PDF WEERGAWE

Preekopname:           1.         https://tinyurl.com/3sz9tskn

                                    2.         https://tinyurl.com/55dsyw2v

In hierdie hoofstuk kyk ons na die leerstuk van die volharding van die heiliges. Vanuit dit wat ons reeds behandel het, volg dit eintlik logies en onontkombaar dat God se uitverkorenes, diegene vir wie Christus plaasvervangend gesterf het, diegene op wie die Here herskeppend beslag gelê het, sekerlik deur God se genade in stand gehou en deurgedra sal word.

#          Duideliker as in Rom 8:28-30 kan dit beswaarlik gestel word. Die hele reddingsproses, oftewel die heilsorde, soos dit vanuit die ewige verlede tot in die ewige toekoms in strek, is volmaak geïntegreerd – dis 'n onverbreekbare ketting van onderskeibare, maar onskeibare komponente.

#          Tog lyk dit ewe onontkombaar dat ervaring, waarneming, Bybelse geskiedenis en sekere Skrifuitsprake die teendeel leer. Wat moet mens dan van die waarskuwings in die Hebreërboek maak (vgl. bv. Heb 6:4-6)? Wat van Joh 15:2, 6? Wat van 2Pet 2:20-22? Wat van die gelykenis van die saaier?

            Om die Skrifwaarheid van die volharding van die heiliges reg te verstaan, is dit allereers nodig om te begryp wat dit nie is nie.

Wat die leerstuk van die volharding van die heiliges níé leer nie

#          Dit leer nie dat elkeen wat die Here sogenaamd "aanneem", wat geloof bely en deur 'n gemeente as lidmaat aanvaar word, verseker kan wees van die ewige lewe nie. Per slot van rekening het die Here Jesus oor en oor teen so 'n naïewe aanname gewaarsku (vgl. Matt 7:21-23; 24-27; 13:24-30; 25:1-13; Mark 4:3-9; 14-20; Joh 2:23-25). Dis waarom Hy ook meermale die noodsaak van volharding beklemtoon het (Matt 10:22; 24:13; Joh 8:31-32).

            Die finale toets vir ware geloof, is volharding tot die einde toe.

#          Die ingrypende en omvangryke invloed van vals geloof op 'n lewe mag nie onderskat word nie. Ware en vals geloof lyk verraderlik eenders. Dit is, trouens, skokkend om in die Skrif te sien tot watter mate die Heilige Gees in en deur mense kan werk – alles duskant Sy wederbarende werk.

            Let op hoe sterk die Woord, spesifiek die Here Jesus, dit beklemtoon.

            +          Voor die storm van God se oordeel lyk geestelike huise dikwels presies dieselfde (Matt 7:24-27).

            +          Koring en onkruid lyk soms só eenders dat die verskil eers te laat gesien word (Matt 13:24-30).

            +          Tien meisies ontvang 'n uitnodiging na 'n bruilofsmaal. Al tien neem dit aan, al tien wag vir die Bruidegom – nét vyf word ingelaat (Matt 25:1-13).

            +          Twee mense se geloof lyk presies eenders. Eers na verloop van tyd (dit kan jare wees) blyk dit dat die een s'n 'n namaaksel was. Want sonder wortel swig dit onder vervolging, of word dit deur die verleidinge van hierdie wêreld verswelg (Mark 4:3-9; 14-20).

            +          Ware geloof verlustig hom in Christus alleen; vals geloof is dikwels koorsagtig opgewonde oor Hom (Joh 2:23-25).

            +          Ware geloof word gewerk deur die Gees; vals geloof kan gepaard gaan met uitsonderlike innerlike en verligtende werkinge – ook van die Gees (Heb 6:4-6).

            +          Ware geloof breek los uit die greep van hierdie wêreld se besmettinge; vals geloof kan dit ook vir 'n tyd lank doen (2Pet 2:20-22).

#          "Eenmaal gered, altyd gered", soos waarskynlik die meeste mense dit verstaan, is onbybels. Hoe word dit algemeen verstaan? Mense glo dat die blote "aanneem van Jesus" – formule-agtig en as menslike inisiatief – jou saligheid verseker, ongeag jou toewyding en gehoorsaamheid aan Christus daarná. Jy het jóú kant gebring; nou is dit sy verantwoordelikheid om jou te red.

            Hierdie is dus 'n misleidende, mensgesentreerde benadering, terwyl die leerstuk van volharding volledig Godgesentreerd is.

            +          Waarom is dit onwaar om te sê die gelowige is veilig, ongeag of hy heilig leef of nie? Die antwoord is eenvoudig: Geloof en sonde loop per definisie nie hand-aan-hand nie; volgens die Skrif loop geloof en volhardende heiligmaking en gehoorsaamheid saam.

            Dit is nie moeilik om te verstaan nie. Ware geloof, soos gesien, is die noodwendige vrug van 'n wedergebore hart. Eweneens is 'n lewe van gehoorsame en volhardende toewyding aan Christus 'n uitvloeisel van 'n wedergebore hart.

#          Natuurlik kan 'n gelowige ernstig in sonde val. Maar hy kan nie daarin bly lê nie; hy kan hom nie daaraan oorgee nie.

'n Christen word geken

níé daaraan dat hy nie kan val nie

maar dat hy nie kan bly lê nie

Die voortgaande hoëpriesterlike werk van Christus: sy hemelse voorspraak

#          Hebreërs 7:21,24 beklemtoon die ewige aard van Christus se hoëpriesterskap. En Heb 8:1 noem Hom wat "aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemel" sit, steeds die Hoëpriester. Duidelik is hierdie aspek van Sy werk dus voortgaande en ewig. Die Nuwe Testament het nie baie besonderhede hieroor nie, maar genoeg om ons elke dag te bemoedig en lewenslank te troos.

            +          Hebreërs 9:24b verseker ons dat Hy in die hemel self ingegaan het om nou ter wille van ons voor God te verskyn.

            Hebreërs 7:25 sê Hy vir altyd lewe om vir die gelowiges by God in te tree.

            Hebreërs 2:17-18 en 4:14-16 bemoedig ons om in getrouheid en gebed te volhard – omdat ons (nou) 'n hemelse Hoëpriester vol medelye het.

            Hierdie aspek van Christus se Hoëpriesterlike bediening, word Sy voorspraak genoem.

            +          Die Ou Testamentiese wortels van hierdie heerlike waarheid is baie betekenisvol.

            Eks 28:9-30 (vgl. ook Eks 39) sê dat die Ou Testamentiese hoëpriesters met twee stene op die skouers en twaalf op die bors, voor God verskyn het. Op elkeen van hierdie twee stelle stene is die name van die twaalf stamme van Israel gegrafeer. So is die stamme se name dan in die teenwoordigheid van die Here ingedra om Hom aan hulle te herinner (28:12, 29, 30).

            Duidelik sinspeel die Hebreërskrywer hierop as hy sê dat Christus "ter wille van ons voor God verskyn" (Heb 9:24). Hy dra as 't ware diegene wat deur die geloof met Hom verenig is op Sy sterk skouers en liefdevolle hart weer en weer tot reg voor die Vader se genadetroon – om Hom aan hulle te herinner, as Hy vir hulle by Hom intree.

#          Die Nuwe Testament in die algemeen, en Hebreërs in die besonder, dui op twee gerigthede in Christus se voorspraak.

Eerstens: Dit is gerig op die instandhouding en bewaring van Sy geliefdes in 'n bose en vyandige wêreld.

#          Hebreërs 2:17-18 en 4:14-16 is veral betekenisvol in hierdie verband. Die Here se voorspraak geskied in diepe meegevoel en solidariteit met diegene wat aan Hom behoort, aangesien Hy ook in Sy vernederde staat deur swaarkry, vervolging en versoeking moes gaan. Een, net één van talle van die redes waarom Hy moes mens word en 'n tydlank op aarde tussen mense leef, was om Hom voor te berei vir hierdie voortgaande bediening.

#          Hierin lê wonderlike troos vir die Christenpelgrim: Ons het 'n simpatieke verteenwoordiger in die hemelse troonkamer. As Hy oor die afsterwe van Lasarus gehuil het, sal Hy klinies-afsydig staan as ek op my sterfbed worstel? Vir seker, níé!

Laat ons nooit vergeet nie

Sy bewarende meegevoel is almagtig (1Joh 5:18)

Sy voorbidding absoluut effektief (Joh 11:42).

#          In Rom 8:31-39 jubel Paulus dat diegene wat met Christus deur die geloof verenig is, nooit van Sy liefde geskei kan word nie. En een van die redes daarvoor is die feit dat Christus by God vir hulle pleit (v.34).

#          In 1Joh 1:8-2:2 moedig die apostel gelowiges aan om vasbeslote teen sonde te stry, maar ook om met vrymoedigheid om vergiffenis te bid wanneer hulle voor sonde sou swig – omdat hulle in Christus 'n voorspraak by die Vader het.

            Hy tree dus nie net vir ons in as ons met lyding, versoekinge en vyandskap worstel nie, maar ook wanneer ons meermale in hierdie stryd misluk.

#          'n Voorbeeld van sulke voorbidding word in Luk 22:31-32 beskryf. Voor Petrus se val bid die Here dat sy geloof hom nie sal begewe nie, en dat hy ná sy inkeer 'n sinvolle bediening sal hê. Let wel, Jesus het nie gebid dat Petrus nie moet vál nie (dit was, trouens oënskynlik baie nodig vir sy heiligmaking), maar dat hy nie moet bly lê nie.

            Let verder op dat Hy nie vir Judas Iskariot gebid het nie.

Tweedens: Christus se voorspraak is gerig op die voltooiing en vervolmaking van ons verlossing – ons wat deur die Vader aan Hom toevertrou is.

#          Hebreërs 7:24-25 kan op twee maniere vertaal word (sien NIV voetnota), maar die OAV en NIV se keuse pas waarskynlik beter in die konteks. Daar sit beweging in die Grieks: Hy red diegene wat deur Hom na God gaan, in volkomenheid in. En Hy doen dit as Priester wat vir altyd leef om vir hulle by God in te tree.

#          Die verlossing van 'n sondaar is 'n proses, en die Nuwe Testament praat daarvan in 3 tye.

            Ons is gered (verlede tyd: Luk 7:50; Ef 2:5,8).

            Ons word gered (teenwoordige tyd: 1Kor 1:18; 2Kor 2:15).

            Ons sal gered word (toekomstige tyd: Rom 13:11; 1Pet 1:5).

            Hierdie proses word voortgestu deur die voorspraak van ons hemelse Hoëpriester.

            +          Die Here was baie bewus daarvan dat die uitverkorenes as rentmeesterskap deur die Vader aan Hom gegee is – met die verantwoordelikheid om alles te doen wat vir hulle redding en herskepping nodig sou wees. En laat ons verseker weet, vóórdat nie een en elkeen van hulle uit die dood opgewek is nie, sal Hy nie ophou met sy voorspraak nie (Joh 6:38-40, 44, 54; 10:25-30).

#          Die aand voor Sy kruisiging belowe die Here Jesus dat Hy Sy dissipels nie as weeskinders sal agterlaat nie, maar dat Hy die Vader sal vra om ná Sy vertrek 'n ander "Trooster" (OAV), "Voorspraak" (NAV), "Parakleet" (2020) vir hulle te stuur (Joh 14:16-18).[1]

            Die antwoord op hierdie gebed vind op die Pinksterdag plaas met die uitstorting van die Heilige Gees – nadat die verheerlikte en verhoogde Christus die "Belofte", waarop (nee!: op wie) eeue gewag is, van die Vader ontvang het (Hand 2:33). En sonder die daaropvolgende werk van die Gees is die voortgang en volvoering van die verlossingsplan ondenkbaar.

#          Johannes 17 is die mees aangrypende en omvangryke voorbeeld van die Here se opgetekende gebede, spesifiek van sy voorspraak vir sy dissipels. Let op enkele punte:

            +          Hy bid nie vir die wêreld nie, maar nét vir diegene wat die Vader vir Hom gegee het (v.2,6,9,24).

            +          Hy bid vir hulle bewaring in 'n bose omgewing (v.11-12, 14-16); vir hulle onderlinge eenheid (v.21-23); en vir hulle uiteindelike verheerliking (v.24).

            +          Hy bid spesifiek hierdie gebed terwyl Sy dissipels nog by Hom is – sodat hulle Sy blydskap in alle volheid in hulle kan hê (v.13). Dit is so bedoel. Nie net hulle nie, maar ook óns moet gevolglik ons in die Here Jesus se voorspraak verlustig, en weer en weer troos en sekuriteit daaruit put.

#          Dis duidelik dat Christus se voorspraak alles te doen het met die volharding van die heiliges.

Alle gelowiges weet:

Daar is geen redding sonder Sy dood nie

Maar te min besef:

Daar is geen redding sonder Sy lewe nie!

Die verskriklike moontlikheid van geloofsversaking

Die Hebreërbrief word geskryf aan Joodse Christene wat begin moeg word in die geloofswedloop, en oorweeg om na Ou Testamentiese godsdiens terug te keer.

            Die skrywer probeer met alles waaroor hy beskik om hulle van sulke dwase en noodlottige geloofsversaking te laat afsien.

            In die proses rig hy vyf baie, baie ernstige pastorale waarskuwings teen geloofsversaking: 2:1-4; 3:7–4:13; 5:11–6:12; 10:26-39 en 12:12-29.

'n Nadere kyk na Heb 5:11-6:12

#          Van die Hebreërs loop gevaar om geloofskipbreuk te ly. Daarom moet nou reguit gepraat word. Hulle het wonderlike genadewerkinge van die Here beleef, en sal geen verskoning hê as hulle die geloof sou versaak nie – en op die moontlikheid van terugkeer moet hulle nie staat maak nie.

#          Daar word baie gemaak van die lesers se kennis van die waarheid. Ja, 6:4-5 word van denkbeeldige mense gesê. Máár dit sinspeel op die Hebreërs se belewinge. Oor en oor het hulle onweerlegbare getuienis oor die volmaaktheid van Christus se versoeningswerk ontvang.

            +          Vyf belewinge word in 6:4-5 genoem: Hulle het op 'n stadium innerlike verligting ontvang, die hemelse gawe geproe, deel gekry aan die Heilige Gees, die goeie woord van God geproe, en die kragte van die toekomstige wêreld geproe (lett.).

            +          Sou hulle egter terugdraai na die Joodse geloof, sal dit 'n verwerping van Christus wees. Dan sal dit onmoontlik wees om weer tot bekering te kom!

#          Die sonde waarteen hier gewaarsku word, is bewustelike en berekende verwerping van waarheidsgetuienis oor Jesus Christus – wat oor 'n tydperk om jou en in jou eie lewe onweerlegbaar was, en ook duidelik deur die Gees in jou hart bevestig is.

            +          Dis bes moontlik dieselfde sonde waarvan in Matt 12:31-32; Mark 3:28-30; Luk 12:10; 1Joh 5:16-17 en 2Pet 2:20-22 gepraat word.

Wat van die heiliges se volharding?

#          Wat die skrywer hier sê maak sin. As mense na súlke belewinge van die Here se genade Hom die rug toekeer, verdien hulle om verwerp te word.

            Die probleem kom in as ons dit wat hier geskryf is, vergelyk met ander waarhede wat elders in God se Woord sterk beklemtoon word – waarhede waarna ons reeds in hierdie hoofstuk gekyk het.

            Wat van die Here se versekering dat Hy ons sal vergewe as ons ná sonde in verootmoediging en belydenis na Hom toe terugkom?

            En wat van die Bybel se lering dat die Here diegene wat aan Hom behoort enduit vashou? Soos ons sal sien, gaan dit presies hieroor.

#          Dis alles waar! Máár die Hebreërskrywer dink nié aan mense wat die geloof versaak as wedergebore nie. Verse 7-8 is 'n kort gelykenis wat aan die voorafgaande met "want" (OAV) verbind word. Dit bied dus 'n verduideliking daarvoor.

            Die reën wat gereeld val, is 'n beeld in die Bybel vir God se seën. Hier dui dit op die ervaringe in v.4-5 beskryf. Máár reën val op alle soorte grond. En solank die grond nog kaal is, weet mens nie wat daar gaan opkom nie – bruikbare gewasse of onkruid.

            Die verskil lê dus nie in die reën wat val nie, maar in die soort grond. Mense wat ná sulke ervaringe die geloof versaak, is die grond wat onkruid voortbring.

Dis wat ná die Here se goedheid volg

wat die gesteldheid van 'n mens se hart uitwys

#          Die Bybel beklemtoon dat daar 'n onverbreekbare verband tussen hart en uitlewing is. Die punt van hierdie gelykenis is dít:

Geloofsversaking

is eenvoudig die bewys

dat die hart nooit herskep was nie

#          Hebreërs 6:9-12 bevestig ons slotsom. Die skrywer glo, ten spyte van sy waarskuwings, dat sy lesers wel gered is en gevolglik die geloof níé sal versaak nie: "... geliefdes, ons is aangaande julle van beter dinge oortuig ..." (OAV).

            Wat is die "beter dinge"?

            Verse 10-12 begin weer met "want" (OAV; 2020: "immers"), en verduidelik dus v.9. Die "beter dinge" is die lesers se liefde (10), hoop (11) en geloof (12).

            Beter as wat is dit? Beter as die belewinge van v.4-5!

            Waarom? Omdat dit "saamhang met die saligheid" (v.9b, OAV).

            Die merktekens van ware redding – die enigste betroubare merktekens – is dus al lankal onmiskenbaar duidelik in hulle!

Kan ongeredde mense dít ervaar?

#          Onmiddellik ontstaan daar nou 'n nuwe vraag. Is dit enigsins moontlik dat onwedergebore mense die belewinge van Heb 6:4-5 kan he?

            Inderdaad! Dink aan die res van die Skrif.

            +          Dink aan 'n Saul.

            Dink aan Bileam – die klassieke dwaalleraar volgens die Nuwe Testament (Num 24:15-19; 31:8, 16; 2Pet 2:15-16; Jud 11; Op 2:14).

            En dink aan 'n Judas Iskariot, 'n Simon die Towenaar; 'n Demas. Het hulle nie almal die Heilige Gees se werk proefondervindelik geken nie?

            +          Dis waarvan die Here Jesus in Matt 7:21-23 praat: "Nie elkeen wat vir My sê, 'Here, Here,' sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele. Baie sal op daardie dag vir My sê, 'Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragtige dade verrig nie?' Dan sal Ek openlik vir hulle sê, 'Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid bedryf!'"

Wanneer mens se oë hiervoor oopgaan

is dit skokkend om in die Skrif te sien tot watter mate die Heilige Gees

in en deur mense kan werk

alles duskant die wedergeboorte

#          Die vermaarde teoloog en onbetwisbaar Godgesentreerde Prof. John Murray skryf: "Die Skrif self leer ons dus dat dit moontlik is om 'n opwindende, lewensveranderende, veredelende ervaring van die krag en waarheid van die evangelie te hê – sónder om werklik saligmakende geloof te hê.

            Dit is moontlik om só naby te kom aan die bonatuurlike kragte wat in God se koninkryk van genade werksaam is, dat dit effekte op jou het wat beswaarlik onderskeibaar is van dit wat God se wederbarende en heiligmakende genade voortbring – sónder om 'n deelgenoot van Christus en 'n erfgenaam van die ewige lewe te wees.

            'n Leerstuk van volharding wat nie deeglik rekening hou met die moontlikheid en realiteit van sulke gevalle nie, moedig 'n laksheid aan wat volharding alles behalwe bevorder. Trouens, dit is hoegenaamd nie die Bybelse leer van die volharding van die heiliges nie." (Redemption — Accomplished and Applied, p.153. My vry vertaling).

Wat is hierdie sonde dan?

#          Ons moet die aard van hierdie sonde báie goed verstaan. Want baie opregte Christene word onnodig gefolter deur die misplaasde vermoede dat hulle skuldig is daaraan.

        Aan die ander kant glo duisende mense dat hulle finaal gered is as hulle eenmaal 'n sondaarsgebed gebid het. Hulle maak van "eenmaal gered, altyd gered" 'n vrypas hemel toe – ongeag hoe hulle ook al ná hulle "bekering" mag lewe.

            Die onvergeeflike sonde het drie fokuspunte:

            +          Eerstens word hierdie sonde gepleeg deur mense wat diep in hulle harte waarlik wéét dat Christus presies is wat die evangelie van Hom getuig. Hulle het rondom hulle onbetwisbare bewyse daarvan gesien. En innerlik het hulle 'n diep oortuigingswerk van die Gees daaroor ervaar. Meestal het hulle ook die Here se genadewerkinge in 'n lewende gemeente beleef.

            +          Tweedens word hierdie sonde gepleeg deur mense wat, ten spyte van die Gees se bemoeienis in hulle verlede, Christus willens en wetens verwerp.

            +          Derdens is dit onmoontlik om so 'n persoon weer tot bekering te bring.       Sondevergiffenis is nie meer moontlik nie. Dit loop noodwendig uit op God se verskriklike oordele.

            Die Skrif bedoel nie dat dit vir die Gees onmoontlik is om so 'n persoon tot inkeer te bring nie. Máár diegene wat hom of haar probeer bearbei, vind dat hulle niks uitrig nie. Waarom? Die Here gee eenvoudig nie die nodige bekeringsgenade nie. Gevolglik het so 'n persoon geen begeerte na redding nie.

                        =          Wat dan van Esau wat onder trane begeer het om sy dwaasheid reg te stel (Heb 12:17)? Dit was kennelik nie egte berou nie, maar bloot hartseer oor die hier en nou se seën wat hy deur sy vingers laat glip het.

            Tussen die twee – ware bekering en Saul se huigelagtigheid – is 'n allesbepalende verskil.

Wat is hierdie sonde dus níé?

#          Hierdie sonde word nie onbewustelik gepleeg nie.

            In Luk 23:34 bid Jesus, "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie."

            In 1Tim 1:13 skryf Paulus dat die Here hom in Sy diens gestel het, "al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig ... omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek gedoen het nie."

#          Mense wat opreg begeer na vrede met God en sekerheid van saligheid, het vir seker nie hierdie sonde gepleeg nie. Nee, hierdie sonde lei tot 'n hardheid van hart en 'n ongeërgdheid oor die Here.

            +          Mense wat die evangelie hoor – selfs herhaaldelik en duidelik – maar Christus steeds nie aanneem nie, het nie sonder meer hierdie sonde gepleeg nie.

            Natuurlik leef diesulkes in sonde, maar as hulle nie 'n diep oortuigingswerk van die Gees ervaar het nie, is hulle nie aan híérdie sonde skuldig nie.

Laat elkeen wat Christus tot nou toe verwerp het

en bang is dat hy hierdie sonde gepleeg het

hom- of haarself waarlik bekeer

en hy of sy sal sekerlik vind dat die Here hom aanneem

            +          Mense wat in ongeloof, onkunde en dwaasheid onverantwoordelike, selfs lasterlike dinge teen die Gees gesê het, het verskriklik gesondig – máár dis nie die onvergeeflike sonde nie.

            Die Skrif waarsku dat ons met ons sonde die Heilige Gees bedroef (Ef 4:30), en dat ons Sy werk in ons midde kan uitblus (1Ts 5:19, OAV). Beide waarskuwings moet baie ernstig opgeneem word – máár ook dit is nie die onvergeeflike sonde nie.

Slotsom

Volgens die Skrif is dit 'n verskriklike moontlikheid om vir 'n lang tyd in die kring van die gemeente, en dus in die sfeer van God se genadewerkinge te beweeg – en tog uiteindelik vals blyk te wees.

            Dis waarom Johannes kan praat van mense wat eens in die gemeente was, maar hulle dan afgeskei het, omdat hulle nooit werklik deel van Christus se liggaam was nie (1Joh 2:19). Dis waarom Paulus gelowiges oproep om hulleself op die proef te stel of hulle in die geloof is (2Kor 13:5, OAV).

WAT IS DIE VOLHARDING VAN DIE HEILIGES DAN?

#          Volharding van die heiliges is 'n heerlike Bybelse waarheid. Maar dan moet dit reg verstaan word:

Diegene wat God lewendmakend geroep het

en vir Homself geheilig oftewel afgesonder het

sal Hy bekragtig om as nuwe skepsele

heilig te volhard tot hulle laaste asemteug toe

#          'n Heilige lewe het maar één watermerk van egtheid:

Gehoorsaamheid aan God se Woord

vanuit 'n hart vol geloof in Christus

en gedring deur 'n hartstog vir Sy eer

#          Die apostel Paulus verwys weer en weer na sy geloofswedloop. Kennelik was hy intens bewus daarvan (1Kor 9:24-27; Fil 3:13-14; 2Tim 4:6-8).

#          Kom ons kyk ten slotte na twee betekenisvolle Skrifuitsprake oor die volharding van die heiliges.

            +          Dis hulle wat "... in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid ..." (1Pet 1:5).

            Ten minste 4 dinge kom hier na die oppervlak:

                        =          Hulle word vasgehou. Ten diepste hang hulle volharding nie van hulle eie prestasie, inspanning en getrouheid af nie.

                        =          Hulle word deur die krag van God vasgehou. Dis waarom die Here Jesus die versekering kon gee dat niks Sy skape uit Sy of Sy Vader se hand kan ruk nie (Joh 10:28-30). Dis waarom niks hulle van die Here se liefde kan skei nie (Rom 8).

                        =          Hulle word deur geloof vasgehou. Hierdie geloof, in sy volle Nuwe Testamentiese diepgang, omvang en implikasies, is die geut waardeur God se instandhoudingsgenade in 'n mens invloei.

            Volharding en geloof staan dus in direkte verband met mekaar.

Tot die mate wat geloof opdroog

tot daardie mate verstar volharding

en

as daar nie meer geloof is nie

versaak die persoon sy wedloop

                        =          Hulle word vasgehou totdat die saligheid geopenbaar word. Dis dus as 'n reël ononderbroke en altyd lewenslank.

            +          Dis hulle wat deur die Seun van God bewaar word, sodat die duiwel geen houvas op hulle het nie. Die 2020 vertaal akkuraat: "Ons weet dat niemand wat uit God gebore is, aanhou sonde doen nie, maar Hy wat uit God gebore is, beskerm hom, en die Bose kan hom niks aandoen nie." (1Joh 5:18, NAV).

                        =          "Bewaar" beteken in Grieks om sorgvuldig op te pas en te beskerm. Die Vader het Sy uitverkorenes immers vir tyd en ewigheid aan Sy Seun toevertrou. Aan hierdie rentmeesterskap sal Hy onfeilbaar getrou bly. En Hy kán, omdat Hy nie net mens is nie, maar inderdaad ook volkome God.

                        =          Die "houvas" (NAV) wat die duiwel op die kind van God wil kry, dui op ’n vasgryp met die doel om leed te berokken.

><(((*>

Nico van der Walt

T: +27 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           Hierdie Griekse woord (paraklētos) is so ryk dat dit amper onvertaalbaar is. Die 2020 translitereer gevolglik: "Parakleet".