Bybelskoolopnames: 1. https://tinyurl.com/35n5dwxb
2. https://tinyurl.com/ye22hcb3
"Jy mag nie steel nie."
Eks 20:15; Deut 5:19
Die Ou Testament
# Die Hebreeuse woord wat met "steel" vertaal word (ganab), beteken presies dit: Om iets te vat wat nie aan jou behoort nie.
Dit kom 32 keer in die Ou Testament voor. Dit word gebruik vir die steel van 'n wye verskeidenheid dinge – van diere (Gen 30:33; Eks 22:1), tot huisgode (Gen 31:19,30,32). Dit word selfs gebruik vir die steel van woorde – as profete mekaar se woorde herhaal en voorgee dat dit van die Here af kom (Jer 23:30). En in 2Sam 15:6 word gesê dat Absalom die harte van Israel se burgers gesteel het.
+ Betekenisvol is twee uitsprake oor menseroof, oftewel ontvoering (Eks 21:16; Deut 24:7). Sommige teoloë wil dat hierdie die primêre betekenis van die Agste Gebod is. Ons hoef nie op al hulle argumente in te sak nie, maar dat die standpunt nie sondermeer verwerp kan word nie, blyk uit 1Tim 1:8-11. In v.10 dink Paulus kennelik aan die Agste Gebod, maar praat dan van "ontvoerders". Maar om die gebod so te verskraal, slaag nie die toets van die hele Skrifopenbaring nie. As die Nuwe Testament daarna verwys, word die gewone Griekse woord vir alle vorme van diefstal gebruik (klepto). Die Septuaginta gebruik dieselfde woord as dit die Agste Gebod in Grieks vertaal.
Dit is egter wel so dat die Ou Testament menseroof veel strenger beoordeel as die diefstal van ander dinge. Eersgenoemde was strafbaar met die dood (Eks 21:16; Deut 24:7), terwyl gewone diefstal gestraf is met restitusie – soos ons hieronder sal sien.
# Die diefstal van eiendom moes Ou Testamenties deur die oortreder reggestel word deur vergoeding aan die eienaar. Nie alleen moes die dief teruggee wat hy gesteel het nie (of die ekwiwalent daarvan), hy moes ook kompensasie betaal vir die ongerief en ellende wat sy oortreding veroorsaak het.
+ Eksodus 22:1-15 beskryf 'n aantal regulasies oor restitusie en kompensasie na diefstal. So moes 'n man wat 'n bees gesteel het, vyf beeste teruggee. In die geval van 'n skaap moes vier in die plek daarvan teruggegee word.
= Hierdie boetes is strenger as die normale dubbele kompensasie. Waarskynlik het dit te doen met die feit dat 'n gesteelde dier gewoonlik geslag is en só die misdaad onomkeerbaar gemaak het.
Dit word waarskynlik bevestig deur die feit dat gewoon dubbele kompensasie vereis is indien 'n gesteelde dier in die dief se besit gevind is (Eks 22:4).
= Waarom moes 'n gesteelde bees vyfvoudig vergoed word, en 'n skaap net vier keer? Bes moontlik omdat 'n bees 'n meerdere funksie in 'n huishouding het as 'n skaap. 'n Os word ook gebruik om mee te ploeg; en 'n koei verskaf haar daaglikse kwota melk.
+ Dat die gebod wyer reik as blote diefstal, word duidelik uit Eks 22:5-15. As iemand nie sy diere behoorlik opgepas het nie, en hulle gevolglik 'n ander man se veld of oes beskadig het, moes vergoeding gedoen word. Dieselfde het gegeld vir onverskilligheid met vuur, asook vir nalatigheid in die oppas van 'n ander se eiendom.
+ As 'n dief nie in staat was om die nodige kompensasie te betaal nie, moes hy as slaaf verkoop word – ten einde die nodige fondse vir volwaardige restitusie beskikbaar te stel.
+ Ook in Levitikus word voorskrifte soos dié hierbo gegee. Opvallend is die sterk beklemtoning dat oortreding van die Agste Gebod nie net begaan word teen 'n medemens nie, maar ook teen die Here (Lev 6:1-7). Benewens restitusie aan die eienaar, moes 'n skuldoffer dus ook aan die Here gebring word (Lev 5).
= Lev 6:5 maak voorsiening vir 100% kompensasie plus 'n vyfde. Waarom hierdie afwyking van Eksodus se voorskrifte? Waarom is die straf ligter? Uit die konteks lyk dit asof hierdie die voorskrif was waar iemand sonder opset 'n ander skade berokken het (Lev 5:15).
+ Ou Testamentiese voorskrifte vir die straf op diefstal onderstreep die beginsel van regverdigheid. Die dief moes wéét dat hy betaal, en die eienaar moes behoorlik vergoed word vir sowel sy skade as sy ontwrigting.
Mens wonder of moderne wetgewing nie hierby iets kan leer nie. Meestal kom die dief weg met 'n tyd in die tronk – op staatskoste. En die slagoffer se kompensasie (indien hoegenaamd) moet deur versekering betaal word – op die basis van premies wat hy in elk geval ten duurste self betaal het. Ontmoedig so 'n stelsel regtig diefstal soos dit moet?
# 'n Oortreding van die Agste Gebod wat oor en oor met groot verontwaardiging in die Ou Testament veroordeel word, is uitbuiting van armes en ander swakkes.
+ Die Spreuke-wyse sê: "Moenie 'n arm mens te kort doen omdat hy arm is nie; moenie die hulpelose vertrap in die regspraak nie" (Spr 22:22; vgl. ook v.16).
+ Die profete van die agste eeue voor Christus is striemend in hulle veroordeling van hierdie sonde.
= Amos beskuldig die mense van die noordelike tienstamme-ryk dat hulle die swakkes verdruk en die armes mishandel (4:1); hulle vertrap en van hulle koring afpers (5:11). Hulle vertrap die behoeftiges (8:4) en verkoop armes vir geld, al skuld hulle so min soos 'n paar sandale.
Selfs koringkaf moes deur die hongeriges by die rykes gekoop word (8:6). Duidelik was woekerwins 'n oortreding van hierdie gebod.
= Teen die einde van die agste eeu striem Miga die magtiges en rykes van Juda wat sondermeer die armes se goed afvat (2:1-3). Hy waarsku hulle dat 'n wegvoering soos die van Israel (721 v.C.) ook op húlle wag sou hulle met hulle uitbuiting van swakkes (en ander sondes) voortgaan.
Net die kortstondige reformasie onder Hiskia stel vervulling van hierdie dreigement uit.
+ 'n Eeu-en-'n-half later, as die Babiloniese ballingskap 'n werlikheid is, gee Esegiël vir hulle die redes daarvoor. Ondermeer sê hy: "Die burgers van die land verdruk en beroof mense. Hulle buit armes en mense in nood uit ..." (22:29).
+ Die Ou Testament se laaste boek spreek steeds die sonde aan: Tekortdoening van die dagloner; verontregting van die weduwee en weeskind (Mal 3:5).
# Ander oortredings van die Agste Gebod wat in die Ou Testament genoem word, is bedrog (byvoorbeeld, 'n weegskaal waarmee geknoei is) en omkopery (1Sam 8:3).
# Die geskiedenis van Israel se nederlaag teen Ai en Akan se sonde (Jos 7) fokus ons aandag op 'n baie besondere manier om die Agste Gebod te oortree.
+ Destyds is sekere dinge soms onherroeplik aan die Here gewy – en as banoffer vernietig – soos byvoorbeeld Jerigo (Jos 6:17). So is ook Ai en sy inhoud aan die Here gewy (7:1; vgl. NIV se voetnota). Akan neem egter van die buit. Só steel hy van dit wat aan die Here behoort – en sy straf is skrikwekkend (7:25-26).
+ Saul is skuldig aan dieselfde sonde (1Sam 15:9, OAV). Hy sterf weliswaar nie so dramaties soos Akan nie, maar sy uiteinde is ewe tragies.
+ 'n Variasie op hierdie tema word deur Maleagi aangesny. Iemand wat nie sy gawes vir die Here gee soos hy moet nie, beroof Hom (Mal 3:8-9).
Die Nuwe Testament
# In die teks van die Nuwe Testament verwys die Here Jesus slegs een keer uitdruklik na die Agste Gebod – as Hy dit vir die ryk jongman aanhaal (Matt 19:16-22; Mark 10:17-22; Luk 18:18-25). Hy hou dit aan die man voor as God se volmaakte standaard.
+ In die algemeen het Jesus egter meermale afwysend oor diefstal gepraat. In die proses gebruik Hy twee verskillende Griekse woorde gebruik: kleptes, 'n dief; en lestes, 'n rower.
Eersgenoemde bekom sy buit deur skelm slinksheid; laasgenoemde deur openlike geweld. Beide woorde word byvoorbeeld in Joh 10:8 gebruik: Almal wat met messiaanse aansprake vóór Hom gekom het, was diewe en rowers, maar Sý skape het nie na hullegeluister nie.
Judas was 'n dief, aangesien hy Jesus en die dissipelkring se geld op 'n slinkse wyse verduister het. Daarenteen was die twee misdadigers wat saam met die Here gekruisig is, geweldadige rowers (Matt 27: 38,44).
+ As Jesus die Fariseërs en skrifgeleerdes beskuldig van hebsug (Matt 23:25), gebruik Hy 'n woord wat eintlik rowery beteken (harpage). In lyn met die Nuwe Testament se beklemtoning van die ander gebooie se diepste betekenis, kan ons hieruit aflei dat Hy ook hebsug as 'n hartsoortreding van die Agste Gebod beskou. Dit laat mens die skokkende uitsprake verstaan waarin volgehoue hebsug gestel word as 'n sonde wat tot die ewige verdoemenis lei (1Kor 5:11; 6:9-10; Ef 5:5; e.a.).
# Ook die apostels bevestig die voortgaande geldigheid van die Agste Gebod.
+ Petrus spreek hom duidelik uit teen diefstal in 1Pet 4:15. Wat hy sê, kom hierop neer: Om te ly is eenvoudig deel van die Christelike lewe – maar allermins moet dit wees oor misdadigheid, oor moord, diefstal, of kwaadsprekery.
+ As mens gaan kyk na die ander plekke waar die apostels diefstal veroordeel, is dit opvallend dat hulle elke keer 'n sterk positiewe oproep daartéénoor stel. Die nuwe lewe in Christus móét dus radikaal anders wees as die ou lewe volgens die waardes van 'n sondegevalle wêreld.
Bekering was en is steeds
'n ingrypende lewensommekeer!
Op hierdie manier gee die apostels ook vir ons rigtingwysers met betrekking tot die Agste Gebod se positiewe implikasies en uitlewing.
= Efesiërs 4:28: "As iemand 'n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op 'n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee."
= In Tit 2:9-10 beveel Paulus sy jonger medewerker om bekeerde slawe te leer om nie by hulle werkgewers te steel nie. Daarenteen moet hulle getrou werk – en sodoende "die aansien van die leer van God ons Verlosser verhoog."
Die betrokke Griekse woord wat Paulus gebruik, dui op steel deur bietjie-bietjie vir jouself eenkant neer te sit (dinge het nie verander nie, het dit!).
Die Septuagint gebruik dieselfde woord vir Akan se sonde by Ai.
= Hoewel Jakobus nie uitdruklik van steel praat nie, eggo hy onmiskenbaar in Jak 5:1-6 die Ou Testamentiese veroordelings van die Agste Gebod se oortreding. Inderdaad skreeu die agterhou van arm werkers se loon nog steeds ten hemele. So 'n sonde sal nie by God verbygaan nie!
# Die apostel Paulus was geweldig sensitief daaroor dat hy nooit deur die gemeentes beskuldig sou kon word van diefstal nie. Daarmee het hy nie flagrante diefstal bedoel nie. Wat hy in gedagte gehad het was uitbuiting en manipulering – 'n armdraaiery om soveel moontlik materiële voordeel uit die gemeentes te put. In 2Kor 7:2 herinner hy sy lesers dat hy en sy medewerkers hulle nooit "uitgebuit" het nie. Die begrip wat hy gebruik, het ondertone van bedrog.
+ Só bang was Paulus dat hy van onderduimse uitbuiting beskuldig sou word, dat dit sou lyk asof hy homself deur die evangelie verryk, en dat hy sodoende die Here se Naam in oneer sou bring – dat hy liewers verkies het om die gemeentes gratis te bedien.
Ja, hy het geweet elkeen "wat onderrig ontvang in die woord van God, moet sy leermeester laat deel in al die goeie dinge wat hy het" (Gal 6:6; 1Kor 9:3-14; 1Tim 5:1718). Maar ten spyte daarvan het hy in die vroeër jare tente gemaak om homself te versorg, en later – toe sy roeping te veeleisend was – het hy die Here vertrou vir sy lewensonderhoud (Hand 20:33-35; 1Kor 4:12; 9:14-19; 2Kor 11:7-11; 1Tess 2:9; 2Tess 3:7-9).
+ Met hierdie gesindheid het Paulus natuurlik in die voetspore van Ou Testamentiese godsmanne gestap. Luister byvoorbeeld wat sê Samuel (1Sam 12:3-5), en Nehemia (Neh 5:14-19).
+ Is dit wat Jesus bedoel as Hy sy twaalf dissipels uitstuur: "Moet niks vir die pad saamvat nie, nie 'n kierie of 'n reissak of brood of geld of nog 'n kledingstuk nie" (Luk 9:3)? Aan die sewentig gee Hy dieselfde opdrag (10:4), en gaan dan voort: "As julle in 'n huis kom ... eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon" (Luk 10:5-7).
+ Hoe kry mens die kloutjie by die oor? Die gemeente moet die prediker versorg; maar die prediker moet op geen kompensasie aandring nie?
Die antwoord lê in 'n vaste Skrifbeginsel:
Dissipels van Jesus dring nie aan op voetwassing nie
Hulle ís voetwassers
# Paulus moet die gemeente in Korinte vermaan omdat sommige van hulle dit durf waag het om medegelowiges na 'n wêreldse hof toe te sleep (1Kor 6:1-8). Die apostel pleit vir 'n gewilligheid om eerder onreg te lei en ingeloop te word as om die Naam van Christus te beswadder (v.7). Maar hulle doen die teenoorgestelde; hulle oortree die Agste Gebod: "... julle doen onreg en pleeg roof, en dit aan broeders" (v.8)!
+ Die verse wat dan direk op bg. volg, is baie betekenisvol. Dit lyk asof dit in Paulus se gedagtes direk uit v.1-8 voortvloei. Ons mag dit nie miskyk nie.
Let op: "Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? ..." (v.9). Let dan verder op die lys van tien doodsondes wat direk hierna volg – dus amper in dieselfde asem as die verbod oor hofsake onder gelowiges in v.1-8 (v.9b-10).
Ons het hier 'n implisiete, maar skrikwekkende waarskuwing.
# Nog 'n praktiese implikasie van die Agste Gebod waaroor die Nuwe Testament hom uitspreek, is gelowiges se verantwoordelikheid om belastings te betaal.
+ Romeine 13:1-7 is die Bybelse locus classicus oor die staat se taak in God se ordes. Paulus beklemtoon dat Hy in sy algemene genade alle regerings aanstel. Hulle is sy diensknegte om orde te handhaaf. Daarom is Christene verplig om onderdanig te wees. En dit beteken onder meer dat hulle belasting sal betaal, sodat hulle owerheid sy werk kan doen.
Belastingontduiking is dus 'n oortreding van God se wil – spesifiek die Agste Gebod.
+ Matteus 17:24-27 werp insiggewende lig op hierdie onderwerp. Daar sien ons Christus se gesindheid. Dis sekerlik nie nodig dat Hý tempelbelasting betaal nie, maar ten einde nie aanstoot te gee nie, word Petrus gestuur om 'n vis te vang – waarin 'n silwermuntstuk sou wees.
Ons reg om te besit
# As die Woord van God diefstal verbied, impliseer dit die individu se reg om besittings en eiendom te bekom en te hê. Dit is dus in orde om te kan sê: "Dit is myne."
Hierdie basiese reg word dwarsdeur die Skrif voorveronderstel. Selfs rykdom word nêrens sondermeer veroordeel nie.
+ Daarom, toe die vroeë gemeente spontaan hulle besittings gedeel het, was daar geen dwang nie (Hand 2:44-45; 4:32-37). Ananias se sonde was nie dat hy deel van sy grond se opbrengs teruggehou het nie, maar dat hy gelieg en gehuigel het (Hand 5:4).
Die vroeë gemeente was dus nie kommunisties nie.
Die kommunisme sê: "Joune is myne!"
Kapitalisme sê: "Myne is myne, en joune is joune!"
'n Dissipel van Jesus sê: "Myne is joune!"
# Die Skrif se beklemtoning is egter nie soseer ons reg om te besit nie, maar ons verantwoordelikheid om 'n regte instelling ten opsigte van besittings te handhaaf. Die sleutelbegrip hier is "rentmeesterskap".
# As die Agste Gebod diefstal verbied, wat is die positiewe implikasies daarvan? As daar 'n verkeerde manier is om besittings te bekom, hoe kry ons dan besittings op die regte manier?
Volgens die Bybel op twee wyses: Deur dit as geskenk of erfenis te ontvang. Of deur daarvoor te werk.
# En wat is die basiese dinge waarvoor ons geld moet aanwend?
+ Ons moet onsself en ons gesinne onderhou. Om dit ná te laat, is 'n ernstige sonde voor die Here (1Tim 5:8)
+ Ons moet behoeftiges en minderbevoorregtes help. In die Ou Testament word hierdie gawes voorgeskryf. In die Nuwe Testament egter verval alle formele reglementering. Maar sonder twyfel stel die Here en sy apostels by talle geleenthede 'n ononderhandelbare premie hierop.
+ Ons moet belastings betaal. So word die owerheid in staat gestel om sy uiters belangrike taak te vervul (Rom 13:6-7).
+ Ons moet die Here se werk en voltydse werkers ondersteun (Gal 6:6; 1Kor 9:3-14; 1Tim 5:17-18).
# Terwyl die Agste Gebod ons reg op besit onderstreep, plaas die Bybel besittings deurgaans in 'n sekondêre plek. Nooit mag ons toelaat dat dit ons lewens beheers nie! Allereers moet ons die koninkryk van God en sy geregtigheid soek (Matt 6:33). Ons kan nie God én Mammon dien nie (Matt 6:24). Ons lewens moet vry van geldgierigheid wees (Heb 13:5).
Trouens, oor en oor beklemtoon die Woord van God dit: Een van die mees betroubare merktekens dat iemand deel het aan die nuwe skepping in Christus, is uitdeling.
# Net as voorbeeld, luister na die Here Jesus, en een van sy apostels:
Luk 6:38
Gee, en aan julle sal gegee word
'n goeie maat, saamgepers, ingeskud en tot oorlopens toe vol sal in julle skoot val
Want met die maat waarmee julle meet
sal vir julle afgemeet word
2Kor 9:6-8
Wie karig saai sal karig oes
en wie oorvloedig saai sal oorvloedig oes
Laat elkeen gee soos hy vooraf in sy hart besluit het
nie met droefheid of onder dwang nie
want God het 'n blymoedige gewer lief
God het die vermoë om
alle genade oorvloedig vir julle te gee
sodat julle alles – altyd – álles wat julle nodig mag hê sal hê
en dus oorvloedig kan wees in elke goeie werk
(Vers 8 is my poging om die Grieks so goed moontlik weer te gee, veral ten einde die vyf onderstreepte woorde uit te lig wat etimologies almal boeties van dieselfde pa is – en die idee van volledigheid dra. Die Amplified Bible oordoen dit dalk 'n bietjie, maar ek het my al dikwels daarin verlustig.)
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt – Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev