Preekopname: https://tinyurl.com/4p36w3px
Hoofstuk 6 bring ons aan die einde van die tweede deel van die profesie. In die voorafgaande verse het ons gesien hoe die profeet met meedoënlose eerlikheid die volkslewe van Israel dissekteer – veral hulle persoonlike, maatskaplike en godsdienstige lewe. Deurgaans gaan dit oor selfbevrediging, selfverheffing en selfbevordering. Hiermee is Jahweh se geduld nou op, en verskriklike oordele oor die volk is nou onafwendbaar.
Maar niks het die Here soveel aanstoot gegee, as die volk se selfsugtige en selfvoldane godsdiensbeoefening nie. Ja, hulle was baie godsdienstig, maar dit was bloot vertonerigheid en selfbluf. Dit het immers geen effek op hulle daaglikse lewe gehad nie.
Daar was geen bewoënheid oor die lot van die armes en die swakkes en die ellendiges nie. Inteendeel, waar moontlik is hulle uitgebuit. Hulle wou Jahweh kamtig dien, maar het hulle bloedweinig gesteur aan die tweede tafel van die Wet.
Sou 'n gemeente vandag so ywerig en godsdienstig wees, sal niemand jou glo as jy sê hulle slaan die bal mis nie. Wat was dan fout?
Al is jy opreg, maar dien 'n denkbeeldige God op jou eie manier, is dit minder as niks werd nie. Nooit kan opregtheid kompenseer vir 'n skewe Godsbeskouing nie. Mens kan baie opreg wees, maar totaal verkeerd.
En, ja, hulle seremonies was grootliks volgens die Here se voorskrifte, maar vir hulle was die seremonies 'n doel op sigself. Solank jy net die letter van die voorskrif volg, is alles in orde, het hulle geredeneer. Maar hulle het vergeet: regsinnigheid, en liturgiese korrektheid – selfs nie opregtheid nie - kan nooit kompenseer vir die afwesigheid van hartsbetrokkenheid en moraliteit en liefde nie.
Hier in h.6 kom ons uiteindelik by die klimaks van die Here se diagnose van die volk se sonde, asook by Sy oordeelsaankondiging. En terselfdertyd word weer beklemtoon dat dwaling nie 'n geringe saak is nie – dit het ewigheidsimplikasies.
Gegronde vergelding
# Verse 7-8 is die sentrum van die hoofstuk. Verse 1-6 beskryf Israel se huidige staat van selftevrede welvaart. En v.9-14 die tragiese ellende wat oor hulle gaan kom.
'n Sekere simmetrie rondom hierdie sentrum kan in die hoofstuk bespeur word.
Vers1 beskryf Israel se sorgelose en selftevrede toestand en v.14 hulle uiterste ellende wanneer die Here 'n volk gaan oprig om oor hulle te heers.
Vers 2-3 beskryf hulle huidige politieke hooghartigheid; v.11&13 die vernedering en vewoesting wat op hulle wag.
Niks gee die Here meer aanstoot nie as die uitspattige weelde wat die rykes hulleself veroorloof (4-6). Maar daar wag op hulle groot ellende (9-10).
# Dis wat uiteindelik gebeur met mense wat net vir hulleself leef – veral godsdienstiges vir wie dit veral oor selfbevrediging gaan. Waarlik, 'n "prosperity gospel" is nie maar 'n ongelukkige mistasting van God se wil nie; dis 'n fatale dwaling!
# Soos gesê, is v.7-8 die hart van die hoofstuk.
+ Lees mens v.1-7 in die oorspronklike taal, sien jy dat Amos presies dieselfde woord in 3 verse gebruik (verskillend vertaal in Afrikaans: v.1: "die eerste onder die nasies"; v.6: "die beste soorte olie"; v.7: "op die voorpunt van die ballinge". Hierop kom dit neer: Julle het julleself as die voorste nasie geag. Net die beste olies was goed genoeg vir julle. Goed dan, julle ballingskap sal ook uniek wees. Julle wil eksklusief wees – julle sal dit ook in julle ellende wees! 'n Ballingskap gaan verby, maar nie júlle s'n nie!
+ Nou verstaan mens ook v.8: Israel se eintlike probleem – onderliggend aan al die ander – is hulle selfvoldaanheid, trots en selfverheffing.
Niks vertoorn God soos trots nie. Selfaanbidding is die ergste vorm van afgodery. Dis 'n geringskatting van God, en 'n vergoddeliking van die skepsel – trouens, van die self.
+ Daarom sweer God by Homself (8): Hiermee sal Israel nie wegkom nie! Die nasie sal oorgelewer word aan die Assiriers. Israel sal vernietig word!
Hierdie was geen leë dreigement nie. As God by Homself sweer, plaas Hy alles waarvoor Sy Name staan op die spel. En inderdaad word die Godsname in v.8 opgestapel. Dis Adonai Jahweh wat by Homself sweer – die soewereine Verbondsgod. Dis Jahweh Elohim Sebaoth wat praat, die Verbondsgod wat meteen ook die almagtige en soewereine Skepper en Eienaar van almal en alles is.
Verbysterend dat Israel die arrogansie het om homself voor só 'n God te verhef. Maar hiervoor sal hulle die hoogste tol betaal. Van wegkom met hulle sonde, is daar nie die minste sprake nie!
Wat sê dit alles vir ons?
1. As die Here gesag aan jou toevertrou, vermenigvuldig dit jou verantwoordelikheid
# In die eerste instansie word hierdie skrikwekkende hoofstuk tot die leiers van Israel gerig: "die vername mense ... op wie ... die koningshuis van Israel hom verlaat" (6:1). Dis hulle wat die toon aangee. Die res is maar skape wat volg – in hierdie geval op die pad van trots.
Gee die Here vir jou gesag, gee Hy ander mense se lewens in jou hand. En jy raak ook vir hulle verantwoordelik – of jy nou 'n politieke leier is, of 'n ouer, of 'n voorganger in 'n gemeente. Nooit staan gesagsdraers alleen nie; hulle hou ook ander regop. En nooit val hulle alleen nie, hulle trek ook ander saam met hulle die dieptes in!
Kyk hoe stel Amos dit: "Van die groot huis word 'n puinhoop gemaak, en van die klein huisie splinters" (11, OAV).
# Laat ons dus deeglik rekening hou met ons verantwoordelikhede! Niemand staan alleen nie; niemand val alleen nie. Bou die leiding wat ek gee en die voorbeeld wat ek stel, ander op – of ondermyn dit? Die beginsel van Heb 13:17 geld nie net vir gemeentevoorgangers nie, maar ook vir almal wat een of ander vorm van gesag het: "Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee ..."
2. Dit is noodsaaklik om ons prioriteite altyd weer te toets aan God se standaarde in Sy Woord
# Israel was baie ingenome met hulle gewaande militêre prestasies. Maar was hulle oorwinnings oor Lo-Dabar en Karnajim (13, NAV) iets wat wonders? Dit was verspotte vertonerigheid om naïewe mense wat nie van beter geweet het nie te beïndruk – soos 'n derderangse landjie wat spog met 'n verbyvlug van Tweede-Wêreldoorlogse vliegtuie.
Selfs al sou hulle die onmoontlike regkry – om die see met osse te ploeg (12 NAV) – sou dit enigsins bydrae tot dit wat regtig saak maak? Hier sien ons 'n volk wie se waardestelsel heeltemal verwring het; 'n nasie wat homself met beuselagtighede besig hou en glo dis waarop dit aankom. Maar dit wat regtig saak maak, verwaarloos hulle totaal.
# Is dit nie een van die groot probleme in die kerk deur die eeue nie – om homself besig te hou met allerlei aktiwiteite wat nog kant nog wal raak? Of dit nou liturgiese vertonerigheid is, of die opgaan in institusionele grootdoenerigheid, of dit bloot koesister-bakkery is – of wat ook al. Natuurlik sê mens nie dat al hierdie dinge sonder meer verkeerd is nie. Maar as dit die een en al van mens se godsdiens is, is die een in terme van God se eer en ewigheidswaardes so futiel soos die ander. God het dit nooit beveel nie, en dit beïndruk Hom nog minder.
# Laat ons dus altyd weer na ons prioriteite en aktiwiteite kyk deur die vergrootglas van die Woord. Is ons régtig besig met dit wat God voorskryf? Hoe word ons gawes, tyd, energie en geld aangewend?
3. Die welstand van my medemens moet voorrang geniet bo my eie gemak
# Natuurlik mag ons onsself nie só verwaarloos dat mens se eie lewe die Here in oneer bring nie. Dan beteken ek in elk geval niks vir ander nie. Maar daar is iets soos 'n selfbeheptheid wat my heeltemal verblind vir die nood van diegene om my. Kyk hoe stel Amos dit in v.6: "julle drink wyn uit offerkomme en salf julle met uitsoekolie, maar oor die vernietiging van Josef bekommer julle julle nie."
# Hier gaan dit oor die welsyn en voordeel van die huisgenote van die geloof – my broers en susters in die Here. Want dis hoe die lyne van die Ou Testament primêr in die Nuwe Testament inloop.
4. 'n Grootste gevaar wat ons bedreig, is selfvoldane gearriveerdheid
# Trots verblind 'n mens. Jy kan deurtrek wees van ontbindingskieme, sonder om dit agter te kom. Israel was oortuig hulle beleef hulle oomblik van hoogste glorie. Maar die gerammel van naderende Assiriese strydwaens kon hulle nie hoor nie!
# Laat ons as gemeente dus geen ruimte maak vir geestelike hoogmoed nie. Ja, ons het oortuigings – waarby ons sal staan en val. Maar onthou wat het ons in hierdie hoofstuk gesien. Opregtheid, korrektheid en regsinnigheid waarborg op sigself niks nie – kardinaal belangrik soos dit is. Die vraag is en bly of ons dit wat ons bely elke dag uitleef?
Onthou, ons moet voor die Here gaan verskyn. En onthou wat Hy as maatstaf gaan aanlê. Die gelykenis van die skape en bokke (Matt 25:35-36; 42-43) stuur koue rillings langs mens se ruggraat af! Luister maar weer daarna: "want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk en julle het My besoek." Maar vir die aan Sy linkerkant sal Hy sê: "Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, want Ek was honger en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; Ek was 'n vreemdeling en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere en julle het My nie klere gegee nie, siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie."
# Waarom is dit die maatstaf wat die Here sal aanlê? Omdat 'n lewe van diensbaarheid en liefde – agape-liefde – meer as enigiets anders die onomstootlike bewys van reddende genade in 'n persoon se lewe is. En die teenwoordigheid daarvan, al dan nie, is onmiskenbaar duidelik.
# Moenie nalaat om jouself gereeld hieraan te meet nie.
Slaag jy die toets? Is jy seker? Onthou, as daar iets is wat die Here net soveel soos liefdeloosheid vertoorn, dan is dit Fariseïstiese huigelagtigheid! Is jy seker, baie seker?
Dop jy die toets? Hoe dan gemaak? Wat staan 'n mens te doen? Die Bybelse antwoord is belydenis, verootmoediging en bekering. Pleit om vergiffenisgenade en bekeer jou. Hoe bekeer mens jou in hierdie geval? Kry 'n hart vir verlorenes en ellendiges en armes. En waar kry ek so 'n hart? Net die Here kan dit vir mens gee. Moet ek dus net sit en wag? Allermins! Begin bid én doen. Die dóén sal die bewys wees dat jou gebed opreg is. Spoedig sal die Here dan vir jou die begeerte van jou hart gee!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev