PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/mpht2amb

As daar ooit 'n man was wat vir homself kon jammer wees, dan is dit Paulus in sy huidige situasie. Tog is hy vol blydskap. Waarom? Omdat die evangelie steeds verder uitkring!

            Hierdie 3 verse waaroor mens so maklik lees, is vol waarheid wat ons nie mag miskyk nie.

Besorgdheid oor die Filippense

Die Filippense het Paulus lief. Om uit te vind hoe dit met hom gaan het hulle Epafroditus gestuur, en een van die redes vir hierdie brief is om hulle gerus te stel: "Ek wil hê julle moet weet ..." (12a). Dis 'n tipiese manier van hom om sy lesers se aandag op 'n belangrike waarheid te vestig (vgl. Rom 1:13; 1Kor 10:1; 11:3; Kol 2:1; 1Thes 4:13).

            Ook hier sien mens Paulus se positiewe ingesteldheid. Ten spyte van sy eie nood is hy meer oor ander begaan as oor homself. So was die Here Jesus ook. Die aand voor Sy kruisiging bemoedig Hy byvoorbeeld Sy dissipels (vgl. Joh 13:21; 14:1).

Wat moet die Filippense weet?

Paradoksaal – totaal anders as wat mens sou verwag – het Paulus se gevangeneskap meegebring dat die evangelie bevorder is!

            Waarskynlik het die Christene destyds van terleurstelling en ontsteltenis gekreun toe Paulus in hegtenis geneem is. Die mees begaafde apostel, die mees dinamiese en suksesvolle evangelis en gemeenteplanter, agter tralies! Sal die kerk en die evangelie so 'n terugslag kan oorleef? Hoe kan God toelaat dat so 'n briljante en geseënde lewe so verskriklik vermors word? En nou het 'n hele tyd al verloop – en hy is nog stééds in boeie!

            As die apostel sê dat die Here sy boeie gebruik om die evangelie te "bevorder", gebruik hy 'n interessante woord. In die eerste eeu was die begrip onder meer 'n militêre term. Dis gebruik vir 'n eenheid manskappe wat voor 'n trekkende leër uitgestuur is om die roete te verken en gereed te maak. Hulle was soos moderne weermag-ingenieurs wat moes bosse oopkap, brue bou en bergpasse gereedmaak vir die aankomende mag.

            Paulus sê dus dat sy omstandighede en die kettings waarmee hy gebind is, soos 'n eenheid gespesialiseerde troepe is wat besig is om 'n wonderlike pad vir die evangelie oop te maak!

Die evangelie se dubbele bevordering

Paulus se boeie het minstens twee gevolge.

            Eerstens besef die hele keiserlike wag, trouens, die hele Rome ("al die ander") dat hy ter wille van Christus 'n gevangene is (13).

            Tweedens het dit die plaaslike Christene aangespoor om die evangelie met groter durf te verkondig (14).

            Die vorms van die werkwoorde is betekenisvol. Wat die ongelowiges betref, het die besef dat Paulus se hofsaak oor Christus en die evangelie gaan, uiteindelik pos gevat. En wat die Christene betref, het dit die blywende en voortgaande effek dat hulle met ywer en vrymoedigheid getuig.

Die ongelowiges

Die keiserlik wag se taak was onder meer om gevangenes te bewaak wat voor die keiser moes verskyn. Hierdie wag van ongeveer 10 000 man het uit elite-soldate bestaan. Hulle is as 't ware met die hand uitgesoek – hoogs intelligent en almal van Italiaanse geboorte. Elkeen het die rang van 'n hoofman oor honderd gehad en 'n dubbele soldy gekry. So invloedryk was die eenheid, dat nuwe keisers meermale hulle guns probeer koop het met allerlei geskenke.

            Of Paulus op hierdie stadium nog in sy eie huurhuis gewoon het, is onseker. Maar sekerlik kon sy vriende hom vrylik besoek (Hand 28:16,30).

            Ten spyte van die goeie behandeling wat hy geniet het, was die apostel 24 uur per dag vasgeboei aan 'n soldaat. Wagte het elke 6 uur gewissel – met die noodwendige gevolg dat hy oor die 2 jaar baie van hulle goed leer ken het. Sonder twyfel moes hy met talle intiem bevriend geraak het.

            Gewis het elkeen van hulle die evangelie gehoor! Meer nog, hulle moes noodgedwonge luister na Paulus se gesprekke met sy besoekers.

            Voeg hierby Paulus se onbesproke gedrag en positiewe lewensinstelling – en natuurlik sy gebede – en jy begryp dat ván hulle bes moontlik tot bekering gekom het.

            Selfs die wat ongelowig gebly het, moes 'n hoë agting vir die gevangene gehad het. Ongetwyfeld was hierdie merkwaardige man male sonder tal die onderwerp van bespreking in die barakke. En oor Paulus kon niemand praat, sonder dat die gesprek by Christus sou eindig nie.

            Die NAV vertaal korrek: Paulus se eintlike vreugde gaan daaroor dat die mense uiteindelik besig is om te besef dat sy gevangeneskap te doen het met Christus. Wie sou per slot van sake opgewonde raak oor net nóg 'n gevangene en sy lot? Maar nou begryp almal dat die apostel se saak 'n besondere saak is – 'n toetssaak. Nog nooit het soiets voor die Keiser gedien nie – so 'n verdediging van die evangelie (7). Beter en wyer publisiteit vir sy boodskap kon Paulus nie gevra het nie.

Die gemeente

Op hierdie tydstip is daar reeds baie Christene in Rome. Afgesien van diegene na wie Paulus 4 jaar vantevore in Rom 16 verwys het, is daar die wat sedert Paulus se aankoms tot bekering gekom het. Daar was 7 groot sinagoges in Rome en heelwat van die Joodse leiers het enkele dae na Paulus se aankoms die geloof aangeneem (Hand 28:24). Daar is aanduidings dat van hierdie sinagoges verander het in Christelike gemeentes.

            Waarskynlik was baie van die Christene maar skaam dat die groot apostel van die geloof in die tronk was. Maar toe dit algemene kennis word dat hy nie 'n gewone krimineel is nie, maar dat hy heroïes staan vir 'n saak veel groter as hyself, moes dit vir seker vir baie van hulle moed gegee het om openlik oor hulle geloof te praat. En sekerlik sou die bekering van sommige elite-troepe ook gehelp om die Christene se tonge los te kry.

            Les bes moes Paulus se moedige volharding ter wille van die evangelie 'n kragtige appél op baie van sy broers en susters gemaak het.

Toepassing

1.         Paulus het net een allesoorheersende prioriteit gehad: Christus en sy evangelie!

Hierdie apostoliese prioriteit word oor en oor in die Nuwe Testament onderstreep. In hierdie verse is Paulus se houding: Hou op om julle oor my te kwel, kyk wat gebeur met die evangelie!

            Daar is baie belangrike dinge waaraan gemeentes moet aandag gee, maar hier is ons by 'n kardinaal belangrike prioriteit. Ons moet steeds groei in ons hartstog, bydraes en inspanning vir die waarheidsevangelie. Hieraan behoort die grootste deel van ons begroting gewy te word. Dis waarheen meeste van ons tyd en energie gekanaliseer moet word. Dan sal die res vanself kom.

            Dit is 'n hemelskreiende skande dat soveel gemeentes opgaan in 'n honderd ander aktiwiteite wat hoegenaamd geen Bybelse mandaat het nie!

2.         Persepsies in die samelewing oor Christus, die evangelie en die kerk, is nie onbelangrik nie.

Die grond waarop ons die evangelie moet saai, is soms harder, soms sagter. Die gelykenis van die saaier bring dit onmiskenbaar na vore. Hoe meer mense in 'n samelewing gunstig ingestel is teenoor die evangelie en Jesus Christus, hoe meer geploegde grond sal daar wees vir ons saad om in te val. En tot daardie mate sal ons oes groter wees. Die omgekeerde is helaas ook waar. En dan word evangelisering 'n opdraende stryd. Waarom word samelewings soos in Europa – en toenemend ook hier in Suid-Afrika – so hard soos klip in hulle verset teen die evangelie? Onder meer omdat die kerk tydens voorafgaande dekades hom besig gehou het met allerlei beuselagtighede en onsin wat Bybels totaal irrelevant, selfs ontoelaatbaar is.

            Maar op hierdie stadium is dit anders in Rome. Dit is waarom Paulus so opgewonde is. Kennelik is simpatie teenoor die Christene en hulle evangelie aan 't toeneem – en daarmee saam geploegde grond, en die vooruitsig op 'n groter oes.

            Dis voor die hand liggend dat 'n gewigtige verantwoordelikheid in hierdie verband op ons rus. Ons lewe in die wêreld moet van so 'n aard wees dat die geploegde grond meer word, en nie omgekeerd nie. Ek praat nie van allerlei kompromieë nie, maar as ons sout van die aarde is soos ons moet, sal talle mense wat met ons te doen kry, gou-gou dors word.

3.         In die omstandighede wat God  soewerein vir ons uitmeet, moet ons nie net vergenoegd wees nie, maar ook met ywer skouer aan die wiel sit

Terwyl ons 'n verantwoordelikheid het om 'n bydrae te lewer tot 'n gunstige klimaat vir die evangelie in die samelewing, is ons nie naastenby in staat om dit te bepaal nie. Selfs ons persoonlike omstandighede is grootliks buite ons beheer.

            Mens sou kon redeneer oor Paulus se aandeel in die feit dat hy nou as gevangene in Rome sit. Maar die feit bly staan, op hierdie tydstip kan hy hoegenaamd niks aan sy kettings verander nie. Maar hy wat 'n paar jaar vantevore geskryf het dat gelowiges daarop kan peil trek dat die Here al hulle omstandighede – veral die swaarkry – gebruik om Sy doel te bereik (Rom 8:28-30), begryp nou dat dit ook in sý lewe presies so uitwerk.

            Miskien het Paulus meermale aan Josef gedink, wat jare nadat hulle hom as slaaf Egipte toe verkoop het, vir sy broers kon sê: "Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het" (Gen 50:20).

            Elkeen van ons leef in 'n bepaalde verpakking meer of minder moeilik. Om daarin vergenoegd te wees, lê aan die hart van godsvrug (1Tim 6:6-12). En om daar waar ek dan geplaas is 'n ligdraer te wees (Fil 2:15-16), is getroue navolging van Christus.

4.         Ons beste en blywendste koninkryksvrug word dikwels voortgebring in die mees ongunstige en moeilikste omstandighede

Daar sit 'n paradoks in ons dienswerk vir die Here. Sy logika is anders as ons s'n. Ons dink ons omstandighede moet reg wees voor ons iets kan bereik. Maar Hy wag nie dat alles in plek is voordat Hy begin werk nie. Op die oog af was Paulus se bediening iets van die verlede toe hy in hegtenis geneem is. Maar kyk net wat lees ons hier in Filippense! En het hy nie van sy wonderlikste briewe uit die tronk geskryf nie – geskrifte wat al vir 2000 jaar miljoene gelowiges opbou en verlig.

            Laat die van ons wat voel dat ons omstandighede van so 'n aard is dat ons lewens eintlik geen koninkryksvrug kan oplewer nie, diep hieroor nadink. Onthou, Paulus kon ook so geredeneer het – en wat sou hy dan bereik het? Nee, vroeg in sy lewe het hy geleer dat die Here se krag in swakheid volbring word (2Kor 12:7-10). Hier is een van die geheime van 'n vrugbare lewe!

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  nico.vanderwalt@reformed.org.za

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt – Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev