PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/yc695ra7

In Fil 1:9-11 sê Paulus vir die Filippense wat die essensie van sy gereelde gebede vir hulle is. Nou kyk ons na v.10b: "... sodat julle, met die oog op die dag van Christus, innerlik suiwer en onberispelik kan wees" (2020).

            Laas het ons in v.9 en 10a gesien dat die apostel vir die Filippense bid vir toenemende, begripvolle en oorvloedige liefde sódat hulle sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dit sal dan lei tot twee karaktertrekke – innerlike suiwerheid en onberispelikheid ("sodat ..."). En hierdie dinge is van die grootste belang "met die oog op die dag van Christus", oftewel die wederkoms.

Opreg (Gr. eilikrinēs)

#          Die byvoeglike naamwoord (Gr. eilikrines), vertaal met "rein" (OAV), "onberispelik" (NAV) of  "innerlik suiwer" (2020) , kom net 2 keer in die Nuwe Testament voor – hier en in 2Pet 3:1. Die ooreenstemmende selfstandige naamwoord kry ons 3 keer – 1Kor 5:8; 2Kor 1:12; 2Kor 2:17.

            Wat beteken die begrip presies?

            Volgens die gesaghebbende woordeboek van Louw en Nida dra dit ten diepste die idee van opregtheid. Die innerlike motiewe is dus suiwer en onvermeng. Die 2020 se "innerlik suiwer" blyk dus in die kol te wees, hoewel, meen ek, "opregtheid" dalk 'n makliker verstaanbare vertaling sou wees. Mens kan ook dink i.t.v. integriteit.

#          Bostaande drie verse in die Korintiër-briewe bevestig dan ook hierdie betekenis van die woord. In Engels word dit daarom as 'n reël met "sincerity" vertaal.

            In 1Kor 5:8 kombineer Paulus die begrip met die idee van ongesuurde brood. Waarskynlik was die Here Jesus se waarskuwing teen die suurdeeg van die Fariseërs, nl. huigelagtigheid, in sy gedagtes – die teenoorgestelde van opregtheid.

            In 2Kor 1:12 loop die woord saam met die getuienis van sy gewete – daardie geheimenisvolle en ononderdrukbare innerlike fakulteit wat onder meer alle skynheiligheid uitwys en bestraf – en aandring op opregtheid.

            In 2Kor 2:17 gebruik die apostel die woord as hy sê dat hy sy apostoliese roeping voor die aangesig van die Here "in opregtheid" uitleef (OAV, NIV, NASB ens.).

#          Mens kan nooit te veel peil trek op die etimologie van 'n woord nie, maar in hierdie geval verskaf dit vir ons 'n mooi illustrasie om die betekenis van hierdie woord tuis te bring. Die woord het dalk ontwikkel uit die samevoeging van twee ander: sonlig (Gr. hēlios) en om te oordeel (Gr. krinō). Dan sou die begrip dui op 'n toestand wat die oordeel of toets van helder sonskyn kan deurstaan.

            +          Die winkeltjies van destyds was maar donker en as 'n voornemende koper wou seker maak dat, sê maar, die kledingstuk wat hy wil koop nie vol motgaatjies is nie, het hy dit buitentoe gevat en teen die sonlig gehou. Hy wou dus die kwaliteit en egtheid daarvan toets.

            +          'n Soortgelyke gedagte sit in die Engelse begrip "sincerity". Die oorspronge daarvan lê in die Latynse woorde "sine cera", wat sonder byewas beteken. Soos vandag was goeie pottebakkery destyds 'n fyn kuns. En veral het dit daaroor gegaan om 'n produk sonder enige krakies te maak. Dis egter moontlik om krakies met byewas toe te smeer. In die skemer basaars was sulke toesmeerdery onsigbaar, maar as die item teen die son gehou is, was dit skielik baie duidelik. Kwaliteitsvervaardigers het dus hulle produkte gewaarmerk met die woorde, sine cera.

#          Paulus bid dus hier vir 'n innerlike suiwerheid, egtheid, integriteit en opregtheid – dit wat die helder sonlig van God se alwetenheid en standaarde kan slaag. Dis dus 'n hartsgesteldheid wat klaargemaak het met huigelagtigheid en voorgee.

 

Onberispelik

#          Hierdie is 'n vertaling van 'n enkele Griekse woord (Gr. aproskopos). wat slegs twee keer in die Griekse Nuwe Testament voorkom (hier en in Hand 24:16). Die presiese betekenis van die woord is nie maklik om vas te vat nie, maar, sonder om té tegnies te raak, kan ons dit só verstaan: Om só te leef dat dit niemand sal aanstoot gee nie (OAV). Die gedagte is dan om onberispelik te leef. Die NAV en 2020 is in die kol.  (Die NASB, NIV en ESV vertaal al drie met "blameless").

            1Kor 10:32 beveel: "Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie."

#          'n Gelowige wat erns maak met hierdie saak sal onthou dat hy 'n voorbeeld vir sy kinders is en deur die wêreld dopgehou word. Hy sal onthou wat die Here Jesus gesê het: "Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is. So 'n mens kan eerder met 'n groot klip aan die nek in die see gegooi word ..." (Luk 17:1-23).

#          Die twee begrippe waarna ons kyk, hang natuurlik ten nouste saam. As ons één ding nodig het om ander nie te laat struikel nie, dan is dit opregtheid. Reik evangelisties uit na die kerklos mense van ons dag, en jy sal dadelik te doen kry met verwyte oor die kerk se skynheiligheid, oftewel afwesigheid van opregtheid. Daarenteen is daar beswaarlik 'n karaktertrek wat só 'n appél op mense maak as onkreukbare eerlikheid en integriteit.

            Voortdurende in agneming van ander mense is nie huigelagtig nie. Om 'n bepaalde (mindere) iets na te laat ten einde nie 'n broer of suster te laat struikel nie, is nie skynheiligheid nie – dis liefde (Rom14:1-15:13; 1Kor 8:1-13; 10:23-33).

Tot op die dag van Christus

Waarom is dit alles so belangrik – waarom lê hierdie dinge aan die hart van Paulus se gebed? Jesus Christus kom terug!

#          Dit lyk vir my of die Grieks wil sê dat die Filippense elke dag van hulle lewens opreg en onberispelik moet leef – met die oog op die feit dat die Here Jesus Christus terugkom. Puntenerig moet hulle dus seker maak dat hulle gereed sal wees om die Here op daardie dag te ontmoet.

#          As daar ooit 'n man was wat in die lig van die oordeelsdag en die ewigheid geleef het, was dit Paulus. En hy wil hê dit moet ook van sy broers en susters waar wees! Die apostel het geweet dat die dag as die Here terugkom, 'n dag van afrekening en finale beoordeling en beloning sal wees.

            Wanneer ons eendag voor die regterstoel van Christus moet verskyn – met die oog op die vasstelling van ons ewige loon – sal min dinge swaarder weeg as die opregtheid van ons gehoorsaamheid in hierdie lewe, asook ons naasteliefde wat ons broers en suster se belange hoër geag het as ons eie.

            Lees mens deur die Nuwe Testamentiese briewe, is dit baie duidelik dat die apostels as 't ware dwarsdeur die liggaamlike dood gekyk het, en gefokus het op die opstanding en die ewige loon wat hulle sal ontvang wanneer Christus terugkom.

            Sonder twyfel was hulle hierin vir ons tot voorbeeld.

Twee onontkombare implikasies

1.         Op die dag as ons lewens voor die regterstoel van Christus onder die loep geneem gaan word, gaan die hartsintegriteit van ons Christenskap, asook ons ingesteldheid op, en konsiderasie van ons medemens, van die mees bepalende faktore wees.

            Dit hoef ons nie te verbaas nie. Die res van die Skrif bevestig dit oor en oor. Wat, sê die Bybel, kwalifiseer 'n goeie werk wat die Here behaag? Drie dinge:

            +          Dit moet wees wat Hy uitdruklik beveel het.

            +          Dit moet in hartsopregtheid geskied.

            +          Dit moet gedring word deur 'n hartstog vir Sy eer! En wat is die hart van Christus se bevel aan ons? In 'n neutedop: Liefde vir God. Lliefde vir my naaste!

2.         Hartsopregtheid en integriteit is een van die mees fundamentele kentrekke van outentieke Christenskap.

            As daar een onfeilbare simptoon van 'n vals geloof is, is dit huigelagtigheid, oftewel skynheiligheid.

            Want as iemand nie verder kan kom as die uiterlike nie, wys dit onteenseglik op die afwesigheid van innerlike realiteit. En sonder die wedergeboorte – wat 'n geestelike hartoorplanting is – sal niemand die koninkryk ingaan nie.

            Dís wat Paulus in gedagte het as hy bid dat die Filippense sal kan onderskei waar dit op aankom!

Slotwoord

#          Nadenke en ervaring leer dat die twee kwaliteite waarvoor Paulus hier bid – eerlikheid, opregtheid en integriteit, enersyds, en voortdurende in agneming van my medemens, andersyds – baie dikwels in 'n onderlinge spanning teenoor mekaar staan.

            As ek eerlik is, gee ek mense maklik aanstoot. En as ek mense se opinies en gevoelens puntenerig in ag neem, huigel ek voordat ek my oë uitvee.

            Hierdie twee dinge moet dus in voortdurende ewewig gehou word.

#          Hier sien ons nogeens die wysheid en fyn balanse van die apostel se gebed. En dis nóg 'n rede waarom hy dit nodig ag om vir fyn aanvoeling te bid.

#          Ook die Here Jesus het hierdie spanning geken. Hy wat gewaarsku het dat ons ten alle koste moet vermy om andere te laat struikel, was egter terselfdertyd vir die Jode 'n struikelblok (Rom 9:33;1Kor 1:23; Gal 5:11).

            Juis omdat aanstoot aan Hom so maklik was, moes Hy sê: "... salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie" (Luk 7:23).

            Wanneer hierdie twee kwaliteite egter onvermydelik in in botsing kom, moet eerlikheid en waarheid altyd voorrang geniet. Om andere te konsidereer, hou nooit in dat jy allerlei kompromieë sal maak nie!

            Wanneer het Jesus onwrikbaar gestaan, al het dit ook die hele wêreld aanstoot gegee? Wanneer dit gegaan het oor Sy gehoorsaamheid aan die Vader – oor waarheid; oor die redding van sondaars; oor die eer van God.

            En dís waarom ons kennis en fyn aanvoeling nodig het. Ons moet weet wanneer om onwrikbaar en kompromieloos te staan, en wanneer om rustig toe te gee.

Ons moet eenvoudig leer onderskei

tussen die absolute en ononderhandelbare hoekpenne van ons geloof

aan die een kant

en

dit wat van mindere belang is

aan die ander kant

 

Mag die Here ons help om die verskil tussen majors en minors te ken!

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt – Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev