PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/3c6yywxz

Nota: Oor hierdie studie het ek tweemaal gepreek. Bogenoemde skakel is die van die tweede preek. Die eerste opname is ongelukkig nie beskikbaar nie. Dit handel oor die eerste bladsy-en-'n-half van onderstaande notas. Ek som dit egter wel kortliks op in die tweede preek.

In hoofstuk 5 spreek Amos Israel se leë, formalistiese en vals godsdiens aan. In die gedeelte onder ons vergrootglas werk die profeet met dit waarvoor Berseba staan, naamlik die teenwoordigheid van God.

            Ons lees in Gen 21:22-34; 26:23-24; 46:1-4 dat Jahweh belowe dat Hy onderskeidelik met Abraham, Isak en Jakob sal wees. Die volk Israel het in Amos se tyd eenvoudig aanvaar dat God netso in hulle midde is (14). Daarom het hulle uitgesien na die "Dag van die Here" (18). Dit, het hulle geglo, sal die dag wees waarin die Here Homself op 'n heerlike wyse in hulle midde sal openbaar.

            Dit herinner ons onmiddellik aan een van die belangrikste vrae wat mens kan vra: "Sal ek vrede met Hom hê as Hy die dag in heerlikheid verskyn?" Verantwoordelike mense maak erns met die vraag. Israel was egter hieroor glad nie bekommerd nie. As Jahweh die dag kom, sal al hulle ellende verby wees, glo hulle. En hulle sal vir ewig in Sy lig lewe, maak hulle hulself wys.

Amos se profesie: die dag van die Here

Kennelik deel Amos nie hulle optimisme en verwagting nie. Hy besef dat mense nie met die Here kan wandel as hulle Hom nie in Sy majesteit, almag en heiligheid ken nie.

            Drie maal na mekaar stapel die profeet Godsname op. So wil hy dit duidelik vir die volk stel dat hulle met die heilige en allerhoogste te doen het. In v.14&15 sê hy na mekaar: Jahweh, Elohim Sebaoth: "Jahweh, God van die leërskare". En in v.16 stel hy dit nog sterker: Jahweh, Elohim Sebaoth Adonai: "Jahweh, God van die leërskare, die Here."

            Nee, sê Amos, julle maak die grootste fout van julle lewens. Hy is allermins in julle midde. Dan gee hy vir Israel 'n boodskap van hierdie God (16-20).

            +          Eerstens, wanneer Hy gaan kom, gaan Hy kom om hulle te straf.

            Dit sal 'n dag van weeklaag en wanhoop wees (16-17). Op die strate en pleine sal hulle weeklaag  -  ook die wingerdboere van die platteland en die treursangers.

            +          Tweedens sal daar geen ontvlugting wees nie (19).

            Dit sal wees soos 'n man wat hom in 'n leeu vasloop. As hy dan die onmoontlike regkry en die leeu ontduik, sal daar skielik 'n beer voor hom staan. Kry hy dalk, net dalk, weggevlug van die beer ook, en storm hy die huis binne, sal 'n slang hom pik as hy teen die muur leuen om sy asem terug te kry.

            +          Derdens, dit sal waarlik 'n dag van duisternis vir Israel wees (18, 20).

        Niemand sal wegkom nie!

            +          Nee! sê die Here. Op daardie dag, as Hy tussen hulle deurtrek (17), sal Hy nie vriendelik wees nie. Hy sal hulle vyand wees. Daar sal weeklaag wees en duisternis (18b, 20), en niemand sal ontkom nie.

Tog is daar 'n sprankie van hoop

Dis duidelik, Israel bedrieg hulleself as hulle dink hulle wandel met God en dat hulle Hom ken. Hulle het, trouens, nie die vaagste benul wie Hy is nie. Hulle ken Hom nie as Jahweh, as Elohim-Sebaoth, as Adonai nie. Tog sit daar in die gebruik van hierdie Godsname 'n sprankie hoop. Dis baie subtiel, en net die begenadigdes sal dit raaksien.

            In hierdie 7 verse is daar net een wat nie 'n Godsnaam bevat nie (19). Elf maal word 'n Godsnaam gebruik. Adonai (eienaar, soewereine Koning) word een maal gebruik; Elohim Zebaoth (God van die leërskare, Almagtige Skepper)  3x; en Jahweh (God se verbondsnaam) 7x.

            Veral laasgenoemde was uiters kosbaar vir die gelowige Jode. Dit is aan die uitverkore volk as bemoediging gegee júís toe hulle in 'n allerelendige toestand in Egipte verkeer het.

            Nou is dit híérdie Verbondsnaam – wat hier amper twee maal meer as die ander Godsname saam gebruik word – wat die sprankie lig bied.

            Jahweh, hulle almagtige Verbondsgod sal Sy gunsgenote begenadig, deurdra en herstel – hulle wat Hom in verootmoediging ken en dien.

            Maar die vraag bly staan: Wie sal die belofte hoor? Wie sal dit in die geloof vasgryp? Wie sal hulle bekeer?

Soek die goeie

Maar dis veral in v.14-15 wat God die deur van versoening vir die volk oopsluit – maar nie oopmaak nie. Op daardie stadium is Hy nie meer in hulle midde nie. Tóg is daar nog 'n skrale moontlikheid van herstel en vrede tussen hulle. Diep en radikale bekering is egter nodig; hulle moet totaal omdraai. Israel moet begin om dit wat "goed" is te soek; nie dit wat "sleg" is nie. Hulle moet "haat wat sleg is" en "liefhê wat goed is".

            Dán sal die Here Hom oor hulle ontferm. Dán sal hulle aanspraak op Jahweh se Vaderskap eg wees. Dán sal hulle die dag van die Here vreesloos tegemoet kan gaan.

            Maar, helaas, het dit alles behalwe gebeur. Dit sien ons in die latere geskiedenis.

'n Paar betekenisvolle perspektiewe op wat 'n heilige lewe behels

1.         Toewyding aan God en 'n heilige lewe het kant twee kante

 

Positief moet mens "soek wat goed is" en dit "liefhê" (v.14, 15). Negatief moet jy nie dit wat "sleg" is, soek nie; jy moet dit, trouens, "haat" (v.14, 15).

            Hierdie positiewe en negatiewe kante van heiligmaking word regdeur die Skrif aangetref. Sonde is nie net die doen van dit wat God verbied nie; dit is ook die nalating van dit wat Hy gebied. Geregtigheid is om te vlug vir dit wat God verafsku; en om na te jaag waarin Hy 'n behae het (1Tim 6:11).

            Vir God se kinders is hierdie dubbele aard van 'n lewe wat God behaag kardinaal belangrik. Maklik kan mens selftevrede agteroorsit en jouself wysmaak dat jy nie eintlik sonde doen nie. Maar wat van die geregtigheid wat jy moet najaag?

            Elke gelowige wat erns maak met heiligmaking sal weet dat positiewe gehoorsaamheid oor die volle spektrum van mens se lewe, veel moeiliker is as om sonde te vermy. Trouens, niemand haal God se volmaakte standaarde ooit volkome nie.

2.         'n Heilige lewe het te doen met sowel handelinge as emosies (14a, 15a).

"Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie", suggereer 'n handeling. "Haat wat sleg is" en "liefhê wat goed is" sinspeel op emosies, oortuiging en gevoel.

            God se Woord beklemtoon deurgaans dat die uiterlike en die innerlike, die hart en die hand, die opregte voorneme en die daad, ewe belangrik en noodsaaklik is.

            Sekerlik is die normale en logiese: Eers die innerlike, dan die uiterlike. Ons word verander van binne deur die vernuwing van ons denke (Rom 12:2; Spr 4:23). God se wette word op die tafels van ons harte geskryf sodat ons daarvolgens sal leef.

            Tog lyk dit asof Amos die orde hier omkeer.

            Dink mens hieroor na, besef jy dat die profeet se orde hier dikwels net so belangrik is as eersgenoemde. As ons elke keer moet wag vir 'n gevoel, sal daar baie selde iets van gehoorsaamheid en heiligmaking tereg kom. Nee, laat ons doen wat reg en Bybels is – uit oortuiging en in gehoorsaamheid – en gou-gou sal gevoelens en emosies volg.

            En as dit nie volg nie, maak dit ook nie saak nie.

            Laat ons goed verstaan: Die Here verwag van ons om te doen wat reg is, of daar emosies en gevoelens is of nie. Ons moet 'n lewe leef van prinsipiële gehoorsaamheid!

3.         Najaging van God se wil het sowel 'n individueel-persoonlike komponent, as 'n sosiaal-gesamentlike komponent (15b)

 

Om die "reg in die poort te handhaaf" (15) sinspeel op die regspleging in die volkslewe. As hulle daar in integriteit optree, sal hulle goed doen in die oë van die Here.

            Die volk se persoonlike heiligmaking moet dus uitkring na hulle verhoudinge en hulle volkslewe.

            Soos wat God se besondere openbaring deur die jare en eeue gevorder het, was daar onteenseglik 'n verskuiwing vanaf die gesamentlike – die volk – na die individu. Sonder vrees vir teëspraak kan gesê word dat die klem in die Nuwe Testament grootliks val op persoonlike vroomheid en gehoorsaamheid. Die korporatiewe beklemtoning van die Nuwe Testament het feitlik uitsluitlik te doen met die gemeente.

            Tog is die Nuwe Testament nie apaties oor die volkslewe nie. Barmhartigheid moet sekerlik primêr in die gemeente beoefen word, maar meer as een maal word Christene beveel om aan álle mense goed te doen. Terwyl die social gospel hierdie saak

oorbeklemtoon, loop evangeliese Christene gevaar om hierdie dimensie mis te kyk; trouens, dit gebeur waarskynlik baie dikwels.

4.         Die najaging van heiligmaking is nie net 'n manier van lewe nie; dis 'n integrale deel van ons redding

 

Kyk na v.14 (OAV): "Soek wat goed is .... sodat julle kan lewe."

            Laat ons nooit genade as vanselfsprekend aanvaar nie. God het nie net die einddoel (verlossing) verordineer nie, maar ook die middel tot die doel ('n heilige en gehoorsame lewe enduit). As Hy die saligheid skenk, skenk Hy ook alles wat daarheen lei (Latyn: "Sola fides justificat, sed non fides sola est": alleen geloof regverdig, maar nie geloof wat alleen is nie. Of in Engels kan ons dit ook só stel: "If you have it at all, you have it all").

            'n Heilige en gehoorsame lewe red nie, maar daarsonder is daar geen redding nie.

            Waarom nie? Omdat die afwesigheid daarvan bewys is dat die wedergeboorte nooit plaasgevind het nie. Want die wedergeboorte grafeer God se wette en wil op die tafels van my hart, en Bybels is my hart die sentrum van my persoonlikheid en die setel van al my begeertes.

            Dikwels hoor mens mense sê: "Die Here moet eers vir my iets doen, dan sal ek ...". Soms, net soms is so 'n benadering in orde, maar dikwels misbruik mense dit as verskoning om iets wat 'n onmiskenbare Bybelse opdrag is, na te laat. God het immers kláár gepraat.

Slot

Kan jy sien, as mens werklik erns maak met Bybelse waarheid, is dit nie moeilik om vas te stel of jy waarlik wedergebore en regtig gered is nie. Maar natuurlik, dan moet jy die  waarheid, soos ons pas weer daarna gekyk het, absoluut eerlik verdiskonteer en jouself met vlymskerp eerlikheid en nugterheid daaraan meet.

            En as jy die toets dop? Jesus Christus roep steeds in absolute opregtheid: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is ...". (Matt 11:25-30).

            As jy reeds 'n Christen is, is twee kwalifikasies egter van die allergrootste belang:

            Een, ons praat nie van iets wat eenmaal in 'n leeftyd moet gebeur nie. Nee, só gereeld moet jy jouself toets dat dit amper tweede natuur word.

            Twee, ek moet nie só met sonde besig raak dat dit my oë van Christus afhaal nie. Ek moenie my blydskap verloor nie; trouens, so 'n toets moet altyd weer eindig met 'n verlustiging in Christus se middelaarswerk. Dit moet my as 't ware in algehele afhanklikheid steeds dieper in Sy liefde laat inkruip.

Mag die Here ons almal hiermee help

Onthou, ons praat nie van 'n onbelangrike saak nie

Inteendeel.

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev