PDF WEERGAWE

Preekopname:      https://tinyurl.com/bdhbwk6x    (Vanaf 31:54 minute tot einde)

Die Gees se werk is óók gerig op die gemeente van Christus

#          In Joh 16:14-15 sê die Here Jesus twee keer dat die Heilige Gees "dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig" (OAV).

            Daarmee wil Hy sê dat die openbaring wat deur Hom kom, die onderwerp van die Gees se verkondiging sal wees.

            Die voorsetsel "uit" in die uitdrukking "uit wat aan My behoort" is van belang. Vanselfsprekend is Christus veel groter en méér as wat in die blaaie van die Nuwe Testament opgeteken is. Hoewel veel meer waarheid oor Christus in die hiernamaals aan ons geopenbaar sal word, sou dit wat vir hierdie bedeling nodig is, aan die apostels duidelik gemaak word. In die besonder is dit in die Nuwe Testament opgeteken.

            Daarom was Christus ook die sentrale tema van apostoliese prediking. Dit kom by uitnemendheid na vore 1Kor 1:17-2:19 (vgl. 1:18, 23-24, 30-31; 2:2).

            En let op die fundamentele rol van die Heilige Gees in hierdie verband, hoe Hy oor en oor genoem word (2:10-16).

#          Dis kardinaal belangrik om te begryp dat die mensgeworde Jesus Christus – Sy persoon, lering en werk – die piek, die vervolmaking, die kulminering van God se openbaring aan die mens is. Want wat is daar om by Christus te voeg? Dis soos die boonste spits van 'n piramide: hoër kán dit nie.

#          Daarom het die apostels geensins gedink dat hulle by God se openbaring in die vleesgeworde Woord enigiets kon byvoeg nie. Hulle het hul taak gewoon gesien as die geïnspireerde beskrywing daarvan, en die verduideliking van die openbaring wat reeds afgehandeld in Hóm gekom het.

            Die evangelies beskryf dit. Die briewe verduidelik dit, en werk die praktiese implikasies daarvan uit. Die profetiese gedeeltes belig die eindoel daarvan.

Die groot Getuie en Sy medewerkers

#          Sekerlik is die dissipels geteister deur die vraag: As Jesus dan nou weggaan, waarom vat Hy hulle nie saam nie, waarom los Hy hulle in hierdie wêreld? Wat gaan van hulle word sonder Hom? Waar is die koninkryk waarvan Hy soveel gepraat het? Wat nou?

            In Joh 15:26-27 kry hulle die antwoord: Hulle bly agter om teenoor 'n God-vyandiggesinde wêreld as getuies van en vir die Here Jesus op te tree! Maar hierin sal die Heilige Gees hulle bystaan. Of nog beter gestel, die Gees is die eintlike Getuie, met hulle as Sy medewerkers deur wie Hy werk (Joh 15:26-27).

#          Dis nodig om 'n onderskeid te maak tussen die apostels – en die res van Jesus se dissipels. Die apostels was getuies, in 'n primêre sin; díé na hulle, in 'n sekondêre sin.

            Dit het te doen daarmee dat hulle baie uitdruklik deur Jesus self geroep is vir hulle besondere en unieke roeping. Hulle getuienis moes gebaseer wees op hulle persoonlike ervaring. Niemand kan immers wérklik gesagvol getuig van iets wat hy nie beleef het nie.

            +          Die apostels was heeltyd teenwoordig tydens Jesus se openbare optrede. Hulle was gevolglik oog- en oorgetuies van Sy persoon, prediking en werk (Hand 1:21-22; 10:37-42). En, natuurlik, moes hulle, of intieme medewerkers dit mettertyd op skrif stel.

            +          As sodanig moes hulle ook die evangelie aan die wêreld verkondig. En die hart van hulle prediking moes Christus se kruisiging en opstanding wees.

#          Die opdrag om te getuig is egter nie tot die apostels beperk nie. Dit geld uiteraard vir alle dissipels. Dís hoe die Koninkryk kom. Dís hoe die oes ingebring word.

            Maar ons getuienis het 'n afgeleide karakter. Ons eggo bloot die apostels se getuienis. En tog is ons getuienis meer as blote napratery. Tot vandag toe kan niemand in egtheid getuig as hy of sy nie die opgestane Christus ontmoet het, en wedergebore is nie.

            In alle outentieke getuienis sit steeds 'n komponent van eie ervaring.

#          Elders in die Nuwe Testament is dit duidelik dat die vroeë kerk deeglik bewus was van die Heilige Gees se bystand in die uitvoering van hulle verkondigingsroeping.

            Aan die Joodse Raad sê Petrus oor die apostels se Christus-prediking: "En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is" (Hand 5:32).

            Van Stefanus se getuienis teenoor die Jode word gesê: "Hulle was egter nie opgewasse teen die wysheid wat hy van die Gees ontvang het en waarmee hy gepraat het nie" (Hand 6:10).

            Dit alles was natuurlik vervulling van Jesus se belofte in Matt 10:19-20: "Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God julle gee wat julle moet sê. Dan is dit nie júlle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat."

            +          Hierdie toerustende werk van die Gees moet egter nie te eng en simplisties verstaan word nie. Dis organies en omvangryk. Die Gees gee mens 'n oog vir getuienisgapings, asook heilige vrymoedigheid, toepaslike waarheid, woorde in gegewe situasies, asook oorredingskrag.

            Maar Hy bewerk ook dit wat ware getuienis vóóraf gaan: Skrifstudie; gebed; 'n heilige lewe; hartsywer; persoonlike ervaring – ensovoorts.

            En uiteindelik is dit ook Hý wat die vrug in hoorders verwerklik: begrip; sondebesef; geloof; bekering; volharding; ensomeer.

Die Heilige Gees verheerlik Christus

#          Die Christusgefokusde getuienis van die Heilige Gees verheerlik die Here Jesus (Joh 16:14). Dis die hart van die Gees se werk; dis waarom dit ten diepste vir Hom gaan.

            Só belangrik was hierdie roeping wat op die Gees gerus het, dat Hy in die Nuwe Testament as 't ware 'n "agter die skerms" plek inneem. En so hoort dit steeds in elke gemeente tot vandag toe.

            J.I. Packer verduidelik dit iewers min of meer so: Sy werk is as 't ware om met 'n kollig op Jesus Christus te skyn, en in mense se harte te fluister: "Glo in Hóm; kyk, gaan en luister na Hom; dien en eer Hom!"

            In respek kan mens sê dat die Heilige Gees die "skaam" Persoon van die Drie-eenheid is. Hy wil nie in die kalklig wees nie; Hy wil Jesus Christus daar hê.

Die tweede Parakleet lei altyd terug na die eerste (Joh 14:6)

die eerste kom in die tweede na Sy gemeente terug

#          Niks bring hier op aarde meer heerlikheid vir die Here Jesus as dat Sy dissipels hulle hoogste vreugde vind in die "hele waarheid" oor Hom nie. En dis waaroor die Heilige Gees se werk ten diepste gaan. Dis Sy eintlike doel as hy ons innerlik verlig om die Nuwe Testamentiese geheimenisse te begryp.

            Maar dit strek nóg verder: Soos gelowiges die evangeliewaarhede oor Christus meer en meer deel van hulle lewens maak, verander dit hulle lewens – maak dit hulle tot eer van die Here steeds meer Christusgelykvormig (2Kor 3:18). Dis immers 'n psigologiese noodwendigheid dat mens groei in die rigting van jou hoogste verlustiging en agting.

#          Baie mense dink net individualisties oor hierdie saak, maar dit het ook 'n baie sterk korporatiewe dimensie. Dit is die Gees wat van 'n gemeente 'n lampstaander[1] maak (Op 1:13, 20; 2:1,5).

            Die funksie van so 'n staander is om die lig of lamp hoog op te tel sodat dit orals in 'n vertrek kan lig maak. Die beeld wil dus sê dat dit die gemeente se roeping is om "die Lig van die wêreld" hoog uit te lig, sodat Hy die verste uithoeke van die omringende wêreld kan verhelder.

Opsommend

#          Uiteindelik kan mens sê: Waar die Heilige Gees werk, is Jesus Christus as Profeet, Priester en Koning in die sentrum van mense se denke, oortuigings, emosies, toewyding, gehoorsaamheid en verkondiging.

            +          Nie alleen het ons hier 'n fundamentele merkteken van outentieke Christenskap nie; dit is ook die heel eerste lakmoestoets vir die Heilige Gees se werk in 'n gegewe situasie.

            Daarenteen, waar 'n ander gees aan 't werk is, is die mens in die middelpunt (vgl. Joh 7:18).

            Nee, die Gees van die waarheid maak Jesus Christus vir ons "... wysheid uit God, en geregtigheid en heiligmaking en verlossing" (1Kor 1:30, OAV).

><(((*>

Nico van der Walt

T: +27 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           Dis die beste vertaling van die bepaalde Griekse woord (Gr. luchnia). Daarom vertaal meeste moderne Engelse vertalings met "lampstand". Die funksie daarvan is om die lig of lamp hoog op te tel sodat dit orals in 'n vertrek kan lig maak