiening gemaak vir menslike swakheid en die gebrokenheid van ons aardse bestaan.

            Dit blyk uit die voorsiening van ses "asielstede" vir diegene wat te wyte aan – noem dit maar manslag – verantwoordelik was vir 'n ander se dood. Dit was moontlik om in een van hierdie stede te gaan skuil teen die "bloedwreker" (Num 35:9vv).

            +          So 'n skuldige aan manslag het egter nie skotvry weggekom nie. In 'n sin moes hy 'n vorm van tronkstraf verduur, aangesien hy ingeperk was tot die asielstad – tensy hy natuurlik die lewensgevaar van bloedwraak wou trotseer. Maar dit was nie 'n lewenslange vonnis nie – dit was slegs geldig tot en met die betrokke hoëpriester se dood (Num 35:28).

#          Die feit dat die Sesde Gebod nêrens in die Ou Testament van toepassing gemaak word op die doodmaak van iemand búite die verbondskring nie, moenie die idee laat posvat dat die Israeliete 'n vrypas gehad het om buitestaanders links en regs te vermoor nie. Ewe min moet mens die idee hê dat die gebod nie universeel van toepassing is nie.

            Nee, die Sesde Gebod formaliseer bloot 'n morele beginsel wat van die vroegste tye af reeds in plek was.

            +          Die eerste sonde ná die sondeval – Kain se moord op sy broer, Abel – is insiggewend (Gen 4). Die oordeel wat oor Kain uitgespreek word, toon onmiskenbaar dat God sy daad as 'n gruwel beskou het (v.10-12). Net so betekenisvol is God se verbod op weerwraak: "Wie vir Kain vermoor, sal sewe maal gestraf word" (v.15). Reg van die begin af dus verbied die Here oor-en-weer moord en weerwraak.

            +          God se verbond met Noag werp baie lig op ons tema (Gen 9:5-7). Ondermeer sê die Here: "... van 'n mens sal Ek rekenskap eis (lett.: 'n genoegdoening, 'n kompensasie) oor die lewe van sy medemens. Wie die bloed van 'n mens vergiet, deur 'n mens sal sy bloed vergiet word. God het die mens gemaak as sy verteenwoordiger (lett.: God het die mens na Sy beeld gemaak)".

                        =          Embrionaal vind ons waarskynlik hier die eerste mandaat vir 'n gemeenskap se ordelike toepassing van die doodstraf vir moord.

                        =          Hierdie opdrag is begrond in die feit dat die mens na God se beeld geskape is. Elke mens se lewe het dus 'n onberekenbare waarde – en hy wat 'n lewe neem, tas iets aan wat daargestel is om die Skeppergod hier op aarde te verteenwoordig en iets van Hom te openbaar. Wie die eer en wil van God só geweld aandoen, moet die hoogste tol betaal.

                        =          Selfs konings was (en is) nie kwytgeskeld van hierdie gebod en die beginsel van genoegdoening nie. Nadat Dawid vir Urija laat vermoor het, kom die vonnis baie duidelik: "Jy het Urija ... met die swaard doodgemaak ... jy het hom vermoor ... Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie ..." (2Sam 12:9-10).

            En nadat Koning Agab vir Nabot vermoor het, kom die beginsel van 'n oog vir 'n oog weer weer in aksie: "Op dieselfde plek waar die honde die bloed van Nabot opgelek het, sal hulle jou bloed ook oplek" (1Kon 21:19).

            +          Ook die res van die Ou Testament bevestig die voortgaande geldigheid van hierdie morele absolute. Veral die profete veroordeel op talle plekke oortreding van die Sesde Gebod in sy verskillende vorms (vgl. Jes 1:21; Jer 7:9-10; Hos 6:9).

#          Teenoor bogenoemde is dit ook só dat die Ou Testament vol is van juridiese teregstelling en oorlogsdoodslag. Maar nêrens is daar enige sprake dat amptelike teregstelling en gedissiplineerde oorlogvoering as 'n oortreding van die Sesde Gebod beskou word nie. Trouens – soos reeds gesien – die Skrif vermy versigtig die gebruik van "ratsach" om hierdie dinge te beskryf.

            +          Die Mosaïese wette skryf die doodstraf voor vir talle oortredings (vgl. onder meer Eks 21). Dit het byvoorbeeld, benewens moord, ook ingesluit: verleiding tot afgodery (Dt 13:10); vervloeking van God (Lev 24:13-15); die vloek of slaan van ouers (Eks 21:15, 17); sabbatsontheiliging (Num 15:35); egbreuk (Lev 20:10; Dt 22:23-24)); ontvoering (Eks 21:16).

            Máár daar was streng voorskrifte dat oortreders behoorlik en regverdig verhoor moes word. Dit was 'n amptelike en ordelike gemeenskapsproses. En teregstelling deur steniging was eweneens iets waarby die hele volk betrokke was.

            +          Tydens oorlogvoering is derduisende – indien nie miljoene nie – van Israel se vyande doodgemaak. Dikwels het dit ook vrouens en kinders ingesluit. En meermale het dit in direkte opdrag van God geskied (vgl. bv. Jos 6:21; 1Sam 15:1-3).

            Gewis skep dit vir die moderne gemoed 'n morele dilemma; trouens, ons sukkel om dit te rym met die sterk Nuwe Testamentiese beklemtoning van God se liefde vir sondaars. Maar in ons nadenke oor God is dit kardinaal belangrik dat ons rekening hou met die volle Skrifopenbaring oor Hom.

Die Nuwe Testament

#          Die Nuwe Testament haal dikwels die Sesde Gebod aan.

            +          Die Here Jesus – afgesien van Sy algemene onderskrywing van die Tien Gebooie in Matt 5:17-20 – noem dit in die Bergrede by die naam (Matt 5:21). Hoewel Hy direk deursteek na 'n dieper en innerlike toepassing daarvan, is daar geen sprake dat Hy die primêre betekenis daarvan ophef nie.

            En as Hy met die ryk jongman praat haal Hy die gebod direk aan (Matt 19:18; Mark 10:19; Luk 18:20).

            +          Ook die apostels haal dit aan en laat geen twyfel oor die voortgaande geldigheid daarvan nie (Rom 13:8-9; Jak 2:10-11). In beide hierdie gevalle word oortreding van die Sesde Gebod gesien as teenpool van die liefdesopdrag.

            +          Op talle plekke in die Nuwe Testament word moord in die strengste woorde afgekeur. Dit is die vrug van 'n bose hart (Matt 15:19; Mark 7:21); dit is waarin die mens verval as hy deur God oorgegee word aan sy eie verdorwe natuur (Rom 1:28-29); dis 'n werk van die vlees en moordenaars sal nie die koninkryk van God beërf nie (Gal 5:21; 1Joh 3:15; Op 21:8; 22:15).

#          Die Nuwe Testament sê bloedweinig oor onopsetlike doodslag, oftewel manslag. Ons moet egter nie te veel daarvan maak nie. Deur die Sesde Gebod so sterk te bevestig, endosseer dit per implikasie die ganse strekking daarvan in die Ou Testament. 'n Navolger van Christus is dus alles behalwe vry om nalatig te wees oor 'n medemens se lewe; inteendeel, hy word oor en oor geroep om alles in sy vermoë te doen om andere se welsyn te bevorder.

#          'n Uitstaande Nuwe Testamentiese oortreding van die Sesde Gebod is natuurlik die kruisiging van die Here Jesus. Dis waar dat Hy 'n verhoor gehad het – trouens, 'n reeks verhore. Maar dit was onreëlmatig, so gemanipuleer, so haatdraend, dat dit hoegenaamd nie die toets vir regverdigheid en publieke ordelikheid slaag nie. Daarom huiwer Petrus nie om die Jode te beskuldig van moord nie (Hand 2:23,36; 3:14-15; 4:10). En al weet Petrus dat Jesus volgens God se raad gekruisig is (Hand 2:23; 4:27-28), weet hy ook dat die volk se sonde so ernstig is dat diepgaande verootmoediging en bekering noodsaaklik is vir vergiffenis en redding (Hand 2:38; 3:19).

#          Hoewel die spore hiervan reeds in die Ou Testament opgetel kan word, is dit eintlik die Nuwe Testament wat die Sesde Gebod en sy implikasies op 'n dramatiese wyse verinnerlik.

            In die Bergpredikasie toon die Here Jesus baie uitdruklik, as Hy oor hierdie gebod praat, dat dit ook te doen het met innerlike gedagtes en gesindhede: "Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank ... elkeen wat sy broer uitskel ... is strafbaar met die helse vuur" (Matt 5:22). Hy veroordeel dus nie net alle uitdrukkings van woede en vervloeking nie, maar selfs die innerlike vertroeteling daarvan. Nog meer, die duidelike implikasie is dat dit op dieselfde vlak as werklike moord lê. Die dinge wat tot doodslag kan lei, is net so sondig soos die doodslag self.

            +          Aanmekaar leer die Nuwe Testament dat woede en gepaardgaande emosies en praktyke verwerplike sondes voor die Here is (vgl. Gal 5:19-21; Ef 4:30-31; Tit 3:2-3). Nêrens word dit in sterker taal gestel as in Johannes se eerste brief nie: Haatdraendheid is totaal onversoenbaar met ware Christenskap. "As iemand beweer dat hy in die lig is, maar hy haat sy broer, is hy nog steeds in die duisternis" (1Joh 2:9, 11). Sy belydenis is blote huigelagtigheid: "As iemand sê: 'Ek het God lief,' en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar ..." (1Joh 4:20). "Elkeen wat sy broer haat, is 'n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie" (1Joh 3:15).

            +          Waarom is vervloeking van 'n ander so verfoeilik? Dis 'n veragting van die ander persoon. Dis om te maak asof hy van geen waarde is nie – terwyl hy 'n beelddraer van God is, met 'n gepaardgaande roeping in hierdie wêreld (Jak 3:9). Of hy daardie roeping uitleef maak nie saak nie.

            +          Teenoor bg. waarskuwings, beklemtoon die Nuwe Testament baie sterk die noodsaak van liefde. En wat dit inhou, word aangrypend uitgespel in 1Kor 13. As dit die vrug van liefde in v.4-7 beskryf, skets dit die presiese teenoorgestelde van moord.

            +          Verwaarlosing van die innerlike toepassing van die gebooie in die algemeen en die Sesde Gebod in die besonder, was natuurlik die Fariseërs se mistasting. Maar ons as moderne Christene val nét so maklik in dieselfde slaggat – as ons godsdiens niks dieper gaan as uiterlike voorskrifte en standaarde nie.

Praktiese implikasies vir ons dag

Die Sesde Gebod het verreikende praktiese implikasies. Baie is reeds daaroor geskryf. En in min van die areas is die laaste woord gespreek. Ons kan slegs na 'n paar van die meer voor die hand liggende vraagstukke kyk.

1.         Selfmoord

#          Die Bybel vertel van 6 manne wat hulle eie lewens geneem het: Simson (Rig 16:23-31); Saul en sy wapendraer (1Sam 31:3-5); Agitofel (2Sam 17:23); Koning Simri (1Kon 16:18-19); Judas Iskariot (Mt 27:3-5).

            Nêrens sê die Bybel iets oor hulle dade in uitdruklike taal nie, nie goed of sleg nie. In die meeste gevalle is dit duidelik dat hierdie manne se selfmoord die uitloopsel was van hulle sondige lewens (1Kon 16:19).

            Maar die geval van Simson is nie so maklik nie. Hy word immers in Hebreërs 11 se gallery van geloofshelde genoem (v.32,39). Dis waarom Augustinus geredeneer het dat hy deur die Heilige Gees gedring is om die pilare van die Filistynse tempel om te trek.

#          In terme van die Sesde Gebod kan tipiese selfmoord nooit eties geregverdig word nie. Ons mag 'n naaste nie doodmaak nie, omdat hy God se beelddraer is. Maar dis ook op myself van toepassing – ongeag hoe ellendig my situasie ook al is.

            Selfmoord is om iets geweld aan te doen wat regtens aan God behoort. Die mens is Sy skepsel. Ontvangenis, lewe en geboorte is Sy gawes. Asem, brood en ander lewensnoodsaaklikhede is Sy voorsiening. "Hy het al wat lewe, in sy mag, die asem van elke mens" (Job 12:10). Sekerlik is dit dan ook Sy soewereine prerogatief alleen om mense vanuit hierdie lewe na die hiernamaals te neem – wanneer en soos Hy wil.

#          Van die vroegste tye af het die kerk daarom selfmoord veroordeel. Kerkbegrafnisse is in die eerste eeue vir sulke mense gewyer. Tog moet mens versigtig wees vir 'n simplistiese veroordeling van alle selfmoordenaars.

            +          Waarskynlik slaan die minderheid mense in 'n nugter toestand hulle hand aan eie lewe – na lang en berekende oorweging. Selfmoord is baie dikwels erg patologies van aard.

            +          Een van die aanklagte teen selfmoordenaars is hulle selfsug. Hulle ontvlug dalk hulle eie ellende (?), maar laat dikwels ewe groot ellende in talle ander lewens agter.   Dis waar. Maar meermale het die agterblewendes ook 'n groot aandeel in iemand se selfmoord – direk of indirek, deur daad of deur nalating. Eerder as om uit die hoogte te veroordeel, moet ons eerder onsself afvra of ons gedoen het wat ons kon om sulke mense in hulle nood te ondersteun.

            Wanneer ons met mense werk wat op die punt van ineenstorting staan, moet ons hulle ten alle koste aan die verstand probeer bring dat daar in Christus 'n toevlug vir die meeste desperate en uitsiglose mense is.

            +          Die vraag word dikwels gevra of 'n selfmoordenaar gered kan word? Kan daar vergiffenis wees as daar nie geleentheid vir sondebelydenis is nie?

            Sulke argumentasie is simplisties en mensgesentreerd. Dit aanvaar dat redding van die mens afhang; dat vergiffenis van belydenis afhang. Wie sou dan gered kon word, want wie kan ooit ál sy sonde bely? Nee, ons word gered en vergewe as Jesus Christus ons sondeskuld betaal het, en ons met Sy geregtigheid gekrediteer is! Ons word gered as ons wedergebore en deur ware geloof met Christus verenig is.

            Die vraag is dus: Was die persoon wat selfmoord gepleeg het in Christus toe hy gesterf het?

            Dit lei tot 'n ander vraag: Sal iemand wat met Christus verenig is, selfmoord pleeg?

         Hierop kan mens net met die grootste versigtigheid en piëteit antwoord: Dis onwaarskynlik, maar dit kan gewis gebeur! Selfs wedergebore mense is steeds van stof gemaak.

#          Daar is ook soiets soos geregverdigde selfmoord – dié van self-opoffering. Sê die Here Jesus nie: "Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê" (Joh 15:13). Uiteraard gaan dit hier nie in die eerste plek om 'n letterlike uitlewing nie. Maar dis sekerlik nie uitgesluit nie. Jesus het die pad immers letterlik gestap.

            Geregverdigde selfmoord is dus wanneer iemand vrywillig sy lewe aflê tot behoud van 'n ander. Dis die man wat tussen sy makkers bo-op 'n handgranaat val. Dis die ma wat tussen haar kinders en die misdadiger se koeëls inspring.

            +          Dis bes moontlik hoe Simson se selfmoord verstaan moet word. Hy het dit nie gedoen om 'n einde aan sy misrabele situasie te bring nie. Dit was die afronding van sy lewenstaak – naamlik om as teenstaander van God se vyande op te tree.

#          'n Meer subtiele vorm van selfmoord is ook hier ter sprake. Die vergryp aan praktyke en plesiere wat oor die langer termyn selfvernietigend is. Dwelms – van alkohol tot nikotien – asook ongesonde lewens en eetpatrone is 'n baie algemene voorbeeld. Dis selfmoord in paaiemente.

            Lewensgevaarlike sportsoorte kan ook hier geklassifiseer word.

2.         Eutanasie

#          Eutanasie beteken om goed te sterwe – en in die moderne konteks dui dit op die doodsbespoediging van iemand wat verby die moontlikheid van herstel is en vir wie voortgaande lewe uiters moeilike lyding inhou. Daarom word dit ook soms genadedood genoem.

#          Daar is twee soorte eutanasie.

            Eerstens is daar die beëindiging van lewe op versoek van die betrokke persoon self. Dit is in werklikheid niks anders as geassisteerde selfmoord nie.

            Tweedens is daar die beëindiging van lewe sonder die instemming van die betrokke persoon gewoonlik op grond van die naaste familie se versoek, of op grond van deskundiges se mening. Dit sou tipies plaasvind in gevalle van babas wat uiters gestremd gebore word, of van bejaardes wat aan ernstige seniliteit ly.

            +          Die basiese argument vir eutanasie lê in die aanname dat óf die individu self, óf 'n paneel van kenners die reg het om te besluit wanneer dit wenslik is. Baie wat nie die legitimiteit van laasgenoemde soort eutanasie erken nie, vind egter nie fout met eersgenoemde soort nie.

            +          Die feit bly egter staan dat beide benaderings in stryd is met die Sesde Gebod. Ongeag hoe simpatiek mens ook al na die motiverings daarvoor wil kyk, bly eutanasie 'n betreding van grond wat net aan God behoort – nl. die beëindiging van lewe hier op aarde.

            +          Niemand ontken dat ongelooflik moeilike situasies soms ontstaan nie. Watter toekoms wag daar op kinders wat nooit vir hulleself sal kan sorg nie, wat nooit uit 'n bed sal opstaan nie, wat met niemand om hom kan kommunikeer nie? En watter nut het die lewe vir 'n verswakte bejaarde wat gladnie meer weet wat om hom aangaan nie? En hoe uiters moeilik kan sulke gevalle nie wees vir naasbestaandes nie? Maar steeds – God is God, en ons durf nie oortree op die gebied van Sy soewereine prerogatiewe nie

#          Dit beteken nie dat mediese behandeling onbepaald moet voortduur nie – ten einde die lewe kunsmatig te verleng. Of anders gestel, dit beteken nie dat die sterwensproses onnatuurlik uitgerek moet word nie – hetsy medisinaal of meganies. Dis belangrik om te onderskei tussen die beëindiging van lewe en die beëindiging van behandeling.

            +          Daar kom soms 'n tyd wanneer, medies-gesproke, geen hoop op herstel meer bestaan nie, en wanneer dit wreed is om die dood – wat reeds sou ingetree het sonder kunsmatige lewensonderhouding – langer te weerstaan. Maar selfs dan bly die besluit om "die masjiene af te skakel" skrikwekkend gewigtig – en 'n gelowige kan dit net met die grootste piëteit en biddend neem. Dit beteken nie dat versorging, na afskakeling ook onttrek moet word nie; inteendeel. So 'n pasiënt moet byvoorbeeld steeds gevoed word so goed mens kan. Maar die sterfproses word toegelaat om sy natuurlike gang te gaan.

            +          Die begrip, passiewe eutanasie, wat soms hiervoor gebruik word, is onwenslik. So 'n persoon word nie doodgemaak nie – selfs nie op 'n passiewe wyse nie – hy word oorgegee aan die proses van sterwe.

3.         Aborsie

#          Vroeër het kommentatore oor die Sesde Gebod  bykans geen aandag gegee aan die kwessies van eutanasie en aborsie nie. Dit was die universele opinie – van Christene sowel as nie-Christene – dat beide praktyke totaal onaanvaarbaar is. Vandag is dit egter anders.

            +          Die Geneefse Deklarasie van 1948, wat aanvaar is deur die Wêreld Mediese Assosiasie, lui ondermeer: "Ek sal die uiterste eerbied handhaaf vir menslike lewe – vanaf die oomblik van bevrugting."

            En so onlangs soos 1973 skryf die Duitse teoloog, Bo Reicke, dat die verbod op moord die enigste element van die Tien Gebooie is wat nog in 'n gesekulariseerde wêreld gehandhaaf word.

            + Aborsie, wat tot onlangs as moord beskou is, word nou selfs deur groot dele van die Christelike kerk (sogenaamd) gepropageer. Allerlei argumente word aangevoer. Ten grondslag van almal lê die valse aanname: 'n Ongebore kind kan nie 'n mens genoem word nie, omdat die sogenaamde fetus deel is van moeder, van haar ingewande. En uiteraard kan enige vrou self besluit wat daarmee gebeur – soos met 'n blindederm.

            +          Hierteenoor leer die Bybel dat God reeds van die eerste oomblikke af intiem betrokke is by die skep van 'n unieke persoon (vgl. Ps 139; Job 10:8-12). En hierdie feit word bevestig deur oorweldigende wetenskaplike getuienis.

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt – Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev