PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/e8yp65wc

 

Eks 3:13-15

#          As dit waarna ons verlede keer gekyk het, ál was om daaroor te sê, sou wat God oor Homself geopenbaar het ons vreesbevange gelaat het. Wat gaan Hy alles met my doen?

            Maar God verseker ons in Sy Woord, trouens baie duidelik ook hier aan Moses, dat Hy nooit Sy soewereine almag bloot onbeheers, impulsief en arbitrêr uitoefen nie.

            Kyk weer goed na Eks 3.

            Hierdie enige, algenoegsame, ewige, heilige, soewereine en almagtige God – "die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob" – is 'n God van verbondstrou!

            Dit is Hý wat die Israeliete se voorvaders geroep, gelei en versorg het. Daarmee begin Hy, en oor en oor beklemtoon Hy dit: Hy is die God van Abraham, Isak en Jakob (2:24; 3:6, 15, 16; 4:5). Dit is Hý wat die beloftes van destyds nou gaan vervul.

            Die naam "Jahweh" (oftewel die "HERE") is God se verbondsnaam!

#          Dit bring die persóónlike kant van Sy karakter na vore – die feit dat Hy 'n behae in verhoudinge het, dat Hy afbuig na die mens toe, dat Hy liefdevol oor Sy dierbares se welsyn waak, dat Hy sorgsaam by hulle betrokke is.

            Let op Sy empatie met Sy volk (v.7-9). Hy is baie bewus van hulle smarte in Egipte.

            +          Tweemaal verwys Hy na die Israeliete as Sy volk (v.7, v.10).

            In v.16 noem Hy Homself die God van hulle vaders.

            En v.15 sluit Hy só af: "Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag."

            Al gee Hy dus nou vir hulle 'n nuwe naam vir Hom, vind daar geen breuk met die verlede plaas nie. Hy was die God van hulle vaders, Hy sal húlle God wees, en Hy sal tot in die verste en ewige toekoms die God van hulle geloofsnageslag wees.

            +          As verbondsnaam is Jahweh Israel se eksklusiewe besit. Nêrens is dit opgeteken dat ander Semitiese volkere dit ooit gebruik het om na húlle gode te verwys nie.

            +          Konsekwente toewyding en volhardende liefdestrou lê aan die hart van God se karakter. Die doringbos het bly brand (3:2-3), só duur Sy ywer vir Sy uitverkorenes voort.

            Oor en oor hoor ons Sy verbondshartstog in die Bybel: "Ek sal vir julle 'n God wees; julle sal vir My 'n volk wees!"

            Sy almag, Sy soewereine handelings en al die werkinge van Sy voorsienigheid, is ter wille van Sy geliefdes.

#          Om op te som: God se soewereine almag word altyd in volle harmonie met Sy ganse Persoon uitgeoefen – in pas met ál Sy ander attribute. Dit word nie bepaal deur omstandighede buite Hom nie, maar volledig deur Homself – deur wie en wat Hy is.

            Weet dus vir seker: Sy almag kom nooit strydig met Sy liefde, heiligheid, wysheid, geregtigheid – of enige ander karaktertrek – tot uitdrukking nie.

            En by uitnemendheid is Hy "Jahweh", Verbondsgod van Sy volk.

Eks 34:6-7

 

#          Dat daar onuitputlike troos sit in God se verbondsnaam, word verder beklemtoon as Moses later op Sinaï pleit om God se heerlikheid te sien (Eks 33:18-34:7).

            God roep dan oor Homself uit: "Die HERE, die HERE (Hb. Jahweh, Jahweh), 'n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar wat beslis niks ongestraf laat nie, wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet, ook die derde en vierde geslag." (34:6-7; 2020).

            Laat ons minstens drie dinge hier raaksien

            +          Een: As die Here God hierdie wonderlike stuk selfopenbaring aan Moses gee, beklemtoon Hy heel eerste sy verbondsnaam: "Jahweh".

            Trouens, Hy herhaal dit om dit des te meer te beklemtoon. Nooit, maar nóóit moes Moses en die volk – en daarom ook óns – dit vergeet nie.

            +          Twee, dit word opgevolg deur een van die wonderlikste beskrywings in die Ou Testament van hoe wyd en hoe diep sy liefdestoewyding aan sy verbondsvolk strek.

                        =          Opvallend is die gebruik van twee kosbare Hebreeuse woorde wat weer en weer in die Ou Testament Jahweh se absolute waarheidsbetroubaarheid en onfeilbare liefdesgetrouheid beklemtoon (Hb. emet en chesed).

            Die 2020 vertaal met "waarheid" en "troue liefde". Die OAV vertaal "goedertierenheid" en "trou", en die NAV: "liefde" en "trou".

            Hoewel die woorde moeilik is om te vertaal, meen ek tog die 2020 vat die betekenis die beste vas.

            +          Drie, uiters belangrik is dit om die amper subtiele, maar onheilspellende waarskuwing waarmee Hy in v.7 afsluit, nie mis te kyk nie: "... maar wat beslis niks ongestraf laat nie, wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet, ook die derde en vierde geslag".

            Hierdie waarskuwing sou vorentoe 'n baie belangrike rol in die verbondsvolk se geskiedenis speel.

#          Oor hierdie waarskuwing twee belangrike opmerkings:

            +          Een: Later in hierdie hoofstuk word verdere lig gewerp op die waarskuwing: "... jy mag nie voor 'n ander God in aanbidding buig nie, omdat die HERE wie se Naam "Besitlik" is (OAV: "jaloers"), 'n besitlike God is" (Eks 34:14).

                        =          Dit eggo wat ons alreeds vroeër in die Tweede Gebod kry (Eks 20:5).

            Ek meen die negatiewe konnotasies van die Hebreeuse woord wat beide die OAV en die 2020 se vertalings dra (onderskeidelik: "jaloerse" en "besitlike") word deur die NAV vermy as dit sê dat Jahweh "onverdeelde trou" vereis.

            Dink só daaraan: Dis die enkelhartige trou wat 'n man en vrou binne die huwelik van mekaar vereis. Hulle is immers in verbond aan mekaar vasgeknoop.

            Verbreking van die Tweede Gebod in afgodery laat dus in God 'n toorn ontvlam wat vergelyk kan word met 'n man se geregverdige verontwaardiging en heilige woede sou hy agterkom dat sy geliefde vrou ontrou aan hom is.

            Soortgelyk is die heilige verontwaardiging van God oor afgodery onder sy verbondsvolk – trouens, oor sonde in die algemeen.

            +          Twee: Die feit dat die volk gewaarsku word dat die gevolge van verbondsontrou geslagte verder nog steeds gestraf sal word, wil nie sê dat Jahweh ook onskuldiges sal straf nie. Dit wil waarsku dat ouers se ontrou feitlik altyd tot gevolg sal hê dat volgende geslagte net dieper en dieper in sonde verval – en dus God se oordele oor hulle sal haal.

            Dit is 'n waarheid wat weer en weer onmiskenbaar in die geskiedenis waargeneem word. Presies dit is tans so duidelik soos daglig in die morele neusduik van die Westerse wêreld – helaas ook hier ter plaatse. Want ontrou en dwalinge het al geslagte gelede begin.

 Wat hierna gevolg het

#          God se belofte van sy barmhartigheid en trou in Eks 34:6-7, het Israel baie goed onthou vorentoe. Máár, sy wáárskuwing – díé het hulle baie gou vergeet!

#          Hierdie geringskatting van Jahweh se waarskuwing het sommer vroeg-vroeg kop uitgesteek – reeds tydens die uittog uit Egipte.

            Luister na 1Kor 10:1-5: "Broers, ek wil nie hê julle moet hieroor onkundig wees nie: Ons voorouers was almal onder die wolk ... almal ... almal ... almal ... almal ... almal (5x!) ... Nogtans het God in die meeste van hulle nie 'n behae gehad nie, want hulle liggame is in die woestyn verstrooi."

#          Verder ken ons die latere geskiedenis van toenemende sonde wat uiteindelik op twee ballingskappe uitgeloop het – vanwaar na dekades maar min teruggekeer het.

#          Ons weet wat gebeur het met die koms van die finale Offerlam – die verstommend-geduldige Verbondsgod se Alleroplossing vir die bevoorregtes aan wie God Homself soveel eeue vantevore as Jahweh geopenbaar het.

            Maar drie jaar nadat die Here Jesus nogeens God se verbondsgenade onvermoeid met woord en daad aan hulle verkondig en aangebied het, het die Ou Testamentiese godsvolk geskreeu: Kruisig Hom, kruisig Hom!

            'n Geslag later is die tempel en Jerusalem vernietig, en Israel onder die nasies verstrooi (70 n.C.).

Wat sê dit vir ons?

1.         Die genadeverbond het 'n ontwikkelingsgang

            1.1       Die Nuwe Verbond word universeel.

            Die Nuwe Verbond word nie net gesluit met enkelinge of 'n volk nie, soos destyds die geval. Na Pinkster word Jahweh se verbondsgerigtheid alle nasies, stamme, volke en tale! Onmiddellik na die uitstorting van die Gees kom mense vanuit talle nasies tot bekering, wat inderdaad ook 'n profetiese vooruitwysing is (Hand 2:5-11; 2:41).

            Vandag is daar min kulture en tale sonder wedergebore mense in hulle midde. En voor die voet ken en dien hulle Jahweh, "die HERE, die HERE"!

            1.2       Die Nuwe Verbond word getalryk.

            Nóú sou nie net 'n klein oorblyfsel begenadig word soos destyds nie. Dermiljoene sou genade ontvang deur die eeue wat na Pinkster sou volg. Ook die ongeëwenaarde drieduisend wat op die Pinksterdag tot bekering kom, was 'n profetiese vooruitwysing (Hand 2:5-11; 2:41).

            1.3       Die Nuwe Verbond bring konsekwente begenadiging tot gehoorsaamheid.

            Tydens die Ou Verbond het God vereis dat steeds gevalle mense óók gehoorsaam aan Hom moes wees. Net die oorblyfsel se harte is immers besny. Maar in die Nuwe Verbond word 'n ieder en 'n elk wat daaraan deel het innerlik bekragtig word om gehoorsaam en getrou aan die Here te bly.

            Só ingrypend is die tweede geboorte dat sulke begenadigdes daarná ervaar dat ou dinge verby gaan en dat alles nuut raak (2Kor 5:17). Terwyl hulle inderdaad steeds hulle verlossing móét uitwerk met vrees en bewing, vind hulle dat die tweede geboorte dit nie net moontlik maak nie, maar dat God proefondervindelik in hulle werk, om nie net te wil nie, maar selfs ook om te werk, soos Hy dit goedvind (Fil 2:12-13).

#          Dit is presies wat Johannes in sy eerste brief leer, as hy skryf dat outentieke wedergeboorte 'n aantal onmiskenbare merktekens het (1Joh 2:29; 3:9; 4:7; 5:1; 5:4). Hy kom dan uiteindelik tot 'n gevolgtrekking in 1Joh 5:13: "Dit het ek aan julle geskryf sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Naam van die Seun van God glo."

#          Só ingrypend anders en ryker sou die nuwe bedeling ná die offer van die finale Lam en die uitstorting van die Heilige Gees word, dat die Skrif nie meer bloot praat van "die Verbond" nie, maar nou 'n onderskeid maak: "die Ou Verbond" en "die Nuwe Verbond".

#          Luister na Heb 8:8-13 (aanhaling van Jer 31:31vv): “Kyk daar kom dae, sê die Here, dat Ek met die huis van Israel en met die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit. Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het op die dag toe Ek hulle met my hand gegryp het om hulle uit Egipte uit te lei nie; want hulle het nie by my verbond gebly nie, en Ek het hulle geïgnoreer, sê die Here. Dit is dan die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee, en op hulle harte sal Ek dit neerskryf. Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Niemand sal meer sy medeburger of sy broer onderrig en sê, ‘Ken die Here!’ nie, omdat hulle almal My sal ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle. Ek sal genadig wees oor hulle ongeregtighede, en aan hulle sondes sal Ek glad nie meer dink nie. Deur te praat van 'n nuwe verbond, het Hy die eerste een verouderd verklaar. En wat verouderd verklaar en afgeleef is, is naby aan verdwyning."

#          Maar vat dit stewig vas. Álle redding in sowél Ou as Nuwe Testament is op grond van Christus se middelaars- en versoeningswerk.

            Ten diepste is daar eintlik net een verskil:

            +          Ou Testamentiese gelowiges het destyds in geloof, verwagting en vertroue vorentoe gekyk na die beloofde Lam van God. En só het hulle deel gekry aan sy middelaarswerk.

            +          Nuwe Testamentiese gelowiges kyk nou in geloof, dankbaarheid en vertroue terug na die Lam van God. En só kry hulle deel aan sy middelaarswerk.

2.         Daar is nóg 'n verskil – baie, baie belangrik

#          Van die begin af het God voorgeskryf dat verbondstoewyding aan Hom simbolies en uiterlik bely moet word. Dit geld nie net Ou Testamenties nie, maar ook Nuwe Testamenties.

            In die Ou Verbond was dit ononderhandelbaar belangrik; in die Nuwe Verbond nie minder nie.

            +          Aangesien die Ou Testamentiese verbondsvolk deur geboorte gegroei het, was die verbondsteken die besnydenis – direk ná geboorte.

            Kan 'n simbool beter verbeeld waarvoor dit staan, naamlik voortgang en ontwikkeling van die godsvolk deur die manlike geslagsorgaan?

            +          Aangesien die Nuwe Testamentiese verbondsvolk deur wedergeboorte groei, is die verbondsteken die onderdompeling van die waterdoop – direk ná wedergeboorte (oftewel bekering, wat dit sigbaar maak).

            Kan 'n simbool beter verbeeld waarvoor dit staan – naamlik voortgang en ontwikkeling van die godsvolk deur die afsterwe en begrafnis van die ou mens in die eerste Adam en die ou skepping, en die opstanding tot 'n nuwe mens in die laaste Adam en die nuwe skepping?

'n Enkele implikasie van enorme betekenis

#          Iemand het eenkeer gesê: "My seun, die dag as jy die verhouding tussen die Ou en die Nuwe Verbond rég verstaan, mag jy jouself 'n teoloog noem."

            Dit was wyse woorde. Want talle van die grootste en ernstigste dwalinge in teologie en kerk deur die eeue was te wyte aan 'n gebrekkige begrip van die verhouding tussen die twee fases van die genadeverbond. Dis 'n toestand wat ongelukkig voortduur – met talle ernstige ellendes in die kerk tot gevolg.

            Een daarvan is die kinderdoop.

#          By wyse van toepassing net enkele opmerkings daaroor.

            +          Uiteraard is allerlei kwalifikasies nodig oor wat ek nou gaan aansny. Die eenkant lewer in die praktyk nie nét bitter vrug op nie (te danke aan die Here se genade). En die ander kant lewer nie nét goeie vrug op nie (te wyte aan ons gebrokenheid). Maar ek beperk my tot die fundamentele beginsels – en in breë trekke.

            +          Dit lê dit voor die hand dat die doop van babas amper onvermydelik en spoedig tot 'n kerk lei wat nie baie verskil van die Ou Testamentiese verbondsvolk nie – 'n groot getal onbesnedenes van hart, en 'n minderheid hartsbesnedenes.

            Algaande ontstaan 'n volkskerk (Lat. 'n "Corpus Christianum": 'n liggaam van Christelikes).

            Ja-ja, daar bly vir eers dalk nog 'n Christelike kultuur oor. Maar die getuienis oor, en die wonder van God se herskepping van gevalle mense tot nuwe skepsele, verdwyn algaande.

            Daarmee saam – omdat sóveel lidmate vreemdelinge raak vir hierdie ervaringsrealiteit – verdwyn evangeliese ywer by die groot meerderheid omtrent heeltemal.

            Die uiteinde is wydverspreide ontchristeliking – nie net van die samelewing nie, maar helaas ook van die instituut wat homself "die kerk" noem.

            Dis tot tragiese oneer van ons Verlosser!

            +          Daarteenoor stel die Nuwe Testament 'n premie daarop dat die kerk sover moontlik 'n gemeente van ware gelowiges sal wees (Lat. 'n "Corpus Christi": 'n liggaam van Christus).

            Daarom beklemtoon die Nuwe Testament deurgaans dat die doop 'n mens se heel eerste openlike toewyding, en publieke getuienis is dat jy onomkeerbaar in die Here se genade herskep is, en dat jy gevolglik jou kruis opgeneem het om vir die res van jou lewe in die voetspore van die Here Jesus Christus te volg.

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev