PDF-WEERGAWE

Video-opnames:        1.  https://tinyurl.com/4tjrkm9n    2.  https://tinyurl.com/2p87pubf

                                    3.  https://tinyurl.com/4h9jp72e   4.  https://tinyurl.com/4mfe4um6

Hoofstukke 4 en 5 is 'n eenheid. Altwee beskryf tonele wat een na die ander in die hemelse troonkamer afspeel. Dit moet dus aaneenlopend gelees word.

Die enorme gewigtigheid van die oomblik

#          Dan word die diep aanbidding waarmee Op 4 afsluit, eensklaps stil. Want Johannes sien 'n verdere gesig: "In die regterhand van Hom wat op die troon sit 'n boekrol ... aan die binnekant en aan die buitekant vol geskryf, en met sewe seëls goed verseël" (5:1).

#          Mens kan jou voorstel dat 'n gees van verwagting op die 4 lewende wesens en 24 ouderlinge neerdaal. Almal hou hulle asems op. Want hulle weet goed ...

            Uiteindelik het die tyd aangebreek! Wie gaan die rol oopmaak? Wat gaan dit onthul?

            +          Aangesien die Seun verder in die hoofstuk 'n aparte rol speel, kan aanvaar word dat dit die Vader is wat die boekrol vashou.

            +          Die atmosfeer in die hemel is vergelykbaar met die spanning wat oorblywende gesinslede ondervind terwyl 'n prokureur die testament van hulle fabelagtige ryk pa uit 'n verseëlde koevert haal en stadigaan oopvou.

                        =          Let daarop dat die boekrol in die Vader se "regterhand" is. Dis 'n manier om te beklemtoon hoe belangrik dit is. Die Vader ag dit allermins as 'n terloopsheid; inteendeel. Kennelik is dit baie, baie belangrik. Trouens, die res van die openbaring wat Johannes ontvang, laat blyk dat dit in die hart van sy raadsplan lê.

            +          Dis volgeskryf, aan beide kante. Duidelik wil hierdie stukkie detail iets belangriks beklemtoon. Wat onderstreep dit?

            Meer as een antwoord word aangebied, maar dis die beste om gewoon só daaroor te dink: Dit sinspeel op die omvang en kompleksiteit van alles wat deur die laaste dae sal

gebeur. Dalk wil dit ook suggereer dat dit verstommend omvangryk sal wees – en oor 'n baie lang tyd sal ontvou. En les bes wil dit sê dat die hele plan van God met die skepping van die aarde, en in besonder met die mens – vervul sal wees met die afhandeling van die verordeninge wat daarin vasgelê is.

#          Die boekrol is "goed" verseël met "sewe seëls". Dit was destyds die gebruik om 'n baie gewigtige en bindende regsdokument deur 7 getuies van status te laat onderteken. Elkeen van hulle sou dit dan apart verseël deur sy 'n eie ring in seëlwaks te druk.

#          En uiteraard kon so 'n dokument nie deur enigeen oopgemaak word nie. Dit moes 'n gesagsfiguur wees – spesiaal daarvoor gemagtig.

            Dit was dan ook sy verantwoordelikheid om toe te sien dat die voorskrifte van so 'n dokument tot in die fynste besonderhede uitgevoer word.

            Nooit was daar vantevore, en sou daar ooit weer, so 'n gewigte testament wees nie! Die "boek van die lewe" in Op 20:12 is 'n onderafdeling van hierdie boekrol – maar inderdaad die kroonstuk daarvan. Dis immers waaroor dit alles gaan – die Bruidegom se versameling van sy bruid vanuit die die nasies deur die eeue.

 

Wie kwalifiseer om die boekrol oop te maak? (v.2-4)

#          Dan verskyn 'n "sterk engel", een met die nodige status om dit wat nou volg te oorsien. Hy roep dan uit: "Wie is waardig om die boekrol oop te maak en die seëls daarvan te breek?"

#          Dink vir 'n oomblik ná oor die enorme opgawe en verantwoordelikhede wat sou rus op die een wat die boekrol oopmaak!

            In die lig van die res van die boek, kan met sekerheid gesê word dat hier verwys word na die ontplooiing van God se raadsplan dwarsdeur die laaste dae.

            In die volste sin van die woord sou dit gaan oor gebeure wat ewigheidsbetekenis sou hê. Ons praat van gebeure wat bepalend sou wees vir die ontwikkeling van die hele geskiedenis wat voorgelê het. Dit sou die hele wêreld raak; trouens, die hele kosmos. Dit sou gaan oor die lewens én ewige bestemmings van biljoene wat nog gebore sou word.

#          Dis 'n mespunt-oomblik!

            Mens kan jou indink – die verwagting van die "baie engele rondom die troon, en van die lewende wesens en die ouderlinge ... tienduisend maal tienduisende en duisend maal duisende" (5:11).

            Almal hou asem op. Vir eeue reeds word vir hierdie oomblik gewag. Wie sal na vore kom? Wie sal kwalifiseer? En wat sal in die rol geskryf wees?

#          Maar geskokte ontnugtering! "Niemand ... was egter in staat om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie" (v.3). Nêrens is iemand te vinde nie – "nie in die hemel, nie op die aarde, nie onder die aarde" nie.

#          Máár die seëls moet ten alle koste gebreek word. Die rol móét oopgemaak word; dit móét gelees kan word! Dis meer as dringend! Alles, maar álles hang daarvan af.

            Die bruidsprys wat die gekruisigde Here Jesus betaal het kan tog nie tevergeefs wees nie! Dis ondenkbaar dat God se raadsplan op mislukking uitloop! Daar móét eenvoudig 'n bruid vir die Seun versamel word!

#          Johannes gaan aan 't huil as niemand na vore tree nie.

            'n Sterk woord word gebruik. Hy was nie net bewoë nie. En hy het "baie" gehuil. Hy het nie net 'n traan of wat gepink nie. Nee, hy het hard gesnik. En die ontnugtering het duidelik nie net 'n paar sekondes geduur nie.

#          Waarom is Johannes dan so hartseer? Omdat hierdie 'n oomblik van ontnugtering is – 'n verskriklike antiklimaks.

            +          Aangesien die apostel Dan 12 vir seker goed geken het, moes die gesig van die boekrol in die Een op die troon se regterhand hom met oorstelpte verwagtig vervul het. Kan dit wees dat hy die voorreg gaan geniet om die ooprol daarvan te beleef!

            Só gesien, verstaan mens waarom hy so gebroke is as niemand na vore kom om die seëls te breek nie.

            +          Let op dat die ooprol van die boekrol aan die hart lê van die Ou Testamentiese messiaanse verwagtinge.

                        =          Dis 'n belofte wat, weliswaar nog baie dof, oorspronklik aan Abraham, stamvader van die verbondsvolk, gemaak is: "Ek sal jou 'n groot nasie maak; Ek sal jou seën en jou naam groot maak; sodat jy 'n seën sal wees. ... En deur jou sal al die grootfamilies (OAV: "geslagte"; NAV: "volke"; ESV: "families") van die aarde geseënd wees" (Gen 12:1-3).

                        =          In Jakop se seën oor sy seun, Juda, kom die belofte méér in fokus (Gen 49:8-12).

                        =          Die uitdruklikste profesie vind ons in Dan 12.

            In v.1 kry Daniël híérdie belofte: "Maar in hierdie tyd sal jou volk gered word, elkeen wie se naam gevind word waar dit in die boekrol opgeskryf is."

            In v.4 word egter vir hom gesê: "En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boekrol tot die tyd van die einde. Baie sal rondswerf, sodat die kennis kan vermeerder." Dit word herbeklemtoon in v.9: "... die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde."

    Uiteindelik word hierdie wonderlike Ou Testamentiese profesie dan finaal afgesluit met hierdie belofte aan die ou profeet: "Jy sal rus en daarna opstaan vir jou bestemming aan die einde van die dae."

#          Vir 6 lang, lang eeue al – sedert die dae van Daniël – het die godsvolk dus op die vervulling van die Here se belofte destyds aan die ou profeet daar in Babilon gewag (Dan 12:1,4).

            Vyftien geslagte het tevergeefs gekom en gegaan ­– maar die boekrol het verseël gebly.

            Wanneer tog sou "die tyd van die einde" (Dan 12:9) aanbreek? Waar bly die Messias tog. Want hulle wat verstaan het – meer nog, hulle het gewéét – dis Hý wat die vervulling sal kom bewerkstellig.

Die Leeu (v.5)

#          Na wat na 'n ewigheid voel, roep "een van die ouderlinge" egter uit: "Hou op huil!"

            En dan hoor die apostel daar op Patmos die wonderlikste afkondiging uit die hemel: "Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid het oorwin" (v.5).

            Inderdaad is daar is tóg iemand wat die boekrol kan oopmaak! Hy mág! Hy kán! Al sewe seëls!

#          Wie kan tog hierdie "Leeu" wees?

            Ons weet mos. Ons het dit immers al meermale gesê.

            En natuurlik weet Johannes ook! Hy het immers sy Ou Testament geken. Spesifiek sou hy die Messiaanse karakter van Ps 40 geken het, ook v.8: "Daarop het ek gesê: Kyk, ek het gekom – in die boekrol is dit van my geskryf. Wat U behaag, my God, wil ek graag doen..."

Sonder enige twyfel is hierdie "Leeu"

Jesus, die Christus

die Oorwinnaarskoning van alle konings.

 

Die Messias-koning tree uiteindelik aan

vir die hartsroeping van sy koningskap:

sy triomfmars op die verhoog van die geskiedenis!

            +          Was dit wat hier beskryf word dalk 'n terugskouing na wat tydens daardie 3 dae tussen die kruisiging en die opstanding in die hemel gebeur het?

            Ek dink so. Want die implimentering van die boekrol se inhoud het onmiddellik destyds 'n werklikheid begin word.

            Binne ure die opstanding!

            Veertig dae later die troonsbestyging!

            Sewe weke later die uitstorting van die Heilige Gees op die Pinksterdag.

            En dan onmiddellik daarna: Drieduisend genade-oorrompeldes – vanuit amper 20 nasies en kultuurgroepe (Hand 2:9-11).

            +          Onthou: Pinkster was die die Fees van die Oes! As sodanig het dit enorme belofte ingehou. En inderdaad het die vervulling daarvan deur die eeue geleidelik ontvou. En dis steeds onderweg.

            Die Here Jesus se graansilo's word voller en voller! Reeds dermiljoene is afgeoes. En steeds versamel Hy die graankorrels een vir een vanuit die onkruidlande van hierdie wêreld. En dit sal dag na dag voortgaan tot en met daardie oomblik as Hy gaan terugkom vir die groot huweliksmaal van die Lam en sy bruid.

Die Lam (v.6a)

#          Dan gebeur iets eienaardigs – maar baie, baie betekenisvol. As Johannes ophou huil en opkyk, sien hy nie die "Leeu uit die stam van Juda", soos die ouderling sê nie, maar 'n "Lam soos een wat geslag is" (v.6).

            Wat wil dit vir ons sê? Kennelik moet dit vol betekenis wees. Inderdaad! Inderdaad!

            +          Eerstens, het jy opgelet? Die Lam staan "tussen die ouderlinge"? Duidelik dui dit op sy identifisering en solidariteit met sy gemeente dáár in die tussentoestand – en per implikasie óók almal op aarde wat deur die Vader vir Hom gegee is.

            Sonder twyfel verskyn Hy hier in sy hoedanigheid as die Hoof van die nuwe mensheid; as die laaste Adam – en dus die Bruidegom van sy bruidsgemeente.

            +          Tweedens, daar is ten minste 3 Griekse woorde in die Nuwe Testament wat "lam" beteken, en hulle is vir alle praktiese doeleindes sinonieme. Van die 35 keer wat die 3 woorde in die Nuwe Testament gebruik word, is hierdie spesifieke woord (Gr. arnion) egter verreweg die prominentste – 30 keer.

                        =          Die verspreiding van hierdie woord in die Nuwe Testament is netso betekenisvol. Van die 30 maal in die Nuwe Testament, kom dit 29 keer in Openbaring voor!

            Nog meer, 28 keer word dit van die Here Jesus Christus gesê. Dit beteken dus dat hierdie perspektief op die Here Jesus – wat hier vir die eerste keer aan Johannes getoon word, 'n beheersende tema in die Openbaringboek is.

                        =          Nog iets: Die 30ste keer in Openbaring, vind ons hierdie woord in Op 13:11: "Toe het ek 'n ander dier uit die aarde sien opkom. Hy het twee horings gehad, net soos 'n lam, maar hy het soos 'n draak gepraat".

            Luther het die Duiwel "God se aap" genoem – hy is God se na-aaper. In hierdie geval doen die "ander dier" hom as 'n alternatiewe, of selfs as 'n nuwe messias voor.

                        =          "Arnion" is 'n verkleinwoordjie ('n lammetjie). As sodanig benadruk dit die nederigheid en offervaardigheid van die Here Jesus baie sterk. En uiteraard word die dramatiese kontras tussen die "Leeu" en 'n "Lam" hier in Op 5, des te meer uitgelig.

            +          Derdens, die Lam is "geslag". Hier word spesifiek van die Here Jesus as 'n offerlam gepraat. Sonder twyfel val die fokus op sy kruisiging.

                        =          Let op die spesifieke woord wat gebruik word. Die gedagte is nie net dat die "Lam" doodgegegaan het nie, maar spesifiek dat Hy aan die kruis geoffer is. Dit praat van 'n bloedige, geweldadige, wrede en pynlike dood. Die kruisiging was in die volste sin van die woord 'n skrikwekkende en plaasvervangende offerdood.

                        =          Laat ons nooit vergeet wat aan die kruis gebeur het nie. Die mensgeworde Seun het 'n onuitspreeklik-verskriklike dood gesterf. Erg soos die teregstellingsmetode was, het dit eintlik om baie, baie méér gegaan. Hy het as Offerlam die toorn van God teen die sondeskuld van miljoene mense deur die eeue verduur. Hy het vir húlle ewige helse smarte ingestaan; Hy het dit namens hulle gely.

            Nooit moet mens gewoon in sentimentele terme aan die kruis dink nie. Dit was alles behalwe bloot net 'n simbool. Dit was 'n bloedige, morsige en stinkende vloekhout van wrede teregstelling – wat sekerlik oor en oor gebruik is.

            As mens in die eerste eeu 'n kruis om jou nek gedra het, sou mense gedink het jy is versteurd. Die hedendaagse ekwiwalent, sou 'n galgtoutjie kon wees.

            +          Vierdens, sien jy dit raak? Hier "staan" die Lam! Jesus die Christus het nie in die graf bly lê nie; Hy het triomferend verrys. Dis as 't ware asof die "Leeu" van v.5 nou na vore tree. Hy is gereed om die boekrol met 'n ferm hand vas te vat, en die seëls een vir een met vasbeslotenheid en gesag oop te maak.

            +          Vyfdens moet ons in die twee beelde wat vir Jesus Christus gebruik word 'n fundamentele beginsel verstaan: Die Koning van alle konings regeer nie met die tand en klou van 'n leeu nie, maar met die nederige sagtheid van 'n lammetjie.

            Hy oorrompel nie met geweld nie, maar met liefde. Hy triomfeer deur onsigbaar in die harte van gevalle mense te werk, sodat alles vir hulle nuut word. En dan begin hulle om te wil, en dus om te werk – in gehoorsaamheid aan Hom (Fil 2:12-13).

            Daarom word sy diensknegte geken aan hulle liefdevolle, sagmoedige en dankbare diensbaarheid teenoor hulle medemens. Hulle voetewasliefde, sonder enige aanspraak op kompensasie, is een van die uitstaande kenmerke van diegene wat in die leërmag van "die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid" veg. Dis diesulkes wat in die voetspore volg van die Lam wat geslag is.

Die Heilige Gees (v.6b)

#          Kom ons gee net 'n treetjie terug, na die beskrywing van die Lam wat geslag is (v.6): "Hy het sewe horings en sewe oë gehad – die sewe Geeste van God – wat oor die hele aarde heen uitgestuur is."

            +          Let op die herhaling van die "sewe". Sy goddelike volmaaktheid word dubbeld beklemtoon. En dit verwys spesifiek na sy onstuitbare almag en alles-siende alwetenheid.

            +          Hierdie almag en alwetenheid van die Lam word verder gekwalifiseer. Dit manifesteer deur "die sewe Geeste van God".

            Dit verwys sonder twyfel na die Heilige Gees, en spesifiek na die volheid van sy wese en werk waarmee Hy hier op aarde tydens die laaste dae die implimentering van die Here Jesus se regering bewerkstellig.

Die Opmars (v.7)

 

#          "En Hy het nadergegaan, en die boekrol geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit" (v.7).

            Só tree die Lam dan aan vir sy vorstelike regering deur die laaste dae ­– met die littekens van die kruisiging in sy hande en sý – steeds duidelik sigbaar. Dit bevestig immers onweerlegbaar sy eienaarskap van diegene ter wille van wie Hy optrek in die stryd.

#          Hierdie regering van Jesus Christus, deur die Heilige Gees realiseer nie net hier en daar nie. Die Here Jesus se triomftog kom nie tot 'n einde wanneer die boek Handelinge oor die evangelie se voortgang, in hoofstuk 28 in Rome eindig nie (ná ongeveer 30 jaar).

            Nee, nee! Ons trek nou al by "Handelinge 2000", by wyse van spreke. En Daniël 2 se rots is is steeds onstuitbaar aan 't rol.

Die Lam se visier is gerig

op die uiteindes van die aarde

op "die hele aarde"

op elke "geslag en taal en volk en nasie"! (v.9)

#          Oor die feit dat die Vader hierdie onstuibare voortgang van die Koninkryk – oftewel die breek van die seëls – aan die Seun toevertrou het, praat die Nuwe Testament weer en weer.

            +          Matteus 11:27: "Alles is deur die Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak."

            +          Johannes 3:35: "Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee."

            +          Johannes 5:22,23: "Die Vader ... het die volle oordeel aan die Seun gegee, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie."

            +          Johannes 17:1-2: "Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë na die hemel opgerig en gesê: Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik – net soos U aan Hom gesag oor die hele mensdom gegee het, sodat Hy aan elkeen wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe kan gee."

#          Dan gaan die apostel Paulus 'n tree verder as hy in Efesiërs 1:15-23 skryf: "Hy (God die Vader) het alles onder sy voete gestel (die Here Jesus s'n), en Hom aan die kerk gegee, as Hoof oor alles, die kerk wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vul" (v.22-23).

#          Hou mens nou bogenoemde in gedagte, werp dit besondere lig op die Here Jesus se "Groot Opdrag" wat Hy aan sy dissipels gee. Hiermee betrek Hy sy gemeente as laaste skakel in sy oopbreek van die seëls.

            Let daarop dat dit die heel laaste opdrag aan sy dissipels was, onmiddellik voordat Hy opgevaar het na die hemel – iets wat hulle dus nooit moes vergeet nie, en baie duidelik nie hét nie: "Aan Mý is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk (Gr. idou), Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd" (Matt 28:18-20).

            Uiteraard was dit dus ook 'n opdrag aan die kerk dwarsdeur die laaste dae.

Het jy dit gehoor?

Ons madaat om die Groot Opdrag uit te leef

om dus volledig medewerkend betrokke te wees by die implimentering van die seëls

spruit voort uit die gesag van Hom

aan wie die Vader alle mag in die hemel en op die aarde gegee is.

En in die proses lê ons sekuriteit in sy belofte

dat Hy dwarsdeur die laaste dae met ons sal wees.

 

Wat sê dit vir ons? (v.8)

1.         Ons moenie v.8 miskyk nie. As die Lam die boekrol neem, begin die wesens en die ouderlinge Hom loof. Elkeen het 'n "lier" ('n soort harp), en die ouderlinge het "goue bakke vol reukwerk" in hul hande.

            Die musiekinstrumente dui op dankbare en blymoedige lofsang.

            En wat die goue bakke voor staan, word dan verduidelik. Dis die heiliges, oftewel die saliges in die hemel se "gebede".

            +          Sekerlik behels ons rol in die koms van die koninkryk méér as gebed. Maar sonder twyfel is dit vol betekenis dat spesifiek gebed hier in Op 5:8 onderstreep word. In ons wandel voor en met die Here, is daar niks, maar niks belangriker as gebed nie!

            +          Dit verstaan gelowiges dwarsdeur die eeue.

            Só stel die Heidelbergse Kategismus dit in vraag en antwoord 116: "Waarom is die gebed vir die Christene nodig? Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis. En omdat God sy genade en sy Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank."

            En, let op, as die Here Jesus sy dissipels leer om te bid, is ook die versugting na die koms van die koninkryk (dus die ontvouing van die seëls) 'n belangrike deel daarvan (Matt 6:9-13; Luk 11:2-4).

            +          Laat ons dus bemoedig word deur Op 5: Jou en my gebede is elke dag offers van goue bakke vol aangename reukwerk voor die Koning van alle konings. Laat ons dit ten alle koste nie verwaarloos nie.

2.         Onthou aan wie hierdie boek eerste gerig is. Dis geskryf aan 'n kerk onder vervolging – ongeag of dit in die sestiger of negentiger jare van die eerste eeu geskryf is. Wat kan onder sulke omstandighede meer troos bring as Op 5? In die hemel is Iemand wat waardig is, besig om 'n boekrol se inhoud te implimenteer. En húlle is die erfgename daarvan!

            Dink aan die geloof wat dit van hulle geverg het. Dikwels moes hulle gevra het: Kan dit wees dat óns swaarkry, ons Vader se wil is? Staan ook dít opgeteken in die boekrol?

            Met hierdie vraag het alle gelowiges deur die eeue tot 'n mindere of meerdere mate geworstel. Niemand sê dis 'n maklike saak nie. Maar elke gelowige móét eenvoudig tot rus kom in die Godsopenbaring hier in Op 5. Tans, in óns relatief maklike omstandighede, mag mens gou-gou sê, "Natuurlik aanvaar ek dit!"

            Maar daar is vir seker wel miljoene gelowiges vandag met wie dit nét so moeilik gaan soos met Johannes en sy mede-gelowiges, destyds in die eerste eeu.

            Én, vergeet dit nie, daar kom wel seisoene in feitlik alle gelowiges se lewens, wanneer die wete dat ook mý lewensloop en omstandighede in daardie boekrol opgeskryf is, tot baie groot troos en lewensbehoud is.

Die kerk van alle eeue, ongeag die omstandighede

moet weer en weer terugkom na hierdie hoofstukke:

God heers soewerein in Christus!

Daar is 'n troon in die hemel!

en

daar is Een wat steeds besig is

om die boekrol oop te rol

en

om die verordeninge daarin uit te voer!

 

Die "nuwe lied" van die "vier-en-twintig ouderlinge" (Op 5:9-14)

#          Nêrens in die Bybel kom die lofprysing van die Here God tot meer verhewe uitdrukking as in Op 5 nie. Dit is in respons op die oorhandiging van universele heerskappy aan die geslagte Lam. Die hele skepping is in harmonieuse verrukkingslof as Hy die middelaarsmandaad tussen Skepper en skepping ontvang. Hy bestyg hier sy Koningstroon.

            Van nou af sal Hy 'n gevalle skepping stapsgewyse, maar onstuitbaar, herskep – nie net tot die heerlikheid daarvan voor die sondeval nie, maar tot die onbedinkbare en ewige heerlikheid van die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Die "nuwe lied" van die "vier-en-twintig ouderlinge" (Op 5:9-10)

#          Die blydskap en lof van elkeen van die "ouderlinge""die heiliges" (dus die saliges in die hemel) – word gesimboliseer as 'n "lier".

            En elke gebed word voorgestel as 'n "goue bak vol reukwerk".

#          Die loflied wat die ouderlinge sing, is 'n "nuwe" lied.

            Sedert die lofliedere in h.4 het daar dramatiese nuwe verwikkelinge gekom. Toe is die aanbidding gerig tot "Hom vat op die troon sit". Nóú word dit gerig tot die "Lam" – spesifiek Hý wat die vermoë en reg het om die boek oop te rol. Dis Hý wat die gesag het om die uiteindelike raadsplan van sy Vader tot werklikheid te bring. Van nou af sou Hy, ja, Koning Jesus, die herskepper van miljoene mense tydens die laaste dae wees. En steeds marsjeer Hy voort, dag na dag.

            Ja, Hy werk deur sy Heilige Gees, en die Gees werkl deur die gemeente. Maar die Leeu en die Lam is en bly die Opperbevelvoerder.

#          Hierdie loflied fokus spesifiek op die hart van die Lam se mandaat. Dit word spesifiek beklemtoon in die tweede helfte van v.9: "omdat U geslag is en met U bloed mense vir God gekoop het, uit elke geslag en taal en volk en nasie."

            As Middelaar het Jesus die Christus aan alle voorwaardes vir die instelling van die nuwe verbond voldoen. As Hoof van die Nuwe Verbond het Hy in sy menslike natuur aan alle voorwaardes daarvan voldoen. Hy het die vloek van al sy mense volkome verduur en die prys betaal. Daarom het Hy verheerlik opgestaan, en kon Hy die Heerserstroon bestyg.

            Luister na Ps 24:7-10, 'n profetiese psalm van Dawid.

"Lig op julle koppe, poorte, ja, lig julleself op, ewige ingange,

sodat die roemryke Koning kan ingaan.

Wie is hierdie roemryke Koning?

Die HERE, magtig en heldhaftig,

die HERE, heldhaftig in die stryd.

Lig op julle koppe, poorte, ja, lig op, ewige ingange,

sodat die roemryke Koning kan ingaan.

Wie is Hy, hierdie roemryke Koning?

Die HERE, Heerser oor alle magte,

Hý is die roemryke Koning."

#          Sederdien roep die goeie nuus van die evangelie sondaars om in die voetspore van die Koning deur die poorte van die godstad te stap.

#          As die heiliges in die paradys hierdie lied met soveel opwelling sing, moet ons, weliswaar nog op hierdie ou aarde – ons wat reeds saam met hulle in Christus is – sekerlik die lofsang hier en nou al leer sing.

            Hoe leer mens om die lied só te sing? Dis nie moeilik nie. Al wat nodig is, is dÍt:

Draai weg van jou sonde, en bely dit.

Draai na die Lam toe, die Een wat die saliges hier besing.

Werp jouself met alles wat jy is en het op Hom en sy verdienste

wat met sy bloed mense "uit elke geslag en taal en volk en nasie" gekoop het.

 

En voordat jy jou kan kry, sal ook jý die "nuwe lied" begin sing!

#          Die apostel Petrus, asook die lesers van sy eerste brief het hierdie nuwe lied geken: "Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo julle in Hom, en jubel julle met 'n onuitspreeklike en en heerlike blydskap, omdat julle reeds deel het aan die doel van julle geloof, naamlik die verlossing van julle siele." (1Pet 1:8-9).

#          Vers 9b begin redegewend: "omdat". Die kruis is dus sy mandaat tot sy kroon. Die kruis het alle belemmeringe vir gevalle mense om gered te word uit die weg geruim.

            +          Die vraag, "Hoe kan God sondaars regverdig verklaar én terselfdertyd Self regverdig bly?", was ónoplosbaar – maar nét totdat die volmaakte Lam geslag is.

            Binne ses uur het alles vir ewig vir dermiljoene verander!

            Jesus Christus het as Plaasvervanger die straf wat God se Wet vereis gedra, die oordeel gedra, die vloek verwyder – en sodoende die weg tot die ewige saligheid wyd oopgemaak. Presies dít is waarom Paulus kan skryf: "Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die Wet deurdat Hy in ons plek 'n vervloeking geword het, want daar staan geskryf: 'Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang.' " (Gal 3:13).

                        =          Op hierdie genoegdoening se oneindige waarde, berus ons mandaat om vrylik die oop aanbod van alle heil en voorregte tot álle mense te rig. Christus se volkome middelaarswerk was, is en bly genoegsaam (Eng: sufficient)

            Daarom Jesus se bevel: "Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die hele mensdom" (Mark 16:15). En daarom Jesus se oop uitnodiging: "En laat elkeen wat dors het, kom. En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kom kry, verniet!" (Op 22:17).

                        =          Maar die Here Jesus se dood het nóg meer bereik. Dit het inderdaad 'n volk vir Hom gered. Dit het nie net redding móóntlik gemaak nie; dit het redding vir begenadigdes verséker". Christus se volkome middelaarswerk was, is en bly skeppingskragtig effektief (Eng: efficient).

            Dit hoor ons ook hier in Op 5:9: Hy is geslag, en het met sy bloed mense gekoop uit elke geslag en taal en volk en nasie.

            Vir diesulkes is die prys betaal. Hulle behoort nou aan die Koper. En niks in die hemel of op aarde het steeds enige aanspraak op hulle nie – vir tyd en ewigheid.

Kan jy sien?

Redding is vir almal moontlik gemaak, sodat niemand kan verwyt nie.

Redding is vir begenadigdes verseker, sodat nie een van hulle kan roem nie.

            +          En wat van díé wat nooit die evangelie gehoor het nie? Hierdie vraag spreek die apostel aan in Rom 1:18-32. (Lees dit self)

#          Let verder op: Die koorlede wat hierdie nuwe lied sing, jubel nie net omdat hulle vrygekoop is nie, hulle verlustig hulle ook in hulle nuwe status en roeping – steeds deur genade aan hulle verleen. Hulle het nie daarvoor gewerk nie; hulle het dit eenvoudig ontvang. "U het hulle 'n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle sal as konings oor die aarde heers."

            +          Let op: Hy wat die rol oopmaak, het hierdie voorreg aan hulle gegee. Hý het dit gekoop – met sy eie bloed – en Hy mag dit uiteraard gee vir wie Hy wil.

#          Laat ons dus gereeld bemoedig word deur die gelowige se sekerheid van finale oorwinning, te danke aan die begronding daarvan in Jesus Christus se volkome middelaarswerk

            +          Toe God die mens geskep het, het Hy aan hom heerskappy oor die aarde gegee. Hierdie gesag het die mens egter verbeur met sy sondeval. So word Satan dan die vors van die wêreld.

            Die aarde is egter vir die mens geskep – en niks in God se raadsplan sal ooit misluk nie.

            Gevolglik word God die Seun volkome mens. Hy oorwin dan, as die eersgebore van die nuwe mensheid, die duiwel – dus as "die laaste Adam", oftewel "die tweede mens" (1Kor 15:45-47; vgl. v.20-28). Hy bind dan die Satan tot aan die einde van die laaste dae "sodat hy nie meer die nasies op 'n dwaalspoor sou lei nie" – en gooi hom uiteindelik in die ewige poel van vuur en swael (Op 20:1-3; 7-10).

            Uiteindelik neem die mens in Christus dan besit van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde (Op 21-22).

            +          Gelowiges in Christus se oorwinning begin al in hierdie lewe om 'n werklikheid te word – weliswaar nog gebroke en onvolmaak. Maar tipies draai hulle die rug op die verleidinge van die God-vyandiggesinde wêreld; tipies weerstaan hulle die duiwel se versoekinge; en tipies heers hulle oor die oorgeblewe reste van die sondige natuur. Só volhard hulle dan enduit in die geloofswedloop.

            Maar hierdie oorwinning kulmineer uiteindelik in die begenadigdes se opstanding, heerlikmaking, en ewige heerskappy op die nuwe aarde.

#          By wyse van samevatting kan dit só gestel word:

Aangesien die Lam die soewereine vermoë het om die boekrol van die laaste dae oop te rol, en dit inderdaad dan ook met volle mandaat van die Vader doen,

geniet diegene wat met Hom verenig is onwankelbare sekerheid

dat alle evangeliebeloftes aan hulle uiteindelik tot volkome wasdom sal kom.

En dit is onomkeerbaar veranker in die histories-afgehandelde werklikheid

van Jesus Christus se plaasvervangende kruisdood.

 

Uiteraard het dit enorme en ewige implikasies vir diegene wat met Hom verenig is!

Die hele skepping word deel van die lofprysingskoor (Op 5:11-13)

#          Uiteindelik loof die hele skepping God die Vader en God die Seun.

            +          In v.11-12 begin ook die ontelbare skare engele saam met die saliges in die hemel sing: "Waardig is die Lam wat geslag is, om die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof te ontvang".

            +          Ook"die vier lewende wesens" val dan in (terwyl die Ouderlinge steeds sing) – "duisend maal duisende, tienduisend maal tienduisende", van hulle.

            Hulle roep met harde stemme: “Waardig is die Lam wat geslag is, om die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof te ontvang.”

            +          Dan kan die res van skepping nie langer stilbly nie. Die "hele skepping – in die hemel, op die aarde en onder die aarde" – selfs "die see, en alles wat daarin bestaan" begin "die Lam" te verheerlik.

            Maar óók (let op) "Hom wat op die troon sit" (v.13).

            +          Uiteindelik sluit die oorweldigende aanbiddingslied af met "die vier lewende wesens" se hartlike beaming: "Amen!" – dit is gewis, waar en seker!

            En die saliges val dan in aanbidding neer (5:14).

Hier word 'n aanbiddingstoneel geskilder

wat waarskynlik ongeëwenaard is in die Bybel!

Wat ook al vorentoe op ons wag, laat Op. 5 steeds vir ons 'n ankerpen bly

1.         Laat ons onthou, dit wat in hierdie wonderlike apokaliptiese boek aan ons geopenbaar word, is genoegsaam vir ons. Ons is nie oningelig nie.

#          Al weet ons nie presies wat die toekoms inhou nie, weet ons Wie die toekoms vashou!

#          Onthou ook, die presiese implimentering daarvan is steeds aan die gang. Al die seëls is nog nie gebreek nie. Terwyl ons die groot kontoere van die toekoms verstaan, ken net die Here die presiese besonderhede daarvan.

            Ons wat in Christus is, kan en moet egter die pad vorentoe met vaste tred stap – wetende dat Hý alwetend en almagtig enduit sal regeer.

Laat ons dus ons oë vasnael

op Jesus Christus – die "Leidsman en Voleinder van die geloof",

en op die wenpaal,

en op die ewige heerlikheid daarna.

.

2.         Wat wil die lofprysing van die ganse skepping, waarna ons pas gekyk het, verbeeld?

#          Al die hemelinge weet nou dat die finale realisering van God se raadsplan onwankelbaar seker is – dat geen weerstand op aarde of in die hel dit sal kan stuit nie.

#          Selfs die skepping – wat al vir duisende jare "met vurige verlange" wag op sy vrymaking van "verslawing aan die verganklikheid" – weet nou vir seker dat dit inderdaad uiteindelik aan 't kom is.

            Ja, ja, éérs moet die kinders van God openlik bekend gemaak word – maar presies net dít gaan nou begin (Rom 8:19-21).

3.         Dís waarvan Op 20 praat!

 

#          Die Here Jesus se heel eerste taak sou wees om die Duiwel te bind, "sodat hy nie meer die nasies op 'n dwaalspoor sou lei nie." Die oes vanuit alle nasies, stamme, volke en tale moes immers nou dwarsdeur die laaste dae ingebring word.

            Só sal dit enduit bly. Maar reg teen die einde moet hy wel vir 'n "kort tydjie losgelaat" word – met die oog op sy laaste rebellie en verdoeming na die "ewige poel van vuur en swael." (Op 20:1-3; 7-10).

            +          Die Here Jesus se uitdrywing van demone tydens sy jare van vernedering was alreeds 'n profetiese vooruitwysing hierna,

#          Uiteindelik, as alles dan afgehandel en opgeruim en herskep is, neem die mensheid in Christus besit van die nuwe hemel en die nuwe aarde (Op 21-22)

4.         Die Ou Testament praat alreeds oor en oor profeties hiervan

#          Baie kort na Pinkster onderstreep Petrus dit. Nóú verstaan hy! Nóú verstaan die apostels die Ou Testamentiese profesieë. In Hand 3 praat die leier van die apostels van "die tyd van die herstel van alle dinge, waarvan God by monde van al sy heilige profete gepraat het" (v.20-21).

#          Om die punt tuis te bring, net drie aanhalings uit die profesie van Daniël (amper 700 jaar voordat Johannes hierdie visioen sien!).

            Waarlik, ons het onbetwisbaar duidelik met die soewereine raadsplan van God te doen!

            +          7:13-14: "Ek het in die nagtelike visioene gesien: 'Kyk, met die wolke van die hemel was Iemand aan die kom wat soos 'n Mensekind was; tot by die Oue van Dae het Hy gekom, voor Hom is Hy gebring. Aan Hom is heerskappy, eer en koningskap gegee – alle volke, nasies en taalgroepe dien Hom. Sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie verby sal gaan nie, en sy koningskap is só dat dit nie vernietig sal word nie."

            +          7:18: "... maar die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem vir ewig en altyd."

            +          7:27: "Die koninskap, die heerskappy en die grootsheid van die koninkryke onder die ganse hemel word dan gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste. Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, en alle magte sal Hom dien en aan Hom gehoorsaam wees."

-o0o-

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev