PDF WEERGAWE

Video-opname:  https://tinyurl.com/5n7j4acu

#        Hoofstuk 7 – anders as wat mens sou verwag – word nou as 't ware as 'n interlude ingeskuif tussen die sesde en die sewende seëls. Presies dieselfde gebeur tussen die sesde en sewende trompette (Op 10:1-11:14).

            Hoofstuk 7 bestaan uit twee gedeeltes: 7:1-3 en 7:4-17. Laasgenoemde gedeel verdeel dan op sy beurt weer in twee dele: 7:4-8 en 7:9-17. So 'n verdeling sal algaande duidelik word.

#          Hoofstuk 7 bied die antwoord op die vraag waarmee hoofstuk 6 afsluit: Wie sal staande bly? Dís, sê ons hoofstuk, die mense, presies net hulle, wat sal staande bly!

            Dit verseker dus die gemeente van hulle bewaring tydens die uitstorting van die Here se toorn, soos beskryf in die sesde seël.

#          Wat die vervulling hiervan betref, kan ons dus sê dat die verseëling van v.3 chronologies vóór die realisering van die sesde seël sal plaasvind – soos ons gesien het toe ons na Op 6 gekyk het.

           

Die verseëling (7:1-3)

#          Die gesig begin met Johannes wat vier engele sien op die vier hoeke van die aarde (dink aan die 4 punte op 'n kompas: Noord, Oos, Suid, Wes). Baie duidelik is hulle op die punt om God se oordele regoor die aarde te begin uitstort. Hulle taak is om niks te ontsien nie, nóg die land met sy bewoners, nóg die natuur, hetsy op land of in die see (v.1).

            +          Bes moontlik is hierdie vier engele dieselfde as die "vier lewende wesens" wat die eerste vier seëls oopbreek in Op 6:1-8.

           

            +          Baie duidelik het ons hier ook 'n sinspeling op Eseg 9:1-7 (vgl. ook Sag 6).

#          Maar éérs, voordat die oordele uitgegiet word, is daar 'n vyfde engel met 'n nóg belangriker opdrag as die eerste vier. Hy moet éérs die diensknegte van God met 'n seël op hulle voorkoppe merk (v.3). Hulle moet bewaar word van die Here se toorn.

            +          Waarvoor staan hierdie seël? Hoe moet ons dit verstaan? Die antwoord is in Op 14:1. Dáár lees ons dat die 144 000 saam met die Lam op die berg Sion staan. En op hulle voorkoppe is die seël van die Lam se Naam, asook díé van die Vader.

            Ook Op 3:12 belowe hierdie seël aan die oorwinnaars wat volhard, ten spyte van die eise wat hulle getrouheid aan Christus aan hulle stel (vgl. OAV, NAV, ESV, NIV).

            Hierdie merk is dus die merk van eienaarskap. Dis die "brandmerk" wat hulle bewaring verseker.

            +          Ons lees van nóg so 'n merk van eienaarskap, en wel in Op 13:16. Dáár is dit egter die "dier uit die aarde" se merk. Johannes noem hom die "Antichris" (1Joh 2:18).

                        =          Dis betekenisvol dat twee verskillende Griekse woorde gebruik word. Hier in h.13, charagma, terwyl ons hoofstuk praat van 'n sphragis op die voorkoppe van die Here se dienskegte. Laasgenoemde is 'n seël wat sinspeel op sekuriteit onder 'n beskermende gesag, terwyl die Antichris se merk bloot dui op iets soos 'n kol – dus 'n blote namaaksel.

            +          Soos altyd maar weer, lê die sleutel tot hierdie begenadigdes se getrouheid aan Christus in die werk van die Heilige Gees. Inderdaad skryf Ef 1:13-14 dan ook dat dissipels van Christus "verseël" is met die Gees, en Hy is as sodanig die "waarborg" dat hulle hul "erfenis" sal ontvang.

Die 144 000 (7:4-8)

#          Lees mens 7:4-8 die eerste maal, is jou indruk dat hier gewoon van Ou Testamentiese gelowiges gepraat word. En dan verwag jy dat v.9vv op die Nuwe Testamentiese bruidsgemeente fokus.

            Maar 'n nadere kyk laat jou besef dis nie so eenvoudig nie.

            +          Eerstens verskil die beskrywing van "elke stam van die kinders van Israel" van elkeen van die stuk of 20 Ou Testamentiese stamme-lyste.

            Die stam Dan is afwesig.

            Voorts word van Josef gepraat, saam met sy seun, Manasse. Maar die ander seun, Efraim is afwesig.

            Daar is meer anomalieë. Maar ons volstaan met bogenoemde.

            +          Tweedens, hierdie verseëling stem ooreen met die verseëling wat belowe word aan oorwinnaars in die brief aan die gemeente van Filadelfia (Op 3:12). Die implikasie is dat dit vir alle gelowiges deur alle eeue geld.

            +          Derdens, in Op 14:3-4 verwys die 144 000 na alle "mense wat van die aarde losgekoop is""uit elke geslag en taal en volk en nasie" (Op 5:9).

            +          Vierdens word die 144 000 in Op 14:3-4 beskryf as die "mense wat van die aarde losgekoop is", en "hulle nie met vroue besoedel het nie", en die Lam gevolg het waar Hy ook al gaan.

            Let verder op, hier word die skare per implikasie as net mans beskryf (hulle onthouding van vrouens). Die bronne wat ek geraadpleeg het, reken dat die mense hier as 'n leërmag beskryf word. Die feit dat hulle so noukeurig getel is, bevestig dit.

            Kom ons laat dit eers hier. Maar ons kom aanstons terug na die oplossing.

Die baie groot skare (7:9-17)

#          Sonder twyfel het ons hier 'n beeld van v.9b en v.13-15: "Hulle ... het voor die troon gestaan en voor die Lam."  En: "Hierdie mense ... wie is hulle, en waar kom hulle vandaan? ... Dit is die mense wat uit die groot verdrukking kom ... Daarom is hulle voor die troon van God ..."

            Die teks maak dit duidelik dat hierdie mense in die paradys is, oftewel die hemel. Dis die "siele" van almal vanuit alle eeue en alle nasies, wat in die tussentoestand verkeer.

            +          Net 'n opmerking oor die "groot verdrukking". Dit dui op die vreemdelingskap in die wêreld van alle gelowiges deur alle eeue.

            Die Skrif is duidelik dat álle dissipels van Jesus op een of ander manier teenstand en selfs vervolging sal ervaar (Matt 5:11-12; Joh 15:20; 2Tim 3:12). Die pad van dissipelskap is onvermydelik 'n stroom-op lewe in hierdie wêreld.

            Maar daar is eweneens duidelike aanduidings in die Woord dat die "verdrukking" sal verintensifeer in die tyd direk voor die wederkoms (vgl. 2Thess 2:1-12).

#          Net enkele opmerkings oor die lofprysing van hierdie groot skare in die hemel.

            +          Hierdie skare staan met "palmtakke in hulle hande" (7:9). Hulle is dus besig met lofprysing aan "God" en die "Lam": "Die verlossing behoort aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam!" (v.10).

            In Joh 12:12-15 het ook die groot skare so met palmtakke die Here Jesus geloof toe Hy op 'n donkievul Jerusalem binnegery het.

            +          Die engele, ouderlinge en vier lewende wesens antwoord met hulle eie sewe-voudige lof: "Amen! Die lof, die heerlikheid en die wysheid, die dank en die eer, die krag en die sterkte kom ons God toe vir ewig en ewig. Amen!" (v.12)

#          'n Ouderling vra dan vir Johannes wie die klomp mense is wat die stolas dra, en waar hulle vandaan kom (7:13vv).

            Die antwoord in v.17 is 'n eggo van Ps 23:2 en Jes 49:10 (v.16-17): Dis húlle wat uit die groot verdrukking kom, en wat gewas is in die bloed van die Lam (v.14b).

Ontknoping

#          Die verskil tussen die 144 000 Israeliete in v.4-8, en die ontelbare skare in v.9vv, lê nie in die etniese samestelling van die twee groepe nie, maar in hulle (sê maar) ligging.

            +          Die verseëlde en noukeurig-getelde weermag van Israel, verbeeld die ware Israel en ewige verbondsvolk – sowel vóór, as ná die koms van Christus.

            Hulle verseëling dui op hulle bewaring van misleiding, en van God se toorn deur hulle eenheid met die Lam (wie se Naam deur die seël verteenwoordig word), en op hulle bewaring deur die Heilige Gees.

            Verse 4-8 verteenwoordig dus die bruidsgemeente wat tans nog op aarde verkeer  – dus die steeds strydende kerk.

            +          Die ontelbare skare verbeeld die saliges in die tussentoestand, oftewel die hemel. Die "honger" en "dors" en "hittegloed" en "trane" wat dikwels deel was van hulle pelgrimspad hier op aarde, is nou finaal iets van die verlede (v.16-17). Daarenteen word hulle vir ewig deur die Opperherder vanuit die volheid van hulle erfenis in Hom versorg en beskerm.

            Verse 9-17 verteenwoordig dus die bruidsgemeente, maar in die hemel – dus die alreeds triomferende kerk.

            +          Beide groepe se verlossing is weliswaar nog nie finaal afgehandel nie. Die opstanding in finale heerlikheid is immers nog uitstaande.

#          Hier het ons nou uiteindelik die antwoord op die vraag in Op 6:17. Wie kan staande bly? Hulle wat vanuit alle eeue begenadig, en met Christus verenig is, en as sodanig bewaar word – soos onmiskenbaar bevestig deur "die seël op hulle voorkoppe".

Geen uitverkorene hoef

die laaste oordeel oor hierdie ou gevalle skepping en mensheid,

beangs tegemoet te gaan nie.

Een en elkeen van hulle sal afwesig wees!

Wat sê dit vir ons?

1.         Slegs die seël van deelgenootskap aan Jesus Christus, soos bevestig deur die werk van die Heilige Gees, is die waarborg dat ek die ewige lewe sal beërf.

 

#          Enige verantwoordelike gelowige moet hom- of haarself noodwendig afvra: Hét ek inderdaad die seël? Maar meer as dit. Daar is ook 'n tweede vraag, net so belangrik: Het ek die régte seël?

            Mens kan beswaarlik gewigtiger vrae vra. Dis in die volste sin van die woord van ewigheidsbelang.

#          Laat ons genoemde vrae nie sommer so fluit-fluit antwoord nie. Want daar is nóg 'n merk in omloop – op 'n baie groot skaal. Dis die dier uit die aarde se namaaksel (Matt 13:16-18). Ons sien dit reg rondom ons.

            Dis die goedkoop evangelie wat oor die hele kerklike spektrum aan die orde is.

            Hierdie vals namaaksel-merk het talle gesigte. Neem byvoorbeeld die volgende twee, wat epidemiese afmetings aanneem:

                        =          Daar is derduisende wat daarop staat maak dat hulle sogenaamde "verbondskinders" is, en dus as sodanig reguit op pad is na die saligheid. Ontstellend baie van hulle sal eendag voor die regterstoel sonder 'n seël op die voorkop staan!

 

                        =          Daar is dermiljoene wat opgestaan of vorentoe gegaan het om "Jesus aan te neem", en dan deur misleiers verseker is dat hulle sonder meer kinders van God is.  Talle van hulle sal eendag voor die regterstoel sonder 'n seël op die voorkop staan!

 

            +          As daar een ding is wat ék vrees, dan is dit om op daardie dag my tussen die skare ontroue predikers te bevind – een en elkeen sonder 'n seël. Van diesulkes is daar baie, baie – ook in ons land, en ook onder ons Afrikaners.

            Jakobus sê uitdruklik: "leermeesters" sal strenger geoordeel word as hulle kuddes (3:1).

            Hoe langer ek met die Here wandel; hoe beter ek die Woord van God verstaan; hoe styler my wedloop raak – hoe méér raak ek oortuig hiervan. As ek verkeerd is, verstaan ek óf die Bybel heeltemal verkeerd, óf die Here hou nie by sy Woord nie. Laasgenoemde is natuurlik ondenkbaar! En wat eersgenoemde betref, probeer ek met alles in my, in integriteit met die Bybel omgaan, en loop ek so versigtig as wat ek kan in pas met die historiese Christelike geloof van die afgelope eeue.

            +          Máár! Ek moet wat ek so pas geskryf het, kwalifiseer. Beswaarlik is daar 'n meer wonderlike versekering in die Woord van God, as dat nét een ding nodig is om gered te word:

Jy moet in nederige verootmoediging jou rug op jou sonde draai

en met vasbeslote erns en afhanklike vertroue en oorgawe vir tyd en ewigheid

in Jesus Christus in vlug

as jou permanente Profeet, Priester en Koning

2.         Hoe kan ek wéét ek dra die merk?

#          Kán 'n mens dit weet? Kan mens dit sien?

            Die merk is uiteraard onsigbaar. Dis immers nie letterlik op die voorkop geskryf nie. Máár – dit het onmiskenbare effékte. En híérdie effekte is duidelik sigbaar.

            Waaraan sien mens dit?

#          As 'n eienaar destyds sy slaaf gemerk het, was dit 'n brandmerk van eienaarskap. Ook in Openbaring dui die merk op die onomkeerbare en ewige eienaarskap van Jesus Christus. Hy het immers baie, baie duur vir elkeen van sy gemerkte slawe betaal!

#          Goed en wel. Maar hóé kom hierdie eienaarskap tot uitdrukking? Hoe wéét ek ek dra die merk?

            +          Die verhouding tussen 'n eienaar en sy slaaf destyds het basies twee komponente gehad. Die slaaf moes werk. Die slaaf is versorg.

            Die werk was dikwels (nie altyd nie) veeleisend – moeilik en meermale morsig.

            Die versorging was volledig: Huisvesting, voeding, kleding (maar geen salaris nie).

            +          Net so word die werklikheid van die Here se eienaarskap duidelik in sowel – noem dit maar – die negatiewe en die positiewe.

                        =          Daar is soiets soos kruisdra, waarsonder niemand op egte Christenskap kan aanspraak maak nie. En die Skrif swyg nie oor die feit dat dit veeleisend is nie. In die wêreld van destyds was 'n kruis nie 'n ornamentjie wat jy om jou nek gedra het nie. Dit was 'n instrument van finale en uiters pynlike teregstelling. Niemand het ooit lewendig van 'n kruis af gekom nie.

            Daar is 'n prys aan dissipelskap verbonde!

                        =          Daar is soiets soos ons Here se oorvloedige liefdesorg, wat op 'n duisend maniere en oor die volle spektrum van mens se lewe ervaar word. Só omvangryk en veelfasettig en onophoudelik is dit dat Christus se liefdesslawe nooit kan ophou om hulle daaroor te verwonder nie – én om Hom weer en weer daarvoor te dank.

            Hoe bring mens dit onder woorde? Miskien is dit die beste as ons maar volstaan met die poëtiese beskrywing van Op 7:15b-18. Hoewel ons eers die volheid hiervan in die hiernamaals sal ervaar, verwoord dit wel ook die deposito wat ons nou reeds beleef.

15b  En Hy wat op die troon sit,

sal sy tent by hulle opslaan.

16  Hulle sal nie meer honger of dors word nie;

nie die son nie, ook geen hittegloed sal hulle brand nie.

17  Want die Lam wat in die middel voor die troon staan,

sal hulle soos 'n herder versorg

en hulle na fonteine met lewende water lei,

en God sal elke traan uit hulle oë vee.

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev