Video-opnames: 1. https://tinyurl.com/4pyy2apf 2. https://tinyurl.com/2s458fx2
3. https://tinyurl.com/3ckvyy69
Inleiding
# Hier begin die ooprol en implimentering van die boekrol se profesieë nou. Maar ewe duidelik, nie alleen word die tipiese verloop van die laaste dae geskets nie, maar onmiskenbaar ook die finale en verskriklike beëindiging daarvan.
Hierdie geskiedenis word beskryf aan die hand van die 7 seëls wat oopgebreek word. Ons sal agtereenvolgens daarna kyk.
# Al drie die sinoptiese evangelies bevat die Here Jesus se Profetiese Rede, waarin Hy baie lig werp op die aard van die laaste dae (Matt 24; Mark 13; Luk 21).
Maar die evangelie van Johannes gee geen aandag aan hierdie kardinaal belangrike uitsprake van Jesus nie. Hieroor het baie kommentatore al gewonder.
Brian Borgman maak egter 'n interessante opmerking hieroor. Hy reken dat ons dalk aan die Openbaringboek kan dink as as 't ware Johannes se "Profetiese Rede"!
# Die eerste 4 seëls vorm in 'n sin 'n eenheid, en staan bekend as die 4 perderuiters van die Apokalips.
Die oproep (v.1)
# Mag ek net weer herinner – aan iets wat mens geneig is om aanmekaar te vergeet. Ons het met 'n apokaliptiese geskrif te doen! Dit beteken dat ons oor en oor met beeldspraak te doen het. Dit impliseer nie dat ons van fabels praat nie. Nee, nee! Hierdie beelde praat van historiese realiteite, maar werklikhede wat só omvangryk en kompleks is, dat dit bykans ondenkbaar vir 'n leser is. In so 'n geval is hierdie manier van skryf nie net die maklikste en kortste om die werklikheid oor te dra nie, maar dalk ook die treffendste.
# Let verder op dat dit nogeens gesê word dat dit die "Lam" is wat hierdie seëls oopbreek. Dis belangrik om steeds voor oë te hou dat, wat ook al vorentoe beskryf word, dit Jesus Christus is wat soewerein oor die laaste dae regeer. Dit beheers selfs die boosheid van die Satan, soos onder meer hier in h.6 beskryf word.
+ Dit word dikwels só geïllustreer: Die duiwel is soos 'n boosaardige hond wat aan 'n lang ketting vas is. Hy het nog baie beweegruimte, en as jy onverskillig is en dit binne sy bereik waag, kan hy jou verskeur.
Maar dit is uiteraard ook moontlik om buite sy bereik te bly.
En vir seker, soos Op 20:1-3 ons meedeel, kan hy nie meer die nasies in geestelike duisternis hou nie – soos tydens al die eeue voordat Christus gekom het.
# Hierdie onbetwisbaar-soewereine regering van die Lam word amper subtiel onderstreep. Dit sit in die enkele woordjie: "Kom!" Let op, met die oopmaak van die eerste vier seëls, gebruik elke lewende wese dit.
Dit beklemtoon die dwingende gesag van die Lam se bevel.
# Mens kan jou indink, die hemelinge hou nou hul asem op. Wat gaan die boekrol onthul oor God se bloudruk vir die geskiedenis vorentoe?
Gaan die Messiaanse vrede waarvan die Ou Testament in soveel verrukking skryf, nou uiteindelik aanbreek? Die Lam se versoeningswerk het immers pas tot vervolmaking gekom. Gaan Hy nou verheerlik opstaan en die langverwagte nuwe hemel en aarde onder sy heersershand tot stand kom?
Wat gaan die boekrol oor die toekoms onthul?
Die eerste seël: 'n Wit perd (v.2)
Hoeveel belofte hou die eerste seël dan ook nie in nie! 'n Ruiter op 'n wit perd! Wie kan dit anders wees as die Here Jesus Christus self!
In die antieke wêreld was 'n wit perd immers simbolies van oorwinning. Terugkerende generaals het op sulke perde Rome binnegery na hulle oorlogstriomfe. Sy "boog" is immers 'n simbool van oorlogvoering; sy "oorwinnaarskroon" sê dat hy triomferend terugkom.
Ja, hy is gewis die "oorwinnaar".
Die tweede seël: 'n Rooi perd (v.3-4)
Ontnugtering! 'n skok vir die hemelinge!
"Rooi" praat van bloed. En inderdaad: "Aan sy ruiter is vergun om die vrede van die wêreld weg te neem." Mense gaan mekaar "doodmaak". Hierdie ruiter het nie 'n boog nie, maar 'n "groot swaard."
Die derde seël: 'n Swart perd (v.5-6)
Verdere ontnugtering!
# "Swart" praat van verskriklike ontbering. En dit word onderstreep deur die "weegskaal". Dis wat gebruik is om in tye van hongersnood beperkte kosuitdeling af te weeg.
Inderdaad praat v.6 van 'n "rantsoen koring". Hierdie is 'n ontstellende openbaring. Dis verhongeringstaal. So 'n rantsoen was destyds net genoeg kos om een persoon vir 'n dag aan die lewe te hou. Gars was minder voedsaam. Daarom is drie rantsoene daarvan uitgemeet.
Maar dis nie al nie. 'n "Denarius" was 'n klomp geld. Dit was die tipiese loon wat 'n arbeider vir 'n voldag se werk gekry het.
Na skatting praat hierdie visioen van 10x die normale prys.
# Maar die ontberinge wat hierdie ruiter bring, is genadiglik nie onbeperk nie. Hy het nie 'n vryhand van vernietiging en doodslag nie. Hy mag nie die "die olyfolie en die wyn" inperk nie!
Die vierde seël: 'n Vaal perd (v.7-8)
# Hierdie perd se kleur is die kleur van 'n lyk, van die dood en die doderyk. Érger kan dit nie. Hy het volmag om 'n kwart van die mense op tragiese maniere dood te maak: Oorlog! Hongersnood! Epidemies! Natuurrampe!
Wat skep meer vrees by die mens as hierdie man met die sens oor sy skouer? So was dit dwarsdeur die eeue.
In Spreuke beskryf Salomo die doderyk as 'n put wat mense verslind (1:12), as die onderwêreld (15:11), as die plek wat nooit versadig raak nie (27:20).
Selfs Paulus beskryf dit as "die laaste vyand wat vernietig moet word" (1Kor 15:26). En onthou, hy praat met Christene. Die toppunt van verwaandheid is om ligsinnig te wees oor die dood!
Terug na die eerste seël (v.2)
Hoe pas die eerste seël in hierdie lys van onheil? Dis immers totaal uit pas met seëls twee, drie en vier. Dit maak eenvoudig nie sin nie.
Moet ons maar met hierdie diskrepansie saamleef? Of moet ons weer teruggaan na seël een toe. Inderdaad.
# Mens kan verstaan dat ons vertolking van effe – naamlik dat die ruiter op die wit perd na Jesus Christus verwys – steeds aan die orde is in baie Bybelgelowige kringe. Daar kan immers sterk Skrifargumente voor aangevoer word. Die invloedryke en baie gewaardeerde kommentaar van William Hendriksen voer byvoorbeeld 7 sterk begronde motiverings daarvoor aan (More than Conquerors, p.93-96).
Máár, ewe sterk argumente bestaan daarvoor dat hierdie ruiter op 'n vals Christus – 'n nagemaakte Christus – praat.
# Talle kere beklemtoon die Nuwe Testament dat Satan 'n misleier en bedriër is. Hy hou homself voor as oorwinnaar, as die nuwe messias.
Jesus se profetiese rede maak baie daarvan dat hy die nasies sal mislei. Trouens, die Here sê dit reg aan die begin van sy lering: "Pas op dat niemand julle mislei nie Want baie mense sal in my Naam na vore tree en sê, 'Ek is die Christus!' en hulle sal baie mense mislei." (Matt 24:4-5; vgl. ook Mark 13:5; Luk 21:8).
Kennelik sal dit, meer as enigiets anders, die duiwel se aanslag wees in sy rebellie teen die Here Jesus en sy gemeente.
Luister na 2Kor 11:13-15: "Satan vermom hom as 'n engel van die lig!"
# Bogenoemde gee weliswaar nie die deurslag nie. Dít word deur die Openbaringboek self gegee. Dwarsdeur Openbaring is dit algemeen dat die Duiwel en sy agente hulle
voordoen as Christus of sy diensknegte.
+ 'n Vergelyking tussen die eerste seël in Op 6 en Op 19:11vv – waar ongetwyfeld van Christus gepraat word – laat mens al snuf in die neus kry.
In laasgenoemde hoofstuk ry die Here óók op 'n wit perd. Máár daar is beduidende verskille tussen die twee ruiters. Die Here Jesus is bewapen met 'n "swaard" (v.15); hier in ons hoofstuk het die ruiter 'n "boog". Maar nog duideliker, in Op 19:12 dra Christus baie heerserskrone (Gr. diadēmata); in Op 6 se eerste seël het hy 'n enkele oorwinnaarskroon (Gr. stephanos). Die duiwel doen homself voor as die oorwinnaar, maar die koning is hy gewis nie. En dit sal hy nooit wees nie.
+ Maar die namaaksel word nóg duideliker. Christus word 4x in Openbaring die "oorwinnaar" genoem. Máár ook die duiwel word in 11:7 en 13:7 ook as oorwinnaar beskryf.
Kyk mens egter na die vyfde en sesde trompette (Op 9:1-12 en 9:13-21), waar beskryf word hoe verskriklike oordele oor die bewoners van die aarde uitgegiet word, is 'n enkele woordjie baie sprekend. Die instrumente van oordeel se voorkoms is "soos díé van perde" en soos "perderuiters" (OAV; NAV), en op hulle koppe is "iets soos krone" (9:7,9; 9:16,17,19). Maar hulle is agente van die duiwel; Hý is hulle koning (9:11).
# Nóú verstaan mens die derduisende ellendes wat die wêreld dwarsdeur die eeue sonder ophou teister: Oorlog! Hongersnood! En ergste van alles, die onontkombare en immer-teenwoordige man met die sens – die dood!
Daar is dus geen diskrepansie tussen seël 1 en seëls 2-4 nie.
Die eerste seël se ruiter op 'n wit perd is toe al die tyd "Abaddon" (Hebr: "onderwêreld") en "Apollion" (Gr. "Verwoester") (Op 9:11). Hy is "die groot draak"; "die slang van weleer"; die "Duiwel"; die "Satan" (Op 12:9) "die aanklaer van ons broers" (Op 12:10) wat homself voordoen as die nuwe messias.
En die volgende 3 seëls skets sy meedoënlose, maar tevergeefse verset en agressie teen die laaste Adam die ewige Bruidegom van sy bruidsgemeente en Erfgenaam van die nuwe hemel en die nuwe aarde.
Enkele opmerkings
# Let op: Hierdie 4 ruiters was dwarsdeur die 20 eeue ná hierdie openbaring baie aktief – nie net in die laaste van die laaste dae nie.
# Na aanleiding van die progressiewe aard van die seëls, kan mens sekerlik 'n intensiteitstoename verwag. Maar dis 'n omvangryke saak, waaraan ons nie nou veel aandag kan gee nie. Dis egter nodig om net te waarsku teen 'n sensasionele, selfs alarmistiese soort eskatologie wat ongelukkig in sommige kringe "gepleeg" word.
Dis wel so, as mens na die oorloë oor die tyd kyk, is die twee wêreldoorloë die afgelope eeu ongeëwenaard wat omvang en mortaliteit betref. In die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het ongeveer 20 miljoen mense gesterf, waarvan 50% burgerlikes was. En in die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945), 40-50 miljoen.
Maar terselfdertyd, in hierdie verband moet die betekenis van hierdie mortaliteitsyfers nie oorbeklemtoon word nie. Mens hoor soms dat daar in sekere Christelike kringe groot gewag gemaak word van die huidige Covidpandemie. Maar, erg soos dit is, is dit gering in vergelyking met die sogenaamde Swart Dood (1346-1353), toe 75-200 miljoene mense gesterf het. Selfs die Groot Griep (1918-1920) was erger met 25-50 miljoen sterftes.
# Ons moenie so seker wees dat die Nuwe Testament duidelik leer dat die laaste van die laaste dae soveel moeiliker sal wees as die voorafgaande eeue nie.
Lees maar Jesus se profetiese rede. As Hy in Matt 24:36-44 oor "daardie dag en uur" praat, skets Hy in v.37-39 'n heel rustige en selftevrede samelewing: "Want net soos in die dae van Noag, so sal die koms van die Seun van die Mens wees. Soos hulle immers in daardie dae voor die vloed besig was om te eet en te drink, om in die huwelik te tree en in die huwelik uit te gee, tot op die dag dat Noag die ark binnegegaan het, en hulle niks vermoed het totdat die vloed gekom en almal meegesleur het nie, só sal ook die koms van die Seun van die Mens wees."
# Ek wonder soms of die verintensifering wat Openbaring se seëls, trompette en bakke betref, nie tot 'n mate ook in ons bewustheid en belewing van vandag se wêreldwye ellendes sit nie. Wat ek bedoel is dat ons hoe langer hoe meer in 'n neutedorp woon (Eng. "Global Village"). Ons weet vandag binne ure meer van 'n honderd wêreldwye ellendes, as wat, byvoorbeeld, die mense van die Kaap die Goeie Hoop selfs na jare geweet het van die Voortrekkers se 1838 dramas net anderkant die Drakensberge.
# Net 'n laaste opmerking: Dis wél waar dat die Bybel duidelik leer – ook die Openbaringboek – dat alle ware Christene se ervaring direk voor "daardie dag en uur" (Matt 24:36) dramaties sal verskil van díé van wêreldlinge. Vir die Here se dissipels sal dit baie, baie moeilike dae wees!
Die vyfde seël: Die siele aan die voet van die altaar (v.9-11)
Vers 9
# Die eerste vier seëls skets die swaarkry en ellendes wat op 'n duisend maniere hierdie wêreld se verloop van die laaste dae kenmerk. In die besonder beleef die bruidsgemeente dit in haar vreemdelingskap hier op aarde.
Maar nou verskuif die toneel na die hemel toe. Nou is die fokus uitsluitlik op die Here se heiliges.
# Johannes sien "aan die voet van die altaar die siele van die wat doodgemaak is vanweë die woord van God en die getuienis wat hulle gelewer het" (v.9).
+ Die woord moenie altyd so verstaan word nie, maar híér onderstreep dit ongetwyfeld, as van "siele" gepraat word, dat die toneel vóór die wederkoms en opstanding afspeel. Dit verwys na die saliges, maar in hulle voorlopige hemelse tussentoestand.
+ Daar was twee altare in die tabernakel. Na watter altaar hier verwys word, word nie gesê nie. Waarskynlik is die verswyging doelbewus, want beide maak in hierdie konteks baie sin.
Vir seker moet mens hierdie simbool in die lig van die Ou Testamentiese tabernakel en tempel vertolk. Daarin was 2 altare.
= Eerstens was daar die die brandofferaaltaar in die allerheiligste. Sulke offers het vooruitgewys na die finale Lam van God wat Homself uiteindelik as volkome en finale versoeningsoffer gegee het om tussen God en mens versoening te bring. Hier in Op 4 is die beeld dus 'n herinnering dat die siele in die saligheid verkeer te danke aan die offer wat Jesus Christus gebring het en dat dit steeds geld as die begronding van hulle saligheid.
= Tweedens was daar die reukofferaltaar in die heilige, waarop geurige reukwerk geoffer is – simbolies van aanbidding voor die Here. Die beeld in ons teks wil daarom onderstreep dat die siele nooit klaar kry om die Lam te loof nie, op watter wyse ook al. So 'n verstaan word bevestig deur Op 8:3: " 'n Ander engel het nader gekom met 'n goue wierookbak, en by die altaar gaan staan. Baie reukwerk is aan hom gegee om, saam met die gebede van die heiliges, op die goue altaar voor die troon te gaan offer."
Die apostel kan daarom skryf: "Want ek word reeds as drankoffer uitgegiet, en die tyd van my dood is naby. Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, ek het die geloof behou. Nou wag die oorwinnaarskrans van geregtigheid op my, wat die Here, die regverdige Regter, op daardie dag vir my sal gee – en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat sy koms lief het" (2Tim 4:6-8).
+ Tot watter mate hier gepraat word van spesifiek nét martelare, of van hulle as verteenwoordigend van wáre alle gelowiges, is onseker.
Ek meen laasgenoemde is korrek. Álle ware Christene ervaar immers tot 'n mindere of meerdere mate vreemdelingskap, asook meer of minder vervolging in hierdie wêreld. "Almal wat godvresend in Christus Jesus wil leef, sal inderdaad vervolg word" (2Tim 3:12).
G.K. Beale stel dit só: "It is possible that only literal martyrs are in mind, but more likely those who are 'slain' are metaphorical and represent the broader category of all saints who suffer for the sake of their faith" (p.133).
= Volgens die eenstemmige getuienis van die Skrif is dit hoogs te betwyfel of iemand wat nie sy of haar kruis dra nie ('n simbool van self-neerlegging, swaarkry, lyding en teregstelling), enige grond het om te hoop op ewige redding. Ware Christene is en bly vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld. Hulle bly tot die einde toe stroomoplopers – teen die waardes en behepthede van hierdie gevalle wêreld in. En dit geskied selde sonder 'n prys.
Niemand durf hieroor op twee gedagtes hunk nie. Dit sal wees om met jou ewige bestemming te dobbel! Die kansel wat dit nie gereeld baie duidelik preek nie, is hoogs waarskynlik 'n lafhartsfort vir 'n misleier, selfs 'n dwaalleraar.
Waarlik, ons beleef 'n epidemie, 'n pandemie van misleiding in die wêreld.
= Maar, en dis óók belangrik vir Christene om te onthou, nie alle lyding
is 'n aangename geur voor die Here nie. Die apostel skryf in 1 Pet 4:15: "Niemand van julle moet immers as moordenaar of dief of kwaaddoener of bemoeisieke ly nie ...".
Vers 10
# Die siele roep met " 'n harde stem ... tot wanneer, heilige en en ware Here, gaan U uitstel om U oordeel te voltrek, en ons bloed op die aardbewoners te wreek."
+ Die siele vra nie die vraag omdat hulle bloot nuuskierig is nie. Dis vir hulle 'n saak van dringendheid en absolute erns.
Hierdie is nie 'n versugting na wraak nie. Nee, dis 'n roepe dat God sy eie geregtigheid en heiligheid sal handhaaf deur hulle wat Hóm uitdaag en tart te straf. Dit impliseer met ander woorde die vraag: Hoe kan U toelaat dat die ongelowiges hoe langer hoe meer die godonterende idee huldig en uitdra dat U apaties, selfs magteloos is om diegene wat U enkelhartig-getrou dien, se reg te handhaaf?
Só 'n verstaan, word bevestig as mens let op hoe hulle God noem. Hy is die "heilige en ware Here." Hulle versoek is dus dat die Here sy faam as die driemaal-heilige en
onkreukbare verbondsgetroue sal handhaaf.
+ In Ps 79:10, 12 skryf Asaf iets soortgelyk: "Waarom moet die nasies sê: 'Waar is julle God?' Laat dit voor ons oë onder die nasies bekend word: die wraak oor die bloed van u diensknegte wat vergiet is. ... Vergeld ons bure sewevoudig waar dit hulle erg raak vir die bespotting waarmee hulle U bespot het, my Heer!"
Vers 11
# Nou ontvang die siele 'n antwoord as voorlopige troos: 'n "lang wit stola" word aan elkeen gegee. Dit spreek simbolies van God se erkenning van, en beloning vir hulle reinheid en volharding in heiligmaking.
+ As sodanig is dit hier deur Johannes se pen die Here se verklaring ook aan ons wat nog in híérdie lewe verkeer – naamlik dat lewenslange najaging van godsvrug en gehoorsaamheid uiteindelik uitloop op die ewige voorreg om Hom te sien (vgl. Heb 12:14).
Laasgenoemde uitdrukking dui op die mees innige gemeenskap met die Here.
# Waarom die siele nog vir 'n "kort rukkie" moet rus, word dan verduidelik aan hulle wat op daardie oomblik alreeds in die hemel is. Steeds op die aarde is nog baie "medediensknegte en broers wat ook soos hulle doodgemaak gaan word."
Hieruit blyk twee afleidings duidelik:
+ Een, per implikasie is dit 'n belofte dat elkeen van hierdie "medediensknegte" uiteindelik óók 'n "lang wit stola" sal ontvang.
+ Twee, in die Here se raadsplan is daar 'n vasgelegde aantal uitverkorenes wat die genade van lyding vir Hom moet en sal verduur.
# Uiteindelik word die vervulling van dit waarna hierdie siele verlang, in Op 19:1-2
beskryf: "Hierna het ek 'n harde klank gehoor, soos 'n groot skare, wat in die hemel jubel: 'Halleluja! Die verlossing, die heerlikheid en die krag behoort aan ons God! Waar en
regverdig is sy oordele, want Hy het die groot prostituut veroordeel, sy wat die aarde met haar hoerery verlei het, en Hy het die bloed van sy diensknegte wat deur haar hand
omgekom het, gewreek.' "
+ Ek meen ons sien hier iets betekenisvols. In ons teksgedeelte verlang die "siele" dat die Here die minagting van sy eie eer sal straf. Maar híér in Op 19 veroordeel die Here daardie mense wat sy diensknegte vervolg het.
Dis mos hoe ware liefde werk, nie waar nie. Die geliefde se belange is voorop!
Wat sê dit vir gelowiges deur die eeue – en daarom ook vir ons?
1. Let op Jesus Christus se soewereine regering oor alles wat hier op aarde gebeur.
Die eerste vier seëls skets die toestande tydens die bedeling tussen die twee komste van Christus hier op aarde. Dis in vele opsigte 'n tyd van swaarkry en lyding. En, neem
goed daarvan kennis: Ten diepste is die oorsprong daarvan gewortel in die wil van God self.
Dis steeds die uitkringing van die sondeval se gevolge. Hy self laat dit soewerein toe.
En, let op, selfs óns as Christene is nie gevrywaar van baie daarvan nie.
2. Let op, selfs in die tussentoestand voor die voleinding van alles, het die proses van redding in Christus nog nie heeltemal tot vervolmaking gekom nie – daar word op nog meer gewag.
Die vyfde seël skets 'n tipiese toneel in die hemel tydens die laaste dae. Selfs dáár is die heiliges se heerlikmaking nog nie heeltemal en finaal vervolmaak nie. Duidelik ervaar hulle nog verlangens – híér in Op 6 weliswaar nie vir hulleself nie, maar vir hulle broers en susters wat steeds op aarde ly.
Maar veral voorop is hulle verlange dat God se geregtigheid en verbondsgetrouheid tot sy volle reg sal kom wanneer Hy uiteindelik sy oordele ten volle voltrek. In die proses sal die volmaakte redelikheid, wysheid en geregtigheid van sy raadsplan deur die eeue onbetwisbaar duidelik blyk. Ook die vreemdelingskap en lyding van sy kinders in hierdie lewe sal dan onmiskenbaar sin maak vir alle mense – gered en verdoem.
3. Let op dat vreemdelingskap in hierdie wêreld, asook meer of minder lyding wat daarmee saamhang, 'n merkteken is van ware Christenskap.
So was dit die tipiese ervaring van God se kinders dwarsdeur alle eeue. Ons sien dit alreeds direk na die sondeval – as Adam en Eva in vrees wegkruip vir God. Ons sien dit as daar vyandskap gestel word tussen Satan en die mens. Ons sien dit in die vrou se swaarkry in die voortbring van haar kinders, asook in haar voortgaande besorgdheid om hulle groot te maak, en selfs haar besorgdheid oor hulle welsyn al is hulle al grootmense (dis eenvoudig so dat ma's as 'n reël die dinge meer intens beleef as pa's). Ons sien dit in die eise wat 'n man se arbeid in hierdie wêreld aan hom stel. Ons sien dit in die onmin en intriges tussen broers as Kain vir Abel vermoor (en hoewel die Bybel dit nie vermeld nie, kan jy jou kop op 'n blok sit dat dit baie hartseer vir hulle ouers veroorsaak het). Ons sien dit in Kain se ontberinge in sy pogings om 'n bestaan te maak, asook in sy rustelose rondswerf op aarde (Gen 4:9-16).
So hou dit eindeloos aan, eeu in en eeu uit. Uiteindelik kan ons sê, dit klink of hierdie voorbeelde uit die Bybel se eerste bladsye – van jou en my praat.
4. Maar vir ons as God se kinders brand daar 'n helder lig voor in die pad.
Ons het 'n salige hoop, sodat Johannes hierdie apokalips se afsluiting só in Op 21:1 kan begin: "Toe het ek 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het tot niet gegaan ...". En ewe wonderlik: "en die see bestaan nie meer nie". Dit praat van die onrustige, steeds bedreigende, en godvyandiggesinde mensheid tussen wie ons, daarenteen, steeds in die voetspore van ons Here Jesus moet volhard.
5. Laat die apostel Petrus ons ten slotte bemoedig.
1Petrus 4:12-14: "Geliefdes, moenie verbaas wees wanneer 'n vurige beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie; wees eerder bly, namate julle deel het aan die lyding van Christus, sodat julle ook by die bekendmaking van sy heerlikheid uitbundig sal kan jubel. As julle ter wille van Christus se Naam beledig word – gelukkig is julle, omdat die Gees van heerlikheid, dit is die Gees van God, op julle rus"
Die sesde seël: Finale oordeel oor die ongelowige wêreld (v.12-17)
Die oomblik waarop alles afstuur: Wat 'n moment!
# Hier word die gordyn effens oopgetrek vir die siele wat in v.10 meer wil weet oor die afloop van hierdie ou wêreld se geskiedenis. Maar wat hulle eintlik wil weet, bly steeds verskuild vir ons – naamlik die "wanneer" van die Here sy oordele oor die sondige mensheid. Tot vandag toe is die vraag onbeantwoord. Dis ’n geheim wat opgesluit sal bly tot op die dag wanneer dit gebeur.
Wat wel waar is, is dat die Bybel sê dat sekere dinge éérs moet en sal gebeur, voordat daardie dag kom. En onderskeidende gelowiges sal die tekens kan raaksien soos en wanneer dit nog is. Maar hieroor kan ons nie nou praat nie – dis nie ons tema nie.
# Sonder twyfel het ons hier 'n beskrywing van die laaste en finale oordeel.
Hier op áárde het al die broers en susters so te sê hulle onderskeie wenpale bereik (v.11). Elkeen se storie is absoluut uniek. Elkeen, van dwarsoor die aarde, het sy of haar eie wedloop afgelê. En tog is daar ook sonder uitsondering die gemeenskaplike: Die Here Jesus Christus was elkeen se openbarende Profeet, én volmaakte Priester, en gesagvolle Koning.
# Ook het die einde van die ou gevalle skepping uiteindelik na al die eeue sedert die sondeval aangebreek. Dis die finale einde van die laaste dae; dis die heel laaste stuiptrekkings van hierdie gevalle wêreld.
Die wederkoms van die Here Jesus Christus is nou op hande.
Al wat oorbly is God se finale oordele oor die vervolgers van die Here Jesus se dissipels, soos beskryf in die oopbreek van die vyfde seël
– asook die herskepping van die hemel en die aarde.
V.12-14
# Die verskrikking van daardie dag is onbedinkbaar. William Hendriksen praat van, "dread and terror … awe and consternation."
Hierdie dag word aan die hand van twee stukke simbolisme beskryf:
Een, ’n skepping wat totaal ineenstort.
Twee, ’n ongeëwenaard-beangste mensheid.
# Alles begin met "'n groot aardbewing" (v.12). Soos dit met aardbewings gaan, sal dit waarskynlik ook skielik, onverwags en skrikaanjaends kom.
+ Die eerste lesers sou hierdie beeld goed verstaan het. In hulle leeftyd het van die verskriklikste natuurrampe plaasgevind. Die bekendste is die aardbewing wat Pompeii en Herculaneum verwoes het in 62 n.C. 'n Soortgelyke ramp was die uitbarsting van Vesuvius in 79 n.C., wat ook die twee dorpe verswelg het.
+ Van hierdie aardbewing in Op 6:12 word weer gepraat in 16:17-18, waar dit baie duidelik saamhang met die laaste oordeel. Ook dáár het die aardbewing katastrofiese gevolge: "... Dit is afgehandel! ... soos wat nog nie plaasgevind het sedert daar mense op aarde was nie – so geweldig was die aardbewing ..."
+ Mens lees meermale in die Ou Testament van soortgelyke aardbewings. Tipies is dit beskrywings van God se oordele oor die nasies (Jes 24:1-6; Eseg 32:6-8; Joel 2:313:15-16; Hab 3:6-11).
Veral dramaties is Jes 34:4v. oor God se oordele oor Edom: "Al die hemelliggame sal wegsmelt, en soos 'n boekrol sal die hemel opgerol word. Al die hemelliggame sal verskrompel soos die blare van 'n wingerdstok verskrompel, soos verskrompelde vrugte aan 'n vyeboom." Duidelik het dit nie letterlik gebeur nie. Dit was apokaliptiese taal om te beklemtoon hoe katastrofies en vernietigend die oordele sou wees.
+ Hoewel hierdie Ou Testamentiese oordeelsprofesieë in die geskiedenis vervul is, was dit terselfdertyd voortwysings na die finale oordeel soos hier in Op 6 beskryf. As sodanig is dit nogeens 'n voorbeeld van die beginsel wat ons al meermale beklemtoon het, naamlik díé van meermalige historiese vervullings wat vooruit wys, en uiteindelik op die laaste dag tot klimaktiese afronding sal kom. Die reeds-nog-nie-beginsel is kardinaal belangrik as mens die profetiese in die Bybel reg wil verstaan.
V.15-17
# Hier word na die finale oordeel verwys as die dag van die "toorn van die Lam" (v.16b-17).
Daardie finale oordeelsdag sal iets verskriklikliks wees. Die mense op aarde sal vreesbevange wees, en op enige denkbare plek probeer wegkruip. Só erg sal hulle angs en paniek wees, dat hulle sal begeer dat die berge en kranse hulle toeval.
+ Let op dat die ongelowiges sal weet wat aan 't gebeur is. Hulle sal weet dis die uiteindelike oordeel "van Hom wat op die troon sit¨ ; naamlik "die toorn van die Lam" (v.16).
# Let in v.15 op hoe dit spesifiek beklemtoon word dat mense vanuit die ganse samelewingspektrum hier beskryf word. Geen kategorie is uitgesluit nie.
+ ’n Versigtige lees van die teks bring mens opnuut onder die indruk van hóé – sou dit aanvaarbaar wees om te praat van "gesofistikeerd"? – die Openbaringboek aanmekaar gesit is.
Hou in gedagte dat die syfer 6, die syfer van die God-vervreemde mens, asook sy woonplek is. Nou is dit betekenisvol dat hierdie sesde seël die finale uitgieting van God se toorn oor hierdie ou wêreld en sy bewoners beskryf. Niks is uitgesluit nie.
= Wat die skepping betref, is daar 6 fokuspunte: Een, ’n aardbewing. Twee, die son word swart. Drie, die maan word bloedrooi. Vier, hemelligame val uit die hemel uit. Vyf, die hemele word opgerol en verdwyn. Ses, berge en eilande word uit hulle staanplekke verskuif (v.12b-14).
= Wat die gevalle mensheid betref, is daar weereens 6 fokuspunte. Ses klasse mense word genoem: Een, konings – die seremoniële staatshoofde. Twee, hoofamptenare – die wat staatshoofde se regering moet implimenteer, Drie, bevelvoerders van verdediging en wet en orde – die wat wet en orde moet handhaaf. Vier, rykes – die wat die handel en ekonomie aan die gang moet hou. Vyf, die invloedrykes – hulle wat beskawing en kultuur in stand moet hou. Ses, die slawe en vry mense – die res, oftewel die al die gewone bevolking, die groot massa, Jan Rap en alleman.
# Noodwendig vra ’n Christengelowige nou: Wat van die Here se bruidsgemeente op daardie dag?
Hulle word nie afgeskeep nie. Inteendeel, ’n hele hoofstuk word aan hulle afgestaan – Op 7. Maar dit sal moet wag vir ’n volgende keer.
Die bruidsgemeente vóór die oopmaak van die sesde seël
# Laat dit goed gevestig wees in ons gemoedere: Wat hierdie sesde seël beskryf, is wat algemeen bekendstaan as – die finale oordeelsdag. Vir volhardende gelowiges sal dit voorafgegaan word deur 'n tyd van intense vreemdelingskap en verdrukking.
# As ek mag, wil ek vir 'n oomblik in die lig van die spektrum van Skrifuitsprake, wonder – spekuleer? – oor daardie voorafgaande tyd (hoe lank dit sal duur, weet ons nie):
+ Sonder twyfel sal elke uitverkorene op 'n besondere manier deur Heilige Gees begenadig word om getrou enduit te volhard.
+ Daar sal waarskynlik steeds begenadigdes tot bekering kom – tot en met die laaste dag, kan ek my indink. En dit mag dalk selfs teen 'n ongekende tempo gebeur (lyding en herlewing loop tipies hand-aan-hand).
+ Volgens Rom 9-11 – eksplisiet in Rom 11:25-32 se geopenbaarde "misterie" – lyk dit asof 'n merkwaardige bekering van baie Jode tot Christus vóór die wederkoms sal plaasvind. Sal dit dalk in hierdie verdrukkingstyd gebeur? Sal hulle dalk instrumenteel wees om 'n groot oes vanuit die nasies in te samel? Die tyd sal leer.
+ Laat ons dus nie neerslagtig wees nie oor 'n nadere tyd van intense vreemdelingskap en swaarkry – en tragiese geloofsafval – wat op ons en/of ons nageslag mag wag. Laat ons met ferm geloofstreë, en selfs opgewonde afwagting die toekoms ingaan. Want die Here Jesus ken een en elkeen wat die Vader vir Hom gegee het. En die Groot Huwelik van alle huwelike wag!
Ten slotte
# Hoe lank alles wat hierdie hoofstuk beskryf sal dúúr, lyk vir my, is nie uitdruklik aan ons geopenbaar nie.
Weliswaar praat v.17 van "die groot dag van … toorn …", maar as mens Openbaring lees, moet jy altyd in gedagte hou dat jy met apokaliptiek te doen het.
In elk geval, tensy duidelik as sodanig uitgespel, dui die begrip "dag" in die Bybel nie noodwendig op ’n tydperk van daglig of 24 uur nie. Dikwels wil dit eerder beklemtoon dat dit ’n deur God vasgestelde tydperk is, met ’n spesifieke begin en einde – ongeag die tydsverloop daarvan.
Petrus sê dit onmiskenbaar duidelik in 2Pet 3:8: "Laat hierdie een saak egter nie by julle verbygaan nie, geliefdes: By die Here is een dag soos ’n duisend jaar, en ’n duisend jaar soos een dag."
# Wat van 1Kor 15, sal jy vra? Wat van die beklemtoning daar in v.51-52 dat dit alles "binne ’n oomblik, ’n oogwink" sal gebeur.
Kom ons lees die gedeelte. Let goed op na wat daar staan: "Kyk, ek vertel julle ’n misterie: nie almal van ons sal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word by die laaste basuin, binne ’n oomblik, ’n oogwink. ’n Basuin sal weerklink, en die dooies sal onverganklik opgewek word, en ons sal verander word. Want hierdie verganklike liggaam moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike liggaam met onsterflikheid. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee word, sal die woord wat geskryf staan, vervul word: 'Die dood is verslind in oorwinning. Dood waar is jou oorwinning? Dood waar is jou angel.’ " (v.51-53).
Sien jy dit? 1 Korintiërs 15 het dit nie oor die uitstorting van oordeel oor die gevalle mensheid en die vergaan van die wêreld nie. Dit gaan spesifiek oor die opstanding van die gelowiges en hulle opname om die Here in die lug te ontmoet (1Thess 4:13-18).
# Dit lyk my mens moet dit só verstaan, veral aan die hand van 1Kor 15:42-44 en 1Thess 4:15-18:
+ Met Christus se wederkoms sal die verstorwe liggame van dermiljoene "siele" wat reeds in Christus gesterf het, heel eerste en in heerlikheid opstaan, en saam met die Christene wat steeds op aarde lewe, "opgeneem" word om die "Here in die lug te ontmoet." In hierdie proses sal laasgenoemdes ook hulle verheerlikte liggame ontvang.
+ Dink jou in: By hierdie geleentheid sal die "siele" (van hulle wat reeds salig gesterf het) saam met die Here kom – en vir die eerste keer hulle volmaakte nuwe en ewige liggame sien, en daarmee verenig word!
+ Intussen, in die afwesigheid van die saliges, sal verskriklike oordele op die
aarde plaasvind, soos Op 6:12vv dit beskryf.
+ Eers nadat al die angswekkende van Op 6 verby is, sal 'n "nuwe hemel en 'n nuwe aarde" (Op 21:1) as ewige woonplek vir die "nuwe egpaar" (in respek gestel) verskyn. Gaan ek té ver as ek dink dat hierdie wonderlike nuwe tuiste as 't ware 'n bruidskat van die Vader aan hulle sal wees?
Dan sal die huweliksluiting tussen die Bruidegom en sy uitverkore en duurgekoopte bruid vanuit die eeuelange geskiedenis van die gevalle wêreld plaasvind – en sal hulle vir die eerste keer weer ná daardie veelbewoë nag voor die kruisiging, die verbondsmaal sáám nuttig (Mark 14:25; Luk 22:15-16).
Wat ’n gebeurtenis!
Onomkeerbaar!
Vir ewig en ewig en ewig!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev