Preekopname: 1. https://tinyurl.com/6bkbk5kh
2. https://tinyurl.com/5fmk4wck
In een van sy boeke vertel 'n voormalige prinsipaal van 'n Bybelskool in Australië dat hulle eendag deur 'n sendeling uit die verre-ooste besoek is. Terwyl hulle oor die kampus stap, verneem die sendeling of hy maar 'n klompie vrae oor hulle oortuigings en teologie kon vra. Natuurlik was daar geen beswaar nie. Die man se eerste vraag was egter 'n groot verrassing. Mens sou verwag dat hy sou afskop met vrae oor hulle Skrifbeskouing, of hulle Godsbeskouing. Maar sy heel eerste vraag was dít: "Wat leer julle oor die mens?"
Dadelik het die prinsipaal geweet dat hy te doen het met 'n man wat sy teologie verstaan. Want die antwoord op die vraag sou onmiddellik die Bybelskool se basiese konfessionele oortuigings verraai - hulle standpunt oor wat redding ten diepste is en oor wie eintlik die eer daarvoor moet kry.
Waarom? Dit is wat hierdie eerste hoofstuk verduidelik. Eers as mens verstaan wat die Bybel régtig oor die mens se sondegevallenheid leer, begin jy verstaan dat die genade waarvan die Woord praat, waarlik, in die volste en diepste sin van die woord, genade is. Nog meer, dis eers as jy die leerstuk oor die mens se radikale verdorwenheid onder die knie het, dat jy die fundamentele Bybelse openbaring oor die uitverkiesing kan verstaan. Trouens, presies net hier lê die meeste mense se probleme met die uitverkiesing wat die Bybel so sonder blik of bloos leer.
J.I. Packer is reg: "The subject of sin is vital knowledge. To say that our first need in life is to learn about sin may sound strange, but in the sense intended it is profoundly true. If you have not learned about sin, you cannot understand yourself, or your fellow-men, or the world you live in, or the Christian faith. And you will not be able to make head or tail of the Bible. For the Bible is an exposition of God's answer to the problem of human sin ...." (God's Words, p.71).
Die leerstuk van die erfsonde
Kom ons kyk eers na 'n oorsigtelike uiteensetting van die leerstuk oor die mens se sondegevallenheid. Dit sal ons help om die Skrifgedeeltes te verstaan waarna ons daarna sal kyk.
Die feit en oorsprong van sonde
Sonde is 'n universele feit. Elke mens ervaar dit – dwarsoor die wêreld en deur alle eeue. Daar is geen uitsondering nie. Die Skrif leer dit; ervaring en waarneming bevestig dit.
Daarom sterf mense, "want die loon van die sonde is die dood ..." (Rom 6:23). [Bybels is "die dood" natuurlik méér as fisiese dood: die sondeval; die liggaanlike dood; die ewige dood, oftewel verderf].
Hoe moet ons dit verklaar? Waar kom dit vandaan? Die rede lê opgesluit in wat die teologie die erfsonde (Eng. original sin) noem.
Erfsonde is die effek van Adam se sonde
op elkeen van sy nakomelinge (dus alle mense),
ongeag van, en oorafgaande aan, enige optrede of versuim aan húlle kant.
Dit sluit sowel die erfskuld as die erfsmet in.
Talle Skrifgedeeltes bevestig hierdie leerstuk. Miskien is Rom 3:9-20 en 5:12-19 die duidelikste. Maar vergelyk ook Gen 6:5-6, 11; 8:21; 1Kon 8:46; Ps 14; 51:7; 53; 143:2; Pred 7:20; Jer 17:9; Mark 7:21; 1Kor 15:2122; Gal 3:22 (NAV); Ef 2:1-3; 1Joh 5:19.
Die erfskuld
Dit gaan hier oor die mens se skuld (Eng. guilt) voor God – en dus oor sy strafwaardigheid. Bloot die feit dat alle mense van nature uit Adam voortkom, maak hulle deel van 'n sondegevalle mensheid wat onder God se toorn verkeer.
Een manier om die verband tussen Adam se sonde en sy nageslag se skuld te verduidelik, is om aan hulle te dink as in sy lendene toe hy gesondig het. Miskien is dit nog makliker as onthou word dat Adam as verbondshoof die mensheid voor God verteenwoordig het. Hy het dus een en elkeen van ons verteenwoordig.
Al Adam se nakomelinge is gevolglik saam met hom aanspreeklik vir die sondeval – hulle is ewe skuldig en net so strafbaar.
'n Illustrasie: Ons ken soortgelyke situasies in die lewe. Hitler se optrede in die dertigs en veertigs van die vorige eeu het die Duitse volk in chaos gedompel. Of, onsedelike ouers kan veroorsaak dat hulle kinders HIV-positief gebore word.
Dit is eenvoudig 'n alledaagse feit van die lewe dat mense in ellende ingebore kan word, sonder dat hulle direk by die oorsaak daarvan betrokke was.
Net so word elke mens in 'n verskriklike toestand ingebore – as deel van 'n mensheid onder die toorn van God (Ef 2:3). Niemand hou hiervan nie, baie probeer dit ontken, ignoreer, wegredeneer – maar presies dit is wat die Bybel leer, sonder blik of bloos!
Adam se skuld word aan alle mense toegereken, gedebiteer (Eng. imputed)
Dis 'n juridiese of wetlike probleem.
Elkeen wat deur bogenoemde geaffronteer word, moet twee maal dink, omdat God se hele reddingsplan op die beginsel van toerekening berus: Adam se sonde word aan my toegereken; my sonde word aan Christus toegereken; Sy geregtigheid word aan my toegereken.
Die erfsmet
Dit gaan hier oor die mens se verdorwenheid (Eng. corruption). Elke nakomeling van Adam word met 'n verwronge morele natuur gebore.
Hy het dus 'n ingebore geneigdheid tot sonde, tot oortreding van God se Wet en wil.
Dit maak hom 'n rebel voor God
Maar meer, hy het nie die vermoë
om aan God se wil en standaarde te voldoen nie
Dit maak van hom 'n mislukking voor God
Dis 'n morele probleem
Hierdie is 'n onomstootlike lewensfeit. Dit geld universeel deur alle eeue. Sien ons dit nie in élke babatjie uitmasel nie? "Myne!" "Nee!" "Gee!" "Sal nie!"
Dis soos 'n negatiewe eienskap wat geneties van geslag tot geslag oorgedra word. Jy word eenvoudig en onontkombaar daarmee gebore.
Die verdorwenheid a.g.v. Adam se sonde
word dus aan sy nasate toebedeel (Eng. imparted).
Hierdie is 'n morele probleem.
Van kleins af is persoonlike sondes die onvermydelike uitvloeisel van die erfsmet, die verdorwe natuur (Ps 58:4). Naas die erfskuld, is daar dus ook steeds toenemende persoonlike sondeskuld.
Hierdie persoonlike sondes manifesteer oor die volle spektrum van die persoonlikheid en lewe: in gedagtes, spraak en dade; in emosies, motiewe en gesindhede; in dade en nalatings.
Radikale verdorwenheid
In Engels word meermale na hierdie sondegevalle toestand van die natuurlike mens as total depravity verwys. Dis 'n benaming wat tot misverstand aanleiding kan gee, aangesien dit die indruk mag laat dat dit wil sê dat die mens so verdorwe is as wat hy kán wees. Dit sou nie wáár wees nie. Wat wel waar is, is dat die sondeval sy skade in die diepste wese van die mens aangerig het en geen area van die natuurlike mens se persoon en lewe dus uitgesluit is van die effekte daarvan nie. Die beeld van God is egter nie totaal vernietig nie (Gen 9:6b), maar dis van hoek tot kant gekraak en verwring. Dit is daarom beter om na hierdie toestand as radikale verdorwenheid (Eng. radical depravity) te verwys (Lat. radix: wortel).
Ergste van alles is dat die natuurlike mens geestelik doof en blind is. Hy hoor en sien nie die dinge van die Here nie (1Kor 2:14). Hy het geen behoefte daaraan nie, maar ervaar veel eerder 'n weersin daarin. Sonder 'n genadewerk van die Heilige Gees het hy nie ware sondebesef nie (Joh 16:8-11), en sal hy nooit tot ware geloof in Christus kom nie (Hand 16:14). Hy is geestelik dood (Ef 2:1).
Is Rom 3:9-20 nie té meedoënloos in sy beoordeling van die mens nie? (L.W. "niemand"; "selfs nie een nie"; "almal").
Hierteenoor sou 'n tipiese reaksie wees: "Daar is tog baie wonderlik-goeie mense! Natuurlik is niemand volmaak nie, maar selfs in die slegstes sit 'n stuk goed!"
Die mens vind die Bybel se lae dunk van hom afstootlik. Daarom sê Luther van hom: "Sy finale sonde is onwilligheid om te erken hy is 'n sondaar."
Tog is dit nodig om te verstaan waarom God se Woord die mens so vernietigend beoordeel.
Wat is die grootste sonde? Diefstal, moord, egbreuk, afgodery, laster, ongeloof? Wel, wat is die grootste gebod? Die samevatting van die Tien Gebooie stel dit duidelik: jy moet God liefhê met jou hele hart, siel, verstand en krag; en jou naaste soos jouself (Deut 6:4-5; Mark 12:28-31). Nou is dit voor die hand liggend dat oortreding van die grootste gebod meteen die grootste sonde moet wees.
Wat is dus die grootste oortreding? Om God nié met jou alles, en jou naaste soos jouself lief te hê nie. En hierin slaag niemand nie. Nooit nie!
Of, om dit positief te benader, vir enige goeie werk, om volkome voor God te wees, moet dit uit 'n hart vloei wat God en die naaste volkome liefhet (1Kor 13:1-3). Daarom lê die Bybel se aksent so sterk op die gesteldheid van die hart. Presies dít is wat Jesus in die Bergpredikasie tuisbring (Matt 5:21vv).
Maar, omdat niemand ooit 'n volkome hart het nie, doen niemand ooit 'n volkome daad nie.
Dit beteken nie dat 'n mens God nie kan behaag nie. Die gelowige kán inderdaad – wanneer iets vanuit die hart en 'n ware geloof gedoen word, volgens Bybelse voorskrifte en met die doel om Hom te verheerlik.
Maar om God te behaag (en vanuit bg. is dit duidelik dat net iemand in Christus dit kan doen) is één saak; om volmáák te wees iets anders. Dis soos 'n klein seuntjie wat sy pa in die tuin probeer help. Sy poginkies is uiters lomp; tog het sy pa groot vreugde in die kleinding se gesindheid.
Romeine 5:12-21 : Die erfskuld
# Hierdie ineengedronge paragraaf is een van die belangrikste in die Bybel. Ons kan dit nie in diepte bespreek nie, maar sal tog probeer om die essensie met betrekking tot die erfsonde, en in besonder die erfskuld, daaruit te haal.
# Die basiese punt van hierdie 10 verse is dit: Soos die ganse mensheid onder God se oordeel verkeer, omdat Adam se sondeskuld aan hulle toegereken word, net so word gelowiges in Christus geregverdig, omdat Sý geregtigheid aan hulle toegereken word.
Die apostel gee vir ons 'n bykans ongeëwenaarde panorama van God se ewige raad en onuitspreeklik kosbare verlossingsplan in Christus. Ja, die ganse mensdom is in die uiterste ellende gedompel deur hulle hoof, Adam. Maar eweneens het 'n nuwe en verloste mensheid ontstaan in Christus Jesus – húlle Hoof.
Die onderliggende beginsels van redding en verlorenheid is dus presies dieselfde
dis die gevolg van wat 'n ander, 'n verteenwoordiger, gedoen het!
Hoewel die paragraaf dus heerlik positief is in sy strekking (die gelowige se verlossing in sy eenheid met Christus), bied dit ook baie lig op die daarteenoorstaande waarheid van die natuurlike mens se sondegevallenheid en verlorenheid in Adam.
Sonde het in die wêreld ingekom deur een mens, Adam (5:12).
Dat dit deur één mens gebeur het, word in die Grieks beklemtoon (dis voorop in die sin). Sonde word hier gepersonifiseer. Deur Adam as instrument te gebruik het hierdie magtige een die wêreld binnegekom. Dis 'n sterk begrip – "binnegetree" was dalk akkurater.
Die dood het in die wêreld gekom deur sonde (5:12).
Ook die dood word hier gepersonifiseer. Op die rug van sonde het hy die wêreld binnegekom.
Wat ons moet raaksien, is dat die dood nie ingeskape, dus natuurlik is nie. Dis straf op sonde. So word dit dwarsdeur die Bybel gesien. "Die dag as jy daarvan eet, sterf jy." (Gen 2:17; vgl. 3:3,19). En die volgende hoofstuk sê dit in soveel woorde: "Want die loon van die sonde is die dood ..." (Rom 6:23, OAV).
So het die dood tot alle mense deurgedring (5:12).
In hierdie stelling beklemtoon die Grieks dat "alle mense" hierdeur geraak word. Te wyte aan die sondeval het die dood in die volste sin van die woord 'n universele realiteit geword – tot vandag toe.
Die woord "deurgedring" is betekenisvol. In die Grieks het dit 'n voorvoegsel wat die gedagte van verspreiding en penetrasie onderstreep. Die dood het as 't ware doelgerig na elke individuele lid van die mensheid deurgesteek.
Omdat almal gesondig het (5:12).
# Hier word die rede gegee vir die universele verskynsel van skuld en die dood. In Adam het alle mense gesondig. Daar is dus een of ander verband tussen Adam se sonde en myne. Wat hierdie saak betref, is elke natuurlike mens onontkombaar solidêr een met Adam.
Paulus gebruik 'n werkwoordsvorm wat dui op 'n eenvoudige en afgehandelde verlede tyd: almal het destyds gesondig. Hy sê dus nie hier dat almal tipies gesondig het of steeds sondig nie. Die werkwoord praat van 'n enkele handeling in die verlede wat steeds sy effekte het. Die gevalle mens is steeds "in Adam".
Ook die konteks bevestig duidelik dat hierdie enkele handeling van Adam die oorsaak van alles is.
+ Verse 13-14 wys daarop dat alle mense reeds vóór Sinai gesterf het, dit ten spyte van die feit dat dit voor die tyd van die Wet was en mens tog nie skuldig kan wees sonder 'n wet nie. Maar die feit dat mense gesterf het, is 'n bewys dat hulle inderdaad skuldig voor God gestaan het.
Goed, sal iemand sê, maar daar was tog so iets soos die natuurlike wet wat hulle oortree het. Goed en wel, maar selfs diegene wat nie in die gewone sin van die woord kan sondig nie, en dus nie op grond van eie sonde skuldig kan wees nie – soos swaksinniges, babas en ongeborenes – het gesterf. Van die begin af was alle mense dus sonder uitsondering onder God se toorn. Van die begin af was almal wat geleef het die dood skuldig.
Daar kan net één verklaring voor wees – hulle het in Adam gesondig.
+ Verse 15-19 sê 5 keer op verskillende maniere dat dit die sonde van één man was wat die oordeel en die dood oor alle mense gebring het: deur die oortreding van een het baie gesterf (15); op die oortreding van een het die oordeel gevolg (16); deur die oortreding van een het die dood heerskappy gevoer (17); een oortreding het gelei tot veroordeling vir alle mense (18); baie het deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword (19).
Trouens, Paulus gebruik die woordjie "een" 12 keer in hierdie paragraaf.
# Belangrikste van alles is egter die analogie wat Paulus tussen Adam en Christus trek. In v.14b word Adam 'n "voorbeeld" van Christus genoem (OAV).
Hulle wat deur 'n ware geloof met Christus verenig is, ontvang die ewige lewe soortgelyk aan die wyse waarop die dood tot alle mense in Adam deurdring. Soos Adam se sondeskuld aan al sy afstammelinge (dus aan alle mense) toegereken, oftewel gedebiteer word – of hulle nou in eie hoedanigheid skuldig is al dan nie – word Christus se geregtigheid, oftewel volmaakte gehoorsaamheid, aan ware gelowiges toegereken of gekrediteer, sonder dat hulle dit enigsins self verdien.[1]
+ Daar kan geen twyfel wees nie: Paulus wil hier vir ons sê dat alle mense in Adam gesondig het. Hy leer die feit van die erfskuld. En sy oor en oor herhalings wil ten alle koste vermy dat ons die punt mis. Hy het geweet hoe wesentlik belangrik hierdie waarheid is.
Ons kan die waarheid oor die erfskuld uiteindelik só opsom: Adam het die ganse mensheid – sy nageslag – as verbondshoof verteenwoordig. Hy het 'n werkverbond met God gehad – en in hóm, dus ook met ons. Deur gehoorsaamheid sou hy die ewige lewe nie net vir homself nie, maar ook vir sy nageslag verdien het. Máár hy het misluk – en in hóm ook ons. En so het die erfskuld, en dus die dood, tot die hele mensheid deurgedring.
Duideliker as enige ander plek in die Bybel onderstreep hierdie paragraaf dat God na die ganse mensheid deur die eeue kyk as ingedeel onder twee hoofde – Adam, wat die dood gebring het, en Christus, wat die lewe gebring het.
Treffend stel die ou Puritein, Thomas Goodwin (1600-1680) dit: "There are but two men standing before God, Adam and Christ – and between them these two men have all other men hanging from their girdles."
+ God het nog altyd met die mens gewerk deur 'n verteenwoordigende verbondshoof. Die geskiedenis van die wêreld kan saamgevat word in wat as gevolg van Adam se optrede gebeur het én as gevolg van wat Jesus Christus gedoen het en steeds doen.
+ Die heel diepste probleem van enige mens is dus nie sy of haar persoonlike sondes nie. Dis selfs nie sy sondige natuur nie. Die mees fundamentele probleem van die mens – van elke mens – reeds vanaf geboorte, trouens, vanaf ontvangenis, is die erfskuld. Ons is gebore as deel van 'n gevalle mensheid in Adam en onder God se verwerpende toorn.
+ Daarenteen moet ons wat met Jesus Christus deur 'n ware geloof verenig is, verstaan dat ons nie net as individue vergewe en regverdig verklaar is nie – wonderlik soos dit is – maar ons het deel geword van die nuwe mensheid, trouens, van die nuwe skepping in Christus (Ef 2:15). Die mens Christus Jesus is die Hoof daarvan. Hy is die eerste onder baie broers en susters.
+ Mense wat aanstoot neem aan die Bybelse openbaring oor die erfsonde, veral die erfskuld – omdat dit kwansuis onregverdig sou wees dat soveel miljoene mense te wyte aan één man se sonde moet ly – is kortsigtig en dwaas. Want só trek hulle óók 'n minagtende streep deur die mees fundamentele beginsel van hulle enigste hoop op redding: regverdiging deur die toegerekende geregtigheid van Christus.
+ As alle mense dan deur hulle stamvader, Adam, in ellende gedompel is, ontvang een en elkeen wat gered word dit eweneens op grond van húlle Verbondshoof se verdienste – en op grond daarvan alleen. En met Hóm word 'n sondaar net deur die geloof verenig!
# Hier het ons 'n merkwaardige bevestiging van die waarheid en betroubaarheid van God se Woord. Waar elders word die universele verskynsels van sonde en die dood nog so duidelik en logies verduidelik? Behalwe vir Henog en Elia, waar God direk ingegryp het, is daar tot vandag toe nie 'n enkele uitsondering nie. As daar al 60 biljoen mense sedert Adam geleef het, soos sommige statistici beweer, bly dit eenvoudig verbysterend dat daar nog nooit 'n uitsondering was nie. Een en elkeen sterf, behalwe diegene wat tot en met die wederkoms leef.
Romeine 1:18-3:20 : Die erfsmet
# Romeine 1:18 sê in 'n neutedop wat Paulus in hierdie hele gedeelte verder ontwikkel. Dit is dus die basiese stelling wat die volgende twee-en-'n-halwe hoofstukke beheers.
+ 'n Sleutelbegrip hier is die woord "onderdruk". Dit dui op die doelbewuste onder hou van iets wat regop wil kom – soos 'n stoeier wat 'n opponent op die krytvloer vasdruk. Dit is so dat die gevalle mens se morele natuur ernstig verbuig is, maar dis ewe waar dat hy nie wil toelaat dat die evangeliewaarheid (1:16-17) die bevrydende woord tot hom spreek nie. Die punt is dat hy nie kan wegkruip agter die feit dat hy sy geneigdheid tot sonde by Adam gekry het nie; hy stel gewoon nie belang in die oplossing vir sy verskriklike dilemma nie. Trouens, hy onderdruk dit.
+ Hierdie gedeelte vervul 'n baie belangrike en onmisbare plek in die Romeineboek – en daarom in die evangelie. Dit vorm die donker dekor waarteen die evangelie (vanaf 3:21 uiteengesit) eers regtig verstaan en waardeer kan word. Wat dit oor en oor beklemtoon, is dat alle mense, die hele wêreld, Jode sowel as heidene, sonder uitsondering sondig en doemwaardig voor God is.
# In 1:19-1:32 spreek Paulus die kwelvraag aan of dit nie onregverdig is dat die heidene verlore gaan nie. Hulle het immers nie God se evangelie-openbaring ontvang nie.
Sekerlik het die heidene minder openbaring as die Jode ontvang. Maar hulle hét wel openbaring ontvang – genoegsaam om hulle sonder verskoning te laat. In die natuur kan God se ewige krag en goddelikheid immers duidelik gesien word (1:20). Tog verheerlik en dank hulle God nie (21). Nog meer, eerder as om Hom in Sy heerlikheid te aanbid, maak hulle vir hulleself allerlei groteske beelde om voor te buig (23).
# In v.24-32 toon Paulus dan dat wat hy sê nie vergesog is nie. God se oordele het reeds in vervulling begin gaan. Driemaal sê die apostel dat God die heidene aan hulle eie verdorwenheid oorgee (24, 26, 28).
Dis duidelik vir almal om te sien. Nog meer, dit toon ook die sondegeneigdheid van mense, want die oomblik as die Here hulle tou laat skiet, sink hulle net dieper in boosheid in.
# Paulus toon dan aan dat sowel die heidene (2:1-16) as die Jode (2:17-3:8) skuldig voor God staan. En in 3:9-20 kom hy tot sy slotsom – 'n vernietigende aanklag teen die sondigheid van die ongelowige wêreld. Niemand hou God se wet nie! Nee, die hele wêreld is strafwaardig voor Hom.
Efesiërs 2:1-3 : In 'n neutedop gestel
Lees mens aandagtig deur hierdie drie verse, besef jy dat Paulus die sondegevallenheid van die natuurlike mens hier baie skerpsinnig saamvat:
Eerstens is die natuurlike mens geestelik dood (v.1). Dit blyk op twee maniere. Die begrip "misdaad" dui op die oortreding van 'n grens. Die limiete wat God daargestel het, word oorgesteek. Die begrip "sonde" dui op die onvermoë om God se standaarde te handhaaf. Die gevalle mens is dus sowel 'n rebel as 'n mislukking voor God.
Tweedens is die natuurlike mens 'n slaaf van die wêreld, die duiwel en die vlees (v.2-3a).
Derdens is die gevalle mens onder die toorn van God (v.3b).
'n Laaste woord om goed te verstaan
# Sonde is status en aard, voordat dit handeling of versuim is. Dit gaan dus om iets veel diepers as die probleem van geweld, of misdaad, of dwelmmisbruik, of wat ook al.
+ Allereers is sonde 'n status voor ons Skepper. Elke mens is voor sy of haar eerste asemteug reeds skuldig voor 'n heilige God. Hy kom as deel van die gevalle mensheid onder God se toorn in hierdie wêreld aan. Dit is wat ons die erfskuld noem.
+ Dan is sonde 'n aard – 'n natuurlike geneigdheid tot rebellie teen God, enersyds, en 'n hopelose onvermoë om aan God se standaarde te
Eers dán word dit óf 'n daad óf 'n versuim.
Die mens doen sonde omdat hy 'n sondaar is
Hy is nie 'n sondaar omdat hy sonde doen nie
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Paulus het reeds die beginsel van toegerekende geregtigheid hier in sy Romeinebrief ontwikkel. In hoofstuk 4 gebruik hy die begrip "toereken" 11 keer. Dis 'n woord wat dui op 'n inskrywing in 'n rekeningeboek – dus om te debiteer of te krediteer.