PDF WEERGAWE

Preekopname:         1.  https://tinyurl.com/23fhpufu         2.  https://tinyurl.com/yv4c7277

"Jy mag nie egbreek pleeg nie."

Eks 20:14; Dt 5:18

Die Ou Testament

#          Die Hebreeuse woord wat met "egbreuk pleeg" vertaal word (na'aph), kom hier in Eks 20:14 vir die eerste keer in die Ou Testament voor.

            +          Deurgaans dui die begrip op een van twee dinge:

                        =          'n Seksuele vergryp of verhouding wat die huweliksverbond (nie net jou eie nie, maar ook 'n ander s'n) geweld aandoen. Dit is wat die Sewende Gebod primêr aanspreek.

                        =          Israel se geestelike verbondsontrou – in die besonder hulle flankeerdery met die heidense godsdienste óm hulle.

            +          In die oorspronklike wetgewing was oortreding van die Sewende Gebod strafbaar met die dood (Lev 20:10; Deut 22:22-24).

            +          In die Ou Testament word egbreuk in die eerste instansie as iets gesien wat mans doen. Die Sewende Gebod verbied dus enige man om 'n seksuele verhouding te hê met 'n vrou wat deur verlowing (iets baie gewigtigers as in ons dag), of die huwelik aan 'n ander man behoort.

            Dit beteken nie dat 'n vrou nie die gebod kon oortree nie. As sy 'n gewillige medepligtige was, of nie weerstand gebied het nie, was ook sy aan egbreuk skuldig – met die doodstraf tot gevolg (Deut 22:24-27).

            +          In die oorspronklike wetgewing is 'n seksuele verhouding met 'n ongetroude meisie streng tegnies nie as egbreuk beskou nie – aangesien dit anders en baie ligter gehanteer is. As so 'n man gevang is, moes hy 'n bruidsprys aan die vader betaal en die meisie dan as vrou neem (Eks 22:16; Deut 22:28-29). Die pa kon ook weier om sy dogter vir die man te gee, maar die boete moes in elk geval betaal word (Eks 22:17).

                        =          Hierdie voorskrifte moenie die indruk laat dat voorhuwelikse seks in die Ou Testament maar in orde was nie. Die teendeel is waar. Volgens Deut 22:13-21 was dit 'n skandelike saak as 'n bruidegom uitgevind het dat sy bruid nie meer 'n maagd was nie. En indien dit dan geblyk het dat sy inderdaad skuldig was, moes sy gestenig word.

                        =          Tog was daar destyds 'n ruimer benadering in die geval van voorhuwelikse seks. Dit moes sekerlik te doen gehad het met die realiteit van poligamie (veelwywery) in die antieke wêreld. Hoewel strydig met God se oorspronklike instelling, en dit nooit in die Ou Testament aangemoedig word nie, is dit beslis geduld – waarskynlik vanweë destyds se maatskaplike gebrokenheid. Dit het 'n getroude man dus vrygestaan om nog 'n vrou te neem – solank sy nie reeds aan 'n ander behoort het nie.

            +          Bogenoemde beteken nie dat die Ou Testament 'n bloot eng en eenvoudige beskouing van egbreuk gehad het nie. Soos met die ander gebooie, word veel meer geïmpliseer as wat uitdruklik gesê word.

                        =          Dit word duidelik as mens van die Ou Testamentiese gedeeltes lees waarin egbreuk verbied word. In Lev 18 & 20 word dit byvoorbeeld genoem as deel van lyste ontoelaatbare seksdade, soos geslagsgemeenskap met naby-familie, met iemand van dieselfde geslag, en met diere.

#          Hoewel die Ou Testament nie die woord "egbreuk" vóór Sinaï gebruik nie, beteken dit nie dat dit vroeër geduld is nie. Trouens, reg van die begin af was die beginsel van die huwelik, asook die eksklusiewe verbondsband waarmee dit saamgebind word, onbetwisbaar in posisie.

            +          Reeds voor die sondeval is God se bedoeling duidelik dat 'n huwelik beperk moes wees tot een man en een vrou (Gen 2:18-24). Veral v.24 is sprekend: "Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees" (OAV).

#          In die Latyn is daar twee woorde vir 'n huwelik: matrimonium en coniugium.

         Eersgenoemde begrip beklemtoon moederskap (mater = moeder).

            Die ander begrip onderstreep die egpaar se liefde, hulle kameraadskap, en hulle gemeenskaplike roeping en taak.

            +          Waarskynlik is hierdie dubbele benaming van die huwelik terug te herlei na Gen 1-2, aangesien beide begrippe ook daar te vinde is.

            Adam en Eva moes een vlees wees (2:24). Sodoende sou hulle vrugbaar wees, vermeerder en die aarde vul (1:28). Gevolglik sou hulle huwelik 'n matrimonium wees.

            Maar hulle huwelik moes ook 'n coniugium wees. Saam-saam moes hulle die aarde en alles daarop onderwerp en daaroor heers (1:28). Meer nog, hulle moes mekaar "aankleef" (2:24). Dis 'n woord wat op 'n liefdesverhouding dui.Rut het haar skoonma "aangehang", soos ook die manne van Juda vir Dawid (OAV). Dis dieselfde woord in Hebreeus.

            Reg van die begin af gaan dit dus in die huwelik om veel meer as die seksuele. Die idee van kameraadskap (companionship) is reeds voor die sondeval stewig in posisie. Hoewel dit na die sondeval net hier en daar in die Ou Testament duidelik na die oppervlak kom, blom hierdie huweliksdimensie onmiskenbaar oop in die Nuwe.

                        =          Kennelik is daar in hierdie oorspronklike verordening nie plek vir veelwywery nie. Die probleme wat dit in Abraham, Jakob en Elkana se huise veroorsaak het, spreek duidelik.

            +          Die geskiedenis ná die sondeval toon 'n onmiskenbare respek vir die huwelik.

                        =          Kain en Set, asook hulle afstammelinge het vrouens gehad. So ook Noag en sy seuns. En as Abraham Mesopotamia verlaat, bring hy sy vrou, Sarah, saam – en sy is sy metgesel tot en met haar dood.

                        =          'n Gebeurtenis in hierdie tyd toon ook die agting vir die huwelik selfs buite die kring van God se gunsgenote (Gen 12:10-19).

            Abraham is in Egipte en gee voor dat Sarah sy suster is. Die Farao neem haar in sy paleis in, maar as hy agterkom sy is eintlik Abraham se vrou, is hy hoogs ontsteld.

            'n Feitlik identiese gebeurtenis word in Gen 20 beskryf. Ook in hierdie geval was Koning Abimelek van Gerar uiters ontstoke toe hy besef hoe amper Abraham-hulle se bedrog hom laat sondig het.

                        =          Nog meer dramaties is Josef se besliste weerstand teen egbreuk as Potifar se vrou hom probeer verlei (Gen 39:6-13).

#          Waarom verskans God die huweliksinstelling met soveel gestrenge beslistheid? Waarom plaas Hy so 'n ononderhandelbare premie daarop? Daar is basies twee redes – die een in belang van die mens, die ander direk in diens van God se eer.

            +          Die huwelik, en die gepaardgaande gesin, is die hoeksteen van 'n samelewing. Die Sewende Gebod is dus 'n uitdrukking van God se liefde – wat 'n stabiele konteks wil verseker waarin kinders gevorm kan word tot gebalanseerde, ordelike en verantwoordelike burgers van die verbondsvolk. Ons weet almal hoe vinnig egbreuk die huwelik en gesin vernietig, asook watter onbeskryflike ellende dit kan veroorsaak.

#          Deur die eeue moes die huwelik toenemend iets verbeeld van God se wese en van Sy groot verlossingsdade. En niks vernietig uitlewing van hierdie verhewe roeping so totaal en vinnig as egbreuk nie.

            +          Die beeld van God kom ondermeer tot uitdrukking in die mens se geslagtelikheid – by uitstek in die huwelik tussen man en vrou (Gen 1:27; 5:1-2). En veral moet die verhouding tussen 'n man en sy vrou iets sê oor die aard van die verhouding tussen die Persone van die Goddelike Drie-eenheid – eerstens, van Hulle onderlinge liefdesharmonie; tweedens, van Hulle statusgelykheid; derdens, van Hulle funksionele en gesagsonderskeid.

#          God se beeld in die mens is ernstig geskaad deur die sondeval. Maar in die herskepping in Christus gaan dit om herstel van hierdie beeld (Rom 8:29; Ef 4:24; Kol 3:10). Hieruit volg dat die huwelike van Christene iets van hierdie restorasieproses se realiteit moet demonstreer.

#          Ook is die Nuwe Testament duidelik dat die huwelik iets van die verhouding tussen Christus en Sy bruidsgemeente moet vergestalt. Die parallelle wat Paulus in Ef 5 en ander plekke trek, is onontkombaar duidelik.

#          In die latere geskiedenis van die Ou Testament kry oortreding van die Sewende Gebod baie aandag.

            +          Waarskynlik die bekendste geval is Dawid se sonde met Batseba – en sy gepaardgaande moord op haar man, Urija (2Sam 11:1-12:25).

                        =          Betekenisvol in hierdie tragiese geskiedenis is die herhaalde beklemtoning dat Dawid se sonde nie in die eerste instansie teen 'n mens gepleeg is nie, maar teen God. In 2Sam 11:27 lees ons: "Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here". In 12:10 sê die Here deur die profeet vir Dawid: "... jy het My geminag ...".

            Die skuldige verstaan dit. In Ps 51 bely hy: "Teen U alleen het ek gesondig ..." (v.6).

            +          Meermale bestraf die profete oortreding van hierdie gebod onder die volk.

                        =          Hosea moet dit op 'n skokkende en uiters pynlike wyse doen. Hy moet met 'n prostituut trou, en haar voortgaande huweliksontrou rus hom nie net toe om die volk gesagvol aan te spreek nie. Dis ook 'n handelingsgelykenis wat sekerlik groot impak moes gehad het. Hoewel Hosea dit primêr oor die volk se verbondsontrou het, word ook egbreuk as een van hulle sondes aangespreek (Hos 4:12-13).

                        =          'n Eeu-en-'n-half later spreek ook Jeremia die egbreuk van sy tydgenote aan – en noem dit 'n afskuwelike ding (Jer 29:23). In 7:9-10 word dit só gestel: "Julle kan mos nie steel, moor, egbreuk pleeg, vals ede aflê ... ander gode dien ... en My dan ook nog in hierdie tempel ... kom dien en sê: 'Ons is veilig!' nie."

            +          Nêrens gee die Ou Testament méér aandag aan die gruwel en gevaar van egbreuk, as in die wysheidsliteratuur nie.

                        =          Spreuke 5 word feitlik geheel-en-al gewy aan die gevare van losbandige vrouens, asook aan die uitnemendheid van 'n rein huwelikslewe. En Spr 7 beskryf hoe 'n losbandige vrou 'n man verlei, en hoe sy vermy moet word. "In haar huis is jy op pad na die doderyk toe, by haar is jy op pad na jou dood toe" (v.27).

Die Nuwe Testament

Uitsprake van die Here Jesus

#          Sonder twyfel het die Here Jesus die Sewende Gebod volkome geëndosseer (Matt 5:17-20; Mark 10:19). Maar Sy uitdruklike lering in hierdie verband word veral by twee geleenthede aangetref: tydens die Bergrede (Matt 5:27-32), en by geleentheid toe van die Fariseërs Hom op die proef gestel het (Matt 19:3-12. Vgl. ook Mark 10:2-12; Luk 16:18).

            +          Eerstens steek Hy in Matt 5:28 deur na die diepste betekenis van die gebod: "Elkeen wat na'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg". Hy spreek dus die wortel van die saak aan. Dis waar dit begin.

            +          Tweedens maak Hy belangrike uitsprake oor egskeiding.

                        =          Owerspel is die enigste grond vir egskeiding (Matt 5:32; 19:9). Die woord wat hier gebruik word (Gr. porneia) sluit egbreuk in, maar strek ook wyer: dit dui op enige seksuele immoraliteit – van watter aard ook al.

                        =          Egskeiding op grond van mindere redes is nie legitiem nie, en bring mee dat sowel die man as die vrou egbreuk pleeg indien hulle in so 'n geval weer met 'n ander trou (Matt 5:32; 19:9; Mark 10:11-12).

            En diegene wat met hulle trou, pleeg ook egbreuk (Luk 16:18).

                        =          Mark 10:12 suggereer dat 'n vrou ook 'n egskeiding kan inisiëer – uiteraard slegs wanneer sy legitieme grond daarvoor het

            +          Waarom het Moses mense dan toegelaat om te skei? Dit was bloot om voorsiening te maak vir mense se verdorwenheid (Matt 19:8; Mark 10:5). Maar in dieselfde asem sê die Here dat soiets van die begin af nooit God se wil was nie. Wat Hy saamgevoeg het, mag geen mens skei nie (Matt 19:4-6; Mark 10:6-9).

#          In Jh 8:1-11 probeer die Fariseërs en skrifgeleerdes weer om die Here Jesus uit te vang – sonder sukses. Hulle sleep 'n vrou wat in owerspel betrap is tot voor Hom. Wat, vra hulle, moet met haar gedoen word in die lig van Moses se opdrag dat sulke mense gestenig word? Hulle het geweet dat Jesus in stryd met die Romeinse reg sou kom indien Hy sou sê dat sy gestenig moet word. Maar sou Hy inval by die Romeinse siening, sou Hy weer vir Moses weerspreek en kon hulle Hom as 'n valse leraar beskuldig.

            Jesus se wysheid weerhou Hom egter om in hulle vangstrik te trap (v.7, OAV). Dit kon die Jode nie hanteer nie en uiteindelik bly net Jesus en die vrou oor. As sy sê dat niemand haar veroordeel het nie, antwoord Jesus: "Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie" (v.11).

            +          Sommige wil hieruit aflei dat die Here haar sonde nie as ernstig opgeneem het nie. Dis alles behalwe waar! Ons moet Skrif met Skrif vergelyk. Maar wat ons wel hieruit leer, is dat daar ook vir híérdie sonde vergiffenis moontlik is.

Uitsprake van die apostels

#          In die vroeë gemeentes was vanselfsprekend baie wat vantevore die seksueel losbandige lewenstyl van die heidene gevolg het. Vrou-ruilery, egskeiding, homoseksualisme, prostitusie en ander perverse praktyke was aan die orde van die dag. Die apostels moes dus uitvoerige lering gee oor die huwelik en die implikasies van die Sewende Gebod. In die proses beklemtoon hulle deurgaans die huwelik as 'n skeppingsverordening van God spesifiek as 'n lewenslange en eksklusiewe verbondsverhouding tussen een man en een vrou.

            +          Jakobus skryf dat egbreuk 'n oortreding van die wet is (Jak 2:11). Die Hebreërskrywer sê dat ontugtiges en egbrekers onder die oordele van God sal kom (Heb 13:4). In Rom 13:8-14 bevestig Paulus die belangrikheid van die wet in 'n Christen se lewe – en hy verwys spesifiek na die Sewende Gebod. As hy dan die praktiese implikasies oopvou, vermaan hy sy lesers om hulle ondermeer van "ontug en onsedelikheid" te onthou.

                        =          Paulus se briewe bevat meermale sondelyste. En amper soos klokslag word seksuele oortredings daarin genoem. In 1Kor 6:9-10 sê hy dat egbrekers, onsedelikes, en mense wat homoseksualiteit beoefen, geen deel aan die koninkryk van God het nie (vgl. ook Gal 5:19-21; Op 21:8; 22:15).

                        =          Die seksuele immoraliteit waarteen die apostels waarsku het gewis ook destyds die algemene heidense praktyk van tempelprostitusie ingesluit. Hiervoor was daar in 'n dissipel van Jesus se lewe geen, maar geen plek nie.

            Waarskynlik het die apostelkonvent van Hand 15 se algemene verbod grootliks met hierdie sonde te doen – aangesien afgodery en onsedelikheid in dieselfde asem genoem word (v.28-29).

            Nog 'n gedeelte waarin uitdruklik hierteen gewaarsku word, is 1Kor 6:12-20.

            Twee van Op 2-3 se briewe spreek dan ook 'n oordeel uit oor gemeentes wat hierdie soort praktyke in hulle midde duld. In die gemeente van Pergamum was daar mense wat die leer van Bileam aangehang het – hy wat die Israeliete afvallig gemaak het, sodat hulle afgodery en onsedelikheid bedrywe het (Op 2:14; Num 25:1-5; 31:16). En Tiatira het 'n sekere Isebel toegelaat om die mense te verlei tot onsedelikheid en die eet van afgodsoffers (Op 2:20).

#          In 1Kor 7 antwoord Paulus sekere van die Korintiërs se vrae oor die huwelik – spesifiek oor die wenslikheid al dan nie daarvan.

            +          In kort kom die apostel se argument hierop neer: Aangesien egbreek en onsedelikheid totaal buite perke vir die Christen is, bly daar maar twee opsies vir hom of haar oop – die huwelik, waarbinne seksuele behoeftes op 'n gesonde manier bevredig kan word, of die selibaat, 'n lewe van totale seksuele onthouding.

                        =          Vir die met die vermoë tot laasgenoemde, en wat nie gedurig van wellus brand nie,[1] is dit die beste om ongetroud te bly (v.7-8; 25-27; 32-35) – gesien in die lig van al die eise wat 'n lewe van dissipelskap aan mens stel (v.29-31). Vgl. ook Jesus se uitspraak in Matt 19:12.

                        =          Die res moet, indien enigsins moontlik die pad van die huwelik loop. Dis die normale gang van sake. Dis nodig "weens die gevare van onsedelikheid" (v.2).

            Daarom moet huweliksgenote hulle huweliksplig teenoor mekaar nakom; hulle moet hulleself tot mekaar se beskikking stel. Tensy hulle saam ooreenkom dat dit vir 'n tyd nodig is, moet hulle mekaar nie omgang weier nie (v.3-5).

                        =          Oor die verskynsel van saamwonery – wat glad nie so 'n moderne saak is as wat party maak nie – spreek Paulus per implikasie hier die laaste woord. Sy hele argument is gebaseer op die voorveronderstelling dat legitieme seks slegs binne die huwelikskonteks kan geskied. Natuurlik sou ons 'n hele Bybelstudie oor die saak kon aanpak (vgl. bv. Deut 22:13-21). Maar wat ons tot hier gesien het behoort die sakkie in ons gemoedere toe te knoop: Voorhuwelikse seks – as dit dan streng tegnies nie egbreuk is nie, omdat geen huweliksverbond aangetas word nie – is onsedelikheid, en as sodanig oortreding van die Sewende Gebod.

                        =          En aan hierdie getroudes herhaal Paulus dan die Here Jesus se opdragte met betrekking tot huwelikstrou: Moenie skei nie! (v.10). Hy gaan dan verder – soos Jesus – en sê dat as 'n gelowige tóg skei,[2] moet hy of sy nie weer trou nie (v.11).

            Die apostel sê allermins hier dat dit maar in orde is as gelowiges skei, solank hulle net nie weer trou nie. Egskeiding – behalwe wanneer dit in Bybelse terme geoorloof is – is en bly sonde wat gelowiges ten alle koste moet vermy. Maar Paulus weet ook dat egskeidings, vanweë ons gebrokenheid en swakheid, inderdaad steeds plaasvind. En dis so 'n geval wat hy hier aanspreek.

            +          Daar is egter ook 'n ander stel omstandighede wat die Here Jesus nie aangespreek het nie (Sý uitsprake het Hy in die konteks van die verbondsvolk gemaak – voorskrifte dus vir gelowiges). Sedert die kerk in die heidenwêreld begin wortel skiet het, het ander probleme begin opduik. Een van die moeilike situasies wat algemeen voorgekom het – soos vandag nog – is die geval waar 'n man of vrou vanuit die heidendom tot bekering kom, maar nie sy of haar eggenoot nie. Hieroor gee Paulus nou geïnspireerde lering (v.12-16).[3]

            Dit gaan spesifiek oor die vraag: Vereis 'n heilige lewe nie van die nuwe bekeerling om hom of haar van die ongelowige eggenoot af te skei nie? Nee, sê die apostel, moenie skei nie, byt vas! Wie weet, heel waarskynlik wil die Here jou gebruik in die bekering van jou huisgenote – sowel jou ongelowige eggenoot as jou kinders (v.14, 16).

                        =          Vers 14 is die begronding vir v.16 se moontlikheid. Eén gelowige in 'n gesin heilig die res van die gesinslede – die ongelowige eggenoot, sowel as die kinders.[4] Dit beteken dat hulle afgesonder is vir besondere voorregte. Wat is dit?

            Enersyds rus die Here se seën op so 'n huis.

            Andersyds het sowel die ongelowige eggenoot as die kinders die geleentheid om die evangelie eerstehands te hoor uit die mond van die een wat naaste aan hulle is. Daarbenewens kan hulle God se genade "in aksie" sien. En omdat God organies enmiddelik werk, gaan dit heel moontlik die weg wees waarlangs hulle tot bekering kom.[5]  

            Daarom, sê Paulus, hou uit en hou aan! Wat sal van jou ongelowige eggenoot word as jy hom los? Hy sal gaan troos soek by die heidene. En wat gaan van jou kinders word? Hulle sal in 'n heidense huis groot word!

                        =          Dis belangrik om hier te let op Paulus se trant. Eerder as om 'n onbuigbare verbod te plaas op egskeiding in die situasie onder ons vergrootglas, het hy 'n veel sagter aanslag. Die gelowige moet alles in sy of haar vermoë doen om hierdie uiters ongemaklike huwelik te laat werk – indien ook die ongelowige kans sien om dit te probeer (v.12-13). Maar as alles wat menslik moontlik is dan gedoen is, en die ongelowige besluit hy of sy het genoeg gehad – is egskeiding 'n aanvaarbare opsie (v.15).

            Dit is egter  belangrik om op te let dat Paulus nie die inisiatief hiervoor aan die gelowige gee nie.

                        =          In so 'n geval is die geskeide gelowige nie gebind nie (v.15). 'n Woorstudie maak dit duidelik dat daar geen huweliksverpligtinge meer vir hom of haar oorbly nie. So 'n geskeide is vry. Daar is geen verantwoordelikheid om versoening te soek nie. En die pad is oop om weer te trou – sonder die gevaar van oortreding van die Sewende Gebod.

            Uiteraard moet so 'n huwelik dan met 'n gelowige wees (v.39) – wat per definisie die vorige eggenoot uitsluit (tensy daar natuurlik bekering was sedertdien).

                        =          V.15 sluit af met 'n stelling wat dikwels misgekyk word: "Maar God het ons tot vrede geroep" (OAV). Wat wil die apostel hiermee sê? Selfs 'n egskeiding in hierdie geval is beter as 'n onverkwiklike toutrekkery en bakleiery. Uit soiets moet die Christen uitbly. Hy of sy moet in sagmoedigheid en waardigheid die ongelowige eggenoot laat gaan en berus in God se soewereine wil.

            Veral as daar kinders by betrokke is wat nou in 'n ongelowige huis gaan groot word, kan so 'n saak hartverskeurend wees.

            Maar nooit kan hulle buite bereik van die gelowige ouer se gebede wees nie! En, onthou, God is 'n hoorder van gebed!

Homoseksualiteit en homoseksualisme

#          In die deeglike beoordeling van hierdie verskynsel is dit weereens nodig om – soos in so baie gevalle die eerste hoofstukke van die Bybel te besoek. Die wortels van sóveel Bybelse beginsels lê daar.

#          Die fundamentele beswaar teen homoseksualisme is dat dit op 'n skreiende manier God se skeppingsverordeninge aantas. Toe God die wêreld gemaak het, het Hy 'n fundamentele onderskeid in die mens daargestel – onmiskenbaar duidelik in die menseliggaam weerspieël: manlik (zakar) en vroulik (neqevah). Hierdie twee Hebreeuse begrippe verwys spesifiek na hulle biologiese en seksuele verskille.

            Voorts het Hy die lewenslange huweliksverbond tussen een man (ish) en een vrou (ishah) in Sy skepping vasgelê: Hulle sou mekaar "aankleef" en "een vlees" word – en sodoende saam-saam hulle groot opdrag uitvoer om die aarde te vul en te beheers tot eer van hulle Maker. Só sou hulle die beeld van God vertoon – in die besonder die feit van Sy drie-enigheid.

            Die huwelik sou dus heteroseksueel wees – en die enigste konteks vir seksuele intimiteit.

            Hierdie skeppingsverordening, met sy natuurlike onderskeid tussen die geslagte, word oor en oor deur die Nuwe Testamentiese vertolkings van die skeppingsgebeure bevestig.

            +          Hierdie verskil is nie 'n arbitrêre ongeluk van ewolusie nie – asof oorlewing van die sterkste net diegene wat in pare voortplant behoue laat bly het. Ewe min is dit 'n bloot kulturele konvensie, gebou op eeue-oue tradisie.

            +          Homoseksualiteit is daarom nie net 'n variante seksuele voorkeur, of 'n legitieme afwyking binne die groot verskeidenheid van God se skepping nie (soos linkshandigheid). Dis nie 'n derde seksuele tipe nie. Homoseksualisme is 'n flagrante geweldsaandoening van God se mees fundamentele skeppingsinstelling met betrekking tot die mens – die kroon van Sy skepping.

            +          Die onaanvaarbaarheid van sodomie lê dus in die onnatuurlikheid daarvan (Rom 1:26-27). Dit is totaal teen die grein van God se skeppingsordes en is 'n tragiese manifestasie van sondegevallenheid.

            +          Verlossing in Christus het ten doel om die gebroke beeld van God in ons te herstel. 'n Homoseksueel of lesbiër op wie die Here se vingerafdrukke van herskepping sit, sal hom of haar dus bekeer en saam met al hulle broers en susters die lewenslange stryd teen die sonde aanpak – teen die Satan, die wêreld en die vlees.

            Dit is presies wat die apostel in 1Kor 6:11 sê – na aanleidig van die voorafgaande twee verse.

            +          Of andersom gestel: Hy wat sê dat hy tot bekering gekom het, maar steeds met die uitlewing van homoseksualisme voortgaan, getuig net daarmee dat hy 'n huigelaar en vreemdeling vir God se genadewerkinge is. Vandaar die spesifieke Nuwe Testamentiese uitspraak dat geen praktiseerder van homseksualisme of lesbianisme die koninkryk van die hemele sal ingaan nie (1Kor 6:9-10; vgl. ook Gen 19; Lev 18:22-23; 20:13; Rom 1:26-27; 1Kor 6:9-10; 1Tim 1:10).

In hierdie studie is gepoog om

van die mees fundamentele huweliksbeginsels in God se Woord te belig

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt – Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]      Paulus noem dit in 1Kor 7:7 'n genadegawe, 'n charisma.

[2]           Dit gaan nie hier oor sg. bed-en-tafel-skeiding nie. Dit is 'n konsep wat nêrens in die Bybel voorkom nie. Die woord wat hier gebruik word, dui op formele egskeiding. In elk geval maak dit nie sin om vir iemand wat net uit die huis uitgetrek het – en dus nog nie formeel geskei is nie – te sê dat hy nie weer mag trou nie. Hy is mos nie on-getroud nie.

[3]          Paulus se woordgebruik toon duidelik dat hy nou 'n heel ander groep of klas mense aanspreek: "Vir die ander sê ek ..." (v.12).

[4]          Die NAV beweeg op 'n onverantwoordelike – trouens, duidelik bevooroordeelde – wyse weg van die Griekse teks. Die OAV is veel beter. Let op dat die idee van heiliging of geheiligdheid drie keer voorkom. Vergelyk daarenteen die 2020, wat letterlik vertaal.

[5]           Hierdie is natuurlik nie ál wat oor ongelowige eggenotes en kinders se bekering te sê is nie. Benewens die feit dat God organies en middelik werk, is daar twee verdere beginsels wat op die situasie inspeel: Die van menslike verantwoordelikheid. Die van God se soewereiniteit.