PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/4u6mre32

Hierdie paar verse gee vir ons 'n intieme kykie in die verhouding tussen Paulus en die gemeente in Filippi. Soos vantevore al gesê, was daar oënskynlik nooit spanning tussen hulle nie. Filippi was 'n wonderlike gemeente – een waarvan ons almal lidmate sou wou wees.

            Die gemeente het 'n besondere agting en liefde vir die apostel gehad. Dit blyk duidelik uit hulle belangstelling in sy werk, die feit dat hulle oënskynlik baie gereeld vir hom gebid het, asook die skenkings wat hulle meermale vir hom gestuur het – soos ook hierdie brief laat blyk.

            Hierdie paar verse is eksegeties nogal moeilik, en dis eers nodig om dit van 'n kant af deur te werk.

'n Oorsig oor die teksgedeelte

#          V.3-4: Paulus sê hier hy dink dikwels aan die Filippense, en daarom kan dit nie anders nie – hy bid dikwels met innige danksegging en blydskap vir hulle.

#          V.5: Vanwaar hierdie liefde en ywer van die apostel vir die Filippense? Dis omdat hulle saam met hom so 'n ywer vir die Here en die uitdra van die Evangelie het – en gevolglik saam met hom daaraan meewerk. Min dinge snoer per slot van rekening mense se harte so saam as spesifiek hierdie gemeenskaplike hartstog.

#          V.6: Die egtheid en diepgange van die Here se werk nóú in hulle, maak Paulus daarvan seker dat hulle, soos ook hy, op pad is na die vervolmaking van hulle verlossing toe – op die dag as Christus terugkom.

#          V.7-8: Paulus se oortuiging oor die Filippense, en sy liefde vir hulle, is nie maar bloot dagdromery nie. Hulle identifiseer immers volkome met hom in sy gevangeneskap, sowel as in sy hartstog vir die uitdra van die evangelie. Daarom verlang hy intens na hulle met die liefde wat die Here Jesus in sy hart werk.

            +          As Paulus in v.8 sê dat hy na hulle almal verlang "met die innige tederheid van Jesus Christus" (OAV), gebruik hy 'n eienaardige uitdrukking. Die King James vertaal dit letterlik: "the bowls of Jesus Christ."

            Die Griekse woord dui op 'n mens se ingewande, en veral op die organe in jou borskas. Wat hy dus bedoel, is dat dit wat hy vir hulle voel uit sy hart kom. En dis dieselfde as wat Jesus Christus vir hulle voel. Of anders gestel, hy is oortuig dat sy liefde vir hulle die Here is wat hulle déúr hom liefhet.

            Hoe bind so 'n gemeenskaplike hartstog en salige eindbestemming nie harte saam nie! Ware Christene deur die eeue het dit proefondervindelik geken. En so is dit steeds.

Hierdie paar verse sny minstens 4 aspekte van 'n egte geloofslewe en verlossing aan

1.         God se verlossingswerk

Vers 6 werp betekenisvolle lig op God se verlossingswerk in 'n mens: "Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom" (NAV).

#          Glashelder duidelik maak hierdie vers dit dat die redding van 'n sondaar iets is wat God van begin tot einde doen.

            Neem byvoorbeeld Hand 16:14 se onderstreping van die Here se inisiatief in die redding van Lidia: Hy het "haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is" (OAV).

            Self sê die Here: "Niemand kan na My toe kom as die Vader ... hom nie na My toe trek nie" (Joh 6:44; vgl. ook 6:65).

            Die Skrif leer dus onmiskenbaar duidelik dat niemand gered sal word sonder die Here se inisiatiefneming nie. Dis omdat die gevalle mens dood is in sy sonde (Ef 2:1). Of ek en jy van hierdie Bybelse beklemtoning hou, verander niks aan die saak nie. Omhels egter hierdie waarheid en jou hart sal begin gloei van verwondering en dankbaarheid.

#          Ons moet egter nie in die dwaasheid van simplistiese eensydigheid verval nie. Vir geen oomblik beteken bogenoemde dat die mens nie 'n verantwoordelikheid het om hom tot Christus te bekeer nie. Menslike betrokkenheid by in geloof en bekering word eweneens oor en oor deur die Skrif beklemtoon.

            Pragtig duidelik word hierdie geheimenisvolle medewerking deur God en mens in Joh 6:37 gestel: "Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie."

            Later in die brief kom hierdie balans baie duidelik na vore – in die geval van die Christelike lewe en heiligmaking. Só stel Fil 2:12-13 dit: "... werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae."

#          Al is die samehang van Goddelike inisiatief en menslike verantwoordelikheid vir ons té diepsinnig om te deurgrond, moet ons puntenerig waak teen 'n eensydige beklemtoning van enigeen van die twee.

            Oorbeklemtoon menslike verantwoordelikheid, en verwaarloos God se soewereine rol, en jy verval in die dwaling van Arminianisme, of nog erger, in Pelagianisme. Dikwels hoor jy in hierdie kringe: "as jy nie dit of dat doen nie, kan God niks vir jou doen nie."

            Daar is niks wat God nie kan doen nie!

            Gaan daarenteen op in die teenoorgestelde wanbeklemtoning, en jy verval in 'n ewe ellendige dwaling: Hiper-calvinisme en gepaardgaande passiwiteit. Hiervolgens speel 'n mens geen rol in sy bekering nie. Jy ontvang dit volledig, of jy bly magteloos ongered. In dié kringe sal mense soms jarelank elke Sondag in die kerk sit – en met verlangende harte wag dat God Sy genadehand na hulle uitsteek. Gebeur dit nie, aanvaar hulle noodgedwonge dat hulle nie uitverkies is nie. So 'n siening is Bybels skreiend vals.

#          Die woord wat in v.6 met "voleindig" vertaal word, is 'n sterk begrip in Grieks en dui op 'n volmaakte afronding van 'n handeling. Wat die apostel hier sê, is dat die Here die reddingswerk waarmee Hy begin het wis en seker tot vervolmaking sal voer. Waar Hy begin het, daar sal Hy vir seker klaar maak; Hy los nie 'n onderneming halfpad nie.

            Die lewensbelangrike vraag is dus nie of die Here gaan klaar maak met my verlossing nie; die vraag is of Hy hoegenaamd begin het.

            In hierdie waarheid sit uiteraard enorme vertroosting en sekuriteit vir elkeen wat vir seker weet dat hy wedergebore is – dat óú dinge eentyd verbygegaan het en dat alles gewis nuut geword het.

#          Die uiteindelike vervolmaking van my verlossing sal plaasvind op die dag wanneer Jesus Christus kom (6).

            Baie naïewe Christene het die simplistiese siening dat dit sal gebeur wanneer hulle sterf en "hemel toe gaan". Dis nie wat die Skrif leer nie. Ja, as 'n ware gelowige sterf, gaan sy gees na die Here toe. Maar sy liggaam wag in die graf tot op die dag van die opstanding, wanneer Jesus Christus terugkom. En eers dán sal sy verlossing afgehandel wees.

            Laat ons nie die liggaam geringskat nie. Voordat dit nie opgewek en verheerlik is nie, is my verlossing nog nie voltooi nie. My ewigheidsbestaan sal 'n liggaamlike bestaan op die nuwe aarde wees. My liggaam verheerlik wees, ja. En dit sal mý liggaam wees – híérdie liggaam. Kyk na Jesus ná Sy opstanding. Sy liggaam was verheerlik, maar Hy het steeds die spykermerke van Sy kruisigingsliggaam gedra – sodat ons tot in ewigheid sal onthou.

            Wil jy jou salige hoop voed? Peins dikwels oor Christus se opstanding en na-opstandingstaat. Só sal elkeen wat in Christus sterf óók eendag wees.

2.         Die reddingsproses is duidelik waarneembaar

#          Een van die uitstaande merktekens van die Here se herskeppingswerk in 'n mens, is 'n nuwe liefde en ywer vir die waarheidsevangelie (5,7).

            Paulus se oortuiging dat hierdie hartstog eg is in die Filippense, is gebaseer op 'n paar dinge wat hy in hulle waarneem.

            +          Hulle ywer nie net vir énige evangelie nie, maar vir die wáre evangelie.

            Hulle "gemeenskap" aan die evangelie beteken dat dit inderdaad die apostoliese evangelie is waaraan hulle meewerk (vgl. Gal 1:6-9).

            Voorts ywer hulle vir die "verdediging" en "bevestiging" van die evangelie. Beide begrippe was regsterme wat gepraat het van die ernstige pleitdooie van 'n advokaat vir sy klient.

            +          Hulle ywer vir die uitdra van die evangelie.

            Die spesifieke voorsetsel wat die apostel gebruik, kan so vertaal word, "hulle het gemeenskap in die evangelie in" (5). Daar sit dus beweging, dinamiek in die uitdrukking. Dit gaan vir hulle oor die voortgaande en steeds verdere verbreiding van die evangelie (vgl. van die Eng. vertalings).

            +          Hulle ywer vir die verbreiding van die evangelie is volhardend en standhoudend.

            Reeds van die "eerste dag" af, dus vir 'n dekade reeds, is die uitdra van die evangelie hulle hartstog.

3.         Tussen ware gelowiges spring daar altyd 'n liefdesvonk van wedersydse aangetrokkenheid.

Die gemeenskap van gelowiges is sonder uitsondering 'n ervaringswerklikheid. Christelike eenheid is nie iets wat ons moet probeer daarstel nie; dis 'n gegewe. Maar uiteraard moet ons die implikasies daarvan uitleef.

            Die ekumeniese beweging is pogings van die valse kerk om te probeer regkry waartoe hy nie in gebore staat is nie. As jy daaroor twyfel, gaan woon hulle vergaderings by, en kyk of dit die gees van hierdie verse adem.

4.         Sekerheid oor ons redding maak nie gebed vir onsself en vir mekaar oorbodig nie; dit sneller juis gebed.

Só vol is Paulus se hart van dankbaarheid en liefde, dat hy nie anders kan as om vir die Filippense te bid nie.

            Voorts weet hy dat ons gebede ingeweef is in die uitwerk van God se raadsplan, asook die verlossing van sondaars van God se toorn.

            Les bes weet hy dat hy nie tevergeefs bid nie, aangesien hy oortuig is daarvan dat die Filippense opgeneem is in God se verlossingsplan. Hy weet dat sy gebede vir hulle presies in lyn is met God se wil.

Slot

Tot die mate wat die dinge wat ons aangesny het in waarheid beleef word in 'n gemeente, tot daardie mate is dit wat in so 'n gemeenskap van gelowiges gebeur die ware Jakob. En dwarsdeur die eeue kon alle ware Christene hiermee identifiseer. En, uiteraard, só word dit regoor die aarde beleef.

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  nico.vanderwalt@reformed.org.za

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev