PDF WEERGAWE

Bybelskoollesings:           1.   https://tinyurl.com/yc2afsrf

                                                2.   https://tinyurl.com/m36w5tp8

"Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie."

Eks 20:16

"Jy mag nie vals teen 'n ander getuig nie."

Deut 5:20

Formeel

#          Eksodus en Deuteronomium se weergawes verskil effens in die oorspronklike taal. Eersgenoemde se weergawe sou letterlik só vertaal kon word: "Jy sal nie teen jou naaste as 'n vals getuie getuig nie." En laasgenoemde só: "Jy sal nie teen jou naaste as 'n leë getuie getuig nie." Die verskil kan beswaarlik in ons vertalings uitgebring word, aangesien die woorde in hulle betekenis taamlik oorvleuel. Maar mens sou kon sê dat Eksodus die klem laat val op die gesindheid van die leuenaar – op die bedrieglikheid van die leuen; terwyl Deuteronomium die inhoud onderstreep – dat die getuienis leeg is.

#          Die Hebreeuse begrip, "om te getuig", het 'n sterk juridiese konnotasie. Dit word dikwels gebruik vir die getuienis wat in 'n hof afgelê word.

            Ons kan dus sê, met Bybelse mandaat, dat die Negende Gebod 'n tweërlei gerigtheid in Ou Testamentiese Israel gehad het: Om juridiese geregtigheid in die volkslewe te verskans. En om die waarheid as waarheid te beskerm.

Juridiese geregtigheid in die Bybel

Die Ou Testament

#          Die Negende Gebod wou regspraak in die Godsvolk vrywaar van korrupsie en elke Israeliet se reg verseker tot 'n goeie reputasie en regverdige verhoring in die geval van 'n aanklag.

            +          Die klassieke oortreding van hierdie aspek van die Negende Gebod word in 1Kon 21:1-16 aangetref. Nabot weier om sy wingerd aan die koning, Agab te verkoop. Die slinkse koningin, Isebel, organiseer dan dat twee gewetenlose manne om 'n klag van laster teen hom bring. Omdat dit 'n dubbele getuienis is, word die klag aanvaar – en word Nabottereggestel.

#          In ou Israel het 'n aanklag teen iemand 'n dispuut meegebring. Die regbank se rol was dan om uitspraak tussen die aanklaer en aangeklaagde te gee. In die proses kon beide partye natuurlik getuig, en kon hulle ook getuies roep om hulle saak te sterk.

#          Daar is talle Ou Testamentiese uitsprake wat so 'n proses van regspraak kwalifiseer. Die eerste twee word aangetref in Eks 21-23 – wat 'n klomp implikasies van die Tien Gebooie ontwikkel.

            +          Eerstens, Eks 23:1-3 maak 3 punte duidelik:

                        =          'n Vals getuie is ook 'n "kwaadwillige getuie" (v.1, OAV). Letterlik sê die teks dat hy 'n getuie van geweld is. Hy kan m.a.w. veroorsaak dat iemand onskuldig tereggestel word. Die punt is dat 'n getuienis ingrypende implikasies vir 'n ander mens kan inhou. Om getuienis af te lê is dus geen ligtelike saak nie; daar rus 'n enorme verantwoordelikheid op die getuie.

                        =          Meerderheidsgetuienis is nie noodwendig betroubaar nie. Trouens, groepskragte kan meebring dat 'n massahisterie uitbreek waarin alle redelikheid verdwyn – en gevolglik die allerverskriklikste ongeregtighede tot gevolg kan hê. Sekerlik is die klassieke voorbeeld die "verhoor" van Jesus Christus.

            Vers 2 se punt is dus dat 'n getuie nie 'n konformis mag wees wat hom deur groepsdruk laat intimideer nie. Die waarheid alleen moet oor sy lippe kom.

                        =          Regspraak moet totaal onpartydig wees (v.3). Regters en jurielede mag hulle byvoorbeeld nie deur 'n man se armoede tot 'n subjektiewe simpatie laat beïnvloed nie. Die punt is dat die persoonlike omstandighede en status van 'n aangeklaagde – of sy gebrek daaraan – nie die regbank se beoordeling mag kleur nie.

            +          Tweedens, Eks 23:6-8 en Lev 19:15 bou die beginsel van onpartydigheid verder uit:

                        =          Armes en swakkes, enersyds; en rykes en magtiges, andersyds, moet presies dieselfde behandeling kry as almal. God se toorn oor vertrapping van armes word in Eks 23:6 as 'n ontmoediging van sulke wanpraktyke aangebied.

                        =          Regters en jurielede mag geen omkoopgeskenk aanvaar nie. Korrupsie verwring sonder uitsondering goeie regspleging (vgl. ook Deut 16:18-20). Dis presies wat gebeur het toe Samuel se niksnutseuns hulle laat omkoop het en "die regspraak verdraai" het (1Sam 8:3).

            +          Derdens, Lev 5:1 vereis dat iemand wat eerstehandse kennis oor 'n kriminele saak het, as getuie na vore sal kom. Sy getuienis kan help om iemand se onskuld te bewys, of om 'n skuldige aan die pen te laat ry (vgl. ook Spr 29:24).

            +          Vierdens, Deut 19:15 dring aan op die getuienis van meer as een persoon voordat 'n betroubare uitspraak gemaak kan word. In Num 35:30 en Deut 17:6 word dit spesifiek op 'n moordsaak van toepassing gemaak.

            +          Vyfdens, Deut 19:18-20 vereis dat 'n vals getuie dieselfde straf moet kry as dit wat hy in sy kwaadwilligheid oor die aangeklaagde wou bring.

Die Nuwe Testament

#          As die Nuwe Testament hierdie aspek van die Negende Gebod ontwikkel, het dit feitlik deurgaans betrekking op geregtigheid binne die gemeente. Dis te verstane, aangesien openbaringshistoriese lyne vanaf die Ou Testamentiese verbondsvolk na die Nuwe Testamentiese volk van die Here toe deurgetrek word. Dit gaan dus oor geregtigheid tussen gelowige en gelowige, of tussen die individu en die gemeente, of tussen gemeente en gemeente.

#          Ook in die Nuwe Testamentiese gemeente is die vereiste dat niemand op minder as twee getuies veroordeel mag word nie, 'n belangrike beginsel.

            +          In Matt 18:15-17 leer die Here Sy dissipels hoe om verhoudingsbreuke en oortredinge in die gemeente te hanteer. As die individuele en persoonlike teregwysing van 'n broeder of suster wat gesondig het, geen bekering tot gevolg het nie, moet daar as tweede stap nog een of twee medegelowiges saamgeneem word as hy of sy weer vermaan word.       Een van die redes hiervoor is sekerlik die beskikbaarheid van twee of drie getuienis indien dit nodig sou wees om as derde stap die oortreding onder aandag van die hele gemeente te bring. In so 'n geval sou die gemeente 'n betroubare beslissing kon maak.

            +          Dieselfde beginsel geld indien teen 'n ouderling opgetree moet word (1Tim 5:19-21). Hy mag slegs op grond van meer as een getuie skuldig bevind word. Maar indien hy skuldig is, moet hy sonder aansiens des persoons – soos enige lidmaat – in die teenwoordigheid van almal bestraf word. Daar mag geen partydigheid of voortrekkery wees nie.

            +          Ons gebrokenheid en onvolmaaktheid – steeds ook as mense wat reddend met Christus verenig is – is die rede vir die vereiste vir meer as een getuie. Geeneen van ons se oordeel is onfeilbaar nie; inteendeel. Dis waarom ons so versigtig moet wees om te oordeel. Ons loop almal met balke van vooroordeel in ons oë rond. Eers as Christus terugkom, sal 'n algeheel betroubare oordeel gevel word (Matt 7:1-6; 1Kor 4:5).

#          'n Oortreding van die Negende Gebod wat baie skerp deur die Nuwe Testament veroordeel word, is kwaadspreek. Dis 'n meedoënlose manier om 'n ander te ontneem van sy reg om vir homself te getuig; om sy reputasie – gewoonlik aan die hand van verdraaide waarheid of leuens – agter sy rug geweld aan te doen.

            +          Paulus gebruik twee Griekse woorde vir hierdie sonde:

                        =          Die eerste woord is ten nouste verwant aan een van Satan se name – duiwel (Gr. diabolos: beskuldiger). Die apostel gebruik dit op twee plekke in die Pastorale Briewe, as hy vrouens verbied om te skinder (1Tim 3:11; Tit 2:3).

                        =          Die tweede woord (Gr. blasphemia), dui op lasterlike, oneerbiedige en aftakelende spraak (Ef 4:31; Kol 3:8; 1Tim 6:4).

            +          Volgens 1Kor 5:11 moet gelowiges hulle van kwaadsprekers afskei; trouens, 6:10 sê dat sulke mense nie die koninkryk van God sal binnegaan nie.

#          Die feit dat die Nuwe Testament se eerste beklemtoning m.b.t. geregtigheid gemeentegerig is, beteken nie dat Christene apaties kan staan teenoor geregtigheid in die wêreld waarin hulle leef nie; inteendeel. As mens egter die Nuwe Testament lees, kom 'n verbasende aksent na vore. Bevordering van geregtigheid in die samelewing lê nie in die eerste instansie in sosio-politieke aktiwisme nie. Voordat hulle daarby uitkom, is daar eers twee ander maniere waarop hulle hierdie gevalle wêreld ten goede beïnvloed. En voordat struktuurtakelary op hulle agenda kom, raak hulle gewoonlik so besig met die uitnemende, dat hulle beswaarlik by die goeie kan uitkom.

            +          Dis wanneer hulle lewens soos die saligsprekinge is (Matt 5:1-12), dat hulle "die sout van die aarde" en "die lig van die wêreld" word (5:13-16). Wanneer hulle geregtigheid oorvloediger is as die van die skrifgeleerdes en Fariseërs (5:20, OAV), word hulle 'n element van preservering en 'n voorbeeld van integriteit en egtheid in hulle samelewing.

                        =          Sonder twyfel sal die "geseëndes" van Matt 5:1-12 in barmhartigheid uitreik na diegene wat onder samelewingsongeregtigheid ly. Maar sosio-politieke takelary is iets anders.

            +          Deur die evangelie uit te dra – die krag van God tot redding (Rom 1:16-17) – word Christene instrumente waardeur die Heilige Gees mense se harte verander. En soos mense se harte verander, verander hulle lewens – en verander die wêreld waarin ons leef.   Wie kan deur die Nuwe Testament lees en ontken dat Christus en Sy dissipels primêr hiermee besig was?

            +          Maar bogemelde wil in geen opsig Christene se politieke stem stilmaak nie. Dis goed en nodig – solank dit net nie genoemde prioriteite verdring nie.

'n Heilige premie op waarheid as waarheid in Ou en Nuwe Testament

Die Ou Testament

#          As ons van waarheid praat, bedoel ons gewoonlik iets objektiefs – die teenoorgestelde van die leuen, die teenpool van dit wat vals, leeg, bedrieglik, sonder grond is. Objektiewe waarheid, feitelike akkuraatheid, is inderdaad 'n Bybelse absolute.

            Máár daar is ook 'n tweede betekenis van waarheid waarop die Skrif eweneens 'n ononderhandelbare premie plaas: Subjektiewe egtheid, persoonlike betroubaarheid, onkreukbare integriteit.

#          Die Negende Gebod is ten diepste gewortel in die waarheid van God. Hierdie Goddelike attribuut word dan die standaard vir die mens se uitlewing van waarheid.

            +          Oor en oor beklemtoon die Ou Testament dat die Here 'n God van verbondstrou (Hb. chesed) en waarheid (Hb. emeth) is. En dan word die integriteit van Sy karakter, en Sy onwankelbare betroubaarheid – die waarheid van wie en wat Hy is – die sekerheid van Sy openbaring se feitelike akkuraatheid. Die betroubaarheid van Sy kommunikasie aan die mens is veranker in die betroubaarheid van Sy verhouding met Sy gunsgenote.

                        =          Samuel stel dit só: "Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie 'n mens dat Hy van gedagte sal verander nie" (1Sam 15:20).

                        =          Selfs 'n obskure karakter soos Bileam moes erken: "God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie, 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?" (Num 23:19).

#          Deurgaans word leuenagtigheid veroordeel (vgl. ondermeer Ps 10:7; 24:4; 50:19; 59:13; Spr 11:1; 19:8; 24:28; Jes 30:9; 32:7; Jer 9:5, 8; Amos 8:5; Miga 6:11).

            +          'n Bepaalde vorm van die leuen wat besonderlik afstootlik is vir die Here, is beloftes wat nie uitgevoer word nie. Dis omdat Hy so onkreukbaar getrou is om alles te doen wat Hy beloof het. Dis omdat Salomo in waarheid kon sê tydens die ingebruikneming van die tempel: "Nie een van die goeie beloftes wat Hy deur sy dienaar Moses gemaak het, het onvervul gebly nie" (1Kon 8:56).

            Daarenteen is die mens skreiend onbetroubaar in sy verhoudinge met sy medemens. Spr 25:14 stel dit só: "Miswolke en wind, maar geen reën nie, so is iemand wat spog met wat hy sal gee, maar dit nooit gee nie." Hy wek hoop in tye van droogte, maar van sy onderneminge kom nooit iets nie.

            +          Nog 'n soort leuen wat selfs met meer veragting in die Ou Testament veroordeel word, is die wanvoorstelling van God en van die dinge wat die Gees en ewige waarheid betref. Dit kom veral op twee wyses tot uitdrukking.

                        =          Okkultiese praktyke wat daarop aanspraak maak dat dit waarheid kommunikeer (Dt 18:9-14).

                        =          Vals profesie wat voorgee dat dit die woord van die Here spreek. Soos vandag was daar ook destyds talle wat hulleself wysgemaak het dat hulle profete is en allerlei openbaringe van God ontvang. Die Skrif speek baie oordele oor sulke mense uit. Jeremia sê dit treffend in 23:9-40.

Die Nuwe Testament

#          Ook die Nuwe Testament beklemtoon waarheid (Gr. aletheia) as een van die Drie-enige God se attribute. Hy hóú Sy woord (Tit 1:2; lett. Hy lieg nooit nie) en valsheid is totaal strydig met Sy natuur (Heb 6:18; 2Tim 2:13).

            +          God die Vader is waarheid. In Joh 7:28 en 1Thes 1:9 word van Hom gesê dat Hy "alethinos" is. Die uitgang, "-inos" word in Grieks gebruik om op die essensiële aard van 'n persoon (of ding) te dui. Vergelyk ook Joh 3:33; 8:26; Rom 2:2; Op 6:10; 15:3; 16:7; 19:2; 22:6).

            +          God die Seun is waarheid (Joh 1:9; 1:14; 8:16; 14:6; 15:1).

            +          God die Heilige Gees is waarheid. Hy is die Gees van waarheid (Joh 14:17; 15:26; 16:13) wat in die hele waarheid lei.

#          Soos met al die gebooie het ook die Negende Gebod 'n negatiewe én 'n positiewe kant.

            Negatief moet valsheid, onegtheid, bedrog en die leuen totaal vermy word.

            Positief moet die objektiewe waarheid gesoek, begryp, uitgeleef en verbrei word, terwyl subjektiewe waarheid steeds die innerlike gesteldheid moet kenmerk.

#          Die Nuwe Testament is boordevol ywer vir objektiewe waarheid. Omdat God waarheid is, is Sy geopenbaarde waarheid algeheel-betroubaar, ewig-vasstaande, universeel-gesagvol. "Ware waarheid" is Skrifgefundeerd, Godgesentreerd, Christusgefokus.

            +          God "wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom" (1Tim 2:4). By die verbreiding van die waarheidsevangelie betrek Hy Sy gemeente as medewerkers. Dis ons onontkombare verantwoordelikheid – Jerusalem, Judea, Samaria, die uiteindes van die aarde!

                        =          Natuurlik aanvaar nie almal hierdie waarheid nie: "Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend" (2Tim 4:4) – hulle verset hulle daarteen (2Tim 3:8). Ander leer en leer, maar kom nooit tot kennis van die waarheid nie (2Tim 3:7). Sulke mense is verstandelik verward en in die geloof 'n mislukking (2Tim 3:8).

            +          Redding kom deur geloof. Maar geloof het inhoud. Wie die leuen glo, se geloof is dus vals, en vals geloof sal niemand red nie. Vandaar die Here Jesus en die apostels se onvermoeide ywer in hulle stryd teen dwaalleer – en hulle verdoemende veroordelings van "wolwe in skaapklere" (Matt 7:15).

            Nie alleen doen dit God oneer aan nie; dit vernietig mense – hulle lewens hier en nou, hulle ewige bestemming.

            Wat meer is, omdat dit die kerk ondermyn en die evangelie verwring, het dwaalleer ver-uitkringende gevolge. Dit werk vernietigend in op komende geslagte.

            +          Maar Nuwe Testamentiese waarheid is meer as objektiewe feite. Om dit aan te neem en lief te hê, behels meer as serebrale opgaring. Gelowiges toon dat hulle die waarheid inderdaad hét, deur dit konsekwent, toegewyd en volhardend uit te leef.

            Dis die eenstemmige getuienis van die Skrif.

                        =          Die apostel Johannes is vol blydskap oor mense wat in ooreenstemming met die waarheid lewe; trouens, niks verskaf hom groter vreugde as dit nie (2Joh 4; 3Joh 4).

            Petrus het dieselfde gesindheid en vreugde as hy skryf aan diegene wat hulle "... in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het ...".

            En vir die Efesiërs sê Paulus dat waarheid 'n onmisbare deel van die Christen se wapenrusting is (Ef 6:14). Hy noem dit spesifiek die "gordel" – waarmee hy sê dat dit bepalend is vir die res van die wapenrusting. 'n Soldaat se toerusting is immers alles op een of ander manier aan die gordel bevestig. Sonder waarheid is ons uitgelewer aan die vyand!

                        =          Waarheid is dus iets dinamies; dis iets wat mens "doen" (1Joh 1:6).

#          Subjektiewe waarheid, oftewel innerlike integriteit, opregtheid en betroubaarheid, word eweneens deur die Nuwe Testament beklemtoon.

            +          Teenoor die Fariseërs en skrifgeleerdes se eedafleggings – by die hemel, die aarde en Jerusalem – druk die Here Jesus Sy dissipels op die hart dat hulle ja, ja moet wees, en hulle nee, nee (Matt 5:33-37).

            Aan die Efsiërs skryf die apostel dat hulle valsheid moet aflê en onder mekaar die waarheid praat (4:25).

            En op die man af sê hy vir die Kolossense: "... moenie vir mekaar lieg nie" (3:9).

                        =          Oneerlikheid kan uiteraard baie gestaltes aanneem. Dit kom tot uitdrukking in woorde, dade, lyftaal; in wat mens sê en wat jy verswyg; in suggestie, oordrywing en onderbeklemtoning. Gou-gou kom die man of vrou wat erns maak met die Negende Gebod agter dat daar maar een geheim is – jy moet jou hart bewaar. Solank jy in jou diepste wese eerlik is, kom die res amper vanself – aangesien die hart die bron van jou lewensuitdrukkings is.

            Maar om die hart suiwer te hou, is natuurlik een van ons heel grootste heiligmakingsuitdaging!

            +          Omdat soveel glibberige kalante hulle destyds as apostels en leraars voorgedoen het – soos steeds vandag – vind veral Paulus dit nodig om die gemeentes weer en weer aan sy opregtheid te herinner. In sy prediking en briewe is hy totaal eerlik. Hy vly niemand nie en ewemin probeer hy mense uitbuit (1Thes 2:5). En hy verkondig waarheid; nie die leuen nie (Rom 1:9; 2Kor 11:31; Gal 1:20; 1Tim 2:7).

            +          Ons durf nie die erns van hierdie saak onderskat nie. Die Skrif verseker ons meermale dat huigelaars en bedrieërs nie die koninkryk van God sal beërf nie (Op 21:27; 22:15).

#          Laat ons in die lig wandel! God se geopenbaarde en objektiewe waarheid moet die lamp vir ons voete wees. En eerlikheid in al sy gestaltes moet ons verhouding met God, met onsself, en met ons medemens kenmerk.

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev