PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/57npur9n

 

Hoe wyd sou die effekte van die heel eerste gemeenteplanting op Europese bodem nie uitkring nie!

            Die belangrikste gebeurtenisse in ons lewens kom feitlik altyd onaangekondig. As Paulus die aand voordat  hy die gesig van die Masedoniese man sien – dalk gefrustreerd omdat dinge nie wil uitwerk soos beplan is nie – tussen sy komberse inkruip, het hy nie 'n benul dat hy op die drumpel van een van die geskiedenis se grootste gebeurtenisse staan nie.

            +          Die historiese waarde van hierdie brief aan die Filippense maak dit oor en oor die moeite werd om dit te bestudeer. Maar daar is 'n nog belangriker rede: die inhoud daarvan het sedertdien die lewens van dermiljoene mense verander en verryk. Waarom? Daar is 'n drievoudige antwoord:

            Een, dit openbaar die geheim van ware lewensgeluk.

            Twee, as een van sy mees persoonlike briewe, openbaar dit heelwat van die man wat hierdie geheim leer ken het – Paulus, 'n reus in hierdie wêreld se geskiedenis.

            Drie, dit werp wonderlike lig op Jesus Christus, die sleutel en inhoud van hierdie geheim.

            +          Die gemeente van Filippi is ongeveer 20 jaar na Pinkster geplant, en die brief volg so 'n dekade later – in die vroeë 60's. As hy dit skryf, is Paulus 'n gevangene – waarskynlik in Rome. Hierdie brief is dus saam met Kolossense, Filemon en Efesiërs een van die sg. gevangeneskapbriewe.

Ontstaansgeskiedenis

#          Die gemeenteplanting in Filippi word in Hand 16 beskryf. Dis die tweede sendingreis. Maar dinge verloop totaal anders as wat die sendelinge beoog het (v.6-8). Uiteindelik kom hulle in Troas aan op die noord-westelike kus van Klein-Asië. Daar het Paulus dan een nag 'n gesig van 'n Masedoniese man wat smeek dat die sendelinge soontoe moet kom (v.9).

            Die vier sendelinge – Paulus, Silas, Timoteus en Lukas – maak onmiddellik gereed om in 'n noord-westelike rigting skuins oor die Egeïese See na Masedonië te vaar. Hulle land in Neapolis en stap vandaar 16km na Filippi toe, die belangrikste stad van daardie gebied (v.11-12).

#          In die vroeë geskiedenis is die plek Krenides (plek van fonteine) genoem. Omtrent 4 eeue voor Paulus-hulle se aankoms is dit egter geannekseer deur Filippus, vader van Aleksander die Grote. Hy vernoem dit dan na homself. In 42 vC verower die Romeine die stad en maak dit 'n kolonie waar oudsoldate en armes gevestig word. In die Nuwe Testamentiese tyd het Filippi gevolglik 'n sterk Romeinse karakter. Die amptelike taal is Latyn, maar op straat praat mense steeds Grieks.

#          Die eerste Sabbat gaan Paulus-hulle na die aanbiddingsplek by die rivier buite die stad. Daar was nie 'n sinagoge nie. Waarskynlik is dit toe te skryf aan die feit dat daar minder as 10 Joodse mans in die stad was – die kworum vir die vorming van 'n sinagoge. Die sendelinge tref dan ook net vrouens aan.

#          Die eerste bekeerling (Hand 16:11-15) op Europese bodem is 'n vrou – nogal betekenisvol, nie waar nie. Lidia is 'n materiaal-handelaar op besoek aan Filippi vanaf Tiatira in Klein-Asië. As Paulus die evangelie verkondig, open die Here haar hart (Gr). En spoedig kom ook ander lede van haar huishouding[1] tot bekering, want hulle word saam met haar gedoop. Die feit dat sy 'n hele huishouding het, asook 'n huis waarheen sy die sendelinge kan nooi, dui daarop dat Lidia 'n vermoënde vrou was.

#          Die volgende persoon (Hand 16:16-18) aan wie Lukas aandag gee, is ook 'n vrou, maar brandarm. Sy is 'n slavin, demonies beset, en 'n fortuinvertelster. As Paulus die bose gees uitdryf, veroorsaak dit 'n hele oproer. Paulus en Silas beland as gevolg daarvan in die tronk (v.16-24).

            Ons weet niks meer van die slavin nie, en Lukas sê nie uitdruklik of sy tot bekering kom nie. Dit kan egter aanvaar word, aangesien sy 'n kragtige en bevrydende aanraking van die Here beleef het.

#          Die derde bekeerling in Hand 16 is die tronkbewaarder (v.27-34). Hy kom tot bekering as 'n aardbewing die sendelinge se sel laat oopgaan.

Die ryke geskakeerdheid van Christus se gemeente

#          Die universele karakter van Nuwe Testamentiese Christenskap is 'n vaste beginsel. Die middelmuur van skeiding is afgebreek, en die Here verenig Jode en nie-Jode tot een nuwe mensheid (Ef 2:13-18).

#          Hier lê een van die heel groot verskille tussen Ou en Nuwe Verbond.

            Een van die wonderlike maniere waarop die Here Homself verheerlik, is om te doen wat die wêreld nie kan namaak nie, nl. om 'n klomp uiteenlopende mense tot 'n liefdeseenheid saam te snoer. 'n Behoorlik ontwikkelde gemeente sal dus as 'n reël 'n ryke geskakeerdheid van mense vertoon. En saam met die apostel sal hulle van harte sê: "Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is ons almal één!" (Gal 3:28).

            Ware gemeentes van Christus word dus gekenmerk deur hulle onderlinge eenheid.

            As die Here die eerste fondamente van die gemeente in Filippi in posisie plaas, is hierdie beginsel van verskeidenheid onmiddellik aan die orde. Mens kan beswaarlik die indruk ontkom dat Lukas in sy beskrywing van die eerste lede wil tuisbring.

1.         Nasionale en kulturele verskeidenheid

Filippi was baie kosmopolities, veral Grieks en Romeins. Beswaarlik kon dit anders, want dit was geleë op die waterskeiding tussen Oos en Wes. Lidia was 'n boorling van Klein-Asië en waarskynlik 'n Joodse proseliet. Die slawemeisie was na alle waarskynlikheid 'n Griek (maar sy kon ook van baie verder gekom het). En die tronkbewaarder was waarskynlik 'n afgetrede soldaat en dus waarskynlik 'n Romein.

2.         Sosiale verskeidenheid

Lidia was volgens aanduidings 'n ryk sakevrou, met 'n groot huis en 'n huishouding. Daarenteen kan niemand armer wees as die slavin nie. En die tronkbewaarder was 'n middelklas staatsamptenaar. Dit was 'n gebruik dat die hoofde van Joodse huishoudings soggens gebid het: "Ek dank U dat ek nie 'n heiden, 'n vrou of 'n slaaf is nie." Dis betekenisvol dat spesifiek 'n heiden, 'n vrou en 'n slaaf die "stigterslede" van die nuwe gemeente was.

3.         Uiteenlopende bekeringservarings

Kyk net hoe verskillend kom die drie tot bekering!

            Lidia is 'n gedistingeerde vrou. Sy luister heel kalm na Paulus, en as begrip in haar verstand deurbreek, kom sy rustig tot oortuiging en bekering.

            Die slavin is demonies beset, en as sy bevry word, word sy bes moontlik 'n lewenslange navolger van die Here ('n aanname).

            Die tronkbewaarder verkeer in 'n totale krisis, en dis eers as Palus hom by wyse van spreke van die haak aflig, dat hy dramaties tot bekering kom.

            Waarlik, terwyl niks in hierdie lewe 'n wig so diep kan indryf tussen mense soos die evangelie nie, is daar terselfdertyd ook niks wat mense so totaal en so onmiddellik kan verenig nie.

            Ja, mens lees in Fil 4:23 ook van spanning tussen 2 vrouens (Euodia en Sintige). Ons het immers nog nie gearriveer nie. Maar dit behoort 'n uitsondering te wees in 'n gemeente.

Paulus en die gemeente se verhouding

Die brief is reg van die begin af deurtrek van Paulus se verknogtheid aan die gemeente (vgl. bv. Fil 1:3-8). Hierdie verhouding was oënskynlik nooit onder spanning nie. Dit is ook duidelik dat die gemeente baie lief vir Paulus was, en van die begin af toegewyd betrokke was by sy bediening (1:5). Onder meer het hulle gereeld bygedra tot sy materiële behoeftes (4:15-16). Dit was trouens een van die redes vir die skryf van die brief (4:10,15,16,18).

Aanleiding tot die skrywe van die brief

Die gemeente het gehoor van Paulus se gevangeneskap. Hulle stuur dan vir Epafroditos (sekerlik een van hulle leiers) om die apostel te gaan bemoedig en by te staan. Daarmee besig, raak Epafroditos dodelik siek. As hy uiteindelik weer gesond is, besluit Paulus om hierdie geliefde en getroue broeder terug te stuur na die Filippense toe, aangesien hy vreeslik na hulle verlang, en hulle sekerlik na hom. Ook besluit Paulus om die getroue Timoteus na hulle toe te stuur om hulle te gaan help en bemoedig (2:19-30).

            Waarlik, die liefdesverhouding tussen Paulus en die gemeente reg van die begin af is aangrypend. Dit blyk dwarsdeur die brief.

Die brief self

Hoewel die inhoud van die brief boordevol verhewe teologie is, beklemtoon dit veral die praktiese effekte van die evangelie in elke ware dissipel se lewe. So onderstreep dit die feit dat die apostel altyd vol blydskap was. Kyk net hoe dikwels word dit aangesny (1:4,18,25; 2:14-18; 2:28; 3:1; 4:1,4).

            Maar meer spesifiek word die liefde vir, en toewyding aan die Here Jesus in Christene se lewens onderstreep. Al die apostels was Christus-gefokus, maar niemand méér as Paulus nie.

            In elkeen van die vier hoofstukke word wonderlike perspektiewe gegee op die sentrale plek wat die Here Jesus in ware gelowiges se denke en lewens inneem. Kom ons neem maar één voorbeeld uit elke hoofstuk.

            +          1:21: Vir elke ware Christen is die lewe Christus en die sterwe is wins.

            Dis nie net omdat dit vir ons die finale saligheid sal meebring nie, maar selfs meer spesifiek, omdat dit ons geskeidenheid van die Here finaal tot 'n einde sal bring. Hy is die een en die al, die alfa en die omega van Paulus se bestaan. En so is dit tot vandag toe ook in ons geval, nie waar nie.

            +          2:5-8: Christus is die gelowige se voorbeeld.

            Dit geld nie net uiterlike dinge nie, maar ook die innerlike hartsgesteldheid. En onthou, nooit het dit vir Jesus bloot om Homself gegaan nie. By uitnemendheid was Hy 'n dienskneg wat geen erkenning begeer het nie. Presies dit moet jou en my lewensinstelling wees, en sal dit ook wees, indien ons werklik wedergebore is (1 Johannes 4:7).

            Laat hieroor geen illusies bestaan nie: Ware Christenskap kom altyd maar weer tot uitdrukking in die navolging van Christus. Dis nie die grond van ons redding nie, maar vir seker is dit altyd die vrug, en daarom onmisbare bewys daarvan.

            +          3:10 -11: Jesus Christus is die gelowige se sentrale hartstog, en vir ons is niks belangriker en kosbaarder as om met Hom in gemeenskap te leef nie.

            Dit gaan nie net oor 'n verhouding nie, maar ook oor 'n lewe in Sy voetspore. Uiteindelik is die kroon van alles vir my dat hierdie lewe vir my sal uitmond in die heerlikheid van die opstanding  –  om vir ewig by Hóm te wees.

            +          4:13: Christus is die krag en bron van alles in my lewe.

            Daarom is Hy die Kragbron van my lewe.

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt – Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           Die Griekse woord het 'n wyer betekenis as ons huisgesin. Dit kon ook die grootouers, slawe en bediendes insluit.