PDF-WEERGAWE

Video-opname:       1.  https://tinyurl.com/mknyxt58   2.  https://tinyurl.com/2s4behpy

                                 3.  https://tinyurl.com/4c5nm8zu

 

In sy standaardkommentaar oor Openbaring, begin G.K. Beale met hierdie paragraaf:

            "One of the great tragedies in the church in our day is how Revelation has been so narrowly and incorrectly interpreted with an obsessive focus on the future end time, with the result that we have missed the fact that it contains many profound truths and encouragements concerning Christian life and discipleship. The prophetic visions of Revelation can easily disguise the point that it was written as a letter to the churches, and a letter which is pastoral in nature. The goal of Revelation is to bring encouragement to believers of all ages that God is working out His purposes even in the midst of tragedy, suffering, and apparent Satanic domination. It is the Bible’s battle cry of victory, for in it, more than anywhere else in the NT, is revealed the final victory of God over all the forces of evil. As such, it is an encouragement to God’s people to persevere in the assurance that their final reward is certain and to worship and glorify God despite trials and despite temptations to march to the world’s drumbeat." [1]

            Ons sal geselekteerd na hierdie laaste boek van die Bybel kyk. Die aanslag sal wees om direk vanuit die teks te werk.

            As afskop kyk ons na Op 1:1-3. In die proses sal ons van die noodsaaklikste sleutels vind om hierdie laaste Bybelboek reg te verstaan.

Die boek adem die Ou Testament.

Dit word beraam dat so veel soos 278 van Openbaring se 404 verse Ou Testamentiese verwysings bevat, en dat daar na skatting meer as 500 sinspelings daarin onderskei kan word. Om dit in perspektief te stel, Paulus se briewe bevat minder as 200 daarvan.

            Hierdie skattings word duidelik bevestig as mens na die 2020 se voetnotas kyk. Dit bevestig die harmonie tussen die twee testamente, en wedersydse onderstreping van goddelike inspirasie. Kennelik was Johannes deurdrenk van die Ou Testament.

            Hierdie is een van die hoofsleutels om Openbaring te verstaan.

            Bowenal moet mens die wonderlike geïntegreerdheid van God se raadsplan raaksien en vashou. Openbaring is 'n voortsetting – inderdaad die kroonstuk – van die Ou Testamentiese profesieë, in die besonder die apokaliptiese gedeeltes soos in Esegiël, Daniël en Sagaria.

            God se plan is inderdaad 'n ewige plan!

 

Die openbaringsproses

#          Vers 1. Bekendstelling van die Skrywer

Hier word die openbaringsproses beskryf: vanaf die Outeur tot die geadresseerdes.

            +          Oor hierdie proses word meer vir ons gesê as in enige ander boek in die Bybel. Daar was 5 partye betrokke. "God" self is die bron, die oorsprong daarvan. Die eerste ontvanger is "Jesus Christus". Die openbaring word dan aan 'n "engel" toevertrou, wat dit op sy beurt aan Johannes duidelik maak.[2] Die apostel gee dit dan uiteindelik deur aan die Here se "diensknegte", oftewel die liggaam van Christus.

#          Vers 2-3.

Hier in v.2 sê Johannes hoe hy die openbaring ontvang het, en wat hy nou daarmee gaan doen. Verder sê hy in v.3 hoe dit uiteindelik oorgedra moet word – dit moet voorgelees word. Dat sal dit seën vir die hoorders inhou – indien hulle erns daarmee maak.

            +          As Johannes oor die "woord van God" en "getuienis deur Jesus Christus" praat (m.a.w. oor hierdie openbaring in ons boek) – dit wat hy "gesien" het – "getuig" hy, en doen hy dit op 'n besondere wyse. Só gewigtig is dit dat dit neergeskryf moes word. In die vergetelheid moes dit nooit raak dit nie. Die Here se diensknegte moet "dit wat daarin geskryf staan" immers kan lees en voorlees – weer en weer – sodat hulle dit kan "vashou".

            Waarom word gesê dat iemand dit moet "voorlees". Ek kan aan twee redes dink. Eerstens was daar waarskynlik by 'n samekoms net een kopie beskikbaar (dit was voor die boekdrukkuns).

            Tweedens was die boodskap só belangrik dat almal dit moes hoor, selfs die eenvoudiges, ongeletterdes en kinders – waarvan daar destyd baie was.

           

Die begrip "openbaring" (v.1)

#          Grieks: 'n onthulling, 'n ontbloting, 'n openbaring. Die gedagte is die verwydering van 'n sluier of bedekking om wat agter dit is bloot te lê.

            Ons moet egter nie dink in terme van die moderne verstaan van die woord nie. Tweeduisend jaar gelede het dit verwys na 'n openbaarmaking van onsigbare realiteite en

voorstuwende kragte wat verantwoordelik is vir waarneembare historiese gebeure.[3]

            Hierdie is die heel eerste woord van die Bybelboek. En direk daarna volg "van Jesus Christus". Openbaring is dus Godgesenteerd en in die besonder Christosgefokus! Wie dit miskyk, mis die hart van die boodskap.

           

#          Daar is ook ander literatuursoorte in ons boek, maar apokaliptiek is die beheersende. Uiteraard moet apokaliptiek op 'n eie manier vertolk word. Hieraan gee ons meer aandag hieronder, want as jy mistas, verstaan jy die boodskap noodwendig verkeerd.

#          Niemand wil voorgee dat ons boek maklik is om te verstaan nie, maar as mens eenmaal die apokaliptiese manier van skryf begryp en aanvaar, is dit 'n baie groot hulp. Vir die mense van destyds was dit uiteraard baie makliker as vir ons, want, ánders as ons, was dit nie vreemd vir hulle nie.

Die begrip "om te toon" (v.1)

#          Grieks: om te wys, te vertoon, te demonstreer, bekend te maak, te simboliseer, 'n sein of teken te gee.

            Hierdie begrip hang duidelik nóú saam met die gedagte van openbaring, en werp meer lig daarop. As sodanig moet ons die twee begrippe saam verreken.

            Veral by Johannes dra dit tipies die verdere inhoud: Om spesifiek 'n goddelike openbaring te kommunikeer deur visioene of gesigte.[4] Hier dui dit op die wyse waarop Johannes die boodskap van hierdie boek aan die Here se diensknegte deurgee.

            +          Betekenisvol is dat Jesus se wonderwerke en uitdrywing van demone onder meer "tekens" genoem word. Natuurlik was dit praktiese uitdrukkings van sy liefdevolle barmhartigheid, maar in 'n baie besondere sin was dit demostrasies van sy goddelike sending, krag en gesag as Messias. Dit was dus ook – dalk in die eerste plek – van simboliese betekenis.

            Dis het sekerlik ook gegeld vir die apostoliese tekens wat sou kom; trouens, selfs die twee-en-sewentig het dit ervaar toe hulle uitgestuur is (Luk 10).

#          Vers 1 is waarskynlik 'n sinspeling op Dan 2:28-29, 45 – waar die idee van simbolisering ook duidelik voorop is.[5] En kennelik is dit ook hier in Op 1:1 hoe ons die woord in die eerste instansie moet verstaan, omdat dit presies is hóé God oorwegend in Openbaring sy boodskap deurgee – aan die hand van simbole.

            Per slot van rekening sê Johannes nie dat hy die openbaring gehoor het nie, maar dat hy dit "gesien" het (v.2). In Openbaring word dit, so word gesê deur iemand wat getel het, 52x genoem dat Johannes "gesien" het.

Die begrip "om duidelik te maak"

#          Grieks: Om te wys, te demonstreer, te vertoon, bekend te maak.

            Die begrip wys op die manier waarop God die inhoud van hierdie openbaring aan die apostel gegee het. G.K. Beale maak baie daarvan – oortuigend – dat die idee van kommunikasie d.m.v. seine of simbole inderdaad hier voorop is.[6] Rienecker stem saam: "This word is characteristic of our author when it means to communicate a divine revelation by means of visions."

            Beale motiveer dit deur daarop te wys dat hierdie stelling van Johannes duidelik 'n sinspeling is op Dan 2. Daar handel dit oor Daniël wat meer as 500 jaar v.C. Nebukadnesar se visioen uitlê oor 'n groot beeld wat uit vier verskillende materiale bestaan – simbolies verteenwoordigend van die vier ryke: die Babiloniërs (605-539 v.C.); die Medo-Persiërs (539-331 v.C), die Grieke (331-63 v.C.), die Romeine (63 v.C.- 410 n.C.). Hierdie beeld word dan verbrysel deur 'n klip wat vanself losbreek sonder die toedoen van mensehande. Die klip word dan algaande 'n groot berg wat mettertyd die hele aarde sou vul.

            Dan gaan Daniël in v.44 voort om te verduidelik dat hierdie klip 'n koninkryk simboliseer wat deur God gevestig sou word – 'n koninkryk wat nooit vernietig sal word nie, maar tot in ewigheid sal standhou.

            Sonder enige twyfel wys dit op die koninkryk van God wat in Jesus Christus se regering hier op die aarde 'n werklikheid sou word.

#          Indien bogenoemde koppeling dan korrek is, beklemtoon dit dat Johannes doelbewus die bepaalde Griekse woord gebruik, sēmaimō, eerder as gnōridzō (om bekend te maak), ten einde te beklemtoon dat Openbaring veral simbolies verstaan moet word.

            Hierdie punt is belangrik, omdat dit baie populêr geraak het om Openbaring letterlik te lees, tensy 'n uitspraak onmiskenbaar simbolies vertolk moet word.

            Máár, die omgekeerde is waar: Openbaring moet simbolies vertolk word, tensy 'n letterlike verstaan onontkombaar is.

 

#          'n Simbool is iets wat nie lyk soos dit wat dit verteenwoordig nie. Maar tog spreek dit van wat dit verteenwoordig. 'n Goeie simbool probeer die essensie vasvat van dit wat dit verteenwoordig.

 

'n Klompie opmerkings op hierdie stadium

#          Weliswaar is dit nie 'n maklike boek om te verstaan nie. Dit verg diepgaande studie. Dis nie melkkos nie.

            Máár: Dis 'n openbaring vir ál Christus se dissipels! Die Here het die boek allermins gegee om sy dissipels die skrik op die lyf te jaag – dis gegee om hulle te bemoedig en toe te rus met onderskeidingsvermoë.

            Let op God se doel met die Openbaringboek: Hy het dit gegee "om aan sy diensknegte te toon ... " (v.1). Die veronderstelling is dat alle gelowiges, álmal, die boodskap sal verstaan – in elk geval dat dit aan hulle geleer moet word.

#          Drie kwalifikasies is egter nodig:

            +          Een, die Here werk middellik. Laat ons in ons soeke na begrip nie sy genademiddele vergeet nie. Laat ons die belangrikheid van gedissiplineerde gebed, volhardende omgang met die Woord, inspannende studie, die bediening deur betroubare herders en leraars, en die noodsaak van die Heilige Gees se verligtende werk nie buite rekening laat nie.

            +          Twee, die diep waarhede van God se Woord en weë bly verskuild vir die luies, die nonchalantes, die ongedissiplineerdes, die beterweters, en die Geesbedroewers.

            Geloof wat vrugdra is 'n gedissiplineerde geloof!

            +          Drie, om te groei in God se Woord, wil en weë, is 'n lewenslange roeping. Dit veronderstel tydsverloop. En soos dit gaan met bergklim, is die laaste deel van die pad dikwels die steilste. Máár terselfdertyd word die uitsig al hoe meer asemrowend.

#          Wat Johannes sien, lê meermale nie op die oppervlak nie; hy sien dieper. Hy sien dan nie soos 'n mens sien nie; hy sien soos die Here sien – die wáre karakter van die besondere voorwerp of onderwerp; nie hoe dit uiterlik voorkom nie.

            Neem byvoorbeeld die gemeentes in Klein-Asië: Smirna lyk arm, maar is in werklikheid ryk (2:9). Sardis is bekend daarvoor dat hy lewe, maar is in werklikheid dood (3:1). Laodisea dink selfvoldaan dat hy aan niks gebrek het nie, maar is in werklikheid ellendig (3:17). Dus, nie mense se beoordeling nie, maar die Here s'n – dis wat tel.

            Nog 'n voorbeeld: Die "dier" lyk onoorwinbaar, in staat om die heiliges maklik te oorwin, maar omdat hulle getrou tot die dood toe is, oorwin hulle triomfantelik teen sy aanslae (11:7; 13:7). Wat die mense-oog sien, is swakheid, naaktheid, armoede – maar tog is diegene wat verenig is met die Leeu – wat soos en as 'n Lam geseëvier het – die onfeilbare oorwinnaars.

            Anders as wat hulle lyk, openbaar die simbole in Openbaring dinge soos hulle werklik is. In Openbaring geld dit by uitstek die ware identiteit van die bruidskerk, en haar vyand, en  haar Bruidegom.

#          In Openbaring het getalle tipies simboliese betekenis.

#          Om die leser (eintlik kyker) te help, onthul Openbaring in enkele gevalle wel wat party simbole verteenwoordig. "Dit is die misterie wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue kandelare: Die sewe sterre is die sewe boodskappers van die sewe gemeentes, en die sewe kandelare is die sewe gemeentes" (1:20). Ensovoorts (vgl. 17:9-10,18; 19:8; 20:2).

#          Maar as die simbole nie só verklaar word nie, is die groot probleem daarmee dat hulle op verskillende maniere verstaan kan word. Wat is dus die regte vertolking? Dit is daarom nodig om die presiese punt van die vergelyking vas te vat.

            Daar is net een antwoord – dit wat die Here Jesus aan sy luisteraars na aanleiding van die gelykenis van die saaier sê: "Laat die wat ore het, luister" (Luk 8:8). En vir die leser van Openbaring is dit ewe waar. Dit word onderstreep deur die oor en oor herhaling van dieselfde formule in Openbaring: "Laat die wat ore het, luister wat die Gees aan die gemeentes sê" (2:7; vgl. ook 2:11, 17, 29; 3:6, 13, 22; 13:9).

            Deur na Jes 6:9-10 te verwys, werp die Here Jesus in Luk 8 meer lig hierop. Nie alle mense kan die dieper waarhede wat God openbaar verstaan nie. Dis net vir diegene wat "het". Wat hét hulle? Die antwoord is in v.8: hulle het "ore" — ore wat kan "hoor" (v.8). Hierdie vermoë om te kan hoor, is 'n genadegawe — dis aan hulle "gegee" (v.10). En wat hoor hulle met hierdie bonatuurlike ore? Hulle hoor "die geheime van die koninkryk"!

            In 1Kor 2:6-16 word verduidelik dat dit die Gees is wat hierdie innerlike verligting gee.

            Die implikasie hiervan is onontkombaar: Soos met alles in die Woord, sal die Heilige Gees ook die nodige verligting gee om die simbole te verstaan, wanneer en soos nodig.

            Hierdie is 'n algemene waarheid wat Jesus baie, baie sterk by Sy luisteraars wou tuisbring. Die Grieks van Luk 8:8 sê dat Hy herhaaldelik uitgeroep het: "Wie ore het en kan hoor, moet luister!" [7]

'n Sleutel om die boek te verstaan

#          In v.3 word gesê waarom dit belangrik is om die boodskap van hierdie boek vas te hou: "want die bestemde tyd is naby" (v.3). Dit sou "binnekort" gebeur (v.1)

            Bevestigend van die dringendheid is die drievoudige versekering reg aan die einde in 22: 7, 12, 20: "Kyk, Ek kom gou!". Dit word selfs gesuggereer in 1:8: "Kyk, Hy kom ..."

            Hier het ons 'n belangrike sleutel wat help om Openbaring oop te sluit – hoe ons dit moet lees en verstaan.

            Dit word verder onontkombaar duidelik in die feit dat sewe bekende en bestaande gemeentes van daardie tyd die geadresserdes is (1:4, 11 & h.2-3).

            'n Vertolking wat Openbaring nét lees as 'n beskrywing van die heel laaste tyd, direk voor Christus se koms, sneuwel alreeds hier aan die begin.[8]

#          Máár, om met die vorige paragraaf te volstaan, mis óók die punt. Dit word alreeds in die sleutelvers, 1:19, duidelik: "Skryf dan op wat jy gesien het, wat daar is, én wat hierna gaan gebeur." Verdere bevestiging kry mens in 4:1: "Hierna het ek gesien, en kyk, 'n deur wat in die hemel geopen is, en die stem ... het gesê: 'Kom op hierheen, en Ek sal aan jou wys wat hierna moet gebeur.'"

            Voorts word daar meermale – dwarsdeur die boek, nie net aan die einde nie – beskrywings gewy aan die einde van hierdie bedeling. Trouens, lees mens aandagtig, sien jy 'n patroon na vore kom: Keer op keer word die hele bedeling tussen Christus se eerste, en sy wederkoms beskryf.

            Dat die hele bedeling tussen eerste en wederkoms gedek word, word byvoorbeeld duidelik gesien in hoofstukke 12-14 (wat één stofblok is). Dit begin onmiskenbaar duidelik by die eerste koms van Christus in hoofstuk 12 (die geboorte van 'n manlike kind, bestem om al die nasies ... te regeer), en eindig in hoofstuk 14 met die wederkoms van Christus en die finale oordeel oor Christus se vyande (14:14vv).

            Maar daar is nóg meer: Vergelyk mens die opeenvolgende visioene wat die laaste dae van die begin tot die einde beskryf, vind jy algaande 'n toenemde intensiteit en progressie, asook 'n sterker klem op die einde van hierdie bedeling. So is die aandag aan die begin sterk gefokus op die kerk van destyds. Maar teen die einde van die boek word omtrent alle aandag gegee aan die einde van die bedeling en dit waarin dit uitmond.

            'n Vertolking wat Openbaring lees as dat dit uitsluitlik of selfs grootliks betrekking het op die situasie destyds – dus as bloot aktueel vir die sewe gemeentes van daardie tyd – kom dus óók nie die mas op nie.[9]

 

Die uitleg of struktuur van Openbaring

#          In die literatuur vind mens talle voorstelle oor die struktuur – baie daarvan bloot 'n poging om onderstaande uiteensetting te verfyn. Die struktuur wat William Hendriksen (1900-1882) in sy klassieke kommentaar voorstel[10] (1940), is baie bekend en word

algemeen aanvaar.[11]

            Dit is dan ook waarmee hieronder gewerk word.

0 0 0 0

                        Inleiding: Oorsprong en belangrikheid van die boek (1:1-3)

            H. 1–3             Skildery 1: Inleiding & Die sewe gemeentes

            H. 4–7             Skildery 2: Die sewe seëls

            H. 8–11           Skildery 3: Die sewe trompette van oordeel

            H.12–14          Skildery 4: Die sewe jaar van lyding: Die vervolging van die vrou en haar kind deur die draak en die twee diere

            H. 15–16         Skildery 5: Die sewe bakke van toorn

            H. 17–19         Skildery 6: Die oorwinning en bruilofsfees van die Lam en oordeel oor sy vyande.

            H. 20–22         Skildery 7: Binding van die Duiwel; hemelse heerskappy van die heiliges deur hierdie bedeling; die heerlikheid hierna & Slot

                        Slot: Dringendheid en beloftes (22:6-22:21).

0 0 0 0

#          Om te herhaal: Tussen die die Inleiding en die Slot is daar 7 skilderye of tafereels wat elkeen die laaste dae bestryk. Elkeen bied dus 'n blik op die héle bedeling tussen Christus se eerste koms, en sy wederkoms. Daar is wel 2 verskille tussen hierdie skilderye:

            +          Een, elkeen bied sig vanuit 'n ander hoek – met 'n ander klem.

            +          Twee, daar is algaande 'n progressie van skildery tot skildery.

                        =          Die eerste fokus grootliks op die kontemporêre toneel, die 7 gemeentes in Klein-Asië, met hulle worstelinge om getrou te bly – helaas nie altyd suksesvol nie. Uiteraard is elke brief ter sake vir elke gemeente dwarsdeur die eeue. Maar in elkeen is daar óók 'n belofte oor die uiteindelike loon aan die "oorwinnaars" aan die einde van die tyd (2:7, 11, 17; 26-29; 3:5-6, 11-13, 21-22).

                        =          In skilderye 2-6 word weer en weer, op verskillende maniere, gewaarsku dat hierdie bedeling klimakties uitloop op die wederkoms van Christus, maar ook op die finale oordeel (6:17; 11:18-19; 14:14-20; 11:18-21; 19:11-21).

                        =          Uiteindelik fokus skildery 7 kortliks op die binding van Satan in hierdie bedeling, en die regering deur die heiliges in die tussentoestand in díé tyd, maar loop dan klimakties uit in 'n asemrowende vista op die finale en ewige triomf van Jesus Christus en die ewige heerlikheid van sy bruid.[12] Maar selfs in hierdie wonderlike gedeelte word die duiwel en diegene wat voor sy verleidinge geswig het se finale oordeel beskryf (20:9-15).

#          Voorts kan die 7 skilderye in twee groepe verdeel word:

            In die eerste drie (h.1–11) is die stryd tussen mense, oftewel tussen gelowiges en ongelowiges: Die wêreld val die kerk aan, maar die kerk word beskerm; en word trouens bekragtig om oorwinnend te wees.

            Maar dan fokus die volgende vier (h.12-22) op die feit dat die eerste drie 'n dieper oorsprong het: Eintlik is Satan se agressie teen Christus gerig, maar omdat hy magteloos is teen die Hoof, fokus hy in sy frustrasie en woede sy op die liggaam van Christus.

           

#          Dis egter belangrik om vas te hou dat die tydsraamwerk keer op keer tot 'n mindere of meerdere mate die hele kerkgeskiedenis bestryk.

            Die boodskap en is dus van toepassing op elke geslag en húlle omstandighede deur die eeue. Hoewel die boek geadresseer is aan die gemeentes van destyds, is dit nét so aktueel vir die kerk van alle tye, en dus ook vir óns (soos vir gelowiges deur alle eeue).

Die visioen van Christus (1:9-20)

Johannes se opdrag

#          Volgens v.17, waarin die die Here Jesus Christus Homself "die Eerste en die Laaste" noem, is dit duidelik dat die afsluiting van die voorafgaande gedeelte (v.8) ook sy woorde is. Maar vanaf v.9 begin Johannes self praat. Hy vertel van sy ervaring.

            Let op die nederigheid en liefdevolle wyse waarmee hy homself aan die woord stel (v.9): "... julle broer en 'n deelgenoot in die verdrukking, en in die koninkryk, en in die volharding in ons verhouding met Jesus ...".

            Hy skryf dan dat hy op die eiland Patmos was "... op grond van die ... die getuienis van Jesus." Op een of ander wyse was dit dus as gevolg van sy getrouheid aan Christus en sy gevolglike ballingskap.

#          Die onbeskryflike ervaring wat sou lei tot hierdie laaste boek van die Bybel, vind op "die dag van die Here" plaas. Dit was die dag waarop Jesus Christus uit die dood opgestaan het – as 't ware die historiese beginpunt van die nuwe bedeling. As sodanig was dit die finale deurbraak van die nuwe bedeling in God se raadsplan – die "laaste dae".

            Die vroeë kerk het die gewigtigheid daarvan begryp, en gevolglik opgehou om die Sabbat af te sonder vir die Here, en die "Sondag" begin gebruik vir die aanbidding van God.

#          Aangrypend beskryf William Hendriksen hierdie ervaring van Johannes vanaf v.10: "Suddenly the earth seems to sink away under his feet, and his soul seems to be liberated from the shacles of time and space. He is taken out of contact with the physical world around him: "He is in the Spirit ... He is alone with God! He is wide awake and every avenue of his soul is wide open to the direct communication coming from God" (p.55).

#          Dan hoor Johannes 'n harde stem soos die van 'n "basuin".

            In die Ou Testament is dít hoe God die volk saamgeroep het as Hy iets baie belangrik aan hulle wou sê (Eks 19:16,19; Lev 25:9; Jos 6:5; Jes 58:1 ens.).

            Dít is dan die opdrag wat Johannes nou kry: "Skryf wat jy sien, in 'n boekrol op, en stuur dit aan die sewe gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatire, Sardis, Filadelfia en Laodisea" (v.11).

Die Seun van die mens (v.12-16)

#          As die apostel omdraai, sien hy "sewe goue kandelare" – en in die middel daarvan "iemand net soos die Seun van die mens" (v.12-13a).

#          In die volgende verse, beskryf hy dan wat hy sien (v.13b-16).

            +          Hy het 'n kleed aan wat tot op sy voete hang, met 'n goue band om sy bors. Dis die vorstelike drag van 'n koning (v.13b).

            +          Sy hare is spierwit, soos wol, soos sneeu (v.14a).

            +          Sy oë is soos 'n vlammende vuur (v.14b).

            +          Sy voete is soos gloeiende koper in 'n baie warm oond (v.15a).

            +          Sy magtige stem is soos die geruis van vloedende stormwater (v.15b).

            +          In sy regterhand hou Hy sewe sterre vas (v.16a).

            +          Uit sy mond kom 'n twee-snydende swaard (v.16b).

            +          Sy gesig is soos die somerson in die middel van die dag (v.16c).

#          Hendriksen wys dan daarop dat mens nie in elkeen van hierdie sewe beelde 'n betekenis moet probeer inlees nie. Dis nie hoe mens met apokaliptiek moet omgaan nie.

            Die geheelbeeld skets Jesus Christus, die Heilige, wat enersyds sy gemeente suiwer, en andersyds sy vyande, die vervolgers van sy gemeente, veroordeel en verslaan.

            +          Mens kan jou op 'n manier hierdie oorweldigende geheel-gesig bedink. Maar oor die swaard wat uit die Here se mond kom, wonder mens tog. Jou eerste gedagte is aan die swaard van die gees, waarvan Ef 6:17 sê dat dit God se "woord" is. Kyk mens egter na die res van die Openbaringboek, sien jy dis níé wat hier bedoel word nie.

            Die sleutel is in Op 2:15, waar dit dui op 'n swaard van aanval en oordeel teen die dwaling van die Nikolaïete wat in die gemeente van Pergamus kop uitgesteek het. Dit was mense wat in die vrymaking van die evangelie 'n paspoort gesien het tot 'n losbandige lewenstyl; oftewel 'n geringskatting van die noodsaak van 'n heilige lewe.

            Die swaard uit die Here se mond wys dus op sy oordeel oor dwaalleer en sonde.

Die effek van die gesig op Johannes (v.17-20)

#          As Johannes hierdie gesig sien, val hy soos 'n dooie neer. Sy reaksie is tipies wanneer 'n Godsverskyning aan 'n mens plaasvind. Weer en weer het dit deur die eeue se

Bybelgeskiedenis gebeur.

            Maar die doel is nie om vrees by die apostel te wek nie, maar om hom te vertroos en te bemoedig: "Hou op om bang te wees".

            Dan word Johannes verseker dis die opgestane Here Jesus Christus wat met hom praat – Hy wat vir ewig leef, en "die sleutels van die dood en van Hades" dra (v.18).

            Wat 'n onuitspreeklike voorreg: Sy, ja Sy regterhand op jou skouer, terwyl Hy met jou praat – onbedinkbaar! (v.17).

            +          Laasgenoemde aanspraak sê dat Hy, en Hy alléén, die soewereine bepaler is van elke mens se heengaan – die wanneer, die hoe, en die waarheen.

#          Die apostel kry dan 'n opdrag: Hy moet "skryf"! Wat moet hy skryf?

            Die antwoord wat hy kry, is een van die sleutels wat die boek oopsluit. Hy gaan openbaring ontvang oor dit wat "is", en dit wat vorentoe "gaan gebeur"; dus huidige dinge en toekomstige dinge.

#          Dit gebeur nie dikwels dat die beeldspraak wat dwarsdeur die boek voorkom, verduidelik word nie. Maar in v.20 gebeur dit wel.

            +          Die "sewe sterre" in die Here Jesus se "regterhand", is die "boodskappers" van die "sewe gemeentes" (v.11) wat die eerste ontvangers van die Openbaring sou wees.

                        =          Wie is die "boodskappers"? Die bepaalde woord (Gr. angelos) kom van die Griekse werkwoord: Om 'n boodskap af te lewer (angellō). Dit verwys gewoonlik in die Skrif na die hemelwesens, die engele, wat God se boodskappers is. Maar hier is die 2020 waarskynlik reg deur dit eerder te vertaal met "boodskappers".

            Hoewel daar verskil van opinie is oor waarop hier gewys word, is die meerderheidsopinie dat dit na die gereelde prediker of predikers in die onderskeie gemeentes verwys. Só kan ons dit aanvaar.

Slot

#          Die boek Openbaring is 'n handboek vir geestelike oorlogvoering!

            Dit wil die lesers toerus vir en bemoedig in die stryd deur die aard en uitkoms van die oorlog te beskryf. Dit wil hulle toerus met geloof en moed tydens hierdie konflik wat dag in en dag uit heers – teen oënskynlik onoorkombare teenstand en uitdagings.

            Veral vanaf h.12 word beklemtoon dat die éíntlike oorlog in hemelse sfere geveg word, deur niemand minder nie as Jesus Christus self. Eintlik het Hy In die stryd alreeds die oorwinning behaal; ons is bloot onder sy bevel. Ons is as 't ware die besettingsleër.

            Openbaring wil ons dus bemoedig en op die voorvoet hou!

#          Wat mens oor die toekoms glo is 'n weerspieëling van wat jy oor die verlede glo.

            Sou die stryd van Armageddon nog in die toekoms geveg moes word, dan was Christus se oorwinning oor Satan aan die kruis nie finaal nie – en sou dit ons huidige rol in die stryd ingrypend verander het. Dan was ons nie 'n seëvierende weermag wat inneem en beslag lê nie, maar 'n steeds vegtende leër wat alles in die stryd moet werp vir die oorwinning. Dan moes ons nog verower.

            +          Nee, dis soos Israel se inname van die Beloofde Land. Dit het alreeds aan die Here God behoort. Dit was reeds die Israeliete se erfporsie; hulle moes dit net beset.

            Al wat van hulle vereis is, was gehoorsaamheid, vertroue en moed.

            +          Dit is hoe ons óns geestelike oorlogvoering moet sien. Dis níé om nog die koninkryk te verower nie. Ja-ja, die styd kan intens wees. Dit verg dikwels ons alles.

            Maar ons veg vanuit oorwinning; nie vir oorwinning nie! Ons is op die voorvoet!

                        =          'n Bekende illustrasie: Van die bloedigste gevegte van die Tweede wêreldoorlog het tydens en ná die geällieerdes se besetting van Normandië se strande op 6 Junie 1944 plaasgevind. Dit word beraam dat hulle net op daardie D-Dag 10000 soldate verloor het (die Nazi's se verliese was na beraming tussen 4000 en 9000). Máár die skrif was aan die muur vir Duitsland. Almal het van toe af geweet wie die oorlog sou wen. Die geällieerdes was onkeerbaar op die voorvoet. Daar was net één pad – vorentoe, Berlyn toe!

            Máár dit het nog 11 maande van bloedige gevegte geverg (V-dag was eers 8 Mei 1945 – 11 maande later).

#          Dít is hoe ons ons stryd moet sien. Ons roeping is nie om te verower nie, maar om te beset – en om dan vas te staan.[13] Om die koninkryk in besit te neem, is om ons groot Oorwinnaar en Aanvoeder se gebied af te steek; nie om dit te verdedig nie.

            En algaande word ons besettingsmag vergroot deur diegene wat voor die grondlegging van die aarde aan die Seun deur die Vader toevertrou is, uit hulle krygsgevangenekampe te ontset. Dis 'n moeisame proses, want dit gebeur kop vir kop. Maar een en elkeen móét en sal bevry word. Vir niemand het Christus tevergeefs betaal nie.

Ons vyand is 'n onregmatige besetter

van die nasies en hierdie aarde.

Máár hy is 'n alreeds-oorwonne vyand.

Laat ons dus lewe soos mense wat dit waarlik glo.

Jesus Christus is intiem-persoonlik in elke ware gemeente se midde!

Dít is ten diepste die boodskap van die Openbaringboek!

-o0o-

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           Beale, G.K.; Campbell, David: Revelation – A Shorter Commentary; Eerdmans, 2015; p.1.

[2]           Fritz Rienecker: A Linguistic Key to the Greek New Testament; Regency; 1976).

Letterlik sê die Grieks dat die engel gestuur is as 'n gesagvolle verteenwoordiger van die sender op 'n spesifieke missie.

[3]           Dennis E. Johnson: Triumph of the Lamb – A Commentary on Revelation; P&R Publishing; 2001. p.2.ik

[4]           Rienecker.

[5]           Vir 'n uitgebreide motivering vir hierdie koppeling met Dan 2, sien Beale, p.35-36.

[6]           Beale, p.10-13.

[7]           Gr. imperfektum.

[8]           Die "Futurisme".

[9]           Die "Preterisme".

[10]         William Hendriksen: More than Conquerors; Baker; 1985

[11]         Voor hom was daar uiteraard ander wat hierdie struktuur voorgestaan het – onder meer die gevierde B.B. Warfield – maar Hendriksen s'n het algemeen bekend geraak.

[12]         Die voorneme is om vorentoe heelwat meer aandag aan hoofstukke 20–22 te gee.

[13]         Ex 14:13; 2Chr 20:17; Dan 11:32; 1Cor 16:13; 2Cor 1:24; Gal 5:1; Eph 6:13; Php 4:1; 2Th 2:15; 1Pet 5:12.