PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/4cpu4bbs

Mens is geneig om onnadenkend oor die inleidende aanhef en groet van Nuwe Testamentiese briewe te glip – so asof dit 'n grootliks inhoudlose stukkie formaliteit is (dis mos hoe ons dikwels groet). Maar so hoort dit nie. Elke woord in die Bybel is geïnspireer. Hierdie twee verse is propvol goud en diepsinnige Godsopenbaring. En veral gee dit vir ons wonderlike perspektiewe op die wesensaard van 'n Christen.

Elke ware gemeente bestaan uit mense wat God vir Homself afgesonder het

 

#          Paulus spreek die gemeentelede van Filippi aan as heiliges. Kom ons wees eerlik, as mens vandag 'n gemeente so sou aanspreek sou meeste mense ietwat ongemaklik daaroor voel. Ons praat eerder van Christene. Maar die woord, "Christen" kom net drie keer in die Nuwe Testament voor, terwyl "heilige"  'n stuk of sestig keer gebruik word.

            Kyk byvoorbeeld hoe begin Paulus sy eerste brief aan die Korintiërs (van alle mense!): "... aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges ..." (1Kor 1:2).

#          In die Bybel word die begrip heilig in die eerste instansie met God geassosieer. Dink maar aan Jes 6:3 en Op 4:8 waar God sonder ophou geloof word met die woorde: heilig, heilig, heilig! In Luk 1:35 word die Seun heilig genoem. En oor en oor praat die Bybel nie net van die Gees nie, maar van die Heilige Gees.

            Aangesien die wortelbetekenis van die begrip dui op afgeskeidenheid, wil hierdie attribuut van God vir ons sê dat Hy die unieke Gansandere is, afgesonder van en ver verhewe bo Sy skepsele.

            Geeneen van God se ander karaktertrekke word tot die mag drie verhef nie; trouens, hulle word deur heiligheid gekwalifiseer. So is Sy liefde dus 'n heilige liefde, Sy geregtigheid 'n heilige geregtigheid, ens. Waarlik, heiligheid is die kroon van God se attribute. Die woord beskryf die essensie van Sy wese soos geen ander nie.

#          Maar dan verras die Bybel ons en maak hierdie benaming ook op die gelowiges van toepassing. Op die mees intieme manier identifiseer God Homself met Sy geroepenes! Paulus sou gewoon die aanspreekvorm, "Filippense", kon gebruik – soos in 4:15 (OAV). Op dié benaming was die stad se burgers immers trots (Hand 16:12). Maar die apostel is nie in die eerste instansie geïnteresseerd in wat sy lesers van nature is nie. Wat hy reg aan die begin by hulle wil tuisbring, is dat die Here hulle in Sy genade vir Homself geheilig het – dus vir Homself afgesonder en toegeëien het (die basiese betekenis van die woord).

            Watter groter eer kan 'n mens te beurt val as dat die Heilige van hemel en aarde jou Sy eiendom maak, asook 'n draer van Sý kosbaarste titel!

Ons verbondenheid met Christus

 

#          Let op hoe die apostel die naam van Christus in hierdie twee verse opstapel. Wanneer hy oor sy en Timoteus se roeping praat, asook oor die Filippense se heerlike genadevoorregte, kwalifiseer hy drie keer dat dit alles onlosmaaklik verbonde is aan die persoon en werk van Jesus Christus. Natuurlik is hierdie aksent nie tot ons twee verse beperk nie; inteendeel! Wat is immers meer waar van die Nuwe Testament as sy Christosentriese karakter?

            Sonder hierdie kwalifikasie sou 'n beklemtoning van ons Christelike dienswerk, status en voorregte onvermydelik uitloop op mensverheerliking. Daarom druk die Nuwe Testament ons dit honderde kere op die hart dat alles wat ons ontvang, en alles wat ons doen, "in Christus" is – en dat alle eer dus ons Verlosser toekom! Sonder Hom is ons niks nie. Maar die oomblik as ons deur 'n ware geloof met Hom verenig word, verander alles – dis in die volste sin van diue woord – lotsveranderend!

#          Kyk hoe lig Paulus die rykdomme van hierdie waarheid in ons twee teksverse uit:

            Ons is heiliges – maar dan slegs in Christus Jesus (v.1b). Dis ons onwankelbare fondament.

            Ons is diensknegte – spesifiek van Jesus Christus (v.1a). Dis die hartsbeginsel van ons dissipelskap; trouens, van ons lewe hier op aarde.

            Ons is ontvangers van genade en vrede – nie net van die Vader nie, maar ook van die Here Jesus Christus (v.2).

            Hier lê die geheim van vrug en volharding in ons verhewe roeping.

Die fondament waarop ons staan (v.1b)

 

#          Soos gesê, die frase "in Christus" kom oor en oor in die Nuwe Testament voor. Alle genade wat God vir sondaars gee, sonder uitsondering, is in Christus in verband met Hom. Die Filippense is dus heilig – in hulle verbondenheid met die Here Jesus.

            Oor wat dit alles inhou, brei Paulus nie hier uit nie. Daarvoor moet mens wyer kyk.

#          Seker die rykste gedeelte in hierdie verband is die eerste hoofstuk van Efesiërs. In v.1-14 word die frase, "in Christus" of "in Hom" 'n stuk of tien keer gebruik. Die stelling wat hierdie gedeelte dan beheers, is dat God die Vader ons in Christus geseën het met alle geestelike seëninge in die hemel (Ef 1:3). As hierdie waarheid dan verder oopgevou word, word drie dimensies van ons erfenis in Christus beklemtoon.

            +          God die Vader het ons voor die grondlegging van die aarde in Christus uitverkies – spesifiek om heilig en onberispelik voor Hom te wees (Ef 1:4).

            Sekerlik is bekering, geloof en gehoorsaamheid my verantwoordelikheid. Maar nooit mag ek vergeet nie: Agter dit alles lê God se ewige inisiatiewe. In Sý uitverkiesende liefde lê die oorspronge van alle geloof en geestelike lewe. En reg van die begin af is verordineer dat alles in intieme verbondenheid met die Seun se middelaarswerk sou geskied.

            +          In Christus het ons verlossing en vergiffenis – deur Sy bloed (Ef 1:7). Op Golgota word God se ewige verlossingsplan 'n historiese werklikheid.

            Dit lê tog voor die hand: as die Here ons wou heilig, moes Hy werk maak van ons sondeskuld. "Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder (lett. geheilig) deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd" (Heb 10:10).

            +          Dit wat ewig was in God se verlossingsplan, en histories in Christus se versoeningswerk, word uiteindelik 'n werklikheid in my lewe as ek in Christus deur die Heilige Gees verseël word (Ef 1:13). So word ek dan hier en nou geheilig as die Gees Sy intrek in my neem – en sodoende die seël van God se eienaarskap op my plaas.

Die hartsbeginsel van ons dissipelskap (v.1a)

 

#          Die enigste dienswerk wat ooit vir God aanvaarbaar is, is dit wat gedoen word in dankbaarheid teenoor, en liefdestoewyding aan Sy Seun – dus Christusgefokusde en dienende dankbaarheidsrespons.

            Letterlik sê Paulus dat hy en Timoteus Christus se slawe is (Gr). Omdat 'n slaaf in die ou dae deur sy baas gekoop is, was hy of sy sy eiendom – en gevolglik volledig tot sy beskikking. Ons is duur gekoop Christus het met Sy bloed vir ons betaal. Gevolglik het Hy ongekwalifiseerde seggenskap in ons lewens. Geen Christen kan hierby verbykom nie. Maar waarom sou ons wou? Kan daar 'n meer welwillende Koning wees? Is daar 'n meer alwyse Opdraggewer? Is daar 'n groter voorreg en eer?

            Maar dít moet ons weet – wonderlik soos ons erfenis in Christus ook al is – die dag as jy agter die Here inval, word jy nie met 'n japon en pantoffels uitgereik nie, maar met 'n gevegsmondering en met stewels vir 'n pelgrimsreis.

Die geheim van vrug en volharding (v.2)

#          Waar kry ons die krag vandaan om in Jesus Christus se voetspore te volhard? Die Here gee dit elke kriesel wat ons ook al mag nodig hê. Hier sê Paulus dat Christus – saam met die Vader – genade en vrede gee.

            Let nou op die heerlike bemoediging in v.2.

            +          Deur Christus in dieselfde asem as die Vader te noem, herinner die apostel sy lesers aan Sy goddelike majesteit. Om dus in Hom te wees, is geen ligtelike saak nie. Dis om in 'n onverbreekbare verbondenheid met die lewende God self te leef!

            +          Kyk hoe die apostel ons Heiland se volle titel gebruik: die "Here Jesus Christus". Ja, Hy is waarlik mens, maar ook waarlik God. Hy is die Gesalfde Messias wat eeue-lank belowe is en die oorweldigende beloftes van die Ou Verbond kom waar maak het, en steeds waar maak.

            +          Nie net ontvang ons genade soos dit mag nodig wees nie, dit gaan ook gepaard met "vrede". Al sou storms ook al om ons woed, in ons harte gee die Here 'n rustigheid en kalmte wat alle verstand te bowe gaan.

Ons lewens- en werksfeer

 

#          As die Here ons dan vir Homself geheilig het, beteken dit dat Hy ons roep tot 'n lewe wat vir Hom afgesonder is. Heiligheid staan lynreg teenoor wêreldgelykvormigheid. Wat is die implikasies?

            +          Heiligheid is nie 'n lewe van afskyding en isolasie nie.

            Sekerlik is Flippi se dissipels nie ván die wêreld nie, maar hulle is vierkantig daarbínne. Hierdie gemeente moet hulle heiligheid midde-in daardie heidense stad uitleef. Nêrens sal hulle andersheid en afgesonderdheid immers duideliker oopblom nie.

            +          Heilgheid het 'n korporatiewe dimensie.

            Paulus skryf aan die heiliges dat hulle afgesonderdheid vir die Here midde-in die konteks van intieme gemeente-wees tot uitdrukking moet kom. Trouens, dis juis in hulle onderlinge verbondenheid, liefde en diensbaarheid wat hulle uniekheid as Christus se liggaam sal uitstaan bo die selfsugtige individualisme van hulle omgewing.

            +          Wat sê die feit dat ons heiliges genoem word dan wel vir ons lewenstyl?

            Die wortels van hierdie aanspreekvorm lê in die Here Jesus se Hoëpriesterlike gebed (Joh 17:16-20): Die waarheid, nl. God se Woord, is die instrument wat ons heilig. Tot die mate wat ons dus die Woord in die geloof omhels en uitleef, tot daardie mate haal dit ons uit die wêreld uit. Maar tot daardie mate stuur dit ons meteen terug in die wêreld in. Ons waardes en prioriteite raak radikaal anders as die van ons samelewing. Terselfdertyd raak dit ons hartstog om tot eer van die Here sout en lig in hierdie sondegevalle wêreld te wees.

            +          Uiteindelik lê die sentrale beginsel van heiligheid in die begrip navolging.

            Want oor en oor sê die Here vir ons: "Wees heilig, want Ék is heilig" (Lev 11:44-45; 19:2; 20:26; Matt 5:48; 1Pet 1:15). "Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het" (1Joh 2:6).

            Dis onontkombaar: Dag na dag moet ons die strate en markpleine van ons samelewings betree. As ons dit doen soos Jesus dit gedoen het, sal ons soos skynende ligte wees in 'n moreel pikdonker wêreld wat voortgedryf word deur selfhandhawing, selfbevrediging en selfbevoordeling.

So sal ons dan nie net in beginsel heiliges wees nie

maar ook in die praktyk

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt – Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev