PDF WEERGAWE

Klankopnames:      1.         https://tinyurl.com/4btz9exu

                                    2.         https://tinyurl.com/efyee7xs

 

 

Lewendmakende roeping

Elke Persoon van die Goddelike Drie-eenheid speel 'n wesentlike rol in die redding van sondaars. Soos gesien, het die Vader diesulkes voor die grondlegging van die aarde uitverkies en hulle aan die Seun as Sy mense, Sy bruid gegee. En in die volheid van die tyd het die Seun na die wêreld gekom en hulle redding vasgemaak deur die regsbasis daarvoor te lê.

            Maar hierdie twee groot handelinge voltooi nie God se verlossingswerk nie. Sy vernuwende werk is dan nog uitstaande. Dit gebeur in elke uitverkorene se lewe wanneer die Seun deur die Gees volgens die Vader se wil en ewige verlossingsplan die voordele van die Seun se versoeningswerk kom verwerklik.

            Nie 'n enkele persoon vir wie Christus gesterf het sal oorgeslaan word nie. God sal redding in elke uitverkorene se lewe realiseer – elkeen op sy eie unieke tyd en wyse.

            Dis hierdie werk van God deur Sy Gees waarna ons nou moet kyk. In die algemeen word hierna verwys as Sy wederbarende werk, oftewel Sy besondere, of effektiewe, of lewendmakende roeping.

God se wonderlike werkswyse in die lewendmakende roeping

#          Wanneer God 'n persoon tot lewe bring, werk Hy as 'n reël nie ón-middelik nie (sonder middele of instrumente), maar middelik (met middele of instrumente).

            In Rom 10:13-17 verduidelik die apostel hoe dit werk: "... want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? ... Die geloof kom dus deur die prediking wat ’n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus."

            Hier is duidelik sprake van drie instrumente wat gesamentlik 'n rol speel in die lewendmakende roeping van 'n uitverkore sondaar:

            Eerstens is daar 'n dissipel (of dissipels) wat as 'n gesant optree.

            Tweedens is daar die evangeliewoord wat deur die dissipel of dissipels gedra word.

            Derdens is daar so 'n dissipel se gesagvolle verkondiging of prediking.

#          Die Nuwe Testament bevat 'n paar hoogs betekenisvolle Skrifuitsprake in hierdie verband.

            +          1Kor 1:21: Dit is God se wil om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo te red.

            +          1Pet 1:23: Mense word wedergebore uit die lewende Woord van God.

            +          Jak 1:18: Mense word tot die lewe gebring deur die Woord van die waarheid.

            +          2Thess 2:14: Die Thessalonisense is geroep deur die  evangelie wat aan hulle verkondig is.

#          Eerstens gebruik die Here, soos gesê Sy dissipels as instrumente om mense wat nog geestelik verstorwe is tot lewe te bring.

            Dit kan sonder twyfel aangetoon word dat die "groter werke" (OAV) wat volgens Jesus deur Sy dissipels gedoen sou word, presies slaan op hierdie heerlike taak wat tot vandag toe op hulle rus (Joh 14:12). Dis waarom Hy hulle in die groot opdrag beveel om die evangelie aan die nasies te gaan verkondig (Matt 28:18-20). Dis waarom Paulus homself en sy broeders "medewerkers" van God noem (1Kor 3:9). Dis waarom die vroeë kerk, en in die besonder díé wat daarvoor afgesonder is, onvermoeid en bykans uitsluitlik besig was met evangelieverkondiging.

#          Tweedens gebruik die Here, soos gesê die evangeliewoord (2Thess 2:14). In Joh 17:20 bid Hy vir diegene wat deur die apostels se woord (enkelvoud, en dus kennelik die evangelie) tot geloof sal kom.

            +          In Rom 1:16 word die evangelie 'n "krag van God tot redding'' genoem. Die evangelie is dus meer as inligting – dis 'n krag! En dis nie 'n geringe krag nie, want dis die krag waardeur God sondaars herskep.

            Ook in 1Kor 1:18 word die evangelie 'n krag genoem.

            Soveel is nodig om 'n sondaar vanuit geestelike dood te laat lewe, dat Paulus in Ef 1:19-20 sê dis dieselfde krag waarmee die Seun uit die dood opgewek is.

            Elkeen wat wedergebore is, is inderdaad 'n wandelende wonderwerk!

            +          Die sentrale inhoud van hierdie evangelie is die boodskap oor Christus (Rom 10:17). Paulus is dan ook baie beslis daaroor dat sy prediking Christusgesentreerd is. In 1Kor 2:2 skryf hy: "Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus , en wel oor Hom as die gekruisigde." En dit was nie maar 'n bepaalde strategie wat hy net in Korinte wou volg nie, want 'n klompie verse vroeër skryf hy twee keer in algemene terme oor die apostels se prediking, dat dit die gekruisigde Christus as inhoud het (1Kor 1:18; 1:23-24).

#          Derdens gebruik die Here, soos gesê sy dissipels se verkondiging (op welke wyse ook al). In 1Kor 1:21 is dit die evangelie wat gepreek, verkondig, geproklameer word. Nooit durf ons die krag van die selfgelese Woord of geskrifte onderskat nie. Maar niemand kan die Nuwe Testament lees, of die geskiedenis van die kerk bestudeer, sonder om onder die indruk te kom dat God veral gesagvolle proklamering van die evangelie gebruik in die redding van mense nie.

            Dis egter nie enige prediking nie. Dit moet die waarheidswoord wees (Jak 1:18). Nooit ooit sal die Gees die leuen gebruik nie.

            Daarbenewens moet dit die lewende Woord wees (1Pet 1:23). Prediking is nie bloot die emosielose lewering van 'n lesing nie. Daar moet oortuiging, selfs hartstog in sit.

            Die Amerikaanse prediker, Al Martin, sê tong in die kies dat jy nie gepreek het as jy nie agterna jou hemp moet uitdroog nie. En die ou Puritein, Richard Baxter skryf: "I preach as never sure to preach again – as a dying man to dying men."

Die effek van die evangelie

#          Die Nuwe Testament is vol daarvan dat die lewende verkondiging van die waarheidsevangelie 'n lewensveranderende effek het: party mense word inderdaad geroep en wedergebore.

            "Roeping" is 'n besondere woord in die Nuwe Testament – 'n tegniese begrip. Dit is baie amper 'n sinoniem van wedergeboorte; tog nie heeltemal nie. As roeping is dit wat die Heilige Gees doen wanneer 'n sondaar aanvanklik lewendmakend herskep word, is wedergeboorte dit wat proefondervindelik en waarneembaar as gevolg daarvan in so 'n persoon verwerklik word.

            Die Bybel praat op twee maniere van roeping.

#          Eerstens is daar die algemene roeping. Dis ons taak, en gebeur wanneer die evangelie aan alle mense verkondig word – wanneer mense voor die voet opgeroep word om na Christus toe te vlug, ongeag of ons meen hulle sal aanvaar of nie.

            Die uitspraak van Jesus dat baie geroep word, maar dat min uitverkies is, verwys na hierdie roeping (Matt 20:16, 22:14). Ook praat meer as een van die Here Jesus se gelykenisse hieroor. 'n Koning wat 'n bruilofsfees berei het (Matt 22:1-14), en 'n man wat 'n groot maaltyd gegee het (Luk 14:15-24) stuur slawe uit om mense oraloor te gaan uitnooi – maar nie almal aanvaar die uitnodiging nie; trouens, meeste nie.

#          Tweedens is daar die besondere roeping. Dit gebeur wanneer God deur die Heilige Gees, en deur die evangelie herskeppend in 'n persoon se diepste wese inspreek. Dit is dus 'n innerlike, effektiewe, skeppingskragtige en lewendmakende gebeurtenis. Hierdie is grootliks die gebruik van die begrip in die Nuwe Testament (vgl. o.a. Rom 1:6-7; 8:28-30; 9:23-24; 1Kor 1:1,2,9,24,26; Gal 1:15-16; Ef 4:4; 2Tim 1:8-9; Heb 9:15; Jud 1; 1Pet 1:15; 2:9; 5:10; 2Pet 1:3,10; Op 17:14).

Soos ons dus roep (in die algemeen)

so laat God deur die Heilige Gees die uitverkorenes

wie se oomblik van redding aangebreek het

se geestelike ore en begrip oopgaan

sodat die evangelie hulle harte kan deurpriem

Ons getuig.

Die Heilige Gees oortuig!

#          Omdat die besondere roeping 'n soewereine werk van God is, kan dit nooit misluk nie. Dis immers gerig op die uitverkorenes (net op hulle, maar uiteindelik inderdaad op hulle almal). Nooit sal die Almagtige en Alwetende toelaat dat een van hulle – een van diegene vir wie die Here Jesus gesterf het – in die dood agterbly nie.

            Hieruit volg ten minste drie waarhede:

            +          Die besondere roeping is onfeilbaar. God maak immers die dode lewend en roep dit wat nie bestaan nie asof dit wel bestaan (Rom 4:17, OAV).

            +          Die besondere roeping kan nooit enduit en suksesvol weerstaan word nie. Dit word wel dikwels weerstaan, dikwels baie intens, dikwels vir 'n lang tyd – maar uiteidelik sal elkeen op wie die Here se Gees beslag lê, móét kapituleer.

            Dis waarom soms, in respek gesê, van die Gees as God se Bloedhond gepraat word. Uiteindelik haal Hy wel sy prooi in en trek hom plat.

            +          Die besondere roeping is onomkeerbaar. Niks maak dit duideliker as Rom 8:28-30 en volgende verse nie.

            Talle Skrifgedeeltes het dit oor die besondere roeping. Onder meer:

            Handelinge 16:14 beskryf dit: Die Here "open" Lidia se hart om ag te gee op wat Paulus sê (OAV is meer letterlik).

            +          Insiggewend is 2Tim 1:9. 'n Paar belangrike waarhede oor besondere roeping kom hier na vore:

                        =          Dit is 'n roeping tot redding.

                        =          Dit is 'n roeping tot 'n heilige lewe – 'n lewe toegewy aan God.

                        =          Dit is 'n roeping volgens 'n bepaalde plan. Daar sit niks toevalligs of  arbitrêrs in nie. Dit geskied volgens God se voorneme.

                        =          Dit geskied na aanleiding van God se ewige voorneme. Wanneer iemand tot geestelike lewe kom, is dit die uitvloeisel van God se besluit voor die grondlegging van die aarde.

                        =          Dit is 'n uitvloeisel van God se genade. Dit geskied nie na aanleiding van enige voorafgaande verdienste of goeie werke aan die geroepene se kant nie.

                        =          Dit geskied in verbondenheid met Jesus Christus en op grond van Sy versoeningswerk.

            +          'n Vergelyking van Hand 2:37 en 7:54 is besonder sprekend. Nie alle Geesvervulde prediking lei tot bekering nie. Wat Geesvervulde prediking wel doen, is om mense in hulle harte te tref – en hulle dan óf vermurwe, óf verhard.

                        =          Op die Pinksterdag word baie van Petrus se hoorders "diep in die hart getref" (OAV). Die betrokke werkwoord is 'n verintensifeerde vorm van om te steek. Die mense se harte is dus deurboor – en hulle kom onder die Geesvervulde prediking tot bekering.

                        =          Stefanus se prediking is ewe Geesvervuld (Hand 6:5; 7:55). Máár sy hoorders kners in hulle woede op hul tande, verwerp die evangelie en vermoor die prediker.

         Die bepaalde werkwoord in v.54 dui op 'n intense innerlike en emosionele impak: hulle is as 't ware dwarsdeur hulle harte gesaag (lett.).

#          In Eseg 37:1-14 sien die profeet 'n gesig wat vooruitwys op God se ontsagwekkende roepingswerk in die toekoms. Soos in die geval van die meeste profesieë, is hier ook sprake van 'n meervoudige vervulling. Die "hele Israel" (v.11) dui in die eerste instansie op die terugbring van die Joodse ballinge en verstrooides. Maar sekerlik is dit ook van toepassing op die versameling van die uitverkorenes vanuit alle nasies in die laaste dae (die bedeling tussen die eerste en die wederkoms van Christus) – om saam met die geredde Jode God se nuwe olyfboom te word (Rom 11:11-24).

            Esegiël verteenwoordig alle komende profete – diegene wat God se Woord verkondig. Dit geld natuurlik van alle Nuwe Testamentiese gelowiges, maar in die besonder van hulle vir wie die Here as predikers roep en toerus.

            +          Let op die verskriklike doodsheid van die bene. Net 'n Goddelike wonderwerk kan hulle weer tot lewe bring!

            +          Die werkwoord wat 'n stuk of 7 keer in hierdie gedeelte gebruik word en met "profeteer" (OAV) vertaal word, beteken letterlik om te roep.

            +          Die Heilige Gees, God se "wind" alleen kan lewe bring. Daarom moet die profeet tot Hom roep (v.9). Esegiël moet met ander woorde bid dat die Heilige Gees die nodige lewe kom wek.

            +          As die Gees dan kom, kom 'n baie groot menigte tot lewe (v.10).

            +          Die belofte in v.12-14 toon duidelik dat hier van meer as bloot 'n fisiese en geografiese insameling sprake is. Dooies sal lewend gemaak word!

            +          Die bevoorregtes se lewens sal ingrypend geraak word. Die Heilige Gees sal in hulle kom woon, en hulle sal die Here ken (vgl. 36:24-28). In die finale, kulminerende sin, dui hierdie soort profesieë op die nuwe verbond – en dit wat aan die hart daarvan lê.

Die evangelie is die krag van God

Ons moet dit aan almal verkondig

En soos ons dit doen

– in waarheid en in die volheid van die Gees –

kan ons verwag om geestelik dooies tot lewe te sien kom

Die wedergeboorte

As die Heilige Gees se besondere en lewendmakende roeping in 'n geestelik dooie werk, gebeur daar uiteraard iets geweldigs in so 'n persoon. Dis wat die Nuwe Testament die wedergeboorte noem. Ou dinge gaan verby, alles word nuut.

As roeping die klem laat val op wat die Here deur Sy Gees doen

beklemtoon wedergeboorte dit wat in die betrokke persoon gebeur

#          Wedergeboorte is dus die begin van bewustelike, ervaarbare en waarneembare Christenskap.

            Johannes 1:12-13 onderstreep wedergeboorte as 'n Goddelike inisiatief: "Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die die wil van man nie, maar uit God gebore is."

            Terwyl dit noodsaaklik is dat elke sondaar Christus persoonlik en bewustelik aanneem (soos die Bybel dit kwalifiseer), mag niemand daaroor twyfel dat dit 'n uitvloeisel van God se herskeppende werk is nie.

            +          In die voorafgaande verse beskryf die apostel hoe die mense van hierdie wêreld Jesus Christus, die vleesgeworde Woord, verwerp. Daarenteen is daar tóg diegene wat Hom "aanneem" (v.12) en sodoende kinders van God word. Hulle neem Hom aan, omdat hulle "in Sy Naam glo". En hulle glo in Hom, omdat hulle 'n wonderlike geboorte ondergaan het. Dis nie 'n natuurlike geboorte nie, nie 'n geboorte uit die mens nie, maar 'n "geboorte uit God". Hiermee sê Johannes dat, ten einde gered te word, dit noodsaaklik is om Jesus Christus as die vleesgeworde Woord aan te neem. Dit is uiteraard iets wat die méns doen – ervaarbaar en waarneembaar. Hy gaan egter verder en sê dat so 'n persoon daartoe in staat gestel word deur 'n bonatuurlike geboorte – en dit is iets wat God doen.

            +          Dit is dus duidelik: die oorsprong van daardie eerste handelinge van die mens, wat hom 'n kind van God laat word en as Christen kenmerk, lê ten diepste in 'n werk van God self. En hierdie werk van God noem Johannes 'n "geboorte uit God", oftewel die wedergeboorte – wat op sy beurt die gevolg is van die besondere roeping.

#          Jesus se naggesprek met Nikodemus in Joh 3 gee nog 'n paar belangrike perspektiewe op die wedergeboorte.

            +          Eerstens beklemtoon Hy die noodsaak daarvan ten einde die koninkryk van God binne te gaan. Vers 7 moet nie as 'n bevel verstaan word nie, asof die mens sy eie wedergeboorte kan bewerkstellig. Jesus praat van die noodsaak: dit is nodig om wedergebore te word ten einde gered te word. Dit onderstreep 'n waarheid wat regdeur die Skrif as vanselfsprekend aanvaar word: Alle Christene is wedergebore, en alle wedergeborenes is Christene.

            +          Tweedens gee Jesus antwoord op die vraag waarom die wedergeboorte dan so noodsaaklik is. Dit is noodsaaklik omdat die mens self magteloos is om die koninkryk in te gaan – hy "kan nie" (v.3, 5). Waarom kan hy nie? Die Here gee twee antwoorde.

                        =          Een, die natuurlike mens kan nie die koninkryk "sien" nie (v.3). Hoe kan iemand ingaan deur "die Deur" (Joh 10:7,9) as hy Hom nie sien nie? Elders leer die Skrif dat die natuurlike mens se nood selfs erger is. Hy is nie net blind nie, hy leef ook in duisternis (Ef 5:8,11; Kol 1:13). Is daar 'n erger duisternis as blindheid in donkerte?

                        =          Twee, die natuurlike mens is "vlees" (v.6). Dit beteken dat hy nog in Adam is, dat hy nog deel van die gevalle en sondegeneigde mensheid is. Vir diesulkes is daar geen plek in 'n heilige God se koninkryk van geregtigheid nie.

Net 'n nuwe geboorte kan iemand bevry

van 'n Adamserfenis

wat soos 'n reuse rotsblok

om sy nek vasgeketting is

en hom die dieptes insleep!

                        =          Drie, Jesus openbaar iets van die aard van die wedergeboorte. Dis 'n geboorte "uit water en Gees" (v.5).

            Dis 'n geboorte wat die Heilige Gees bewerkstellig.

            Maar waarop sinspeel die water? Daar is meer opinies, maar dit word algemeen aanvaar (na aanleiding van Skrifgedeeltes soos Tit 3:5, Ef 5:26 en Eseg 36:24-27) dat dit hier oor reiniging gaan. Só sou Nikodemus dit na alle waarskynlikheid verstaan het. As Joodse skrifgeleerde sou Esegiël 36 baie na aan sy hart gelê het.

#          Esegiël 36 is een van die duidelikste Ou Testamentiese gedeeltes oor die aard en rykdomme van die Nuwe Verbond. Die twee elemente van Joh 3:5 kom hier ook sterk na vore. In v.25 belowe God dat Hy Sy volk met water van hulle sonde sal reinig en in v.27 belowe Hy die groot gawe van die eindtyd, die Heilige Gees.

            Tussen hierdie twee beloftes is 'n vers wat van die allergrootste belang is. Vers 26 belowe 'n "nuwe hart" – een van vleis wat die ou hart van klip vervang. Die Bybelse begrip "hart" dui op die sentrum van 'n mens se persoonlikheid. Dit is dus die beheerkamer wat sy hele lewe bepaal (Spreuke 4:23).

            +          Die gevalle mens se probleem, soos gesien, is sy verdorwe hart. Elke mens leef immers onder die dwang van sy eie hart. Wat in sy hart aangaan, dit is hy.

            'n Hartsverandering sal dus onvermydelik 'n gedragsverandering meebring. So sal die Here "maak" dat ons volgens Sy voorskrifte leef (Eseg 36:27).

            In Jer 31 word 'n ander beeld gebruik om dieselfde belofte te dra: Hy sal Sy wette op mense se harte skryf (v.33).

                        =          Esegiël 36 se ou hart is van klip. Dit is dood vir die Here en Sy dinge. Dit is koud en hard, dus belangeloos en gevoelloos teenoor God, Sy eer, Sy wil en Sy Koninkryk. Die nuwe hart, daarenteen, is van vleis. Dit is lewend vir die Here en Sy dinge. Dit is warm en sag, dus ywerig en vormbaar met betrekking tot God, Sy eer en Sy koninkryk.

            +          Hierdie hartsverandering bring dus 'n nuwe lewensbeginsel, 'n nuwe geaardheid, 'n nuwe geneigdheid, 'n nuwe ingesteldheid. Dit bring nuwe prioriteite, nuwe ambisies, nuwe verlangens, nuwe hartstogte. Daarom bring dit 'n totaal nuwe lewe – 'n lewe wat gedring word deur die begeerte om God Drie-enig te ken, om soos Hy te word en om baie vrug tot eer van Sy Naam te dra.

Esegiël 36 belowe die Godgewerkte wedergeboorte!

Wedergeboorte in 'n persoon se lewe

is God se soewereine en diep-ingrypende lewendmakende werk deur Sy Heilige Gees, waardeur so 'n persoon verander word

vanuit 'n toestand van geestelike dood

(en 'n gevolglik God-vermydende hartsgesteldheid)

tot 'n toestand van geestelike lewe

(en 'n gevolglik God-soekende hartsgesteldheid)

#          Die eerste brief van Johannes handel uitvoerig oor die vrug – en dus merktekens – van wedergeboorte (vgl. OAV). Kortliks kom dit hierop neer: geloof in Jesus Christus (5:1); 'n bekeerde en bekerende lewe (3:9; 2:29); liefde vir God en die gemeente (4:7; 3:14-18); weerstaning van en oorwinning oor die suigkragte van die wêreld (5:4); heilige geloofsvolharding tot die einde toe (5:18).

            Vergelyk ook die Nederlandse Geloofsbelydenis, hoofstuk 29 (ongeveer in die helfte van die paragraaf).

><(((*>

Nico van der Walt

T: +27 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev