PDF WEERGAWE

Preekopname:        1.         https://tinyurl.com/yywrbp3b

                                 2.         https://tinyurl.com/2p8ke6rp

Oor ons onderwerp is geen gedeelte in die Nuwe Testament méér belangrik as Rom13 nie. Ten minste 4 uiters belangrike beginsels kom na vore in v.1-7.

            Maar voordat ons daarna kyk, kan 'n historiese inleiding baie betekenisvol wees – juis omdat die verhouding tussen kerk en staat so 'n kardinaal belangrike rol gespeel het in die ontwikkeling van die kerkgeskiedenis. Dit was deur die eeue 'n intense stryd, en een van die mees invloedryke faktore in die vorming van die kerk (en sekerlik die staat) soos ons dit vandag ken.

            Tot vandag toe heers daar baie verwarring in Christengemoedere oor hierdie saak. Spesifiek hier in ons land was skewe sieninge voor 1994 aan die orde van die dag, en sedertdien gaan die kerke – veral onder die Afrikaners – deur 'n moeilike identiteitskrisis in hul soeke na hulle plek in 'n nuwe Suid-Afrika.

            'n Historiese voëlvlug oor die verhouding tussen kerk en staat, klaar egter baie vrae op.

'n Radikaal nuwe verstaan van die verhouding tussen kerk en staat[1]

#          Deur die eeue was daar twee uiterste posisies wat hierdie verhouding betref – en nie een het gehelp om die verwarring op te klaar nie; inteendeel:

            +          'n Verwarring en oorvleueling van die rolle van kerk en staat in die ordes van God. Dit lei dan baie maklik tot iets van 'n identifisering van kerk en nasie – soos in die stelling: "die Afrikaners is 'n Christennasie."

            +          'n Radikale skeiding tussen die staat en die kerk, wat tot 'n groot mate neerkom op 'n skeiding tussen die staat en God. Hiervolgens het Christene niks met politiek te doen nie (piëtisme) en die staat heers outonoom met sy gesag gebaseer op die wil van die volk – die vox populi (humanistiese sekularisme).

#          Alle voor-Christelike gemeenskappe was sakraal van aard. Dit is wanneer 'n volk saamgebind word deur 'n gemeenskaplike religieuse lojaliteit – wanneer almal toegewy is aan dieselfde godsdiens.

            Babilon was 'n voorbeeld hiervan. In Dan 3 lees ons hoe een en elkeen koning Nebukadnesar se goue beeld moes aanbid. Daar was geen sprake van 'n keuse nie.

            Ook die Ou Testamentiese verbondsvolk was so 'n monolitiese, sakrale gemeenskap. Weereens, wat die godsdiens betref, was daar geen sprake van 'n vrye keuse nie.

            Dis waarom die Jode van Jesus se dag hulle nie daarmee kon versoen om belasting aan die Romeinse keiser te betaal nie. Toe hulle Jesus in 'n strik wou lei, het hulle hom gevra of Hy dink dis geoorloof om dit te doen (Matt 22:15-22). Maar die Here se antwoord is vol betekenis: "Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort." Die implikasie is duidelik: Hier is twee afsonderlike lewenssfere wat mens uitmekaar moet hou; trouens, jy moenie dit laat vervloei nie.

            Die Nuwe Testament, in die besonder die Here Jesus, het dus 'n radikaal nuwe idee in die wêreld van destyds ingedra. Wat vandag vir ons voor die hand liggend en alledaags is, was tóé rewolusionêr. Niemand het ooit vantevore godsdiens en owerheid só van mekaar geskei nie.

#          Die gemeenskap is dus 'n samestelling van verskillende belangegroepe en lewenssfere. Dit is dus nie homogeen nie, maar heterogeen. Almal hoef nie in dieselfde tempel te aanbid nie. En al verskil twee mense religieus soos dag en nag, kan hulle rustig en in vrede op die markplein met mekaar handel dryf.

            Die Nuwe Testament voer dus iets radikaals nuut in die wêreld van destyds in: 'n gemeenskap waarin keuse ingebou is. Die voor-Christelike wêreld was voor die voet feitlik keuseloos.

            Die Here Jesus leer oor en oor:

            +          Die samelewing bestaan uit 2 groepe mense: Hulle wat aan Hom behoort, en die res. So praat Matt 7 byvoorbeeld van 2 poorte, 2 paaie, 2 huise, 2 fondasies en 2 bestemmings.

            +          Sy dissipels is ín, maar nie ván die wêreld nie.

            +          Sy dissipels is die sout van die aarde. Sout is totaal anders as die vleis wat dit moet bewaar; en tóg werk dit net as daar intieme kontak is.

            +          In die gelykenis van die onkruid tussen die koring (Matt 13:24-30) groei die onkruid tot en met die oesdag sy aan sy met die koring.

            +          Die onderskeide in die saamgestelde samelewing loop soms regdeur gesinne en families: "Ek het gekom om tweedrag te bring 'tussen 'n man en sy vader en tussen 'n dogter en haar moeder, tussen 'n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, 'n man se huismense sal sy vyande wees" (Matt 10:3536).

#          Waarlik, die Here Jesus het gekom om 'n nuwe mensheid midde-in die ou mensheid te skep – vreemdelinge, bywoners en pelgrims in hierdie wêreld.

            Die vroeë kerk het dit verstaan. Diognetus skryf oor Christene: "Hulle bewoon die land van hulle geboorte, maar as bywoners en reisigers; hulle neem aan alles as burgers deel, maar beleef dit tog soos besoekers. Elke vreemde land is vir hulle soos 'n vaderland, en elke vaderland soos 'n vreemde land. Hulle woon op aarde, maar hulle burgerskap is in die hemel."

            Die grootste enkele rede vir die vervolging van Christene in die eerste eeue deur die Jode en die Romeine, is die feit dat sakrale stelsels geen vreemde boodskap kan duld nie – dit bedreig die kulturele en godsdienstige homogeniteit.

            Die idee agter al die godsdienste wat vanuit die mens ontwikkel, is do ut des: ek gee sodat jy sal gee. Mens dien dus die gode sodat hulle na jou sal omsien, word geglo.

            Nou volg dit noodwendig: godsdienstige afvalligheid vertoorn die gode en lei gevolglik tot straf. Katastrofes beteken daarom dat die gode kwaad is. Volgens die Romeine het die Christene – "ateïste" deur hulle genoem – die gode uitgedaag. En as sodanig was hulle godsdienstige jukskeibrekery die oorsaak van min of meer alle rampe. Om sulke mense te vervolg, is geglo, paai die gode en het as sodanig versoeningswaarde.

Die kerk se sondeval

Die vierde eeu het radikale veranderinge gebring. Ten spyte van felle vervolging het die kerk tydens die voorafgaande eeue met rasse skrede gegroei. Daarteenoor het dit al hoe slegter met die Romeinse Ryk gegaan. Sommige denkers het gevolglik só begin redeneer: Aangesien die Christene se God kennelik sterker is as die Romeine se gode, moet die tradisionele gode dalk plek maak vir húlle God. Dan sal dit weer beter gaan met die Ryk.

            Ongelukkig het sommige naïewe Christenleiers hierin 'n geleentheid gesien – sonder om Jesus se woorde in ag te neem, "My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie." Wat hulle betref, sou dit 'n wonderlike koninkryksdeurbraak wees as die Ryk húlle geloof sou aanvaar.

            Reeds in 250 n.C. het Origines voorbrand hiervoor begin maak: "As die hele Romeinse Ryk sou verenig in aanbidding van die ware God, sal Hý vir hulle veg."

            Christelike sakralisme het sy lelike kop begin optel!

            En inderdaad het Christelike sakralisme in die vierde eeue, in die tyd van keiser Konstantyn, 'n werklikheid geword.

            As Konstantyn (274-337) keiser word, erf hy groot probleme. Die Ryk was besig om uit mekaar te val. Maar dan kry Konstantyn volgens oorlewering sy baie bekende visioen: 'n kruis in die wolke. En hy hoor hierdie woorde: In hoc signo vinces ("oorwin in hierdie teken").

            Hieruit is dit duidelik dat Konstantyn min van die evangelie verstaan het, aangesien hierdie sg. visioen 'n radikaal onbybelse betekenis in die kruis inlees.

            Konstantyn het homself wysgemaak dat die evangelie die kuur is wat die Ryk sou red. Daarvoor was dit egter nodig dat die ganse bevolking die evangelie aanneem – almal moes in die kerk wees. Religieuse konsensus – al was dit onder dwang – was die antwoord.

            Hoe gemaak? Die kinderdoop (wat sedert die begin van die derde eeu tot nou toe op slegs 'n baie beperkte skaal in sekere kringe voorgekom het) sou die instrument word om een en elkeen tot die institusionele kerk toe te voeg. Per slot van rekening is dit makliker om iemand water toe te dra, as om hom self soontoe te laat loop. Van nou af sou elke nuwe aankomeling in die Romeinse Ryk só deel van die kerk word. Spoedig sou die hele bevolking, kop vir kop, deel daarvan wees – en die Romeinse Ryk sou die Heilige Romeinse Ryk word! En hierdie ryk sou 'n nuwe god hê om na hom om te sien.

            Teen die einde van die 300's, onder Theodosius I, het die proses sy volle gang geloop. Die Christelike geloof het die enigste wettige godsdiens van die ryk word – tipies van 'n sakralistiese stelsel.

#          Die wiel draai, word gesê. En inderdaad. Want die vervolging wat die Christene altyd gely het, het nou op die aanhangers van die tradisionele heidense godsdienste neergekom.

Skielik het die vervolgdes die vervolgers geword, en omgekeerd. Soos altyd, het sakralisme min geduld gehad met jukskeibrekers.

            Ware Christene, wat geweet het waaroor dit regtig gaan, kon die nuwe bedeling met sy vermenging van wêreld en kerk hoegenaamd nie aanvaar nie. En so het die Donatisme ontstaan. Dit was 'n protesbeweging teen die huwelik tussen staat en kerk, asook die tragiese vervlakking wat as gevolg daarvan binne die institusionele kerk ontstaan het.

            Die brandende vraag was nou: Wat is die aard van die ware kerk? En in watter verhouding staan dit teenoor die wêreld om hom?

            Die antwoorde hierop het uiteengeval in twee wedersyds uitsluitende antwoorde.

            +          Die Corpus Christianum-standpunt het gedink in terme van 'n liggaam van Christelikes – 'n Christelike samelewing, met 'n kerk wat almal voor die voet insluit. Dit was die standpunt van die owerhede en die staatskerk.

            +          Die Corpus Christi-standpunt het gedink in terme van die liggaam van Christus – wat as kleiner gemeenskap van ware gelowiges (en net hulle) binne die breëre en ongelowige samelewing bestaan. Dit was die standpunt van die Donatiste en andere wat soos hulle as sektaries gebrandmerk is.

#          Donatisme is uiteindelik onderdruk, en die Rooms Katolieke Kerk is gebore. Van nou af sou Christelike sakralisme en die Corpus Christianum-idee in Europa die septer swaai.

Die sestiende eeuse Reformasie

'n Duisend jaar later sou die eerste Reformatore gekonfronteer word met die sakralisme wat steeds in Europa die botoon gevoer het.

            Aan die begin wou die vroeë Hervormers, Luther en Zwingli, die huwelik tussen kerk en staat ontbind. Ook is dit gedokumenteerd dat hulle aanvanklik wou ontslae raak van dit wat sakralisme in stand hou, naamlik die kinderdoop.[2]

            Die staat het egter onmiddellik met 'n ysterhand ingegryp. Só maklik sou hy nie sy greep op die volk afstaan nie. Want die owerhede het geweet dat jy 'n samelewing beheer as jy sy godsdienstige sentimente beheer. En hierdie beheer sou spoedig uit hulle hande glip as die belydenisdoop algemene praktyk sou word. 'n Groot meerderheid van die samelewing sou hulle immers nie laat doop nie, en hulleself gevolglik nie as gelowiges en deel van die kerk ag nie.

            Voorts het die owerhede geweet dat jy een groot instituut – die staatskerk – kan beheer, maar dat dit onmoontlik word in die geval van 'n veel kleiner groep mense wat hulle in afsonderlike en onafhanklike gemeentes bevind. Voeg daarby dat sulke gelowiges – anders as die massas in die volkskerk wat skaapagtig agter hulle leiers aanstap – as 'n reël mense van oortuiging is wat vir hulleself dink, en jy verstaan waarom destyds se staatsowerhede die belydenisdoop met die swaard vervolg het.

            Die Reformatore was dus vasgevang in 'n verskriklike dilemma. Óf hulle moes sterf vir kardinaal belangrike waarheid, óf hulle moes bly lewe om 'n nog meer fundamentele waarheid te verkondig aan 'n Europa in stikdonkerte.

            Anders as die Anabaptiste (wederdopers), het hulle gekies om die kinderdoop te behou, te bly lewe en voort te gaan met die prediking van regverdiging deur die geloof alleen. En dit sou hulle onder die beskermende vlerke van moedertjie staat doen.

#          Noodwendig het daar op hierdie punt 'n skeuring in die geledere van die pasgebore reformasiebeweging ontstaan.

            Die Anabaptiste het die Reformatore van skreiende kompromie beskuldig. Hulle standpunt was dat dit van lewensbelang is dat die kerk waarlik kerk moet wees, en dat dissipels van die Here Jesus bloot die roeping het om Hom te gehoorsaam, terwyl hulle die gevolge in Sy hande laat. In beginsel is hulle natuurlik reg, maar wie van ons sien kans om die Reformatore te veroordeel? Mens het immers begrip vir hulle verskriklike dilemma.

            Inderdaad is tienduisende Anabaptiste in die volgende jare vermoor – deur veral die staat en die Rooms-Katolieke Kerk. Maar helaas was die Reformatore en hulle medewerkers se hande nie heeltemal sonder bloed nie. Want kompromie bring altyd insekuriteit, en insekuriteit bring hardvogtigheid.

            Natuurlik moes die Reformatore hulle besluit en standpunt regverdig. Die Ou Testament – sakraal in sy boodskap en praktyk as jy hom sonder die Nuwe Testament lees – is sonder behoorlike in ag neming van die openbaringsgeskiedenis se ontwikkeling, hiervoor ingespan. Om die kinderdoop te regverdig, is die kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond oorbeklemtoon, terwyl die diskontinuïteite verwaarloos is. En gou-gou het Christelike sakralisme en die kinderdoop meer aansien as ooit geniet.

#          Die Reformatore het spoedig begin om belydenisskrifte te skryf – waarvoor die kerk van alle eeue hulle innig dankbaar moet wees. Een probleem het egter soos 'n seer duim uitgestaan: Sakralisme en die gepaardgaande kinderdoop. En omdat ons van formele belydenisskrifte praat, beteken dit dat die probleem in beton gegiet is. Vergelyk die Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 36.

            Hierteenoor staan die Baptiste van die begin af vir die skeiding tussen kerk en staat. Vandag geld dit natuurlik vir baie ander ook.

Die geskiedenis help ons om vandag te verstaan

Hier het ons die historiese redes vir die hardnekkige vashou aan die kinderdoop – 'n praktyk wat net eenvoudig nie die toets van 'n nugtere Skrifondersoek kan slaag nie. En hier is die historiese redes vir die sakralisme wat vir soveel jare die Afrikaner se denke oorheers het en verantwoordelik was vir soveel ellende in die Afrikanerpolitiek. En hier is die historiese redes vir baie van die (onnodige) wroeginge waardeur Afrikaner Christene sedert 1994 gaan. Laat ons onthou dat wat ware Christene tans in ons land ervaar, tipies is van die vreemdelingskap wat die ware kerk deur die eeue orals ter wêreld ervaar; trouens, dit gaan met ons nog baie, baie goed.

Vier beginsels in Romeine 13

1.         Alle regerende gesag word deur die soewereine God daargestel (Rom 13:1)

God is die oorsprong van alle menslike gesag. Dit geld uiteraard ook vir staatsgesag.

            Hierdie is 'n hoogs betekenisvolle stelling van God se Woord, veral as mens in ag neem vir wie dit geskryf is. Die Romeinse Christene was onder die hiel van 'n goddelose en heidense regering – wat deur gewelddadige verowering en onderwerping aan bewind gekom en gebly het, en diktatoriaal sy onderdane op hulle plek gehou het. Hulle was korrup, en het almal vervolg wat van hulle verskil het - in die besonder die gemeente van Christus.

            Die vraag is dus nie of die regering onder wie ons ons bevind de jure, oftewel wettig is nie. Die Bybel praat van alle de facto regerings, diegene wat op ‘n gegewe moment aan die stuur van sake is, ongeag hoe hulle aan bewind gekom het.

            Beteken dit dat Christene 'n klomp ruggraatlose papperds moet wees wat maar passief alles aanvaar wat oor hulle kom. Inteendeel! Dit gaan hier daaroor dat Christene weet dat die eintlike koninkryk waaraan hulle behoort nie van hierdie wêreld is nie, en dat die uitlewing van hulle roeping hier op aarde grootliks onafhanklik is van wie op 'n gegewe moment op die wêreldse troon sit. Die Here gebruik wie Hy wil om die gevalle mensheid in bedwang te hou en te stuur soos Hy wil. En Sy gemeente gaan onverstoord voort met hulle dien van die Here en die uitdra van die evangelie.

            Hieruit moet ons nie aflei dat Christene hoegenaamd nie by politiek betrokke behoort te raak nie. Nee, die Here het orals getuies en instrumente nodig, en Hy lei gewis van Sy kinders om ook daar hulle lig te laat skyn. Wat wel waar is, is dat 'n Christen tweemaal sal dink voordat hy hom in die politiek begewe. Dit is per slot van rekening 'n uiters gevaarlike omgewing vir die gelowige, en 'n lewe van dissipelskap kan daar baie, baie moeilik en ingewikkeld wees.

            Dit is baie betekenisvol dat die vroeë Baptiste, wat baie swaar gekry het onder die hiel van die owerhede, ronduit bely dat dit in orde is vir 'n Christen om ‘n "magistraat" te wees – 'n term wat alle politieke ampte dek (1689 Baptistebelydenis, h.24, par. 2).

2.         Die taak van 'n regering is om behoorlike orde te handhaaf daar waar hy verantwoordelik is (Rom 13:3,4,6)

Elke ingestelde outoriteit het uiteraard sy eie gesagsfeer. Daar is hy verantwoordelik, nie wyer nie. Gesag en toerekeningsvatbaarheid loop altyd hand aan hand, en noodwendig kan niemand aanspreeklik gehou word vir dit wat buite sy gesagsgrense gebeur nie. Dit geld orals, of dit nou die werksplek is, of die gesin, of die gemeente, of die samelewingsowerhede. 'n Eenvoudige voorbeeld sal dit duidelik maak. 'n Man is hoof van sy gesin, en as sodanig verantwoordelik vir wat sy gesinslede doen (tensy hy kan aantoon dat dit sondwer sy wete gedoen is). Maar hy is nie verantwoordelik vir wat sy buurman se kinders aanvang nie.

            Die staatsowerhede – wat in ons teks ter sprake is – moet sosiale en burgerlike geregtigheid, vrede en orde handhaaf. Hierdie taak het twee kante. Positief moet hulle dit wat sosiaal en burgerlik goed en reg is, bevorder en verdedig. Negatief moet hulle ongeregtigheid, misdaad en geweld bekamp.

            In Rom 13 is daar 'n sterker beklemtoning van die negatiewe. Terwyl 'n regering vryheid en lewensruimte vir sy burgers moet verseker, doen hy dit grootliks deur die kragte van selfvernietiging en wanorde in 'n gevalle wêreld te bedwing – dinge soos misdaad, anargie en rebellie. Dit is dus in Sy algemene genade dat God regerings instel.

            Soos wat regerings hulle opdrag uitvoer, skep hulle 'n konteks waarbinne die raadsplan van God sy loop kan hê – 'n kanaal daar waarin die koms van die koninkryk kan vloei en bly vloei (1Tm 2:1-2).

            Uiteraard het 'n regering baie geld nodig om sy taak te verrig. En aangesien die owerhede in God se diens staan, beveel Hý ons om ons belastings getrou te betaal – nie net inkomstebelasting nie, maar ook alle ander vorms daarvan, soos B.T.W., lisensies, tolgelde, eiendomsbelasting, ens.

            Dit word spesifiek deur ons teks (6, 7), asook ander gedeeltes in die Nuwe Testament  beklemtoon (Mt 22:15-22; Mk 12:13-17; Lk 20:19-26).

3.         Die mag van die swaard word aan regerings verleen om hulle in staat te stel om goeie orde te handhaaf (Rm 13:4)

Die Skrif is duidelik dat die staat 'n Godgegewe reg het om dwang te gebruik. Die Here weet dat hy sy taak in 'n sondegevalle wêreld moet volbring.

            Die voorwaarde vir goeie orde in 'n samelewing is onderlinge respek en konsiderasie, maar die gevalle mens is ongeneeslik selfsugtig. Helaas, wat baie mense betref, is méér dus nodig as opvoeding en suggestie. 'n Ferm en sterk hand van afdwinging is noodsaaklik.

            Wanneer nodig kan die staat se mag van dwang uiterste vorms aanneem. Die "swaard" in v.4 is meer as 'n simbool van gesag; dit dui op die mag van lewe en dood. Die algemene manier destyds om die doodstraf te voltrek, was onthoofding met 'n swaard (nogal ironies dat die skrywer hiervan só gesterf het).

4.         Dit is God se opdrag dat alle mense hulle moet onderwerp aan die owerhede wat oor hulle gestel is (Rom 13:1,5b)

Die woord "onderwerp" (1) impliseer dat die verantwoordelikheid vir 'n ordelike samelewing in die eerste instansie by elke individuele burger lê – en wel daarin dat hy "homself onder die owerheid plaas" (die letterlike betekenis van die woord). Christene neem hierdie roeping uiteraard ernstig op.  As 'n Christen homself, sover dit enigsins moontlik is, aan selfs 'n heidense owerheid onderwerp, impliseer dit ten minste 2 dinge:

            Eerstens sê dit dat hy 'n respek het vir God se instelling. As sodanig bring hy hulde aan die groot en soewereine Wetgewer.

            Tweedens lewer dit 'n getuienis teenoor die wettelose en gevalle wêreld.

            Dit beteken nie dat 'n Christen se gehoorsaamheid aan die owerheid ongekwalifiseerd is nie. Soos alle menslike gesag, is ook hierdie gesag relatief. Daar is bepaalde grense wat regerings nie mag oorsteek nie. Wanneer is burgerlike ongehoorsaamheid geregverdig? As die regering iets beveel wat God in Sy Woord verbied; en as hy iets verbied wat God in Sy Woord gebied. (Hd 4:19; 5:29, 40-42).

            Die Bybelse aksent is egter op onderwerping, eerder as op die reg tot ongehoorsaamheid.

            Les bes moet ons gesindheid teenoor die owerhede nie net passief wees nie, maar ook aktief: ons word beveel om vir hulle te bid (1Tm 2:1-2).

'n Aantal konkluderende opmerkings

1.         Sowel kerk as staat is instellings van God

2.         Kerk en staat word egter geroep om in verskillende sfere in God se diens te wees

Die kerk werk in die area van God se besondere genade: aanbidding, evangelieverkondiging, pastorale sorg, ensomeer. Die staat werk in die area van God se algemene genade. Dit moet sover moontlik menslike verdorwenheid weerhou om tot totale ontbinding te ontaard. En dit moet goeie orde in die samelewing handhaaf, sodat dit leefbaar bly in 'n gevalle wêreld.

3.         Beide instellings het van God 'n swaard ontvang om sy taak te verrig.

Die staat het 'n swaard van staal; die kerk die swaard van die Gees. En nooit, maar nooit, mag hierdie twee swaarde omgeruil word nie.

            Die gevalle mens verstaan bloedweinig – eintlik niks nie – van die swaard van die Gees (1Kor 2:6-16).

            En elke keer as die kerk die swaard van staal opneem, is dit grootliks tot oneer van God. In elk geval kan geen uiterlike dwang 'n ware Christen voortbring nie. Die swaard van staal kan oor 'n mens se liggaam heers, nooit oor sy gees nie.

            Aanbidding, om vir God aanneemlik te wees, moet uit die mens se hart kom. Gedwonge verering sal Hom tot in ewigheid nie tevrede stel nie. Meer nog, die kerk verloor sy essensie – hy raak trouens antagonisties daarteen – as sy voorskrifte tot wette verhef word vir hulle wat net gebore, en nie ook wedergebore is nie.

            Slegs die Gees van God kan die mens se hart verander en beheer – en Hy doen dit deur die Woord van God. En die staat moet dit respekteer. Daarom mag die regering mense se gewetens en godsdiens nooit met die swaard probeer beheer nie -  ongeag hoe verwronge en vals dit ook al mag wees. Hy moet bloot die ruimte daarvoor daarstel.

4.         Die ware kerk het geen behoefte aan 'n vennootskap met die staat nie; hy vermy dit trouens ten alle koste

Die skeiding tussen kerk en staat is 'n nie-onderhandelbare beginsel.

            Sekerlik sal die kerk nooit vervolging soek nie, maar eerder as om kompromie aan te gaan wat bogemelde betref, sal hy eerder vervolging verduur. En betekenisvol is dit dat vervolging, pynlik soos dit mag wees, feitlik sonder uitsondering die kerk, soos 'n wingerdstok onder 'n snoeiskêr, laat gedy. Dit beteken dat die staat se vyandskap die gemeente van Christus nooit in die diepste sin van die woord kan bedreig nie. Dit kan bloot die konteks verander waarin hy sy roeping moet vervul.

5.         Tog leer die Skrif nie dat die staat en die kerk niks met mekaar te doen het nie

Die kerk skep nie kultuur nie, maar dit beïnvloed kultuur – en politiek is 'n belangrike deel van ‘n samelewing se kultuur of etos.

            Waar die evangelie ook al verkondig word, daar raak die samelewing gemeng, bestaande uit diegene in Christus, en diegene steeds  in Adam. Daarom kan daar nie iets soos 'n Christelike kultuur wees nie (as kultuur dan die erfenis en karakter van 'n samelewing in sy geheel is). Daar kan slegs 'n kultuur wees waarin die evangelie se invloed tot 'n mindere of meerdere mate waargeneem kan word.

            Nooit plaas die Nuwe Testament 'n sogenaamde Christelike kultuur teenoor 'n heidense kultuur nie. Dit leer dat die kerk en sy evangelie 'n suurdeeg is in enige kultuur en dit bloot beïnvloed. Die Christen en evangelie sing dus bloot saam met al die ander stemme in die kultuurkoor.

            Hieruit volg dat die kerk die evangelie positief moet verkondig, en uiters versigtig moet wees om as kerk enige politieke verklarings te maak. Waarskynlik is dit die heel beste as hy hom geheel-en-al daarvan weerhou. Nee, die kerk se spreke word gehoor in die stemme van sy lidmate in hulle hoedanigheid as burgers met godvrugtige waardes en oortuigings.

 

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           Baie van hierdie historiese oorsig is ontleen aan Leonard Verduin: The Reformers and their Stepchildren, Eerdmans, 1964.

[2]           Verduin, p.38, 196; Erroll Hulse, An Introduction to the Baptists, Carey Publications, 1976, p.15-16.