Preekopnames: 1. https://tinyurl.com/2p9b4b9z
2. https://tinyurl.com/2dh24hy4
God se reddingsplan is volledig godgesentreerd
# Die Here se genade vir sondaars kan in drie woorde saamgevat word: God red sondaars! Dis die ekstrak van alles wat ons tot nou toe behandel het. Dis die evangelie.
As daar een ding is wat die Bybel leer, dan is dit dat sondaars nie hulleself kan red nie; trouens, dat diegene wat wel gered word, ten diepste nie 'n greintjie daartoe bydrae nie. Verlossing is van die Here – volledig, oor die volle spektrum daarvan, in die verlede, in die hede en in die toekoms. "Uit Hom, deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen." (Rom 11:36). Dit is die apostel Paulus se slotsom as hy die leerstellige gedeelte van sy brief aan die Romeine afsluit.
+ In die redding van uitverkore sondaars werk die Drie-enige God – Vader, Seun en Heilige Gees in soewereine wysheid, krag en liefde saam.
Die Vader verkies, die Seun vervul die Vader se wil deur te verlos, die Heilige Gees verwerklik die Vader en die Seun se doel deur te roep, te wederbaar en enduit heiligmakend te begelei.
+ As God sondaars red, doen Hy alles, van A tot Z wat nodig is om hulle vanuit 'n toestand van geestelike dood onder Sy toorn oor te bring tot ewige, welgeluksalige gemeenskap met Hom. Hy beplan dit, lê die basis daarvoor, verwerklik dit. Hy wederbaar en bewaar. Hy verklaar regverdig, maak heilig en verheerlik.
+ Dis sondaars wat gered word. Dis mense wat skuldig, moreel vuil, hulpeloos, kragteloos, en geestelik blind is – mense wat van nature nie 'n vinger kan lig om God se wil te doen, of om hulle geestelike lot te verander nie.
# Niemand moet die diepgaande en wesentlike verskille tussen godgesentreerde en mensgesentreerde, teologie en praktyke onderskat nie.
Die mensgesentreerde sê, "Ek het my uitverkiesing aan my geloof te danke."
Die godgesentreerde sê, "Ek het my geloof aan my uitverkiesing te danke."
# Die mensgesentreerde wil en kan niks méér sê nie as, "Sonder Golgota sou ek nie gered kon word nie."
Die godgesentreerde sê, "Christus het my eens en vir altyd op Golgota gered."
In eersgenoemde geval word die kruis bloot as 'n noodsaaklike voorvereiste vir redding gesien; in laasgenoemde geval, as die werklike loskoop van sondaars.
+ Vir die mensgesentreerde is die kruisiging dus net die daarstelling van die moontlikheid tot redding, sónder om die redding van enigeen te verseker. Of iemand uiteindelik gered gaan word, hang van mense se gewilligheid daartoe af. Logies impliseer dit, in elk geval in beginsel, die moontlikheid van 'n tevergeefse Golgota.
+ Nee, 'n duisend maal nee! Die kruis se reddende krag hang nie ten diepste van mense se respons af nie. Ja, hulle móét en sál glo – en hulle bekeer. Maar dis 'n noodwendige uitvloeisel van God se reddende inisiatief.
God se genade is onweerstaanbaar, juis omdat dit die weerstand teen Sy heilsaanbod vernietig.
Godgesentreerdheid wil aan Christus
die Gekruisigde
ál die eer gee wat Hom toekom
# Nooit kan ons die kruis na waarde skat as ons dit nie in samehang sien met dit wat ons in die vorige hoofstukke behandel het nie. Die kruis is die hart van die evangelie – met die mens se radikale verdorwenheid en God se soewereine uitverkiesing aan die een kant, en effektiewe roeping en die volharding van die heiliges aan die ander kant.
Die volle betekenis van die kruis kristalliseer gevolglik eers werklik uit as Christus se versoeningswerk in terme van híérdie vier waarhede gedefiniëer word (reeds afsonderlik gekyk):
Christus het gesterf (R029.03 – die begronding).
Dit was om 'n spesifieke skare hulpelose sondaars te red (R029.04 – die verwerkliking).
Dis die mense op wie God voor die grondlegging van die aarde Sy hart gesit het (R029.02 – die oorsprong).
En dit het hulle roeping en bewaring verseker (R029.05 – die instandhouding).
# As die mensgesentreerde sê dat God gelówiges uitkies, dat Christus vir alle mense gesterf het, en dat die Gees diegene lewend maak wat die evangelie aanneem, sê hulle effektief dat God niemand in die absolute sin van die woord red nie. Want in die finale analise red die mens homself deur die regte keuse te maak.
Op die keper beskou, kom dit hierop neer dat God niemand régtig uitverkies het nie, dat Christus nie régtig plaasvervangend vir iemand gesterf het nie, dat die Heilige Gees niemand régtig lewend maak nie (want as iemand dan nog bekwaam is om sulke verantwoordelike keuses te maak, was hy geestelik mos nie regtig dood nie).
+ Hierin lê die groot probleem met mensgesentreerdheid: Dit doen tragiese afbreuk aan die heerlikheid en grootsheid en wonder van God se reddende liefdesgenade in Christus. In plaas van die uitdruklike Bybelse beginsel, "nie uit die werke, sodat geen mens mag roem nie", predik dit effektief 'n 50% aandeel in my verlossing.
# Die hedendaagse Christen is gekondisioneer om aan die kruis te dink as 'n verlossing wat nie regtig verlos nie (dis nou as hy hoegenaamd daaroor dink). Die algemene persepsie van ons dag is dat God se liefde 'n impotente gevoel van jammerte is wat mense nie sonder húlle hulp uit die verdoemenis kan hou nie. Vir die meeste kontemporêre gelowiges is God se vergiffenis niks meer nie as Sy oorsien van sondaars, omdat hulle Sy aanbod nie verwerp nie.
Hy laat ons egter nie nét wegkom sonder straf vir ons sonde nie; Hy het alles gedoen, sodat ons wetlik in Sy boeke die status kan hê van mense wat nie alleen nooit gesondig het nie, maar wat ook Sy wet volmaak onderhou het.
Verlossing van sondaars geskied in absolute juridiese integriteit en geregtigheid.
# Mensgesentreerdheid vernietig effektief die fondament van Christelike geloofsekerheid. Want die diepste grond vir my salige hoop word nie gesien in wat Christus vir my gedoen het nie, maar in wat ek vir myself doen. En wie ken nie sy eie onbetroubaarheid nie?
# Dit word algemeen aanvaar dat mensgesentreerdheid die uitvloeisel is van 'n natuurlike, onbevooroordeelde lees van die Bybel. Dit word voorts aanvaar dat dit wat in hierdie notas as Bybelse waarheid voorgehou word, berus op die forsering van 'n klomp Skrifuitsprake in 'n dogmatiese denksisteem in.
Die teendeel is waar!
Sekerlik is mensgesentreerdheid natúúrlik, en wel in die sin dat dit 'n tipiese rasionalisering is van Nuwe Testamentiese geheimenisse wat nie deur die natuurlike mens verstaan kan word nie (1Kor 2:6-16, veral v.14). En in elk geval kan die natuurlike mens nie aanvaar dat hy nie self die lot van sy siel bepaal nie. Dit is waarom mensgesentreerdheid deur die eeue weer en weer kop uitgesteek het.
(Let wel, met hierdie stelling bedoel ek allermins dat mense wat arminiaans dink nie gered sal word nie. Ek praat van die natuurlike, oftewel die onwedergebore mens.)
# Godgesentreerdheid wil gewoon sê wat die Skrif onontkombaar leer – niks meer nie, niks minder nie. Dit maak erns met die onontkombare Skrifuitsprake dat dit God is wat red; dat Hy diegene red wat Hy verkies het; dat Hy uit genade red, sonder enige menslike verdienste; dat Hy Christus as 'n volmaakte en allesomvattende plaasvervanger gegee het; en dat alle verlossing vanuit die kruis vloei.
Hierdie dinge word immers oor en oor, en in die allerduidelikste taal, in die Skrif geleer.
Dis wat 'n godgesentreerde sonder blik of bloos gelowig bely – nét soos die Bybel dit sê. Hy staan daarop dat geloof dit kan waag om Jesus Christus se uitroep aan die kruis – "dit is volbring!" – in die diepste en volste sin van die woord te verstaan.
# Die godgesentreerde bely dus voor mense presies wat hy in sy hart glo as Hy in gebed voor God buig. Want watter bidder – as hy byvoorbeeld vir 'n ongeredde dierbare bid – bely nie weer en weer in sy afhanklikheid nie dat nét God so 'n persoon kan red?
# Dis waarom die ware godgesentreerde, die persoon wat God se vrye genade in Christus nie net begryp nie, maar ook proefondervindelik ondervind, baie ongemaklik voel oor 'n etiket soos Calvinisme om na die godgesentreerde verlossingsleer te verwys. Dit suggereer immers – veral vir 'n oningeligte – dat dit net nóg een van 'n aantal alternatiewe teologieë is. Daarenteen weet die godgesentreerde met sy hele hart dat dit, en dit alleen, die bybelse waarheidsevangelie is.
+ Hierbenewens moet mens aanvaar dat Calvyn self uiters ontsteld sou wees oor die gebruik van die begrip, Calvinisme. Hy was 'n besondere godvrugtige en waarlik nederige man, wat selfs daarop aangedring het om in 'n ongemerkte graf begrawe te word – juis omdat hy so ver moontlik wou wegstuur van enige Calvyn-verering na sy dood.
Die effekte van 'n godgesentreerde teologie in mense se lewens
Leer bepaal lewe
oortuigings bepaal praktyk
Daarom kan ons aanvaar dat 'n godgesentreerde teologie bepaalde vrug in die praktyk sal oplewer – en inderdaad.
Hierdie effekte is nie akademies en denkbeeldig nie; dis werklik, ingrypend en lewensveranderend.
Die gelowige wat die waarhede van God se soewereiniteit en uitverkiesende genade in alle opregtheid en erns omhels, en hom of haar voorneem om die implikasies daarvan uit te leef, sal nooit weer dieselfde wees nie.
Die gemeente waarvan dit waar is, verander totaal en wonderlik ten goede.
1. Dit bring 'n diep dankbaarheid en blydskap in die Here
Anders as wat baie meen, gaan diep emosies met hierdie waarhede gepaard. Maar dis nie emosies sonder meer nie; dis veranker in die waarheid, en het gevolglik inhoud. Baie, as hulle aan Fil 4:4 dink, dink bloot aan blydskap sonder meer – maar dis blydskap "in die Here".
2. Dit bring 'n diep nederigheid voor die Here
Paulus se woorde in 1Kor 4:7 is 'n deurleefde werklikheid: "Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?"
3. Dit bring 'n diep geloofsekerheid en vrymoedigheid voor die Here
Dis gewortel in verse soos Luk 12:32: "Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee." As in gebed tot die genadetroon gegaan word, leef Joh 10:27-30, Rom 8:28-39 en talle ander beloftes diep in die hart.
4. Dit bring 'n lewenstabiliteit, 'n innerlike gevestigheid, en 'n oortuigingsvastigheid wat kosbaarder is as al die goud in die wêreld
Mense in wie se harte hierdie waarhede leef, verstaan die wêreld om hulle en kan een en elkeen vierkantig in die oë kyk. Hulle weet wat hulle glo, hulle is veranker, hulle word nie sommer omgestoot nie, hulle word nie deur elke golf van lering geskud nie – en hulle maak uitstekende martelare!
5. Dit bring 'n besondere gespierdheid in die stryd teen sonde
1Kor 6:17-20 is 'n toenemende realiteit: "Maar wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom ... Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik."
6. Dit bied kosbare troos tydens beproewinge
Romeine 8:28, Heb 12:4-12; 13:5b en talle ander Skrifgedeeltes stut 'n godgesentreerde gelowige steeds onwankelbaar nadat alle menslike hulpmiddels daarmee heen is. Sal die Almagtige, wat my voor die grondlegging van die aarde uitverkies het en Sy Seun Sy lewe vir my laat neergelê het, my nóú laat los? 1Kor 10:13 staan immers swart op wit geskryf: "Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan."
7. Dit bewerk koersvastheid, vasberadenheid en volharding in dienswerk
1 Kor 15:58 word 'n werklikheid: "Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie."
Dit alles bewerkstellig
'n waardigheid
'n nugterheid
'n volwassenheid
'n betroubaarheid
'n stabiliteit
wat respek in die samelewing afdwing
en sodoende die Here se naam verheerlik
><(((*>
Nico van der Walt
T: +27 082 848 9396
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev