Preekopname: 1. https://tinyurl.com/ye2n495d
2. https://tinyurl.com/42t56a45
Alle mense, sonder uitsondering, is van nature skuldig en daarom doemwaardig voor God (Rom 1:18-3:20). Almal is onder Sy toorn (Rom 1:18). Dis die mens se grootste probleem!
Job het al hierdie brandendste van alle vrae gevra: "... hoe kan 'n mens regverdig wees by God?" (Job 9:2, OAV). Geen belangriker vraag kan ooit gevra word nie!
Maar dan word Rom 1:18-3:20 opgevolg deur twee van die wonderlikste woorde in die Bybel in 3:21: "Maar nou ..." (Gr. nuni de).
Hierdie twee woorde lei een van die rykste uiteensettings van die evangelie in die ganse Woord in (Rom 3:21-31). Aan die hart van hierdie verse is v.25. En aan die hart van v.25 is die woord hilasterion (vertaal met "versoening").
Die heidene het natuurrampe en ander probleme aan die woede van iesegrimmige gode gewyt. Hilasterion is die woord wat in klassieke Grieks gebruik is vir die offers wat gebring is om hulle te paai. Sonder om die lewende God met die heidendom te assosieer, kan ons aanvaar dat die geïnspireerde apostel met presies hierdie idee werk. So aanvaar die regsinnige teologie dit nog altyd. Rom 3:25 praat dus van die kruis en veral van God se toorn wat daar op Sy Seun ingebrand het.
Hilasterion, hierdie enkele woord, lê aan die hart
van wat Jesus Christus met sy vleeswording kom doen het
maar by uitstek op Golgota
Die toorn van God
Die Bybel praat male sonder tal oor God se toorn. Dis 'n fundamentele begrip in die Skrifopenbaring.
Tot die mate wat mens die toorn van God begryp, tot daardie mate besef jy die erns van jou sonde. En tot daardie mate het jy 'n insig in God se liefdesgenade in Christus. En tot daardie mate verryk dit jou Christenskap van A tot Z.
God se toorn is Sy ewige en absolute afsku van alle ongeregtigheid en sonde asook Sy handelinge om uitdrukking aan hierdie afsku te gee
Dis die heiligheid van God in aksie teen alle sonde
Die toorn van God is net soveel een van die volmaakthede van Sy karakter, as Sy liefde, trou en genade.
Die strafdraende plaasvervanger
# Dis moeilik om 'n bevredigende vertaling vir hilasterion te vind (Rom 3:25). "Versoening" sê nie genoeg nie.
In Engels word die woord propitiation gebruik: "Some offering, sacrifice or suffering sufficient to win forgiveness or make up for an offence. It is an action that makes the governing power propitious (kindly disposed, gracious) toward the offender; it appeases the lawgiver" (Funk & Wagnalls, College Standard Dictionary).
Millard J. Erickson stel dit so in sy Concise Dictionary of Christian Theology: "A reference to the idea that Christ's atonement satisfies the wrath of God."
Christus was die Strafdraende Plaasvervanger (Penal Substitute)
wat God se toorn námens ons gedra en bevredig het
# Plaasvervanging! Dit vind plaas wanneer iemand in die plek van 'n ander optree – en wel só dat dit nie meer vir die ander nodig is om dit te doen nie.
'n Tuinwerker is byvoorbeeld vir my 'n plaasvervanger.
+ In Rom 5:8 en Gal 3:13 word die voorsetsel huper (ter wille van, namens) met "vir" vertaal.
En in Matt 20:28; Mark 10:45 en 1Tim 2:6 word 'n ander voorsetsel, anti (in plek van, in ruil vir), weereens met "vir" of "as" vertaal.
= "Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word ..." (Gal 3:13, OAV).
= "Die Seun van die mens het ... gekom ... om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie ..." (Mark 10:45).
# Strafdraend! Hierdie kwalifikasie bring Christus se plaasvervangende werk in verband met God se geregtigheid en toorn, asook met die morele wet se eise.
Op Golgota het God se toorn teen die sonde van mense op Sy eie Seun in gebrandglas!
Jesus Christus, gedring deur 'n vasberade liefde
om al die nodige te doen vir my redding
het God se verskriklike oordele
waarvoor ék bestem was
volledig namens my gedra
en sodoende vir my vergiffenis, aanneming as kind
en ewige heerlikheid bewerkstellig
# Elke ware gelowige móét hierdie waarheid verstaan. Dit lê immers aan die hart van die evangelie en van sy verlossing. En vir soverre hy dit begryp en glo, sal dit lewensveranderende effekte op hom hê. Daarom ken Christene dwarsdeur die eeue twee belewinge:
+ 'n Diep hartswete: Hiervoor is ek alles – my ganse lewe – aan my Verlosser verskuldig.
+ 'n Onwankelbare innerlike sekuriteit – wat 'n onuitputlike bron word van vrede, vreugde en lof.
Implikasies
Die feit dat my Plaasvervanger strafdraend moes optree – en wel op so 'n verskriklike wyse – impliseer onontkombaar dat ék vir my oortredings en mislukkings in terme van Sy wet strafwaardig voor God was, en dus op pad na die ewige verdoemenis. Presies dit is die punt van Rom 1:18-3:20. Hy het verduur wat mý toegekom het. Hieruit volg vier uiters belangrike stelle waarheid:
1. Waarheid met betrekking tot God
# Dis uiters belangrik om te verstaan dat Christus nie téénoor Sy Vader op Golgota gestaan het nie. Dis 'n totaal verwronge en Godonterende idee dat Hy "arme sondaars" teen Sy Vader se woede beskerm het.
Golgota was ten diepste die Vader se inisiatief. Dis die Vader wat Sy Seun daar "gegee" het (Rom 3:25). Eintlik sê die betrokke werkwoord dat die Vader Sy Seun op Golgota voor Homself neergesit het.
Hoe aangrypend voorsien Jesaja dit nie! "Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom" ... "Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly." (53:4-5, 10).
# Agter die kruis moet God se heilige geregtigheid dus gesien word. Op Golgota is Sy toorn teen my sondeskuld bevredig. Dit het reggemaak wat verkeerd was in Sy oë. Elke kriesel skuld is betaal.
Die kruis beklemtoon die volmaaktheid van God se wet en dat Hy onwankelbaar en kompromieloos daarby staan as morele standaard vir die mens. Die diepste grond vir die redding van sondaars is en bly volmaakte wetsonderhouding – dié van die mens Christus Jesus!
2. Waarheid met betrekking tot die mens
Sedert Golgota kan geen twyfel bestaan oor die erns van God se waarskuwing in Gen 2:17 nie: "Die dag as jy daarvan eet, sterf jy."
Daar kan nie 'n groter en meer beledigende sonde wees as om só 'n Plaasvervanger weg te wys nie (Heb 6:6; 10:29). Daarom sal God elkeen wat sy rug op Sy genade-aanbod draai, met 'n strenger oordeel straf as diegene wat nooit die evangelie gehoor het nie.
Niks beklemtoon die onontkombaarheid van die ewige verdoemenis vir diegene sonder 'n plaasvervanger méér as die feit van Golgota nie. Sal die lewende God 'n rebel oorsien, as Hy Sy eie Seun nie gespaar het nie?
3. Waarheid met betrekking tot Jesus Christus
# As ware mens het Hy ons plek onder God se toorn ingeneem. Hy het dus die ewige dood ondergaan waarvoor ons bestem was – liggaamlik en geestelik. Dis waarom Hy uitgeroep het: "My God, My God, waarom het U My verlaat?" (Mark 15:34). Hier is die onwankelbare fondasie van ons vryspraak en immuniteit in terme van die Wet.
# Talle sê dis immoreel dat een 'n ander se straf moet dra. Hierop kom die Skrif met 'n duidelike antwoord: die Seun het Homsélf vrywillig daarvoor geoffer. Jesus Christus se gewillige opoffering van Homself as Plaasvervanger is sekerlik een van die Skrif se aangrypendste beklemtonings.
+ Vier keer in die gedeelte oor die Goeie Herder beklemtoon Hy dat Hy Sy lewe aflê vir die skape (Joh 10:11,15,17,18).
+ In Ef 5:2 skryf die apostel: "Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as 'n offergawe gegee het, ja, 'n offer wat vir God aanneemlik was."
+ Fil 2:6-8 skets Paulus 3 stappe van self-vernedering:
Hy het afstand gedoen van Sy "bestaan op God-gelyke wyse" (6).
Hy het 'n slaaf geword deur volledig die menslike natuur aan te neem (7).
Hy het Homself nog verder verneder deur in passiewe gehoorsaamheid toe te laat dat Hy as strafdraende plaasvervanger gekruisig word (8).
+ As handelingsgelykenis het die voetwassing in Joh 13 presies dit gesê.[1] Christus het gekom om Sy dissipels te dien. Hy het inderdaad sy lewe vir hulle afgelê.
+ Let op hoe die dissipels keer op keer opgeroep word om Christus in Sy diensbaarheid na te volg. En gehoorsaamheid hieraan, waarskynlik meer as enigiets anders, is die teken van ware dankbaarheid, liefde en navolging – van ware kruisdra en dissipelskap.
4. Waarheid met betrekking tot reddende geloof.
# Geloof begryp dat God se vereistes en standaarde vir die mens volledig en onveranderd bly staan tot in ewigheid, en dat die ewige straf wat God belowe het vir mislukking en rebellie, onafwendbaar rus op elkeen buite Christus.
Ware geloof aanvaar egter ook dat die straf vir my sonde – indien ek inderdaad in Christus skuil – reeds op Christus ingebrand en uitgewoed het.
So bring ware geloof dan gewetensrus. Toplady sing: "Payment God cannot twice demand, first from my bleeding Surety's hand, and then again from mine."
'n Voorbrand dien as brandbeveiliging. Waar 'n vuur eenmaal gebrand het, brand dit immers nie weer nie!
Die vuur van God se toorn het reeds op Christus ingebrand. Daarom sal daar op die oordeelsdag net één veilige plek wees: Golgota se voorbrand!
# Ware geloof gaan nie net eenkeer Golgota toe nie; dit bly skuil voortdurend by die kruis!
Twee wesenstrekke van ware geloof volg hieruit:
+ Dit begryp en omhels God se vrye gawe van vergiffenis en regverdiging in Christus – vir lewe en dood, tyd en ewigheid. Dis die hart van reddende geloof. 'n Christen sterf by wyse van spreke met sy Verlosser se Naam op sy lippe.
+ Wesentlik is ware geloof 'n wegkyk van jouself – na Christus toe, en besonderlik na Hom as die Gekruisigde. Volwasse gelowiges soek dus nie die grond vir hul vergiffenis en toekomshoop in eie belewinge nie. Hulle weet, voortdurende introspeksie is 'n onfeilbare resep vir moedeloosheid. Ja, hulle ondersoek hulleself gereeld (2Kor 13:5), maar steek nie daar vas nie. Hulle sondebesef dryf hulle weer en weer na Christus toe.
# Redding is ten diepste objektief – dit gebeur in die eerste instansie buite my. Regverdiging is as 't ware 'n inskrywing in God se boeke.
Heiligmaking is vrug, nie voorwaarde nie.
+ Laat ons die koperslang in die woestyn onthou (Num 21:89). Al wat nodig was vir genesing, was om te kyk. Jesus gebruik hierdie beeld as Hy oor Sy komende kruisiging praat – en oor die wese van geloof (Joh 3:14-18). Geloof is om jou oë in volle vertroue op Christus vas te nael!
Waarom 'n slang? In die Bybel is dit 'n simbool van boosheid. Die koperslang was dus 'n stuk profesie dat die Messias "sonde vir ons gemaak" sou word – dat Hy ons strafdraende Plaasvervanger sou wees (2Kor 5:21, OAV).
# God se verlossing is toeganklik vir almal – ongeag hoe groot jou sonde, onvermoë of onwaardigheid ook al is! Al wat immers nodig is, is om vanuit jou magtelose bankrotskap in totale afhanklikheid na Christus te kyk. Jy hoef niks te doen nie. Jy moet net kyk! Trouens, jy durf niks probeer doen nie.
+ Verdeelde vertroue weerhou jou van kyk soos jy moet. Israeliete wat daar in die woestyn gepik is en hulleself probeer dokter het, het gesterf van die slanggif, want hulle het nie by kyk uitgekom nie.
+ Christus óf alleen-redder, óf glad nie.
+ In Matt 5:3 sê die Here presies dit. Letterlik staan daar: Salig is die geestelike bedelaars, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. 'n Bedelaar ios iemand wat opgegee het om met werk te verdien wat hy nodig het. Al wat vir hom oorgebly het, is om met bakhande te staan.
# Die Christelike geloof verskil wesentlik van alle godsdienste, ook van churchianity – wat op moralisme en seremonies staatmaak vir redding.
Nee, redding is nie godsdienstiges wat na die Allerhoogste toe opklim nie
dis God wat in Christus na bedelende sondaars toe afbuig!
VOLKOME VERSOENING
# By die lees van die Nuwe Testament is mens se eerste indruk dat Christus vir alle mense gesterf het. Dis in elk geval hoe meeste Christene, meen ek, vandag dink. Sê Heb 2:9 nie dat Hy vir almal gesterwe het nie? En wat van 1Joh 2:2, wat sê dat Hy 'n versoening vir die sondes van die hele wêreld is?
'n Meer diepsinnige omgang met die Nuwe Testamentiese openbaring laat mens egter besef dat hier méér ter sprake is as 'n paar bewystekste wat sonder in agneming van hulle konteks, en 'n wyer in ag neming van die Skryf gelees word.
# As plaasvervanging dan beteken dat iemand só in die plek van 'n ander optree dat hý of sý nie meer nodig het om dit te doen nie, ontstaan die vraag onvermydelik waarom sommige mense dan nog verlore gaan?
+ Een: Was die Here Jesus se werk dalk nie so volkome soos wat ons dink nie? Het Hy dalk vir al my sonde gesterf, behálwe vir die sonde van ongeloof? Was Sy soendood bloot die daarstelling van die moontlikheid dat mense wat graag wil, gered kan word?
+ Twee: Of, as Christus wél 'n volkome Plaasvervanger vir álle sondaars is, kan ons nie wegkom van een van twee implikasies nie. Óf, uiteindelik móét alle mense gered word. Óf diegene wat verlore gaan se sonde word dubbeld gestraf (en sou dit regverdig wees van 'n God wat Homself as regverdig openbaar?).
+ Drie: Of, was Christus se plaasvervanging aan die kruis, ten spyte van mense se eerste indruk, dalk net op bepaalde persone gerig – die uitverkorenes?
# Die vraag is dus: Vir wie het Jesus Christus Homself geoffer? Namens wie het Hy plaasvervangend en strafdraend onder God se toorn gesterf? Wie het Hy régtig met God versoen? Wie het Hy verlos van die vloek van die Wet, van die skuld en krag van sonde, van die slawerny van Satan?
Heel eenvoudig gestel: Vir wie presies het Christus gesterf?
+ Die eerste antwoord impliseer dat diegene wat uiteindelik gered word, hulle redding te danke het aan, enersyds, die kruis (wat die pad oopgemaak het), plus, andersyds, húlle besluit om God se heilsaanbod te aanvaar.
Die implikasie is onontkombaar: God en mens deel op een of ander manier, nie net die verantwoordelikheid van redding nie, maar ook die dank en eer daarvoor.
+ Die tweede antwoord is Bybels totaal onhoudbaar, aangesien oor en oor, en glashelder-duidelik verklaar word dat ontelbaar baie mense verlore sal gaan. Dit sou impliseer dat hierdie waarskuwings óf 'n gogga-maak-vir-baba-bang spelery is, óf dat God onregverdig is. Beide implikasies is godslasterlik!
+ Die derde antwoord staan kompromieloos daarop dat elkeen wat gered word, dit volledig te danke het aan Christus se kruiswerk – wat nie net die grond is van diesulkes se redding nie, maar ook die noodwendige waarborg daarvan. Vanuit Christus se versoeningswerk is die deur van redding dus nie net oopgesluit nie, maar óók vloei alle voorwaardes daarvoor aan die mens se kant (want daaroor swyg die Bybel geensins nie) daaruit voort.
'n Diepere ondersoek lei duidelik na laasgenoemde, opsie drie
# Dit bring ons nou by die hart van God se genade vir sondaars. Dit het te doen met die essensiële aard van die Seun se sending, en wat dit presies bewerkstellig het.
Dis nie maar 'n klomp irrelevante spekulasies nie, maar teologies en leerstellig van die allergrootste belang. En soos dit sonder uitsondering gaan met enigiets wat teologies belangrik is, het dit ook radikale pastorale en praktiese implikasies.
As Christus dan net vir bepaalde mense gesterf het (no.3 hierbo), ontstaan die vraag: Wat presies het dit bereik? Hierop is daar twee moontlike antwoorde:
God se Woord leer dat sommige begenadigde mense
waarlik en volkome gered word in Christus
Hulle is deur die Vader in die verlossingsverbond aan die Seun as bruid "gegee"
Hulle is aan Hom toevertrou met die oog daarop
dat Hy álles moes doen wat vir hulle redding nodig is
Hulle is diegene in wie die volkome verlossingsproses
deur die Heilige Gees dwarsdeur die eeue bewerkstellig word
En só sou die Vader en die Seun alle lof tot in ewigheid kry
# Talle Nuwe Testamentiese uitsprake dui onmiskenbaar op bg. slotsom.
+ Johannes 6:35-40; 10:11, 14-18, 24-30; 17:1-12, 20, 24-26. Let op dat Jesus nie in Joh 10:26 sê dat hulle nie Sy skape is, omdat hulle nie glo nie; Hy sê dat hulle glo, omdat hulle wel Sy skape is.
+ Vergelyk ook Matt 1:21 (Jesus verlos Sy volk van hulle sondes); 20:28 (die Seun het Sy lewe gegee as 'n losprys vir baie, nie vir almal nie); 26:28 (Christus se bloed is vir baie gestort).
+ Hebreërs 9:15: Christus is geoffer om die sondes van baie weg te neem. Vergelyk ook Op 5:9.
+ Dikwels gebruik die Nuwe Testament doelsinne om te beklemtoon dat Christus gekom het om iets baie spesifieks te doen. En só het Hy nie gekom om redding bloot moontlik te maak nie, maar om dit te bewerkstellig.
Neem byvoorbeeld die talle versekerings dat Hy gekom het om ons inderdaad te verlos. Hy het tog sekerlik nie net gekom om ons verlosbaar te maak nie! Dit beteken dat Hy ons gekoop het – soos 'n slaaf op 'n antieke slawemark losgekoop word – deur met Sy eie bloed te betaal. Ons is Syne! Die saak is afgehandel! Dis tog die triomfboodskap van die Nuwe Testament. Laat dit ver van ons wees om dit af te water – ten einde vir die mens darem nog 'n rol in sy eie verlossing te gee.
+ Hy het gekom om sondaars van die krag en gevolge van hulle sonde te red (nie net om dit moontlik te maak nie) (Matt 1:21; Luk 19:10; 1Tim 1:15).
+ Hy het gekom om sondaars vir Homself te verlos en los te koop – nie net om dit moontlik te maak nie (Gal 1:3-4, 3:13; Kol 1:13-14; Tit 2:14; Op 5:9).
+ Hy het gekom om sondaars se skuld volledig te betaal en die straf op hulle sonde te dra (Rom 3:24-26; 1Pet 2:24).
+ Hy het gekom om sondaars te regverdig, en hulle in terme van God se geregtigheid vir die ewige lewe te laat kwalifiseer (nie net om dit moontlik te maak nie) (Rom 5:8-9; 1Kor 1:30; 2Kor 5:21).
+ Hy het gekom sodat sondaars gereinig kan word (nie net om dit moontlik te maak nie) (Ef 5:25-26; Tit 2:14; Heb 9:14).
+ Hy het gekom om sondaars met God te versoen (nie net om dit moontlik te maak nie) (Rom 5:10; 2Kor 5:18-19; Ef 2:15-16; Kol 1:21-22; 1Pet 3:18).
# Romeine 8:31-39 onderstreep die waarheid van volkome versoening ook duidelik. In hierdie gedeelte word 2 keer na die dood van Christus verwys (v.32 en 34).
+ Van wie praat die apostel in v.31-32? Sonder twyfel van diegene in v.28-30. Dis onmiskenbaar steeds dieselfde groep mense. Dis die "almal" in v.32, vir wie se redding Christus oorgegee is?
Let verder daarop dat die gawe van "al die ander dinge" (v.32b) ook vanuit die kruis vloei.
+ In v.33-34 is daar 'n duidelike verband tussen die "uitverkorenes" en Christus se sterwe. Hulle kan nie beskuldig of veroordeel word nie, omdat Christus nie net vir hulle gesterf en opgewek is nie, maar ook vir hulle intree.
+ Presies omdat hulle Plaasvervanger alles gedoen het om hulle redding te verseker, kan niks hulle van Sy liefde skei nie (v.35-39). Watter liefde? Sekerlik tog die liefde wat daarin tot hoogste uitdrukking gekom het dat Hy Homself vir hulle oorgegee het (v.32).
# Die Nuwe Testament leer deurgaans dat hulle vir wie Christus gesterf het, ook sáám met Hom gesterf het (Rom 6:3-11; 2Kor 5:14-15; Ef 2:4-6; Kol 3:3). Nog meer, bg. Skrifgedeeltes leer dat almal wat saam met Hom gesterf het, ook saam met Hom opgestáán het – tot 'n nuwe lewe.
Die gevolgtrekking is duidelik: Diegene vir wie Christus gesterf het sterf nie slegs almal vir sonde nie, hulle almal staan ook op tot 'n nuwe lewe van geregtigheid.
Allermins kan dit van alle mense gesê word.
# In Christus se hoëpriesterlike gebed sluit Hy uitdruklik die ongelowiges uit (Joh 17:9). Het Hy Sy lewe afgelê vir mense vir wie Hy nie bereid was om te bid nie?
Enkele "probleme"
# Talle uitsprake in die Skrif rig die evangelie-aanbod ongekwalifiseerd tot alle mense. Baie glo dit impliseer noodwendig 'n universele versoening. Dit is nie waar nie. Maar ons sal die kwessie later aanspreek. Intussen is dit net nodig om ondubbelsinnig te stel dat ons nooit, maar nooit die oop en opregte evangelie-aanbod en -appél mag verwaarloos nie. Dis 'n heerlike Bybelse waarheid, dis ons gewigtige verantwoordelikheid, en dit is weer en weer deur sowel die Here Jesus as die apostels tot mense gerig – sonder onderskeid.
# Daar is twee klasse Skrifuitsprake wat op die oog af van Christus se versoeningswerk in algemene terme praat.
Verskeie tekste bevat die woord "wêreld", bv. Joh 1:9,29; 3:16-17; 4:24; 2Kor 5:19; 1Joh 2:1-2; 4:14. Ander tekste bevat die woord "almal" (Rom 5:18; 2Kor 5:14-15; 1Tim 2:4-6; Heb 2:9; 2Pet 3:9).
+ Een rede waarom hierdie begrippe gebruik is, is die vals idee wat voortdurend in Nuwe Testamentiese tye kop uitgesteek het, nl. dat redding net vir die Jóde is. Uitdrukkings soos "die wêreld", "alle nasies" ens. is daarom deur die Here en die apostels gebruik om hierdie dwaling reg te stel. Wat die Nuwe Testament dus baie sterk wil beklemtoon, is die waarheid dat Christus vir álle soorte, vir almal sonder onderskeid gesterf het (vir Jood én Griek, ryk én arm, belangrik én onbelangrik). Dit beteken egter nie dat Hy vir almal sonder uitsondering gesterf het nie.
+ Meermale is dit ook voor die hand liggend, as die konteks gelees word, dat die "almal" vir wie die Here Jesus gekom het, die volle getal van die uitverkorenes is. Vergelyk bv. Heb 2:9. Verse10,11,12 en 13 laat geen twyfel nie – elke keer word daar op 'n onmiskenbare manier na die uitverkorenes verwys.
+ Die omvang van die begrippe "wêreld" en "almal" moet dus vanuit die konteks bepaal word. Vergelyk bv. Joh 12:19,32; Rom 5:17-19; 11:11-12.
# Daar is Skrifuitsprake wat die redding van mense en die wil van God met mekaar in verband bring.
+ Die Bybel praat op 3 maniere van God se wil, en mens moet uit die konteks aflei van watter "wil" gepraat word.
= Daar word na Sy verordeningswil verwys. Dit dui op daardie wil van God waarvolgens Hy Sy raadsbesluite tot stand bring. Dit staan onvoorwaardelik vas, en geen mens kan dit verander nie.
= Daar word van Sy voorgeskrewe wil gepraat. Dit verwys na Sy opdragte aan die mens, Sy wette. Dit word voortdurend deur die mens verbreek.
= Daar word daar van Sy voorkeurwil gepraat. Dit dui op die dinge waarin Hy 'n behae het.
+ M.b.t. ons onderwerp is daar 3 Skrifgedeeltes in hierdie kategorie: Eseg 18:23, 32; 33:11 (die OAV is meer letterlik vertaal) en 1Tim 2:4 en 2Pet 3:9. Hier openbaar die Here, enersyds, dat Hy 'n welbehae daarin het as sondaars hulle bekeer en gered word (vgl. ook Luk 15:7,10 en konteks) en, andersyds, dat Hy geen vreugde put uit die dood van 'n sondaar nie. Sekerlik beteken dit nie dat Hy niemand met die dood sal straf nie. Elke keer gaan dit immers in die konteks oor Sy oproepe tot bekering ten einde Sy toorn te ontkom.
'n Eenvoudige vergelyking los die probleem op: Geen regter geniet dit om 'n moordenaar ter dood te veroordeel nie. In hierdie sin is dit nie sy wil nie. Tog doen hy dit met beslistheid as geregtigheid dit vereis.
Slotsom
# Die vraag wat ons in hierdie hoofstuk beantwoord het, is dít: Wat was God se dóél met die koms van Christus na hierdie wêreld toe, en in die besonder met Sy dood? En wat het dit presies bewerkstellig?
Sonder twyfel antwoord die Here Jesus self, en ook die res van die Nuwe Testament, dat Hy ter wille van die uitverkorenes gekom het. Hy het gekom om alles, maar álles te doen wat vir hulle redding nodig is. En wie verstaan hóé radikaal die verdorwenheid van die gevalle mens is, sal begryp dat Hy inderdaad álles moes kom doen.
Die bruidsprys vir sy ewige bruid
het Hy ten volle betaal!
# Die siening van Christus se versoeningswerk soos ons dit in hierdie hoofstuk voorhou, word dikwels fel gekritiseer. Daar word aangevoer dat hierdie leer afbreuk doen aan die wonder en grootsheid van Christus se versoeningswerk – dat die verenging van sy werk van Hom 'n mindere Verlosser maak as wat Hy inderdaad is.
Só eenvoudig is dit nie.
+ Christus se versoeningswerk is per definisie beperk.
Tensy alle mense gered word (en geen Bybelgelowige glo dit nie, hoe hy ook al hierdie saak verstaan), is 'n onbeperkte versoening nie moontlik nie.
As mens in jou beskouing die omvang, oftewel die reikwydte daarvan universaliseer, moet jy noodwendig die effektiwiteit daarvan beperk. Dan sê jy Christus se middelaarswerk was vir alle mense bedoel, maar ongelukkig bewerkstellig dit nie almal se redding nie – dit het beperkte effektiwiteit. Dit staan bekend as die Arminiaanse beskouing.
Daarenteen voer hierdie studie aan dat die gerigtheid, en dus die reikwydte van die versoening inderdaad beperk is (en al die bekende en eeue-oue belydenisskrifte aanvaar dit), maar dat die effektiwiteit daarvan onfeilbaar is.
+ C.H. Spurgeon het dit kostelik gestel – min of meer só: Stel jou voor dat Christus 'n brug oor die kloof tussen die dood en die lewe kom bou het. Dan is die Arminiaan se brug wyd genoeg vir die hele wêreld, maar dit loop net halfpad – want die mens is self vir die res van die pad verantwoordelik.
Daarenteen is die Bybel se brug wel smaller, maar hy loop al die pad!
# As die Arminiaanse beskouing dan die effektiwiteit van Christus se versoening beperk, waarin lê die beperking spesifiek?
+ As Christus vir elke mens gesterf het, beteken dit noodwendig dat Hy nie vir elke sónde van elke mens gesterf het nie – want soveel gaan dan nog verlore.
Aangesien die Nuwe Testament oor en oor leer dat daar net één voorwaarde vir redding is, nl. geloof in Christus, moet die Arminiaan noodwendig konkludeer dat die Here nie vir die sonde van ongeloof gesterf het nie.
+ Hoe duur betaal die Arminiaan nie vir sy aandrang daarop dat die mens die finale seggenskap moet hê nie! Hoe ironies, hoe tragies is Sy boodskap nie: Die mens se grootste sonde is nie deur die Verlosser aangespreek nie! Vir alle sonde is ten duurste voorsiening gemaak, behalwe vir die laaste skakel! So naby en tog so ver!
Arminianisme verkondig 'n Christus wat só graag almal wou kom red, maar uiteindelik niemand regtig kon red nie. Die bepalende stap berus immers by die mens. Genadiglik is daar darem diegene wat Christus aanneem – anders kon Sy hele sending op 'n totale mislukking uitgeloop het!
# Bogenoemde is nie onnodige en venynige sarkasme nie. Wat gebeur so dikwels vandag in die wêreld van evangelisasie? Is die Christus wat verkondig word nie dikwels hoed-in-die-hand nie? Pleit Hy nie by sondaars nie om Hom tog asseblief aan te neem?
Dien dit om Hom te verheerlik en groot te maak in die oë van mense?
En wat van die die verkoopsman-tegnieke wat die evangelie so skreiend kan afwater? As alles uiteindelik van die mens afhang, en hy ten alle koste sover gekry moet word om die Here aan te neem, lê dit mos voor die hand dat net die blink kant van Christenskap aan 'n ongelowige wêreld voorgehou sal word – soos dit inderwaarheid so dikwels gebeur.
Maar dis nie hoe Jesus dit gedoen het nie. Soos alle ware Christene weet, behels dissipelskap die dra van 'n kruis. Van die goedkoop beloftes van mensgesentreerde evangeliste kom dus selde iets tereg. En as dinge dan nie vir die bekeerlinge so gaaf uitwerk nie, verval baie van hulle in 'n ontnugtering wat hulle effektief teen alle verdere evangelie-oproepe immuniseer.
# As die Skrif die versoeningswerk van Christus tot die uitverkorenes beperk, verseker dit ons juis van die onfeilbare effektiwiteit daarvan. Christus het nie net die redding van alle sondaars kom moontlik maak nie – sonder om die redding van selfs een te verseker nie. Nee, Hy het die redding van een en elkeen van die dermiljoene uitverkorenes kom verseker. Vanuit Sy middelaarswerk en Goddelike krag vloei "alles ... wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien" (2Pet 1:3).
Watter Christen wat wéét dat die Here op sy lewe beslag gelê het, sal so 'n heerlike en vertroostende waarheid verruil vir 'n halfgebakte, mens-gesentreerde lering – vir 'n halwe brug?
Let op dat die Bybel nie leer dat die waarde van Christus se versoeningswerk beperk is nie; dis die gerigtheid daarvan wat beperk is. Omdat Hy as ware God en sondelose mens gesterf het, is die waarde daarvan onmeetlik en onbeperk. As sodanig sou dit inderdaad vir die verlossing van alle mense kon betaal. Maar, hoewel 'n veel groter prys vir die uitverkorenes betaal is as wat hulle werd is, is nét hulle gekoop – volledig, onbevraagtekenbaar, onomkeerbaar!
Engels stel dit mooi:
Christ's work is sufficient for all
but it becomes efficient only in the elect
'n Laaste perspektief
As Jesus Christus dan net vir die uitverkorenes gesterf het, het dit 'n verdere implikasie wat ons nie moet miskyk nie.
As ek en jy dan glo dat ons inderdaad deur die Vader aan Sy Seun toevertrou is, moet ons eenvoudig die feit vierkantig in die oë kyk dat ons méér verantwoordelik is vir die grootste misdaad van alle tye as selfs die Jode en hulle trawante van destyds. Húlle was die instrumente in sy kruisiging. Maar ek en jy – as ons dan inderdaad uitverkorenes is – was die oorsaak daarvan! Dis vir óns wat Hy gekruisig is.
Waarlik, die uitverkiesingsleer lei nie tot hooghartige arrogansie nie; inteendeel!
"Twas Í that shed the sacred blood;
Í nailed Him to the tree;
Í crucified the Christ of God;
Í joined the mockery."
Horatius Bonar (1808-1889)
die prins van Skotse hynm writers
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Die junior-slaaf in 'n huishouding moes altyd die gaste se voete was.