Preekopname: https://tinyurl.com/2d6b8t37
In die voorafgaande verse skryf Paulus oor sy blydskap dat die evangelie te danke aan sy gevangeneskap met groter ywer in Rome verkondig word. Dit is so dat sommige predikers se gesindheid teenoor hom alles behalwe prysenswaardig is, maar dit verander nie die feit dat ook húlle help om Christus bekend te maak nie.
Daar is egter 'n nog dieper rede vir blydskap en daarom sal sy vreugde nie opdroog nie, maar voortgaan. En hierdie vreugde is op kennis gebaseer – op iets wat hy weet (19a).
Verlossingsblydskap
Nie almal stem saam met die NAV dat Paulus in v.19 oor sy komende redding praat nie – die vervolmaking en afronding van sy erfenis in Christus. Mens hoef egter net verskillende vertalings te vergelyk om dit agter te kom. Die NIV en NASB dink eerder dat hy van sy vrylating uit die tronk praat. Dis sekerlik 'n moontlikheid, maar die volgende verse is duidelik dat hy – hoewel gelowigoptimisties – nie só seker van sy komende ontslag is dat hy hom nou al daaroor kan verbly nie.
Die woord wat hier gebruik word is die gewone een vir verlossing in Christus (Gr. soteria) en die NAV volg die voor die hand liggende pad.
Daar word op 3 maniere oor verlossing in die Nuwe Testament gepraat: dit vind in die verlede, die hede en die toekoms plaas. Ek is gered (verlede tyd: Lk 7:50; Ef 2:5,8); ek word gered (teenwoordige tyd: 1Kor 1:18; 2Kor 2:15); en ek sal gered word (toekomstige tyd: Rm 13:11; 1Pt 1:5). Redding is dus 'n proses – en dis oor die finale afronding daarvan dat Paulus hom hier verbly.
Paulus weet daar is één ding wat niemand by hom kan afvat nie: Sy redding in Christus! En dis vir hom 'n onuitputlike fontein van blydskap, en 'n vaste fondament in elke lewenstorm.
God werk middelik
Beter as enigiemand anders weet die apostel dat verlossing nie maar sommer vanself en outomaties in 'n mens se lewe tot wasdom ontwikkel nie. God gebruik middele, instrumente om dit te bewerkstellig. En dis juis omdat hy hierdie dinge in sy eie lewe ervaar dat dit hom so help in sy geloofsekerheid – en gevolglik 'n bron van blydskap in sy lewe bly. Hier in v.19-20 noem hy drie instrumente wat die Here gebruik om sy redding te laat ontwikkel:
Eerstens, die swaarkry van hierdie lewe
Paulus weet dat "alles" meewerk tot sy redding. Die NIV parafraseer dit so: "what has happened to me will turn out for my deliverance" (lees: "salvation", voetnota). Hy praat hier van die swaarkry waardeur hy gekom het, en natuurlik van sy huidige gevangenskap. Dat die apostel se lewe nie 'n sondagskoolpiekniek was nie, weet elkeen wat al die Nuwe Testament gelees het. Luister maar hoe hy dit self in 2Kor 11:23-29 beskryf.
Hier sien mens dat v.6 se bemoedigende woorde nie maar leë retoriek was nie. Paulus ken persoonlik self die realiteit daarvan. Ook hy leef vanuit die oortuiging dat die Here die goeie werk wat hy in hom begin het, end-uit sal voer.
Paulus was van nog méér oortuig: Dat die Here die meul van die lewe gebruik om ons na die beeld van Christus te vorm.
As hy in Rom 8 die probleem van lyding in 'n geregverdigde (dus ware) Christen se lewe aanspreek, is sy slotsom weereens iets wat hy weet. Vir diegene wat God liefhet omdat hulle na Sy voorneme geroep is, werk swaarkry heen na die goeie toe (Gr. letterlik), naamlik gelykvormigheid aan die beeld van Christus (v.28-30).
In 2Kor 12 vertel hy van die doring in die vlees wat die Here hom gegee het ten einde hom van selfvernietigende trots te bewaar ná die wonderlike openbarings wat hy ontvang het.
'n Dieptegroei in nederigheid kom nooit maklik nie!
En hierdie was nie net iets wat Paulus ervaar en verkondig het nie. Ook Jakobus sê presies dieselfde ding (1:2-4). Trouens, só onontbeerlik ag hy beproewinge vir ons heiligmaking en die gevolglike ontwikkeling van ons verlossing, dat hy die verstommende opdrag gee dat ons baie bly moet wees as dit moeilik met ons gaan.
Tweedens, ons gebede vir mekaar
In die voorafgaande verse (v.4, 9-11) lees ons hoe Paulus vir die Filippense bid. Maar hier in v.19 sien ons hoeveel troos hy terselfdertyd put uit húlle voorbidding vir hom. Waarom? Hy is van harte oortuig dat God ons gebede inweef in die uitwerk van Sy raadsplan – nie net in die algemeen nie, maar spesifiek in Sy verlossingsplan. Daarom kies hy sy voorsetsel versigtig – "deur" (OAV).
As die Here dus mense opwek om vir hom te bid, weet Paulus dat Hy gewis 'n plan daarmee het – die volle loop van sy redding! God verhoor ons gebede, en verwerklik dit dan deur Sy Gees in die lewens van diegene vir wie ons bid.
Hierdie deel van v.19 verg nadere aandag.
+ Een, in die konstruksie van die oorspronklike taal is die Filippense se gebede en die Heilige Gees se bystand baie intiem verbonde (beide word deur die genoemde voorsetsel, "deur", beheers). Mens sou amper kon sê dat die Gees se werk van die Filippense se gebede afhanklik is – dat dit, trouens, daarsonder sal opdroog.
+ Twee, die apostel gebruik 'n sprekende woord vir die Heilige Gees se werk –vertaal met "bystaan" (NAV). Die begrip dui onder meer op 'n vader se volledige voorsiening van lewensmiddele vir sy gesin. Dit dui dus op die Gees se verlening van genoegsame getrouheids- en volhardingskrag.
God regeer nie net ons lewens vanaf Sy troon nie, Hy gee ook innerlik alles wat nodig is vir redding. Hy maak ons "gewillig en bekwaam" om Sy wil uit te voer (2:13).
+ Drie, Paulus praat van "die Gees van Jesus Christus", omdat Hý die verlossing wat die Here Jesus vir ons gekoop het, in ons verwerklik.
Derdens, ons hartsgesteldheid
Nooit sal mens vir Paulus uitvang dat hy sy eie verantwoordelikheid in die reddingsproses omseil nie. Daarom pas hy sy hart op – maak hy seker dat dit nie koud word nie. Sonder 'n innerlike hartstog – dit weet hy – gaan sy voete in die wedloop begin sleep. En dan lê tou opgooi om elke draai en loer.
In Fil 2:12 sê hy dat ons ons eie heil "met vrees en bewing" moet uitwerk. Hier in 1:20 werp hy vir ons lig op hom wat Paulus is, se eie stryd in die verband. Hy vertel iets van sy fokus, sy vertroue en sy vasbeslotenheid in die wedloop onderweg na sy ewige erfenis.
Sy fokus sien ons in die woorde "vurige verlange". Die enkele Griekse woord (apokaradokian) is die samestelling van 3 idees (apo, vanaf; kara, hoof of kop; dokeo, om te kyk). Dit dui dus op 'n wegkyk van alles wat jou aandag kan aftrek, ten einde gekonsentreerd op die uitkyk te wees. Dit word net nog een keer in die Skrif gebruik (Rom 8:19), waar dit die skepping se reikhalsende verlange na die openbaring van God se kinders beskryf. Paulus is gepreokkupeerd met één saak: Om sy wedloop seëvierend te voltooi! (vgl. 3:14).
Sy vertroue sien ons in die woorde "daarna sien ek uit" – wat 'n parafrase is vir die begrip "hoop" (OAV). In die Nuwe Testament is hoop 'n voorwaartse gerigtheid op iets waarvan die koms seker is, maar die tyd onseker. In sy inspanning is daar dus nie 'n onsekerheid nie; inteendeel. Weliswaar weet hy nie wanneer sy verlossing finaal afgerond sal wees nie, maar dát dit sal gebeur, daaroor twyfel hy nie.
Die inspannings van die Christelike wedloop verskil wesentlik van 'n ongeredde godsdienstige se futiele pogings om die ewige lewe te verdien. Nee, 'n Christen se gehoorsaamheid is bloot die uitdrukkings van sy nuwe lewe in Christus, en die manier of weg waarlangs hy sy volle erfenis in besit neem. Dis 'n spontane uiting van redding.
Sy vasbeslotenheid waarmee hy die volmaakte prys najaag, sien ons op drie maniere:
+ Een, hy is vasbeslote om só te leef dat hy oor niks sal hoef "skaam" te wees nie. In Hand 24:16 sê hy dat hy sy uiterste bes doen om altyd 'n skoon gewete voor God en mense te hê. Hy gaan eenvoudig nie toelaat dat innerlike valsheid hom van 'n deel van sy loon beroof nie.
+ Twee, hy is vasbeslote om met alle "vrymoedigheid" Christus te verheerlik. Dis 'n woord wat dui op openlike en eerlike spraak. Hy sal dus nie toelaat dat twyfelgedagtes hom op enige manier inhibeer om die volle raad van God in Christus te verkondig nie. Sy roeping is immers in die eerste instansie om die evangelie uit te dra. Dit, ja presies dít is sy wedloop – en hy gaan vóluit!
+ Drie, hy is vasbeslote om 'n skoon rekord te handhaaf – "soos nog altyd". Geen atleet wat plek-plek stap, het 'n kans om die eerste plek te behaal nie. En in in 1Kor 9:24-27 beskryf hy sy instelling op die baan – hy gáán vir goud!
Die allermotief
Waarom vervul dit Paulus met soveel blydskap as hy weet dat al hierdie dinge in diens van sy finale redding staan – sy lewensomstandighede, sy broers en susters se getroue voorbidding, die Heilige Gees se genadewerk, sy Godgegewe ywer?
Natúúrlik wil hy alles hê wat die Vader vir hom in Christus gaan gee. Natúúrlik verlang hy soos elke ware gelowige na 'n welgeluksalige ewigheid saam met die Here. Maar daar is 'n groter saak – dieper, hoër, heerliker: Soos niks anders nie, sal die vervolmaking van sy redding Jesus Christus verheerlik! En dít, meer as enigiets anders, is waarna die apostel verlang!
Hier is ons by die rede waarom Paulus nie só begaan is oor die uitslag van sy hofsaak nie. As hy vrygespreek word en bly lewe sal hy Christus daarin verheerlik
En as hy tereggestel word sal hy Christus só verheerlik
Die hóé maak nie soveel saak nie
al wat tel is die dát!
Wat sê dit vir ons?
In hierdie twee verse sien ons Christenskap soos dit móét wees! Naas die volmaakte voorbeeld van ons Here Jesus, het ons hier 'n uitnemende standaard. Paulus skryf daarom vir die Korintiërs: "Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg" (1Kor 11:1).
Hoe doen ons dit? Wat staan ons te doen? Hierdie twee verse het die antwoord.
1. Laat ons die wonder van ons verlossing in Christus weer en weer bepeins.
2. Laat ons voluit op die voorvoet leef. Die Here sal ons deur niks laat gaan wat Hy nie gebruik in die vorming van Christus se beeld in ons nie.
3. Laat ons toegewyd vir mekaar bid. Ook in gebed is ons God se medewerkers.
4. Laat ons met ywer die genademiddels inspan om ons harte brandende te hou.
5. Laat ons ywerig ons motiewe Christusgesentreerd hou.
Sy eer!
Sy eer in alles!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt – Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev