PDF WEERGAWE

Klankopname:        https://tinyurl.com/2p82cses

Die Engel van die Here

#          Het jy opgelet wat staan daar in Eks 3:2?

            Dis die "Engel van die HERE" wat daar in die woestyn aan Moses verskyn. Maar dis ook terselfdertyd Hý wat Homself twee verse verder "die HERE" noem (3:4-5).

            +          Die uitdrukking, "Engel van die Here" kom talle kere in die Ou Testament voor. Soms dui dit bes moontlik gewoon op die hemelwesens as uitgestuurdes van God. Maar meermale dui dit onteenseglik op God self, soos hier in Eksodus 3 (vgl. v.2 en v.4; Vgl. ook Gen 16:7-11 & 13; Rigt 6:11-12a & 12b-26; 13:3-22).

            Terwyl, bloot Ou Testamenties gesproke, nie 'n klinkklare saak daarvoor uitgemaak kan word nie, word dit algemeen aanvaar dat alreeds die ou Kerkvaders waarskynlik reg was – naamlik dat die Engel van die Here, veral in die genoemde gevalle, dui op 'n voor-vleeswordingsverskyning van God die Seun.

            Hierdie beskouing word uiteindelik sonder twyfel bevestig deur die Nuwe Testament; trouens, deur die Here Jesus self, soos hieronder sal blyk.

"Ek Is", die pratende met jou (Joh 4:26)

#          Hier in Joh 4 lees ons dat Jesus by die dorp Sigar in Samaria aankom. Daar sou baie Samaritane tot geloof kom in Hom. Die eerste helfte van die hoofstuk word gewy aan sy ontmoeting en gesprek met 'n vrou by 'n put.

            Dis 'n baie betekenisvolle gesprek. Jesus praat met haar oor haar sonde en haar dringende behoefte aan die water van die lewe. In die proses maak Hy meer as een uiters belangrike uitspraak (vgl. bv. v.13-14; v.21-24).

            Ook maak Hy baie akkurate uitsprake oor haar sondige lewenstyl oor baie jare heen. Gevolglik móét die vrou erken: "Meneer, ek sien dat u 'n profeet is."

            Maar dan probeer sy uit haar verleentheid glip met haar vraag oor wáár aanbid moet word – op die berg Geresim, waar die Samaritane aanbid; of in Jerusalem, waar die Jode aanbid. Dit lei dan tot die Here se wonderlike uitspraak oor ware aanbidding – in gees en in waarheid (Joh 4:21-24).

            Die vrou wend dan 'n finale poging aan om Jesus te systap. Sy probeer die gespreksfokus verskuif na die komende Messias toe.

            Dit lei dan tot van díé mees uitstaande woorde in die ganse Nuwe Testament: "Jesus sê vir haar: 'Ek Is, is die Een wat met jou praat."

 

"Ek Is", die pratende met jou (Joh 4:26)

#          Hierdie eenvoudiggekleë, moeë en dors man, Hy, ja presies Hy, is die beloofde Messias – Hy, ja presies Hy! (v.26).

            Die opskrif hierbo is 'n letterlike weergawe van die Grieks. En die 2020 vertaling verstaan kennelik die gewigtigheid van hierdie aanspraak van die Here, as dit beide woorde met hoofletters spel: "Ek Is".

            Duidelik soos daglig verklaar Jesus hier dat dit Hy was wat destyds aan Moses in die woestyn verskyn het as Jahweh.

#          Baie inhoudryke name word deur die Nuwe Testament vir die Seun van God gegee. Onder meer: die Woord van God; die Lam van God; die Seun van God; die Seun van die mens; die Verlosser; die Lig van die wêreld; die Here; die Geliefde; ons Hoëpriester; die Oorwinnaar; die Koning.

            Elkeen van hierdie name is wonderlik betekenisvol. Maar waarskynlik kan ons sê dat geen naam groter en meer gewigtig is nie, as hierdie "Ek is".

#          Het die Here Jesus Christus die feit dat Hy waarlik en ten volle God is, ooit méér uitdruklik, maar ook diepsinnig verklaar? Terwyl Hy oor en oor in die Nuwe Testament onderskei word van God die Vader en God die Heilige Gees, laat Hy geen twyfel daaroor nie dat ook Hy waarlik en ten volle God is.

            Kernagtig kan ons dít oor die Goddelike Drie-eenheid sê:

God is een wese, wat vir ewig bestaan as drie Persone.

Daar is net één God

Maar

Die Vader is waarlik en ten volle God;

die Seun is waarlik en ten volle God;

die Heilige Gees is waarlik en ten volle God.

Maar

Die Vader is nie die Seun of die Gees nie.

Die Seun is nie die Vader of die Gees nie.

Die Gees is nie die Vader of die Seun nie.

Die Bybel lei ons om ten minste die volgende drie stellings oor God se drie-enigheid te maak:

            Eerstens: Die enige en lewende God is vir ewig onveranderlik en onverdeelbaar één.

            Tweedens: Die Vader, die Seun en die Heilige Gees is onderskeie persone.

            Derdens: Die Vader, die Seun en die Gees is elkeen ten volle en gelykwaardig God.

#          Hier word egter nóg 'n fundamentele waarheid oor Jesus, die Christus geopenbaar: Die twee nature van God die Seun. Hy is volkome mens, maar bly steeds ten volle God.

            Sien dit in jou geestesoog: Daar sit Jesus van Nasaret by die put. Hy is moeg en Hy is dors (v 5-6). Baie duidelik beskou die vrou hom as, ja – 'n Jood (v.9), net nóg een.

Maar

Hy is volkome mens!

Én Hy is "Ek Is" – ten volle God.

Meteen én God, én mens

            +          Dit laat mens dink aan 'n uitspraak van Paulus: "Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en aan Hom die Naam geskenk wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig – van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde – en elke tong sal bely, 'Jesus Christus is die Here!' tot eer van God die Vader" (Fil 2:9-11).

            Die naam wat bo elke ander naam is, skryf die apostel, is "die Here". En in Hebreeus is dit die naam, "Jahweh" – wat weer die ekwiwalent is van "Ek is".

Voor Hóm sal elke knie buig!

#          Hoeveel die Samaritaanse vrou begryp het van wat die Here Jesus vir haar gesê het, weet ons nie. Maar sy het vir seker genoeg verstaan om haar dorp toe te laat haas. Sy móés eenvoudig gaan vertel: Ek dink ek het "die Christus" ontmoet!

            Mens sou verwag dat die mense haar sou uitlag, maar kennelik was sy só ernstig en opgewonde dat talle hulle na die put toe gehaas het.

#          Intussen het die dissipels teruggekom en by Hom aangedring om te eet. Dit lei dan tot sy troosryke woorde in v.34-35: "My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. Sê julle dan nie, 'Dit is nog vier maande, dan kom die oes' nie? Waarlik, Ek sê vir julle, kyk op en aanskou die lande; hulle staan reeds wit vir die oes."

            Ek kan my indink:  As die dissipels dan opkyk, sien hulle só 'n land wat wit is vir die oes: Dosyne mense wat aangestroom kom!

#          In v.39-42 lees ons dat Jesus op hulle aandrang dan 2 dae daar by Sigar bly, wat daartoe lei dat baie Samaritane tot geloof kom – hulle wat so verag is deur die Jode, veral die hoogheilige Fariseërs.

            Uiteindelik sluit hierdie wonderlike hoofstuk af met die mense se belydenis aan die vrou wat Jesus by die put ontmoet het: "Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het Hom self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is."

            En dit alles na aanleiding van Jesus se verklaring van net twee woorde: "EK IS"!

            Wat 'n deurbraak was dit nie! Wat 'n openbaringsoomblik!

Maar daar is méér

#          Net soos in die Ou Testament, gaan die Here Jesus in die res van die Johannesevangelie voort om die sogenaamde onvoltooide naam hier in hoofstuk 4, verder aan te vul. Hy doen dit 7 keer.

            +          Joh 6:35: "Ek is die brood van die lewe"

            +          Joh 8:12; 9:5: "Ek is die lig van die wêreld"

            +          Joh 10: 9, 7: "Ek is die deur"

           

            +          Joh 10:11, 14: "Ek is die goeie herder"

            +          Joh 11:25: "Ek is die opstanding en die lewe"

            +          Joh 14:6: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe"

            +          Joh 15:1, 5: "Ek is die druiwestok"

Maar daar is nóg meer

#          Die Hebreeuse woord wat ons as "Messias" vertaal, is "mashiach". Die ooreenstemmende Griekse woord is "Christus" (Joh 4:25).

            In die Ou Testament het die woord basies verwys na 'n man wat God gekies het tot 'n bepaalde funksie. Hy is dan ingesweer met 'n gewigtige seremonie, waartydens hy gesalf is met olie. So is hy dan afgesonder as iemand wat deur God geroep is vir 'n bepaalde taak.

            'n Koning is byvoorbeeld só afgesonder tot sy verantwoordelike roeping (bv. die seun, Dawid in 1Sam 16:12-13 v.v.).

            'n Hoëpriester is so ingehuldig (bv. Eks 28:41 en konteks).

            Profete is soms so afgesonder (bv. Elia wat in 1Kon 19:16 vir Elisa salf as opvolger).

#          As al die voorafgaande nou saamgeknoop word, sien ons wat die Here Jesus ten diepste in sy ontmoeting met die Samaritaanse vrou oor Homself verklaar:

Hy is die tweede Persoon van die goddelike Drie-eenheid

dus ware en volkome God

Én

Hy is ook meteen volkome Mens

die "Laaste Adam"

die Hoof van God se nuwe die nuwe mensheid.

In Hom trek al drie die Ou Testamentiese middelaarsampte tussen God en sy volk saam.

As sodanig is Hy meteen:

Én Profeet! Én Priester! Én Koning!

Nee, nee, méér:

Díé Profeet! Díé Priester! Díé Koning!

Nee, nee, nóg meer:

God se finale en ewige Profeet!

God se finale en ewige Priester!

God se finale en ewige Koning!

Dis vir Hóm wat Abraham se nageslag vir baie eeue gewag het.

Uiteindelik hét Hy op sy verordineerde tyd gekom!

Dis op Hóm wat die Samaritane se geestelike nageslag uit alle nasies al vir 20 eeue wag.

Uiteindelik sál Hy op sy verordineerde tyd kom!

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev