PDF WEERGAWE

Preekopname:    https://tinyurl.com/458552nw

Ons het laas oorsigtelik na die twee seuns in hierdie gelykenis gekyk, asook na hulle pa. Ons het gesê die pa is kennelik verteenwoordigend van ons hemelse Vader. En toe het ons 'n bietjie meer na Sy liefde gekyk. 

            Kom ons kyk nou na die jongste seun – die swartskaap – se wedervaringe. 

Vanwaar sulke bedorwenheid?  

Dis mode vandag om kinders se gedrag toe te skryf aan hulle opvoeding. Veral as 'n kind sleg uitdraai, verwyt ouers hulleself wroegend oor al die foute wat hulle tydens sy of haar grootwordjare gemaak het. 

            Natuurlik speel ouerlike opvoeding 'n groot rol in die vorming van 'n kind se waardestelsel en lewens-en-wêreldbeskouing. Maar laat ons nie die fout maak om te dink dat kinders primêr sondig omdat hulle swak opgevoed is nie. Nee, nee, hulle sondig ten diepste omdat hulle sondaars is! In Engels gestel: "We are not victims, we are villains!"

     Daar is geen noodwendige en absolute verband tussen ouers se opvoeding en kinders se gedrag nie. Kyk net hoe kan broers en susters wat presies dieselfde opvoeding gekry het, in hulle volwasse jare van mekaar verskil. 

            Daar is 'n enorme verskil tussen die stellings, "Ons is sondaars omdat ons sondig" en "Ons sondig omdat ons sondaars is"

            Die mens se grootste probleem is die erfsonde. Hy word as 'n sondaar met 'n sondige natuur gebore. Dis ten diepste waarom hy sondig. Presies dít was ook die swartskaap se probleem.

Die swartskaap se verval nader bekyk 

Soos feitlik altyd in die lewe, vind die jongste seun se agteruitgang stapsgewyse plaas. 

#          In die verhaal begin alles as hy vir sy pa sê, "Gee my" (v.12). 

            Dis waarskynlik nie 'n impulsiewe versoek nie. Sy begeerte om sy eie ding te doen, kom sekerlik al 'n hele ent. 

            Dis natuurlik en reg vir 'n jongman om sy eie potjie te wil krap, maar duidelik is hier  iets meer aan die gang. Hy wil finaal klaar kry met sy pa en sy ouerhuis se waardes. Hy het genoeg gehad van vroomheid en ordentlikheid. Hy wil die wêreld en die lewe leer ken!   So was dit natuurlik ook met die eerste mens. Hy wou onafhanklik wees van God. Hy  wou goed en kwaad self leer ken. En hy sou self daaroor besluit. Hier is ons by die wortel van die mens se sonde. Die sondeval was 'n UDI, 'n eensydige onafhanklikheidsverklaring. 

#          Hy het "weggereis na 'n ver land" (v.13) – so ver as moontlik. Hy wil sy vlerke sprei.  Met die avontuurlus van die jeug wat in sy are pols, wil hy alles ervaar wat hierdie lewe te bied het. 

            As iemand nie sin in die Here en Sy koninkryk ervaar nie, bly daar net die dinge van hierdie wêreld oor om lewensbetekenis te probeer vind. Tot die mate wat jou avontuurlus en ondernemingsgees jou toelaat, sal jy elke stukkie opwinding uitprobeer. Of kom ons sê dit soos dit regtig is: tot die mate wat jy smag na 'n betekenisvolle lewe, tot daardie mate sal jy oor land en see reis om dit te vind. Geen denkende mens kan sonder bestaansin leef nie. 

#           Hy het "sy geld verkwis deur losbandig te lewe"(v.13). 

            In die ver land aangekom, lei een ding tot 'n ander. Sonde is gulsig! 

            Die jongman beland tipies in 'n tuimelgang. Hy verval sedelik al hoe dieper. En daarmee saam versleg sy omstandighede. So 'n proses kan natuurlik ook opwaarts wees. Maar dis ewe gevaarlik. Hoewel ons dit dikwels miskyk, kan die najaging van aansien, en mag en sukses en rykdom in ewigheidsterme net so vernietigend wees soos 'n lewe van kru sondes. 

            Niemand is so blind vir sulke gevaarlike ontaardings in 'n mens se lewe soos jyself nie. As ons tog maar meer objektiwiteit kon hê wanneer ons na ons eie lewens kyk. Niemand wil homself immers vernietig nie. Sekerlik sou ons vriend nie wou beland waar hy uiteindelik geeindig het nie. 

            En moenie dink dat God niks te doen het met die swartskaap se verval nie. Sê Rom 1 nie drie keer nie dat Hy mense wat weier om hulle te bekeer, aan hulle sonde oorgee? Wie nie wil hoor nie, moet voel. Dis dikwels die enigste manier om 'n les te leer. 

#           Hy het "alles deurgebring" (v.14). 

            So gaan dit mos: 'n lewe van losbandigheid en sonde trek jou kaal uit. Ongedissiplineerdheid en vergrype eis spoedig 'n verskriklike tol. Om welke rede ook al loop armoede en dekadensie dikwels hand aan hand 

            Waarlik, God se gebooie en ordes moet nie ligtelik opgeneem word nie. Maak erns daarmee, en dit lei jou op 'n pad van seën. Minag dit, en jy vernietig jouself. 

            +          Maar dis nie al wat ons hier moet sê nie. As iemand sy eie goed uitmors, is dit een saak. Maar as mens 'n ander s'n deurtrek, is dit krimineel. En dis presies wat hierdie jongman doen. Want sy pa leef nog – en eintlik is die besittings wat hy so deurbring nog sy pa s'n. 

            Dis presies wat die gevalle mens doen. Hy maak of alles syne is; nog erger, hy mors daarmee. Maar eintlik behoort alles aan ons Skeppergod. Ons is bloot rentmeesters – wat ons roeping met groot erns, ywer en respek moet uitleef. 

            Maar of ons dit wil weet of nie, verantwoording sal ons eendag aan die Groot Eienaar doen! 

#          Toe begin hy "gebrek lei".

            Ontnugtering neem nou die plek in van opwinding. Sy vriende verdamp. Dit wat hy gedink het is liefde, blyk nou net wellus te wees. Die good life het ás in sy mond geword. En om alles te kroon, begin hy honger lei. 

            Uiteindelik word hy 'n varkoppasser. En al wat hy het om te eet, is varkkos. 

            +          Iemand wat sy rug op God draai, leef nie net sonder God nie, hy leef ook sonder hoop. En wat is erger as om geen hoop te hê nie? Uitsigloos! Geen verwagting! Sonder God is die lewe 'n uitmergelende geworstel om so lank as moontlik uit te hou, want die wurms wag. Dis soos 'n popliedjie 'n paar dekades terug gesing het: "I am so tired of living, but so terribly afraid of dying!" Min ongelowiges waag dit om té diep te dink, maar as hulle dan tog die moed het om realiteite in die gesig te staar, kan hulle tot geen ander gevolgtrekking kom nie as die ateïstiese filosoof (was dit Camus?): "die lewe is absurd – 'n siek grap!"

Die sonde en sy effekte 

#          Sonde het sy plesiere, sy opwinding, sy kompensasies. Dis gewis so. Die probleem is net dat dit nie hou nie. 

            Een van die kenmerke van 'n lewe sonder God, is sy rusteloosheid. Waarom? Dis omdat wêreldse genot baie selde standhoudend is. En as een beheptheid vaal en vervelig raak, moet jy 'n volgende een kry om jou aandag in beslag te neem. Want dink durf jy nie.   Die mens kan nooit volle en finale bevrediging uit sonde put nie. Hy is nie 'n dier nie. Hy is nie net liggaam nie, hy het ook 'n siel. Hy is na die beeld van God geskape – vir gemeenskap met God. Hy is dus geskape om sy hoogste vervulling in 'n ander dimensie te vind as bloot die liggaamlike. 

            As daar één les is wat ons in hierdie lewe moet leer, dan is dit dat mens blywende vervulling net in ons hemelse Vader se huis kan vind. Daarom is die man of vrou wat die rug op Christus draai, gedoem tot 'n lewe van sinloosheid. Dit is immers net in Christus dat ons met God versoen kan raak. 

#          Nie alleen is 'n lewe sonder God nie in staat om 'n mens te vervul nie. Erger, dit droog jou siel uit. Dis soos Deut 8:3 sê: die mens leef nie net van brood nie, "hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom." Sonder híérdie kos verdor jy in jou menswees. 

            +          Dis één rede waarom mense sonder die Here steeds soekende bly. Die ergste dwase onder hulle poog om in nog méér sonde betekenis te vind. Soos rondloperhonde soek hulle kos in die asblikke van hierdie wêreld. 

            +          Die meer edelmoediges probeer op 'n duisend maniere lewensin vind in moraliteit en die sogenaamde verhewe dinge in die lewe. Hulle word groenes, of gaan op in die akademie, of die kunste, of welsynsaksies. En meeste leef vir die welsyn van hulle kinders en kleinkinders. Hulle boedels raak belangriker as die bestemming van hulle siele. 

            +          Maar daar is ook diegene wat wel aan die hiernamaals dink. Dis die  godsdienstiges. Vir hulle is elke goeie werk en elke ritueel nog 'n trappie oppad na God toe.

Om voorraad op te neem, is dikwels 'n lewensredder 

#          Tot nou toe lyk ons vriend na 'n lieplapper. Maar, nee, daar steek tóg iets in hom.

            Hy waag dit om te dink; om sy situasie nugter te beoordeel.  En hy kry spoedig insig. Dan kom hy tot 'n slotsom – en handel daarvolgens. Hy voeg die daad by die woord, en dóén iets aan sy situasie.

            Let op sy nederige gesindheid: "Ek sal opstaan en na my pa gaan en vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie langer werd om u seun genoem te word nie. Behandel my soos een van u dagloners." (v.18-19). 

#          Waarom kan die swartskaap nie op 'n beter plek wees as híér waar die swyne se stank hom wil laat stik nie? Waarom is dit die beste oomblik van sy lewe tot dusver? Dis omdat hy in 'n hoek is. Hy kan nie verder nie. Hy móét nou dink.  

             En soos dit gaan as mens regtig begin dink, bly insig nie lank uit nie: Sy pa; ja, sy pa!  So vasgeloop is hy dat dit ál opsie is wat vir hom oorbly. 

            Dikwels het sy pa immers vir hom vertel hoe lief hy vir hom is – al was hy die swartskaap; al was hy nie so 'n "soetseun" soos sy ouboet nie. Dalk, wie weet, sal sy pa hom vergewe en aanvaar, as hy opreg bely dat hy hom dikwels in die skande gesteek het.  

              

#          Daar is natuurlik talle verlore seuns wat die goeie nuus nie ken nie. Vir hulle vat dit gewoonlik langer voordat die uitkoms opdaag. Iemand moet dit immers vir hulle vertel. En diesulkes is skaars – meeste mense loop maar wye draaie om stink varkhokke.

   En helaas gaan baie verlore seuns in die varkhok dood. Party het wel gehoor dat daar 'n liefdevolle Vader is – maar dit as nonsens afgemaak. 

            Vir verreweg die meeste word dit helaas nooit vertel nie. En waarheen gaan jy, as jy nie weet dat jy die varkhok vir 'n paleis kan verruil nie? 

#          Meeste van ons verstaan presies, nie waar nie – uit ervaring. Ons weet, die pad terug na die Vader toe begin in armoedeland. Want eers dáár besef mens dat jy vasgeloop het; dat jy jouself nie kan help nie; dat jy moet terug na jou pa toe. 

            Is dit nie ironies nie, die lewe in die lig begin in die stikdonkerte van uitsigloosheid! "Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel" (Matt 5:3; NAV). 

             Daar is 'n rede waarom Jesus se bergrede spesifiek met hierdie uitspraak begin!  

#          Kom ons stop eers hier. Volgende keer kyk ons dan, as die Here wil, na ons vriend se reis terug na sy pa toe.  

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev