PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/muberw7u

Dr. Martyn Lloyd-Jones sê in 'n preek oor v.21: "We stand here face to face with one of the sublimest and greatest statements ever made, even by this mighty Apostle of our Lord and Saviour Jesus Christ."[1]

            Dis slegs 9 woorde in die Grieks, maar hoe kom mens by die bodem daarvan uit?

Inleiding

#          In hierdie brief stel Paulus die Filippense in hulle bekommernis oor hom gerus.

            Ja, sê hy, hy is wel in die tronk en het inderdaad deur baie beproewinge gegaan, maar die Here het in Sy soewereiniteit alles gebruik om Homself te verheerlik. Anders as wat mens sou verwag, het dit selfs gelei tot 'n wyere uitdra van die evangelie (v.18). Wat sy toekoms betref, is hy heeltemal onseker. Hy mag vrygelaat word. Hy mag tereggestel word. Uiteindelik maak dit nie veel saak nie. Al wat saak maak is dat Christus verheerlik sal word. Solank dít gebeur, is dit vir hom om 't ewe of hy leef en of hy sterf (v.23) – want die lewe is vir hom Christus en die sterwe is wins. Daarom moet die Filippense hulle nie te veel oor hom bekommer nie.

            In v.22-26 openbaar die apostel iets van sy hartsgesteldheid. As dit van hom afgehang het, sou hy verkies het om heen te gaan en by Christus te wees. Maar hy weet dat sy broers en susters hom nog nodig het – en daarom glo hy tog dat die Here hom sal spaar.

'n Nadere kyk na v.21a: "Want vir my is om te leef Christus ..."

#          Paulus se uitspraak begin met "Want", en is daarom 'n voortsetting en verduideliking van die voorafgaande. Hy sê dus: Christus sal "groot gemaak ... word in my liggaam (v.20, OAV) ... want vir my is om te leef Christus ..." (v.20-21a, DAV).

#          In die Grieks lê die klem op die woorde "vir my". Christus word dus nie in elke mens se lewe sondermeer verheerlik nie. Dit gebeur net as die lewe vir jou Christus is.

#          Die uitdrukking, "om te lewe", praat van 'n manier van lewe. Dit dui nie net op 'n opinie of filosofie oor die lewe nie.

#          Wat presies bedoel die apostel met hierdie kernagtige stelling wat so ontsaglik baie omvat? Miskien sal dit help as ons die vraag in twee meer spesifieke vrae opbreek:

           Eerstens,wat bedoel hy as hy oor sy manier van lewe praat?

            Tweedens, wat bedoel hy as hy sê dat dit Christus is?

Die lewe is vir my Christus

#          Wat is die lewe? Waarom leef ek? Hieroor net eers drie algemene opmerkings:

            +          Eerstens, baie mense dink natuurlik nooit oor die betekenis van die lewe nie. Hulle het hierdie verbysterende gawe van bestaan ontvang, van persoonlikheid, van individualiteit, van syn (soos die filosowe sê) – en hulle verwonder hulle nooit daaroor nie! Hulle gaan maar net van dag tot dag aan – soos diere. Hulle dryf bloot voort soos kurkproppe op die see.

            +          Tweedens beskryf 1Joh 2:16 wat die lewe vir die meeste mense is: "... die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe ..." (OAV). Hierdie 3 dinge laat die aarde vir Jan en alleman draai.

                        =          Daar is diegene vir wie die lewe oor die laere drifte van die vlees gaan. Wine, women and song!, is hulle motto. Hulle is die Epikureërs, met as lewensfilosofie: Laat ons eet en drink, want môre sterf ons. Hulle is hedoniste wat deur elke week se werk wroeg om só genoeg geld vir naweke te verdien. Hulle is adrenalienslawe. En die summum bonum kan enigiets wees van 'n kan wyn tot 'n vier-by-vier.

                        =          Vir ander gaan die lewe oor die sogenaamde mooi en verhewe dinge: menswaardigheid (en diere- waardigheid!), welwillendheid, offervaardigheid; die kuns, die akademie, die wetenskap, die omgewing, ens., ens. Al hierdie dinge is prysenswaardig. Maar as daar meer van die geskapene gemaak word as van die Skepper, word dit afgodery.

                        =          Dan is daar díé vir wie die lewe oor status en mag gaan. Ambisie, bevordering, meer besittings, nog toekennings! Dis wat vir hulle alles die moeite werd maak. En om dit te bereik, sal hulle niks of niemand ontsien nie. Besigheid is besigheid!, is hulle leuse; All is fair in love and war!, hul motto.

            +          Derdens, vir dermiljoene is godsdiens hulle lewe. Hierdie tyd op die ondermaanse is gegee, sê hulle, om na God toe op te klim – teen die leer van moralisme en seremonies en sakramente. Mens moet jouself aanvaarbaar maak vir jou Skepper; jy moet 'n beter hiernamaals beding.

#          Vra mens egter vir Paulus wat die lewe vir hom behels, waaroor dit vir hom gaan, antwoord hy kort en kragtig, beslis en sonder huiwering: Christus!

            Om die volle implikasie van die apostel se antwoord te verstaan, moet ons vra: Waarin kom die lewe tot uitdrukking, hoe word dit beleef?

            Die antwoord het ten minste drie komponente:


            +          'n Mens se lewe kom tot uitdrukking in wat jy dink en glo, in jou gedagtes en oortuigings.

            Vir Paulus was die middelpunt van sy oortuigings: Christus en Christus se werk – Sý koninkryk, Sý evangelie, Sý gemeente, Sý eer. Dit neem maar weer en weer die apostel se gedagtes in beslag. As hy loop en peins, is dit Christus; as hy met vriende gesels, is dit Christus; as hy skryf, is dit Christus.

            +          'n Mens se lewe kom tot uitdrukking in wat jy voel, in jou emosies en oortuigings.

            Oor niks of niemand het Paulus intenser belewinge gehad nie, as oor Christus – Sy faam en Sy saak. Om die Here te behaag en te verheerlik, was die hartstog van sy lewe. Om Hom steeds inniger te ken, was sy verlange dag na dag.

            +          'n Mens se lewe kom tot uitdrukking in wat jy doen, in jou elke dag se aktiwiteite, in die prioriteite wat jy najaag.

            Ook hierin was Christus vir Paulus in die middelpunt. Dis vir Hóm wat hy hom ingespan het, vir Wie hy elke greintjie energie aangewend het. Dis vir die verbreiding van Sý evangelie wat hy alles prys gegee het en geen swaarkry ontsien het nie.

#          Dink vir 'n oomblik na oor die apostel se lewe. Dan besef jy dat sy belydenis in v.21 waarlik die werklikheid van sy hele bestaan was.

Die lewe is vir my Christus

#          Wat is van 'n mens wáár as Christus vir jou die lewe is? Hoe het Paulus dit beleef? Hoe ervaar alle ware Christene dit deur die eeue?

            +          Christus is die onwankelbare sekuriteit van jou lewe. Die belangrikste van alle vrae – hoe sal ek eendag regverdig voor my Maker staan? – is net nie meer die allesoorheersende verskrikking van jou lewe nie. Nou is daar 'n ewige rots onder jou voete.

            +          Christus is die vreugde en sin van jou lewe. Hy is vir jou die wysheid wat van God kom, die geregtigheid, die heiligmaking en die verlossing (1Kor 1:30-31). Kortom, Hy is jou alles. Mens kan jou van alles stroop – van jou besittings, jou waardigheid, jou dierbares en jou vryheid – dan bly die Here Jesus Christus steeds jou vreugde, sin en sekuriteit.

            +          Christus is die bron van jou lewe. Hy is die wingerdstok en jy die loot (Joh 15). Jy leef nie meer nie, maar Christus leef in jou (Gal 2:20). Dis waarom die apostel in Fil 3:10 kan sê dat dit sy ambisie is om te leef vanuit die krag van Christus se opstanding – die krag wat die opgestane Christus deur sy Gees in jou werk.

            Miljoene ken dit as 'n ervaringswerklikheid. Lees maar die biografieë van God se begenadigdes in dosyne lande en deur die eeue.

            +          Christus is die gerigtheid van jou lewe. Om Hóm te ken, die verbreiding van Sý evangelie, die welsyn van Sý gemeente, die bevordering van Sý eer – dit is die dryfveer, motief, en ambisie van jou hele bestaan. Dis wat Paulus in Rom 14:8 bedoel: "As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here."

            Andersom gestel, neem Christus weg, en die lewe word vir jou die dood. Want Hy het inderdaad vir jou "die weg, die waarheid, en die lewe" geword.

#          Bogenoemde lê aan die hart van wat dit beteken om die Here Jesus Christus lief te hê met jou hele hart, siel, verstand en al jou krag. Dis die essensie van 'n persoonlike verhouding met Hom.

Dít dan is die hart van ware christenskap!

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           D. Martyn Lloyd-Jones: The Life of Joy - An Exposition of Philippians 1&2; H.7, p.85. Ek het trouens baie met Lloyd-Jones se kallers geploeg in hierdie preek.