PDF WEERGAWE

Preekopname:          https://www.antipaspretoria.org.za/preke/episode/220d76f1/god-se-openbaring-3-sy-voorsiening

Dien jy die Here? Waarom? Wat dryf jou?
            Jy sê dis uit dankbaarheid vir jou redding. Dis 'n goeie antwoord. Maar sê jy nie dalk net so omdat jy gehoor het dis die regte antwoord nie?

            Ek het 'n sterk vermoede dat baie kerkmense die Here slégs dien omdat hulle dink dit verseker hulle uiteindelike saligheid.

            Maar om bloot aan 'n ander toegewyd te wees ter wille van wat jy uit hom of haar kan kry, is skandalig. Wat dink jy van iemand wat jou gedurig heuning om die mond smeer, terwyl hy in werklikheid nie 'n duit vir jou persoonlik omgee nie, maar net belangstel in wat hy by jou kan kry – jou geld; of om geassosieer te wees met jou status (of wat ook al)?

            Onontkombaar is dus die vraag: Wat sou God se beoordeling wees van 'n mens wat die mooiste woorde van lof in sy liedere en gebede uiter, maar eintlik deur selfbelang gedryf word, en net geïnteresseerd is in wat hy of sy by Hom kan kry?

            Is ek dalk reg as ek sê dat dit vir baie "Christene" tot 'n groot mate net hiéroor gaan: What's in it for me?

            Ek huiwer om dit te sê, maar dis omdat baie kansels nooit verder kom as om God as 'n hemelse krismisvader aan te bied nie.

Omdat Hy lieflik en loflik is!

Die dankbaarheidsmotief hierbo genoem, is vir seker 'n lofwaardige dryfveer vir jou en my gehoorsaamheid en aanbidding. Maar daar is 'n nog méér verhewe beweegrede:

'n Volwasse Christen word gedryf deur:

'n Lewenslange hartstog

om die Drie-enige God ter wille van Homself steeds beter te ken,
en om Sy verheerliking met alles na te jaag

omdat Hy persoonlik lieflik en loflik

en duiselingwekkend groot en onbeskryflik goed is.

 

God se Woord is vol daarvan dat niks Hom méér behaag as so 'n instelling en uitlewing nie.

Moses ontmoet Jahweh op Sinai

Drie maande nadat die Israeliete uiteindelik uit Egipte getrek het, kom hulle by die berg Sinaï, oftewel Horeb. Dis dieselfde plek as waar Moses 'n ruk vantevore die Here ontmoet het (Eks 19:1). Daar sou hulle, word gereken, ongeveer 'n jaar oorstaan.

            Dis waar God al sy wetsvoorskrifte aan Moses gegee het – op die berg. Dis waar Jahweh ook 'n verbond met die volk sluit.

            Maar dis óók waar die volk die goue kalf aanbid.

            As Moses dan in sy heilige woede die kliptafels stukkend gooi, moet hy nog 'n keer berg-op vir die hernuwing van die verbond.

            Dis by díé geleentheid wat Moses sy gevleuelde versugting voor die Verbondsgod lê: "... maak tog aan my U paaie bekend (OAV: "U weë"), dat ek U kan ken ... Toon asseblief U heerlikheid aan my." (Eks 33:13,18).

            By die brandende bos het hy God soos niemand vóór hom ooit ontmoet nie (Eks 3). Is hy egter daarmee tevrede? Hoegenaamd nie!

            Wie die HERE eenmaal leer ken het, kan nooit weer met 'n veraf-kennis van Hom tevrede wees nie. Nee, 'n verlange om Hom steeds beter te ken, het soos 'n vuur in sy gebeente gebrand. Op Sinaï bars die allesoorheersende begeerte uit hom uit.

            Jahweh voldoen dan aan sy versoek, soos in ons in Eks 34:5-7 lees: "Die Here het in die wolk neergedaal en daar by hom plek ingeneem en die Naam 'die HERE' uitgeroep. Die HERE het reg voor hom verbygegaan en uitgeroep:

'Die HERE, die HERE,

'n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid,
wat troue liefde vir duisende bly handhaaf,
wat skuld, oortreding en sonde vergewe,
maar wat beslis niks ongestraf laat nie,
wat vir die sondeskuld van ouers,
kinders en kleinkinders laat boet,
ook die derde en vierde geslag.”

Die mens se hoogste roeping

Die mens se hoogste roeping is om die Drie-enige God te ken en om met Hom te wandel. Dis die essensie van die ewige lewe (Joh 17:3). Dis sentraal in elke geredde lewe (2Kor 4:4, 6). En ons salige hoop is om Sy aangesig te sien (Matt 5:8; 1Joh 3:2-3).

            Dit impliseer egter nie 'n vassteek by 'n bloot piëtistiese binnekamerlewe nie (onmisbaar belangrik soos dit is). Want tot die mate wat ek "die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus" sien (2Kor 4:6, OAV), tot daardie mate sal die begeerte om Hom te behaag en te verheerlik – en te láát verheerlik – my hele bestaan beheers.

            Waarom? Dis dié wesenstrek van ware liefde dat jy die belang en verering van die beminde soek. En 'n mens kan die HERE nie ken sonder om Hom lief te hê nie – hoe beter, hoe meer. Waarom? Omdat Hy lieflik en loflik is! Omdat niks of niemand met Hom kan vergelyk nie! Omdat Hy oneindig goed is!

            En tog, en tog ...

            Kardinaal belangrik soos bogenoemde beklemtoning is, los dit jou met 'n skeeftrekking as jy nét daarmee volstaan. As ons werklik begeer om Hom al hoe beter te ken, voldoen Hy nie net daaraan nie, maar het Hy 'n vreugde daarin om ons te oorspoel met sy liefdesguns. Daarom is die Woord is vol uitnodigings – beter gestel, bevele – dat sy kinders met al hulle behoeftes en nood na Hom toe moet gaan.

            Mens sou na tientalle Skrifuitsprake kon verwys, maar 'n beeld in Ps 81:10-11 belig die Bybelse benadering van die saak op 'n kostelike wyse: "Daar mag vir julle geen ander god wees nie, julle mag voor geen vreemde god neerbuig nie. Ek, die HERE, is jou God wat jou uit Egipteland laat optrek het. Maak jou mond wyd oop, sodat Ek dit kan vul."

            Wat hier geskets word, is klein voëltjies in 'n nes wat hulle bekkies wawyd oop rek wanneer die ma-voël met 'n wurm nader kom.

            Só wil die HERE hê moet ons met vrymoedigheid vanuit Sy oorvloedige versorgingsvreugde leef – wat ál ons behoeftes betref.

Dus, maak wyer oop

nee-nee

wyer, nóg wyer!

Die kloutjie by die oor

#          Duidelik het ons hier te doen met twee waarhede wat in jukstaposisie gehou moet word. Die Bybel is immers vol van sulke lewensbelangrike balanse.

            Kyk wat gaan die beeld van die klein voëltjies hierbo vooraf. God het verantwoordelikheid vir Sy volk aanvaar toe Hy hulle uit Egipte gelei het. En vir seker het Hy Sy eer daarin gestel om Israel in elke opsig daar in die woestyn te versorg.

            Ons kan dit maklik verstaan. Watter pa, soveel te meer as hy 'n ryk man is, wil hê sy kinders moet by die bure gaan kos bedel, eerder as om vir hom te vra?

            Nog meer, dis eintlik 'n stuk aanbidding as ek my hemelse Vader vertrou om na my om te sien. Dis 'n manier om vir Hom te sê, "Ek weet U is liefdevol, en getrou aan al U beloftes, en magtig genoeg om vir my alles te gee wat ek ooit regtig mag nodig hê."

            Om my hemelse Vader te vertrou – en Hom alleen – vir elke asemteug en elke broodkrummel, is op sigself 'n stuk aanbidding wat Hom behaag en verheerlik!

#          Maar dan moet ons erns maak met ál Sy beloftes – ook vir hierdie lewe. Ten diepste gee Hy hierdie beloftes vir ons, nie bloot om ons gerus te stel nie, maar sodat ons Hom kan behaag en verheerlik deur gelowig uit Sy hand te lewe – wat ook al ons behoeftes.

            Maar, as jy daarenteen gedurig op jou eie voete wil staan, en daarop aandring om jou eie potjie te krap, is dit so goed soos 'n minagtende rugdraai op God se liefdeswelwillendheid.

Ek is ... Hy is

#          Laas keer het ons gesien dat God Sy Naam as "Ek is" aan Sy volk geopenbaar het: Die HERE.

            Hierdie Naam beklemtoon in die eerste instansie Sy algenoegsame en heilige transendensie.

            Maar Hy verseker Sy volk dat hulle nie bedreig moet voel deur Sy soewereine almag nie. Hy is hulle Verbondsgod. Hy sal Sy ontsaglike vermoëns in hulle belang aanwend. En Hy wil hê hulle moet dit glo, en die implikasies daarvan gehoorsaam uitleef.

#          Mens kan verstaan dat God Sy ewige algenóégsaamheid met Sy Naam, "Ek is wat Ek is", beklemtoon.

            Maar die verkorte vorm van Sy Naam bly half vreemd, nie waar nie. Dis asof dit 'n onvoltooide sin is: "Ek is ....".

#          Maar in die res van die Ou Testament kry ons dalk 'n sleutel wat, nie net help nie, maar terselfdertyd wonderlik verhelderend is – en bevestigend.

            Op verskeie plekke, stel dit maar so, voltooi die Here self vir ons die halwe sin. As Hy dus sy verbondsgoedheid teenoor Sy volk openbaar, heg Hy 'n tweede begrip aan Sy verbondsnaam. So sê Hy dan wát "Hy ís ..." vir sy gunsgenote.

            +          JaHWeH Rapha: Hy is ... genesing (Eks 15:26). Die HERE herstel en vertroos ná Sy tugtiginge – anders as in die Egiptenaars se geval.

            +          JaHWeH Nissi: Hy is ... banier (Eks 17:15). Die HERE stry die stryd vir Sy gunsgenote. In Hom is hulle oorwinning gewaarborg.

            +          JaHWeH M'Kadesh: Hy is ... heiliging (Lev 20:8). Die HERE werk heiligend in Sy volk, sodat hulle uiteindelik heilig word soos Hy.

            +          JaHWeH Shalom: Hy is ... vrede (Rig 6:24). As die besef van hulle nietigheid en die belewing van verlorenheid Sy geliefdes wil oorweldig, bewerkstellig die HERE vrede tussen Hom en hulle, en verseker hulle dan daarvan.

            +          JaHWeH Ro-ih: Hy is ... herder (Ps 23:1). Die HERE lei Sy skape op die regte pad en beskerm en versorg hulle.

            +          JaHWeH Tsidkenu: Hy is ... geregtigheid (Jer 23:6). Reeds in Ou Testamentiese tye openbaar die HERE die heerlike waarheid van regverdiging deur die geloof alleen; trouens, was dit alreeds 'n werklikheid.

            +          JaHWeH Shammah: Hy is ... dáár (Eseg:48:35). Die profesie van Esegiël word op die wonderlikste wyse denkbaar afgesluit met die versekering dat die HERE tot in alle ewigheid tussen Sy geliefde gunsgenote wil en inderdaad sal woon.

            +          JaHWeH Sebaoth: Hy is ... van die leërskare (talle plekke). Terwyl die HERE baie vyande het, hou nie een van hulle – of hulle gesamentlik – vir Hóm, of vir hulle wat aan Hom behoort, enige bedreiging in nie.

Gaan ons té ver as ons dit só verstaan:
Een en elkeen wat in die genadeverbond vasgeknoop is aan Hom

wil Hy verseker:

Wat jy ook al régtig mag nodig hê

verbind Ek my om te voorsien!

#          Hy wil dus met hierdie Verbonsnaam vir Sy geliefdes sê: "Ek wil persoonlik vir julle alles wees wat julle ooit werklik mag nodig hê. Vertrou My! Ek wil vir julle in die volste sin van die woord 'n Vader wees – 'n Vader wat Sy verantwoordelikheid teenoor Sy kinders ken. Op My liefdesorg kan julle peil trek!"

#          Daar is nóg een van hierdie uitgebreide Verbondsname van God – die heel eerste een in die Ou Testament. En nooit kan ons ophou om Hom daarvoor te dank nie.

            Ons praat van Gen 22:14. Abraham noem die plek waar die HERE die offerram in sy seun, Isak, se plek voorsien: JaHWeH Jireh: Hy is ... voorsiening.

            So duidelik soos daglig is hier reeds vroeg-vroeg in die openbaringsgeskiedenis 'n sinspeling op Christus, die Lam van God wat in die plek van God se verbondsgeliefdes geslag sou word!

            Waarlik, hierdie Gawe van die HERE se verbondsliefde laat ál Sy ander gawes – wonderlik kosbaar soos hulle mag wees – tot dowwe skaduwees verflou.

            Al sou ek al die ander hê, maar nie híérdie een nie, het ek nog niks nie.

            En al sou ek ál die ander verbeur, maar ek het wel híérdie een, het ek reeds en steeds alles wat ek ooit mag nodig hê – vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid!

Hou dit vas

Óók al die ander gawes van JaHWeH se verbondsheil is nét in Christus te vind!

            Dus: As jy nog níé in Christus skuil nie, vlug onverwyld in Hóm in – as van nou af jou finale en groot Profeet! – as van nou af jou finale en groot Priester! – van nou af jou finale en groot Koning!

            As jy sê jy hét dit al gedoen – maar jy bly nog onseker daaroor: Doen dit wéér. En moenie ophou nie, totdat die Heilige Gees in jou roep: "Abba Vader!"

            En as jy sê, ek hét dit al gedoen en beleef dit elke dag – en ek weet vir seker dat ek versoen is met Hom – wy jou elke dag met hernude ywer toe aan jou Verbondshoof: Christus Jesus – die Koning van die konings en die Here van die here.

Aan laasgenoemdes net 'n laaste lewensbelangrike woord

Die liefdesfokus van die drie-enige God se hart is Sy uitverkorenes. En in jou en my lewe wil Hy niks méér hê nie, as dat Hy alles sal wees in ons lewens.

            Dus gaan dit nie primêr – ek sê, nie primêr nie – oor sy waarheid of sy werk nie, maar oor Hom persoonlik. In die besonder geld dit die verhouding tussen die Bruidegom en sy bruid.

            Dus, as ons praat van God-gesentreerdheid en Christus-gefokusheid, gaan dit primêr oor híérdie innige liefdesverhouding. En eers daarná gaan dit oor Godgesentreerde teologie, en regsinnigheid, en belydenis – belangrik soos dit uiteraard is. Maar, sonder eersgenoemde word laasgenoemde bloot 'n stuk huigelagtige fariseïsme.

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev