PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/yuvdjww5

Ons het laas keer met die tweede bede begin. Eintlik was die frase waarna ons gekyk het – synde in liefde gewortel en gegrond – net 'n brug tussen die eerste twee bedes. Maar ons het dit wel as deel van die tweede bede beskou. Nou gaan ons voort met die volwaardige tweede bede. Paulus bid dat die Efesiërs – as die liefdesinwonining van Christus in hulle harte dan 'n gewortelheid en 'n gegrondheid in hulle lewens meegebring het, en hulle dienooreenkomstig vrug dra en standvastig is – in staat sal wees om te begryp en om te ken. Ons sal by 'n volgende geleentheid kyk na dit wat hy wil hê hulle moet begryp en ken. Vandag gaan ons net na hierdie twee begrippe, "begryp" en "ken", kyk.

Om te begryp

 

#          Die woord wat Paulus hier gebruik (Gr. katalambano), asook die vorm waarin hy dit giet (Aoristus Medium Infinitief), beteken om iets vas te vat sodat dit jou eie wordom dit toe te eien.

#          Om die betekenis van die woord duidelik te kry, kom ons kyk na 3 ander plekke waar dit voorkom:

            +          1Korintiërs 9:24: "Hardloop dan só dat julle die prys kan wen." Letterlik staan hier dat ons só in die Christelike wedloop moet hardloop dat ons die loon wat die Here vir Sy kinders het, sal vasvat,  in die hande sal kry, ons eie sal maak.

 

            +          Markus 9:18: Hier word gepraat van 'n demoon wat 'n kind vasgegryp het.

            +          In Hand 10:34 sê Petrus, na aanleiding van sy laken-ervaring, dat hy vir die eerste keer "begryp ... dat God nie onderskeid maak nie, maar uit enige volk ... mense aanneem."

            Wat gebeur dus hier in Hand 10? Vir die eerste keer dring dit régtig Petrus se harspan binne dat God ook héídene red. Vantevore sou hy gesê het: "Ja, ja, natuurlik ...!"

Maar nou tref dit hom soos 'n muilskop – en hy sou dit nooit weer vergeet nie.

                        =          Kan jy dit glo! Sekerlik moes hy hierdie wonderlike waarheid al by die Here Jesus self gehoor het. Hy het dit trouens al gepreek. Op die pinksterdag verseker hy immers met groot stelligheid die skare dat die belofte van die Heilige Gees nie net vir die Jode wat na hom luister, is nie, maar ook vir hulle nageslag – asook vir "almal wat daar ver is" (Hand 2:39).

            Laasgenoemde uitdrukking was destyds 'n alombekende term vir die heidene. Jesaja verwys reeds só na die nasies (43:6-7; 49:1,12; 57:19).

 

#          Hier in ons teks bid die apostel dus dat die Efesiërs in staat sal wees om die breedte, lengte, diepte en hoogte van Christus se liefde (waarby ons nog moet kom) met hulle verstand vas te vat, om greep daarop te kry, om dit hulle eie te maak.

#          Nou kan ons verstaan waarvoor Paulus hier bid: Sy versugting is dat die Efesiërs diep sal insien in die volle omvang en diepgang van Christus se liefde vir hulle, wat tot uitdrukking kom in dit wat Hy vir hulle gedoen het, steeds doen, en tot in ewigheid sal doen.

            +          Hulle moet Hom ken as God se groot Profeet – dat Hy die finale hoogtepunt en afronding van God se selfopenbaring aan die mens is. Hulle moet verstaan dat Hy in dit wat Hy was, in dit wat Hy geleer het, en in dit wat Hy gedoen het, die volkome verduideliking en demonstrasie van God se wet en wil is.

            +          Hulle moet Hom ken as God se groot Priester  – wat die Ou Testamentiese offerdiens tot volmaakte kulminering gevoer het toe Hy Homself as die Lam van God geoffer het. Hulle moet verstaan dat Hy sowel die vervulling as die vertolking van die voorafgaande eeue se geloof en godsdiensbeoefening was.

            +          Hulle moet Hom ken as God se groot Koning – wat vir altyd as die Prins van vrede sal heers, en ook al Sy vyande sal onderwerp. Almal moet verstaan dat Hy as soewereine regeerder tot in die fynste besonderhede regeer.

#          Die apostel bid dus dat die Efesiërs 'n steeds dieper insig sal ontwikkel in hierdie waarhede. Dit moet werklik hulle eie word – blywend, allesbeheersend, lewensveranderend! Dit moet hulle fassineer.

            En die uitdra van hierdie waarhede moet steeds aan die hart lê van hulle lewenshartstogte.

#          Dit bring ons by 'n noodwendige vraag. Waarom is dit so belangrik vir Paulus dat die Efesiërs in diepte en omvang moet verstaan wie en wat Christus is?

            Die antwoord is eenvoudig. Dis omdat hy self die vervulling van dit wat hy hier vir die gemeente bid, oorweldigend ervaar. En elkeen van ons wat maar 'n fraksie hiervan ken, sal weet dat dit 'n noodwendige begeerte in jou word dat ander – baie, baie ander – ook sal sien wat jy sien.

            Maar daar is 'n nóg belangriker rede. Die passie dat Christus verheerlik sal word, lê dag en nag soos 'n kool vuur in Paulus se gemoed. Die gedagte dat mense hulleself Christene noem, maar die Here Jesus nie waardeer vir wie en wat Hy is nie, is vir hom ondraaglik. Nee, met alles in hom wil hy hê dat daar uit meer en meer lewens – dag en nag – 'n aangename geur van begripvolle aanbidding hemel toe moet opstyg. Ontelbaar baie mense, tot aan die uiteindes van die aarde, moet die Here Jesus aanbid, vertrou, liefhê, dien en verkondig!

Om te ken

#          Hier gebruik die apostel 'n baie ryk en vol Bybelse idee (Gr. ginosko). Anders as die vorige woord – wat op diep verstandelike insig dui – is hierdie woord 'n verhoudings- en belewingsbegrip.

            Dis waarvoor Paulus nóú bid.

#          Hoe beleef ek 'n verhouding met Christus?

            My wandel met Hom (en dus ook met die Vader en die Heilige Gees, want die drie Persone van die Drieeenheid werk nooit los van mekaar nie) kom op minstens twee maniere tot uitdrukking:

            +          Eerstens sal ek Sy liefdesbetrokkenheid by my ganse lewe gelowig herken, en dan ook dankbaar en vererend erken. Ek sal dus gelowig deur die bril van die Woord na my lewe kyk – en in my omstandighede en lewensvoortgang Sy intieme betrokkenheid by my raaksien.

            +          Tweedens sal ek myself in geloofsvertroue aan Christus toewy en lewenslank in liefde en dankbare gehoorsaamheid met Hom wandel en Hom dien. Gebedsgemeenskap met Hom sal 'n allerprioriteit in my lewe wees. Sy Woord sal my daaglikse voedsel wees. In alle integriteit sal ek poog om die praktiese implikasies van Sy roeping uit te leef.

            Ons praat dus hier van 'n lewensbeheersende respons op Christus se reddende inisiatiewe, Sy voortgaande liefdestrou, en Sy soewereine regering in my lewe.

            Dit word pragtig geïllustreer in Dawid se lewe – veral in sy Psalms. Neem byvoorbeeld Ps 139. Dawid skryf oor die Here se verhewe karaktertrekke – Sy alwetenheid, alomteenwoordigheid en almag. Maar hy doen dit nie in abstrakte terme soos mens dalk sou verwag nie; hy doen dit aan die hand van sy persoonlike ervaringe daarvan. Die Naam van die Here word 6 maal genoem; en persoonlike voornaamwoorde wat na Hom verwys ongeveer 30 keer. En na homself verwys Dawid 'n stuk of 50 keer. Dus, in Dawid se diepste godsdiensbelewinge is daar eintlik net twee betrokkenes – hyself, en die Here. Daarom praat hy nie van "Hy" nie, maar van "U"; nie van "mense" nie, maar van "ek".

            Luther: "Godsdiens en dissipelskap is 'n saak van persoonlike voornaamwoorde."

Om op te som

#          Die apostel bid hier vir twee soorte kennis:

            +          Een, hy bid vir 'n meer rasionele en objektiewe insig in die wonders van Christus se liefdeswerk. Hy bid vir insig in die Skrifopenbaring oor die Seun, vir 'n greep op die leerstuk oor Christus.

            +          Twee, hy bid vir 'n praktiese en subjektiewe ervaring van hierdie liefde, en vir 'n radikale uitlewing van die implikasies daarvan.

 

#          Twee woorde vat dit saam: begrip en belewing

#          Kan jy voorts sien hoe innig en onlosmaaklik verbonde hierdie twee soorte kennis

van Christus en Sy liefde is? Dis soos 'n Siamese tweeling.

            +          Enersyds, sonder behoorlike begrip van Christus se persoon en werk, verval ons in 'n subjektivistiese, selfs mistieke ervaringsbeheptheid. Die gevolg is meermale 'n Godonterende emosionalisme en selfmisleiding. Ons maak onsself allerlei dinge wys wat gewoon nie Bybels en waar is nie. Nee, ons belewinge – en ons hoef nie vir emosie op sigself bang te wees nie, inteendeel – moet altyd gewortel wees in 'n waarheidsbegrip van God se Woord.

            Dis waarom Paulus bid vir 'n deeglike verstaan van Christus se liefde – vir begrip.

            +          Andersyds, sonder die praktiese en emosionele belewing van 'n mens se geloof, verval jy gou in 'n koue intellektualisme, 'n dooie regsinnigheid en 'n hooghartige hiperortodoksie.

            Dis waarom Paulus bid vir 'n liefdesverhouding met die Here Jesus – vir belewing.

Laat ons in die najaging van hierdie tweeledige kennis van Christus steeds onthou:

1.         Eerstens is ons groei daarin 'n genadewerk van ons hemelse Vader

Dis waarom Paulus hier bíd, en nie bloot die Efesiërs beveel om dit te beoefen nie. En as ons ernstig en opreg hiervoor bid, kan ons verwag om dit al hoe meer te kry, want niks behaag die Vader méér as dat Sy Seun in Sy kinders se lewens verheerlik word nie.

2.         Tweedens is dit die Heilige Gees wat dit in ons bewerkstellig

Laat ons Hom nie hierin misken nie.

3.         Derdens openbaar die Here Homself net aan nederige, kinderlike en diep afhanklike geloof (Matt 11:25-30)

Hooghartige beterweterigheid sal niks vorder nie. Kieskeurigheid is tot mislukking gedoem.

4.         Vierdens is die kennis van die Here nie vir terloopse en dubbelhartige soekers nie

Dis iets wat mens doelgerig, gedissiplineerd en volhardend moet "najaag" (Hos 6:3, OAV).

         Só stel Jeremia dit: "En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart" (29:13, OAV).

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev