Preekopname: https://tinyurl.com/tcbf42kr
Amos skets in hoofstuk 5 'n volk wat sê dat hulle aan die Here behoort. Maar niks in hulle lewens bevestig hulle aanspraak nie.
Die profeet bou sy aanklagte rondom dit waarvoor Bet-El en Berseba en Gilgal staan, en toon dan dat Israel hopeloos misluk in hulle aanbiddingsroeping. Ons het reeds na Bet-El en Berseba gekyk. Nou kyk ons hier in v.21-27 na Gilgal – die plek wat staan vir erfenis, besitname en verowering.
Godsdienstigheid – ad nauseam
Die volk was baie godsdienstig en elke jaar was daar 'n hele paar godsdienstige feeste. Vers 21 praat van feeste en feestye; vers 22 van brandoffers, spysoffers en dankoffers; en vers 23 van liedere begelei met harpe.
Mens kan as 't ware die musiek hoor! Maar nie Jahweh nie. Vir Hom is dit net 'n geraas, 'n rumoer. Trouens, daar is beswaarlik verse in die Bybel waaruit daar meer afsku drup – Goddelike afsku. Vers 21 praat van "haat", "verafsku" en "geen welgevalle". Vers 22 praat twee keer van "geen welgevalle". En in vers 23 sê die Here "Gee pad voor My met die rumoer van jou gesing; Ek wil nie jou harpmusiek hoor nie!"
Let daarop dat die volk se godsdiens veel van hulle geverg het. Hulle was pligsgetrou, ten spyte van die uitgawes wat dit meegebring het. Die offerdiere en reise moes 'n fortuin gekos het. En moenie dink hulle was halfhartig nie; nee, dit alles was vir hulle baie belangrik!
Maar vir Jahweh het dit egter nie bereik nie; in elk geval het dit Hom geensins aangestaan nie. Daarom was hulle godsdiens tevergeefs. Dit was soos Kain se godsdiens (Gen 4:3-7).
Hoewel Israel se situasie dus skokkend was, was dit nie uniek nie. Van die vroegste tye af tot vandag toe, was daar tragies baie sulke godsdiens – indrukwekkende vroomheid wat op die oog af na die ware Jakob lyk, maar wat tevergeefs is, omdat dit nie by God se troon uitkom nie. Ons praat nie van die valse godsdienste nie, maar van godsdiens wat daarin roem dat die God van die Bybel aanbid word; trouens, wat daarop aandring dat Hy in absolute regsinnigheid aanbid word.
Wat Israel se sonde des te erger gemaak het as die nasies s'n, is die feit dat hulle die godsvolk was. Hulle het al 'n klomp openbaring van Hom ontvang, en hoe dikwels het hulle nie Sy goedheid, beskerming en versorging aan eie lyf gevoel nie.
Israel se mislukking
Vers 24 begin met "maar". Hier het ons die leidraad tot die raaisel. Hier kan ons verwag om die vermiste skakel te vind.
Die woord "rol" (OAV) in v.24 is afgelei van dieselfde Hebreeuse stam as Gilgal (Heb galal). As mens na Jos 5:9, waar dieselfde woord gebruik word, in verskillende vertalings kyk, raak die betekenis daarvan duidelik (miskien is die NIV die duidelikste).
Wat die Here dus vir Israel sê, is: "Ja, julle gaan gereeld en getrou Gilgal toe – die plek wat 'rol' beteken – maar daar is 'n rol wat julle vergeet: die aanrol van reg en geregtigheid."
Hier word dus 'n prentjie van godsdiens geskets wat nêrens kom nie. Nog meer, dis 'n godsdiens wat elke keer by Gilgal agtergelaat word. Daarom stink dit vir Jahweh! Dis wat v.21b se "geen welgevalle" suggereer (NIV: "I cannot stand your assemblies"). Wat is die reg en geregtigheid wat Israel nalaat? In 5:7 lees ons dat hulle dit nalaat en verag en vertrap.
Die "reg" het te doen met 'n mens se gedrag teenoor jou medemens. En die "geregtigheid" het te doen met daardie norme wat God opgerig het. Dit het m.a.w. te doen met dit wat reg is in God se oë. Kyk mens na Amos 6:12b sien jy dat "reg" die vrug of uitvloeisel van "geregtigheid" is.
Wat het hulle dus nagelaat? Morele optrede, oftewel gehoorsame uitlewing van God se voorskrifte.
Jeremia 7:9-11 (NAV) beskryf hierdie soort godsdiens. Die Here beskuldig die volk dat hulle van Sy huis 'n rowerspelonk maak. Dit het vir hulle 'n plek geword waar hulle as 'n klomp misdadigers wegkruip. Dis uiterste huigelagtigheid!
Nee, wat die Here by hulle soek, is die teenoorgestelde (v.24). Die beelde wat Hy gebruik, spreek van oorvloed ("golwe"), en onafgebrokenheid ('n "standhoudende stroom").
Godsdiens wat dus nie uitmond in oorvloedige en standhoudende gehoorsaamheid aan God se Wet nie (en dit sluit beslis die tweede tafel van die wet in), is betekenisloos, tevergeefs en futiel.
Dit val in v.22 op dat enige verwysing na skuldoffers en sondoffers afwesig is. Die volk se probleem is dat hulle God en hulleself nie regtig ken nie. Hulle ken nie Sy heiligheid, en hulle eie sondigheid nie. Dit maak die ander offers nie net tevergeefs nie, maar ook huigelagtige gruwels. Waarom? Die brandoffer het gestaan vir totale oorgawe aan die Here, en die spysoffer vir gemeenskap met God – en hoe kan hierdie dinge waar wees sonder diepgaande bekering en sondebelydenis?
Hulle godsdiens was dus nie net sonder uitlewing nie, maar selektief, willekeurig.
Sinkretisme en wegvoering (v.25 & 27)
Israel se godsdiens was voorts 'n uittarting van God. Dit was deurspek van sinkretisme. Dis was vermeng met afgodery.
Daarom vergelyk die profeet hulle huidige godsdiens met díé tydens die uittog. Toe het hulle ook hulle offerdiens vermeng met afgodery. Toe ook het hulle nie geoffer soos hulle moes nie. Sinkretistiese godsdiens was dus nie vir hulle 'n nuwe ding nie. En nou is hulle weer daarmee besig. Sikkut en Kijun (v.26) was Assiriese afgode. Op een of ander manier het hulle te doen gehad met die sterre en die planete.
Lank voordat hulle stede dus deur Assiriese soldate beset sou word, was die Assiriese gode al in hulle harte!
Maar nou het Jahweh se geduld opgeraak met hulle. Daarom gaan hulle weggevoer word in ballingskap. Waarheen? Al wat hier gesê word, is dat dit ver verby Damaskus sal wees. Hosea sou die eerste profeet wees wat Assirië by die naam sou noem (Hos 9:3; 10:6; 11:15).
Enkele punte van toepassing
1. Israel was vir baie jare ontrou aan die Here voordat dit so erg geraak het dat Hy hulle in ballingskap laat wegvoer het. Voor die tyd het die volk seker gedink – die wat hoegenaamd daaroor gedink het – dat Jahweh óf nie bewus was van hulle kat-in-die-donker-knypery nie, óf, as Hy wel daarvan geweet het, Hy dit nie eintlik teen hulle gehou het nie. En só het hulle sekerlik hulleself wysgemaak dat hulle oortredings nie té ernstig kan wees nie.
Maar so duidelik soos daglig is dit dat dit Hom wel geweldig vertoorn het – tot so 'n mate dat hierdie tien stamme, toe dit nie langer so kon voortduur nie, 'n verskriklike prys daarvoor moes betaal.
Wat Israel se sonde des te erger gemaak het, was dat Jahweh baie vroeër reeds Sy profete na die volk toe gestuur het om hulle te waarsku en tot bekering op te roep. Maar hieraan het die volk soos klokslag hulle bloedweinig gesteur.
Laat ons maar goed onthou dat God nie verander het nie! Is daar dalk sonde in jou lewe waarvan jy balhorig weier om jou te bekeer. Laat hierdie stuk geskiedenis vir jou 'n waarskuwing wees.
Moenie met bekering wag totdat dit te laat is nie.
2. HIerdie gedeelte stel nog 'n vraag aan ons almal: Is reg en geregtigheid die oorvloedige en standhoudende uitvloeisel van ons godsdiens en dissipelskap? Indien nie, is al ons religieuse inspanning futiel. Ons godsdiensbeoefening is in so 'n geval nie net tevergeefs nie; dis hemelskreiende huigelagtigheid.
Laat ons onsself onverwyld bekeer van enige selfbedrog.
3. Vergelyk Israel se godsdiens met die Here Jesus se lewe en lering.
As mens aan die skrifgeleerdes en Fariseërs dink, is een van die eerste dinge wat by jou opkom, hulle huigelagtigheid. Vir die pawiljoene het hulle heeldag gespeel. En teen watter sonde het Jesus Hom meer dikwels en skerper uitgespreek (vgl. Matt 23)?
Daarenteen, neem mens die Here Jesus se lewe onder die loep, sien jy 'n volmaakte en gebalanseerde uitdrukking van reg (sy horisointale menseverhoudinge) en geregtigheid (sy vertikale verhouding met Sy hemelse Vader). En wat Sy uitlewing daarvan betref, het mens nooit 'n enkele vraagteken in jou gemoed oor Sy opregtheid en integriteit nie. Nooit was daar enige sprake van huigelagtigtheid nie.
Baie duidelik roep God se Woord ons op om Hom hierin na te volg so goed ons kan. En tot die mate wat mens daarin slaag, tot daardie mate lewe jy soos God wil.
In 'n sin is mens hier by die hart van wat 'n heilige lewe behels.
4. Dink mens verder oor Christus se lewe, kom staan Sy geregtigheid – Sy onkreukbare gehoorsaamheid in alles aan Sy hemelse Vader – onmiddellik voor jou. Selfs Sy oorgawe om die kruisdood te sterf, was ten díépste nie ter wille van geliefde sondaars nie. Dit was in die eerste instansie gehoorsaamheid aan Sy hemelse Vader, om sy geregtigheid te bevredig. Dit was immers 'n absolute voorvereiste vir die redding van sondaars.
In Sy lewe sien ons dus Godgesentreerdheid en diensbaarheid onskeibaar verweef. En hierin moet ons Hom navolg. Só lyk 'n lewe van geregtigheid.
5. Dit waaroor ons in hierdie toepassings praat, is die essensie van Godgesentreerdheid. En laat ons goed besef, dis nie iets wat opsioneel is nie. Dis nie maar bloot 'n bepaalde teologiese beskouing nie. Dis die hart van die Christelike lewe!
Dit gaan oor Hóm – Sý plan, Sý eer!
En ter wille van Hóm, gee ek myself dan vir my naaste, by uitnemendheid vir my broers en susters. Só, meer as op enige ander manier, volg ek in Sy voetspore. En só sal ek die evangelie versier en ongelowiges laat verstaan dat die outentieke Christelike geloof radikaal verskil van die godsdienste van hierdie wêreld (met alle hulle haat en jaloesie en wettisisme – en veral hulle vertroue op eie werke).
As ons hierdie dinge begryp
sal ons verstaan dat ware Christene se goeie werke
wesentlik verskil
van selfs die beste goeie werke van hierdie wêreld se godsdienstiges en ordentlikes
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev