PDF WEERGAWE

Video-opnames:     1.  https://tinyurl.com/yc8k54m6      2.  https://tinyurl.com/m8t4rmxx

                                 3.  https://tinyurl.com/52x9ykm4

 

Net eers enkele oorsigtelike opmerkings oor ons twee hoofstukke

#          Die twee hoofstukke, Op 4-5, is eintlik 'n eenheid en is die beheersende van die hele boek. Dis die fondament onderliggend aan die hele boodskap daarvan. Dis die lens waardeur elkeen van die ander twintig hoofstukke gelees moet word.

Die Here Jesus Christus was nog altyd soewerein

op die troon van die geskiedenis;

en so sal dit bly tot en met sy finale triomf!

 

Ongelukkig word dikwels op loop gegaan met ander gedeeltes in die boek, wat dan allerlei skadelike beskouings meebring. Elkeen wat selfs net half ingelig is, sal weet dat dit wel die geval is.

#          Mag ek net weer herinner, hierdie is 'n apokaliptiese boek. Tensy dit duidelik is dat 'n uitspraak letterlik verstaan moet word, moet 'n leser steeds onthou dat hy of sy met simboliese uitsprake te doen het. Die uitdaging is dan om dit verantwoordelik te vertolk – baie dikwels in die lig van ander Skrifuitsprake (in Openbaring self of elders in die Skrif – veral Ou Testamentiese profesieë) wat makliker verstaanbaar is.

#          In 'n besondere sin is spesifiek hoofstuk 4 uniek in die Bybel. Daar is weliswaar vooraf-skaduïngs in Jes 6 en Eseg 1, waar hulle visioene lewensbepalende effekte op beide profete gehad het. Probeer mens jou indink wat Johannes ervaar het, duisel jou denke. Dan loop jou gedagtes na Paulus toe in 2Kor 12 toe: "Ek weet van 'n man in Christus wat veertien jaar gelede tot in die derde hemel weggeruk is – of dit in die liggaam of buite die liggaam is, weet ek nie, God weet dit. Ek weet ook van so 'n man – of dit met die liggaam of sonder die liggaam was, weet ek nie, God weet dit – dat hy weggeruk is tot in die paradys, en onuitspreekbare woorde gehoor het wat 'n mens nie mag noem nie" (v.2-4).

            Johannes is deur die Gees opgeruk tot in die hemel. Waarskynlik moet dit nie liggaamlik-letterlik verstaan word nie, maar die beskrywing dui op hoër dimensies van realiteit as wat die twee profete ervaar het. In elk geval sien hy baie meer as hulle destyds.

            Die apostel sien 'n toneel in die troonkamer van God. Dis 'n direkte openbaring van Hom, sonder bemiddeling. Hier sien en hoor ons werklik wat dit beteken om in sy

teenwoordigheid te wees. En ons hoor die hart van wat aanbidding is: Heilig, Heilig, Heilig!

            Dis die enigste attribuut van God wat tot die derde mag verhef word. Tipies word dit gebruik om ander attribute te kwalifiseer. So sou byvoorbeeld gepraat kan word van sy heilige geregtigheid.

            Laat die leser dus dwarsdeur die simboliese detail kyk – en God sien!

#          Openbaring, soos reeds gesê, en in die besonder ook hierdie twee hoofstukke, loop

in pas met voorafgaande profetiese gedeeltes in die Skrif. Die Apokalips lê egter nie net op die verlenging daarvan nie, maar is inderdaad die veel ryker kroonstuk daarvan.

            As sodanig help dit meermale om ooreenstemmende Ou Testamentiese uitsprake beter te verstaan.

            In díé verband is Jesaja 6, Esegiël 1 en die tweede helfte van Daniël veral belangrik. Dis verstommend tot watter mate spesifiek ons huidige twee hoofstukke hand-aan-hand loop met Dan 7. Ten minste 12 sulke gevalle kan uitgewys word. Soms is daar selfs vers vir vers parallelle.

#          Terwyl hoofstuk 4 'n nuwe begin is, vloei dit meteen voort uit die laaste twee verse van hoofstuk 3 – waar 'n wonderlike belofte gegee word aan elke getroue oorwinnaar wat in die lig van hierdie boek se boodskap enduit volhard in sy of haar geloofswedloop.

            Eweneens loop hierdie twee hoofstukke oor in hoofstuk 6 – die Lam se oopbreek van die sewe seëls, en Christus se soewereine heerskappy deur die eeue wat voorlê.

            Wat dus goed by die leser (kyker!) in plek moet wees, is dat daar voor en bo-oor ál die drama in die volgende eeue se verloop en intriges, 'n troon is wat vaster as die berge staan. Nog méér, op die troon is daar Een wat soewerein en heilig regeer! Dis die realiteit agter die onophoudelik-siedende golwinge van hierdie wêreld.

Dis die "ware waarheid" – die aller-realiteit!

Openbaring 4:1-3; 5-6 – Die Een op die Troon

#          Weereens hoor Johannes dieselfde stem soos 'n basuin wat hy vantevore reeds gehoor het (1:10) – die stem wat hy vorentoe ook weer sou hoor (11:19; 15:5).

            Dis die stem van die Seun van die mens wat met hom praat (1:13,15).

            Let op: In h.1 het ons die stem van die Here Jesus Christus, maar hier in h.4 die van God. Weerspreking? Nee, nee! Jesus Christus ís God. Één God, dríé Persone – al drie ten volle God!

            +          Net 'n opmerking oor die begrip "hemel" in v.1. Die Skrif verwys op ten minste drie maniere na die hemel. Eerstens is daar die ruimte waar die voëls vlieg. Tweedens is daar die ruimte waar die sterre skyn. Derdens is daar die ruimte waar God woon. Paulus noem dit spesifiek in 2Kor 12:2 "die derde hemel", die plek waarheen hy weggeruk is om wonderlike gesigte te sien en openbarings te ontvang.

            Kennelik is dit híérdie hemel waarvan Johannes ook hier in Op 4:1 praat.

#          Let op dat die apostel heel eerste meegedeel word dat dit wat hy gaan sien, oor die verdere geskiedenis sal handel. Hy het reeds openbaring ontvang oor dit "wat daar ís"; nou gaan dit oor "wat hierna gaan gebeur" (Op 1:19).

#          Johannes bevind hom dan onmiddellik in die troonkamer van God die driemaal-heilige. En op die troon sit "Iemand". Die daaropvolgende beskrywing verseker dat die apostel dadelik besef dat God self is wat daarop sit.

            Hier het ons 'n eggo van die "Oue van Dae" in Dan 7:9.

            Johannes verskyn dus hier voor God soewerein, wat die gesag en die krag het om alles te doen wat Hy verordineer het.

            Ek sê, dis 'n beskrywing, maar eintlik is dit nie korrek nie, want die apostel vind dit onmoontlik om te beskryf wat hy sien en beleef. Eintlik kan hy slegs 'n vergelyking maak. Sy voorkoms is "sóós jaspis en karneool". Jaspis was 'n verwysing in die antieke wêreld na 'n verskeidenheid van edelgesteentes. Die kleur daarvan het gewissel van rooi tot groen. Hier is dit deurskynend, aangesien Op 21:11 dit beskryf as "kristalhelder". Karneool is rooierig, en ons vind dit weer in die versierings van die fondamente van die nuwe Jerusalem (22:20).

#          "Vanuit die troon het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom" (v.5a). Onmiddellik herinner dit mens aan wat Moses en die volk by Sinaï ervaar het tydens die verbondsluiting en gee van die Wet: "Op die derde dag, toe dit oggend word, was daar donderslae en weerlig en 'n swaar wolk oor die berg, en ook die baie harde geluid van 'n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe. ... Die hele berg Sinaï het in rook gestaan, omdat die Here in vuur daarop neergedaal het ... Die hele berg het hewig geskud en die geluid van die ramshoring het algaande baie harder geword. Moses het gepraat, en God het met 'n donderslag geantwoord" (Eks 19:16-19; vgl. ook 20:18-19).

            Sonder twyfel word die ontsaglike almag, en heiligheid en soewereine gesag van God hier beklemtoon.

            En presies só moet ons die sketsing van die troon in Op 4:5a verstaan: God is angswekkend in sy driemaal-heiligheid en onbevraagtekenbare gesag.

#          Maar dis genadiglik nie ál wat Johannes in die troonkamer ervaar nie. Rondom die troon van verskrikking is daar 'n "reënboog wat net soos smarag lyk" (v.3b). Híérdie boog het 'n groen skynsel.

            Die reënboog het 'n baie positiewe betekenis in die Skrif: Die storm is verby! Die lewegewende son het weer deurgebreek. Vrede en varsheid heers op die aarde.

            Dis wat die reënboog ná die sondvloed in Gen 9:8-13 wou simboliseer. Dis die verbondsteken van heil en seën wat God belowe aan 'n mensheid wat gelowig en gehoorsaam voor Hom sou leef. Dis trouens 'n verbond met die hele skepping (v.9-10; 15-17).

#          "Voor die troon lyk dit soos 'n see van glas, net soos kristal" (v.6a).

            In die Skrif dra die see die idee van die mensheid in hulle massas op aarde. Let mens nou op hoe die simboliek van die see in die Openbaringboek aangebied word, sien ons dat dit twee totaal teenoorstaande, twee kontrasterende boodskappe dra.

            Enersyds dra dit die idee van die onrustige en stormagtige mensheid in rebellie teen God. Dit is hulle wat in 13:1 as die "dier uit die see" voorgestel word, en wat uiteindelik nie meer op die nuwe aarde sal bestaan nie (21:1).

            Andersyds is daar die see wat "lyk ... soos 'n see van glas, net soos kristal" (4:6a; vgl. ook 15:2). Dit spreek van spieëlgladde kalmte en vrede, en van deursigtige eerlikheid en integriteit.

#          "En voor die troon het sewe vuurfakkels gebrand – die sewe Geeste van God" (v.5b).

            Die vuurfakkel is bloot 'n simboliese manier om na die Heilige Gees te verwys; om sy heiligheid te beklemtoon, en sy louterende en reinigende en Christus-verligtende werk.

            Waarom die "sewe"? Sewe is die volheidsgetal van God. En nêrens kom die wie en wat Hy is, en wat Hy doen, tot hoër en heerliker uitdrukking as daar in die troonkamer van God nie.

'n Paar opmerkings op hierdie stadium voordat ons verder gaan 

#          In die verse waarna ons tot hiertoe gekyk het, het ons weereens – soos só dikwels in God se Woord beklemtoon – twee waarhede gesien wat ons altyd, altyd in balans of ekwilibrium moet vashou:

Die Here is meteen 'n God van ewige vrede en rus

vir hulle wat in liefdestoewyding en gehoorsaamheid voor Hom leef

en

Hy is 'n God van skrikwekkende toorn en onheil

vir hulle wat Hom met hulle minagtende sonde tart.

Hy is én God van genade, én God van geregtigheid!

#          Hierná, vanaf Op 6, lyk dit asof die kerk magteloos uitgelewer is aan vernietigende vervolging en uitdelging. En inderdaad, ten spyte van dit wat ons so pas gesien het, het die ware kerk dwarsdeur die eeue tot 'n mindere of meerdere mate altyd verwerping en vervolging ervaar – baie dikwels tot die dood toe. Dit lyk meermale in hierdie boek asof Satan die geskiedenis as oorwinnaar gaan afsluit. Maar dis vanuit 'n bloot eenogige aardse perspektief.

            Nuutgeskapenes loop noodwendig stroom-op in die meesleurende strominge van hierdie wêreld en sy waardes. Hoe kry hulle dit reg? Hulle sien dit – beter gestel, hulle sien Hóm – vir Wie ander mense blind is. Hulle is vreemdelinge en bywoners hier en nou, pelgrims op pad déúr na 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde.

            Daarom dan ook die waarskuwing, maar ook bemoediging in Op 2:10: "Moenie vir enigiets wat jy nog gaan ly, bang wees nie. Kyk, die Duiwel gaan sommige van julle in die tronk laat gooi, sodat julle getoets kan word. Tien dae lank sal julle verdruk word. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal aan julle die oorwinnaarskrans van die lewe gee" (3:11).

            +          Een van die Openbaringboek se kentrekke is die paradoksale: Op aarde lyk dit asof die kerk hopeloos aan 't verloor is; maar in werklikheid regeer die heiliges! Die koninkryk is hulle s'n – onvervreembaar – nou en vir ewig.

            Dis die paradoks van ware Christene se lewens! Al sterwende léwe hulle! Hulle ly, maar hulle héérs!

            Selfs al word die liggaam onthoof of verbrand, wys hulle getrouheid tot die dood toe júís dat húlle seëvierend is. Die dier is nie die oorwinnaar nie. Nee, nee! Die bruidsgemeente se geboortereg is onvernietigbaar. Al word hulle liggame vireers vernietig – uiteindelik staan hulle in herskepte en ewige heerlikheid op.

            +          Deur die boek is daar dus 'n spanningslyn tussen die getrouheid van die bruidsgemeente, teenoor die kompromieë van die valse kerk.

#          Laat ons die omstandighede van die kerk van destyds onthou – en bemoedig word. Johannes se eerste lesers het felle vervolging. En of ons tans vervolg word, al dan nie, ons leef in 'n toenemend wanhopige wêreld. As ons nie verankerd is in hierdie perspektief nie, verval ons kort voor lank in dieselfde uitsigloosheid as die ongelowiges rondom ons.

#          Die absolute, almagtige, en soewereine heerskappy van Hom wat op die troon in die middel sit, is die sentraal-beheersende boodskap van hierdie laaste boek in God se Woord.

            +          Daar word 34x na hierdie sentrale "troon" (Gr. thronos) van die Here in die Openbaringboek verwys. Daarvan kom 50% hier in Op 4-5 voor (12x in h.4 en 5x in h.5).

            +          Die hemelvaart van die Here Jesus was niks anders nie, as sy troonsbestyging!

            +          Al die konings en tiranne dwarsdeur die wêreldgeskiedenis, met al hulle arrogante magsaansprake, was bloot bliksoldaatjies. Deurgaans het die Here God op sy heerserstroon gesit, en vir hulle "gelag" (vgl. Ps 59:6-9).

            En dis nie die lag van vreugde nie, maar van minagting.

            Hoe kan óns wat vir tyd en ewigheid aan Hom behoort, dan wanhopig en beangs wees? Nee, nee! Daar is Iemand op 'n troon in die hemel. Sy glansende voorkoms is soos jaspis en karneool. En rondom sy troon is daar 'n reënboog wat soos smarag lyk.

Dawid skryf in Ps 27:4

Een ding het ek van die Here gevra,

en dit sal ek bly nastreef –

om al die dae van my lewe in die huis van die Here te woon,

om die lieflikhede van die Here te aanskou,

en daaroor na te dink in sy tempel.

 

Op 4:4-11: Die aanbidders

Die vier lewende wesens – verteenwoordigend van die heilige engele (v.6–8)

#          Aan die "vier lewende wesens" word vanaf v.6b besondere aandag gegee. Kennelik is hulle baie belangrik, met 'n belangrike funksie.

            +          Ter wille van duidelikheid moet ons vinnig aandag gee aan hulle posisionering, aangesien vertalings ietwat verskil.

            Die 2020 vertaal die Grieks baie letterlik: Hulle staan "In die middel van die troon ..." Hoe moet mens dit "sien"?

            Ek meen dat Rienecker en Rogers dit reg vertolk: "This seems to mean that one of the four living creatures was on each of the four sides of the throne, either stationary or moving rapidly around. The exact location is a bit uncertain but 'in the midst' apparantly means 'in the immediate vicinity'. Thus they surround the throne as an inner circle."

            Daarom vertaal meeste vertalings "Naby, rondom die troon ..." (vgl. o.m. NAV).

            +          Soos so dikwels in Openbaring, het ons hier weer 'n nóú aansluiting by die Ou Testament, in hierdie geval by Jes 6, en by Eseg 1 en 10. Daar is sóveel ooreenstemmings dat die paar detailverskille nie hierdie aansluitings moet ontspoor nie. Trouens, eintlik moet mens dit verwag, aangesien die verskillende skrywers oor verskillende situasies berig, en elkeen sy eie belewing gehad het.

            +          Eseg 10:20 sê dat hierdie vier wesens "gerubs" was. Hulle is 'n hoë orde van engele. En hulle taak is om die heilige dinge van God te bewaak (Gen 3:24; Eks 25:20).

            Dis ook húlle wat op die versoendeksel in die allerheiligste van die tabernakel en tempel gestaan het.

#          Die vier lewende wesens word nader beskryf in Op 4:7-9. Hulle eerste taak is om God te aanbid en te verheerlik – ook met hulle dienswerk. Daarvoor is hulle goed toegerus.

            +          Hulle is "vol oë aan die voorkant en agterkant" (v.6b & 8a). Waarskynlik dui dit op kennis, insig en begrip.

            +          Onderskeidelik lyk hulle soos 'n "leeu", wat sinspeel op krag; soos 'n "kalf" of jong bees, wat sinspeel op getemde funksionaliteit of nut; 'n "mensgesig", wat sinspeel op intelligensie; en 'n "arend wat vlieg", wat sinspeel op vrye beweeglikheid en spoed.

            Hulle is dus uitnemend toegerus vir diensbaarheid.

            +          Elkeen van hulle het "ses vlerke". Vra mens wat die doel van hierdie vlerke is, kry jy die antwoord in Jes 6:2: "Met twee vlerke het elkeen sy gesig bedek, met twee vlerke het hy sy voete bedek en met twee kon hy vlieg".

            Waarom hou hulle hul "oë" toe? Dit dui op nederigheid, die bewussyn van eie onwaardigheid om direk na die driemaal-heilige te kyk. Hulle is en bly immers skepsele. Miskien blyk hier ook hulle onvermoë om direk na die glansende heerlikheid van God te kyk – net soos mens nie direk na die son kan kyk nie. Saulus het blind geword.

            Waarom hulle "voete" bedek? Dit sinspeel sekerlik nie op aartsgebondenheid en sondigheid nie, soos in die geval van mense wat hulle skoene moes uittrek as hulle op heilige grond staan. Hulle is nie in sonde geval soos die mens nie. Waarskynlik is dit 'n uitdrukking van hulle nederigheid, onwaardigheid en skaamte.

            Die oorblywende "vlerke" dui dalk op die feit dat hulle voortdurend gereed en toegerus is om elke opdrag vanaf die troon onverwyld uit te voer.

            +          Onvermoeid aanbid hulle dag en nag die heilige en almagtige Here God. Hulle bring "heerlikheid en eer en dank, aan Hom wat vir ewig en ewig leef" (v.9). Dis hulle allesbeheersende funksie, maar ook hartstog. Selfs hulle gehoorsaamheid aan hulle sendingopdragte is ten diepste aanbiddingshandele.

#          In die vier gerubs se lofsang beklemtoon hulle drie van God se mees fundamentele attribute: sy heiligheid, sy almag, sy ewigheid.

            Veral word sy heiligheid beklemtoon. Dit word as 't ware tot die mag drie verhef. Presies só aanbid die serafs in Jes 6 die Here (v.3).

            +          Dwarsdeur die Skrif vind mens telkens dat God se heiligheid Sy ánder karaktertrekke versier. Van elke attribuut kan mens sê dat dit heilig is.

            Keer op keer as mense in die Bybel 'n besondere ervaring van God se persoon en karakter beleef het, was hulle oorwegende indruk die van Sy heiligheid. Weliswaar word Sy heiligheid nie altyd eksplisiet genoem nie, maar lees mens die Bybelgeskiedenis, tref jy dit weer en weer aan. Dink maar aan Moses, Job, Jesaja, Esegiël, Paulus en Johannes se ervaringe.

            Dit word bevestig deur die ondervindings van derduisende mans en vrouens deur die kerkgeskiedenis – veral die wat die voorreg gehad het om herlewings te beleef.

            Mens ken God tot die mate wat jy Hom in Sy heiligheid ken – niks meer nie.

            +          Waarskynlik het die begrip 'n Semitiese wortel wat dui op sny, skei, afsonder – op eenkant sit.

            In die Ou Testament blyk die idee van afsondering of afskeiding daarin dat die begrip gebruik word om onder meer kledingstukke (Eks 28:2), plekke (Eks 29:31), aanbiddingstoebehore (1Kon 8:4) en instrumente (Num 31:6) te beskryf. Ook word sekere dae en feeste so gekwalifiseer.

            Dit beteken gewoon dat sulke heilige voorwerpe afgeskei is van die gewone en die alledaagse – dat dit toegewy is aan diens vir die Here.

            So byvoorbeeld sê die Here in Lev 20:26 dat Hy Sy volk afgesonder het van die heidenvolkere om hulle. En in Eseg 22:26 word die priesters verwyt dat hulle die heilige dinge ontwy deur geen onderskeid te maak tussen dit wat gewyd en dit wat nie gewyd is nie.

            +          As God dus openbaar dat Hy heilig is, dui dit op Sy afgeskeidenheid, Sy transendensie, Sy verhewenheid bo sy skepping, Sy gansandersheid. Hy is dus vergelykbaar met niks of niemand anders nie. Hy is in 'n klas van Sy eie – volkome uniek. Hy leef buite die sfeer van die menslik-gewone en begryplike. Hy is verhewe en onpeilbaar. Hy is volkome in Homself, van niemand afhanklik nie, ver bo alles in ewige, oneindige heerlikheid en majesteit.

            Jes 40:25: " 'Met wie wie wil julle My vergelyk, sodat Ek net soos hulle sal wees?' vra die Heilige."

            +          Bogenoemde beteken nie dat die begrip nie ook morele ondertone het nie – inderdaad het dit.

            Positief dui dit op etiese suiwerheid en volmaaktheid.

            Negatief dui dit op die afwesigheid van enige sonde.

            Hy is die somtotaal van alle morele skoonheid. Hy is volmaak in karakter, motiewe, gesindhede, woorde en dade. Hy is van ewigheid tot ewigheid volkome en absoluut vry van enige morele onsuiwerheid. Wat Hy doen, gebied of verbied, is altyd reg.

Die vier-en-twintig ouderlinge – verteenwoordigend van die Bruidsgemeente deur die eeue (v.9–11)

#          Rondom die sentrale troon, is daar "vier-en-twintig trone" (4:4).

            Wie sit op hierdie trone? Vier-en-twintig ouderlinge.

            Wie word deur hierdie ouderlinge verteenwoordig? Hoofstuk 3:21 gee die antwoord: "Wie oorwin, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos wat Ek ook oorwin het, en saam met my Vader op sy troon sit."

            Op die trone sit hulle wat tot die einde toe volhard het in hulle toewyding aan die Here (Matt 24:13).

            +          Die "wit klere" word weer, meer as eenmaal, elders in die boek aan hulle belowe (3:5,18; 4:4; 7:9,13). Waarskynlik sinspeel dit op hulle bekleding met Jesus Christus se geregtigheid, dus op hulle regverdiging deur die geloof alleen.

            +          Let op dat die hierdie begenadigdes alreeds op die trone sit. Vanuit die konteks is dit duidelik dat hier gepraat word van almal wat reeds in Christus gesterf het en op daardie oomblik in die hemel is.

            Máár terselfdertyd is daar ook 'n onverbreekbare band tussen hulle, en alle steeds lewende Christene. Die Woord sê in Ef 2:5-6: "Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons... saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos! Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel ..."  (vgl. ook Ef 1:19-23).

#          Waarom is daar spesifiek 24 trone? Dis 'n voorafskaduing van wat in Op 21:12 en 21:14 duidelik gemaak word. Dit verteenwoordig onderskeidelik die 12 stamme van Israel, en die 12 apostels. En dit slaan hoogs waarskynlik op onderskeidelik die besnedenes van hart van die Ou Verbond, en die bruidsgemeente van die Nuwe Verbond – dus die ware verbondsvolk van die Here in sowel Ou as Nuwe Testament.

            +          Dalk verrassend is dit dat na laasgenoemde groep as "apostels" verwys word.

            Persoonlik meen ek dat hier dalk na méér as bloot hulle verteenwoordigende rol verwys word.

            Dalk is hier ook 'n sinspeling op diegene wie se lewens beheers is deur die apostoliese geskrifte van die Nuwe Testament.

#          Hulle het "goue krone" op hulle koppe.

            Twee Griekse woorde in die Nuwe Testament word met "kroon" vertaal. Dis belangrik om te let op watter een híér gebruik word. En ewe sprekend is dit dat beide veral in Openbaring gebruik word.

             Die een woord (Gr. stefanos) is die beloning vir oorwinning. Noem dit maar die oorwinnaarskroon. Die woord is destyds in die besonder ook gebruik vir die lourierkrans van oorwinning in 'n kompetisie – as 't ware vandag se goue medalje.

            Dit kom 18x regdeur die Nuwe Testament voor; maar veral hier in Openbaring (8x – 2:10; 3:11; 4:4,10; 6:2; 9:7; 12:1; 14:14).

            Die ander woord (Gr. diadēma) is die simbool van koninklike gesag en waardigheid. Dit was 'n simbool van status en mag. Noem dit maar 'n heerserskroon. Dit word kom net 3x in die Nuwe Testament voor – elke keer in Openbaring (12:3; 13:1; 19:12).

            +          Hier in Openbaring is die oorwinnaarskroon (stefanos) 6 keer die teken van volgehoue getrouheid aan Christus, oftewel die beloning Hy gee.

            Die sewende geval in 9:7 is egter baie betekenisvol. Hier is dit op die kop van die magte van die bose. Máár dis nie ég nie; dit lyk net so.  Dis "... soos krone, wat gelyk het asof dit van goud is ...". Dis 'n namaaksel; dis 'n blufspel! Dis "plestiek"!

            Waarvan dus híér gepraat word, is die arrogante voorgee om gesante van die ware Koning te wees!

            +          Wat die heerserskroon betref (diadēma), is dit in die eerste twee gevalle op die kop van die "draak" of die "dier" in sy/hulle aanmatigende aanspraak op status en vertoning van heerskappy.

            Maar in h.19 is dit op die kop van "die Woord van God" – nóú nie meer die geofferde Lam nie, maar inderdaad die triomferende Leeu!

#          In v.10-11 lees ons dat ook die 24 ouderlinge neerval en Hóm aanbid "wat vir ewig en ewig leef."

            +          Let op dat hulle dit doen wanneer die lewende wesens "heerlikheid en eer en dank bring aan Hom wat op die troon sit." Hulle is dus hartlik eens met die lofuiting in v.8. Hulle stem saam: "U is waardig, ons Here en God ..." (v.11).

            +          Baie betekenisvol is die mededeling dat hulle as 'n uitdrukking van aanbidding húlle "krone" (Gr. stefanos in die mv.) voor die troon van die Here God neersit. Wat versinnebeeld dit; wat sê hulle daarmee? Daarmee betuig hulle dat die lourierkranse, wat hulle as beloning vir hulle gehoorsame dienswerk en volharding op aarde ontvang het, volledig onverdiende genadegawes van die Here was. Hulle doen afstand van enige moontlike aanspraak daarop, en eer daarvoor.

            Daarom bely hulle, "Ú is waardig, ons Here en God ...".

                        =          Is dit vergesog om te dink aan 'n beurtsang? Éérs sing die engele: "Heilig, heilig, heilig is die Here God ...". En dan antwoord die verlostes: "U is waardig, ons Here en God ...". Dan gaan die engele weer voort om die heiligheid van God te besing, waarop die gemeente dan nogeens antwoord: "U is waardig ...".

            Of dalk is dit 'n kanon – dat hulle gelyktydig in volmaakte harmonie sing?

            En só hou dit aan en aan, dag en nag (v.8).

                        =          Vergewe my dat ek nogeens herinner: Ook hier moet ons dink in terme van apokaliptiese beeldspraak. Die implikasie? Alles, maar alles wat tans in die paradys, oftewel die hemel gebeur, en wat sekerlik vir ewig sal voortgaan op die nuwe aarde, sal harmonieus dien tot die lof en verheerliking van die drie-enige God. En in niks sal ons méér vreugde en vervulling vind as presies dit nie. Sóveel vreugde en vervulling sal ons daarin hê, dat ons net eenvoudig nooit daarmee sal kán of wil ophou nie.

Ten slotte

#          Kan jy sien hoe tragies-vér dermiljoene Christene of pseudochristene se enigste dryfveer te kort skiet: Om asseblief tog net gered te word?

            Nee, nee!

            Goed, toegegee, natuurlik is ook dit onuitspreeklik belangrik. Maar soos ware Christene die kinderskoene begin ontgroei, daag dit geleidelik al hoe meer op hulle dat daar 'n  verreweg méér verhewe doel met hulle lewens en redding is.

#          As alles vir die saliges in die hiernamaals en die ewigheid gaan oor die verheerliking van God – moet dit tog sekerlik ook nóú reeds geld vir óns wat inderdaad saam met Christus lewendgemaak is, en opgewek is, en laat sit is in die hemel. (Ef 2:5-6).

            Inderdaad! Sonder twyfel! Gewis!

            Ook óns lewens – ons hartsgerigthede, ons beheersende lewensprioriteite in ons onderskeie roepings en omstandighede – moet op welke manier ook al dit uitroep: "Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom!"

#          My broer en suster in Christus, mag jou en my lewe steeds beheers word deur Soli Deo Gloria!

            Laat ons dit weer en weer en weer in gebed afbid van Hom wat die bron van alles is. En laat ons dit met die grootste vrymoedigheid en verwagting bid. Want daar is niks wat ons kan vra, wat méér in die hart van die Here se wil vir ons is nie.

Hier is die bruidsgemeente se hoogste en heerlikste roeping:

Om saam te sing met die heiliges in die hemel,

en die legioene engele,

met 'n derde kanon-melodie.

 

-o0o-

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev