PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/4pskrdeh

 

Ek wil nog 'n keer stilstaan by Ef 3:14 – spesifiek by die feit dat Paulus sy gebed tot die Vader rig.

            Laas het ek baie daarvan gemaak dat ons kindskap van die Vader die hoogtepunt van ons redding is. Uiteraard het dit ingrypende implikasies vir ons Christelike lewens, ons verhouding met die Vader – en spesifiek ook vir ons gebedslewe.

            Maar nou wil ek twee Nuwe Testamentiese aksente aanraak wat in 'n sin teenoor mekaar staan, en beide verreken moet word as ons die sensitiewe balanse wat God behaag, wil bemeester.

            Enersyds wil ek aantoon dat die Skrif ons leer dat óns kindskap van God van 'n mindere aard is as dié van die Seun, Jesus Christus.

            Andersyds wil ek die Nuwe Testamentiese waarheid beklemtoon dat ons, wat in Christus is, met 'n onuitspreeklike liefde deur die Vader bemin word, en as sodanig met die grootste vrymoedigheid voor Hom kan leef en bid.

Enersyds is Christus se seunskap van die Vader uniek

 

Die Nuwe Testamentiese beklemtoning daarvan

#          In die volste, diepste en ewige sin van die woord is daar net één wat God Sy Vader kan noem: God die Seun. Hieroor is die Bybel duidelik.

            +          Eerstens gebruik die Skrif twee spesifieke begrippe om Sy unieke seunskap te beklemtoon.

                        =          Jesus Christus is die "Éniggeborene" (OAV), die "Enigste" (NAV), die "Unieke" (2020) (Joh 1:14,18; 3:16,18; 1Joh 4:9).

            Die betrokke Griekse woord, monogenes, beteken "enig in sy soort". Die OAV het dit mis. Christus is nie gebore nie. Hy bestaan van ewigheid af.[1] Die NAV is baie beter, en die 2020 dalk die beste (NIV: "the One and Only").

            Jesus Christus is dus die enigste van Sy klas of soort. Baie ander mag kinders van God wees, maar Sý seunskap is uniek en daarom wesentlik anders en uniek.

                        =          Jesus Christus is die "Éérsgeborene" (OAV; 2020); die "Eerste" (NAV) (Rom 8:29; Kol 1:15,18; Heb 1:6; Op 1:5).

            Die begrip (Gr. prototokos) dui nie bloot op 'n sekere kronologie nie, maar op 'n verskil in status en rang. So was die eersgeboortereg in die Ou Testament byvoorbeeld nie noodwendig beperk tot die oudste seun nie. Esau kon dit aan Jakob verkoop, en Ruben het dit ten gunste van sy broers verbeur.

            +          Tweedens het Johannes nóg 'n manier om hierdie onderskeid te onderstreep. Hy verwys konsekwent na die Here Jesus as die "Seun van God" (Gr.huios), en na Sy dissipels as "kinders van God" (Gr. tekna).

            +          Derdens, terwyl Johannes van 'n "geboorte uit God" praat (die wedergeboorte), as dit gaan oor hoe ons kinders van God word, is Paulus  versigtig om ook hier te herinner aan die onderskeid tussen ons en die Seun, deur van ons as "aangenome kinders" te praat (Rom 8:15,23; Gal 4:4-6; Ef 1:5).

            +          Vierdens handhaaf die Here Jesus self hierdie onderskeid. Hy praat nooit van Sy en die dissipels se gemeenskaplike Vader nie ("ons Vader"), maar van "My Vader" en "die Vader" – en selfs van "my Vader en julle Vader" (Joh 20:17).

#          Die Skrif is dus versigtig – duidelik ernstig ingestel daarop – om die unieke seunskap van Jesus Christus steeds voor oë te hou. Hy, hoewel waarlik mens, bly immers ook waarlik God. Hy bly die Skepper; alle ander kinders van God, skepsele.

Die Here Jesus is

die uitnemende, die uitstaande, die meerdere, die hoogste, die belangrikste

– die unieke –

onder Sy broers en susters.

Die Vader se innige behae in die Seun

#          As die Here Jesus Hom laat doop, praat die Vader uit die hemel: "Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My" (Matt 3:17).

            Ook op die berg van verheerliking hoor die dissipels die Vader se liefdesverklaring: "Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom" (Matt 17:5).

            Jare later sou dit steeds op Petrus se gemoed gegrafeer wees (2Pet 1:16-18).

            Wat ons moet raaksien, is dat die Vader net by twee geleenthede tydens Jesus se lewe hier op aarde uit die hemel praat – en altwee kere is dit 'n verklaring van innige behae in, en liefde vir die Seun.

#          Hierdie Vaderliefde geld van alle ewigheid af. In die Hoëpriesterlike gebed sê Jesus dat die Vader Hom al voor die skepping liefgehad het (Joh 17:24).

            Ook tydens Sy vernedering verwys die Here Jesus meermale na hierdie liefde. In Matt 11:27 sê Hy: "My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak" (vgl. ook Joh 1:18; 5:20; 10:17-18; 17:5).

            En, natuurlik, na Sy kruisiging het die Vader die Seun "... tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is ..." (Fil 2:9).

            Waarlik, tereg kan Paulus die Here Jesus in Kol 1:13 noem: "die Seun van sy liefde" (OAV).

Andersyds het die Vader 'n besondere liefde vir sy uitverkorenes, maar dit is in hulle verbondenheid met die Seun

#          Wat tot nou toe gesê is, moet ons nie met die indruk laat dat die Vader ons bloot halfhartig – selfs teensinnig – as kinders aanvaar nie. Allermins!

            Om die volkomenheid en rykdomme van ons kindskap genoegsaam te waardeer, moet ons onthou dat ons aanneming as kinders "in Christus" is.

            Ons eenheid met Christus is, trouens, die sentrale waarheid van die Bybelse leer oor ons verlossing. En nooit word dit méér kernagtig saamgevat as in die twee woorde "in Christus" nie – 'n uitdrukking wat dosyne kere in die Nuwe Testament voorkom.

            Dis 'n tema  wat té diepsinnig en omvangryk is om nou aan te pak. Maar in kort beteken dit dat alles, maar alles, wat die verlossende Vader vir ons gee, tot in ewigheid, op grond van, en ter wille van Sy Seun geskied. Trouens, Hy doen dit asof Hy dit vir Sy Seun self gee. Só intiem is hierdie binding tussen ons en Christus, dat die Skrif nie net sê dat ons in Christus is nie, maar ook dat Hy in ons is. In 'n sin kan ons sê, weliswaar versigtig en gekwalifiseerd, dat alles wat vir die Seun geld, ook vir ons geld.

            Paulus worstel om hierdie geheimenis onder woorde te bring. Eén manier van hom is om die Griekse voorvoegsel wat "saam met" beteken (Gr. sun), herhaaldelik aan begrippe te koppel wat op Christus betrekking het. So, byvoorbeeld, sê Rom 8:17 letterlik: "Aangesien ons saam-lyders met Christus is, is ons saam-erfgename met Hom, en sal ons saam-verheerliktes met Hom wees. En Ef 2:5-6 sê dat ons saam-lewendgemaak, saam-opgewek en saam-sittende met Christus in die hemel is.

#          Nou is dit duidelik dat ek die Vader se liefde vir, en aanvaarding van diegene in Christus slegs sal waardeer tot die mate wat ek 'n begrip het van Sy innige behae in die Seun. Tot daardie mate sal ek begryp waarom God se Vaderskap my heel grootste voorreg is. Tot daardie mate sal ek verstaan dat dit ter wille van die Seun is dat ek met oop arms voor Sy genadetroon ontvang word. Tot daardie mate sal ek met vrymoedigheid kan bid.

Wat sê dit alles nou vir ons?

1.         Beskeidenheid voor die Here is gepas.

Laat ons nooit vergeet wie ons is, en hoe ons in die huishouding van die Vader gekom het, en steeds bly nie. Dit was, en bly steeds, genade op genade. En allermins mag ons dit vergeet as ons in gebed voor Hom verskyn.

            Daarom is versigtigheid, nederigheid, heilige eerbied en diepe dankbaarheid voor die Vader steeds gepas – trouens, baie noodsaaklik.

            En laat ons ook teenoor die Seun ons plek ken. Ja, dit sou nie verkeerd wees om soms aan Hom as ons oudste broer te dink nie – maar dan binne Bybelse grense. Veel eerder is die beheersende feit dat ons kindskap van God van 'n mindere orde as Syne is. Dit is die onverdiende genade van die Vader wat ons in Hom geplaas het.

2.         Dit is noodsaaklik dat ons dikwels oor ons Vader se liefdesgenade sal peins.

Neem in ag dat Hy reeds 'n Seun gehad het – waardiger as die engele – toe Hy ons aangeneem het. Óns het 'n Vader benodig; nie kinders nie.

            Neem in ag wát ons was toe Hy ons aangeneem het – geestelik dood, sondeverslaaf, onder Sy toorn (Ef 2:1-3).

            Neem in ag teen watter koste Hy ons aangeneem het. Waarlik, die aannemingskontrak is met bloed geteken – dié van Sy unieke eersgeborene!

            Neem in ag dat ons nie net vuil was nie, maar vyandiggesind teenoor Hom. Om vyande te vergewe en hulle vry te laat, getuig van verstommende liefde. Wat moet ons dan sê van die feit dat Hy ons as kinders aangeneem het?

            Neem in ag hóéveel van ons Hy aangeneem het en steeds aanneem. Nie een of twee nie, maar dermiljoene – uit alle geslagte en uit alle nasies.

3.         Daar is egter 'n ewe sterk aksent in die Skrif op God se roeping tot vrymoedigheid voor Hom.

Terwyl die nederige beskeidenheid waarvan ons pas gepraat het, op ons harte geskryf moet wees, is dit ewe waar dat die Here ons weer en weer in Sy Woord oproep tot vrymoedigheid voor Hom.

#          Neem byvoorbeeld wat die apostel net voor die gebed waarna ons kyk van hom skryf: ons het "toegang" om in "vrymoedigheid" en "vertroue" na God toe te gaan (Ef 3:12, OAV). Dis 'n merkwaardige uitspraak!

            +          Die woord "toegang" (Gr. prosagoge) word net drie keer in die Nuwe Testament gebruik (ook in Rom 5:2; Ef 2:18), en elke keer praat dit van hierdie selfde saak. Dis 'n woord wat dui op die toestemming wat 'n bevoorregte geniet om 'n hooggeplaaste seteenwoordigheid binne te tree. Kom ons stel dit só: Ons het 'n oop deur om God se heilige teenwoordigheid, so dikwels as ons wil, te betree.

            +          Twee gedagtes sit in die woord, "vrymoedigheid" (Gr. parresia): afwesigheid van vrees, én vryheid van spraak. Laat ons dus sonder huiwering ons harte uitpraat voor ons Vader se genadetroon.

            +          Die woord "vertroue" (Gr. pepoithesis) dui op oortuiging, sekerheid, beslistheid, verwagting. Dis om te weet jy praat nie maar in die wind in nie. Nee! Jy praat met jou hemelse Vader wat 'n hoorder van gebed is. Hy het Homself absoluut verbind – verbondsmatig – om ons gebede as instrumente te gebruik in die uitwerk van Sy raadsplan.

#          Les bes, het julle opgemerk wat sê die apostel in Ef 3:11-12? Dis "in ons verbondenheid met Hom" (NAV) – Christus Jesus, ons Here – dat ons hierdie duiselingwekkende voorreg en roeping het! Dis omdat die Vader Sy Seun so liefhet dat ons voor Hom mag verskyn. Dis op grond van die Seun se middelaarswerk dat ons vrymoedig mag bid.

            En die Vader is nie teësinnig hieroor nie! 'n Duisend maal, nee! Dis soos ouers wat die vrou van hulle geliefde seun se keuse as hulle skoondogter omhels – nog méér, wat haar soos 'n eie dogter in hulle huis inneem.

Is ons nie óók die Seun se bruid nie?

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           Daar is vroeër gemeen dat die Griekse woord afgelei is van gennao (voortbring), maar vandag word algemeen aanvaar dat die begrip ontwikkel het uit genos (tipe of soort).