PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/zbeyjyz2

 

(Die preek is 'n oorsigtelike dekking van al drie hierdie gedeeltes in Efesiërs)

 

 

 

Ef 1:15-2:10

Sit!

In die voorafgaande Ef 1:3-14 skryf Paulus oor verstommende waarhede: God se ewige plan, vasgemaak voor die skepping van die aarde, om in Christus sondegevalle mense vir Homself as kinders uit te kies en aan te neem, en om hulle uiteindelik saam met die res van die skepping onder die hoofskap van Sy Seun te verenig ­– alles ten einde Homself te verheerlik (Ef 1:6,12,14, OAV).

            Dan, in die daaropvolgende verse, Ef 1:15-2:10, skryf die apostel dat en wat hy na aanleiding daarvan vir die gemeente in Efese bid, aanhou bid – en wat die implikasies is wat daaruit voortvloei. Dis 'n wonderlik gestruktureerde stuk Skrifopenbaring en dis meer as die moeite werd om in diepte daarna te kyk. Maar, let op, dit gaan konsentrasie van die leser vereis. En dis nie bloot 'n kwessie van vinnige deurlees nie.[1]

Oor die eenheid van Ef 1:15-23 en Ef 2:1-10

#          Die OAV, NAV en 2020 (ook standaard Engelse vertalings) skei hierdie twee gedeeltes, waarskynlik ter wille van verstaanbaarheid.[2]  Dit aanvaar dus dat die gebed afgesluit word met v.15.

            Allermins wil ek arrogant hiermee swaarde kruis. En dalk dink die leser nie nóú dis van wesentlike belang nie. Maar ek meen tog dat die twee gedeeltes grammatikaal 'n eenheid is.[3] Dit sou dan suggereer dat ons 1:15-23 en 2:1-10 as een lang gebed moet lees. Trouens, ek is oortuig dis noodsaaklik as mens die negentien verse behoorlik wil verstaan – soos hopelik hieronder sal blyk.

            Dit sal my benadering wees in wat volg.

Paulus se gebed en wat daaruit voortvloei

#          Kyk mens deeglik na die gebed, sien jy dat Paulus ten diepste eintlik net één ding van die Vader vra – dat Hy aan die Efesiërs "die Gees van wysheid en openbaring" sal gee (1:17).

            Waarom is dít sy versoek? Sodat hulle, in die eerste instansie, die Vader beter mag ken! (v.17). Dis immers die wese van die ewige lewe (Joh 17:3).

            Maar ook, in die tweede instansie, dat die "oë van hulle harte" verlig mag word. Waarom? Sodat hulle sal "wéét". Wat moet hulle weet? Hulle moet hulle erfenis in Christus verstaan! (v.18, 19).

            +          Dit is interessant en betekenisvol dat Paulus, elke keer as hy vir die gemeentes bid, vir hulle pleit om begrip, kennis, insig, wysheid! (vgl. 3:18; Fl 1:9- 11; Kol 1:9-10a). Maar hy vra nie sommer maar enige begrip en wysheid nie. Waarvoor hy bid, is dat hulle 'n baie spesifieke soort kennis sal hê – dat hulle die Drie-enige God sal ken; sal begryp wat hulle erfenis in Christus is; en sal verstaan hoe hulle voor Sý aangesig moet leef.


#          Nou brei die apostel uit op dit waarvoor hy vir die Efesiërs bid. Hieroor moet hulle drie dinge weet.

            +          Eerstens, die "hoop" waartoe Hy hulle geroep het (1:18).

            +          Tweedens, die "rykdom" van hierdie heerlike erfenis (1:18).

            +          Derdens, die "grootheid" van Sy krag wat nou reeds in hulle aan't werk is, en wat meteen die vervulling van die hoop en die finale inbesitname van die rykdomme waarborg (1:19). Só opgewonde is hy oor hierdie krag (dunamis), dat hy nóg 3 amperse sinonieme in die Grieks van v.19b gebruik om dit te beklemtoon: energeia – aktiwiteit, werking; kratos – uitgeoefende krag; ischus – groot inherente mag.

#          Op die derde punt van hulle erfenis, God se krag in en vir hulle, brei hy nou verder uit (1:20vv). Hierdie krag is presies dieselfde krag wat in Christus tydens en ná die kruisiging gewerk het. Paulus droom dus nie drome nie; hy praat van iets wat alrééds uitgeoefen en gedemonstreer is. Kyk net waartoe was dit nie in God se Seun in staat nie!

            Hy gebruik drie werkwoorde om dit uit te lig (1:20; vgl. NAV).

            +          Hy het hierdie krag in Christus "uitgeoefen" (om iets effektief te bewerkstellig) – en sodoende lewe in Hom geskep.

            +          Met hierdie krag het Hy Christus "opgewek".

            +          Met hierdie krag het Hy Christus aan Sy regterhand in die hemele "laat sit" – en Hom in die proses oor alle "owerheid en mag en krag en heerskappy" (v.21, OAV) gestel; trouens, "bo elke owerheid en gesag en mag en heerser, ja, bo enige naam wat genoem kan word, nie alleen in hierdie bedeling nie, maar ook in die toekomstige." (2020).

#          Die apostel kan egter nie van die verhewe Here Jesus Christus praat, sonder om ook meteen aan Sy gemeente te dink nie. Waarom? Dis omdat daar 'n organiese lewenseenheid tussen die Hoof en die liggaam bestaan – iets waarvan Paulus intens bewus was (v.22-23)! En vanuit hierdie waarheid kan dit eenvoudig nie anders nie: Christus se posisie van onaantasbare en universele gesag (v.22) móét eenvoudig enorme implikasies inhou vir Sy gemeente.

            En hieroor skryf die apostel dan in hoofstuk 2 in duiselingwekkende terme!

Wat 'n verlossing!

#          Die fokus verskuif nou van wat God vir Jesus Christus gedoen het, na wat Hy vir Sy liggaam, Sy gemeente doen in hulle verbondenheid met Hom.

            Om die heerlikheid van wat God vir mense in Christus doen, des te beter uit te lig, skets die apostel eers die patetiese ellende waarin hulle vooraf verkeer het (2:1-3).[4]

#          Ef 2:1-3 bevat waarhede van die allergrootste teologiese belang. Drie dinge is hiervolgens waar van die ongeredde mens, die mens in Adam. Presies dít is waarom 'n magtige herskeppingswerk in hom of haar noodsaaklik is vir redding.

            +          Hy is geestelik dood in sy oortredings (die positiewe oorsteek van 'n grens; dus rebellie) en sondes (die negatiewe mis van 'n kol; dus mislukking) (v.1).

            +          Hy is 'n slaaf van die wêreld, die duiwel en die vlees (v.2-3).

            +          Hy is van nature (vanuit geboorte) onder die toorn van God (v.3 letterlik; vgl. OAV).

#          Ef 2:4 is dan musiek in verlostes se ore. Dit begin met woorde waarop hulle ewige lotsbestemming skarnier: "Maar God ... " (vgl. ook Rom 3:21; Kol 1:22; Tit 3:4).

            Toe hulle nog magteloos vasgevang was in die lot van Adam se nageslag, het God in barmhartigheid en liefde drie dinge vir hulle gedoen:

            +          Hy het hulle (wat dood was) saam met Christus lewend gemaak (v.5).

            +          Hy het hulle (wat onder Sy toorn was) saam met Christus opgewek (6a).

            Die verband tussen "toorn" en "opgewek" moet soos volg verstaan word: Toe die Vader Sy Seun opgewek het, het Hy daarmee verklaar dat Hy die Seun se versoeningsoffer aanvaar het, en dat Sy toorn oor die sonde van diegene vir wie Hy gesterf het, bevredig is.          In Christus se opstanding sit dus die waarborg dat ons van ons grootste probleem – die toorn van God – bevry is (Rom 1:18).[5]

            +          Hy het hulle saam met Christus in die hemele laat sit (6b).

#          Met betrekking tot bg. moet sekere dinge nie misgekyk word nie.

            +          Paulus skep drie nuwe Griekse werkwoorde deur die voorsetsel, "saam met", te kombineer met 'n bestaande werkwoord. Sodoende beklemtoon hy dat hierdie drie dinge wat met gelowiges gebeur, uit en uit te danke is aan hulle lewenseenheid met Jesus Christus.

            Hierdie is een van die mees fundamentele aksente van die NT.

            +          Al 3 hierdie werkwoorde is in die verlede tyd. Hulle beskryf eens en vir altyd afgehandelde feite m.b.t. diegene in Christus. Dit kan net verstaan word i.t.v. die verbondenheid met Christus – wat histories lewend gemaak is, opgewek is uit die graf en na die hemel opgevaar het.

#          Dit alles vloei vanuit God se genade (v.5, 8). Die doel is dat Hý ewig daardeur verheerlik sal word (v.7).

            +          "Genade" dui op die verlossingsguns wat 'n sondaar van God ontvang, ten spyte van die feit dat God op geen wyse onder verpligting staan om dit aan hom te betoon nie. Die mens het gevolglik geen aanspraak daarop het nie – inteendeel. Daarom kan niemand roem nie (v.9).

            +          Die werkwoord, "gered" (v.5,8), is passief. Die sondaar ondergaan dit dus, sonder enige aandeel van sy kant (v.9a). Dit beteken nie dat hy of sy na redding passief bly nie; inteendeel, hy of sy is juis herskep met die oog op "goeie werke" (v.10).

            +          Dit is voorts in 'n werkwoordstyd wat dui op 'n huidige realiteit op grond van 'n gebeurtenis in die verlede. Redding is dus blywend.

#          Paulus se beredeneringslyn is nou duidelik. Dit sluit die hele gedeelte oop, en bevestig die geïntegreerdheid wat my aan die begin die standpunt laat inneem dat Ef 1:15-23 en Ef 2:1-10 'n eenheid is.

                        Soos Christus lewend gemaak is (1:20),
                                    só is ons saam met Hom lewend gemaak (2:5);

                                                en dit was nodig omdat ons geestelik dood was (2:1).

                       

                        Soos Christus opgewek is uit die dood (1:20),

                                    só is ons saam met Hom opgewek (2:6a);

                                                en dit was nodig omdat ons onder God se toorn was (2:3).

                       

                        Soos Christus laat sit is aan die regterhand van die Vader (1:20),

                                    só is ons saam met Hom in die hemele laat sit (2:6);

                                                en dit was nodig omdat ons in slawerny was (2:2-3).

#          Uit bostaande is dit nou duidelik hoe Ef 2:5-6 verstaan moet word: toe ons lewend gemaak is uit ons geestelike dood, is ons wedergebore; toe ons opgewek is onder die toorn van God uit, is ons geregverdig.

            Maar waarop dui dit dat ons in die hemele saam met Christus laat sit is? In 1:21vv beklemtoon die apostel dat Hy in 'n posisie van gesag oor die bose magte geplaas is.

         Sonder twyfel wil hy dus sê dat toe ons saam met Christus in die hemele laat sit is, is ons in 'n posisie van gesag geplaas – oor die vlees, die wêreld en die duiwel en sy bose magte!

Enkele implikasies

Hierdie komplekse, maar wonderlike stuk Skrifopenbaring laat ons beswaarlik tyd vir uitgebreide praktiese toepassing. Daar is bloot ruimte vir twee opmerkings.

#          Hoewel dit wat hier oor 'n Christen geopenbaar word nie in die eerste instansie belewingswaarheid is nie, moet ons dit, soos alle geopenbaarde wesenswaarheid,[6] of ons dit beleef of nie, in die geloof omhels en ons daarin verheug.

#          Indien jy weet dat jy weet dat die ou dinge vir jou verbygegaan het en dat alles nuut geword het (2Kor 5:17) – dat die Here jou dus in Sy genade geroep en wederbaar het – herinner jouself weer en weer aan jou verhewe posisie in Christus.

            Natuurlik is daar geen plek vir arrogansie in 'n Christen se lewe nie, maar die stryd teen die sonde moet ons op die voorvoet veg, in die wete dat ek nie nódig het om voor enige versoeking te swig nie, maar, trouens in staat is om daaroor te heers.

Laat die waarheid,

nl. dat jy in 'n posisie van gesag in Christus leef,

deel word van jou nuwe bewussyn,

en jy sal verbaas wees oor die praktiese effekte daarvan.

Ef 5:15-6:9

Loop!

Let wel, om ons tydsduur te beperk, is hierdie net 'n Bybelstudie, sonder toepassing. Dit is dus nie 'n "preek" nie – waarin, as 'n reël, baie aandag aan toepassing gegee (moet) word.

Plasing in Efesiërs

#          Veral Paulus se briewe in die Nuwe Testament kan as 'n reël in twee verdeel word.

            +          Áltyd eerste is daar die gedeelte waar die werkwoorde tipies in 'n bepaalde vorm geskryf word ­– nl. die sg. "indikatief". Dis Grieks se manier om 'n feitelikheid, oftewel 'n bestaande werklikheid te beskryf – 'n gegewene.

            Dit gaan dus oor iets wat die Here soewerein-inisiafnemend doen, of gedoen het.

            +          Dit word dan gevolg 'n tweede gedeelte in die brief waarin die werkwoorde tipies in 'n bevelsvorm geskryf word – oftewel die "imperatief". As 'n reël word dit ingelei met die woorde, "daarom", of iets soortgelyks. Dit beskryf die implikasies, oftewel verantwoordelikhede wat op mens rus, vanuit die genadeguns wat jy op grond van Jesus Christus se middelaarswerk ontvang het, en steeds ontvang. Dis dankbaarheidsrespons. Dis hoe Christene moet leef. As sodanig is dit 'n ware Christene se merk van egtheid.

            Dit gaan dus oor iets wat gelowiges in dankbare respons op ontvange genade doen.

#          Hier in Efesiërs kom dit baie interessant na vore.

            +          Die brief skarnier tussen 4:16 (tot hier beheers deur indikatiewe werkwoorde); en 4:17 (hiervandaan beheers deur imperatiewe werkwoorde).

            Weliswaar wil die apostel reeds in 4:1-3 met die praktiese implikasies en oproepe begin (die imperatief), maar dwaal dan eers weer af in sy opgewondenheid oor gelowiges se

erfenis in Christus 4:4-16 (die indikatief).[7]

            +          Voorts onderverdeel die apostel hier in Efesiërs sy imperatiewe gedeelte in 'n, noem dit maar, positiewe gedeelte, en 'n negatiewe gedeelte.

            Positief rus daar op ons verantwoordelikhede as begenadigdes (4:17-6:9).

            Negatief moet ons steeds die aanslae van ons sielsvyande weerstaan (6:10-20).

            +          Die apostel gebruik 3 sleutel-werkwoorde, wat ons help om bg. verdeling van sy brief maklik te onthou: Sit! Loop! Staan!

            1.         "Sit" (Gr. sunekathisen: om sáám te sit) (2:6): Ons erfenis in Christus in 'n enkele woord (die erfenis).

            2.1       "Leef" (Gr. peripateō: om rond te loop) (2:10; 4:1,17; 5:2,8,15): Ons positiewe gehoorsaamheidsrespons.

            2.2       "Staan" (Gr. histēmi: om vas te staan) (6:11,23,13,13,14): Ons negatiewe weerstaning van watter aanslae ook al wat die uitlewing van ons gehoorsaamheid wil verydel.

'n Nadere kyk na ons teksgedeelte

#          Die eerste helfte van ons positiewe verantwoordelikhede as begenadigdes word in 5:14 afgesluit met die eggo van verskeie oproepe in Jesaja om wakker te word! (26:19; 51:17; 52:1; 60:1).

            Vanaf 5:15 volg dan 'n tweede gedeelte – die gedeelte waarna ons wil kyk: "Let daarom sorgvuldig op hoe julle leef ... verstaan wat die wil van die Here is" (v.15-17).

#          V.18 gee die sleutel tot 'n lewe volgens die Here se wil: "word vervul deur die Gees".

            +          Die werkwoord is 'n bevel (dis nie 'n opsionele saak nie); 'n meervoud (dit geld vir alle Christene, sonder uitsondering); 'n passief (my rol is onderwerping aan die Heilige Gees se werk); en in 'n vorm wat voortgaande of gebruiklike handeling beklemtoon (dit moet 'n lewenswyse wees).

            +          Vanuit die teenstelling met dronkenskap, is dit duidelik dat Geesvervuldheid beteken om onder die heerskappy van die Gees te leef – as 't ware onder Sy invloed.

#          Hierdie bevel in v. 18 se bevel beheers dan die volgende 24 verse – dwarsdeur, vanaf 5:19 tot en met 6:9. Die verse beskryf dus hoe 'n tipiese Geesvervulde lewe lyk.

            +          Verse 18-21 is één sin in die Grieks. Dit begin met die 2 bevelswerkwoorde in v.18 (die eerste negatief, die tweede positief).

            Dit word gevolg word deur 5 teenwoordige deelwoorde (v.19-21): sprekende; singende; psalmsingende; dankende; wesende onderdanig (LW: "onder mekaar")

           

            +          Hierdie uitinge van Geesvervulde gehoorsaamheid sinspeel op 'n tweërlei gerigtheid:

                        =          Een, 'n lewe wat ingestel is op die lof en verheerliking van God (die eerste 4 deelwoorde).

                        =          Twee, 'n lewe wat ingestel is op my mede-gelowiges. Dit sit in die kwalifikasie "onder mekaar", asook in "wesende onderdanig" (die laaste deelwoord):

#          'n Verdere sleutel is dat v.22 nie 'n werkwoord het nie, maar kennelik v.21 s'n veronderstel: "wesende onderdanig ...". Dit is dus 'n uitbreiding van v.21. Die apostel gee 'n praktiese voorbeeld van hóé onderlinge onderdanigheid tot uitdrukking kom.

            Trouens, hierdie oproep tot onderdanigheid beheers duidelik al die verse tot en met 6:9 – as Paulus nie net die vrouens aanspreek nie, maar ook die mans, en dan die kinders en die vaders, asook die slawe en die eienaars.

#          Duidelik koppel die apostel 5:17--21 en 5:22-6:9 onlosmaaklik aan mekaar. [8] Só kan ons nou die hele gedeelte opsom:

Dit is die wil van die Here

dat ons vervul sal wees deur die Gees

wat tot uitdrukking kom in

lewens van lof en aanbidding

asook

wedersydse onderdanigheid aan mekaar

In die besonder

in die huwelik

in die gesin

in ons werksverhoudinge

#          Net 'n laaste opmerking: Beteken dit dan dat mans ook aan hulle vrouens onderdanig moet wees, en vaders aan hulle kinders, en eienaars aan hulle slawe? Die gevolgtrekking is bykans onontkombaar. Hoe kry mens dan die kloutjie by die oor?

            +          Die sleutel lê in die betrokke Griekse woord, "onderdanigheid". Dis 'n woord wat letterlik beteken om jouself onder iemand anders te plaas. Of beter gestel, om 'n ander se belange hoër as jou eie te ag. Vir alle praktiese doeleindes is dit 'n sinoniem vir Christelike liefde.

            Vir seker suggereer dit nie dat ons bloot na mekaar se pype moet dans nie. Paulus spel in elke geval uit hóé elkeen die ander se belange moet bevorder. Deurgaans moet dit volgens God se ordes geskied. En vir seker bring dit nie sy gesagsordes in gedrang nie. Mans is steeds hoof van hul huise, vaders regeer steeds, en is aanspreeklik vir hulle kinders, werkgewers het steeds gesag oor hulle werknemers, en moet gerespekteer word.

Waar die Heilige Gees in ons verhoudinge heers

sal daar wedersydse respek konsiderasie en diensbaarheid wees

met die ander se belange as beheersende motief

 

 

Ef 6:10-13

Staan!

Die ware Christelike lewe is 'n felle en lewenslange stryd. Dit gaan om lewe en dood! Of ons dit wil weet of nie, presies dit is wat die Bybel konsekwent leer.

Die vyand is binne ons mure

Wat die stryd veral meedoënloos maak, is feit dat dit nie net te doen het met aanslae van buite af nie, maar dikwels op sy felste woed binne-in die Christen self.

            Dis soos 'n geveg om 'n stad. Soos altyd, is die stryd bínne die mure beslissend. Solank die inwoners die vyand buite die mure kan hou, of, indien die agressors wel sou inkom, tog die opperhand aan die binnekant kan behou, bly die vyand se aanslae steeds tevergeefs. Maar as die bewoners híér swig, is alles verby. 'n Vyand wat 'n stad van buite af bombardeer, se enigste doel daarmee is om die inwoners se beheer aan die binnekant af te takel, sodat sy magte aan die binnekant kan oorneem.

            Die vyand binne die mure  -  want jy is helaas met hom reeds binne-in die mure gebore -  word deur die Bybel "die vlees", "eie begeertes" of "inwonende sonde" genoem. Hierdie ingebore sondegeneigdheid is 'n skrikwekkende vyand wat nooit opgee en nooit onderskat mag word nie. En die stryd daarteen word op talle maniere in die Skrif beskryf: dis 'n stoeigeveg (hier); 'n boksgeveg; 'n oorlog.

Die vyand se strategieë

#          Ons vyand nommer een, die vlees, het 'n meedoënlose bondgenoot: die Satan en sy engele. En dis oor hulle wat dit hier gaan.

            +          "Bose magte"(12) dui op die heersers van die duisternis, die bose geeste. "Listighede" (v.11) dui op die duisternis slinkse planne (2Kor 2:11) waarmee die Duiwel "die hele wêreld verlei" (Op 12:9).

            +          "Wêreldheersers van hierdie duisternis" (12) dui op die feit dat hulle oor die ganse sonde-gevalle wêreld dwarsdeur hierdie bedeling regeer.

            +          Hulle het oneindig baie slinkse strategieë, maar dis deurgaans daarop gerig om gelowiges se vlees te stimuleer en hulle sodoende tot sonde te verlei (Mark 4:18-19).

#          Die Satan se strategieë kan in 2 groepe verdeel word. Soms val hy direk aan. Soms werk hy deur hierdie wêreld, oftewel die Godvyandelike wêreldsisteem.

            +          Dit beteken dat ons kan sê dat 'n persoon wat sê hy is 'n Christen, maar tog gedurig in die stimulasie en waardes van die gevalle wêreld opgaan, wêreldgelykvormig is. En daarmee wys hy "dat hy 'n vyand van God is" (Jak 4:4). Só belangrik is hierdie saak dat oorwinning oor die wêreld 'n merkteken van egte Christenskap is (vgl. Gal 6:14; 1Joh 5:4).

            +          Maar kom ons verstaan dit goed. "Hierdie wêreld" is net 'n front-organisasie vir Satan. "Ons weet dat die hele wêreld in die mag van die Bose is" (1Joh 5:19). Hy is "die heerser van hierdie  wêreld" (Joh 12:31; 14:30), "die god van hierdie bedeling" (2Kor 4:4), "die heerser oor die mag van die lug – die heerser van díé gees wat nou aan die werk is onder die seuns van ongehoorsaamheid" (Ef 2:2).

#          Laat ons dit onderstreep: Satan is nie die eienaar van die wêreld nie (Ps 24:1). Maar sedert die sondeval is hy soos 'n plakker wat 'n ander man se stuk grond beset. En só beheer hy die sondegevalle mensheid, oftewel die wêreld.

#          Die gelowige het maar één antwoord teen die aanslae van die vyand:  Die voorskrifte van hierdie verse! Ons moet die volle wapenrusting aantrek om end-uit staande te bly.

Enkele detailopmerkings vauit Grieks

#          Vers 10: Die werkwoord dui op herhalende of voortgaande handeling.

            Voorts is daar twee vertalingsmoontlikhede: Julle moet versterk word (passief), of, versterk julleself. Lg. is die waarskynlike.

            Dus: Versterk julleself voortdurend.

#          Vers 11: Die opdrag, "trek ... aan" is in 'n beklemtoonde posisie in die sin. Hier word dus aangedring op besliste en dringende handeling. Nog meer, elke deel van die wapenrusting moet aangetrek word.

            "Van God" dui daarop dat Hý dit verskaf.

            "Sodat" dui op 'n doel wat blywend is; nie op die gevolg van nie.

#          Vers 12: "Stryd" dui op 'n stoeigeveg; dus op direkte kontak en slinksheid wat die opponent wil uitoorlê.

            Opvallend in hierdie vers is die 5 keer wat Paulus die woord "teen" (Gr: "pros") gebruik. Hy praat nie van speletjies speel nie; hy praat van 'n stryd om lewe en dood teen die duiwel en sy bose magte wat daarop uit is om te vernietig!

#          Vers 13: "Neem ... op" beklemtoon dat dit gedoen word met die oog op gebruik. Dis 'n tegniese militêre term vir finale voorbereidings net voor 'n geveg begin. Die apostel dring dus aan op besliste en doelbewuste handeling.

            Al die werkwoorde in die doelsin, "sodat ...", is in 'n vorm wat dui op suksésvolle handeling. Die stryd hou aan tot die bitter einde toe. Tot op die laaste mag nie 'n duim teruggewyk word nie. En aan verloor moet nie eers gedink word nie!

Saamgevat: Trek sonder verwyl en doelgerig die volle wapenrusting aan wat God vir ons voorsien – met die oog daarop dat jy in staat sal wees om (suksesvol) enduit te bly staan.

Enkele verdere opmerkings

#          Dit word algemeen aanvaar dat 'n Christen nie deur 'n demoon beset kan word nie. Maar sou mens jouself wyd genoeg oopstel, sal die vyand jou vir seker totaal oorrompel. Maar, natuurlik, as jy 'n ware en volwasse Christen is, sal jy sekerlik nie jouself só aan sy heerskappy blootstel nie. Alles in die herskepte hart sal immers daarteen rebelleer. Dis presies soos met die sonde tot die dood toe.

            Tog gebeur dit soms dat onervare Christene magteloos in die greep van die bose beland. Dan is dit nodig dat hulle gehelp word.

#          Ons verse beklemtoon dat Christenskap nie vir swakkelinge is nie. Let op die woorde wat sommer van die begin af opgestapel word: versterk, krag, sterkte.

#          Die Duiwel val selde openlik aan. Veeleerder kom hy as 'n "engel van die lig" (2Kor 11:14), of as 'n "wolf in skaapklere". Ja, hy "loop rond soos 'n brullende leeu" (1Pet 5:8), maar vermom homself, by wyse van spreke, ewe dikwels as 'n slang (Gen 3:1). Hy "verlei" tot sonde en rebellie en "kla aan" om gehoorsaamheid en vrymoedigheid te onderdruk (Op 12:9-10). Hy bedrieg en belieg om sy doel te bereik.

#          Voorts gebruik die vyand dikwels mense as lakeie, veral as misleiers. Dis betekenisvol dat Paulus presies dieselfde begrip as hier in v.11 – die woord "listighede" – gebruik om die dwaalleraars in Ef 4:14 te beskryf.

            Hy gebruik kragte, tekens en wonders (2Thess 2:9-10); hy verblind mense se denke (2Kor 4:4); en hy stel allerlei strikke (1Tim 3:7).

#          In hierdie oorlog leef gelowiges op die snykant van 'n mes.

            +          Satan sal alles in sy vermoë doen om mense te oortuig dat hy nie bestaan nie. Enersyds gee dit vir hom beweegruimte om sy vuil werk te doen, en andersyds steel dit van Christus se eer deur die oorwinning wat Hy oor Satan behaal het te versluier.

            +          As mense egter wel met sy bestaan rekening begin hou, probeer hy hulle verlei tot 'n gefassineerdheid met hom. Mens vind dit in óf 'n morbiede vrees vir hom, soos vandag steeds in sekere kringe, óf dit manifesteer in 'n duiwel-agter-elke-bos beheptheid, wat bykans alle sonde en ellende aan demone toeskryf – soos in baie super-geestelike groepe in ons dae. Die punt is dat mense se oë in elke geval van Christus afgetrek word.

            +          J.I. Packer stel dit so: "Die Christelike lewe is soos klavier-speel. As jy die verkeerde note druk, misluk jy. Maar jy kan ook misluk deur die regte note op die verkeerde manier te speel – teen die verkeerde tempo of ritme."

            Voorbeelde van sulke skeeftrekkings kan vermenigvuldig word. Denke sonder uitlewing. Liefde sonder wysheid. Liefde vir die waarheid sonder liefde vir mense (of omgekeerd). Ywer sonder kennis. Regsinnigheid sonder heiligheid. Kinderlike geloof, wat in plaas van nugter, naïef is.

Christus!

#          Die kwalifikasie "in die Here" (v.10) herinner dat die krag wat hier ter sprake is, net in lewenseenheid met Christus 'n werklikheid is. Soos 2Kor 1:20 dit stel: Al God se beloftes is "ja en amen" in Jesus Christus.

            Die sleutel is dus geloofstoe-eiening van my lewenseenheid met Jesus Christus en alles wat dit impliseer.

#          Die Christen hoef dus nie te vrees oor die uitkoms van hierdie felle oorlog waarin hy gewikkel is nie. God is getrou en sal nie toelaat dat hy bokant sy kragte versoek word nie. Dit beteken nie dat sy verantwoordelikheid en betrokkenheid opgehef is nie; inteendeel. Dis immers waaroor die wapenrusting gaan!

#          Maar, let op, elke deel van die wapenrusting is 'n aspek van ons erfenis in Christus wat ons in die geloof moet omhels en steeds vashou.

#          Die Christen se opdrag is keer op keer, "staan!" (11,13,13,14). Dis soos soldate wat 'n vesting ten alle koste moet hou. Hulle mag nie retireer nie, ook nie voortmarsjeer nie. Hulle moet stáán!

            +          Christene gaan nie die vyand soek nie. Dit sou hulle van hul pos wegneem. Dit is presies wat gebeur wanneer naïewe Christene "demone-jagters" word. Gou-gou raak hulle so behep met die vyand, dat hulle oë nie meer op Christus vasgenael is nie. Dis betekenisvol dat Paulus in Filippi eers na "baie dae", toe hy "dit nie langer kon hou nie", die waarsêersgees uit die slavin gedryf het (Hand 16:16-18).

            +          Natuurlik is daar soms konfrontasies met die vyand – wanneer die koninkryke van die duisternis en die lig bots. Dan mag dit nodig raak om demone uit te dryf. En enige Christen moet dit kan hanteer – met die gesag wat spruit uit sy of haar eenheid met die Koning! Maar jy beter dit met die volle wapenrusting aan doen, of jy sluit dalk by die seuns van Skeva aan (Hand 19:13-16)!

Slot

Weliswaar is die uitwerk van die redding waarvan Christus die regsbasis afgehandeld gelê het (Joh 19:30), 'n saak van "vrees en bewing" (Fil 2:12-13), maar ons veg nie vir oorwinning nie; ons veg vanuit oorwinning!

            Wie wil, wie kan, wie durf by Christus iets byvoeg? Die hart van geestelike oorlogvoering lê daarin dat ons vanuit Sy afgehandelde werk veg en  leef.

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           Aanhalings uit die 2020, tensy aanders aangetoon.

[2]           Moderne tale gebruik net nie meer sulke lang sinne soos die Grieks dikwels doen nie.

[3]           Sonder om tegnies te raak, wys ek net daarop dat 1:23 en 2:1 in die Grieks eintlik in dieselfde asem gesê word. Daar is m.a.w. nie 'n punt tussen die twee verse nie. Die "het Hy lewend gemaak" in v.1 is ter wille van verstaanbaarheid vanaf 2:5 teruggeskuif. Die OAV skryf dit daarom in kursief om te toon dat dit nie deel is van v.1 in die oorspronklike taal nie. Let ook op die "en" waarmee v.1 begin, wat die verbintenis met 1:23 suggereer.

[4]           Paulus is lief om die glans van verlossing so teen die donker dekor van die gevalle mens se verlorenheid te teken. Vergelyk byvoorbeeld Rom 3:9-20 teenoor 3:21-31; Kol 1:21 teenoor 1:22; Tit 3:3 teenoor 3:4-7.

[5]           Vergelyk ook Rom 4:25-5:2; 5:9; 1Tess 1:10

[6]           Belewingswaarheid: die son kom op, skuif in die lug bo my van oos na wes, en ek sê dit gaan vroegaand onder. En as ek só praat, sal niemand my beskuldig dat ek van lotjie getik is nie.

            Wesenswaarheid: Die aarde roteer; en terwyl ek aan die ander kant van die aarde is, sien ek nie die son nie, en is dit donker.

[7]           Paulus was immers ook 'n prediker – en ook hier, soos altyd, tot barstens toe opgewonde oor God se genade in Christus in begenadigdes se lewens!

 [8]          As jy dalk dink dis net 'n aanname, selfs 'n gewaagde aanname, loop ek daarmee in pas met die befaamde John Stott: "What is beyond question is that the three paragraphs which follow are given as examples of Christian submission, and that the emphasis throughout is on submission." (John R.W. Stott: God's new society - The message of Ephesians; Inter-Varsity Press; 1979; p.215).