PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/36jmz3er

In hierdie gedeelte sit belangrike lesse waarvan ons deeglik moet kennis neem!

            Miskien sal dit die beste werk as ons eers die 4 verse oorsigtelik bekyk – en dan die vraag vra wat dit vandag vir ons sê.

            Die feit dat die OAV en die NAV verse 16 en 17 omruil, hoef ons nie te pla nie. Dit het te doen met die onderskeie Griekse grondtekste wat gebruik is. Die teks wat die NAV gebruik, is waarskynlik eerder die oorspronklike woorde van Paulus.

'n Oorsig oor ons teks

#          In die voorafgaande verse lees mens oor Paulus se blydskap dat sy swaarkry meegebring het dat Rome se Christene die evangelie met durf verkondig. Dit beteken egter nie dat alles pluis is nie. Party ván hierdie predikers se motiewe is alles behalwe suiwer.

            Dit laat mens verstaan waarom die apostel in v.10 vir 'n suiwer hartsgesteldheid in die Filippense bid – vir innerlike egtheid, integriteit en opregtheid.

            Paulus verdeel diegene wat in Rome preek in twee groepe – diegene wie se motiewe veel te wense oorlaat, en diegene wat  opreg is.

#          Eersgenoemde groep word met twee woorde beskryf: "afguns" en "twis" (OAV). Hulle is jaloers op Paulus en wil hom in 'n slegte lig stel. Van hulle word gesê dat hulle "uit selfsugtige en onsuiwere bedoelings" werk. Die NAV se vertaling is in die kol. Dit gaan vir hierdie mense om hulleself. Ja, ook hulle het 'n ywer vir die evangelie, maar terselfdertyd ook vir eie eer en aansien. Hulle wil Paulus se gevangenskap "nog swaarder ... maak". Hulle dink die apostel is soos hulle – dat hulle sukses hom jaloers sal maak.

            Waarskynlik is hierdie mense onder diegene wat voor Paulus se koms 'n leidende rol in Rome gespeel het. Maar sedert die apostel se koms moet hulle tweede viool speel. Reg van die begin af kom talle van die Jode onder sy invloed tot bekering (Hand 28:24). Die hele Rome praat waarskynlik oor hom.

            Die Christene word dus aangevuur deur Paulus se teenwoordigheid. Die gevolg is dat die evangelie met nuwe ywer en krag gepreek word. Maar helaas is daar ook diegene wat jaloers op Paulus is. Hy het by wyse van spreke hulle kalklig gesteel, en hulle probeer hulle bes om hulle prominensie te herwin.

#          Die opregtes se ywer vir die evangelie vloei vanuit hulle liefde. Vir seker word hulle gedring deur liefde vir Christus en Sy evangelie. Maar dit lyk tog of Paulus spesifiek sinspeel op liefde vir hom.

            Hierdie mense het tot die besef gekom (Gr.) dat Paulus "bestem is tot die verdediging van die evangelie" (v.17, OAV). Hulle het dus nie bloot van die apostel gehou nie – hulle het geweet hy is God se uitverkore werktuig.

            Soos in v.7 word die regsbegrip, "om te verdedig", weereens hier gebruik. Vir Paulus gaan sy hofsaak nie net oor homself nie. Wat hom betref is dit die evangelie wat verhoor word. Daarom pleit hy soos 'n advokaat vir die waarheid daarvan.

            Presies hiervoor het die soewereine Here hom in die posisie waar hy is, geplaas. En ook die goedgesinde Christene weet dit as hulle saam met hom skouer aan die wiel sit ter wille van die boodskap van verlossing in Christus.

#          Die kwaadwillige evangeliste ken Paulus egter nie!

            Hy begin vers 18 met 'n uitroep: "Maar wat maak dit saak?" Dan gaan hy voort, "in elk geval" word die hoofsaak (1:27, NAV) steeds gedien: Christus word verkondig! En as dít gebeur – hetsy met bybedoelings, hetsy in opregtheid – is hy bly. Hy sal eenvoudig nie toelaat dat hulle verkeerde gesindheid veroorsaak dat sy fokus van Christus en Sy evangelie afgetrek word nie. En niemand gaan sy vreugde in die Here by hom steel nie.

Wat sê dit vir ons?

1.         Daar is 'n verskil tussen dwaalleer en vals motiewe

Ons is geneig om hierdie opponente van Paulus as alles behalwe ware Christene te beskou. Maar kennelik aanvaar hy hulle as broers in die Here ten spyte van hulle slegte gesindheid.

            Weliswaar word die evangeliepredikers in Rome in v.15-16 in twee groepe verdeel, maar in v.14 word hulle gesamentlik "broers" genoem. Die jaloerses verkondig óók Christus. En Paulus is bly oor hulle prediking.

            Calvyn merk oor hierdie vers op dat hy self ook al ál hierdie dinge ervaar het.

            Dit beteken nie dat die apostel hierdie mense se gesindheid goedpraat nie. Maar hy beskou hulle nie as ketters nie. En, onthou, hy was nie 'n man wat gehuiwer het om misleiers openlik en in skokkend-reguit terme te veroordeel nie. In 3:2 noem hy die Judaïste "honde" (OAV). En in Gal 1:8-9 roep hy die banvloek oor hulle uit.

            Waarin lê die verskil tussen hierdie situasie en die probleem in die brief aan die Galasiërs?

            Hier gaan dit oor verkeerde motiewe; daar oor verkeerde inhoud. Hier word Paulus se persoon aangetas; daar word die Here se kudde op 'n noodlottige wyse mislei, en die evangelie wesentlik verdraai. Kennelik maak dit vir Paulus al die verskil in die wêreld. En ook óns moet hierdie onderskeid tref.

            Wanneer word die grens tussen hierdie twee dinge oorgesteek? Het ons enige maatstawwe om aan te lê? Hieroor het Christus se gemeente reeds lank en diep nagedink. Ons staan op ons voorvaders se skouers.

            Reeds eeue gelede is dit al só gestel: "In necessariis unitas, in nonnecessariis et dubiis libertas, in omnibus caritas." (in die noodsaaklike dinge eenheid, in die nie-noodsaaklike en twyfelagtige dinge vryheid, in alles liefde).

            Wat is die noodsaaklike dinge? In die 16de eeu het die Reformatore hieroor gewroeg. Skeuring van die kerk was vir hulle geen geringe saak nie. So word die essensiële hoekpilare van die Christelike geloof dan geformuleer – die 5 Sola's. Sodra hierdie ononderhandelbare dinge geweld aangedoen word, kan die ware gelowige nie meer saamstap nie.

            Ons kan egter aanvaar dat Paulus se opponente steeds die waarheid gepreek het. As dit nie so was nie, sou hy die allerlaaste man op aarde gewees het om hom in hulle prediking te verbly.

2.         Ons moet vrede maak met die feit van gebrokenheid in die kerk

Nooit mag ons vrede maak met gebrokenheid as sodanig nie – nie in onsself nie, nie in die gemeente van die Here nie. Maar met die feit daarvan moet ons eenvoudig leer saamleef. Die volmaakte bruid van Christus sal eers met Sy wederkoms 'n werklikheid word.

            As ons nie hierdie onderskeid maak nie, verval ons in een van twee teenoorstaande dwalings.

            +          Óf ons verval in 'n lamsakkige en Godonterende aanvaarding van die status quo – wat dink dat mens net in boeke van evangelie-triomfe lees. Jy bly dus maar in jou sonde lê. Die kerk se grootse erfenis in Christus skuif op die agtergrond. En oor die toestand en welsyn van die kerk raak niemand ooit begaan of opgewonde nie.

            +          Óf ons word naïewe idealiste wat gou-gou glo dat ons min of meer alles wat nodig is in pag het. Ons veroordeel links en regs, en doen meer skade as goed. En as so 'n persoon of kerk nie tot sy sinne kom nie, boemerang dinge mettertyd deur om te sit in ontnugtering. Of dit lei tot afskeiding, en selfs sekte-vorming in sommige gevalle.

            Mag die Here ons help om die verskil te ken tussen Pinehas se gesindheid (Num 25:1-13) en dié van Jakobus en Johannes wat vuur uit die hemel wou afroep op die Samaritane wat Jesus nie wou ontvang nie (Luk 9:54).

            Terwyl dit alles waar is, mag ons egter nie vergeet nie dat daar wel so iets soos 'n vals kerk is – oraloor. 'n Gebroke kerk is één ding. 'n Vals kerk iets totaal anders.

            In eersgenoemde geval moet ons meewerk aan voortdurende bekering en reformasie; van laasgenoemde moet ons onsself afskei.

3.         Ook ons kan maklik die Here se werk met verkeerde motiewe doen

As ons van bogenoemde gevare bewus is, sal ons onsself steeds ondersoek of alles nog pluis is.

            Wat is die beheersende maatstaf?

            Geskied my werk vir die Here in Christelike liefde – in "agape"? En onthou, hierdie liefde is per definisie nie ingestel op die self nie, maar op die belange van die ander. Gaan dit dus vir my om die Hére se eer, die koms van Sý koninkryk, die opbou van Sý gemeente, die verbreiding van Sý evangelie?

            Is ek ingestel op my mede-gelowiges se opbou en voordeel? Of is daar dalk elemente van selfverheffing, selfbevoordeling of selfbevrediging?

            Kortom, is ek in my dienswerk werklik besig met voetewas? Is ek 'n dienaar ter wille van die Here Jesus (2Kor 4:5). Het ek, anders as hierdie jaloerse broeders, die gesindheid van Johannes die Doper: "Hy moet meer word en ek minder" (Joh 3:26,30)?

4.         In Paulus se grootmoedigheid sien mens hoe die naywer van ander hanteer moet word

Paulus kap nie terug nie. Hy laat nie toe dat ánder se bitsigheid sy gesindheid dikteer nie. Sy Christenskap is positief, nie reaksionêr nie.

            Hier lê vir ons 'n wesentlike gevaar – nie net in ons interpersoonlike verhoudinge nie, maar ook in ons gesamentlike gesindheid as gemeente. Wat laasgenoemde betref, het ons as Christene vandag met soveel ontstellende dinge te doen – sowel binne as buite die institusionele kerk – dat, as mens dan 'n hartstog vir God se eer en waarheid het, jy maklik bitsig en negatief kan raak. Maar só 'n gesindheid kry jy nóg by Christus, nóg by die apostels.

            Hoe slaag Paulus daarin om positief te bly? Hy konsentreer op die hoofsaak (1:27). Voorop is vir hom die uitdra van die evangelie (v.12,13,14,16,18). Hy laat eenvoudig nie toe dat omstandighede of mense sy oë hiervan aftrek nie. Hy wyt sy lyding nie aan Goddelike vergeetagtigheid of apatie nie (Waarom laat God toe dat soiets met my gebeur?). Hy beskou sy omstandighede nie as 'n ontslag uit sy roeping nie (Ek het so uitgesien na jare van vrugbare arbeid, maar kyk waar sit ek nou – toegesluit in die tronk!). Hy blameer ook nie die Duiwel nie (Hierdie rondte het hý gewen!).

            Nee, die taak, die missie, die hoofsaak moet altyd voor oë bly.

5.         'n Verkeerde gesindheid in ons dienswerk kan veroorsaak dat ons ewige loon verbeur.

1Korintiërs 3:9vv gee vir ons 'n versoberende perspektief. Die Here sal eendag my dienswerk aan 'n vuurtoets onderwerp. Slaag my dienswerk en gesindheid dan nie die toets nie – blyk dit dat ek met hout of gras of strooi gebou het – sal my werke verbrand en sal ek nie beloon word nie – hoewel ek wel gered sal word. Uiteraard, mits ek in Christus is.

'n Laaste woord

Die woord wat in v.17 (OAV) vertaal word met "bestem", was ook 'n militêre term. Dit dui op 'n taak wat 'n soldaat opgelê word – iets wat hy eenvoudig móét aanvaar, sonder om teen te praat. Elke keer as hy 'n soldaat vir 'n nuwe skof op wag sien kom het – kan mens jou indink – het Paulus seker geprewel: Jy is hier onder bevel, my vriend. Wel, ek het vir jou nuus: ook ék is onder bevel!

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt – Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev