Preekopname: https://tinyurl.com/bddvchv8
Verse 9, 10 en 11 is een lang sin in die Grieks. Mens moet dus mooi kophou om goed agter die kap van Paulus se byl te kom. Vers 11b, "tot verheerliking en lof van God", is eintlik waarheen die apostel op pad is.
# Dit help as mens hierdie lang sin uit mekaar pluis (ek probeer die Grieks so letterlik moontlik vertaal, vir sover dit in Afrikaans moontlik is. Die NASB- en ESV-vertalings se Engelse pogings is die moeite werd om na te kyk):
(v.9) En dit bid ek
sodat
julle liefde steeds meer en meer
oorvloedig mag wees in volle kennis en alle onderskeiding
(v.10) sodat
julle kan onderskei die dinge wat saak maak
sodat
julle opreg en onberispelik mag wees
tot op die dag van Christus
(v.11) as vervuldes met die vrug van geregtigheid
wat deur Jesus Christus kom
tot
die heerlikheid en lof van God
# Ons het reeds na v.9 en 10 gekyk. Vers 11 kom nou onder ons vergrootglas. Indien v.9 en v.10 wáár is van hulle, sal hulle op die dag wanneer die Here terugkom, vervul wees met geregtigheidsvrug – wat die uitvloeisel sal wees van hulle eenheid met Jesus Christus – en so sal God verheerlik word.
Die vrug van geregtigheid
Hierdie uitdrukking kan op twee maniere vertolk word:
Óf dit is vrug wat voortkom uit die objektiewe geregtigheid van Christus wat aan die gelowige toegereken word.
Óf dit is vrug waarvan die aard geregtigheid is – dus subjektiewe geregtigheid wat die Here in die gelowige se lewe toebedeel.
Waarskynlik word laasgenoemde bedoel. Só word die uitdrukking elders in die Nuwe Testament gebruik (Heb 12:11; Jak 3:18, NIV). Maar uiteindelik maak dit nie soveel saak nie, aangesien beide sonder uitsondering teenwoordig is in die lewe van elke ware gelowige. Elkeen wat waarlik glo, word beklee met Christus se objektiewe geregtigheid, waarop subjektiewe geregtigheid in die proses van heiligmaking altyd volg.
Vervul
# In die oorspronklike taal is hierdie werkwoord in 'n vorm wat dui op 'n staat wat die gevolg is van 'n voorafgaande gebeurtenis of reeks gebeurtenisse.
So gesien, gaan Paulus se gebed daaroor dat die Filippense eendag as die Here kom vol geregtigheidsvrug sal wees – omdat hulle tydens hierdie lewe daarmee volgemaak is.
Hierdie woord is 'n oorvloedsbegrip. Paulus bid dus vir lewens wat boordevol vrug is. Nêrens aanvaar die Skrif tweederangse Christenskap as maar in orde nie. Nee, ons moet alles inspan om op die laaste dag mandjies propvol vrug te hê.
Daarvoor is 'n regte lewensinstelling nodig:
+ Eerstens moet my hele lewe in diens staan van die oes. Niks is uitgesluit nie. Wat níé bydra nie, skuif noodwendig af op my prioriteitslys. Selfs al is dit dalk op sigself goeie en edel dinge.
Maar konsentreer op die uitnemende, en jy kom selde by die goeie uit.
+ Tweedens, moet ek my instel om vrug van elke denkbare soort voort te bring (2Kor 8:7; Ef 5:9; Kol 1:10).
+ Derdens moet ek elke geleentheid sien as in diens van die oes (Joh 9:4; Ef 5:16).
Deur Jesus Christus
# Altyd is die apostel begaan oor die Here se eer! Maar oor en oor beklemtoon hy dat ons God nooit kan verheerlik ánders as deur Christus se middelaarskap nie (vgl. bv. Ef 2:10).
+ As groot Profeet het Hy vir ons presies gewys en geleer wat reg is in God se oë – wat die ware aard van geregtigheidsvrug is.
+ As groot Priester het Hy Homself vir ons geoffer sodat ons vrug vir God aanvaarbaar kan wees, en tree Hy voortdurend by die Vader vir ons in sodat ons kan volhard in ons vrugdraroeping, en sodat ons vrug wasdom kan bereik.
+ As groot Koning heers Hy só in ons lewens dat ons Hom met onverdeelde harte vertrou, liefhet en dien – wat die Vader meer as enigiets behaag.
Tot heerlikheid en lof van God
# Hieroor gaan alles uiteindelik. En hierdie doel beheers nie net v.11 nie, maar die hele gebed.
As Paulus so bid, bid hy natuurlik presies in pas met die ganse Godsopenbaring.
So praat hy byvoorbeeld in Ef 1 in verhewe terme oor God se ewige raad en grootse verlossingsplan. Drie keer word herhaal dat Sy doel met alles Sy eie verheerliking is. Alles wat Hy in hierdie skepping en geskiedenis doen, is "tot lof van Sy heerlikheid" (Ef 1:6,12,14, OAV).
Die onontkombare implikasie is dat elke ware gelowige sy volle gewig moet ingooi by die najaging van hierdie grootse doel. Wat ons ook al doen, moet in diens hiervan staan (Matt 5:16; 1Kor 10:31; 1Pet 4:11).
Die locus classicus
Nêrens word die tema onder ons vergrootglas méér fundamenteel en insiggewend behandel nie as deur die Here Jesus self in Joh 15:1-17.
# Hý is die wingerdstok; Sy dissipels die lote. Hulle moet vrug dra, maar dis Hý wat die lewenssap voorsien om dit moontlik te maak. Trouens, sonder Hom kan hulle niks verrig nie (4-5). Daarom moet hulle sorgdra om voortdurend in Hóm te bly – deur in geloof steeds aan Hom vas te hou. Spesifiek is dit 'n vashou aan Sy liefde (9).
Maar liefde is 'n oor-en-weer-aangeleentheid. Daarom gaan dit ook oor die dissípels se volhardende en toegewyde gehoorsaamheid aan Hom – want dis hoe hulle húl liefde tot uitdrukking moet bring (10).
En hoe kom hierdie gehoorsaamheid prakties tot uitdrukking? In broederliefde! (12,17).
# 'n Verdere en onmisbare faktor is gebed (7,16).
# Waarom gaan dit dus alles? Die Vader se verheerliking! (8). Daarom, hoe meer vrug, hoe beter (8). En let op, hierdie vrug is nie maar soos laas seisoen se perskes wat nou verskrompel is nie – dis blywende vrug! (16). Daarom kan dit meer en meer word – en uiteindelik godverheerlikende gewig dra op die laaste dag.
Hier is ons by ons lewenssin
Dis waarom ons uitverkies en geroep is (16)
Praktiese toepassing
1. Die definisie van 'n lewe wat God behaag
# Dis uiters belangrik om te onthou dat nie elke ding wat óns as goed beskou, noodwendig vir God aanvaarbaar is nie. Vir karaktertrekke en dade om as vrug van geregtigheid te kwalifiseer, moet dit aan spesifieke vereistes voldoen.
Vers 11 gee baie lig:
+ Eerstens stem dit ooreen met wat God as Sy wil in Sy Woord aan ons openbaar. Geregtigheid dui immers op dit wat reg is in Gód se oë.
+ Tweedens geskied dit vanuit my verbondenheid met Christus, en vanuit die krag wat Hy deur Sy Gees verleen.
+ Derdens is die beheersende motief in my hart die heerlikheid en lof van God die Vader.
2. Hoe dra ek hierdie vrug?
# Allereers moet ek 'n goeie boom wees. Slegte bome kan nie goeie vrug dra nie (Matt 7:16-20; 12:33). Ek moet dus wedergebore wees (1Joh 2:29, OAV). As dit eers 'n werklikheid is, kom die geregtigheidsvrug asof vanself. Dan sál die saad wat God in jou geplant het groei en vrugdra (1Joh 3:9, OAV).
# Voorts moet ek – soos die apostel hier voortdurend, en met erns bid – dit najaag dat die Here deur Sy Gees só in my sal werk dat ek inderdaad vrug dra.
Die "vanselfsprekendheid" hierbo moet egter nie simplisties verstaan word nie. Hierdie vrug kom nie outomaties nie. My ywerige gehoorsaamheid en gebruikmaking van die genademiddele is noodsaaklik. Onder meer is belangrik: toegewyde gebed; ernstige omgang met God se Woord, waarheid en weë; die najaging van heiligmaking; gereelde gemeenskap met broers en susters in die Here; en die gereelde blootstelling aan Bybelgetroue en Geesvervulde prediking.
# Derdens moet ek my verantwoordelikhede opneem. Dis immers ék wat die vrug moet dra. Romeine 6:13 is hier van belang: "... stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dood lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God" (OAV).
# Vierdens moet ek sekere waarhede altyd voor oë hou. Wanneer dra 'n wedergebore yweraar vir Christus vrug tot eer van God?
+ Die antwoord lê onder meer in Joh 15: Ek moet die lewenseenheid waarvan die Here Jesus daar praat, voortdurend en met toewyding koester, deur in Christus te bly. Mens moet dus jou vertroue in, liefde vir, en gemeenskap met Christus soos 'n kosbare kleinood bewaar.
Die Nuwe Testament is vol oor die noue wisselwerking tussen liefde vir Hom, en gehoorsaamheid aan Hom. Verkoel my toewydingsliefde, tree gehoorsaamheidslaksheid dadelik in. En ongehoorsaamheid blus my liefde vir Hom soos niks anders nie.
+ Voorts moet ek nie rondspeel met my roeping nie, maar selfgedissiplineerd Christus se voorbeeld navolg, en leef soos Hy beveel. Johannes stel dit kategories: "Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het" (1Joh 2:6, OAV; vgl. ook 1Pet 2:21).
Dit verg dus dat ons voortdurend ons lewens op die skaalbakke van die Woord sal weeg.
+ Les bes moet jy alles wat jy doen bewustelik aan die Vader offer – in die Naam van Christus. Jou toewyding wil dus uiteindelik die Vader behaag en Hom verheerlik. Ons roeping is immers om "geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is" (1Pet 2:5).
+ Ja, hierdie offers is gebrekkig, maar omdat hulle in Christus vir die Vader gebring word, ag Hy dit kosbaar. Dis soos ouers wat van plesier kraai as hulle baba sy eerste wankelrige treetjies gee. Die vreugde lê allermins in die volmaaktheid van die daad, maar in die feit dat dit so 'n kleintjie se allerbeste is – en dat dit húlle spruit is wat so "presteer".
3. Hier lê die diepste sin van die lewe
# As daar een vraag is waarmee alle denkende mense deur die eeue geworstel het, dan is dit die vraag na die sin van die lewe. Waarom gaan dit? Waarvoor is ek hier? Sal my lewe enigsins betekenis hê ná my dood? Sal hóé ek lewe, hoegenaamd dan saak maak? Sal dit voortduur? En sal dit uitstyg bo die mundane van hierdie ondermaanse?
# Hier in v.11 is die antwoord! As die Here eendag ons werke beproef, sal dit net dié wees wat met "goud, silwer en edelstene" gebou is, wat die vuurtoets sal deurstaan (1Kor 3:9-15). Geregtigheidsvrug – in harmonie met God se Woord en wil dus – en dit alléén, het in die ware sin van die woord ewigheidsbetekenis!
# Hoe kan ek nóú reeds weet my ywerige diens vir die Here sal eendag die toets deurstaan? Vals motiewe is immers so verskriklik subtiel! My vlees is so verdorwe!
Die allervraag – en dis presies op hierdie punt waar mens so maklik mis trap – is of ek regtig gedring word deur liefde vir God, en 'n hartstog vir sy eer?
# Hier is 'n lakmoestoets: As jou werk vir die Here, jou bediening, jou goeie werke – op watter wyse ook al kortgeknip word, sal jy stééds vergenoegd wees en vreugde in Hóm hê? Of is jy só vasgebind aan jou drome en ambisies dat jy alle lewenssin sal verloor indien dit sou opdroog?
Hieroor moet ek en jy weer en weer nadink!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt – Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev