Preekopname: https://tinyurl.com/bdhbwk6x (Tot en met 31:54 minute)
Die wêreld se Aanklaer
# As die Heilige Gees soos 'n verdedigingsadvokaat vir die Here se dissipels optree, word Hy vir ongelowiges 'n aanklaer wat hulle skuld voor God bewys.
Johannes 16:8-11 is nie 'n maklike gedeelte nie. Maar onderstaande sou waarskynlik 'n opiniekonsensus verteenwoordig.
# Die Here gebruik 'n sterk begrip in 16:8: Die Gees sal die wêreld "oortuig" (OAV). Dis 'n woord uit die regswêreld en dui op die voorlegging van getuienis wat die skuld van 'n aangeklaagde onbetwisbaar bewys. Dis om die feitelikheid van iets onontkombaar voor iemand te stel – in hierdie geval die beskuldigde self. Dit vestig dus in hom 'n hartswete, sodat hy in sy diepste wese weet dat die getuienis waarna hy luister inderdaad wáár is.
Op die Pinksterdag sien ons wat die Here Jesus hier belowe. By die aanhoor van Petrus se preek is die mense "diep getref" (Hand 2:37). Letterlik staan daar dat die Gees se oortuigingswerk in hulle harte plaasvind. En die werkwoord is 'n samestelling van die woord "om te steek", plus 'n intensiferende voorvoegsel. Wat dus gebeur, is dat die Heilige Gees vir Petrus bekragtig om só te preek dat die waarheidsevangelie oor Christus die hoorders se harte deurpriem – met hulle bekering tot gevolg.
# Waarvan oortuig die Gees sondaars? Van 3 dinge!
+ Hy oortuig van sonde – omdat die wêreld nie in Jesus Christus glo nie (v.9).
Die Gees oortuig ongeredde mense van die dieptepunt van hulle sonde – ongeloof in Christus. Dit bring dus die wete van my persoonlike geestelike bankrotskap voor God, van Sy volmaakte oplossing daarvoor in die Gekruisigde, en van skuld aan die ergste van sondes, naamlik verwerping van die Here se genade-aanbod in Sy Seun.
+ Hy oortuig van geregtigheid – omdat Jesus na die Vader teruggekeer het en die dissipels Hom nie meer gesien het nie (v.10).
Jesus se terugkeer na die Vader verwys na Sy opstanding en hemelvaart (Joh 14:12, 28; 16:28), asook na die Vader se gepaardgaande proklamering dat Sy Seun aan alle eise van geregtigheid voldoen het. So gesien, gaan dit hier om die Gees se werking van 'n innerlike wete in die sondaar dat sy eie gebrekkige geregtigheid nooit God se toets kan slaag nie, en dat sy (of haar) enigste hoop lê in die geregtigheid wat God voorsien – dié van Christus wat aan sondaars wat glo, toegereken (gekrediteer) word.
Waarom is die feit dat die dissipels die Here Jesus nie meer sou sien nie, deel van die rede vir hierdie werk van die Gees? Hieroor is daar verskillende opinies, maar waarskynlik sinspeel dit op die feit dat Jesus se vertrek die wêreld leeggelaat het van enige demonstrasie en sigbare norm van ware geregtigheid. Helaas sou selfs ware gelowiges in hulle onvolmaaktheid beswaarlik hierdie rol kon vervul. In plaas van 'n appél op ongelowiges se gewetens, sou Christene – veral "Christene" – dikwels eerder 'n struikelblok vir die wêreld wees om tot geloof te kom. Gegee dus die kerk se gebrokenheid, maak dit die Gees se oortuigingswerk oor ware geregtigheid des te noodsaakliker.
+ Hy oortuig van oordeel – omdat die Duiwel geoordeel is (v.11).
In Joh 12:31-33 sê Jesus dat Sy kruisiging nie alleen die redding van baie in hierdie wêreld sou bewerkstellig nie, maar meteen ook die oorwinning oor Satan. Die kruis praat dus nie net van verlossing nie, maar ook indirek van oordeel. Die Gees sal sondaars nie net oortuig dat Jesus Christus inderdaad is wie Hy is nie, en Hy sal hulle nie net bewus maak van hulle morele bankrotskap nie – Hy sal hulle ook oorweldig met die besef van komende oordeel. As Satan gevonnis is, en as 't ware in die dodesel wag vir die poel van vuur en swael (Op 20:10), hoe sal sy volgelinge die Here Jesus Christus se oordele ontkom?
# Hierdie paar verse hou uiters belangrike en praktiese implikasies in. Dit dra verskeie korrektiewe op die Godonterende ellendes in die kerk van ons dag. En dit bemoedig diegene wat Skrifbeginsels getrou toepas in hulle evangelisering.
+ Vir geslagte reeds is dit een van die kenmerke van die kerk in ons land dat baie gemeentekinders sonder meer as lidmate opgeneem word – of hulle werklik deur 'n ware geloof met Christus verenig is, al dan nie. Veral onder die Afrikaners het dit 'n volkskerk en 'n dooie ortodoksie voortgebring wat ons baie, baie ver van Nuwe Testamentiese standaarde laat wegdryf het.
+ In reaksie hierop het baie nuwe kerke oor die afgelope drie dekades ontstaan. Talle van hierdie kerke het verbysterend gegroei. Maar helaas vertoon baie van hulle bekerings nie die merktekens van Bybelse egtheid nie. Wat ook al die rede hiervoor – dit het net verder bygedra tot die ellendes wat ontstaan wanneer 'n groot persentasie van kerkmense nie waarlik soos dissipels van Jesus lewe nie.
As die kerk nie meer in die wêreld is nie
maar die wêreld in die kerk
is dit 'n kwade en godonterende dag!
# Wat is van hierdie ellendes?
+ Derduisende ongeredde mense verkeer onder die vals indruk dat hulle die ewige lewe het. Dit bring 'n selfvoldane gearriveerdheid mee wat sulke mense grootliks afstomp vir die ware evangelie.
+ Kerke word lamgelê deurdat baie van hulle lidmate geen erg het aan Jesus se radikale eise van dissipelskap nie. Hulle neem trouens aanstoot daaraan.
En omdat die samestelling van 'n bepaalde gemeente se lidmaatskap uiteindelik die vlak, fokus en inhoud van die prediking bepaal, bring dit noodwendig mee dat die kerk se boodskap simplisties, sentimenteel en mensgesentreerd raak. Trouens, as hierdie neiging – om bokke te vermaak, in plaas van skape kos te gee, soos Spurgeon dit stel – ver genoeg ontaard, masel daar naderhand praktyke uit wat selfs die ongelowiges skok.
+ Al hierdie dinge word 'n struikelblok in die pad van mense om tot die geloof te kom. En sien ons dit nie!
Hartseerste van alles is dat baie jongmense besig is om meer verhard te raak teen die evangelie as die heidene daarbuite. Dis asof hulle teen die waarheid geïmmuniseer is!
Dink net hoe anders dit sou gewees het as die kerk in Suid-Afrika oor die afgelope eeue grootliks uit ware, Bybelgetroue dissipels van Jesus bestaan het!
# Die kerk wat Joh 16:8-11 se lesse voortdurend voor oë hou, sal nie net bogenoemde slaggate grootliks vermy nie, maar ook 'n sinvolle bydrae lewer tot reformasie in die situasie wat ons tans beleef.
Wat leer hierdie verse ons?
1. Ware bekering en redding vloei voort uit die Gees se oortuigingswerk!
Geredde mense het hartgrondige oortuigings! Hulle het brandende harte. Hulle is yweraars. Hulle is mense met 'n hartstog. Hulle het duidelikheid waaroor dit gaan.
Dis omdat die Gees blote kopkennis laat afsak tot in die hart – waar dit 'n vuur word in die sentrum van jou persoonlikheid. As sodanig beheers dit dan jou ganse lewe.
Egte bekerings hoef nie dramaties of emosioneel te wees nie. Lidia het rustig en aandagtig na Paulus bly luister (die Griekse werkwoord dui op tydsverloop) voordat sy tot bekering gekom het. Maar die Skrif sê dat die Gees haar hart geopen het om die evangelie te begryp (Hand 16:14, OAV). Terwyl bekering dus ook stil-stil en oor 'n tydperk kan plaasvind, is dit altyd lewensveranderend – omdat dit jou hart is wat geopen word.
2. Die Gees oortuig mense in wie Hy reddend werk van minstens drie dinge
2.1 Eerstens oortuig Hy hulle van hulle eie doemwaardigheid. Voordat die besef van jou hopelose verlorenheid nie op jou daag nie, bly Christus se versoeningswerk grootliks 'n akademiese saak.
2.2 Tweedens oortuig Hy hulle dat hulle eie goeie werke nooit God se volmaakte standaarde kan slaag nie, en dat dit as sodanig nooit die grond vir hulle redding kan wees nie. Dan staan Fariseërs, Oudste Seuns (Luk 15:25-32) en Corneliusse (Hand 10:2 en 11:14) naak voor die Here.
2.3 Derdens oortuig Hy hulle van die unieke en volmaakte middelaarskap van Jesus Christus – sodat hulle nie anders kan as om vir lewe en dood in Hom in te vlug nie.
3. Die Heilige Gees se oortuigingswerk is dus uit en uit Christosentries
Bekering wat nie op Christus gerig is nie, is eenvoudig nie eg nie! Bekering beteken omdraai – deur 180 grade. Dis 'n wegdraai van sonde, maar meteen ook 'n heendraai na Jesus Christus toe – as groot Profeet, Priester en Koning. Indien dit bloot 'n wegdraai van sonde is,
is dit net 'n morele hervorming. En dit doen alle mense wel van tyd tot tyd. Trouens, as jy jou tot Hindoeïsme sou bekeer, sou dit ook vir jou allerlei etiese aanpassings ten goede inhou.
Nee, ware Christenskap word nie ten diepste geken aan hoë morele standaarde nie – noodsaaklik soos dit is – maar aan die diep wete dat jy nooit voor 'n heilige God sonder 'n volmaakte Middelaar kan gaan staan nie.
4. Hierdie verse leer ons dus wat die inhoud is van prediking wat tot ewigheidsvrug lei
In die algemeen is dit Christus-prediking. En in die besonder het dit te doen met sonde, geregtigheid en oordeel – Christo-sentries belig – soos hierbo uiteengesit.
5. Hierdie verse hou wonderlike bemoediging in vir ons wat voor die menslik-onmoontlike taak staan om deur ons evangeliegetuienis die siniese en Godvyandiggesinde wêreld na Christus toe te lei
Ons weier om truuks te gebruik om mense so ver te kry om die Here aan te neem. En ons weet dat waterdigte intellektuele argumente op sigself niks waarborg nie.
6. Hoe dan gemaak?
Ons oplossing is presies dieselfde as die vroeë dissipels se allerantwoord: Hulle het op die Heilige Gees staat gemaak om vrug op hulle werk te gee!
D. A. Carson skryf:
"I would quit all forms of Christian ministry immediately if I were not convinced that the Lord Jesus is building his church; that the Father has given over a people to his Son; and that the blessed Holy Spirit is working in the world to convict it of its sin, its righteousness, and its judgment. I have no confidence that on my own I could successfully persuade anyone of his deepest need and of the truth of the gospel. And so the passage reassures believers today that, far from being abandoned to their task of witness, in fact they are privileged to be the chosen instruments by which the Spirit customarily performs his ministry"
(The Farewell Discourse and Final Prayer of Jesus, p.147-148).
><(((*>
Nico van der Walt
T: +27 082 848 9396
E:
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev