PDF-WEERGAWE

Video-opnames:     (1)  https://tinyurl.com/37r96bs3  (2)  https://tinyurl.com/2p9hc8fh

                                 (3)  https://tinyurl.com/m6j2kvjt

 

Dis verstommend hoeveel Christene hulle beswaarlik steur aan die Nuwe Testamentiese openbaring oor die kerk.  Hoe min verstaan regtig waarom dit gaan in die gemeente[1] en wat sy grootse roeping is in die uitwerk van God se raadsplan. Wat het tog geword van die hartstog dat die kerk waarlik kerk sal wees!

            Daar is seker min Skrifgedeeltes wat meteen meer bekend én meer verwaarloos is, as die sewe briewe in Op 2-3. Elke brief regverdig uiteraard 'n dieptestudie, maar daar sit ook waarde in 'n oorsigtelike benadering ten einde die gesamentlike boodskap van die briewe te bekyk – soos ons nou gaan doen.

Sewe fasette van die kerk

#          Die boek is geadresseer aan sewe spesifieke gemeentes in Klein-Asië (1:4). Hulle word in die eerste instansie aangespreek.

            Die gemeentes is almal in Klein-Asië (die westekant van moderne Turkye) – binne 'n straal van 160km van Efese, die moedergemeente.

            Tog is die volheidsgetal, sewe, betekenisvol. Dit dui daarop dat hierdie gemeentes as 't ware die kerk van die hele bedeling tussen die eerste koms van Christus en Sy wederkoms verteenwoordig. Ons het hier sewe fasette van die universele kerk. Elkeen was keer op keer maar weer, tot 'n mindere of meerdere mate, sigbaar in die wêreldwye kerk deur die eeue.

            +          Ons kan dus sê dat die briewe 'n tweeledige doel het. Dit is uiteraard tipies van die Openbaringboek.

                        =          Elke brief het 'n spesifieke boodskap aan 'n spesifieke gemeente. Al sewe was immers regtige gemeentes wat uit lewende mense bestaan het. En hierdie Christene het, soos ons, ook hulle vreugdes en hartseer, hulle suksesse en mislukkings geken.

                        =          Daarbenewens bevat elke brief tydlose waarhede aan die kerk as geheel, ongeag plek of tyd. Daar is nie verniet 7 briewe nie. Dis 'n volheidsgetal en spreek tot die kerk van al die eeue.

 

#          In hierdie briewe vind mens dus die wel en wee van die kerkgeskiedenis in embrionale vorm.

            Enersyds is daar die tragiese, die skandelike, die sonde en mislukkings.

            Andersyds is daar die triomfe, die heroïese getrouheid, die onwrikbare volharding.

          Die waarskuwings is dus gerig teen die tipiese gevare wat oor die eeue eintlik nie veel verander het nie. Hier is raad vir elke krisis, troos in elke beproewing, bemoediging vir elke desperate moment.

            Dis liefdesbriewe hierdie, uit die hart van die hemelse Bruidegom aan Sy geliefde bruidsgemeente, Sy pelgrimskerk deur die eeue.

#          As daar een ding is wat hierdie briewe tuisbring, dan is dit dat elke plaaslike gemeente van die allergrootste belang is vir die Here Jesus Christus. Per slot van rekening is elke brief 'n puntenerige ontleding van elkeen se toestand.

#          Dis sekerlik betekenisvol dat die beloftes vir getrouheid weer en weer in die res van die Openbaringboek na vore kom. Trouens, dit word meermale verder uitgebrei en verduidelik.[2]

            +          Openbaring 2:7  >  Op 22:2,14.

            +          Openbaring 2:11  >  Op 20:14.

            +          Openbaring 2:17  >  3:12; 14:1; 22:4; vgl. ook 19:12,13,16.

            +          Openbaring 2:28  >  22:16.

Struktuur van die briewe

#          Opvallend is dat die sewe briewe almal min of meer volgens dieselfde patroon geskryf is. Dit onderstreep die tipiese aard daarvan.

            Om te herhaal, daarmee word bedoel dat hierdie kommentaar deur die Hoof van die kerk nie nét betrekking het op alle kerke destyds nie; maar dat dit inderdaad boordevol betekenis is vir álle gemeentes wat in die volgende eeue sou volg, tot vandag toe.

            Die patroonmatigheid beklemtoon dat dit wat hier ter sprake is, dáárdie sake is wat régtig saakmaak in kerkwees. Dis nie sekondêre dinge wat aangespreek word nie, dinge waaroor kerkmense só dikwels 'n onheilige onheilige kabaal kan opskop.

 

Hierdie sewe briewe openbaar wat die Hoof van die kerk

ononderhandelbaar noodsaaklik vereis vir ware kerkwees;

wat Hy verag en veroordeel in 'n gemeente;

wat Hy gladnie as van primêre en essensiële belang ag nie.

Die konsekwente patroon van die briewe

#          Daar is wel mindere afwykings of kwalifikasies.

            +          In al sewe briewe is dit die verheerlikte Jesus Christus wat Homself elke keer op 'n ander manier tipeer – aan die hand van een van die beskrywings in hoofstuk 1. Elke keer belig dit 'n faset van Sy persoonlikheid, karakter of werk.

            +          Sonder uitsondering begin die briewe met die woorde: "Ek ken jou dade ...". Die Here weet presies wat in elke gemeente aangaan.

            +          Wat dan volg, wissel na gelang van elke gemeente se karakter en omstandighede. Tipies vind ons bemoediging, bestraffing en beoordeling.

            +          Elke brief eidig met 'n oproep om goed ag te slaan op wat die Gees vir die gemeentes sê.

            +          Elke brief dra 'n belofte. Belangrik is dat dit nét gegee word vir "wie oorwin"..

#          As illustrasie van die tipiese uitleg van die briewe kyk ons na die eerste brief.

            2:1a     Die adres: "Skryf aan die boodskapper van die gemeente in Efese".

            2:1b     Christus se self-bekendstelling: "Dit sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, en wat tussen die sewe goue kandelare rondbeweeg".

            2:2       Christus se aanmoediging: "Ek ken jou dade, jou inspanning en volharding, en weet dat jy slegte mense nie kan verdra nie".

            2:4.      Christus se veroordeling: "Maar ek hou dit teen jou dat jy jou eerste liefde versaak het".

            2:5.      Christus se waarskuwing: "Onthou dan waarvandaan jy uitgesak het en bekeer jou ...".

            2:7a.    Christus se oproep: "Laat die wat ore het luister na wat die Gees aan die gemeentes sê".

            2:7b.    Christus se belofte: "Aan wie oorwin, sal ek te ete gee van die boom van die lewe wat in God se paradys staan".

Uiters belangrike riglyne vir ware kerkwees

Dit waarop die Here 'n hoë premie plaas

#          Dis 'n eenvoudige oefening om deur die briewe te lees, ten einde vas te stel wat die Here dus as belangrik ag:

            +          Christelike liefde – teenoor die Drie-enige God, asook die medemens, veral broeders en susters in die geloof.

            +          Diensbaarheid en goeie werke.

            +          Geloof, geduld en volharding in 'n vyandiggesinde omgewing.

            +          Kompromielose leersuiwerheid en verwerping van valse leraars.

            +          Haat, vermyding en uitroeiing van sonde.

            +          Ywer vir die suiwerheid van die gemeente, asook die gepaardgaande dissipline en tug in diens daarvan.

            +          Getrouheid in die gemeente se roeping om die waarheidsevangelie uit te dra.

#          Laat daar geen illusies hieroor wees nie: Dít is waaroor dit in gemeente-wees gaan; dis wat die Here in Sy gemeentes wil sien. En dit geld ononderhandelbaar, ongeag van tyd, kultuur of omstandighede.

Dit wat die Here in 'n gemeente verag

#          Ewe duidelik kom in hierdie briewe na vore wat die Here in Sy gemeentes veroordeel – en waarteen ons steeds moet waak:

            +          Liefdeloosheid teenoor God en mens.

            +          Die duld van dwaalleer en diegene wat dit verkondig.

            +          Slap gemeentelike dissipline en verdraagsaamheid teenoor sowel sonde as sondaars in eie midde.

            +          Vormgodsdiens en geestelike louheid.

            +          Godsdienstige gearriveerdheid en selftevredenheid.

Dit wat die Here níé voorop stel nie; dit wat Hy trouens nie eers noem nie

#          Dis baie insiggewend en betekenisvol om te let op dit waarna die Here gladnie verwys nie. Sekerlik is dit redelik om af te lei dat Hy dit nie as van primêre belang ag nie.

            +          Lidmaatskapgetalle en -groei.

            +          Die gemeente se finansiële begroting en fasiliteite.

            +          Kwalifikasies en begaafdheid van personeel en voorgangers.

            +          Organisasie, programme, aktiwiteite, gesagstrukture.

            +          Betrokkenheid by plaaslike of nasionale politiek en kultuur.

            Hierdie lys kan uiteraard uitgebrei word.

Goddelike en menslike beoordeling

#          Drie gemeentes kry sowel waardering as kritiek: Efese (2:1-7); Pergamum (2:12-17); Tiatira (2:18-29)

            Twee van die gemeentes kry slegs goedkeurende waardering: Smirna (2:8-11) en Filadelfia (3:7-13).

            Daarenteen kry twee gemeentes nét kritiek en bestraffing. Sardis (3:1-6) en Laodisea (3:14-22).

            In Sardis is daar darem nog 'n paar wat heilig lewe (3:4).

            Laodisea is egter só ver heen dat dit onseker is of daar hoegenaamd nog diesulkes is (3:20). Daar is wel 'n klassieke evangelistiese uitnodiging.

#          As laasgenoemde vier briewe deurgewerk word, kom enkele baie betekenisvolle sake na die oppervlak. Dit ruk elkeen tot stilstand wat die kerk se hoë roeping verstaan, en die Here se eer op die hart dra.

            +          Die twee gemeentes wat slegs waardering kry is beide op die oog af maar sukkelaars.

            Smirna is armoedig en verdruk (2:9-10).

            Filadelfia het min krag (3:8).

            In terme van hedendaagse idees is beide eintlik mislukkings – máár van die Hoof van die kerk kry hulle net lof.

            +          Die twee gemeentes wat slegs kritiek kry is op die oog af modelle van sukses.

            Sardis het selfs buite sy eie kring 'n reputasie van lewe (3:1). Waarskynlik dui dit op allerlei aktiwiteite; op 'n vol program en 'n dik weeklikse bulletin.

            Laodisea is skatryk en reken dat hulle oor alles beskik wat 'n gemeente mag nodig hê (3:17).

            Vandag sou hierdie twee "modelle" as suksesvolle en bewonderingswaardige gemeentes geag word – maar Jesus Christus het nie 'n enkele goeie woord vir een van hulle nie!

Besef ons hoegenaamd tot watter mate

vandag se idees oor gemeentelike sukses en mislukking

verskil van Bybelse norme?

Dis absoluut belangrik dat elke gemeente homself voortdurend beoordeel in die lig van die Skrif. Sommige "mislukkings" mag dalk baie bemoedig anderkant uitkom. En party "suksesse" sal vir seker geskud word tot in hulle fondamente!

            Gestel jou gemeente moes vandag so 'n brief van die Hoof van die kerk ontvang, wat sou die inhoud wees?

            +          En laat ons maar versigtig wees om té vinnig met 'n opinie te kom oor hoe ons meen die Here Jesus ons beoordeel.

            'n Verdere waarneming toon hoe maklik dit is om die bal totaal mis te slaan as jy wel die kerk beoordeel. Tweemaal sien ons in hierdie briewe hoe menslike evaluering lynreg strydig is met Christus s'n.

            Buitestaanders reken dat Sardis lewe, maar die Here Jesus verklaar hulle dood (3:1)!

     Die gemeente in Laodisea klop hulleself op die skouer, maar die Here lewer vernietigende kritiek: hulle is "ellendig, bejammerenswaardig, brandarm, blind en naak" (3:17).

            Voorwaar is dit genade as 'n gemeente weier om sy ore uit te leen vir andere se lofsange en vleitaal – omdat hy weet hoe totaal onbetroubaar menslike opinie is. En baie, baie wys is die plaaslike kerk wat, diep bewus van sy geneigdheid tot selfbedrog, homself weer en weer biddend en met meedoënlose eerlikheid in die Woord van God spieël.

            Die Reformatoriese vaders het hierdie dinge verstaan. Vandaar hulle wekroep: Semper Reformanda! (Gedurige Reformasie).

Let noukeurig op:

Reformasie is nie om nuwe dinge te ontdek nie;

dis om eeue-oue dinge opnúút te ontdek.

Weer en weer terug na die Woord toedis ons enigste, maar absoluut betroubare norm.

Hy wat God nie gereeld dank vir die ewig-vasstaande, universeel-gesagvolle, immer-betroubare Woord nie, begryp nog maar baie min van God se gansandersheid en menslike verdorwenheid!

Die kandelaar

#          Ons het reeds daarop gelet, maar op hierdie punt is dit goed om nogeens in meer besonderhede daarna te kyk. Ons praat van die kandelaar wat as baie sprekende simbool vir die plaaslike kerk [3] gebruik word (1:12, 13, 20; 2:1, 5).

            Let ook op die Here se intieme betrokkenheid by elke gemeente: Hy stap tussen hulle rond (1:13; 2:1).

#          Dit is van besliste belang dat die Griekse woord wat in die Afrikaanse Bybels met "kandelaar" (OAV; 2020) en "lamp" (NAV) vertaal word, inderdaad reg verstaan en vertaal sal word.

            Die bepaalde woord (Gr. lugnia), word 12 keer in die Nuwe Testament gebruik (Matt 5:15; Mark 4:21; Luk 8:16; 11:33; Heb 9:2; Op 1:12, 13, 20 (2x); 2:1, 5; 11:4).

            Gesaghebbende woordeboeke[4] is eenstemmig: Die woord dui op 'n staander waarop een of meer lampe neergesit is, sodat die lig so wyd as moontlik kon skyn. Dis m.a.w. nie die lamp self nie – daarvoor is daar ander woorde in Grieks.

            Die eerste 4 verse wat hierbo genoem is, bring die onderskeid tussen die lamp (lugnos) en die staander (lugnia) duidelik na vore. Neem byvoorbeeld Matt 5:15: "Mens steek ook nie 'n lamp (Gr. lugnos) op en sit dit onder 'n maatemmer nie, maar op 'n lampstaander (Gr.lugnia) – en só skyn dit wyd en gee lig vir almal in die huis."

            Die beste Afrikaanse vertaling is dus eintlik "lampstaander". Omtrent alle moderne Engelse vertalings gebruik dan ook deurgaans "lampstand".

#          Wat is die punt? In hierdie laaste en verhewe stuk openbaring wat die verheerlikte Christus aan Sy kerk gee, word van die plaaslike gemeente gesê dat dit as wesenstaak het om 'n lampstaander te wees. Hieruit volg noodwendig die vraag: Wat of wie is dan die lig?

            Christus is die Lig van die wêreld (Joh 8:12)!

            Wat anders kan hier bedoel word as dat gehoorsaamheid aan, en verkondiging van Christus elke gemeente se sentrale roeping in hierdie wêreld is! So 'n afleiding is volledig in pas met die res van die Nuwe Testament. Fil 2:15-16 (NAV) spel dieselfde roeping uit: "Tree ... op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra." En Paulus wil niks anders doen nie as om Jesus Christus, die Gekruisigde, te verkondig (1Kor 2:2).

Verwydering van die kandelaar

#          Die gemeente in Efese word gewaarsku dat die Here hulle lampstaander sal verwyder indien hulle hul nie bekeer nie (2:5).

            Wat beteken dit? Hoe verwyder Christus dit? Wat presies gebeur in 'n gemeente as die lampstaander verwyder word?

            Die Bybel gee nie uitdruklike antwoorde op hierdie vrae nie. Maar ervaring het ons talle lesse geleer. Die kerkgeskiedenis is vol voorbeelde van wat gebeur as 'n gemeente se kandelaar verwyder word. Trouens, ons sien dit rondom ons.

            +          Geestelike blindheid begin stadigaan intree.

            Lidmate begin geleidelik sig verloor op die wonder van redding. Die gevolg is dat Christus – veral as die gekruisigde Verlosser – se glansryke heerlikheid algaande verdof. En, onvermydelik, raak die getuienis oor Sy Naam en groot verlossingsdade al hoe stiller vanuit so 'n gemeente.

            +          'n Klemverskuiwing vind plaas.

            Die mens en sy dinge begin sentraal raak. Daar is allerlei truuks om die kerk, veral ook die eredienste, lekkerder, vermaakliker, en meer sosiaal te maak. En om bloot hierdie wêreld 'n beter plek te maak, staan al hoe meer voorop.

            +          Die "Lig van die wêreld" skyn nie meer vanuit so 'n gemeente nie.

            Christus word nie meer na 'n sterwende wêreld uitgehou nie. En Hy is nie meer die lidmate se "wysheid", "regverdiging", "heiliging" en "bevryding" nie. Daar word net nie meer in Hom geroem nie, in elk geval nie meer uit die harte en met nat wange nie (1Kor 1:30-31).

            +          Christus word nie meer as God se Groot Profeet gepreek nie.

            Die Woord word nie behoorlik Christusgefokus uitgelê nie, maar allerlei mens-gesentreerde en sogenaamde aktuele en praktiese temas word behandel. God se Wet is op die agtergrond, asook Christus en Sy apostels se ontvouing daarvan in die Nuwe Testament.

            +          Christus word nie meer as God se Groot Hoëpriester gepreek nie.

            Die evangelie – die régte evangelie – word selde vanaf die kansel gehoor. En wanneer dit wel gebeur, is dit, anders as die Bybelse aanbieding daarvan, mens-gesentreerd en sentimenteel. Omdat die lidmate vreemdelinge geword het vir God se geregtigheid en heilige standaarde, maak die kruis – die ware betekenis daarvan – in elk geval nie meer sóveel saak nie. God se soewereine en vrye genade in Christus vir sondaars, het plek gemaak vir die eie-verdienste van filantropie en sentimentele medemenslikheid.

            +          Christus word nie meer as God se Groot Koning gepreek nie.

            Jy gaan tevergeefs na so 'n gemeente toe om van Sy soewereine seggenskap en regering in Christene se lewens te hoor. Die noodsaak van self-aflegging en kruisdra in Sy voetspore is vervang met die beklemtoning van al die hier-en-nou voordele van Christen-wees. Van Sy vermoë om sondaars bonatuurlik toe te rus tot 'n heilige lewe, word bloedweinig gesê; en van Hom as toekomstige Regter nog minder.

#          Normaalweg word so 'n gemeente nou gewild.

            Waarom? 1Kor 1:23 gee die antwoord. Die "struikelblok" is verwyder en huigelaars voel tuis. En die prediking bevat nie meer "dwaasheid" nie, met die gevolg dat wêreldgelykvormige ongelowiges nie aanstoot neem nie.

            Selfvoldaanheid volg nou. As God se Wet en heilige standaarde nie gepreek word nie, wat hou die mense nederig en gebroke voor 'n driemaal-heilige God? Voeg hierby gewildheid – en gearriveerdheid is onvermydelik.

Die afwesigheid van Christus-gesentreerdheid in 'n gemeente

is nie die oorsaak waarom 'n gemeente die kandelaar verloor nie

dis die bewys dat dit alreeds verwyder is!

#          Dis meer as tragies, maar 'n kerk kan vir eeue so kandelaarloos voortbestaan. Al wat nodig is, is om genoeg institusionele en tradisionele stutte in te bou, en dit staan vanself – 'n graftombe, opgetooi in prag en praal.

            En niemand binne die mure besef dit nie. Trouens, hulle is selfvoldaan. En dit dreun van die mense. Want die herders het die geheim van gewildheid ontdek: Om bokke te vermaak, eerder as om skape kos te gee.

 

Maar almal wat in die lig wandel, het lank tevore reeds vertrek.

Wáár die Here Jesus is, daar is Sy dienaars immers sáám met Hom (Joh 12:26).

 

'n Lotsbepalende keuse

#          Deur al die eeue staan daar steeds 'n vlymskerp keuse voor elke gemeente (asook elke prediker en lidmaat): Kies jy getrouheid – of kies jy sukses?

            Wat is getrouheid? Om in Gód se oë te slaag.

            Wat is sukses? Om in ménse se oë te slaag.

            Natuurlik kan 'n gemeente getrouheid kies, en ook suksesvol wees (in die Here se genade). En 'n gemeente kan sukses kies, en tog in mense se oë misluk.

            Maar dis onmoontlik om sukses voorop te kies, en terselfdertyd in God se oë te slaag.

            As ons maar kon onthou:

Daar is twee paaie voor elke gemeente.

En dit vereis 'n keuse

onontkombaar, radikaal, intens-bewustelik, lotsbepalend.

Dit gaan óf om mense se eer

(sodat óns verheerlik kan word);

óf dit gaan om God se eer

(sodat Hý verheerlik kan word).

Wat sê dit vir ons?

1.         Hier word nogeens in die Nuwe Testament bevestig dat elke plaaslike gemeente selfstandig en volledig kerk is.

            Denominasionalisme en sinodokrasie is vreemd aan die Nuwe Testament.

            Om kragte bymekaar te gooi, is sekerlik nie verkeerd nie; trouens, dis goed, nodig en Bybels. Máár as die denominasie die plaaslike gemeente begin insluk – soos so dikwels – dan gaan die essensie van ware kerkwees verlore.

            Hoor ons nie dikwels min of meer só 'n uitspraak nie: "Ek is in die ABC Kerk, en 'n lidmaad van die XYZ Gemeente."

2.         Die beheptheid met, en naarstigtelike gesoek na strukturele eenheid, is nie die eenheid waarvoor Jesus in Joh 17 gebid het nie.

            Waarvoor Hy gebid het, is die eenheid van onderlinge liefde en diensbaarheid en lewensneerlegging.

            Dís immers die hartseenheid van onderlinge liefdestoewyding wat die wêreld beïndruk, want dít kan ongelowiges nooit, maar nooit namaak nie. Maar organisatoriese eenheid? Aikona! Om dit in Engels te stel: "We can never out-organise the world." Kyk maar na die kerkgeskiedenis: Skeuring na skeuring – tot skande vir die kerk en oneer vir Christus.

3.         Let op hoe belangrik Jesus Christus die plaaslike gemeente ag. Elke Christen behoort deel-wees van 'n ware en lewende liggaam van gelowiges as van die allergrootste belang te beskou. Om bloot los rond te dryf, is strydig met die Here se ordes. So 'n persoon ontsê hom- of haarself van die uiters belangrike korporatiewe of publieke genademiddele.

          Om 'n lidmaat te word, en te bedank uit 'n gemeente, is geen geringe saak nie.

4.         Die Here meet nie met dubbelstandaarde nie; Hy skeer al Sy gemeentes oor dieselfde kam. Die feit dat elkeen van hierdie briewe op presies dieselfde manier gebou word, impliseer dit baie duidelik. God het nie witbroodjies nie.

5.         Let op hoe ineengeweef die lewens van die gemeente, die individu en die voorganger is. Hierdie briewe is aan al drie gerig. Elkeen beïnvloed die ander, en is vir die ander twee verantwoordelik. Elke nuwe lidmaat, en elkeen wat vertrek, raak op 'n manier die karakter van die gemeente.

            Hierdie onderlinge wisselwerking geld veral die verhouding tussen die leraar en die gemeente. As 'n gemeente nie in genade groei nie, of koud en wêrelds is, kan jy die rede maar by die kansel gaan soek. Maar, ewe waar, die rykdom of armoede van die preekstoel, hang grootliks daarvan af of dit die harte van genade-bedelaars, of van trotse edelmanne bedien.

            Die preekstoel en die banke maak of breek mekaar oor en weer.

6.         Twee simbole word in Op 1-2 vir die leraars gebruik: hulle is die "sterre" en die "engele" van die gemeentes (1:20). Die twee beelde spreek onderskeidelik van leierskap, en dienskneg-wees. En die een is so veeleisend soos die ander. En veral kom beide tot uitdrukking in die "boodskapper" se prediking.

            Net hierdie "boodskappers" weet regtig hoe veeleisend hulle roeping is, maar in Op 1:16 is daar groot troos vir hulle. Die Here hou die "sterre" in Sy régterhand vas. En soos iemand gesê: "Vir Sy werk in die res van die heelal, het die Here net Sy linkerhand vry."

7.         Net soos die Here dáárdie gemeentes geken het, ken Hy élke gemeente (of gewaande gemeentes) deur die eeue.

            Daarom behoort elke "kandelaar" homself gereeld af te vra: "Wat sou die Hoof van die kerk se beoordeling van ons wees"? En geen gemeente sal 'n fout maak as hierdie vraag 'n gereelde agendapunt op ouderlinge- en gemeentevergaderings is nie. Dan moet die antwoord onder meer gesoek word aan die hand van die Here se maatstawwe in hierdie sewe briewe – dit waarop die Hy 'n premie plaas; dit wat Hy verag; dit wat Hy as onbelangrik ag.

            Vrae soos díé moet gevra word: As ons so 'n brief sou kry, wat sou daarin staan? Wat sou die kommentaar wees oor die voorgangers, en hulle werk, en hulle huise? Wat sou dit sê oor élke huis en élke lidmaat? Watter kommentaar sou ons byeenkomste ontlok – en ons liefde vir die Here en vir mekaar, en ons uitreiking met die evangelie en barmhartigheid, en ons hantering en aanwending van finansies?

8.         Natuurlik stuur die Here nie meer sulke briewe uit nie. Ons moet onsself in híérdie briewe spieël en in die res van die Woord.

            Maar eendag – as die boeke geopen word – sal daar tóg 'n "brief" van beoordeling uitgehaal word. Maar dan sal dit nie vir elke gemeente wees nie, maar vir elke individu. Dan gaan elkeen van ons geoordeel word volgens ons werke in hierdie lewe. En sonder twyfel sal dit gebeur aan die hand van die glasheldere norme en prioriteite waarvan God se Woord boordevol is (Op 20:11-15).

9.         Jy sê, "My 'n brief sal vir seker verdoemend wees. Wie kan hoegenaamd aan God se volmaakte standaarde voldoen?"

            Ja, dis inderdaad 'n skrikwekkende vooruitsig. En om alles te vererger, teen die Groot Regter se uitspraak en vonnis sal niemand kan geappelleer nie.

            Maar op daardie dag sal party mense se verdoemende "skuldbrief" (Kol 2:14; OAV) gekanselleer wees. Twee dik, parallelle skuinsstrepe sal oor so 'n brief getrek wees. En tussen die lyne sal 'n enkele woord geskryf staan: "Tetelestai" ("dit is volbring"). Die Griekse woord beteken, "Die rekening is ten volle opbetaal" (Joh 19:30).

10.       Kan iets in hierdie lewe belangriker wees as om seker te maak dat ook jóú brief só gekanselleer sal wees? Dat dit moontlik is om dit in hierdie lewe te verseker, is 'n sentrale boodskap van God se Woord. Hierdie boodskap word in die Bybel genoem: Die Evangelie.

Hier is dus die allervraag

Is jou skuldbrief al gekanselleer?

Weet jy hoe dit gebeur?

Dís waaroor die goeie nuus van die evangelie gaan!

 

Bekeer jou in opregte verootmoediging van jou selfgerigte en sondige lewe.

En

Vlug in geloofsvertroue en algehele afhanklikheid in Christus as jou Verlosser in.

En

Wy jouself in alle opregtheid en erns daaraan toe om Hom vir die res van jou lewe

volgens die heilige Woord

kompromieloos

as jou betroubare Profeet

en jou soewereine Koning te volg.

 

Dis wat dit beteken om die Here Jesus Christus aan te neem.

 

Dan sal die Heilige Gees weldra in jou begin getuig dat jou skuld uitgewis is,

en dat God die Vader jou as een van sy kinders aangeneem het.

 

Dalk sê jy, jy wéét nie hóé om dit te doen nie.

Vra dan!

Moenie huiwer nie, en moenie ophou nie

voordat jy nie behoorlik verstaan nie.

Daar is net té veel op die spel!

 

Máár.

Maak seker jy vra die regte mense,

mense in wie se lewens jy duidelik kan sien dat húlle skuldbrief

gekanselleer is met een van die wonderlikste woorde in die Bybel:

TETELESTAI

-o0o-

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]   Die tipiese onderskeid in sekere Afrikaanse kringe tussen "gemeente" en "kerk" het geen Bybelse mandaat nie. Beide is vertalings van een en dieselfde Griekse woord, ekklesia. As sodanig word dit in hierdie studie uitruilbaar gebruik.

[2]           Hendriksen, p.59

[3]   Let op dat dit nie die kerk in die algemeen is wat hier as kandelaar beskryf word nie, maar elke plaaslike kerk of gemeente. Dit word immers soos klokslag beklemtoon dat daar sewe kandelaars is (1:12, 13, 20; 2:1). Die algemene gebruik van die woord "gemeente" vir 'n plaaslike kerk, en "kerk" vir 'n denominasie, het geen Bybelse grond nie; trouens, daar is geen verwysing na 'n denominasie in die Skrif nie.

[4]           Vgl. Bauer, Arndt en Gingrich, p.484; asook Louw en Nida, 6.105.