Preekopname: https://tinyurl.com/29n6ype4
Eks 3:14-15
"Toe sê God vir Moses: "Ek is Wie Ek is."
Hy sê toe ook:
"So moet jy die Israeliete antwoord:
'Ek Is' het my na julle toe gestuur."
God het weer vir Moses gesê:
"So moet jy vir die Israeliete sê,
'Die HERE, die God van julle voorvaders,
die God van Abraham,
die God van Isak,
die God van Jakob,
het my na julle gestuur.'
Dit is my Naam vir altyd;
dit is my gevierde Naam
van geslag tot geslag."
In Bybelse tye moes iemand se naam iets oor hom of haar sê. Jou naam en jou persoon moes hand aan hand loop. Terwyl dit by mense sekerlik nie altyd so uitgewerk het nie, sit daar merkwaardige en uiters betekenisvolle Godsopenbaring in die name waarmee God Homself aan Sy volk bekendstel.
Sy naam dui dus op God self – soos geopenbaar in Sy woorde en dade.
Die Ou Testament is vol verwondering daaroor dat Hy Sy naam aan Israel bekend gemaak het.
Geeneen van hierdie name is Bybels méér belangrik as die vier Hebreeuse konsonante, die sogenaamde tetragram, JHWH, nie.
Afgesien daarvan dat antieke Hebreeus nie klinkers gebruik het nie, het die Israeliete ook uit ontsag nooit die naam uitgespreek nie. Hoewel God sekerlik self dit uitgespreek het, en ten minste Moses die voorreg gehad het om dit te hoor, ken ons nie met sekerheid die uitspraak daarvan nie.
Vir bepaalde redes is daar vroeër aanvaar dat die uitspraak JeHoWaH is. Tog meen die meeste geleerdes vandag dat dit eerder JaHWeH is (in beide gevalle is die kleinletter-klinkers bygevoeg ter wille van die uitspraak).
Die meeste vertalings gebruik klein hoofletters en vertaal met "HERE" om dit te onderskei van ander Godsname wat as "Here" geskryf word.[1]
God se persoonlike naam
Die Ou Testament is van hoek tot kant vol van God se selfopenbaring. Maar 'n hoogtepunt – dalk dié hoogtepunt – vind ons in die openbaring van Sy verbondsnaam in Eksodus 3.
As Moses gestuur word om Israel uit Egipte te lei, vra hy hoe hy vir die mense moet sê wie hom gestuur het. Hierop antwoord God dan: "Ek is Wie Ek is." ... "So moet jy die Israeliete antwoord: 'Ek Is' het my na julle toe gestuur" (Eks 3:14).
Voorts noem God Homself in v.15 "die HERE" (Heb. Jahweh). Jahweh klink baie soos "Ek is" in Hebreeus (v.14). Jahweh is dan bes moontlik die dérde persoon enkelvoud van die werkwoord "om te wees" – Hy is.
Dan moet ons dit só verstaan: As God oor Homself praat, sê Hy, "Ek is", maar as óns van Hom praat as "die HERE", praat ons eintlik van Hom as,"die Hy is".
Wat openbaar God hier oor homself?
Hier is ons by die hart, die essensie van wie en wat God is.
Jahweh, oftewel die HERE, is die enigste ware en Lewende God
Teenoor die klomp denkbeeldige gode van die heidene (1Kor 8:4-6; 10:19-20), is Hy die Een wat ís, die Een wat régtig bestaan.
Jahweh, oftewel die HERE, is die Algenoegsame
Ek is, of Hy is, is van niks of niemand buite Homself afhanklik nie. Hy is onveranderlik. In Homself het Hy alles wat Hy ooit mag nodig hê. Alles, maar alles wat is, het uit Hom ontstaan en is daar ter wille van Hom – in die besonder ter wille van Sy eer. "Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen" (Rom 11:36).
Jahweh, oftewel die HERE, is die Ewige
Hy was van alle ewigheid af daar. Hy het nooit ontstaan nie. Hy is die ewige, ongeskape, en dus onveroorsaakte Skepper of Oorsaak van alles buite Homself. Sonder Hom het niks van hierdie skepping bestaan nie, hetsy stof, of plant, of dier, mens. Onontkombaar logies is dit dat net die feit dat ek of jy hier is, en ons op die aarde woon, is reeds 'n onomstootlike Godsbewys.
Van altyd af, voordat daar tyd of ruimte of energie of materie was, wás Hy "Ek is". Lig en orde en ekwilibrium en lewe het uit Hom voortgekom. Hy het gespreek, en dit was daar – vanuit niks.
Nog meer, die uidrukking kan ook vertaal word, "Ek sal wees wat Ek sal wees". Hy is die ewig-onveranderlike, die ewig-onverganklike. Hy word nie oud nie, Hy verloor nie belangstelling nie. En Hy verbeter nie – want hoe kan volmaaktheid beter word?
Jahweh, oftewel die HERE, is die Heilige
Hy alleen is absoluut en oorspronklik. Alle ander syn het uit Hom voortgekom. Die ganse heelal lê by wyse van spreke in die holte van Sy hand. Hy is volkome uniek. Hy is verhewe bo alles in Sy skepping. Hy is die gansandere. Wesentlik kan niks in Sy skepping met Hom vergelyk word nie. Hy bestaan in dimensies (?) bo die tyd en ruimte waaraan ons so magteloos onderworpe is.
Hieruit volg noodwendig dat Hy heilig is, want heiligheid beteken ten diepste afgeskeidenheid. As sodanig is Hy die ewig-vomaakte. Daarom is Hy die somtotaal van alle morele skoonheid. Wie en wat Hy is, en doen, en beveel, is altyd en onbetwisbaar rég. Hy is die oorspronklike en finale definisie van geregtigheid en moraliteit. Hy is heilig, heilig, heilig!
Vuur is simbool van hierdie heiligheid. Daarom moet Moses sy skoene uittrek – die plek is heilig.
Jahweh, oftewel die HERE, is die Soewereine
Hy het die reg en vermoë om as Skepper en Onderhouer – en dus as onbetwisbare Eienaar – die ganse heelal en al skepsele (in die hemel en op aarde) te regeer net soos Hy wil, sonder enige aanspreeklikheid hoegenaamd aan iemand anders. Hy beskik oor alle wysheid, mag en reg om dit wat Hy besluit het tot in die fynste besonderhede uit te voer. Niks kan Hom stuit, of pla, of verras, of verwyt nie. Hy gaan onverstoorbaar voort.
Niemand kan aan Hom voorskryf nie. Hy is aan niemand enige verskoning of verduideliking verskuldig nie. Hy is die Pottebakker; ons is die klei. En "het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?" (Rom 9:21).
Óf ek aanvaar dit en onderwerp my daaraan, óf ek verset my daarteen – tot my eie ondergang en ewige verdoemenis. So ís dit. Geen mens kan hierdie realiteit ontkom nie! En niemand kan dit verander nie; of ontkom nie. En niemand durf dit kritiseer nie.
Jahweh, oftewel die HERE, is die Almagtige
As Hy dan alles geskape het vanuit niks, het Hy gewis ook die vermoë, en krag, en gesag om enigiets te bewerkstellig en te bereik – wat Hy ook al wil, wat Sy wysheid mag voorskryf, wat Sy liefde mag begeer, en wat Hy in Sy heiligheid mag nodig ag.
Kan ons anders as om af te sluit met gebed!
HERE ONS GOD,
U is die allerhoogste in gesag,
die alleen-heersende Vors van die ganse skepping,
tydloos in U bestaan,
verbysterend vindingryk in U skeppingsvernuf,
volkome alleen-eienaar van alles wat is.
Met eerbied en aanbidding is ons vervul as ons voor U is,
as ons U ontsagwekkende heiligheid bepeins,
U majestieuse grootsheid,
U glinsterende heerlikheid,
U onbeperkte krag en onbetwisbare soewereiniteit.
Ons aanbid U oor U vlekkelose karakter,
U oneindige kennis en wysheid,
U onkreukbare geregtigheid,
onwankelbare getrouheid,
onuitputlike barmhartigheid,
weergalose genade,
maar ook U angswekkende toorn teen alle sonde.
Ons buig ons knieë voor U
en lê ons harte voor U
as ons U verblindende skoonheid bedink,
U steeds-bekorende persoonlikheid,
U onbegryplike sagmoedigheid,
U ondeurgrondelike begrip,
U onpeilbare liefde.
Ons erken dat 'n veel groter begrip van wie en wat U werklik is,
ons grootste nood is.
Ons vra U om in genade ruim in hierdie behoefte te voorsien.
In nederigheid – maar dringend – bid ons:
"Leer ons U weë, sodat ons U mag ken
en guns by U mag hê."
In die Naam van Jesus Christus, ons Middelaar en Verbondshoof, bid ons dit.
Amen, ja, Amen
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Ongelukkig volg die NAV nie hierdie standaardpraktyk nie.