PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/ysfzc49f

Nou begin ons kyk na die apostel se gebed vir die Filippense. Ons fokus eers op v. 9-10a : "Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom." (NAV). Hier bid Paulus vir oorvloedige en begripvolle liefde, asook vir sensitiewe onderskeidinsvermoë.

Inleiding

Paulus sê nie net vir die Filippense dat hy vir hulle bid nie (3-4), maar ook wat hy vir hulle bid (9-11).

            Uit v.3-4 is dit duidelik dat die apostel baie gereeld vir hierdie gemeente gebid het. Ons kan dus aanvaar dat  hy veel meer, en baie ander dinge vir hulle gebid het as hierdie paar sinne. Maar v.9-11 is die essensie daarvan.

            Nog meer, die feit dat die Heilige Gees hom gelei het om spesifiek hierdie woorde in die Nuwe Testamentiese kanon op te teken, sê vir ons dat dit wesensbelangrike en tydlose betekenis het. En gewis het miljoene gelowiges deur die eeue wonderlike lig hieruit geput. Om behoorlik daarna te kyk, is dus oor en oor die moeite werd.

            Vireers kan ons net na die eerste gedeelte kyk (9-10a). Hier bid Paulus vir liefde – vir die oorvloed, die kwalifikasies, en die gevolg daarvan.

Toenemende liefde

In die eerste instansie vra Paulus die Here dat die Filippense meer en meer liefde sal ervaar: "dat julle liefde al hoe meer sal toeneem"

            Hy bid nie hierdie gebed omdat die Filippense liefdeloos is nie. Hy sê immers, "... nog meer en meer ..." (OAV). Daarbenewens maak die voorafgaande verse, asook hulle verhouding met die apostel oor die vorige dekade, dit duidelik dat presies die teendeel waar is.

            Die gebed ontspring dus nie vanuit die apostel se bekommernis oor gebreke in Filippi nie. Nee, dis deur en deur positief gemotiveerd.

            As hier vir oorvloedige liefde (OAV) gebid word, laat dit mens dink aan 'n fontein wat dag en nag borrelend sy water gee – sodat mense vrylik daarvan kan gebruik. So 'n liefde hoef nie afgedwing of verdien te word nie. Spontaan gee dit net aanmekaar. 1Thess 4:9 stel dit só: "Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê."

            Maar Paulus bid vir nóg meer: dat hierdie oorvloedige liefde sal toeneem. As dit by heiligmaking en godsvrug kom, kan ons nooit selftevrede raak nie. Selfs vir die mees toegewyde gelowiges is daar altyd ruimte vir groei. Die uitstrek na hoër hoogtes moet ons almal se lewens kenmerk.

            Die bede dra ook die gedagte van aanhoudende voortgang. Dit sit in die vorm waarin Paulus die werkwoord giet. Nie alleen moet die Filippense se liefde toeneem nie – dalk nog so een of twee keer nie. Nee, dit moet aanhou en aanhou toeneem.

Kwalifikasie: "begrip en fyn aanvoeling"

Paulus bid nie vir 'n toename in liefde sonder meer nie. Nee, hy kwalifiseer dit: Dit moet gekenmerk word deur begrip en aanvoeling.

            Waarom hierdie kwalifikasies? Liefde kan onkundig wees. En dit kan dwaas wees. Kennis en begrip stel die onkunde reg; onderskeiding en aanvoeling die dwaasheid.

            +          As Paulus van begrip praat, bedoel hy 'n ontwikkelde greep op die geheimenisse van die Nuwe Verbond – en die evangelie spesifiek. En dit is die vrug van stewige nadenke, onderrig en ervaring.

            +          Die begrip, aanvoeling (OAV: ervaring), kom nie elders in die Nuwe Testament voor nie. 'n Nabyverwante woord word wel in Heb 5:14 gebruik, waar dit dui op die onderskeiding tussen goed en kwaad iets wat met oefening en ervaring kom.

            Die begrip beskryf 'n morele sensitiwiteit, 'n eties gesonde verstand, wat as 't ware vanself aanvoel wat die regte ding is om te doen, en wat vermy moet word.

            Paulus kwalifiseer verder; hy praat van alle (OAV) aanvoeling. Daarmee bedoel hy nie volmaaktheid nie, maar omvang. Hierdie onderskeidingsvermoë geld vir die volle spektrum van die lewe; niks is uitgesluit nie.

            +          Begrip het te doen met verstandelike kennis en beginsels; aanvoeling met die toepassing daarvan. Begrip het te doen met 'n greep op die waarheid; aanvoeling met die beoefening van takt. Begrip maak onderskeiding moontlik; aanvoeling maak dit prakties.

            +          As ons nou vra waarom hierdie twee kwaliteite ons liefde moet begelei, is dit duidelik dat hulle dit enersyds reg en sinvol kanaliseer, en andersyds bewaar van dwase en selfs skadelike aanwendings.

            Christelike liefde – agape-liefde – is nie net 'n gevoel nie, dis as 't ware 'n energie. Dit móét uiting vind – deur iets te doen in 'n ander se belang. Dit moet dien. Dit sit skouer by. Maar begrip is nodig om te weet in watter rigting om te stoot. En aanvoeling sê vir jou wanneer en hoe hard om te stoot.

            Ervaring het ons almal al geleer dat liefde onkundig, naïef en dwaas kan wees – of bloot sentimenteel. En verkeerd aangewend, kan dit meer skade doen as goed.

 

Gevolg: "sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom."

Christelike liefde is op ons naaste gerig, veral op ons mede-broers en -susters in die Here. Maar in die éérste instansie is dit op die Here gerig. Dit wil Hóm behaag, verheerlik en dien. Dit kom dus tot uitdrukking in toegewyde dissipelskap.

            So onlosmaaklik verbonde is liefde vir God, enersyds, en gehoorsaamheid aan Hom, andersyds, dat die Bybel dit oor en oor beklemtoon: "Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet" "As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem" "Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie" (Joh 14:21-24). "Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam." (1Joh 5:3).

            +          In ons komplekse wêreld is gehoorsaamheid aan God selde 'n eenvoudige saak. Ons moet duisende keuses maak – en die regte ding is dikwels nie voor die hand liggend nie. Presies hier kom begrip en aanvoeling in die prentjie. As my liefde vir die Here soos 'n fontein opborrel, is dit hierdie twee kwaliteite wat die regte kanale daarvoor oopgrawe. Dis waarom die apostel sê dat dit die Filippense in staat sal stel om te onderskei waar dit regtig op aankom.

            +          Die Grieks van die uitdrukking waarna ons kyk, is ietwat dubbelsinnig. Óf dit praat van dinge wat verskil, óf dit praat van die uitnemende, die beste. Maar as mens daaroor nadink, besef jy hoe naby hierdie twee idees tog aan mekaar lê. Voordat jy die uitnemende van 'n paar opsies kan kies, moet jy tog eers verstaan wat die verskil daartussen is. Miskien wil Paulus dat ons aan beide dink.

            Ook in die wêreld van dissipelskap en etiek mag ons nooit die bestaan van verskille ignoreer nie. Ten spyte van die gees van ons tyd, wat alles wil gelykmaak, moet ons kompromieloos staan op die realiteit van onderskeid – op die onderskeid tussen reg en verkeerd, die waarheid en die leuen, die lig en die duisternis, die lewe en die dood. Die een is nie maar so goed soos die ander nie! Daar is maar één pad wat na die ewige heerlikheid lei; alle ander roetes lei na die ewige verdoemenis. En hierdie pad is Jesus Christus. Hy is die enigste Middelaar tussen God en mense. Gehoorsaamheid aan Hom alleen is ware en uitnemende moraliteit. Alle ander etiese kodes, hoe mooi en goed ook al, is en bly mensgemaak.

            As daar één ding is waaraan vandag se wêreld van teologie en etiek mank gaan, dan is dit eksakte en vreeslose definisie.

            Waarop Paulus dus hier sinspeel is dit: Die verskillende paaie deur hierdie lewe verskil, en dis die taak van goed-ingeligte en onderskeidende liefde vir die Here om dit te ondersoek, te weeg en te ontbloot. As dít gebeur, sal ons in staat wees om die regte keuses te maak, en om die uitnemende na te jaag. Dít is onderskeidende Christenskap. Dít is waarvoor Paulus bid.

            +          Hierdie saak was vir die apostel van die allergrootste belang. In sy Romeinebrief begin hy sy imperatiewe gedeelte met presies dieselfde gedagte: "Gee julleself aan God as lewende en heilige offers ... moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is." (Rom 12:1-2).

            +          Dis ons dankbaarheid en liéfde vir die Here wat dit vir ons so belangrik maak om nie net die goeie te kies nie, maar die beste. En presies dit is waarom dit vir Hóm so kosbaar is – hierdie najaging van die uitnemende, hierdie puntenerige erns om die heel beste vir Hom te offer.

            Daarenteen, tot die mate wat ons in ons dissipelskap tevrede is met 'n tweedebeste, tot daardie mate is ons liefde vir Hom minder as wat dit moet wees. Trouens, dan is die egtheid van ons toewyding aan Hom ernstig onder verdenking.

            +          Daar is twee skeeftrekkings wat ons onder Christene aantref. Dit bedreig elkeen van ons voortdurend. En beide doen oneindig baie skade:

                        =          Daar is soiets soos liefde sonder begrip en aanvoeling. Hierdie liefde is selde meer as 'n blinde impuls. Dis soos die Jode wat 'n ywer vir God gehad het, maar sonder kennis (Rom 10:2).

            Die wêreld sê liefde is blind, maar 'n Christen se liefde moet ingelig, gefundeerd en onderskeidend wees. En hierdie lig kan ons nét vanuit die Woord van God kry. As liefde nie in die kanale van God se waarheid en voorskrifte vloei nie, kan dit die mees dwase dinge aanvang. En soos vloedwaters wat oor rivierwalle breek, vernietig dit so ver soos dit gaan.

            In sy ekstreme word hierdie dwaling fanatisisme.

                        =          Daar is soiets soos begrip en kundige onderskeiding sonder liefde. Maar dis lam en steriel – en spoedig hooghartig, trots en veroordelend.

            Dis die gees van Jakobus en Johannes as hulle vuur uit die hemel wil afroep om die Samaritane wat Jesus nie wil ontvang nie te verteer. Hulle weet wat waarheid is en wie die Messias is, maar vir die Samaritane het hulle min liefde. Geen wonder dat die Here hulle skerp teregwys nie (Luk 9:53-55).

            Hierdie dwaling lei tot dooie ortodoksie.

Slot

Nogeens, soos so dikwels in die Skrif, sien ons in ons teksgedeelte dat die Christelike lewe op die snykant van 'n mes geleef word. Dis nie 'n of-of-lewe nie, dis 'n en-en-lewe. Wat is ons sonder liefde vir ons Here en vir mekaar? Maar ons liefde móét getemper en gerig word deur waarheidskennis, ervaringswysheid, fyn aanvoeling en nugtere onderskeidingsvermoë.

            Mag die Here ons bewaar van die Godonterende eensydighede waarop hierdie Skrifgedeelte sinspeel. Mag Hy ons help om die fyn balanse waarvoor Paulus hier bid toenemend in ons lewens te beleef. En laat ons dit gedurig vir onsself en mekaar bid! Die apostel kon 'n duisend ander dinge vir die Filippense gebid het. Maar hy noem spesifiek hierdie gebed, omdat dit so uiters, uiters belangrik is.

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt – Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev